South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2002 >> [2002] ZANCHC 35

| Noteup | LawCite

S v Gabatlhole (B3358/02) [2002] ZANCHC 35; 2004 (2) SACR 270 (NC) (4 December 2002)

Download original files

PDF format

RTF format


Verslagwaardig: Ja / Nee

Sirkuleer aan Regters: Ja / Nee

Sirkuleer aan Landdroste: Ja / Nee


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(Noord-Kaapse Afdeling)


Hersieningsnr: 705/2002

Saaknr: B3358/02

Datum gelewer: 2002-12-04



In die hersieningsaak van:


DIE STAAT


versus


PETER GABATLHOLE BESKULDIGDE


Coram: Kgomo RP et Majiedt R


UITSPRAAK OP SPESIALE HERSIENING



MAJIEDT R:

  1. Hierdie aangeleentheid is op spesiale hersiening na hierdie Hof deurgestuur deur ‘n Streekhoflanddros ingevolge die bepalings vervat in artikel 116(3)(a) van die Strafproseswet. Die Streekhoflanddros was nie tevrede dat die verrigtinge ooreenkomstig die reg is nie en het gevolglik die aangeleentheid na hierdie Hof gestuur op spesiale hersiening.

  2. Die beskuldigde wat onverteenwoordig was, het tereggestaan op ‘n aanklag van huisbraak met die opset om te steel en diefstal en ‘n aanklag van intimidasie. Die aangeleentheid is na die streekhoflanddros verwys vir vonnis nadat die beskuldigde skuldig bevind is op beide aanklagte. Die onderwerp van die streekhoflanddros se twyfel is aanklag 2, dié van intimidasie. Sy navraag aan die landdros wat die skuldigbevinding uitgebring het, lees as volg:

Skrywer verwys na bogemelde saak, waarvan hy die notule behoorlik nagegaan het. Skrywer het geen probleem met die skuldigbevinding t.o.v. klagte 1, maar t.o.v. klagte 2, verlang skrywer die landdros se kommentaar t.o.v. die volgende:

Waarom het die landdros nie vir die beskuldigde behoorlik ingelig van die gevolge van die “reverse onus presumption”, wetende dat beskuldigde onverteenwoordig was.”

Die landdros het as volg daarop gereageer:

Ek verwys na u skrywe gedateer 5/11/02. Ek het nie die bepalings soos vervat in art 2 Wet 72 van 1982 aan die beskuldigde verduidelik nie. Ek merk op art. 2 maak melding van “die bestaan van ‘n wettige rede”. Slegs art. 1(1)(a) en nie art. 1(1)(b) nie lees as volg: “Iemand wat – (a) sonder wettige rede ..... laat vaar .....”. Dit is vreemd dat die woorde “sonder wettige rede”, nie ook in sub. art. 1(1)(b) genoem word nie. Dit blyk egter uit die bewoording van art. 2 dat lg. in beide gevalle aanwending vind. In die onderhawige saak het die beskuldigde van meet af die bewering teen hom ontken. Die bewyslas was deurgaans op die staat. Sy ontkenning dat hy die woorde geuiter het, het hy tot en met die finalisering van die saak mee volstaan. Derhalwe is hy nie en kon hy nie benadeel word nie.

  1. Uit die getuienis blyk dit dat die beskuldigde op heterdaad betrap is deur die klaer in sy huis. Dit is duidelik dat die staat die misdryf op aanklag 1 bewys het. Nadat hy, met behulp van sy swaer, die beskuldigde vasgetrek het, is die klaer as volg gedreig deur die beskuldigde (volgens die klaer se getuienis):

Toe ons hom vasgemaak het op die grond ook, het hy verskeie kere vir my gesê, my vrou en swaer dat hy en sy bandiet tjommies sal terugkom”.

Volgens die klaer het hy gevrees dat die beskuldigde en sy vriende terug sal keer en vir hom en sy familie leed aandoen.

  1. Die landdros het glad nie op enige stadium tydens die verhoor vir die beskuldigde ingelig van die verskuifde bewyslas vervat in artikel 1(1)(b) saamgelees met artikel 1(2) van die Wet op Intimidasie, 72 van 1982 (“die Wet”) nie. Volgens daardie bepalings rus die onus op ‘n beskuldigde om die “bestaan van ‘n wettige rede” vir bepaalde optrede aan te toon. Die distrikhoflanddros verwys tereg na die anomalie in die Wetsbepalings deurdat die woorde “sonder wettige rede” voorkom in artikel 1(1)(a) maar nie in artikel 1(1)(b) nie [in casu is die beskuldigde aangekla van ‘n oortreding van artikel 1(1)(b)]. Wanneer die bepalings van artikel 1(2) onder die loep geneem word, is dit egter duidelik dat hierdie verskuifde onus ook by ‘n artikel 1(1)(b)-oortreding geld.

  2. In S v Motshari 2001(1) SASV 550 (NK) te 554 e-f het Kgomo R (soos hy toe was) obiter bevind dat daar ‘n plig rus op ‘n voorsittende beampte om ‘n onverteenwoordigde beskuldigde in te lig van die onus wat op hom rus uit hoofde van die bepalings vervat in artikel 1(1)(b) saamgelees met artikel 1(2) van die Wet en dat só ‘n nalate ‘n onreëlmatigheid daarstel.

Vergelyk ook die ratio decidendi in S v Kester 1996(1) SASV 461 (B) te 472 j-474 g.

Ek is dit respekvol eens met die benadering voorgehou in die voormelde sake.

  1. Daar is by my ernstige twyfel of hierdie bepaling in die Wet grondwetlik is. Ek vereenselwig my respekvol daaraangaande met Kgomo R se siening in S v Motshari, supra te 554 d-e. Dit is vir doeleindes van die beregting van die onderhawige saak egter nie nodig om dié aspek te beslis nie.

  2. Uit hoofde van die voorafgaande is ek daarvan oortuig dat die distrikhoflanddros se nalate soos voormeld, ‘n onreëlmatigheid daarstel. Ek is verder tevrede dat dit die beskuldigde dermate benadeel het dat die verrigtinge tersyde gestel behoort te word.

Vergelyk: S v Oliphant (ongerapporteerde hersieningsuitspraak, saaknr. 105/02, gelewer op 3/5/02);

S v Booysen (ongerapporteerde hersieningsuitspraak, saaknr. 27/01, gelewer op 7/12/01).

  1. Daar is ‘n verdere rede waarom die verrigtinge voor die distrikhoflanddros nie ooreenkomstig die reg is nie. Soos Kgomo R bevind het in S v Motshari, supra, is ek ook die mening toegedaan dat die bepalings van artikel 1(1) van die Wet nie bedoel was vir minder ernstige gevalle soos hierdie nie. Ek betwyfel dit sterk dat ‘n skuldigbevinding van intimidasie in ‘n verhoor de novo regtens die toets soos neergelê in die voormelde gewysde sal deurstaan.

  2. Die Direkteur van Openbare Vervolgings word versoek om S v Motshari supra pertinent onder die aandag van aanklaers te bring. (Die “incriminations” op 560 b moet lees “recriminations”). Landdroste moet, na aanhoor van al die getuienis, die aanklaers vra om hulle behoorlik toe te spreek op die vraag of genoemde Wet op Intimidasie (72 van 1982) op die saak voor hulle ‘n aanwending vind al dan nie. Landdroste in die Noord-Kaapse Afdeling is gebonde aan die Motshari-uitspraak.

Sien: Ex Parte Minister of Safety and Security and Others: In re: Walters and Another 2002(4) SA 613 (CC) te 643 G – 646 H (paras 55-61).



  1. Bygevolg reik ek die volgende bevel uit:

10.1 Die beskuldigde se skuldigbevinding op die aanklag van huisbraak met die opset om te steel en poging tot diefstal word bekragtig.

10.2 Die beskuldigde se skuldigbevinding aan ‘n oortreding van artikel 1(1)(b) van Wet 72 van 1982 word tersydegestel.

10.3 Die aangeleentheid word terugverwys na die Streekhof, Kimberley, vir afhandeling van die vonnis op aanklag 1, soos in 9.1 hierbo uiteengesit.






___________

SA MAJIEDT

REGTER



Ek stem saam:




___________

FD KGOMO

REGTER-PRESIDENT