South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2003 >> [2003] ZANCHC 39

| Noteup | LawCite

Strauss v Interprovince Transport (1564/98) [2003] ZANCHC 39 (15 August 2003)

Download original files

PDF format

RTF format


Verslagwaardig: Ja / Nee

Sirkuleer aan Regters: Ja / Nee

Sirkuleer aan Landdroste: Ja / Nee


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(Noord-Kaapse Afdeling)



Saakno: 1564/98

Datum verhoor: 2003-08-04

Datum gelewer: 2003-08-15



In die appél van:


IZAK STRAUSS APPELLANT


versus


INTERPROVINCE TRANSPORT RESPONDENT


Coram: BECKLEY R et MAJIEDT R et OLIVIER WnR.


UITSPRAAK OP APPéL



MAJIEDT R:

  1. Op Donderdag 24 April 1997 omstreeks 05h10 het daar ‘n botsing op die Olifantshoek/Upington hoofpad plaasgevind tussen die respondent se voertuig (‘n voorhaker met twee sleepwaens) en ‘n perd. Hierdie botsing het veroorsaak dat:

a) die voorhaker en twee sleepwaens omgeslaan het en die twee sleepwaens het aan die brand geslaan; en

b) ‘n aankomende motorvoertuig (‘n bakkie) met vermoedelik een van die voormelde sleepwaens gebots het en onder die brandende sleepwa of sleepwaens beland het, met noodlottige gevolge vir die twee insittendes van die bakkie.

  1. Voortspruitend uit die voormelde gebeure het die respondent as eiser dagvaarding uitgereik teen die appellant as verweerder op die basis dat dit laasgenoemde se perd was of ten minste onder sy beheer was en dat vanweë die appellant se nalatige optrede of versuim die perd op die openbare pad beland het en sodoende die ongeluk veroorsaak het.

Kgomo R (soos hy toe was) het na ‘n lang verhoor ten gunste van die respondent/eiser bevind. Vonnis is toegestaan in die bedrag soos ooreengekom deur die partye (die verhoor is slegs op die meriete gevoer).

Met verlof van die Hoogste Hof van Appél kom die appellant in hoër beroep teen die voormelde beslissing en gepaardgaande kostebevel.

  1. Die geskilpunte wat die verhoorhof moes beslis was die volgende:

3.1 of die appellant en/of sy werknemers handelende binne hul diensbestek vir die appellant, nalatiglik veroorsaak het dat die perd op die pad beland en sodoende die botsing veroorsaak het;

3.2 indien die voormelde vraag bevestigend beantwoord word, tot welke mate sodanige nalatigheid die botsing veroorsaak het;

3.3 of die bestuurder van die respondent se voertuig nalatiglik die botsing veroorsaak het en indien wel,

3.4 tot welke mate sy nalatigheid die botsing veroorsaak het.

  1. By die verhoor was, of het, die volgende aspekte gemeensaak geword tussen die partye:

4.1 dat die perd aan die appellant behoort het of minstens onder sy beheer was;

4.2 dat die botsing soos in par. 1 hierbo uiteengesit plaasgevind het;

4.3 dat die perd aangehou en gebruik was by die appellant se eggenote se plaas (waarop die appellant geboer het), Kareeboomvlakte, welke plaas grens aan die Upington/Olifantshoek nasionale pad;

4.4 dat dit donker was ten tyde van die botsing en dat die perd donkerbruin van kleur was;

4.5 dat die vragmotorbestuurder eers na regs geswaai het met die vragmotor ten einde ‘n botsing met die perd te vermy, toe tog in elk geval die perd getref het met die linkersy van die voorste sleepwa en dat die gemelde bestuurder daarna na links geswenk het om ‘n aankomende voertuig te vermy, welke maneuver veroorsaak het dat die voorhaker-sleepwaens kombinasie omgeslaan het met die aankomende voertuig daaronder;

4.6 dat die perd toegang tot die betrokke nasionale pad verkry het vanaf die voormelde plaas, Kareeboomvlakte;

4.7 dat dit die appellant se werknemers, mnre. Abraham Koper en Willem Swarts, se plig was om toe te sien dat alle hekke binne die plaas self toe was en dat alle hekke wat vanaf die plaas toegang bied tot die aangrensende nasionale pad toe en gesluit was ten alle tye.

  1. Die primêre geskil ten aansien van die aspekte vermeld in par. 3.1 en 3.2 hierbo het daaroor gegaan dat die respondent beweer het dat die perd deur ‘n oop hek, tydens die verhoor na verwys as “hek B”, toegang verkry het tot die aangrensende nasionale pad, terwyl dit die appellant se saak was dat die perd deur ‘n stukkende grensdraad aangrensend tot die nasionale pad geval het en sodoende op daardie pad beland het. Hierdie aspek was van wesenlike belang vir die beregting van hierdie saak, aangesien die appellant deeglik bewus was en aldus toegegee het tydens die verhoor, dat indien dit op ‘n oorwig van waarskynlikhede bewys sou word dat “hek B” oop laat staan was, a.g.v. ‘n nalate aan die kant van sy werknemers, die appellant aanspreeklik gehou sou word vir die botsing en die gevolge daarvan.

6.1 Die appellant se appél is by uitstek gemik op die feitebevindinge van die verhoorhof. Dit staan vas in ons reg dat hierdie Hof op appél alleenlik met feitebevindinge van die verhoorhof kan inmeng indien dit oortuig is dat sodanige bevindinge verkeerd is.

Sien: Wessels v Johannesburg Municipality 1971(1) SA 479 (A) te 482 G-H.

Swain v Society of Advocates Natal 1973(4) SA 784 (A) te 787 A.

6.2 Dit is eweneens geykte reg dat ‘n Hof van appél, sonder die voordeel om selfs die getuies waar te neem, grootliks gebonde is aan ‘n verhoorhof se geloofwaardigheidsbevindinge. Slegs waar dit kom by die maak van afleidings uit die gemeensaaklike of bewese feite, mag ‘n Hof van Appél soms in dieselfde of selfs ‘n beter posisie wees as die verhoorhof.

Sien: R v Dhlumayo & another 1948(2) SA 678 (A) te 706;

Union Spinning Mills (Pty) Ltd v Paltex Dye House (Pty) Ltd 2002(4) SA 408 (HHA) te 416 F-H.

  1. Gedagtig aan die voormelde beperkinge waaronder ons as Hof van Appél funksioneer, wend ek my nou na die verhoorhof se uitspraak en die kritiek daarop deur die appellant. ‘n Bondige samevatting van die getuienis voor die verhoorhof is nodig om so ‘n bespreking sinvol te maak.

8.1 Ter bewys van sy saak dat die perd deur “hek B”, wat oop laat staan was, toegang tot die Olifantshoek/Upington nasionale pad verkry het en sodoende ‘n botsing veroorsaak het, het die respondent die getuienis gelei van mnre. Mathlasela (die vragmotorbestuurder), Auby (‘n lid van die respondent BK) en sersante Joubert en De Waal (van die Upington en Olifantshoek SAPD-kantore onderskeidelik).

8.2 Hulle getuienis kom kortliks op die volgende neer:

a) Mnr. Mathlasela het omstreeks 05h10 op die gemelde pad, ongeveer 70 km. vanaf Upington, eensklaps die donkerbruin perd ongeveer 20 meter voor hom in sy rybaan gewaar --- die perd het met sy agterstewe in mnr. Mathlasela se rigting gestaan. Op daardie stadium het ‘n voertuig van voor aangekom met sy ligte op domp. Ten einde ‘n botsing met die perd te vermy, het mnr. Mathlasela eers na regs en toe weer na links geswaai --- die laasvermelde maneuver was om uit die pad van die aankomende voertuig te kom.

b) Hierna het die voorhaker en twee sleepwaens omgeslaan en die twee sleepwaens het aan die brand geslaan.

c) Die appellant het teenoor mnr. Auby vermeld, met ‘n neerhalende verwysing, dat “hek B” oopgelos moes gewees het.

d) Sersant Joubert, wat eerste op die toneel was wat die reddings- en veiligheidsdienste aanbetref, sowel as sersant De Waal, wat kort na Joubert op die toneel arriveer het, het getuig dat “hek B” met hul aankoms daar oop was.

9.1 Die appellant het die getuienis van sewe getuies gelei. Sersant Duckworth, van Olifantshoek SAPD wat saam met De Waal daar opgedaag het, sowel as mnr. Koen, die stasie-offisier van die brandweer te Upington het beide aangevoer dat “hek B” toe was met hul aankoms daar. Mnr. Koen het verder aangevoer dat hy heel eerste op die toneel was voor enige polisiebeamptes.

9.2 Die appellant se twee werknemers, mnre. Koper en Swarts, se weergawe was dat daar op die dag voor die ongeluk (d.w.s. Woensdag 23 April 1997) ‘n sprinkaanbeheerbeampte en sy assistent op die plaas was om sprinkane te spuit. Volgens hulle was “hek B” sowel as “hek G” egter toegesluit gewees nà dié persone se vertrek. Mnr. Koper het verder getuig dat:

a) hy die dag na die ongeluk (die Vrydag) by ‘n hoekpaal opgemerk het dat twee drade van ‘n draadheining aangrensend aan die teerpad stukkend was. Daar was ook ‘n wit plastieksak vasgemaak by daardie punt om as’t ware as ‘n merker te dien.

b) Hy op die dag van die ongeluk “hek B” oopgemaak het vir ‘n polisieman in ‘n geel polisiebakkie wat van die telefoon gebruik wou maak.

9.3 Die appellant se getuienis het gehandel oor sy gesprek met Auby (hy het ontken dat hy vir Auby sou gesê het dat “hek B” oopgelos moes gewees het) sowel as sy waarnemings van die stukkende drade en wit plastieksak, aan hom uitgewys deur Koper.

9.4 ‘n Voormalige sersant, mev. Maritz, het getuig oor telefoonoproepe wat sy op die dag van die voorval ontvang het by die Olifantshoek polisiestasie (waar sy toe gestasioneer was) vanaf sersant Duckworth.

9.5 Mnr. Grobbelaar, ‘n meganiese ingenieur wat spesialiseer in die rekonstruksie van ongelukke, het as deskundige namens die appellant getuig. Hy was die deskundige mening toegedaan dat die vragmotorbestuurder in die heersende omstandighede, onredelik opgetree het deur na regs en toe na links te swaai. Volgens hom moes Mnr. Mathlasela eerder reguit aan gery het en die perd tromp-op gestamp het of na links geswaai het.

10. Die geleerde verhoorregter het na my mening ‘n deeglike en weloorwoë uitspraak gelewer. Hy het weliswaar in sy uitspraak op sekere aspekte foute begaan ten aansien van die getuienis. Ek maak melding van die volgende voorbeelde wat deur Mnr. Prinsloo namens die appellant uitgewys is:

10.1 Die verhoorregter het verkeerdelik bevind dat die boonste twee drade van die heining gebreek was volgens Koper, terwyl die getuienis inderwaarheid was dat dit die tweede en derde boonste drade was wat stukkend was.

10.2 Die Hof a quo het bevind dat die appellant getuig het dat hy eers vier dae na die ongeluk verneem het by Koper van die stukkende draad, terwyl dit inderwaarheid die derde dag na die ongeluk was.

10.3 Die Hof a quo het ook bevind dat die sprinkaanbeheerbeampte op die vorige dag deur “hek B” beweeg het en dit sodoende oop kon gelaat het. Hierdie bevinding is verkeerd. Die getuienis was inderdaad dat die betrokke beampte deur “hek G”, langs die grondpad na Grootdrink, beweeg het.

10.4 ‘n Verdere fout is die bevinding dat die appellant by ondersoek van die gebreekte drade tot die slotsom gekom het dat sy Nguni-bul waarskynlik die drade gebreek het. Die getuienis was inderwaarheid dat appellant die mening toegedaan was dat die perd met sy agterlyf geskuur het teen die hoekpaal as gevolg waarvan die drade toe gebreek het.

11. Hierdie foute deur die Verhoorregter en ander foute wat namens die appellant voorgehou is aan ons, het na my mening hoegenaamd geen effek op die slotsom waartoe die geleerde Verhoorregter gekom het nie. Dié verkeerde feitebevindings het na my mening geen wesenlike impak op die uiteindelike ratio decidendi van die Verhoorhof nie.

Die uiteindelike vraag is: het die Hof a quo tot die korrekte bevinding gekom op die bewese en gemeensaaklike feite?

12. Ek is die mening toegedaan dat daar hoegenaamd geen basis gelê is om met die Hof a quo se geloofwaardigheidsbevindinge ten aansien van die getuies in te meng nie. Die oorkonde staaf onteenseglik sodanige bevindinge. Ek volstaan ter illustrasie met die volgende voorbeeld: Koen, die brandweerstasie-offisier beweer dat hy heel eerste (alreeds om 07h20) by die toneel opgedaag het. In kruisondervraging het dit oorvloediglik geblyk dat hierdie aankomstyd heeltemal verkeerd was en moes hy dan ook noodgedwonge toegee dat hy effens later op die toneel aangekom het. Die appellant se eie getuienis by monde van sersant Duckworth, het lynreg ingedruis met Koen s’n dat hy eerste, voor die Upington en Olifantshoek polisie, op die toneel was. Verder het sersant De Waal namens die respondent se getuienis dat hy pogings aangewend het om die brandweer en ambulansdienste te kontak vanaf die ongelukstoneel onbetwis bly staan.

Om in sulke omstandighede enigsins te poog om op Koen se getuienis dat die “hek B” toe was, te probeer steun, is ‘n futiele oefening.

Koper en Swarts het verskriklik kleigetrap in hulle getuienis; die appellant was duidelik leuenagtig en Duckworth en Maritz het ‘n tevergeefse poging aangewend om steun te verleen aan ‘n, na my mening, agterna saamgeflanste verweer.

13. Ek huldig die mening dat dit oorvloediglik bewese staan op ‘n oorwig van waarskynlikhede op die oorkonde voor ons dat die perd toegang tot die hoofpad verkry het deur die oop “hek B”. Ek moet hier uitwys dat dit hoegenaamd nie nodig is om ‘n bevinding te maak aangaande wie die persoon of persone was wat die betrokke hek oopgelaat het nie. Die feit van die saak is dat dit Mnre. Koper en Swarts se verantwoordelikheid was om te sorg dat die hek ten alle tye toe was. Daar is na my mening geen gronde waarop met die verhoorhof se bevindinge daaraangaande ingemeng kan word nie. Ek kom tot hierdie bevinding aan die hand van die volgende:

13.1 Die geleerde verhoorregter het, tereg na my mening, oorwegend gunstige geloofwaardigheidsbevindinge gemaak ten aansien van die respondent se getuienis wat oor die oop hek getuig het (Auby, Joubert en De Waal) en het aan die anderkant ongunstige geloofwaardigheidsbevindinge gemaak ten aansien van die appellant se getuienis in dié verband (appellant, Koper, Swarts, Koen en Duckworth). Belangrike dele van sersante Joubert en veral De Waal se getuienis is onbetwis gelaat tydens hulle kruisondervraging (selfs toe De Waal teruggeroep is vir verdere kruisondervraging). In De Waal se geval val dit veral vreemd op dat sy weergawe dat hy deur “hek B” (wat oop was) gegaan het en toe ‘n gesprek gevoer het met Koper wat aan hom gesê het dat die sprinkaanbeheerbeampte die hek oop gelos het, glad nie betwis is nie.

13.2 ‘n Sorgvuldige nalees van die oorkonde, veral ten aansien van sersant Joubert se getuienis oor die spoor van die (beseerde) perd wat hy gevolg het op die toneel, het ‘n besonder gunstige indruk op my gelaat. Terselfdertyd wek dit by my ernstige vraagtekens (soos wat die geval was by die verhoorhof) aangaande die beweerde stukkende drade waardeur die perd vermoedelik sou geval het en meer nog: die wit plastieksak.

Dit is van belang om in gedagte te hou dat sersant Joubert se weergawe oor die perd se spoor tot ‘n groot mate (weliswaar na ‘n tamaai gekleitrappery) deur mnre. Koper en Swarts gestaaf word.

Ek deel die geleerde verhoorregter se suspisie aangaande die gebreekte drade en wit plastieksak. Dit is net eenvoudig ondenkbaar dat nòg Joubert nòg Swarts en Koper hierdie stukkende drade kon miskyk op die dag van die voorval. Verder is dit baie duidelik op die oorkonde dat veral Mnr. Swarts ten alle koste hom so ver moontlik op die dag van die ongeluk probeer verwyder het van die betrokke hoekpaal waar die stukkende drade na bewering was. Die wit plastieksak-scenario is net eenvoudig vergesog. Niemand kan verklaar wie, wanneer en hoekom iemand op so ‘n naamlose wyse die merker sou aangebring het nie. Ek kan beswaarlik enige fout vind met die verhoorhof se mening dat hierdie besondere aspek agterna opgetower is om ‘n verweer vir die appellant te probeer bewerkstellig.

13.3 In samehang met die voorafgaande is daar die appellant en Koper se dawerende stilswye aangaande hierdie stukkende drade en wit plastieksak in hul verklarings aan die polisie ongeveer drie maande na die voorval. Die betoog dat dié twee hulle in die verklarings beperk het tot die aspekte waaroor die polisie hulle uitgevra het, gaan net eenvoudig nie op nie. Veral die appellant was, op sy eie weergawe, op ‘n baie vroeë stadium kort na die ongeluk wel deeglik bewus daarvan dat hy strafregtelike vervolging sowel as sivielregtige verrigtinge vir skadevergoeding vanaf die vragmotoreienaar, die eienaar van die vrag op die vragmotor en die afhanklikes van die oorledenes in die uitgebrande bakkie in die gesig gestaar het as dit sou blyk dat sy perd deur ‘n oopstaande hek toegang tot die teerpad verkry het.

Hierdie stilswye versterk die vermoede van ‘n agterna gefabriseerde verweer. Bowendien en in elk geval het Koper verder gegaan en bewustelik ‘n vals, verontskuldigende verklaring voorgehou aan die polisie aangaande die perd se aanwesigheid in die pad; hy verklaar naamlik as volg:

Ek kan nie sê hoe die perd in die pad gekom het nie. Die kamp waarin die perde loop se hekke was gesluit en die hekke grens nie aan die pad nie, maar aan die waterkamp.”



13.4 Daar is hoegenaamd geen verduideliking van hoe anders sersant De Waal sou geweet het dat:

a) ene Koper vir die appellant gewerk het en op die toneel was daardie dag; en

b) die sprinkaanbeheerbeamptes wel die vorige dag op Kareeboomvlakte sprinkane gespuit het nie.

13.5 ‘n Verdere opvallende aspek is die ongeërgde houding wat die appellant ingeneem het tydens die gebeure. Hy het die Donderdagoggend vroeg reeds telefonies verneem van die ongeluk “met ‘n perd” by Koper. Hy stel hoegenaamd nie daarin belang om vas te stel of dit sy perd is nie --- hierdie gebrek aan belangstelling word voortgesit later die middag toe die appellant met Auby ‘n gesprek voer.

Op die Saterdag het hy verneem van die gat in die draadheining, maar was hy veel eerder geïnteresseerd in die beveiliging van die vrag op die sleepwaens. ‘n Mens sou verwag dat dit by die appellant hoogste prioriteit sou wees om homself onmiddellik van die bestaan van hierdie gat te vergewis, gegewe die ontsaglike probleme wat hom potensieel in die gesig gestaar het a.g.v. die botsing. Hierdie onbetrokkenheid aan die kant van die appellant is soortgelyk as die geval in Maritime & General Insurance Co. v Sky Unit Engineering 1989(1) SA 867 (T) te 891 C-E:

Fraccaro testified that, while the firemen were there, he saw the enormous damage done; he saw the flames, the smoke, the thick sediment of oil between the lathes, the wooden cabinet burning, the electrical cabinets being opened by the firemen, the fire therein put out and the general destruction. After the fire was put out and the smoke had abated he said to his acquaintance, Nicola, ‘If you don’t mind I am going to finish my job and I am (then) going home’. He says that at no stage did he go to inspect the damage once the fire had been put out. He was not curious to a look at it or to ascertain what the probable cause was. His only interest, evidently, was to finish his work and hurry home. This, in the circumstances, is improbable; natural curiosity would have led him to have gone to look at the damage and, at least, to have spoken to Nicola about it which he says he did not do.”



13.6 Gesonde verstand en logika bepaal dat die waarskynlikhede oorweldigend oorhel ten gunste van die feit dat die perd deur ‘n oop hek toegang tot die teerpad gekry het. Ek vind dit moeilik om te begryp hoe die perd deur 2 van die boonste drade van ‘n 8-draad heining sou kon val.

14.1 Ek handel kortliks met mnr. Grobbelaar se getuienis en daarmee saam die kwessie van enige bydraende nalatigheid aan die kant van die vragmotorbestuurder. Mnr. Grobbelaar het geredelik toegegee dat aldrie die opsies (die maneuvers soos deur mnr. Mathlasela uitgevoer/reguit aanry en die perd stamp/na links swaai) bepaalde risiko’s ingehou het.

14.2 Daar moet in besonder teen gewaak word om ‘n ex post facto leunstoel-benadering te volg, wanneer die optrede beoordeel word van ‘n bestuurder wat ‘n 56 ton vrag vervoer op ‘n groot, lomp voorhaker-sleepwaens kombinasie wat eensklaps in die donkerte gekonfronteer word deur ‘n donkerbruin perd voor hom op ‘n swart teerpad met ‘n voertuig wat van voor aankom.

14.3 In ons reg word bo-menslike reaksievermoëns en reaksiehandelinge nie vereis van ‘n bestuurder in sulke omstandighede nie. Ten beste vir die appellant kan die vragmotorbestuurder hoogstens verwyt word van ‘n oordeelsfout (en selfs daaraangaande het ek ernstige bedenkinge).

14.4 Met die caveat dat elke saak op sy eie meriete beoordeel moet word, is dit nuttig om die feite in hierdie saak te vergelyk met dié in die volgende gewysdes:

a) In Rodriques v SA Mutual and General Insurance Co. 1981(2) SA 274(A) was ‘n motorbestuurder skielik gekonfronteer met ‘n persoon (die appellant in daardie saak) in donker klere wat gebuk of gekniel het in ‘n swak verligte pad aan die bestuurder se kant van die pad. Kort voordat die bestuurder die persoon voor hom opgemerk het was hy (die bestuurder) momenteel verblind deur die hoofligte van ‘n aankomende voertuig wat toe sy ligte gedomp het. Kort nadat dié aankomende voertuig by hom verby is het die bestuurder die persoon in die pad voor hom gewaar. Volgens die deskundige getuienis sou die motorbestuurder die persoon voor hom op ‘n afstand van 20 meter vir die eerste keer kon gewaar. Inaggenome die uiters beperkte reaksietyd en die kort afstand bevind die Appélhof dat hierdie scenario ‘n skielike noodsituasie (sudden emergency) daargestel het en dat die motorbestuurder se nalate (as dit wel een was) om meer na links te swenk hoogstens ‘n oordeelsfout en nie nalatigheid nie daarstel.

Op 280H - 281A stel Van Heerden Wn.AR. dit as volg:

“As appears from what has already been stated, the van would have been some seven metres from the appellant before Schmidt could have been expected to react. He therefore had less than a second in which to take evading action. He was confronted by a sudden emergency as a result of the unexpected presence of a kneeling person in the street. He judged that by swerving as he did he would be allowing a sufficient berth to avoid colliding with the appellant. He also had to consider his own safety, as well as that of the passengers in the back of the van, which could have been endangered by a violent swerve. In my view the circumstances were such that his failure - if indeed it was one - to swerve more to his left did not amount to negligence but at the most to an error of judgment.”

b) In Ntsala & others v Mutual & Federal Insurance Co. Ltd 1996(2) SA 184 (T) het die verweerder se bestuurder na links geswaai om ‘n botsing met ‘n voertuig wat van voor af in die verkeerde baan (d.w.s. aan die verweerder se bestuurder se kant) aangekom het, te vermy. Sy voertuig het egter gegly en teen dié van die eerste eiser wat agter die aankomende voertuig gery het, gebots. Die verweerder het gesteun op die verweer dat sy bestuurder met ‘n skielike noodistuasie gekonfronteer was en redelik opgetree het in die omstandighede. Els R het hierdie verweer gehandhaaf; die geleerde Regter verklaar as volg te 192 C-E.

“The doctrine of sudden emergency, (on which the defendant relies) was summarised as follows in Thornton and Another v Fismer 1928 AD 398 at 412:

a man who, by another’s want of care, finds himself in a position of imminent danger, cannot be held guilty of negligence merely because in that emergency he does not act in the best way to avoid the danger’.

A party to an action can only rely on the doctrine of sudden emergency if and when the sudden emergency in which he finds himself is not of his own doing.

If his actions or neglect are the reason or cause of the sudden emergency, he can for that reason also be found to be negligent.”

14.5 Ek is dit heeltemal eens met die geleerde Verhoorregter dat daar geen nalatigheid hoegenaamd toegeskryf kan word aan mnr. Mathlasela in hierdie saak nie.

15. Dit was grotendeels aanvaar deur die appellant dat hy aanspreeklik gehou sal word as op ‘n oorwig van waarskynlikhede dit bewese staan dat die perd deur “hek B” sy toegang tot die teerpad bekom het. Hierdie houding strook heeltemal met die posisie in ons reg.

Vergelyk in die algemeen onder meer: Coreejes v Carnavon Munisipaliteit en ‘n ander 1964(2) SA 454 (K) te 457 A-D.

Jamneck v Wagener 1993(2) SA 54 (K) te 60D - 61B.

Swarts v Delport [2002] 2 All SA 309 (HHA).

15. Na my mening is daar geen meriete in die appellant se betoë nie en behoort die appél met koste afgewys te word.




___________

SA MAJIEDT

REGTER



Ek stem saam. Die appél word met koste afgewys.



___________

AP BECKLEY

REGTER



Ek stem saam:



___________

CJ OLIVIER

WAARNEMENDE REGTER



NAMENS APPELLANT : ADV JJS PRINSLOO i.o.v. DUNCAN & ROTHMAN

NAMENS RESPONDENT : ADV E WESSELS i.o.v. VAN DE WALL & VENNOTE


DATUM VAN VERHOOR : 4 AUGUSTUS 2003

DATUM VAN UITSPRAAK : 15 AUGUSTUS 2003