South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >>
2003 >>
[2003] ZANCHC 27
| Noteup
| LawCite
Nthela v S (CA & R 121/02) [2003] ZANCHC 27 (27 February 2003)
Download original files |
Verslagwaardig: Ja / Nee
Sirkuleer aan Regters: Ja / Nee
Sirkuleer aan Landdroste: Ja / Nee
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Afdeling)
Saakno:CA & R 121/02
Datum verhoor: 2003-02-24
Datum gelewer: 2003-02-27
In die appél van:
TATELO NTHELA APPELLANT
versus
DIE STAAT RESPONDENT
Coram: MAJIEDT R et LACOCK R
UITSPRAAK OP APPéL
LACOCK R:
Die appellant is in die landdroshof, Kimberley, skuldig bevind aan diefstal en is op 22 Maart 2002 gevonnis tot twee jaar gevangenisstraf. Hy kom nou in hoër beroep teen sy skuldigbevinding en vonnis.
Die getuienis namens die Staat aangevoer en soos blyk uit die oorkonde, kan as volg saamgevat word:
Op 4 Desember 2001 om ongeveer 15h25 het die appellant die handsak van mev. Nadia Kika, ‘n inspekteur in diens van die Suid-Afrikaanse Polisie, geneem waar dit in die voorste kantoor van die SAP Unie-kantore gelê het terwyl mev. Kika in die agterste kantoor besig was. Omdat die deur van die voorste kantoor oopgestaan het en mev. Kika bedag daarop was dat iemand ongemagtig die kantoor kon binnegaan, het sy op ‘n stadium na die voorste kantoor beweeg. Deur die venster kon sy ‘n persoon sien wat wegstap vanaf die kantoor terwyl hy ‘n voorwerp wat in ‘n lap toegedraai was, dra. Aangesien die persoon vir haar verdag voorgekom het, het sy stadig agter hom aangestap, en gemerk dat die band van haar handsak onder die lap in die hande van die appellant uitsteek. Sy het op die appellant geskree, waarop hy omgedraai het, die handsak neergegooi het, gelag het en toe weggehardloop het. Mevrou Kika het onmiddellik hierna die kamerabeheerkantoor van die Suid-Afrikaanse Polisie geskakel en aan hulle die voorval rapporteer en ook ‘n beskrywing gegee van die appellant en sy kleredrag. Kort hierna is die appellant op die straatkameras opgemerk en is hy gearresteer. Na sy arrestasie is hy na mev. Kika gebring en het sy hom onmiddellik herken as dieselfde persoon wat haar handsak gehad en neergegooi het.
Die appellant het ook getuig en ontken dat hy die klaagster se handsak gesteel het. Die hoogwatermerk van sy verdediging was naamlik dat mev. Kika getuig het dat hy nie ‘n pet gedra het nie, terwyl hy, toe hy gearresteer was, ‘n pet op sy kop gehad het. Hy het vervolgens beweer dat sy hom verkeerdelik uitgeken het as die persoon wat haar handsak sou geneem het.
Die landdros het, myns insiens tereg, die getuienis van die appellant as nie redelik moontlik waar en vals verwerp, en die appellant skuldig bevind op die weergawe van die staatsgetuies. Die argument namens die appellant aangevoer, naamlik dat die uitkenning van die appellant deur die klaagster verdag was omdat die appellant met sy arrestasie ‘n pet op sy kop gehad het, terwyl die klaagster getuig het dat hy nie ‘n pet opgehad het toe sy hom gesien het nie, het die landdros korrek en logies benader deur te sê dat die appellant duidelik die pet op sy kop gesit het in die tydsverloop nadat hy vanaf die klaagster weggehardloop het en hy gearresteer is.
Voor ons het advokaat Langenhoven wat namens die appellant verskyn het, as’t ware die appél op die skuldigbevinding abandoneer, hoewel nie uitdruklik nie. Ek is van mening dat die landdros tereg die appellant skuldig bevind het. Duidelik het die klaagster voldoende geleentheid gehad om die appellant behoorlik waar te neem terwyl sy agter hom aangestap het en toe hy na haar omgedraai en die handsak op die grond neergegooi het. Toe hy kort daarna na sy arrestasie na haar gebring is, het sy hom onmiddellik herken as dieselfde persoon wat haar handsak ‘n rukkie vantevore gehad en op die grond neergegooi het. Die enigste redelike afleiding wat uit die voorgaande gedrag van die appellant gemaak kan word, is naamlik dat hy die persoon is wat die handsak uit die kantoor van die klaagster geneem het.
Wat die vonnis aanbetref, is ek van mening dat dit sodanig verskil van die vonnis wat ek sou opgelê het indien ek as hof van eerste instansie die saak sou aangehoor het, dat daarmee ingemeng behoort te word. Die appellant was 25 jaar oud ten tye van die skuldigbevinding. Hoewel vorige veroordelings teen hom bewys is, was hy slegs in 1993 skuldig bevind aan verbandhoudende misdrywe van diefstal en bedrog wat vir vonnisdoeleindes saamgeneem is en waarvoor hy gevonnis is tot sewe houe met ‘n ligte rottang. Hoewel slegs te wyte aan die klaagster se wakker optrede, is dit nietemin so dat sy nie enige skade gely het nie, en het die appellant geen voordeel getrek uit sy wandaad nie. Dit kom my ook voor dat die landdros weinig gewig geheg het aan die persoonlike omstandighede van die appellant. Al wat hy hieraangaande opgemerk het, is die volgende:
“Die beskuldigde is 25 jaar oud. Hy het een afhanklike. Hy werk blykbaar vir homself. Wat presies hy doen, weet die hof nie.”
Daarna handel die landdros met die vorige veroordelings van die appellant. Dit blyk verder uit die oorkonde dat die appellant vir ‘n periode van ongeveer drie maande verhoorafwagtend in hegtenis aangehou was voordat hy gevonnis is. Hierdie feit is nie deur die landdros in oorweging geneem nie.
Na my mening sou ‘n gepaste vonnis wees een van twee jaar gevangenisstraf waarvan een jaar gevangenisstraf voorwaardelik opgeskort is.
Bygevolg sou ek die volgende bevel hierin verleen:
8.1 Die appél teen die skuldigbevinding word van die hand gewys.
8.2 Die appél teen die vonnis slaag, en word die vonnis die appellant opgelê tersydegestel en vervang met die volgende : “Twee (2) jaar gevangenisstraf waarvan een (1) jaar gevangenisstraf opgeskort word vir ‘n periode van vyf (5) jaar op voorwaarde dat die beskuldigde nie gedurende die tydperk van opskorting skuldig bevind word aan diefstal of enige ander misdryf waarvan oneerlikheid ‘n element is en waarvoor hy gevonnis word tot gevangenisstraf sonder die keuse van ‘n boete nie.”
8.2.1 Die vonnis word terugdateer na 22 Maart 2002.
_____________
HJ LACOCK
REGTER
Ek stem saam en dit word so gelas.
___________
SA MAJIEDT
REGTER
NAMENS APPELLANT : ADV GT LANGENHOVEN
NAMENS RESPONDENT : ADV PSC CALITZ
DATUM VAN VERHOOR : 2003-02-24
DATUM VAN UITSPRAAK : 2003-02-27