South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
You are here: SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2002 >> [2002] ZANCHC 36 | Noteup | LawCiteS v Koopman and Others (KS 20/2002) [2002] ZANCHC 36 (5 December 2002)
Download original files |
Verslagwaardig: Ja / Nee
Sirkuleer aan Regters: Ja / Nee
Sirkuleer aan Landdroste: Ja / Nee
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Afdeling)
Saakno: KS 20/2002
Datum Gelewer: 2002-12-05
In die saak van:
DIE STAAT
versus
MARLON KOOPMAN BESKULDIGDE 1
LEON DANZIE BESKULDIGDE 2
GERT EDMUND BESKULDIGDE 3
Coram: MAJIEDT R
UITSPRAAK
MAJIEDT R:
Gedurende die vroeë oggendure van 30 September 2001 het ‘n onderonsie ontstaan tussen die oorledene, Clinton Clive Barends, en beskuldigde 2 hierin by ‘n drinkplek in Colville hier plaaslik te Kimberley. Die onderonsie het aanvanklik as ‘n blote woordewisseling sy beslag gevind, maar het gou daarna ontaard in ‘n bakleiery en het dié twee mekaar met ‘n mes en ‘n skroewedraaier onderskeidelik toegetakel. Die oorledene is later daardie dag deur die polisie in ‘n oop veld naby die mynhope langsaan Colville leweloos aangetref. Uit ‘n geregtelike nadoodse ondersoek later het dit geblyk dat hy nie minder nie as 33 steekwonde opgedoen het.
Voortspruitend uit die voorafgaande staan die 3 beskuldigdes nou tereg op ‘n aanklag van moord en beweer die staat dat hulle almal deel gehad het in die voormelde aanval op die oorledene. Van staatsweë word beweer dat beskuldigdes 1 en 2 die oorledene met messe gesteek het en dat beskuldigde 3 hom met ‘n bierbottel oor die kop geslaan het.
Al 3 beskuldigdes het onskuldig gepleit. Namens beskuldigde 1 het Mnr Muhlohlonye aangedui dat hy sy swygreg uitoefen. Mnr Schreuder, namens beskuldigde 2 het in die pleitverduideliking aangedui dat dié betrokke beskuldigde erken dat hy die oorledene 3 keer gesteek het met ‘n okapi mes uit selfverdediging. Die feit van die 3 steekwonde is as ‘n formele erkenning aangeteken ingevolge art 220 van Wet 51/77 se bepalings. Ek moet nou alreeds vermeld dat, later gedurende die verrigtinge, Mnr Schreuder aangedui het dat die pleitverduideliking verkeerd is in die sin dat beskuldigde 2 inderdaad die oorledene gesteek het, nie met ‘n okapi-mes nie, maar met ‘n lang mes. Namens beskuldigde 3 is ‘n skriftelike pleitverduideliking ingehandig te wete bewysstuk A voor die Hof. Daarin verklaar beskuldigde 3 dat hy gedurende die vroeë oggendure van 30 September 2001 by ‘n sekere drinkplek was en dat hy later verneem het dat sy vriend, beskuldigde 2, besig was om met ‘n ander persoon buite te baklei. Hy en beskuldigde 1 is toe na buite waar hulle gesien het dat beskuldigde 2 en die oorledene baklei het. Hy wat beskuldigde 3 was het ‘n halfgevulde bierbottel in sy hand gehad. Die oorledene het later verby hom gehardloop, terug in die rigting van die taverne met beskuldigdes 1 en 2 agerna en hy het hulle daarna nie weer gesien nie. Hy is toe daarna huistoe. Beskuldigde 3 ontken gevolglik enige deelname aan die ten laste gelegde misdryf.
Die volgende aspekte is gemene saak hierin:
Dat die oorledene in lewe Clinton Clive Barends was en dat sy dood veroorsaak is deur veelvuldige steekwonde soos voorgehou deur Dr Mafungo in sy post mortem verslag en ook dat die liggaam vandat dit verwyder is vanaf die toneel waar die polisie dit aangetref het op 30 September 2001 totdat die lyskouing uitgevoer is, geen verdere beserings opgedoen het nie.
Dat die oorledene tydens die voorval van die bakleiery met beskuldigde 2 in besit was van ‘n skroewedraaier wat hy gebruik het om beskuldigde 2 mee te steek.
Dat beskuldigde 2 twee steekwonde onder sy linkeroog en aan die kant van sy kop opgedoen het, welke steekwonde toegedien is deur die oorledene soos voormeld.
Dat beskuldigde 2 die oorledene gesteek het met ‘n lang swarthef mes wat bewysstuk 5 voor die Hof is.
Dat beskuldigde 1 tydens die voorval in besit was van ‘n okapi-mes.
Dat beskuldigde 3 wel tydens die voorval op die toneel was en ‘n bierbottel in sy hand gehad het.
Dat beskuldigde 2 se klere vol bloed was, welke bloed afkomstig was vanaf die oorledene – hierdie feit is bevestig deur ‘n forensiese verslag wat as ‘n bewysstuk voor die Hof by ooreenkoms ingehandig is.
Dat ‘n mesring op die oorledene gevind is deur die polisie toe hulle die oorledene se lyk aangetref het soos ek alreeds beskryf het hierin.
Wanneer die getuienis ontleed word en inaggenome die voormelde aspekte wat gemene saak is, dan kan die geskilpunte hierin as volg geïdentifiseer word:
Of beskuldigde 2 die oorledene meer as 3 steekwonde toegedien het.
Of beskuldigde 3 die oorledene met die bierbottel oor sy kop geslaan het.
Het beskuldigde 1 wel enigsins die oorledene aangerand deur hom te steek met die okapi-mes waarvan ek melding gemaak het?
Of die okapi-mes voor die Hof, bewysstuk 6 wel die eiendom van beskuldigde 1 is wat in sy besit was tydens die voorval.
Of die mesring wat op die oorledene gevind was, wel pas op bewysstuk 6, die okapi-mes.
‘n Aantal getuies het namens die staat getuig, verreweg die belangrikste van hulle is Cassiem Fredericks. Hierdie getuie is ‘n enkelgetuie op die gebeure toe die oorledene aangeval was. ‘n Stel foto’s wat as bewysstuk voor die Hof dien dui aan dat die drinkplek waar die moeilikheid begin het, geleë is in Agnesstraat. Reg langsaan die taverne is ‘n groot maslig wat daardie straat aansienlik verlig. Op die hoek van Agnesstraat en St. Paulsweg (die hoofweg in Colville), is ‘n straatlig wat die toneel aldaar verder sou belig het. Volgens Fredericks was hy en die oorledene die aand in ‘n drinkplek genaamd Jesses Tavern in Agnesstraat. Die drie beskuldigdes was ook daar en daar het later ‘n stryery ontstaan tussen beskuldigde 2 en die oorledene. Dié twee is op ‘n stadium by die taverne uit. Voordat hulle uit is, kon Fredericks opmerk dat die oorledene ‘n skroewedraaier in sy besit gehad het, terwyl beskuldigde 2 ‘n lang voorwerp onder sy hemp gehad het. Die stryery tussen hierdie 2 het klaarblyklik gegaan oor ‘n meisie. Die oorledene het die drinkplek verlaat omdat hy en Fredericks mandrax en dagga wou rook en die oorledene die dagga by sy huis sou gaan haal het. Nadat die oorledene uit is het beskuldigde 2 ook agterna gegaan. Hy wat Fredericks is is daarna uit en het gesien dat die oorledene en beskuldigde 2 baklei by die hoek van Agnesstraat en St Paulsweg. Die punte waar hulle baklei het is deur hom uitgewys aan die polisie en word weergegee op die foto’s. Volgens hom het die bakleiery plaasgevind aan die linkerkant van daardie straathoek, soos mens na die foto’s kyk. Hy kon sien hoe beskuldigde 2 die oorledene steek en op ‘n stadium het beskuldigdes 1 en 3 verby hom gehardloop na die bakleiery. Beskuldigde 1 het ‘n okapi-mes uitgehaal soos hy aangehardloop gekom het en beskuldigde 3 het ‘n bierbottel in sy hand gehad. Beskuldigde 1 het die oorledene in die rug gesteek terwyl beskuldigde 2 die oorledene wegtrek van die draad. Beskuldigde 3 het by ‘n punt verder aan die oorledene met ‘n bierbottel geslaan, so hard dat die oorledene gesteier het. Die oorledene het verder gehardloop tot in St Paulsweg by ‘n plek waar ‘n doringboom voorheen gestaan het. Beskuldige 1 het weer die oorledene in die rug gesteek. Die oorledene het daar geval, opgespring en weer teruggehardloop in die rigting van Agnesstraat. Hy wat Fredericks is het op ‘n stadium vir die oorledene probeer beskerm en gesê die oorledene moet terughardloop na die taverne se kant toe om hulp te kry. Hy het ook met beskuldigde 2 gepraat en gesê dat hulle moet ophou met die bakleiery. Die beskuldigde het egter 2 keer na hom gemik met sy mes. Daar is baie goeie beligting en hy kon alles duidelik sien. Hy het die volgende oggend verneem van die oorledene se dood.
In kruisondervraging het dit geblyk dat hierdie getuie, Fredericks, vroeër die dag, ongeveer tussen 6 en 7 uur die namiddag dagga en mandrax gerook het. Volgens hom het dit hom egter nie affekteer nie. Dit blyk ook dat hierdie getuie middelmatig dronk was, volgens sy eie beskrywing, aangesien hy by die taverne met vriende bier gedrink het. Volgens Fredericks was hy, nieteenstaande die feit dat hy vroeër dagga gerook en die aand bier gedrink het, nie sodanig aangetas dat hy nie kon weet wat om hom aangaan nie. Sy getuieverklaring aan die polisie is ingehandig en daar is enkele aspekte aan hom uitgewys waar hy sou afgewyk het van sy viva voce getuienis. Ek sal later weer hierna terugkeer wanneer ek die getuienis evalueer. Al drie die regsverteenwoordigers het hulle kliënte se saak aan die getuie gestel, maar die getuie het volhard in sy getuienis dat hierdie 3 beskuldigdes deel gehad het in die aanval op die oorledene soos ek alreeds voorheen hierin beskryf het.
Inspekteur Dennis Anthony van die SAPD se honde-eenheid het getuig dat hy op Sondag 30 September 2001 afgekom het op die toneel naby die mynhope langsaan St Johnstraat in Colville waar die oorledene aangetref is. Die oorledene het ‘n T-hemp aangehad wat vol bloed was. Dit was duidelik dat hy ‘n aantal meswonde opgedoen het. Hy en insp. Jansen het toe verneem van ‘n vroumens dat daar bloed by die hoek van Agnesstraat en St Paulsweg is en dat ene Cassiem Fredericks dalk van hulp kan wees in hulle ondersoek. Hulle het inderdaad ‘n groot hoeveelheid bloed by hierdie straathoek opgemerk. Hierdie bloedspatsels het vanaf die straathoek gelei tot by St Johnsstraat in die voetpaadjie in die rigting waar die oorledene se lyk gelê het. Hulle het Cassiem Fredericks aangetref en hom gespreek waar hy onder ‘n boom gesit het. Hy het vir hulle meegedeel dat 2 persone die oorledene gesteek het en het hulle verwys na ene Gert. Dit is gemene saak dat hierdie Gert beskuldigde 3 is. By die huis in Ceceliastraat in Colville waarna Fredericks hulle verwys het, het hulle ‘n mnr en mev Danzie gespreek. Verdere ondersoeke het hulle gelei tot waar hulle vir beskuldigde 3 en 2 ander persone aangetref het (dit blyk te wees beskuldigdes 1 en 2 wat in sy geselskap was). Hulle het later by Lambdastraat in Colville ‘n huis deursoek op grond van inligting wat hulle gekry het. Tydens hulle deursoeking is hulle meegedeel dat beskuldigdes 1 en 2 vroeër daar was en het hulle met die huiseienaar se toestemming die huis deursoek waar hulle gevind het dat ‘n rooi sokkertrui en ‘n denim hoed op die wasgoedlyn hang. Dié items was nat en dit het gelyk of daar bloed op die denim hoed was. Hierdie sokkertrui en denim hoed is ingehandig as bewysstuk 1 en 2 by die Hof. Hulle het ene Miriam gespreek. Sy het vir hulle uitgewys waar die persone wat die verdagtes was, geslaap het. Onder daardie bed het hulle ‘n blou oorpakbroek en wit All Star tekkies aangetref met bloed op en het beslag daarop gelê. Die broek is bewysstuk 3 voor die Hof en die tekkies is bewysstuk 4. Hulle het toe verneem van dié persoon, Miriam, dat beskuldigdes 1 en 2 so pas met beskuldigde 3 daar weg is en die polisie het toe besef dat dit die 3 persone is wat hulle vroeër in die straat aangetref het. Hulle het weer vertrek en beskuldigdes 1 en 2 gearresteer. Die bewysstukke is aan inspekteur Dibebe oorhandig. Na die arrestasie van dié 2 beskuldigdes het die 2 polisiebeamptes teruggekeer na Lambdastraat waar hulle beslaggelê het op ‘n bruin okapi-mes, ‘n geel-en-swart skroewedraaier sowel as ‘n swarthef tafelmes. Hierdie voorwerpe is as bewysstuk 5, 6 en 7 voor die hof ingehandig. Op die okapi-mes het dit gelyk asof daar bloed was. Die wapens was in ‘n plastieksak vervat en het hulle dit verder aan insp Dibebe oorhandig. Beskuldigde 2 het tydens arrestasie ‘n oop wond op sy regter voorkop gehad. Daar was ‘n wit verband op.
William Danzie het getuig dat beskuldigde 2 sy neef is, terwyl beskuldigde 3 sy oom is. Beskuldigdes 1 en 2 het gedurende die vroeë oggendure van 30 September 2001 by William Danzie se huis opgedaag en hom wakker geklop. Beskuldigde 2 het die blou broek en rooi sokkerhemp, die tekkies en die denim hoed aangehad wat voor die Hof is. Beskuldigde 2 het in sy besit gehad ‘n swart mes, terwyl beskuldigde 1 ‘n skroewedraaier en ‘n okapi-mes in sy besit gehad het. Mnr Danzie het hierdie items geïdentifiseer as die bewysstukke voor die Hof waarna ek alreeds verwys het. Al drie die voorwerpe was vol bloed. Dit het vir hom voorgekom asof dié 2 beskuldigdes besope was en dat hulle baklei het. Beskuldigde 2 het beserings op sy kop en sy wang gehad en hy wat Danzie is het die wonde toe versorg. Hy het vir hulle gevra wat gebeur het en beskuldigde 2 het aan hom gesê dat hulle baklei het en dat hulle die persoon gejaag het tot in die veld – toe het hy wat beskuldigde 2 is geloop en vir beskuldigde 1 daar agtergelos. Beskuldigde 2 het verder aan hom gesê dat die bakleiery begin het by Jesse’s tavern en dat beskuldigde 3 ook teenwoordig was. Hy en beskuldigde 1 en die oorledene gejaag en hy wat beskuldigde 2 is het ook gesê dat hulle ook die oorledene met ‘n bierbottel gegooi het gedurende hierdie jaagtog. Later die oggend toe hulle opgestaan het, het beskuldigde 1 aan hom die wapens oorhandig en gesê dat hy die messe moet vernietig. Hy het die messe daar bewaar. Die polisie het later daar opgedaag en is die messe en skroewedraaier aan hulle oorhandig.
William Danzie se meisie, Allison Miriam Cherry het ook getuig en sy bevestig in breë trekke William Danzie se getuienis. Sy het eers later die Sondagoggend die wapens gesien op die yskas in ‘n geel plastieksak. Beskuldigde 2 het vir haar gevra om dié messe en skroewedraaier af te was, wat sy dan ook gedoen het. Op versoek van beskuldigde 1 het sy ‘n rooi T-hemp en ‘n denim hoed uitgewas. Sy het die kledingstukke uitgeken as die eiendom van beskuldigdes 1 en 2, d.w.s. die kledingstukke wat as bewysstukke voor die hof is.
Die staat het vervolgens die getuienis gelei van Kapt Daniël Blömerus. Hy is verbonde aan die polisie se ballistieke eenheid en is ook ‘n forensiese analis. Hy is gestasioneer te Macassar in Kaapstad. Sy opleiding en ervaring sluit in die ontleding en analisering van ammunisie en vuurwapens maar ook relevant tot hierdie saak die identifisering van gereedskapsmerke en die passing van voorwerpe en die fotografering daarvan. Op 13 September 2002 het hy in ‘n verseëlde koevert gemerk no. 1057 en met MAS nr 1074/09/01 asook ‘n KPRS nr 363/09/01 ‘n okapi knipmes sowel as ‘n stukkie metaalring ontvang van kapt. Claassen. Die betrokke okapi-mes en mesring wat bewysstukke voor die Hof is is aan hom getoon en hy het bevestig dat dit dié items is wat aan hom oorhandig is. Tydens sy ondersoek het hy die mesring en die okapi-knipmes gepas op mekaar en die twee het presies gepas. Hy het daarna die bewysstukke opties ondersoek en gemerk dat dit dieselfde kleur, vorm en tekstuur het sowel as ‘n unieke breekpatroon op beide voorwerpe. Hy het dié breekpatrone m.b.v. ‘n gietafdruk onder ‘n vergelykingsmikroskoop bestudeer en gemerk dat beide voorwerpe ooreenstem, d.w.s. dat dit presies op mekaar pas. Hy het ‘n hofkaart voorberei wat as bewysstuk voor die Hof ingedien is en uitgewys waar die ooreenstemmende kenmerke is. Hy het toe tot die slotsom gekom dat dié mesring wat gebreek is, wel afkomstig is van die betrokke okapi knipmes. Sy deskundigheid is intens aangeval deur Mnr Muhlohlonye in kruisondervraging en is hy onder andere gekruisondervra oor die feit dat hy nie ‘n metallurg van beroep is nie en geen deskundigheid ten aansien van fraktografie het nie.
Dr Mafungo se getuienis is daarna aangehoor en het hy getuig oor die veelvuldigde steekwonde wat die oorledene opgedoen het wat tot sy dood gelei het. Die oorledene het onder andere 5 steekwonde opgedoen wat sy longe gepenetreer het, sowel as 3 steekwonde wat sy hart gepenetreer het. Volgens Dr Mafungo sou al 5 hierdie wonde fatale gevolge gehad het en sou die oorledene met ‘n kombinasie daarvan, sowel as die ander steekwonde, nie langer as 5 minute oorleef het sonder enige mediese hulp nie. Die oorledene het ook ‘n hou op die kop gehad wat die dokter as stompgeweld beskryf het. Op die rug is daar 3 steekwonde wat versoenbaar is met die skroewedraaier voor die Hof, een daarvan is twyfelagtig ten aansien van welke voorwerp dit mee toegedien is, terwyl ‘n ander een deur ‘n mes veroorsaak was. Volgens Dr Mafungo is die steekwonde in die bors versoenbaar met enige een van die 2 messe voor die Hof, d.w.s. die lang swarthef mes en die okapi-mes. Die wond langs die kop wat toegeskryf kan word aan stompgeweld waarna ek verwys het, is eers later op die post mortem verslag per hand ingeskryf en wel op die 27ste Mei 2002, die datum toe hierdie saak uitgestel is aanvanklik.
Beskuldigdes 1 en 2 het getuig en namens beskuldigde 3 het ene André Jood getuig. Beskuldigdes 1 en 2 het grootliks hulle verwere soos aanvanklik in die pleitverduidelikings voorgehou of onder kruisondervraging uitgekristalliseer, bevestig. André Jood het getuig oor ‘n bakleiery tussen beskuldigde 2 en ‘n ander persoon wat hy nie geken het nie, maar het ontken dat beskuldigde 3 op enige stadium op die toneel aanwesig was.
Namens die staat het Mnr Roach betoog dat hier ‘n gemeenskaplike oogmerk was tussen die 3 beskuldigdes om die oorledene te dood. Dit is dienstig om ter aanvang met hierdie submissie te handel. Ek meen nie dat daar kan sprake wees van gemeenskaplike oogmerk in die omstandighede van hierdie saak nie. Daar was klaarblyklik aanvanklik ‘n geveg tussen beskuldigde 2 en die oorledene welke gemene saak is. Dit moet bloot beslis word wat die aandadigheid van die ander 2 beskuldigdes op hulle eie handelinge is. Daar was nêrens direkte getuienis van ‘n gemeenskaplike oogmerk nie en kan so ‘n oogmerk in elk geval nie afgelei word op die aangebode getuienis voor my nie. Ek bevind derhalwe pertinent dat hier nie sprake is van ‘n gemeenskaplike oogmerk nie. Elk van die beskuldigdes se aandadigheid moet dus op sy eie handeling, wederregtelikheid en skuld beoordeel word.
Ek wend my nou na die evaluering van die getuienis voor my. Daar is by my geen rede om die getuienis van William Danzie, Allison Cherry, die polisie getuies en Dr Mafungo nie te aanvaar nie. Al hierdie getuies was goeie getuies en het hulself nêrens weerspreek nie. Daar is in elk geval nie voor my betoog deur enige van die beskuldigdes se regsverteenwoordigers dat ek nie hierdie getuienis behoort te aanvaar nie.
Die getuienis van kapt Blömerus staan op ‘n ander basis. Mnr Muhlohlonye het aangevoer dat hierdie getuie nie ‘n deskundige op sy gebied is nie. Ek meen die kern probleem in Mnr Muhlohlonye se argument is dat hy heeltemal misverstaan waar die deskundigheid van hierdie getuie in hierdie onderhawige saak lê. Die ballistieke deskundige, soos wat kapt Blömerus ongetwyfeld is, doen ondermeer as deel van sy deskundigheid ballistieke vergelykings tussen afgevuurde patroondoppies en vuurwapens om te bepaal of ‘n doppie afgevuur is deur daardie betrokke vuurwapen al dan nie. Hy doen so ‘n vergelyking deur die 2 items mikroskopies te analiseer en vir bepaalde ooreenstemmende kenmerke op die 2 items te kyk en dan tot ‘n deskundige opinie te kom ten aansien van die feit of die doppie afkomstig is vanuit daardie vuurwapen al dan nie. Dit is presies wat gebeur het in hierdie onderhawige saak. Die getuie het fisies die mesring en okapi-mes ontleed en gekyk na ooreenstemmende kenmerke wat hy wel gevind het. Daarna het hy ‘n fisiese passing gedoen en gevind dat dit wel pas. Laastens, en die belangrikste, het hy onder ‘n vergelykingsmikroskoop die 2 breekpatrone se gietafdrukke bestudeer en tot die slotsom gekom dat dit ooreenstem. Die wetenskap van metallurgie en meer bepaald fraktografie kom glad nie ter sprake hier nie. Metallurgie is die wetenskap bestudering van metale. Fraktografie is die bestudering van die oppervlaktes van gebreekte metale om te bepaal wat aanleiding gegee het tot sodanige breuk. Dit is juis daar waar Mnr Muhlohlonye die pot misgesit het met sy betoog. Hy het aan my ‘n artikel opgehandig aangaande fraktografie wat hy van die internet bekom het. Daardie artikel bevestig juis dat fraktografie glad nie ter sprake is in die onderhawige geval nie. Dit gaan hier nie oor die bestudering van die breekoppervlakte om te bepaal waarom die metaal ingegee het nie, maar eerder die vergelyking van 2 breekoppervlaktes om te bepaal of dit opmekaar pas. Ek is derhalwe heeltemal tevrede dat kapt Blömerus ‘n deskundige op sy gebied is en dat sy getuienis onvoorwaardelik en sonder voorbehoud aanvaar kan word. Ek bevind gevolglik dat die mesring voor die Hof wel afkomstig is en pas op die okapi-mes wat ook ‘n bewysstuk voor die Hof is. Mnr Muhlohlonye het uitgewys dat, toe ek die staat se aansoek toegestaan het om sy saak te heropen, die dokument wat ingehandig is as ‘n bewysstuk, slegs ‘n afskrif is. Ek het in my diskresie hierdie dokument toegelaat kragtens die bepalings vervat in art. 222 van die Strafproseswet saamgelees met art 34(2) van die Wet op Bewyslees in Siviele Sake, 25 van 1965.
Wanneer dit kom by die getuie Cassiem Fredericks is ek deeglik bewus daarvan dat hy ‘n enkelgetuie is. Die geykte versigtigheidsreël ten aansien van die getuienis van enkelgetuies moet derhalwe deeglik ingedagte gehou word, soos wat ook hierin doen. Kyk bv. na S v Banana 2000(2) SASV 1 ZSC te 8 a-c. Ek moet dadelik sê dat Fredericks as ‘n getuie nie te sleg gevaar het nie. Hy het selfversekerd voorgekom en hy het nie gehuiwer om vrae te antwoord nie. Daar is geen wesenlike weersprekinge in sy getuienis te bevind nie, behalwe enkele klein aspekte tussen sy getuieverklaring en sy viva voce getuienis. Van meer belang is, na my mening, die feit dat hy aan insp. Anthony gesê het dat 2 persone die oorledene aangeval het. Ek meen egter dat dit in konteks verstaan moet word, dat hy bedoel het dat 2 persone die oorledene gesteek het. Hy het klaarblyklik met hierdie mededeling beskuldigde 3 buite rekening gelaat wat op sy getuienis nie die oorledene gesteek het nie, maar wel met ‘n bierbottel geslaan het. Van groter belang nog is die feit dat hierdie getuie, op sy eie weergawe, middelmatig dronk was en vroeër die dag ook dagga en mandrax gerook het. Dit is ‘n aspek wat ek deeglik ingedagte hou en wat my juis noop, ook omdat hy ‘n enkelgetuie is, om sy getuienis met aansienlike versigtigheid te benader. Gegewe hierdie aspekte, is ek slegs bereid om Mnr Fredericks se getuienis te aanvaar op wesenlike aspekte, d.w.s. waar dit die beskuldigdes direk in die ten laste gelegde misdryf inkrimineer, waar sy getuienis gestaaf word deur ander aanvaarbare getuienis.
Wat beskuldigde 1 se inkriminering aanbetref, vind ek stawing vir Mnr Fredericks se getuienis dat beskuldigde 1 die oorledene in die rug gesteek in die volgende aspekte:
Die mediese getuienis soos voorgehou deur Dr Mafungo bevestig dat ten minste 3 van die wonde aan die beskuldigde se rug versoenbaar is met ‘n voorwerp soos ‘n skroewedraaier. Dr Mafungo het verduidelik waarom dit sy opinie is en blyk dit ook uit die foto’s van hierdie wonde. Beskuldigde 1 het later by William Danzie se huis opgedaag met ‘n skroewedraaier – aldus Danzie.
Beskuldigde 1 se getuienis dat hy nie die oorledene gesteek het nie verwerp ek as vals bo redelike twyfel. Hy was ‘n swak getuie en het herhaaldelik klei getrap. Die rekord sal weerspieël op welke onbevredigende wyse hy getuig het. Sy voorkoms in die getuiebank was ook glad nie bevredigend nie. Ek moes hom aanhoudend vra om harder te praat en het hy glad nie selfversekerd voorgekom nie. Hy het die heeltyd kop onderstebo gestaaan en het by meer as een geleentheid glad nie ‘n vraag geantwoord nie – duidelik omdat hy nie ‘n gepaste antwoord kon kry nie. Sy weergawe dat hy glad nie in die veld was waar die oorledene gevind is nie, word verwerp in die lig van die feit dat beskuldigde 2 hom op die toneel plaas en ook die feit dat, volgens William Danzie, beskuldigde 2 bevestig het dat beide hy en beskuldigde 1 die oorledene tot by die veld gejaag het. Ook sy ontkenning dat die mesring nie pas op die okapi-mes voor die Hof nie, word verwerp, gegewe kapt Blömerus se getuienis.
Dit is insiggewend dat beskuldigde 3 in sy skriftelike pleitverduideliking Cassiem Fredericks se getuienis bevestig dat beskuldigdes 1 en 2 die oorledene agtervolg het in Agnesstraat in die rigting van die taverne. Dit is die algemene rigting wat lei tot die plek waar die oorledene uiteindelik gevind is.
Seker die belangrikste getuienis wat dien as stawing vir Fredericks se inkriminering van beskuldigde 1 is die feit dat kapt Blömerus tot die bevinding gekom het dat die mesring wel pas op die okapi-mes voor die Hof. Daardie mesring is op die oorledene gevind en is die enigeste redelike afleiding in die omstandighede dat die mes gebreek het terwyl beskuldigde 1 besig was om die oorledene daarmee aan te rand.
Insiggewend is dat beskuldigde 2 getuig dat nadat hy die toneel verlaat het tot die telefoonhokkie onder in Agnesstraat hy na ‘n kerkgebou is en het beskuldigde 1 eers ongeveer ‘n uur later daar opgedaag waar hy gesit het. Beskuldigde 2 getuig ook insiggewend verder dat toe beskuldigde 1 by hom opdaag, hy wat beskuldigde 2 is opgemerk het dat die okapi-mes van beskuldigde 1 gebreek is. Die afleiding is noodwendig dat die mes vroeër heel was en dat dit daarna moes gebreek het, heel waarskynlik in die proses toe beskuldigde 1 die oorledene gesteek het me die okapi-mes. Beskuldigde 1 se bewering dat die mes alreeds gebreek was en hy vroeër daarmee lemoene geskil het, oortuig net nie op die waarskynlikhede nie.
Beskuldigde 1 se aandadigheid aan die misdryf word verder bevestig deur sy optrede daarna toe hy saam met beskuldigde 2 vir William Danzie en Allison Cherry versoek het om die bebloede klere uit te was, die bebloede messe af te was en die messe daarna te vernietig.
Daar is by my gevolglik geen twyfel nie dat Cassiem Fredericks se inkriminering van beskuldigde 1, gegewe hierdie stawende aspekte soos voormeld, bewys bo redelik twyfel teen beskuldigde 1 daarstel.
Wat Mnr Fredericks se inkriminering van beskuldigde 2 aanbetref, voer hy aan dat beskuldigde 2 die oorledene verskeie kere met die swarthef mes voor die Hof gesteek het. Dit is natuurlik gemene saak dat beskuldigde 2 ten minste 3 keer die oorledene gesteek het met hierdie betrokke mes. Dit verskaf natuurlik stawing vir Fredericks se getuienis maar is daar ook verdere stawing te vinde in die volgende:
Die mediese getuienis van Dr Mafungo dat die lang swarthef mes versoen kan word met van die steekwonde op die oorledene se liggaam.
Op beskuldigde 2 se eie weergawe het hy op ‘n stadium, toe die oorledene van hom af weggehardloop het, hom agtervolg in Agnesstraat. Dit blyk dus duidelik dat daar woede en aggressie aan die kant van beskuldigde 2 was en kan aanvaar word, myns insiens, dat hy op die waarskynlikhede die oorledene aansienlik meer as slegs 3 keer gesteek het.
Beskuldigde 2 se optrede agterna, soos ek alreeds vermeld het, verskaf ook verdere stawing. Hy is die een wat mededelings gemaak het aan William Danzie, welke mededelings ek alreeds aanvaar het as korrek en waar, tot dien effekte dat hy en beskuldigde 1 die oorledene gejaag het tot in ‘n veld waar hy vir beskuldigde 1 agtergelaat het.
Beskuldigde 2 was na my mening ‘n beter getuie as beskuldigde 1, alhoewel hy ook maar plek-plek gesukkel het. Ek aanvaar sy weergawe slegs soverre dit strook met die getuienis van Cassiem Fredericks en die algemene waarskynlikhede. Ek aanvaar wel sy getuienis dat hy op ‘n stadium by die kerk gaan sit het toe sy wonde hom klaarblyklik gepla het en dat beskuldigde 1 eers ongeveer 1 uur later by hom aangesluit het met ‘n gebreekte okapi-mes in sy besit.
Beskuldigde 2 saam met beskuldigde 1 het natuurlik ook vir William Danzie en Allison Cherry versoek om hul bebloede klere uit te was, die bebloede messe af te was en die goed te bêre. Dit is ‘n optrede wat slaan op aandadigheid aan ‘n misdryf, na my mening.
Ek is derhalwe tevrede dat Cassiem Fredericks se inkriminering van beskuldigde 2 bewys bo redelik twyfel daarstel wanneer hierdie stawende aspekte inaggeneem word.
Selfs al is ek hieraangaande verkeerd met my aanvaarding van die getuienis van Cassiem Fredericks, is ek in elk geval heeltemal oortuig wat betref die inkriminering van beskuldigde 2 dat hy op sy eie weergawe homself skuldig gemaak het aan moord met dolus directus as opset. Op sy eie weergawe het hy die oorledene die aangerand op ‘n stadium toe dit nie meer nodig was om die oorledene aan te val nie. Dit is baie duidelik uit Dr Mafungo se getuienis dat die steekwonde wat hy die oorledene toegedien het, uiteindelik tot sy dood sou lei.
Wat beide beskuldigdes 1 en 2 aanbetref is ek bo redelike twyfel tevrede dat hulle met dolus directus opgetree het. Wanneer mens in aanmerking neem die veelvuldige aantal steekwonde, die ligging, erns en aard daarvan, dan kan daar geen twyfel wees dat hierdie beskuldigdes die direkte opset gehad het om die oorledene te dood nie.
Ek wend my laastens tot beskuldigde 3. Mnr Roach het aangevoer dat daar stawing vir Fredericks se inkriminering van beskuldigde 3 is in die mediese getuienis. Ek kan nie daarmee saamstem nie. Die getuienis was dat toe beskuldigde 3 die oorledene met die bierbottel slaan het die bierbottel gebreek. Dr Mafungo het duidelik getuig dat wanneer so iets plaasvind, hy sekondêre snymerke sou verwag het. Dit is gemene saak dat geen sodanige sekondêre snymerke op die oorledene se kop waar die stompgeweld wond voorkom, aangetref is nie. In elk geval het Dr Mafungo ook toegegee dat die stompgeweld hou ook veroorsaak kon gewees het toe die oorledene geval het. Fredericks het duideli kgetuig dat die oorledene op ‘n stadium geval het daar waar vantevore ‘n boom was in St Paulsweg. In die omstandighede is ek regtens genoop om aan beskuldigde 3 die voordeel van die twyfel te gee wat my by bestaan en kan ek nie Cassiem Fredericks se getuienis as enkelgetuie sonder enige stawing daarvoor ten aansien van beskuldigde 3 aanvaar nie. Ek het vroeër ‘n aansoek om ontslag ingevolge art 174 namens beskuldigde 3 van die hand gewys omdat, op daardie stadium, ‘n kwessie van geloofwaardigheid van getuies nie ter sprake kom nie. Op daardie stadium was daar ten minste ‘n prima facie saak teen beskuldigde 3.
By gevolg word beskuldigdes 1 en 2 skuldig aan moord soos aangekla en vind ek pertinent dat hulle dolus directus as opsetvorm gehad het. Beskuldigde 3 word onskuldig bevind en ontslaan.
__________
SA MAJIEDT
REGTER