South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
You are here: SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2002 >> [2002] ZANCHC 4 | Noteup | LawCiteS v Smith and Another (110/02) [2002] ZANCHC 4 (6 March 2002)
Download original files |
Verslagwaardig: Ja / Nee
Sirkuleer aan Regters: Ja / Nee
Sirkuleer aan Landdroste: Ja / Nee
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Afdeling)
Hersieningsaakno: 110/02
Datum gelewer: 6 Maart 2002
In die hersieningsaak:
DIE STAAT
versus
ANDRIES SMITH BESKULDIGDE 1
ISAK TALLA BESKULDIGDE 2
Coram: Van der Walt R et Majiedt R
UITSPRAAK OP HERSIENING
MAJIEDT R:
Die beskuldigdes was onderskeidelik beskuldigdes 2 en 3 tydens die verhoor, maar gerieflikheidshalwe verwys ek hierin na hulle as beskuldigde 1 en 2 onderskeidelik.
Hulle het tereggestaan op ‘n aanklag van diefstal met inagneming van die bepalings van Wet no. 57 van 1959, die Wet op Veediefstal. Albei van hulle het skuldig gepleit en na ondervraging ingevolge art 112(1)(b) van die Strafproseswet is hulle skuldig bevind soos aangekla.
Die skuldigbevindings is regtens in orde.
Die landdros het elkeen van hulle gevonnis tot 18 maande gevangenisstraf wat in geheel opgeskort is op gepaste voorwaardes. Een van die voorwaardes was dat die beskuldigdes die klaer moes vergoed in die bedrag van R1000.00 teen ‘n maandelikse paaiement van R200.00 per maand, welke betaling moes geskied vanaf 1 Maart 2002 by die klerk van die landdroskantoor, Kimberley.
Ek het die volgende navraag gerig aan die landdros:
“1. Daar is geen aanduiding ex facie die oorkonde van die verrigtinge dat die klaer in die Hof aanwesig was nie. Hoe kon die landdros ‘n vergoedingsbevel maak, gegewe die bepalings vervat in artikel 15 van Wet 57 van 1959, saamgelees met artikel 300(1) van Wet 51 van 1977?
2. Bo en behalwe die voormelde, is die vergoedingsbevel in elk geval vaag en verwarrend – moet elke beskuldigde maandeliks R200.00 betaal of moet hulle gesamentlik R200.00 per maand betaal?”
Die landdros gee toe dat hy nie mero motu ‘n vergoedingsbevel kon maak nie. Hy versoek gevolglik dat die skuldigbevinding bekragtig moet word en dat die deel van die vonnis wat handel met hierdie vergoedingsbevel geskrap moet word.
Die bepalings van art 300(1) van die Strafproseswet is baie duidelik en daar is velerlei beslissings wat bevestig dat ‘n vergoedingsbevel slegs gemaak kan word deur ‘n hof op aansoek van ‘n klaer of by wyse van ‘n aansoek gebring deur die staatsaanklaer op versoek van die klaer.
By gevolg sou ek die skuldigbevinding bekragtig, die vonnis ter syde stel en vervang met die volgende:
Die beskuldigdes word elkeen gevonnis tot 18 maande gevangenisstraf wat in geheel opgeskort word vir ‘n tydperk van 5 jaar op voorwaarde dat die beskuldigdes nie weer skuldig bevind word aan diefstal met inagneming van die bepalings van Wet 57 van 1959, gepleeg gedurende die tydperk van opskorting nie.
___________
SA MAJIEDT
REGTER
Ek stem saam en dit word aldus gelas:
_________________
JC VAN DER WALT
REGTER