South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
You are here: SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2002 >> [2002] ZANCHC 37 | Noteup | LawCiteS v Pretorius (CA & R 109/02) [2002] ZANCHC 37 (9 December 2002)
Download original files |
Verslagwaardig: Ja / Nee
Sirkuleer aan Regters: Ja / Nee
Sirkuleer aan Landdroste: Ja / Nee
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Afdeling)
Saakno: CA & R 109/02
Datum verhoor: 2002-12-09
Datum gelewer: 2002-12-09
In die appél van:
ABRAHAM PETER PRETORIUS APPELLANT
versus
DIE STAAT RESPONDENT
Coram: BUYS R et MAJIEDT R
UITSPRAAK OP APPéL
MAJIEDT R:
Die appellant is in die landdroshof skuldig bevind aan ‘n oortreding van artikel 122(1)(a) van Wet 29/89. Dit was hom ten laste gelê dat hy op 23 Junie 2000 ‘n motorvoertuig bestuur het terwyl hy onder die invloed van drank was. Hy is gevonnis tot ‘n boete van R6000.00 of een jaar gevangenisstraf en ‘n verdere twee jaar gevangenisstraf wat in die geheel voorwaardelik opgeskort is vir vyf jaar. Sy bestuurderslisensie is ook vir ‘n tydperk van nege maande opgeskort.
Die appellant kom in hoër beroep teen sy skuldigbevinding. Ongeveer 6.30 op 23 Junie 2000 het ‘n kop aan kop botsing plaasgevind in Stasiestraat, Hartswater tussen die appellant se bakkie en ‘n polisiebakkie. Voor die botsing het appellant se bakkie heen en weer oor die pad geslinger. Die botsing het op die appellant se verkeerde kant van die pad plaasgevind. Dit is nie in geskil dat die appellant dronk was nie. Dit was ook dr Kuhn se mening wat die appellant na die botsing ondersoek het.
Die alkoholkonsentrasie in ‘n monster van die appellant se bloed was .25 gram per 100 ml bloed. Die bloedmonster is om 19.25 en ongeveer ‘n uur na die botsing geneem. Die enigste geskilpunt is of die appellant sy bakkie bestuur het ten tye van die botsing. Daar was drie polisielede in die polisiebakkie. Sersant Kobokae het bestuur. Hy het getuig dat daar slegs een persoon in die appellant se bakkie was en dat dit die appellant was. Die appellant se bakkie se ligte was nie aan nie. Die ander twee polisiemanne het getuig dat die appellant se bakkie se ligte wel aan was en dat hulle nie gesien het wie bestuur het of hoeveel persone in die bakkie was nie. Hulle is beseer in die botsing en het na +- 5 min eers sodanig herstel dat hulle enige waarnemings kon doen. Toe het hulle gesien dat die appellant aan die passasierskant van sy bakkie op die teer gelê het. Hy was beseer.
Die staat het ook die getuienis van ‘n mnr. Aggenbach geroep wat getuig het dat hy die dag by die appellant gekuier het by laasgenoemde se werk. Hulle het voor middagete en gedurende middagete bier gedrink. Hy het met die beskuldigde se bakkie gery. Ongeveer 4.30 nm. is hy met sy eie kar en die beskuldigde met sy bakkie na die polisiekantien waar hulle weer gedrink het. Tussen 5.30 en 6.00 nm. is hy by die kantien weg. Hy het die appellant by die kantien agtergelaat. Die appellant het getuig dat hy niks kan onthou vanaf die tyd dat hulle by die kantien aangekom het totdat hy die volgende dag in Kimberley in die hospitaal wakker geword het nie. Sy bakkie se voorruit was gekraak aan die passasierskant. Hy het beserings aan sy knie en kop gehad. Dr Kuhn is deur die appellant geroep. Sy getuienis was dat hy na die ongelukstoneel uitgeroep was. Die beskuldigde het ‘n sny op sy linker wang gehad en by sy regter oogkas. Hy het ook ‘n nekbesering gehad. Die appellant se geheueverlies was versoenbaar met harsingskudding wat hy met die stamp van sy kop kon opdoen.
Die landdros het inspekteur Liebenberg geroep. Hy het saam met die appellant en ‘n vreemde persoon wat Aggenbach moes gewees het, gedrink. Hulle twee is saam weg van die kantien af. Die appellant se gedrag was normaal in die kantien. Hy het normaal gesels en geloop. Die appellant het onder meer gesê dat hy nog moes gaan melk oplaai vir sy winkel. Daar is geen getuienis gelei waar Stasiestraat was nie en of dit die pad was wat die appellant sou ry om die melk te gaan oplaai nie.
Die enigste persoon wat moontlik die appellant se bakkie kon bestuur, was Aggenbach. Hy het getuig dat hy in sy eie voertuig van die kantien af weg is. Die appellant het getuig dat dit moontlik was dat hy een van sy werkers kon gevra het. Hierdie moontlikheid kan buite rekening gelaat word. Die bakkie is deur iemand bestuur wat sterk onder die invloed van drank was en die appellant het in elk geval geen getuienis aangebied van enige van sy werkers wat moontlik die bakkie kon bestuur het nie. Die appellant het ook in gebreke gebly om getuienis aan te bied dat hy behoorlik ondersoek ingestel het of iemand hom moontlik in sy bakkie kon vervoer het.
Kobokae se getuienis is nie besonder indrukwekkend dat hy die appellant herken het toe die bakkie hom sonder ligte genader het nie. Sy getuienis bots in elk geval met dié van sy kollegas dat die appellant se bakkie se ligte gebrand het. Kobokae se getuienis is egter dat daar net een persoon in die bakkie was. Al wat moontlik in die guns van die appellant tel is dat die voorruit aan die passasierskant gekraak was en die appellant gesigsbeserings gehad het. Ek dink nie dat die feit dat die appellant aan die passasierskant van die bakkie uitgehaal is van belang is nie. Kobokae het getuig dat die deur aan die bestuurder se kant nie wou oopmaak nie. Die verdediging het geen getuienis aangebied om dit te weerspreek nie.
Al wat dus oorbly is die vraag of dit moontlik was vir ‘n erge dronk appellant wat dwarsoor die teerpad geslinger het om tydens ‘n kop aan kop botsing die voorruit aan die passasierskant te stamp. Uit die beskuldigde se bloedalkoholvlak kan met ‘n redelike mate van sekerheid afgelei word dat hy sterk onder die invloed van drank was. Verder getuig die foto’s van die twee voertuie na die botsing wat as bewysstukke by die verhoor ingedien is, van aansienlike skade aan beide voertuie. Kobokae het getuig dat die polisievoertuig sodanig beskadig is dat dit nie meer gebruik word nie. Al drie polisiebeamptes en die appellant het beserings opgedoen in die botsing – die appellant s’n aansienlik ernstiger as dié van die drie polisiemanne. Daar kan derhalwe afgelei word dat hierdie twee voertuie met ‘n baie harde slag gebots het. Inaggenome die appellant se erge graad van dronkenskap is dit na my mening baie waarskynlik dat hy tydens die botsing na links in sy voertuig geslinger is en toe sy kop links teen die windskerm gekap het.
Ek het vroeër daarna verwys dat aldrie die polisiebeamptes en die appellant beseer is tydens die botsing. Ek vind dit absoluut onwaarskynlik dat ‘n ander persoon wat die appellant se bakkie bestuur het, heeltemal ongeskonde daarvan sou afkom en dan nog op die koop toe daarin sou slaag om ongesiens van die toneel af te verdwyn.
Daar word van die Staat verwag om bewys bo redelike twyfel te lewer in ‘n strafsaak – nie om elke greintjie van twyfel uit die weg te ruim nie.
Vergelyk S v Ntsele 1998(2) SASV 178 (HHA) te 182 b.
Hierdie is na my mening ‘n geval waar die twyfel, as dit bestaan (en by my is daar geen twyfel hoegenaamd nie), nie as redelik aangemerk kan word nie.
Ek is tevrede dat die Staat behoorlik bewys het dat die appellant wel die bestuurder van sy motorvoertuig was en sou gevolglik die appél van die hand wys.
___________
SA MAJIEDT
REGTER
Ek stem saam. Die appél word afgewys en die beskuldigde se skuldigbevinding en vonnis word bekragtig.
_____________
AJ DU P BUYS
REGTER
NAMENS APPELLANT: ADV A BESTER
NAMENS RESPONDENT: ADV TT BIRCH
DATUM VAN VERHOOR: 2002-12-09
DATUM VAN UITSPRAAK: 2002-12-09