South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2002 >> [2002] ZANCHC 34

| Noteup | LawCite

Hoerskool Namakwaland and Another v Lid van die Uitvoerende Raad vir Onderwys, Opleiding, Kuns en Kultuur in die Noord-Kaapse Provinisiale Regering en 'n Ander (1241/2001) [2002] ZANCHC 34 (15 November 2002)

Download original files

PDF format

RTF format



Verslagwaardig: Ja / Nee

Sirkuleer aan Regters: Ja / Nee

Sirkuleer aan Landdroste: Ja / Nee


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(Noord-Kaapse Afdeling)


Saakno: 1241/2001


Datum Verhoor: 2002-10-18

Datum Gelewer: 2002-11-15



In die saak van:


HOërskool NAMAKWALAND EERSTE APPLIKANT

DIE BEHEERLIGGAAM VAN DIE HOëRSKOOL NAMAKWALAND TWEEDE APPLIKANT


en


DIE LID VAN DIE UITVOERENDE RAAD VIR EERSTE RESPONDENT

ONDERWYS, OPLEIDING, KUNS EN KULTUUR

IN DIE NOORD-KAAPSE PROVINSIALE REGERING

DIE DEPARTEMENTSHOOF: DEPARTEMENT TWEEDE RESPONDENT

VAN ONDERWYS, OPLEIDING, KUNS EN

KULTUUR VAN DIE PROVINSIE NOORD-KAAP



Coram: MAJIEDT R


UITSPRAAK



MAJIEDT R:

  1. Hierdie bestrede aansoek is aanvanklik as een van dringendheid gebring gedurende Desember 2001. By daardie geleentheid het Buys R by ooreenkoms tussen die partye gelas as volg:

1. Dat die besluit deur Tweede Respondent om nie gevolg te gee aan die aanbeveling van Tweede Applikant vir die aanstelling van onderstaande opvoeders in onderstaande poste nie, hersien, vernietig en tersyde gestel word, naamlik:

1.1 Mnr M Smit vir die pos van adjunk-hoof, posnommer 200110/0100;

1.2 Mej MA van Jaarsveld vir die pos van departementshoof, posnommer 200110/0105;

1.3 Mev LA van den Heever vir posvlak 1 posnommer 200110/0136;

1.4 Mej M Klopper vir tydelike aanstelling in posvlak 1 posnommer 200110/0137;

1.5 Mev SLF Briel vir posvlak 1 posnommer 200110/0137;

1.6 Mev K Störm vir posvlak 1 posnommer 200110/0168.

2. Dat die aangeleentheid terugverwys word na Tweede Respondent en dat Tweede Respondent sy statutêre verpligting kragtens artikel 6(3)(b) van die Wet op Indiensneming van Opvoeders, 76 van 1998, uitoefen met behoorlike inagneming van die bepalings van artikel 6 van gemelde wet.

3. Dat die Tweede Respondent die proses waarna in paragraaf 2 verwys word voltooi en applikante van die uitslag daarvan in kennis te stel voor of op 28 Desember 2002.

4. Dat verlof aan die Applikante verleen word om hierdie Hof op dieselfde stukke, behoorlik aangevul indien nodig, vir verdere regshulp, indien nodig, te nader.

5. Dat die koste oorstaan.”

  1. Hierna, op 27 Desember 2002, het die Tweede Respondent ‘n besluit geneem ingevolge die bepalings vervat in art 6(3)(b) van die Wet op Indiensneming van Opvoeders, 76 van 1998 (“die Wet”) dat hy nie die aanbevelings van die Tweede Applikant aanvaar nie en gevolglik weier om enige van die ses kandidate aan te stel in die vakante poste.

  2. Die voormelde besluit van die Tweede Respondent het tot gevolg gehad dat die Applikante, soos hulle veroorloof was uit hoofde van die hofbevel waarna ek hierbo verwys het, hulle stukke aangevul het en vra die Applikante nou die volgende regshulp aan:

5A.1. Dat die besluit van die Tweede Respondent, geneem nà terugverwysing na hom van die aangeleentheid ingevolge die hofbevel verleen op 14 Desember 2001, om te weier om die opvoeders vermeld in die smeekbedes hierbo aan te stel op aanbeveling van die Tweede Applikant, hersien, vernietig en tersyde gestel word;

5A.2 Dat hierdie agbare hof die opvoeders MARGARET ALIDA VAN JAARSVELD en SOPHIA LOUISA FRIEDA BRIEL na verwys in die smeekbedes hierbo, aanstel in die onderskeie posnommers daarin vermeld, met effek vanaf 1 Januarie 2002.

6. Dat Eerste en Tweede Respondente gelas word om die koste van hierdie aansoek gesamentlik en afsonderlik te betaal op die skaal soos tussen prokureur en eie kliënt.”

  1. Uit die voorgaande blyk dit dus dat die Tweede Respondent se besluit van 27 Desember 2001 ten aansien van die weiering van aanstelling van al ses kandidate soos voormeld, aangeval word en daar versoek word dat hierdie Hof self die opvoeders Mevv. Van Jaarsveld en Briel in die vakante poste aanstel.

  2. Die stukke hierin is van aansienlike omvang en wemel van dispute, twiste, beskuldigings en verwyte. Dit is verder ook ‘n ongelukkige kenmerk van die stukke dat daar deurlopend emosiebelaaide stellings gemaak word en dat beskuldigings van mala fides, kwaadwilligheid en viktimisasie deur die partye teenoor mekaar toegesnou word. Die feit dat die stukke so omvangryk is, is tot ‘n groot mate daaraan toe te skryf dat die litigante hulle fokus op die ware geskilpunte verloor het en ‘n hele aantal sydelingse en selfs beuselagtige aspekte bygesleep het by hierdie verrigtinge.

  3. Inaggenome my voorafgaande opmerkings, meen ek dat die geskilpunte wat beregting hierin verg die volgende is:

6.1 Of die Tweede Respondent regtens geoorloof was om die Tweede Applikant se aanbevelings te weier, meer bepaald uit hoofde van die bepalings vervat in art 6(3)(b)(v) van die Wet;

6.2 Wie verantwoordelik gehou moet word vir die koste hierin, insluitende die koste van die verrigtinge wat uitgeloop het op die hofbevel van Buys R op 14 Desember 2002.

  1. In die loop van die jaar 2001 het sewe vakatures by die Eerste Applikant vakant geraak. Met navolging van die statutêr voorgeskrewe prosedures het die volgende plaasgevind:

a) die poste is geadverteer;

b) ‘n subkomitee van die Tweede Applikant te wete die Onderhoudskomitee, het ‘n kortlys van gesifte kandidate saamgestel;

c) onderhoude is met die kandidate op die kortlys gevoer deur die Onderhoudskomitee en aanbevelings is aan die Tweede Applikant deurgegee;

d) aanbevelings is daarna deur Tweede Applikant gemaak aan die Tweede Respondent ten aansien van die vulling van die vakante poste.

Soos alreeds vermeld hierin, het die Tweede Respondent toe geweier, met volledige opgaaf van redes, om sodanige aanbevelings te implementeer en om die aanbevole kandidate aan te stel in die vakante poste.

‘n Nuttige opsomming van die prosedures wat gevolg moet word by die vulling van vakante poste ingevolge die Wet kan gevind word in:

Douglas Hoërskool v Premier, Noord-Kaap en andere 1999(4) SA 1131 (NK) te 1138 H – 1139 F.

Dit is gemene saak dat hierdie die voorgeskrewe prosedure is en ag ek dit nie nodig om in besonderhede dit hierin te herhaal nie.

  1. Die Tweede Respondent het vollediglik redes verskaf op 27 Desember 2001 aan die Tweede Applikant oor sy weiering om die aanbevole kandidate aan te stel in die vakante poste. Hierdie skriftelike redes is by die stukke ingebind as aanhangsels tot die Tweede Respondent se opponerende eedsverklaring. Kortweg gestel kom hierdie redes daarop neer dat daar eerstens fout was met die prosedure van kortlysting, onderhoudvoering en aanbeveling tussen die onderhoudskomitee en Tweede Applikant en tweedens voer die Tweede Respondent aan dat die Tweede Applikant versuim het om ag te slaan op die demokratiese waardes en beginsels vervat in art 7(1) van die Wet (d.w.s. dat die Tweede Respondent weier om die aanbevelings te implementeer op grond van art 6(3)(b)(v) van die Wet se bepalings). Alvorens ek met hierdie twee aspekte handel, is dit nodig dat ek ‘n punt in limine aangevoer deur die Respondente, te wete die nie-voeging van sekere partye, hierin bespreek.

  2. Meneer Danzfuss namens die Respondente, voer aan dat ten minste die ses kandidate wat deur die Tweede Applikant aanbeveel is vir ‘n aanstelling, ‘n wesenlike en direkte belang by die verrigtinge kan hê en derhalwe gevoeg moes gewees het as Respondente hierin. Die toets by voeging is nou reeds welbekend. In hierdie verband verwys ek na Amalgamated Engineering Union v Minister of Labour 1949(3) SA 637 A te 659. Ek het onlangs geleentheid gehad in die saak van Laerskool Gaffie Maree en ‘n ander v LUR vir Onderwys, Kuns en Kultuur Noord-Kaap Provinsie en andere (saakno. 1240/2001 ongerapporteerd en gelewer op 2 Augustus 2002) om met hierdie aangeleentheid te handel. In daardie saak het ek bevind dat dit nie nodig is om onsuksesvolle kandidate te voeg as partye by so ‘n aansoek soos die onderhawige nie. Ek het verder in daardie saak by noodwendige implikasie bevind dat dit wel nodig is om ‘n aanbevole kandidaat te voeg tot die verrigtinge. Ek is steeds dieselfde mening toegedaan. Daar kan na my mening beswaarlik betoog word dat die aanbevole kandidate nie ‘n direkte en wesenlike belang by hierdie verrigtinge kan hê nie. Per slot van sake is hulle tog die kandidate wat na sifting, kortlysting en onderhoudvoering aanbeveel is vir aanstelling. Die blote feite dat Mevv. Briel en Van Jaarsveld aangedui het dat hulle bewus is van hierdie verrigtinge is na my mening nie voldoende nie. Daar sou verwag gewees het dat hulle uitdruklik hullle reg tot voeging by die verrigtinge moes abandoneer. Verder moet ook in gedagte gehou word dat Applikante steeds volhou met 'n versoek dat ek die Tweede Respondent se besluit om nie een van die ses kandidate aan te stel nie moet hersien, tersyde stel en vernietig. Bygevolg dus is ek die mening toegedaan dat die Applikante verplig was om die aanbevole ses kandidate waaroor hierdie dispuut gaan moes gevoeg het as Respondente in hierdie aangeleentheid. Ek stem egter nie saam met Mnr Danzfuss se voorstel dat, gegewe die gevorderde stadium van hierdie proses, die aangewese uitweg sou wees om al die poste te heradverteer en die aanstellingsproses opnuut te volg nie. Hierdie vakatures moes reeds teen vroeg in Desember 2001 gevul gewees het. Om nou gehoor te gee aan sy voorstel, sou ‘n vertraging van ten minste ‘n aantal maande veroorsaak en mag moontlik lei tot verdere regsgedinge. Na my mening is die meer bevredigende weg hierin om die bevel wat ek gaan maak op ‘n voorlopige basis uit te reik en om aan hierdie ses aanbevole kandidate ‘n geleentheid te bied om redes aan te voer waarom hierdie voorlopige bevel nie finaal gemaak moet word nie.

  3. Ek wend my nou na die meriete van die aansoek en meer bepaald na die aspekte voorgehou deur die Tweede Respondent as basis vir sy besluit om nie die aanbevole kandidate aan te stel nie. Alhoewel die stukke en die advokate se betoogshoofde handel met die posisie van die ses aanbevole kandidate wat betref die beweerde tekortkominge in die prosedures soos voorgehou deur die Tweede Respondent, is ek die mening toegedaan dat dit slegs nodig is om hierin te beslis of die Tweede Applikant die prosedures behoorlik nagekom het wat betref Mevv Van Jaarsveld en Briel. Dit is slegs hierdie twee dames se aanstelling wat aangevra word deur die Applikante. ‘n Bespreking van die posisie van die ander vier aanbevole kandidate wat om verskeie redes nie meer beskikbaar is vir aanstelling nie sou na my mening nodeloos en futiel wees. Gevolglik betrag ek nou die posisie van die twee aanbevole kandidate wat nog steeds beskikbaar is vir aanstelling te wete Mevv Van Jaarsveld en Briel.

  4. Wat die pos van Mev Briel aanbetref was dit geadverteer vir die vakke Wiskunde en Rekeningkunde. Daar was sewe kandidate waarvan slegs een (die aanbevole kandidaat, Mev Briel) gekortlys is deur die onderhoudskomitee. Meneer Danzfuss het aangevoer dat die beheerliggaam meer kandidate as net vir Mev Briel in aanmerking moes geneem het. Hy het verder daarop gewys dat deurgaans in gedagte gehou moet word dat die kortlyskomitee en die onderhoudskomitee eintlik maar dieselfde is. Beide van hulle fungeer as subkomitees van die beheerliggaam, d.w.s. lede van die beheerliggaam het ook sitting op hierdie twee subkomitees. Meneer Du Toit, wat namens die Applikante verskyn het, het in sy betoog aansienlik klem gelê op die feit dat, teenstrydig met die versoek van die Tweede Applikant, die Tweede Respondent se departement die poste verkeerd geadverteer het. Wat gebeur het is dat die Tweede Applikant versoek het dat die onderskeie poste geadverteer moes word gekoppel aan bepaalde vakrigtings om te voorsien in die skool se kurrikulum behoeftes. Vanweë ‘n fout wat ingesluip het by die Departement van Onderwys (hierna “die Departement”), is die poste egter verkeerdelik geadverteer sonder dat daar voldoen is aan die voormelde versoek van die Tweede Applikant. Daar is bloot in die advertensie versoek dat kandidate die vakke wat hulle aanbied moet vermeld. Dit het, soos wat verwag kan word, tot gevolg gehad dat verskeie kandidate aansoek gedoen het wat nie die nodige vakke kon aanbied om in die skool se kurrikulum behoeftes te voorsien nie. Hierdie nalate aan die kant van die Departement speel ‘n belangrike rol, ook wanneer die geval van Mev Van Jaarsveld onder die loep geneem sal word. Meneer Du Toit se betoog verder was dat Mev Briel wel Wiskunde kon aanbied en derhalwe gekwalifiseer het vir die pos. Volgens hom bestaan daar geen bepalings in die Wet of ander statutêre voorskrifte wat die beheerliggaam (Tweede Applikant) verplig om meer as een kandidaat aan te beveel vir ‘n vakante pos nie. Meneer Du Toit is heeltemal korrek in hierdie laaste submissie. Ek sal aanstons handel met Mev Briel se posisie wanneer dit kom by die toepassing van art 6(3)(b)(v) waarop die Tweede Respondent sterk steun.

  5. Die posisie van Mev Van Jaarsveld is dat die Eerste Applikant die vakature na die Departement gestuur het met ‘n versoek dat die Departementshoofpos (waarvoor Mev Van Jaarsveld uiteindelik aanbeveel is) gekoppel moet word aan die vak Natuur- en Skeikunde vir graad 11-12. Die Departement het hierdie pos verkeerdelik geadverteer sonder om dit te koppel aan ‘n bepaalde vakgebied of vakgebiede. Die gevolg was weereens dat applikante wat enige vakrigting aangebied het, sou kon aansoek gedoen het vir die pos, wat wel gebeur het. Uit die Applikante se stukke blyk dit dat hierdie bepaalde probleem met betrekking tot die verkeerde advertering van die pos met die Departement se amptenare opgeneem is wat geadviseer het dat die skool se kurrikulum behoeftes aangespreek moes word. Hierdie beweringe word glad nie in geskil geplaas deur Tweede Respondent in sy opponerende stukke nie. Inteendeel, die Tweede Respondent neem die verbasende houding in dat die poste, as gevolg van hierdie nalate aan die Departement se kant, heradverteer moet word. Vir hierdie bepaalde pos is ene Mej M Klopper en Mev M Robberts gekortlys vir die pos. Mevrou Van Jaarsveld is vir twee ander poste gekortlys. Onderhoude is met al die kandidate gevoer en Mev Robberts is toe vir die Departementshoofpos as eerste keuse en Mej Klopper as tweede keuse aanbeveel deur die Onderhoudskomitee. Mevrou Van Jaarsveld het ook vir hierdie betrokke pos (departementshoof) aansoek gedoen.

  6. Mevrou Robberts was later toe nie meer beskikbaar nie en uit hoofde van die kurrikulum behoeftes van die skool het Mej Klopper nie die paal gehaal by die Tweede Applikant se oorwegingsproses nie. Mevrou Van Jaarsveld is toe vir aanstelling aanbeveel deur die Tweede Applikant aan die Tweede Respondent. Die Tweede Respondent verkwalik die beheerliggaam daarvoor dat Mev Van Jaarsveld aanbeveel word vir aanstelling in ‘n pos waar daar nie met haar ‘n onderhoud gevoer is nie. Ek meen dat hierdie beswaar uit die oog verloor dat Mev Van Jaarsveld inderdaad vir die betrokke pos aansoek gedoen het. Dit mag so wees dat dit verkieslik was dat daar met haar ‘n onderhoud gevoer moes gewees het meer bepaald vir hierdie pos, maar is ek die mening toegedaan dat so ‘n nalate nie fataal tot die hele proses is nie. Die Tweede Applikant, synde getaak met die funksie om na behoorlike kortlysting en onderhoudvoering en oorweging van die kandidate wat geskik is vir die pos ‘n aanbeveling te doen vir aanstelling, het hierin behoorlik aandag gegee aan die skool se kurrikulum behoeftes soos aan hulle voorgestel deur die Departement se amptenare. Hierdie laasvermelde aspek, te wete wat die Departement se amptenare aan die skool in oorweging gegee het ten aansien van die verkeerde advertering van die poste word, soos alreeds vermeld, nie in geskil geplaas op die stukke deur die Respondente nie en is ‘n baie belangrike faktor in die beregting van hierdie saak. Ek is derhalwe die mening toegedaan dat die feit dat Mev  Van Jaarsveld aangestel is in ‘n pos waar daar nie met haar ‘n onderhoud gevoer is nie, nie fataal vir die Applikante se saak is nie. ‘n Beheerliggaam soos die Tweede Applikant wat sy statutêr opgelegde funksie uitoefen om aanbevelings vir aanstellings te maak aan die Departementshoof (Tweede Respondent) is per slot van sake nie ‘n blote rubberstempel vir ‘n onderhoudskomitee se aanbevelings nie. Al wat van hom verwag word is om ‘n weloorwoë en regtens en feitelik gegronde basis te kan voorhou vir enige afwyking van die Onderhoudskomitee se aanbevelings. In die onderhawige geval het Tweede Applikant na my mening oorvloedig rede gehad om af te wyk van sy Onderhoudskomitee se aanbeveling.

  7. Dit is nodig dat ek kortliks moet handel met die posisie van Mev LA van den Heever, aangesien Mnr Danzfuss namens Tweede Respondente aangevoer het dat haar posisie nou saamhang met dié van Mev Van Jaarsveld. Ter aanvang moet ek daarop wys dat dit gemene saak is dat al ses die aanbevole kandidate, uitgesluit Mev LA van den Heever, Blankes is. Mnr Danzfuss het aangevoer dat die feit dat Mev Van den Heever op ‘n tydelike basis vir aanstelling aanbeveel is in ‘n ander pos as dié waarvoor sy aansoek gedoen het, ‘n direkte effek gehad het op Mev Van Jaarsveld se aanbeveling. Die argument is dat Mev Van den Heever as ‘n sogenaamde Gekleurde, se aanbeveling in ‘n tydelike pos blote vertoon of, soos mnr. Danzfuss dit bestempel het, “window dressing” was. Ek sal aanstons handel met hierdie betrokke aspek wanneer ek die bepalings van art 7(1) van die Wet in oënskou neem. Daar is groot meriete in Mnr Danzfuss se argument, maar meen ek dat die beheerliggaam se aanbeveling van Mev Van Jaarsveld voldoen aan al die voorgeskrewe statutêre prosedures.

  8. Artikel 6(3)(b)(v) van die Wet bepaal dat die Tweede Respondent net ‘n aanbeveling van ‘n beheerliggaam kan weier as sodanige aanbeveling nie ag geslaan op die demokratiese waardes en beginsels vervat in art 7(1) van die Wet nie. Artikel 7(1) van die Wet lees as volg:

“(1) By die doen van ‘n aanstelling of die vul van ‘n pos op ‘n diensstaat van opvoeders kragtens hierdie Wet moet gelykheid, billikheid en die ander demokratiese waardes en beginsels wat in artikel 195(1) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 (Wet No. 108 van 1996), beoog word en wat die volgende faktore insluit, behoorlik in ag geneem word, naamlik –

(a)  die bekwaamheid van die kandidaat; en

(b)  die behoefte om die wanbalanse van die verlede reg te stel ten einde breë verteenwoordiging te bewerkstellig.

  1. Hierdie betrokke wetsbepaling is tot dusver nog net in een gerapporteerde beslissing tot my kennis bespreek, te wete in die saak van:

High School Carnarvon v MEC Education, Training, Arts and Culture of the Norhern Cape Provincial Government and another [1999]  4 All SA 590 NK].

Op 600 i van hierdie beslissing verklaar Alkema WnR as volg:

“Having regard to the ordinary grammatical meaning of the above quoted words, the enquiry is directed at the recommendation, and not at the democratic values and principles. Of course, regard must be had to those values and principles in order to assess the recommendation, but the Head of Department is only required to consider whether or not the governing body took those values and principles into account in arriving at its recommendation. If it did take those values and principles into account, the recommendation must be accepted; if not, the recommendation may be declined.” (my beklemtoning).

Verder aan te 600 j – 601 b verklaar die geleerde Regter as volg:

“In my view, the discretion conferred upon the Head of Department under section 6(3)(b) does not extend to the power to sit in judgment on the recommendation of the governing body. He is not concerned with the merit of the recommendation; he is only concerned with whether or not it meets with the requirements of section 6(3)(b). The question is not whether the recommendation accords with those values and principles, but simply whether or not the recommendation had regard thereto.” (my beklemtoning).

  1. Mnr Danzfuss het ‘n verbete aanslag gerig op hierdie dictum van Alkema WnR en my uitgenooi om te beslis dat dit verkeerd is. Volgens Mnr Danzfuss moet art 6 en art 7(1) saamgelees word en die bepalings met mekaar versoen word. Hy het veral daarop gewys dat art 7(1) ‘n verpligting plaas op die Tweede Respondent as departementshoof om ag te slaan op die demokratiese waardes en beginsels. Na submissie is die taak om ‘n aanstelling te maak of poste te vul dié van die departementshoof. Meneer Du Toit aan die ander kant het betoog dat die Carnarvon-saak supra korrek beslis is en dat die departementshoof bloot moet nagaan of die beheerliggaam behoorlik ag geslaan het op die demokratiese waardes en beginsels soos vervat in art 7(1) van die Wet.

  2. Ek het hierdie aspek sorgvuldig oorweeg en is ek die mening toegedaan dat daar aansienlike meriete in Mnr Danzfuss se betoog is. Ek het ernstige bedenkinge of Alkema WnR korrek is in sy bevinding dat die departementshoof se taak nie insluit om self die meriete van die aanstelling te oorweeg aan die hand van die vereistes vervat in art 7(1) van die Wet nie. Indien die geleerde Regter korrek is in sy benadering, verstaan ek nie hoe voldoen sou kon word aan ‘n verpligting wat rus op die departementshoof soos wat vervat is in art 7(1). Ek meen dat die departementshoof sodanige ag moet slaan wanneer hy ‘n aanstelling maak. Gegewe egter die feite van hierdie saak is dit nie nodig om tot ‘n beslissing te kom of die High School Carnarvon saak korrek beslis is al dan nie, soos wat ek aanstons sal aantoon.

19.1 Ek handel vervolgens met die feite waarop die Tweede Respondent steun vir sy aanname dat die beheerliggaam nie ag geslaan het op die demokratiese waardes en beginsels vervat in art 7(1) nie.

19.2 Aanhangsel “S” tot die Applikante se hoofdeponent se eedsverklaring bevat gemeensaaklik die volledige motivering vir die aanbevelings deur die Tweede Applikant. Daardie aanhangsel is die notule van die Tweede Applikant se vergadering van 26 November 2001.

19.3 Aanhangsels “O7” tot en met “O13” tot die Tweede Respondent se opponerende eedsverklaring bevat sy volledige redes vir sy besluite om nie die aanbevole opvoeders in die vakante poste aan te stel nie. Vir doeleindes van hierdie uitspraak is aanhangsels “O9” en “O12” synde die motiverings vir die nie-aanstelling van Mevroue Van Jaarsveld en Briel van bepaalde belang. Daarmee saam moet ook ag geslaan word op aanhangsel “O10”, die motivering ten aansien van Mev L.A. van den Heever.

19.4 Ten aansien van die beweringe dat die Tweede Applikant nie behoorlik ag geslaan het op die demokratiese waardes en beginsels vervat in art 7(1) van die Wet nie, kan dit as volg opgesom word ten opsigte van die voormelde drie kandidate (die redes stem grootliks ooreen):

19.4.1 die aanbevelings verloor die huidige samestelling van die skool se personeelkorps inaggenome ras, buite die oog;

19.4.2 waar daar nie-blanke kandidate aansoek gedoen het, is hulle of nie gekortlys nie of hulle is nie aanbeveel nie;

19.4.3 die aanbevelings hou nie rekening met die feit dat die Onderwysdepartement, Noord-Kaap ‘n regstellende aksie werkgewer is nie;

19.4.4 die aanbevelings staan in kontras met die huidige rassesamestelling van die leerderkorps (45% swart en 55% blank) – deur die aanbevelings is kandidate wat die rassesamestelling van die personeelkorps meer verteenwoordigend sal maak, geïgnoreer.

19.5 In sy betoogshoofde en sy mondelinge betoog het Mnr Danzfuss hierdie aspek verder gevoer deur aan te voer dat uit die vyf swart kandidate en sestien gekleurde kandidate wat aan die minimum vereistes voldoen het, slegs een gekleurde kandidaat op die kortlys geplaas en ‘n onderhoud mee gevoer is. Dit is Mev Van den Heever – sy is egter aanbeveel vir ‘n pos waarvoor sy nie aansoek gedoen het nie. Volgens Mnr Danzfuss het die beheerliggaam die vereiste van kurrikulum behoeftes verabsoluteer en geen ag hoegenaamd geslaan op ander faktore, meer bepaald regstellende aksie nie.

19.6 Meneer Du Toit het in sy betoog, heeltemal tereg na my mening, uitgewys dat hierdie voormelde argument nie tred hou met die feit dat die kandidate wat op die oog af aan die minimum vereistes voldoen, inderwaarheid nie die vakke waaraan die skool ‘n behoefte het, aanbied nie. Hierdie feit het, soos voorheen vermeld, sy ontstaan te danke aan die feit dat die Departement die poste verkeerd geadverteer het. Verder moet dit natuurlik nie buite die oog verloor word nie dat, toe hierdie fout aan die Departement uitgewys is, die skool juis deur Departementele amptenare geadviseer is om toe te sien dat aan die skool se kurrikulumbehoeftes voorsien word wanneer aanbevelings gemaak word. Hierdie nalate en daaropvolgende advies speel ‘n deurslaggewende rol by die beoordeling van die meriete van hierdie bepaalde aspek, te wete die beweerde nie-inagneming van die waardes en beginsels in art 7(1) van die Wet.

19.7 In nie een van die gevalle Van Jaarsveld en Briel, kon die Respondente op die stukke my oortuig dat daar ander, gekwalifiseerde nie-blanke kandidate is wie se aanstellings aan die skool se kurrikulumbehoeftes kon voorsien nie. In die geval van Mev Van Jaarsveld was die advertering van die Departementshoofpos veronderstel om met die aanbieding van Natuur- en Skeikunde as vak gepaard te gaan. Die pos is egter verkeerd geadverteer en omdat Mev Van Jaarsveld wel die bepaalde vak kon aanbied, is sy aanbeveel. In die geval van Mev Briel moes die vakante pos met spesifieke verwysing na die aanbieding van Wiskunde as ‘n vak gepaard gegaan het. Hier is eweneens egter gefouteer met die advertering en omdat slegs Mev Briel Wiskunde kon aanbied, was sy die enigste kandidaat wat aanbeveel is deur die onderhoudskomitee, welke aanbeveling deur die Tweede Applikant aanvaar is.

19.8 Die notule van die Tweede Applikant se kortlysting vergadering (Aanhangsel Q) weerspieël dat demokratiese waardes een van die kriteria is wat in aanmerking geneem sal word in die kortlystingsproses. Dit is ook by hierdie vergadering waar melding gemaak is van die Departementele amptenare se advies dat die probleem met die verkeerde advertering ondervang moes word deur die skool se kurrikulumbehoeftes voorop te stel. Die notule lees dan ook verder dat:

........die OK (onderhoudskomitee) besluit dat, alhoewel alle aansoekers in die kortlystingsproses oorweeg sal word, die skool se kurrikulumbehoeftes voorrang sal geniet.”

20.1 Die notule van die Tweede Applikant se vergadering waar die aanbevelings gemaak is (Aanhangsel “S”) lees as volg ter motivering van die aanbeveling van Mev LA van den Heever:

Die SBL (Tweede Applikant) besluit om Mev LA van den Heever te benoem in bogenoemde pos. Deur haar te benoem, dien die SBL daarmee die skool se kurrikulumbehoeftes sowel as sy mikpunt om meer onderwysers aan te stel uit die gemeenskap wat nie tradisioneel deur die skool bedien is nie. Dit strook natuurlik ook met die NKOD se beleid van verteenwoordigende indiensneming.”



20.2 Meneer Danzfuss het in sy betoogshoofde uitgewys dat hierdie die enigste plek in die notules is waar enigsins verwys word na verteenwoordigende indiensneming. Dit is weliswaar so, maar meen ek nie dat daar meriete is in die suggestie dat hierdie passasie bloot ingevoeg is in die notule om lippediens te bewys aan die vereiste van regstellende indiensneming nie.

21.1 Die konsep van verteenwoordigende indiensneming en van regstelling van die ongelykhede van die verlede is baie ferm gevestig in ons Staatsdiens. Hierdie konsep word onderlê deur die fundamentele demokratiese waardes en beginsels waarop ons Grondwet geskoei is. Hierdie beginsel is dan ook statutêr gevestig vir die Staatsdiens in die algemeen in art 195 van die Grondwet en in art 7(1) van die Wet vir die onderwys in die besonder.

21.2 Artikel 195(1) van die Grondwet bepaal as volg:

Openbare administrasie word beheers deur die demokratiese waardes en beginsels wat in die Grondwet verskans is met inbegrip van die volgende beginsels:


(a) 'n Hoë standaard van beroepsetiek moet bevorder en gehandhaaf word.


(b) Die voordelige, ekonomiese en doeltreffende aanwending van hulpbronne moet bevorder word.


(c) Openbare administrasie moet ontwikkelingsgerig wees.


(d) Dienste moet onpartydig, regverdig, op billike grondslag en sonder vooroordeel gelewer word.


(e) Aandag moet aan mense se behoeftes gegee word, en die publiek moet aangemoedig word om aan beleidsvorming deel te neem.


(f) Openbare administrasie moet verantwoordingspligtig wees.


(g) Deursigtigheid moet bevorder word deur die publiek van tydige, toeganklike en korrekte inligting te voorsien.


(h) Bekwame bestuur van menslike hulpbronne en geskikte loopbaanontwikkelingspraktyke moet ontwikkel word ten einde menslike potensiaal tot die maksimum te ontsluit.


(i) Openbare administrasie moet in die breë verteenwoordigend wees van die Suid-Afrikaanse bevolking, met indiensnemings- en personeelbestuurspraktyke wat gebaseer is op vermoë, objektiwiteit, billikheid en die behoefte om die wanbalanse van die verlede reg te stel ten einde breë verteenwoordiging te bewerkstellig.



21.3 Reeds in 1996 het Landman P in George v Liberty Life Association of Africa Ltd [1996]  8 BLLR 985 (IC) geleentheid gehad om die konsep van regstellende aksie in die werkmilieu van nader te beskou. Hy laat hom as volg daaraangaande uit (te 1005 G – H):

For purposes of the judgment I intend to use the expression ‘affirmative action’ to encompass voluntary measures adopted by an employer which are designed to achieve equal employment opportunities by the adequate protection and advancement of persons or groups or categories of persons disadvantaged by unfair discrimination.

Affirmative action, viewed positively, is designed to eliminate inequality and address systemic and institutionalised discrimination including racial and gender discrimination. It is a mechanism which is capable of eventually ensuring equal opportunities.”

Swart R het omvattend hierdie aspek ontleed in Public Servants Association of SA v Minister of Justice 1997(3) SA 925 (T); veral te 978 H – 979 J.

Vergelyk ook: Department of Correctional Services v Van Vuuren [1999]  11 BLLR 1132 (LAC) te 1135 G – H.

21.4 Die bestaansreg en onderliggende ratio vir die betrokke konsep staan vas in ons Reg. Die belangrikheid daarvan in indiensnemingspraktyke in die Staatsdiens en meer bepaald in die onderwys moet glad nie gering geskat word nie.

21.5 Indien die feite dit onderlê het, sou ek nie gehuiwer het om ‘n bevinding te maak hierin dat die Tweede Applikant nie ag geslaan het op die demokratiese waardes en beginsels vervat in art 7(1) van die Wet nie. Soos egter hierinvantevore aangetoon, is ek nie op die feite in staat daartoe om tot sò ‘n bevinding te kom nie.

21.6 Dit sou ‘n kwade dag wees as ‘n beheerliggaam, wat sy ontstaan en funksies suiwer aan ‘n statuut ontleen, daarmee sou kon wegkom dat hy verteenwoordigende indiensneming en regstellende aksie, soos neergelê in die Grondwet, ignoreer in sy aanbevelings. Die onderhawige aangeleentheid val na my oorwoë mening nie in daardie kategorie nie.


22. Alles inaggenome is ek nie oortuig dat die Tweede Respondent enige basis gehad het om die Tweede Applikant se aanbevelings te misken nie.

23.1 Die volgende vraag wat ontstaan is of die aangeleentheid terug verwys moet word na die Tweede Respondent al dan nie. Hlope R het in University of the Western Cape & others v MEC for Health and Social Services & others 1998(3) SA 124 (K) te 131 D – H ‘n nuttige samevatting van die toepaslike regsbeginsels verskaf as volg:

“Over the years South African Courts have recognised that in exceptional circumstances the Court will substitute its own decision for that of a functionary who has a discretion under the Act. Where the end result is in any event a foregone conclusion and it would merely be a waste of time to order the tribunal or functionary to reconsider the matter, the Courts have not hesitated to substitute their own decision for that of the functionary. (See Johannesburg City Council v Administrator, Transvaal, and Another (supra at 76).) The Courts have also not hesitated to substitute their own decision for that of a functionary where further delay would cause unjustifiable prejudice to the applicant. (See Local Road Transportation Board and Another v Durban City Council and Another 1965 (1) SA 586 (A) at 598--9.) Our Courts have further recognised that they will substitute a decision of a functionary where the functionary or tribunal has exhibited bias or incompetence to such a degree that it would be unfair to require the applicant to submit to the same jurisdiction again. (See Johannesburg City Council v Administrator, Transvaal and Another (supra at 76G)); Traube v Administrator, Transvaal and Others, above at 408.) It would also seem that our Courts are willing to interfere, thereby substituting their own decision for that of a functionary, where the Court is in as good a position to make the decision itself. Of course the mere fact that a Court considers itself as qualified to take the decision as the administrator does not per se justify usurping the administrator's powers or functions. In some cases, however, fairness to the applicant may demand that the Court should take such a view. (See Theron en Andere v Ring van Wellington van die NG Sendingkerk in H Suid-Afrika en Andere 1976 (2) SA 1 (A) , where Jansen JA held that the Court could substitute its own decision because it was dealing with a type of decision with which it was fully familiar and referring the matter back would serve no purpose (at 31D--E).”

Vergelyk ook: Douglas Hoërskool & ‘n ander v Premier, Noord-Kaap 1999(4) SA 1131 te 1148 C – 1149 D.

23.2 Ek is die mening toegedaan dat daar geen nut hoegenaamd in sal wees om die aangeleentheid terug te verwys nie. Die Tweede Respondent het alreeds geleentheid gehad om die aangeleentheid te oorweeg en het, met volledige opgaaf van redes daarvoor, alreeds ‘n besluit daaraangaande geneem. Al die tersaaklike feite is ex facie die stukke voor die Hof. Hierdie Hof is derhalwe in net so ‘n goeie posisie om die aangeleentheid af te handel.

24.1 Wat koste aanbetref het Mnr Danzfuss aan die hand gedoen dat die aansoek prematuur geloods was, aangesien die Tweede Respondent eers op 27 Desember 2001 ‘n besluit geneem het. Daar is geen meriete in hierdie betoog nie. Die Applikante moes noodgedwonge die Hof nader toe die Taakspan die aanstellingsproses in die wiele gery het. Op 27 Desember 2001 het die Tweede Respondent by ooreenkoms ingestem om die aanbevelings te oorweeg en ‘n besluit te neem – iets wat hy in elk geval statutêr verplig was om te doen.

24.2 Beide advokate het submissies gemaak ter ondersteuning van ‘n spesiale kostebevel – Mnr Danzfuss het aan die hand gedoen dat die Applikante gelas moet word om die koste te betaal, al is hulle ook suksesvol, terwyl Mnr Du Toit betoog het dat in geval van sukses, die Applikante geregtig is op ‘n spesiale kostebevel op die skaal van prokureur en eie kliënt. Albei hierdie betoë is gegrond op die feit dat die teenparty kwaadwilliglik opgetree het teenoor die ander. Aangesien ek van mening is dat albei partye blaamwaardig is ten aansien van die emosiebelaaide beweringe in die stukke, gaan ek bloot die gewone kostebevel maak ten gunste van die Applikante.

25. Ek reik die volgende bevel uit:

25.1 Die volgende persone word opgeroep om redes aan te voer, indien enige, voor Vrydag 13 Desember 2002, waarom die bevel soos uiteengesit hierna nie uitgereik sal word nie:

    1. Mnr M Smit;

    2. Mej MA van Jaarsveld;

    3. Mev LA van den Heever;

    4. Mej M Klopper;

    5. Mev SLF Briel;

    6. Mev K Störm.

25.2 Dat die besluit van die Tweede Respondent, geneem nà terugverwysing na hom van die aangeleentheid ingevolge die hofbevel verleen op 14 Desember 2001, om te weier om die opvoeders vermeld in paragraaf 25.1 hierbo aan te stel op aanbeveling van die Tweede Applikant, hersien, vernietig en tersyde gestel word;

25.3 Dat die Tweede Respondent gelas word om binne 7 dae na uitreiking van die finale bevel hierin die opvoeders Margaret Alida van Jaarsveld en Sophia Louisa Frieda Briel aanstel in die pos van departementshoof, posnommer 200110/0105 en in posvlak 1, posnommer 200110/0168 onderskeidelik, met effek vanaf 1 Januarie 2002.

25.4 Dat die Eerste en Tweede Respondente gelas word om gesamentlik en afsonderlik die koste van die aansoek, ingesluit koste wat oorstaan, te betaal.

25.5 Hierdie voorlopige bevel moet op die persone vermeld in paragraaf 25.1 hierbo beteken word ooreenkomstig die voorskrifte vervat in Reël 4(1)(a)(i) of (ii) of (iii).




___________

SA MAJIEDT

REGTER




ADVOKAAT NAMENS APPLIKANTE : ADVOKAAT JI DU TOIT

ADVOKAAT NAMENS RESPONDENT : ADVOKAAT FWA DANZFUSS


PROKUREUR VIR APPLIKANTE : VAN DE WALL & VENNOTE

PROKUREUR VIR RESPONDENTE : HAARHOFFS ING.


DATUM VAN VERHOOR : 2002-18-10

DATUM VAN UITSPRAAK : 2002-11-15