South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
You are here: SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2002 >> [2002] ZANCHC 6 | Noteup | LawCiteS v Smith and Another (111/01) [2002] ZANCHC 6 (13 March 2002)
Download original files |
Verslagwaardig:
Ja
/
Nee
Sirkuleer
aan Regters: Ja
/
Nee
Sirkuleer
aan Landdroste: Ja
/
Nee
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Afdeling)
HERSIENING SAAKNO: 111/01
DATUM GELEWER: 2002-03-13
In die hersieningsaak:
DIE STAAT
versus
ANDRIES SMITH BESKULDIGDE 1
ISAK TALLA BESKULDIGDE 2
Coram: MAJIEDT R et WILLIAMS WnR
UITSPRAAK OP HERSIENING
MAJIEDT R:
Die twee beskuldigdes is skuldig bevind aan diefstal met inagneming van die bepalings van Wet 57 van 1959, d.w.s. veediefstal en is gevonnis tot 18 maande gevangenisstraf wat in geheel opgeskort is vir ‘n tydperk van 5 jaar op sekere voorwaardes. Een van die voorwaardes is: “Dat die beskuldigdes die klaer sal vergoed in bedrag van R1000.00 teen ‘n maandelikse paaiement van R200.00 per maand welke betaling sal geskied van 1/03/2002. Alle betalings moet gedoen word by die Klerk van die Hof, Landdroskantoor, Kimberley”.
Na ‘n eerste navraag het dit vir my duidelik geword dat die landdros bedoel het dat die vergoedingsbevel gemaak word ingevolge die bepalings van art 297(1)(a)(i)(aa) en art 297(1)(b) van die Strafproseswet. Ek het toe navraag gedoen by die landdros om dié voorwaarde op te klaar, aangesien ek van mening was dat dit vaag en verwarrend is deurdat dit nie duidelik was of elke beskuldigde maandeliks R200 moes betaal en of hulle twee gesamentlik R200 per maand moes betaal nie.
Die landdros het nou geantwoord dat dit deurgaans sy bedoeling was dat elke Beskuldigde R100 bydra tot die afbetaling en dat hy dit so verduidelik het. Hy versoek egter dat ek die vonnis moet tersyde stel en dit vervang met ‘n vonnis waaruit dié bepaalde voorwaarde meer duidelik en ondubbelsinnig gestel word. Ek meen dit is sinvol en vanpas dat die vonnis, veral dan wat betref die opskortingsvoorwaarde só aangepas word dat daar geen onsekerheid oor die bedoeling en die effek daarvan is nie.
By gevolg word die beskuldigdes se skuldigbevindings bekragtig maar die vonnisse wat hulle opgelê is, word ter syde gestel en vervang met die volgende:
Die beskuldigdes word elk gevonnis tot 18 (agtien) maande gevangenisstraf wat in geheel opgeskort word vir ‘n tydperk van 5 (vyf) jaar op die volgende voorwaardes:
Dat die beskuldigdes nie weer skuldig bevind word aan diefstal met inagneming van die bepalings van Wet 57 van 1959 gepleeg gedurende die tydperk van opskorting nie;
Dat die beskuldigdes die klaer vergoed in die bedrag van R1000.00 (een duisend Rand). Die beskuldigdes word gelas om elkeen R100.00 (eenhonderd Rand) per maand vanaf 1 Maart 2002 te betaal totdat die bedrag van R1000.00 ten volle vereffen is. Dié betalings moet gedoen word by die Klerk van die Landdroskantoor te Kimberley.
___________
SA MAJIEDT
REGTER
Ek stem saam:
____________
CC WILLIAMS
WAARNEMENDE REGTER