South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2002 >> [2002] ZANCHC 32

| Noteup | LawCite

S v Nelson (919/2002) [2002] ZANCHC 32 (31 October 2002)

Download original files

PDF format

RTF format


Verslagwaardig: Ja / Nee

Sirkuleer aan Regters: Ja / Nee

Sirkuleer aan Landdroste: Ja / Nee


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(Noord-Kaapse Afdeling)


Hersieningsnr: 529/2002

Saaknr: 919/2002

Datum gelewer: 2002-10-31



In die hersieningsaak van:


DIE STAAT


versus


JAN NELSON BESKULDIGDE


Coram: MAJIEDT R et LACOCK R


UITSPRAAK OP HERSIENING



MAJIEDT R:

  1. Die beskuldigde is skuldig bevind aan huisbraak met die opset om te steel asook aan die besit van ‘n klein hoeveelheid dagga. Hy is op die eerste aanklag voormeld ‘n vonnis van 3 jaar gevangenisstraf opgelê en op die tweede aanklag is hy gewaarsku en ontslaan. Aanklag 1 se vonnis is hersienbaar en dit vorm die onderwerp van hierdie hersieningsuitspraak.

  2. Die skuldigbevinding aan huisbraak met die opset om te steel is regtens heeltemal in orde maar het ek op hersiening die landdros versoek om redes te verskaf vir die opgelegde vonnis. Die landdros het voldoen aan hierdie versoek en het volledige redes verskaf.

  3. Die beskuldigde is 15 jaar oud. Hy is by sy ouma woonagtig. Hy het ‘n lang reeks van vorige veroordelings. Inteendeel, hierdie is die sewende geval waar die beskuldigde skuldig bevind word. Sy vorige ses veroordelings is almal vir huisbraak met die opset om te steel en diefstal. Op die eerste vier sodanige veroordelings is hy gewaarsku en ontslaan, op die vyfde is die oplegging van vonnis uitgestel vir 5 jaar en op die laaste (sesde) een is hy 9 maande gevangenisstraf opgelê, welke gevangenisstraf in geheel opgeskort is vir 5 jaar.

  4. Die beskuldigde is op heterdaad betrap in die woning van die klaagster waar hy hy onder ‘n bed in die slaapkamer weggekruip het. Hy het toegang tot die huis verkry deur die slot van die agterdeur af te breek. Van die vensters van die huis was ook gebreek. Die beskuldigde het deur sy inbraak skade aangerig aan die vensterruite en die agterdeurslot van die klaagster se huis. Die klaagster het dus geen skade gely wat die verwydering van haar eiendom aanbetref nie, aangesien die beskuldigde soos ek alreeds gesê het, op heterdaad betrap is.

  5. In sy redes verwys die landdros na geykte gesag en voer hy aan dat hy deur sy vonnis daarna gestreef het om ‘n balans tussen die beskuldigde se persoonlike omstandighede, die erns van die misdryf en die belange van die gemeenskap te handhaaf. Hy voeg verder by dat dit naïef sou wees van ‘n hof om te hoop dat die beskuldigde homself sou rehabiliteer buite gevangenisverband. Hy verklaar verder, heeltemal tereg, dat ‘n opgeskorte vonnis nie die aangewese strafopsie is nie.

  6. Die maatskaplike werker wat ‘n ondersoek gedoen het na die beskuldigde se persoonlike omstandighede het weliswaar ‘n aanbeveling vir opgeskorte gevangenisstraf gemaak. Ek is dit heeltemal eens met die landdros dat so ‘n vonnis nie vanpas sou wees in die omstandighede nie.

  7. Ek verskil egter van die landdros dat ‘n vonnis van drie jaar gevangenisstraf in hierdie geval geregverdig is. Sò ‘n massiewe sprong vanaf 9 maande gevangenisstraf in die geheel opgeskort wat die beskuldigde opgelê is vir sy onmiddellik voorafgaande veroordeling tot een van 3 jaar gevangenisstraf is net eenvoudig onaanvaarbaar. Hierdie opgelegde vonnis is na my mening skokkend onvanpas. Daar is verder die redelike moontlikheid dat die opgeskorte vonnis wat die beskuldigde in 2001 opgelê is ook nog in werking gestel mag word. Ek meen dat ‘n vonnis van 3 jaar gevangenisstraf ‘n treffende wanbalans skep tussen die beskuldigde se persoonlike omstandighede aan die een kant en die erns van die misdryf en die belange van die gemeenskap aan die ander kant. Dat die beskuldigde noodwendig gevangenisstraf sal moet uitdien, staan soos ‘n paal bo water. Ek meen egter dat ‘n aansienlik korter termyn van gevangenisstraf heeltemal gepas sou wees in hierdie geval.

  8. Die landdros se mening dat die beskuldigde se vonnis in die lig van sy lang rekord, haglike huislike omstandighede en moontlike rehabilitasie by die jeugafdeling te De Aar, nie ‘n onvanpaste vonnis is nie, oortuig geensins nie. Die beskuldigde kan per slot van sake nie verantwoordelik gehou word vir sy haglike huislike omstandighede nie. Verder meen ek dat moontlike rehabilitasie by ‘n jeugafdeling van ‘n gevangenis net so goed kan geskied in ‘n korter tydperk as wat dit in 3 jaar gedoen kan word.

9.1 Die beskuldigde se skuldigbevinding op aanklag 1 word bekragtig, maar die vonnis van 3 jaar gevangenisstraf word ter syde gestel.

9.2 Die beskuldigde word gevonnis tot 18 maande gevangenisstraf en dit word gelas dat hy dié gevangenisstraf sal uitdien by die jeugafdeling van die De Aar-gevangenis.

9.3 Ingevolge die bepalings vervat in art 282 van die Strafproseswet word die vonnis teruggedateer tot 29 Augustus 2002.






___________

SA MAJIEDT

REGTER



Ek stem saam:





___________

HJ LACOCK

REGTER