South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
You are here: SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2002 >> [2002] ZANCHC 8 | Noteup | LawCiteSuid-Westelike Transvaalse and Another v Kotze (CA&R 99/2002) [2002] ZANCHC 8 (22 March 2002)
Download original files |
Verslagwaardig: Ja / Nee
Sirkuleer aan Regters: Ja / Nee
Sirkuleer aan Landdroste: Ja / Nee
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Afdeling)
Saakno: CA&R 99/2002
Datum verhoor: 2002-03-18
Datum gelewer: 2002-03-22
In die appél van:
SUID-WESTELIKE TRANSVAALSE
LANDBOU KOöPERASIE APPELLANT
versus
L KOTZE RESPONDENT
Coram: MAJIEDT R et WILLIAMS WnR
UITSPRAAK OP APPéL
MAJIEDT R:
Die Appellant kom in hoër beroep teen die landdros se afwysing van sy eis met koste.
Die Appellant het in die landdroshof aksie ingestel teen die Respondent vir betaling van die bedrag van R191 028.32. Hierdie eis het die Appellant gebaseer op goedere verkoop en gelewer en in die alternatief op ‘n skriftelike erkenning van verskuldigdheid wat die Respondent onderteken het.
Aanvanklik en nadat die Appellant getuienis aangebied het, het die landdros absolusie van die instansie gelas. Hierdie bevel is daarop gebaseer dat die Appellant met betrekking tot jurisdiksie van die landdroshof gesteun het op die bepalings van klousule 6 van bewysstuk A, welke steun die landdros bevind het regtens onontvanklik is. Hierdie bewysstuk is ook van kardinale belang wat betref die beregting van hierdie appél en derhalwe is dit nodig om dit nader toe te lig. Hierdie dokument wat onderteken is deur die Respondent het as opskrif die volgende:
“OOREENKOMS OM SKULD TE BETAAL
AANGEGAAN DEUR EN TUSSEN
SUID-WESTELIKE TRANSVAALSE LANDBOUKOöRASIE BEPERK
(hierna genoem ‘die skuldeiser’)
en
LOUIS KOTZE
(hierna genoem ‘die skuldenaar’)”.
In die dokument erken die Respondent dat hy die bedrag van R191 028.32 verskuldig is aan die Appellant. Dit is ‘n pro-forma dokument wat ook ‘n blanko gedeelte bevat. Daardie blanko gedeelte bevat ‘n inskrywing per hand waarin ‘n aanbod ter betaling van die voormelde verskuldigde bedrag in vier paaiemente gemaak word, asook rente teen 8% per jaar. Die dokument handel verder met toestemming tot die jurisdiksie van die landdroshof, koste asook die domicilium citandi et executandi van die Respondent.
Die landdros het, wat betref die bevel van absolusie van die instansie, tot die gevolgtrekking gekom dat daar nooit ‘n ooreenkoms tussen die partye tot stand gekom het soos vervat in bewysstuk A nie, die Appellant derhalwe nie op die bepalings daarvan kon steun nie en gevolglik is die Appellant se steun op die jurisdiksie van die landdroshof voortvloeiend uit bewysstuk A regtens onontvanklik.
Die Appellant het teen hierdie beslissing van absolusie van die instansie geappelleer na hierdie Hof wat by monde van Olivier WnR met wie Malherbe R saamgestem het, die appél met koste gehandhaaf het en die bevel van absolusie van instansie tersyde gestel het. Ek sal aanstons verder verwys na daardie beslissing.
Die aangeleentheid is toe terug na die landdroshof vir verdere getuienis en het die Respondent dan ook verdere getuienis daar aangebied. Daarna het die landdros bevind dat bewysstuk A ‘n geprivilegeerde dokument is, aangesien dit skikkingsonderhandelinge bevat. Op dié basis is die Appellant se eis toe van die hand gewys met koste.
Uit die voorafgaande is dit dus duidelik dat die enkele regsaspek vir beregting in hierdie appél voor ons die vraag is of bewysstuk A, die erkenning van skuld, wel ‘n geprivilegeerde dokument is op die basis dat dit skikkingsonderhandelinge daarstel.
Dit is nie nodig om in enige besonderhede die getuienis in hierdie aangeleentheid te behandel nie. Dit kan opsommenderwys daarmee volstaan word dat die Appellant se saak deurgaans in die Hof a quo was dat bewysstuk A inderdaad ‘n erkenning van verskuldigheid daarstel en dat die aanbod van betaling in vier paaiemente ter delging van die verskuldigde bedrag wat erken is, ‘n afsonderlike aspek tot die erkenning van skuld was. Die Respondent se saak daarenteen was dat die aanbod van afbetaling in vier paaiemente ‘n integrale deel was van die skikkingsonderhandelinge waarby ingesluit is die erkenning van skuld ten aansien van die bedrag van R191028.32.
In die appéluitspraak waarvolgens die landdros se bevinding van absolusie van die instansie tersyde gestel is, het Olivier WnR die volgende beslis:
“Daar kan myns insiens nie twyfel daaroor bestaan nie dat dit wat deur die appellant onaanvaarbaar gevind is in die dokument wat voorgelê is deur die respondent inderdaad net die wyse van betaling was. Oor die res van die dokument was daar geen verskil of geskil tussen die betrokkenes nie. Die wyse van betaling, soos voorgestel deur die respondent, was klaarblyklik ‘n onderskeidbare gedeelte tot die erkenning van die verskuldigheid en die onderneming om te betaal, saamgelees met die orige paragrawe van die dokument. Die respondent se gebondenheid by wyse van ‘n erkenning van skuld en onderneming om te betaal (sien ook Chapman Dyer Miles & Moorhead Inc v Highmark Investment Holdings CC and Others 1998(3) SA608(D) op 612G), verdere ondernemings en afstanddoening, insluitende die toestemming tot jurisdiksie van die Landdroshof, kan gevolglik met reg onderskei word van die betalingswyse soos deur die respondent voorgestel aan die appellant. (Sien in hierdie verband Vogel NO v Volkerz 1977(1) SA537(T) op 548F).”
Die geleerde Waarnemende Regter beslis dan as volg:
“Gevolglik stel die onderhawige dokument soos deur die respondent op 4 Maart 1994 onderteken ‘n geldige en afdwingbare erkenning van verskuldigheid met ‘n onderneming om te betaal daar, welke dokument ook skriftelike toestemming deur die respondent tot jurisdiksie van die Landdroshof ingesluit het.”
Die geleerde Regter se bevindings soos voormeld word respekvol ondersteun en is ek ook die mening toegedaan dat bewysstuk A ‘n deelbare dokument daarstel. In die saak van Polverini v General Accident Insurance Co. South Africa Ltd 1998(3) SA546 (W) het die Hof onder andere ‘n aansoek om deurhaling oorweeg ten aansien van twee briewe waarin die Respondent aanspreeklikheid vir die Applikant se eis erken het, maar daarby ‘n voorwaarde gevoeg het wat die Applikant onaanvaarbaar gevind het. In daardie saak het die Applikant, ook soos hier, aangevoer dat die gewraakte briewe deel was van skikkingsonderhandelinge. Horwitz WnR sê die volgende te 550 I-J:
“I do not know of any provision of law which entitles a party who has made an unqualified and unconditional admission of liability towards another party to claim that the admission cannot be used against the first-mentioned party.”
Verder aan te 551 C bevind die geleerde Regter as volg:
In the instant case, the respondent was not making any offer of settlement. It did not attempt to settle the disputed portion of the applicant’s claim. It offered to pay him what it admitted owing him and nothing more but then, arrogantly, attached an impermissible condition to its admitted obligation, something that it was not entitled to do, and refused to pay the applicant unless he accepted that condition.” (my beklemtoning)
Na my mening is die Respondent in die onderhawige saak in presies dieselfde posisie. Die erkenning van verskuldigdheid kan hoegenaamd nie deel wees van skikkingsonderhandelinge nie. Dit is gemenesaak dat die Appellant die erkenning van verskuldigdheid aanvaar het.
In Kapeller v Rondalia Versekeringskorporasie van SA 1964(4) SA722(T) het die verweerder toegegee dat hy aanspreeklik was vir die eiser se skade wat hy kon bewys in ‘n derdepartyversekeringsaak. Tydens samesprekings wat daarop gevolg het, het dit gegaan oor die bedrag van skadevergoeding en was daar op ‘n stadium tussen die partye ‘n verwysing na “die meriete van die saak”. Die verweerder het toe met ‘n steun op privilegie aangevoer dat getuienis daaroor nie toelaatbaar is nie. Op 729 B-D sê Viljoen R (soos hy toe was) die volgende:
“........(Dit is) baie duidelik dat die verwysing na die ‘meriete’ nie ‘n kaart was wat enigeen van die partye op die tafel oopgegooi het met die doel om ‘n skikking te probeer bereik nie. Die skikkingsonderhandelings het uitsluitlik gegaan om die bedrag en dit was nooit die bedoeling dat ‘n verwysing na die ‘meriete’ enigsins hierdie onderhandelings moes beïnvloed nie. Dit het heeltemal los en onafhanklik gestaan van die skikking. Die blote feit dat daar skikkingsonderhandelings was ten aansien van ‘n duidelik afskeibare geskilpunt in die saak, het myns insiens nie alles wat daar geuiter is ten aansien van ‘n ander geskilpunt onderworpe gemaak aan die privilegie nie. Ek het tot die gevolgtrekking geraak dat getuienis ten aansien van die ‘meriete’ wel toelaatbaar is.”
Sien ook: Van Niekerk et al: Privilegies in die Bewysreg, 1984 te 206-207
Wanneer bepaal moet word of ‘n dokument self vatbaar is vir privilegie, word ‘n objektiewe uitleg toegepas, d.w.s. wat die dokument vir ‘n redelike leser sou beteken het;
Sien: Naidoo v Marine & Trade Insurance Co. Ltd. 1978(3) SA666(A) te 675.
Op sò ‘n objektiewe uitleg kan bewysstuk A na my mening glad nie vatbaar wees vir privilegie nie.
Vir die redes voormeld is ek die mening toegedaan dat die landdros gefouteer het deur te bevind dat bewysstuk A skikkingsonderhandelinge daarstel. Bygevolg meen ek dat die appél gehandhaaf behoort te word. Meneer Van Niekerk, wat namens die Appellant verskyn, het ook as tweede submissie aangevoer dat die skikkingsonderhandelinge (as dit inderdaad skikkingsonderhandelinge was) in elk geval nie meer geprivilegeerd was toe die erkenning deur die Appellant aanvaar is nie. Hierdie is ‘n submissie met aansienlike meriete, maar gegewe my bevinding soos voormeld, is dit nie nodig om daarmee te handel nie.
Die Appél slaag met koste en die landdros se bevel word tersyde gestel en vervang met die volgende:
Vonnis word teen die Verweerder verleen in die bedrag van R191 028.32 plus rente daarop teen 15.5% per jaar vanaf 4 Maart 1994 tot datum van betaling. Die Verweerder word verder gelas om die gedingskoste te betaal.
___________
SA MAJIEDT
REGTER
Ek stem saam:
_____________
CC WILLIAMS
WAARNEMENDE REGTER
NAMENS APPELLANT: ADV JG VAN NIEKERK
NAMENS RESPONDENT: ADV DJ COMBRINCK
DATUM VAN VERHOOR: 18 MAART 2002
DATUM VAN UITSPRAAK: 22 MAART 2002