South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2002 >> [2002] ZANCHC 7

| Noteup | LawCite

Kotze and Others v Meepo ya Sechaba Mining BK and Others (171/2002) [2002] ZANCHC 7 (15 March 2002)

Download original files

PDF format

RTF format


Verslagwaardig: Ja / Nee

Sirkuleer aan Regters: Ja / Nee

Sirkuleer aan Landdroste: Ja / Nee


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(Noord-Kaapse Afdeling)


Saakno: 171/2002


DATUM VERHOOR: 8 MAART 2002

DATUM GELEWER: 15 MAART 2002



In die saak van:


JAN LOUIS KOEN KOTZE EERSTE APPLIKANT

WILLEM ADAMS TWEEDE APPLIKANT

MARIA CHRISTINA NORTJE N.O. DERDE APPLIKANT


versus


MEEPO YA SECHABA MINING BK EERSTE RESPONDENT

DIE DIREKTEUR-GENERAAL VAN DIE

DEPARTEMENT VAN MINERALE EN ENERGIE TWEEDE RESPONDENT

DIE DIREKTEUR MINERAALONTWIKKELING,

NOORD-KAAP DERDE RESPONDENT

DIE MINISTER VAN MINERALE EN ENERGIE VIERDE RESPONDENT



Coram: MAJIEDT R


UITSPRAAK



MAJIEDT R:

A. INLEIDING


  1. Die Applikante nader die Hof op ‘n dringende basis vir finale regshulp vir:


    1. n uitsettingsbevel teen die Eerste Respondent;


    1. n interdik teen die Eerste Respondent, sy amptenare, werknemers of kontrakteurs;


    1. die nietigverklaring van ‘n permit uitgereik deur die Derde Respondent aan die Eerste Respondent;

in die alternatief tot (c):


    1. n bevel waarvolgens gelas word dat die aantekening van ‘n appél deur die Applikante na die Tweede en Vierde Respondente teen die uitreiking van die voormelde permit, die werking van die permit opskort hangende die finale beregting van die appél;


in die verdere alternatief tot (c):


    1. n bevel dat die werking van die voormelde permit opgeskort word hangende die uitslag van die appél;


    1. n kostebevel teen die Eerste Respondent, insluitende die koste van Vrydag 1 Maart 2002 op ‘n bestrede basis;


    1. dat die bevel in (a) en (b) hierbo sal dien as ‘n tussentydse interdik hangende die finale beregting van die appél.


      1. Die Applikante het aanvanklik slegs interim regshulp aangevra, maar nadat die aangeleentheid op 1 Maart 2002 voor Lacock WnR uitgestel is, is daar nou ‘n volledige stel eedsverklarings geliasseer, vandaar die aanvra van finale regshulp. Meneer Wilmans, wat namens die Eerste Respondent verskyn, het nie die Applikante se aansoek vir wysiging van hul Kennisgewing van Mosie om finale regshulp aan te vra, geopponeer nie en ek het die aansoek gevolglik toegestaan.


      1. Die Tweede, Derde en Vierde Respondente het geen aanduiding hoegenaamd gegee van wat hul houding in die aangeleentheid is nie. Die enigste partye wat dus die aansoek voor my beredeneer het, is die Applikante, verteenwoordig deur mnr Van Heerden, en die Eerste Respondent, verteenwoordig deur mnr. Wilmans.



B. AGTERGRONDFEITE


      1. Ek sit vervolgens bondig die agtergrond tot die dispuut tussen die partye uiteen.


    1. Die Eerste Applikant is die huurder van die eiendom hier ter sprake – ‘n deel van die plaas Lanyon Vale wat geleë is naby die sameloop van die Oranje- en Vaalriviere.

Hy huur die eiendom vir die bedryf van ‘n stoetvee boerdery reeds sedert 1977.

Die Eerste Applikant is ook ‘n erfgenaam van een-derde aandeel van die eiendom, kragtens die bepalings van sy oorlede moeder se testament. Haar bestorwe boedel is die eienaar van die eiendom.


    1. Die Tweede Applikant woon en werk op die eiendom en het gedurende Julie 2001 ‘n vennootskapsooreenkoms gesluit met die Eerste Applikant en het die vennootskap aansoek gedoen by Derde Respondent vir prospekteerregte vir diamante met betrekking tot die eiendom.


    1. Die Derde Applikant is ‘n prokureur en eksekutrise van die bestorwe boedel waarna vroeër verwys is.


    1. Die Eerste Respondent is ‘n beslote korporasie wat ‘n prospekteerpermit ten aansien van die eiendom gehou het vanaf 22 Julie 1999 tot 21 Julie 2001 (dus vir ‘n tydperk van twee jaar).


    1. Die Tweede, Derde en Vierde Respondente is hierin gesiteer uit hoofde van die bevoegdhede wat hulle uitoefen ten aansien van minerale en mineraalregte, kragtens die bepalings van die Mineraalwet, Nr 50 van 1991 (“die Wet”).


    1. Die Eerste en Tweede Applikante het op 23 Julie 2001 in vennootskap aansoek gedoen vir ‘n prospekteerpermit ten aansien van die eiendom. Hierdie aansoek is op 14/8/2001 voltooi, nadat sekere inligting wat aangevra is deur Derde Respondent verskaf is.


    1. Op 15 Augustus 2001 het die Eerste Respondent ‘n aansoek om te prospekteer op die eiendom geliasseer by die Derde Respondent.


    1. Op 14 September 2001 het die Derde Respondent vir die Derde Applikant (wat ook die Eerste en Tweede Applikante se prokureur is) verwittig dat die Eerste en Tweede Applikante se aansoek nie geprosesseer kan word nie, omdat die vorige prospekteerpermit (van die Eerste Respondent) onder hernuwing is. Daar is gesteun op en verwys na artikel 15 van die Wet.


    1. Appél is op 18/10/2001 deur die Eerste en Tweede Applikante aangeteken na die Tweede Respondent teen die Derde Respondent se besluit om nie die aansoek te prosesseer nie.


    1. Gedurende Februarie van hierdie jaar het die Eerste Respondent ‘n aanduiding gegee aan die Applikante dat hy die eiendom wil betree ten einde daarop te myn of te prospekteer (dit is nie duidelik op die stukke watter een van dié twee dit is nie) en het toe inderdaad op die eiendom begin myn/prospekteer. Daar het toe ‘n dispuut tussen die partye bestaan wat aanleiding gegee het tot hierdie dringende aansoek. Die Eerste Respondent steun op ‘n tydelike permit, uitgereik kragtens artikel 10 van die Wet, vir sy optrede.



C. DIE REGSASPEKTE WAT BEREGTING VERG


  1. Die Applikante steun op die volgende regsbasisse vir die aangevraagde regshulp:


    1. spoliasie;


    1. onregmatige betreding van die eiendom uit hoofde van die afwesigheid van òf ‘n prospekteer kontrak òf ‘n notariële minerale huurkontrak;


    1. die nietigheid van die artikel 10-permit.


  1. Ek gaan dié aspekte betrag deur eers die spoliasie-argument te beskou en daarna die geldigheid al dan nie van die artikel 10-permit te oorweeg. Daarna en indien nodig, sal ek die aspek onder 6.2 hierbo bespreek.



D. DIE REGSPOSISIE


  1. Spoliasie


    1. Wat spoliasie aanbetref het mnr Van Heerden aangevoer dat die Applikante bewys het dat hulle in vreedsame en ongestoorde besit van die eiendom was en dat dié besit teen hulle wil wederregtelik van hulle ontneem is deur die Eerste Respondent. Gevolglik is hulle geregtig op besitsherstel deur die mandament van spolie, sonder dat eers ondersoek gedoen word of die Eerste Respondent enige geldige regte ten aansien van die eiendom het.


    1. Die Eerste Respondent steun op mondelinge toestemming deur die Eerste Applikant om die grond te betree. Hierdie beweerde toestemming word heftig ontken deur die Eerste Applikant in sy repliserende eedsverklaring.


    1. Gedagtig daaraan dat hierdie mosieverrigtinge is waarin finale regshulp aangevra word, meen ek dat die Eerste Respondent ten minste ‘n bona fide feitegeskil op ‘n wesenlike element van die mandament van spolie geskep het. In dié omstandighede is beregting van hierdie eerste grond waarop die Applikante steun gevolglik nie moontlik op die stukke voor my nie. Ek oorweeg dus nou vervolgens of die artikel 10-permit waarop die Eerste Respondent steun geldig is al dan nie.


  1. Geldigheid van die artikel 10-permit.

Die Wet het vanaf sy invoering op 1 Januarie 1992 grootliks eenvormigheid gebring in die land se mineraalwetgewing. Die belangrikste bepalings daarvan, vir doeleindes van hierdie aangeleentheid, is die volgende:


    1. Artikel 5(1) bepaal as volg:


Behoudens die bepalings van hierdie Wet het die houer van die reg op ‘n mineraal ten opsigte van grond ..., of enige persoon wat die toestemming van sodanige houer ooreenkomstig artikel 6(1)(b) of 9(1)(b) verkry het, die reg om sodanige grond ... te betree ... en om op sodanige grond na sodanige mineraal te prospekteer, daarvoor te myn en daaroor te beskik” (my beklemtoning).


    1. Artikel 5(2) bepaal dat niemand na ‘n mineraal mag prospekteer of daarvoor myn nie, tensy hy oor die nodige magtigings kragtens die Wet beskik. Hierdie magtigings is die prospekteerpermitte in artikel 6 en die ontginningsmagtigings in artikel 9 van die Wet.


    1. Artikel 6(1) bepaal dat die Derde Respondent ‘n prospekteerpermit kan uitreik aan iemand wat die houer is van ‘n mineraalreg of wat skriftelike toestemming het van die houer van die minerale reg om vir die betrokke mineraal te prospekteer.


    1. Artikel 6(3) bepaal dat indien die Staat die minerale reg houer is kan die voormelde toestemming op skriftelike aansoek deur die Vierde Respondent (namens die Staat) verleen word onderworpe aan bedinge en voorwaardes soos deur die Vierde Respondent bepaal.


    1. Artikel 9(1) bevat ‘n soortgelyke bepaling as artikel 6(1) ten aansien van die uitreiking van ‘n ontginningsmagtiging.


    1. Artikel 9(2) bepaal eweneens soos artikel 6(3) dat die Vierde Respondent ten behoewe van die Staat as houer van die minerale regte op skriftelike aansoek toestemming soos vereis in artikel 9(1) kan verleen.


    1. Artikel 10 bepaal as volg:


Tydelike magtiging om prospekteer of mynwerksaamhede voort te sit


Die Direkteur: Mineraalontwikkeling kan, hangende 'n aansoek om 'n prospekteerpermit of 'n ontginningsmagtiging, 'n tydelike permit of magtiging uitreik wat die voortsetting magtig van prospekteer- of mynwerksaamhede op die grond wat die onderwerp van sodanige aansoek uitmaak en wat gemagtig was kragtens 'n prospekteerpermit of ontginningsmagtiging wat ingevolge artikel 16 verval het.


    1. Die volgende belangrike aspekte val onmiddellik op:


  1. Dit is bloot ‘n tydelike magtiging en word uitgereik hangende ‘n aansoek om ‘n prospekteerpermit of ‘n ontginningsmagtiging; en


  1. Hierdie tydelike magtiging geld ten aansien van die voortsetting van prospekteer of mynwerksaamhede op die grond wat die onderwerp vorm van die (hangende) aansoek in (a) hierbo vermeld en wat gemagtig was kragtens ‘n prospekteerpermit of ontginningsmagtiging wat ingevolge artikel 16 verval het.


  1. Samevattend dus, uit hoofde van (a) en (b) – ‘n tydelike permit of magtiging kan nie in vacuo uitgereik word nie; daar moet ‘n hangende aansoek vir ‘n prospekteerpermit kragtens artikel 6 of vir ‘n ontginningsmagtiging kragtens artikel 9 wees.


  1. Dit is amper vanselfsprekend dat die hangende aansoek ingevolge òf artikel 6 òf artikel 9 behoorlik moet voldoen aan die wetlike voorskrifte.


    1. Artikel 16 bepaal:


Verval van prospekteerpermit of ontginningsmagtiging


'n Prospekteerpermit of ontginningsmagtiging verval wanneer-


(a) die tydperk, as daar is, waarvoor so 'n permit of magtiging uitgereik is, verstryk;


(b) die houer van so 'n permit of magtiging wat ook die houer is van die reg op die betrokke mineraal ten opsigte van die grond of uitskot, na gelang van die geval, wat die onderwerp van so 'n permit of magtiging uitmaak, ophou om laasgenoemde houer te wees; of


(c) die toestemming bedoel in artikel 6 (1) (b) of 9 (1) (b) verval.”


    1. In casu is dit gemeensaak dat die Eerste Respondent se prospekteerpermit verval het op grond van artikel 16(a) se bepalings.


    1. Dit is gemeensaak dat daar nie ‘n hangende aansoek vir ‘n ontginningsmagtiging kragtens artikel 9 deur die Eerste Respondent was toe dié artikel 10-tydelike permit uitgereik is nie. Verder is dit ook gemeensaak dat die Eerste Respondent nie ‘n ontginningsmagtiging gehad het wat verval het ooreenkomstig artikel 16 se bepalings nie.


    1. Die Derde Respondent het die Applikante se aansoek beskou as ‘n hernuwingsaansoek vir ‘n prospekteerpermit. Artikel 6(4) bepaal egter dat daar vir sò ‘n hernuwing nie later nie as een maand voor die verstryking daarvan skriftelik voor aansoek gedoen moet word. In casu is dit gemeensaak dat dít nie gebeur het nie.

Daar was dus na my mening ook nie ‘n hangende hernuwingsaansoek vir ‘n prospekteerpermit toe die artikel 10-tydelike permit uitgereik is nie.


    1. By gevolg meen ek dat alreeds op hierdie grond alleen, die artikel 10-tydelike permit nietig ab initio is.


    1. Selfs al is ek verkeerd met die voorafgaande bevinding is daar ‘n tweede, selfs meer oortuigende grond waarop na my mening die permit ongeldig is. ‘n Aansoeker om ‘n artikel 9 ontginningsmagtiging of ‘n artikel 6 prospekteerpermit moet allereers vooraf die toestemming van die Minister (Vierde Respondent in casu) ten behoewe van die Staat bekom waar die Staat die houer van die minerale regte op die grond is, soos wat hier die geval is (artikels 6(1)(b) en 6(3) asook 9(1)(b) en 9(2) van die Wet).

Sien hieraangaande:

Balmoral Investments (Edms) Bpk v Minister van Minerale en Energie en andere 1995(9) BCLR 1104(NK) te 1110F-1111I.


    1. Daar is pertinent in die Applikante se funderende stukke aangevoer dat die Eerste Respondent se artikel 6(1), 6(3) en 8(2)-toestemmings ten aansien van die eiendom alreeds op 21 Julie 2001 verval het, d.w.s. toe sy prospekteerpermit verval het.

Daar is verder ook pertinent daarin aangevoer dat die Eerste Respondent nie sulke toestemmings gehad het toe die artikel 10-permit uitgereik is nie.

Die Eerste Respondent het glad nie hierop geantwoord in sy antwoordende stukke nie. Tydens argument het mnr Wilmans toegegee dat hy nie bewus is van die bestaan van sodanige toestemmings nie. Sy betoog dat die bestaan van sodanige toestemmings noodwendig afgelei moet word uit die feit dat ‘n artikel 10-tydelike permit uitgereik is, het myns insiens geen meriete nie. Sò ‘n argument span na my mening die kar voor die perde in. Die uitreiking van ‘n artikel 10-tydelike permit moet tog voorafgegaan word deur ‘n behoorlike artikel 6-aansoek of ‘n artikel 9-aansoek wat hangende is by uitreiking van die artikel 10-permit.

Ek is dit respekvol eens met Buys R waar hy die volgende bevind in Balmoral Investments (Edms) Bpk v Minister van Mineraal- en Energiesake en andere, supra te 1111I:


Dit is dus duidelik dat toe die applikant sy aansoek om ‘n ontginningsmagtiging, kragtens artikel 9(1) van die Wet, geloods het, het hy nie die toestemming van die Staat gehad as houer van die minerale reg nie. Sy aansoek was dus, volgens my oordeel, van meet af aan noodlottig gebrekkig(my beklemtoning).


    1. Gevolglik meen ek dat die artikel 10-permit ook op hierdie basis ongeldig is.


    1. Die Applikante het verder ook die geldigheid van die artikel 10-permit aangeval op grond van die nie-nakoming van die audi alteram partem reël. Ek meen dat daar eweneens aansienlike meriete in hierdie aanval is.


12.2 Dit is gemeensaak dat die artikel 10-permit uitgereik is sonder om die Applikante as belanghebbendes aan te hoor. Die Hoogste Hof van Appél het beslis dat die audi alteram partem reël ook toepassing vind by die uitreiking van artikel 9(1)-permitte. Sien:

Director: Mineral Development, Gauteng Region and others v Save the Vaal Environment and others 1999(2) SA 709(HHA) te 718D.


    1. Die volgende dictum van Olivier AR in die voormelde beslissing, te 718 C-E is na my mening van groot belang ten aansien van hierdie aspek:


The issue of a licence in terms of s 9 enables the holder to proceed with the preparation of an environmental management programme, which, if approved, will enable him to commence mining operations. Without the s 9 licence he cannot seek such approval. The granting of the s 9 licence opens the door to the licensee and sets in motion a chain of events which can, and in the ordinary course of events might well, lead to the commencement of mining operations. It is settled law that a mere preliminary decision can have serious consequences in particular cases, inter alia where it lays '. . . the necessary foundation for a possible decision . . .' which may have grave results. In such a case the audi rule applies to the consideration of the preliminary decision (see Van Wyk NO v Van der Merwe 1957 (1) SA 181 (A) at 188B - 189A). In my view, this is such a case.”


    1. Die uitreiking van ‘n artikel 10-permit sal eweneens die houer daarvan in staat stel om te begin met myn- of prospekteerbedrywighede – inteendeel, dit het in casu so gebeur.

Die bevinding van die Hoogste Hof van Appél is dus na my mening eweneens van toepassing op die onderhawige geval.


    1. Ook op hierdie grond dus is die artikel 10-permit ongeldig.


13. Afwesigheid van òf ‘n prospekteerkontrak òf ‘n minerale huurkontrak: Gegewe my bevindinge aangaande die ongeldigheid van die artikel 10-permit, is dit nie nodig om ‘n bevinding te maak oor die bovermelde aspek waarop die Applikante ook steun nie.

Ek moet egter byvoeg dat daar prima facie aansienlike meriete in die Applikante se betoog op dié aspek is.



E. KOSTE


    1. Die noodwendige gevolg van nietigverklaring van die artikel 10-permit is dat die Eerste Respondent geen reg het om op die eiendom aanwesig te wees en om te prospekteer/myn nie. Dit is dan ook aldus toegegee deur mnr Wilmans.

Gevolglik sal ‘n uitsettingsbevel sowel as ‘n bevel wat die verwydering van enige diamante of diamantdraende gruis vanaf die grond verbied, moet volg, soos wat die Applikante aanvra.


    1. Koste volg gewoonlik die uitslag. Mnr Wilmans het egter aangevoer dat die Applikante gepenaliseer behoort te word deur ‘n kostebevel teen hulle.

Hierdie betoog is daarop gebaseer dat die Applikante na bewering eerste spoliasie gepleeg het toe die hek wat toegang tot die plaas bied, gesluit was deur die Eerste Applikant om te verhoed dat die Eerste Respondent kan prospekteer op die eiendom.

Die Applikante se saak is dat hulle nie bewus was van die bestaan van die artikel 10-tydelike permit toe die hek gesluit is nie.

Daar is niks op die stukke wat aantoon dat die Applikante wel sò bewus was nie.

Verder meen ek dat die waarskynlikhede oorweldig in die Applikante se guns is, dat hulle inderdaad nie geweet het van die bestaan van sò ‘n permit op daardie stadium nie.

Prokureurs Roodt en Nortjé (Derde Applikant) het albei afsonderlik van mekaar en by verskillende geleenthede die Eerste Respondent se verteenwoordigers in kennis gestel dat hulle toegang tot die eiendom verbied word.

Nêrens in sy stukke beweer die Eerste Respondent dat hy aan dié prokureurs of aan enige van die ander Applikante laat blyk het dat hy oor ‘n artikel 10-permit beskik wat hom magtig om die eiendom te betree en daarop te myn of te prospekteer nie.


    1. Mnr Wilmans het hom beroep op die beslissing in Abbott v Von Theleman 1997(2) SA 848(K), as steun vir sy submissie dat die Applikante, nieteenstaande hulle sukses met die aansoek, gelas moet word om die koste te betaal. Die beslissing in daardie saak was duidelik daarop gebaseer dat die suksesvolle litigant in daardie saak die reg in eie hande geneem het (te 854C van die uitspraak).

Dit is nie die geval hier nie. Die Eerste Applikant het na my mening te goeder trou opgetree in die geloof dat die Eerste Respondent geen reg het om die grond te betree en om te myn/prospekteer nie. Die Eerste Applikant was bewus dat die vorige prospekteerpermit verval het en was onbewus daarvan dat daar ‘n artikel 10-permit uitgereik was aan die Eerste Respondent.


    1. Gevolglik is daar geen rede waarom die suksesvolle party (Applikante) nie geregtig is op hul koste nie, insluitend die koste van 1 Maart 2002 op ‘n bestrede basis.



F. SLOTSOM


15. Die Applikante het, vir die redes voormeld, ‘n behoorlike saak uitgemaak vir die regshulp aangevra in paragrawe 2, 3, 4.1, 5 en 6 van die Gewysigde Kennisgewing van Mosie. Mnr Van Heerden het tereg toegegee dat dit dan nie meer nodig sal wees om ‘n tussentydse interdik hangende die beregting van die appél na die Tweede en Vierde Respondente, soos aangevra in paragraaf 7, uit te reik nie.



Ek maak die volgende bevel:


  1. Die Eerste Respondent en enige persone of instansies wat namens die Eerste Respondent hulle op die resterende gedeelte van die Plaas Lanyon Vale, No 376 in die Administratiewe Distrik van Hay in die Noordkaap Provinsie, groot 2375,3214 hektaar (“die Eiendom”) bevind, word gelas om die Eiendom te ontruim tesame met alle toerusting en masjinerie.


  1. Die Eerste Respondent, sy amptenare, werknemers of kontrakteurs word verbied om enige diamantdraende gruis of diamante vanaf die Eiendom te verwyder.


  1. Permit No. T05/2001 gedateer 17 September 2001 uitgereik deur die Derde Respondent aan die Eerste Respondent word nietig verklaar.


  1. Die Eerste Respondent word gelas om die koste van hierdie aansoek te betaal, insluitend die koste van Vrydag 1 Maart 2002 op ‘n bestrede basis.




___________

SA MAJIEDT

REGTER


NAMENS APPLIKANTE:

ADV CN VAN HEERDEN


NAMENS EERSTE RESPONDENT:

MNR JW WILMANS


PROKUREUR NAMENS APPLIKANTE:

VAN DE WALL & VENNOTE

KIMBERLEY


PROKUREUR NAMENS EERSTE RESPONDENT:

ELLIOT, MARIS, WILMANS & HAY

KIMBERLEY


DATUM VAN VERHOOR: 2002-03-08

DATUM VAN UITSPRAAK: 2002-03-15