South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2002 >> [2002] ZANCHC 31

| Noteup | LawCite

De Bruin and Others v Lid van die Uitvoerende Raad Belas met Onderwys, Noord-Kaapse Provinsiale Regering and Another (1061/2001) [2002] ZANCHC 31 (29 November 2002)

Download original files

PDF format

RTF format


Verslagwaardig: Ja / Nee

Sirkuleer aan Regters: Ja / Nee

Sirkuleer aan Landdroste: Ja / Nee


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(Noord-Kaapse Afdeling)


Saakno: 1061/2001


Datum Verhoor: 2002-11-21 Datum Gelewer: 2002-11-29



In die saak van:



W DE BRUIN Eerste Applikant

H PIETERS Tweede Applikant

AS SNYDERS Derde Applikant

LJ EKSTEEN Vierde Applikant

MC MACZALI Vyfde Applikant


versus


DIE LID VAN DIE UITVOERENDE RAAD BELAS MET

ONDERWYS, NOORD-KAAPSE PROVINSIALE REGERING Eerste Respondent

DIE DEPARTEMENTSHOOF : DEPARTEMENT VAN

ONDERWYS VAN DIE NOORD-KAAP PROVINSIE Tweede Respondent


Coram: MAJIEDT R et LACOCK R


UITSPRAAK



MAJIEDT R:

  1. Die 5 applikante is opvoeders in diens van die Departement van Onderwys in die Noord-Kaap (“die Departement”). Hulle is almal skuldig bevind aan wangedrag deur ‘n dissiplinêre tribunaal en is ‘n aanbeveling gemaak dat hulle almal uit diens ontslaan word. Die tweede respondent het hierdie aanbeveling aanvaar en is die applikante almal uit diens ontslaan. ‘n Appél teen die voormelde bevinding na die eerste respondent was onsuksesvol en is die tweede respondent se besluit bekragtig. Die applikante nader nou hierdie Hof met ‘n aansoek vir die hersiening en tersydestelling van hierdie voormelde besluite van die respondente.

  2. By ooreenkoms tussen die partye en voortspruitend uit ‘n dringende aansoek vir tussentydse regshulp, is die applikante se uitdiensstelling opgeskort hangende die beregting van hierdie hersieningsaansoek.

  3. Die bepalings vervat in die Wet op die Indiensneming van Opvoeders, 76 van 1998 (“die Wet”) reguleer die tersaaklike aspekte van die gebeure wat ek ter inleiding na verwys het. Die Wet is gewysig deur Wet 53 van 2000, maar aangesien die voormelde tugstappe teen die applikante ingestel is aangaande beweerde wangedrag wat gepleeg is voor die inwerkingrtreding van Wet 53 van 2000, geld die bepalings van die Wet soos dit daar uitgesien het voor die voormelde wysiging (vergelyk art. 38A van die Wet).

  4. Die applikante was daarvan aangekla en is daaraan skuldig bevind dat hulle aan ‘n onwettige sitstaking deelgeneem het by die Hoërskool Carnarvon (”die skool”) waar hulle in diens was. Op die meriete het hulle nooit hierdie feite betwis nie, maar het hulle gepoog om dié optrede te probeer regverdig aan die hand van sekere griewe wat hulle gekoester het.

  5. Op hersiening voor ons het die applikante aanvanklik gesteun op twee breë gronde, te wete:

5.1 Prosedurele onreëlmatigheid deurdat:

5.1.1 die applikante nie van ‘n skriftelike oorkonde van die verrigtinge voor die tribunaal voorsien is nie (die verrigtinge was op band opgeneem); en

5.1.2 die dokumentêre bewysstukke wat tydens die verrigtinge ingehandig is (ses in totaal) nie aan die applikante oorhandig is nie, met die gevolg dat hulle nie behoorlike vertoë kon voorberei nie; en

5.1.3 die tweede respondent nie in besit was van die voormelde bewysstukke toe hy sy besluit geneem het nie.

5.2 Substantiewe ongeregtigheid deurdat nóg die eerste, nóg die tweede respondente enigsins ag geslaan het op die getuienis voor die tribunaal nie – die applikante het beweer dat nie een van die respondente na die bandopnames (tien in totaal wat die ses dae wat die verrigtinge geduur het se getuienis bevat) geluister het nie.

  1. Beide respondente het in hul antwoordende eedsverklarings ontken dat hulle glad nie na die bandopnames geluister het nie. Met inagneming van die welbekende beginsels neergelê in Plascon-Evans Paints Ltd v Van Riebeeck Paints (Pty) Ltd 1984(3) SA 623(A) was Mnr Du Toit namens die applikante genoodsaak om die aftog te blaas wat die aspek van substantiewe ongeregtigheid aanbetref. Al wat nog beregting verg hierin is die kwessie van prosedurele onreëlmatigheid. Daarmee gepaardgaande is dit uiteindelik slegs die eerste respondent se besluit om die appél af te wys, wat nog aangeval word hierin.

  2. Dit is gemeensaak dat die respondente geweier het om te voldoen aan die applikante se versoek om hulle te voorsien van ‘n transkripsie van die bandopnames van die dissiplinêre verrigtinge. Dit is verder gemeensaak dat die klankbande eers getranskribeer is vir doeleindes van hierdie hersieningsaansoek. Die respondente het deurgaans volgehou met die siening dat die Wet nie vereis dat die notule van die dissiplinêre verrigtinge op skrif hoef te wees nie. Nadat ‘n versoek daarvoor gerig is, het die tweede respondent se kantoor bloot die tien kassette beskikbaar gestel aan die applikante om na te luister of om te dupliseer. Nog later is kopieë van die tien kassette aan die applikante gestuur. Die applikante se saak is dat die oorkonde of notule wel getranskribeer moet word, kragtens die Wet se bepalings.

  3. Ons het uiters breedvoerige betoë aangehoor van beide advokate ten aansien van die beweerde prosedurele onreëlmatighede soos hierbo aangestip. Veral Mnr Olivier, namens die respondente, het interessante en by tye vindingryke submissies voorgehou aangaande die vraag of die “notule van verrigtinge” (in Engels : “the record of proceedings”) in die Wet wel ‘n skriftelike oorkonde bedoel. Na my mening is dit nie nodig om bevindings hieraangaande te maak nie. Ek is bereid om te aanvaar, sonder om daaroor te beslis, dat daar prosedurele onreëlmatighede geskied het in een of meer van die opsigte soos voorgehou deur die applikante (sien par 5.1 hierbo). Die kardinale aspek wat dan beregting sal verg is die vraag of daar benadeling teweeggebring is aan die applikante deur hierdie prosedurele onreëlmatighede.

  4. Ter motivering van my voormelde benadering is dit belangrik om in gedagte te hou dat dit vasstaan in ons reg dat ‘n geregshof slegs aan ‘n applikant op hersiening verligting sal verleen, indien bewys is dat só ‘n applikant benadeel is.

In Rajah & Rajah (Pty) Ltd & others v Ventersdorp Municipality & others 1961(4) SA 402 (A) te 407H – 408A is dit as volg gestel:

Now I think it is clear that the Court will not interfere on review with the decision of a quasi-judicial tribunal where there has been an irregularity, if satisfied that the complaining party has suffered no prejudice. Jockey Club of South Africa and Others v Feldman, 1942 AD 340 at p. 359; Larson and Others v Northern Zululand Rural Licensing Board, 1943 NPD 40. In principle it seems to me that the Court should likewise not interfere in the present case at the instance of the Council, whatever the precise nature of the present proceedings, since it is clear that there has been no prejudice to the public interest which the Council represents. The underlying principle is that the Court is disinterested in academic situations.”

Vergelyk ook: Napolitano v Commissioner of Child Welfare, Johannesburg & others 1965(1) SA 742 (A) te 745 H;

SA Post Office Ltd v Chairperson, Western Cape Provincial Tender Board 2001(2) SA 675(K) te 694 F-H;

Vize v Wilmans NO 2001(4) SA 1114 (NK) te 1120I – 1121D;

Du Plessis v Prokureursorde, Transvaal 2002(4) SA 344 (T) te 350 C-G.

  1. Op wie rus die bewyslas om sodanige benadeling of die afwesigheid daarvan aan te toon? Baxter, Administrative Law te 718 huldig die standpunt dat nadeel veronderstel sal word indien onregmatigheid bewys is.

Sien ook : Jockey Club of South Africa v Feldman 1942 AD 340 te 359.

Baxter gaan verder en verklaar dat die bewyslas om die afwesigheid van benadeling aan te toon op ‘n respondent rus. Meneer Olivier het betoog dat hierdie standpunt nie meer die geldende reg kan wees nie, inaggenome die bepalings vervat in die Promotion of Administrative Justice Act, 3 van 2000. Dit is gemeensaak dat die bepalings van hierdie wet van toepassing is op die onderhawige geval. Artikel 6(1) daarvan bepaal dat:

Any person may institute proceedings in a court or a tribunal for the judicial review of an administrative action”.


In artikel 1 word “administrative action” omskryf as:

...........any decision taken ....... which adversely affects the rights of any person .......”. (my beklemtoning).


Daar is heelwat te sê vir Mnr Olivier se argument dat die voormelde bepalings die bewyslas verskuif na ‘n applikant wat sal moet aantoon dat ‘n besluit “adversely affects his rights”.

Chaskalson en andere in hul werk, Constitutional Law of South Africa, te 63-20 [par. 63.3.(b).(vi)] huldig die mening dat hierdie bepaalde element in die definisie die mees opspraakwekkende een is. Volgens hulle beperk hierdie vereiste die trefwydte van die voormelde Wet ingrypend.

Cora Hoexter, “The Future of Judicial Review in South African Administrative Law” (2000) 117 SA LJ 484 te 514, gaan selfs verder in haar kritiek van dié vereiste en verklaar as volg:

This is a startling departure both from the definition proposed by the South African Law Commission and from the common law, and in my view its effects is to narrow the ambit of administrative action beyond what is acceptable ... On this score alone one must harbour the gravest doubts about the constitutionality of s 1 of the Act.”



  1. Dit is na my mening eweneens nie nodig om ‘n bevinding te maak aangaande hierdie verskuifde bewyslas nie. Selfs al word aanvaar dat die bewyslas steeds op die respondente rus in die onderhawige geval, is ek die mening toegedaan dat dit oorvloediglik bewese is op die stukke dat die applikante nie benadeel is deur enige prosedurele onreëlmatigheid/hede nie. Ek kom tot die bevinding aan die hand van die volgende aspekte hierna aangestip.

  2. Die applikante se saak, by monde van hul regsverteenwoordiger is dat die benadeling daarin geleë is dat hulle nie hul reg op audi alteram partem ten volle kon uitoefen nie. Soos ek dit verstaan, is die argument dat hulle ernstig gekniehalter is in die voorbereiding van hul vertoë aan die eerste respondent, deurdat hulle nie in besit was van ‘n getranskribeerde oorkonde en van die bewysstukke nie.

  3. Die hoogwatermerk van die applikante se saak ten aansien van benadeling word as volg uiteengesit in hul funderende stukke:

50.


Die Applikante is, benewens die opsigte alreeds vermeld, in die volgende opsigte benadeel deur die versuim van die Tweede Respondent om ‘n getranskribeerde weergawe van die dissiplinêre verhoor tot hulle beskikking te stel en om die bewysstukke wat ingedien is tydens die dissiplinêre verhoor tot hulle beskikking te stel naamlik:


50.1 Dit was eenvoudig ‘n onbegonne taak vir ons prokureur en al vyf die Applikante om na die bande te luister en dan aan die hand daarvan en met verwysing na spesifieke passassies in die getuienis, skriftelike vertoë op te stel;


50.2 Dit was onmoontlik om getuienis wat in die guns van Applikante gelewer is in die skriftelike vertoë uit te wys omdat daar geen verwysingsraamwerk was nie. Slegs algemene submissies kon in hierdie verband gemaak word sonder spesifieke verwysing na spesifieke passassies in die getuienis;


50.3 Applikante moes gevolglik grootliks op hul geheue staatmaak om hul vertoë te begrond sonder dat hulle geleentheid gebied is om alle aspekte wat in hul guns sou kon tel, ehoorlik te identifiseer en aan te haal in hul vetoë;


50.4 Die akkuraatheid van inligting wat van luister afkomstig is, kan nooit vergelykbaar wees met die akkuraatheid wat verkry kan word van inligting wat op skrif verskyn nie, waarna die Eerste Respondent verwys kon word en wat sy spesifiek kon lees om self te bepaal of die submissie goed of sleg is nie;


50.5 Sonder die bewysstukke, is dit eenvoudig ‘n rondtasting in die donker om vertoë te begrond en sinvolle submissies aan die Eerste Respondent te maak;


50.6 Die is vir ons onbegryplik hoedat die Eerste Respondent wat, sekerlik onafhanklik van enige vertoë wat ons mag rig, onafhanklik tot regverdige bevindings behoort te kom, dit hoegenaamd kan doen sonder verwysing na enige bewysstuk en sonder om ‘n oorkonde te lees. Ons vind dit eenvoudig onwaarskynlik dat ‘n belangrike politikus soos die Eerste Respondent, sowat ses dae van haar tyd sou afstaan om na die bande te luister. Dit blyk duidelik uit haar uitspraak, wat ek aanstons sal ontleed, dat sy inderdaad nie daarna geluister het nie.”



  1. Die applikante het alreeds, soos vermeld is, toegegee dat hierdie aangeleentheid benader moet word op die basis dat die eerste respondent wel na die klankopnames van die verrigtinge geluister het. Punt 50.6, hierbo aangehaal, kan gevolglik buite rekening gelaat word.

  2. Die applikante het via hul prokureur (wat ook vir hulle tydens die dissiplinêre verhoor opgetree het sowel as in hierdie hersieningsaansoek) volledige vertoë opgestel. Hulle het weliswaar hulle regte voorbehou gegewe die gebrek aan ‘n getikte oorkonde en die bewysstukke. Dit doen nie afbreuk daaraan nie dat die vertoë van aansienlike omvang is (dit beslaan 7 bladsye), besonder goed beredeneerd is en dat die opsteller daarvan, soos die applikante, tydens al ses dae teenwoordig was tydens die dissiplinêre verhoor.

  3. Enige aandagtige luisteraar na die klankopname van die dissiplinêre verigtinge sou deeglik bewus geword het van die getuienis wat gelei is en van die bewysstukke wat ingedien is by die verhoor. Verder het die eerste respondent pertinent verwys na die vertoë waar gewag gemaak is van die feit dat een van die bewysstukke (‘n brief van die Speaker waarin die applikante versoek word om hul sitstaking te beëindig met ‘n gepaardgaande belofte dat aandag aan hulle griewe geskenk sal word) verkeerd geïnterpreteer is deur die tribunaal. Anders as laasgenoemde, verwyt die eerste respondent glad nie die applikante daarvoor dat hulle eers na die tussentrede van die Speaker teruggekeer het na hulle klaskamers nie.

  4. Die eerste respondent het volledige redes verskaf vir die afwysing van die applikante se appél. Daardie redes getuig van ‘n sorgvuldige oorweging van die getuienis, die applikante se vertoë en van al die tersaaklike omstandighede, beide wat die skuldigbevinding en strafsanksie aanbetref.

  5. Die vraag ontstaan natuurlik – waarom, indien die applikante sterk genoeg gevoel het daaroor, hulle nie die Hof genader het op ‘n dringende basis vir ‘n mandamus dat die getranskribeerde oorkonde en die bewysstukke aan hulle beskikbaar gestel moet word alvorens hulle ingevolge die Wet verplig word om vertoë in te dien nie? Hierdie aspek word ook deur die eerste respondent te berde gebring in haar redes vir haar besluit.

  6. Daar kan verseker aanvaar word dat die applikante se prokureur tydens die dissiplinêre verhoor so volledig as moontlik per lang hand rekord gehou het van die getuienis. Hierdie afleiding word gerugsteun deur die volledige skriftelike betoogshoofde (8 getikte bladsye) wat toe namens die applikante opgestel is. Hierdie betoogshoofde is verder wydlopend en volledig toegelig deur die applikante se prokureur se mondelinge betoë. In die skriftelike sowel as die mondelinge betoë word deurlopend verwys na die getuienis voor die tribunaal en na die bewysstukke wat ingehandig is.

  7. Dit kan aanvaar word dat die eerste respondent tot haar besluit van 27 Augustus 2001 om die appél af te wys gekom het sonder dat sy die bewysstukke A tot en met F onder oë gehad het. Dit moet egter insgelyks aanvaar word dat sy wel na die bandopnames van die verrigtinge geluister het vir die redes hierinvantevore vermeld. Ons het Mnr Du Toit uitgenooi om aan te toon tot welke mate en op welke basis die eerste respondent tot ‘n ander besluit sou gekom het as sy wel die bewysstukke in haar besit sou gehad het en dit deurgegaan het. Hy kon nie enige sodanige basis aantoon nie.

  8. Dit is nuttig om vlugtig te kyk na die aard en inhoud van die bewysstukke wat by die tribunaal ingedien is. Dit behels die volgende:

21.1 Bewysstukke A1 en A2 is skrywes van die derde en vierde applikante aan die skool gedateer 6 Augustus 1999 waarin hulle bekendmaak dat hulle vanweë “dringende sake” die skool om 12h00 op daardie bepaalde dag sal verlaat.

21.2 Bewysstuk B is ‘n skrywe van die voorsitter van die beheerraad aan die Departement se kringbestuurder, gedateer 29 Julie 1999, waarin laasvermelde ingelig word dat ‘n Mnr H Robyn amptelik aanbeveel word vir aanstelling as waarnemende prinsipaal vir daardie (derde) termyn.

21.3 Bewysstuk C is ‘n reaksie op bewysstuk B waarin die beheerraad se aanbeveling aanvaar en die aanstelling van Mnr Robyn bekragtig word.

21.4 Bewysstuk D is ‘n memo mede-onderteken deur al die applikante, gerig aan die ouergemeenskap van die skool. Die opskrif daarvan is “Verklaring deur stakende onderwysers” en dit is gedateer 5 Augustus 1999. Daarin word aangekondig dat die applikante terugkeer na hulle dienste “op versoek van die Permier (se) kantoor” en word die voorwaardes van sodanige terugkeer op rekord geplaas.

21.5 Bewysstuk E is ‘n brief gerig aan die derde applikant, afkomstig van die Speaker van die Noord-Kaapse Wetgewer, Mnr. CAT Smith, gedateer 5 Augustus 1999. Ek ag dit nodig om dié brief aan te haal:

REQUEST TO RETURN TO CLASSROOM


Purpose: For your information and action


Please note that I hereby humbly request that you return to the classrooms, and I will take up the matter with the Honourable Mrs Tina Joemat-Pettersson, MEC for Education as well as with the Honourable Premier Manne Dipico.


Please contact me telephonically in this regard.


Hope you find this in order.


Kind regards.


Yours faithfully



(Mr) CAT Smith

SPEAKER OF NORTHERN CAPE LEGISLATURE”



21.6 Bewysstuk F is ‘n handgeskrewe interne memo vanaf die waarnemende prinsipaal, Mnr Robyn aan ene Mnr D Jason, ‘n opvoeder by die skool, waarin laasgenoemde se verantwoordelikhede by die skool uiteengesit word.

  1. Dit is moeilik te verstane hoedat benadeling kan volg waar die funksionaris (eerste respondent) ‘n besluit neem by onstentenis van enige van die voormelde bewysstukke, waar die funksionaris wel egter na die klankopname van die verrigtinge geluister het. Ek is bereid om te aanvaar dat die tribunaal bewysstuk E hierbo tot nadeel van die applikante verkeerd geïnterpreteer het. Die tribunaal se bevinding was dat dit oorreding deur die Speaker geverg het om die applikante terug in hul klaskamers te kry. Hierdie aspek is volledig voor die eerste respondent geplaas in die applikante se vertoë. Sy het dit, in haar redes vir haar besluit, deeglik oorweeg en behandel. Nêrens in daardie redes kom dieselfde waninterpretasie voor nie. Nêrens daarin word die applikante enigsins verwyt vir die feit dat hulle teruggekeer het klaskamers toe eers op die stadium toe die Speaker hulle só versoek het nie. Die eerste respondent verwyt eerder, heeltemal tereg, die applikante daarvoor dat hulle nie die voorgeskrewe griewe prosedure gevolg het nie en omdat hulle die belange van die leerders gruwelik vernalaat het deur hul onwettige staking.

  2. Na my mening behoort ‘n applikant op hersiening in sy funderende stukke verder te gaan as ‘n blote bewering van benadeling – daar moet ‘n basis gelê word dat ‘n bepaalde onreëlmatigheid direk of indirek ‘n bepaalde nadelige gevolg (in casu – die ontslag van die applikante) veroorsaak het. ‘n Applikant moet per slot van sake in sy funderende verklarings (en by ‘n hersieningsaansoek soos hierdie sluit dit ‘n applikant se aanvullende funderende eedsverklarings in) sy saak behoorlik uitmaak;

Sien: M & V Tractor & Implement Agencies BK v Vennootskap DSU Cilliers en seuns en andere 2000(2) SA 571 (NK).

Prince v President Cape Law Society 2001(2) SA 388 (CC) te 399 E-F.

n Respondent kan tog net hom van die bewyslas ten aansien van benadeling kwyt (as ons hierin aanvaar dat die bewyslas wel op hom rus) indien hy gekonfronteer word met pertinente beweringe van daadwerklike of potensiële benadeling.

  1. Uit hoofde van die voorafgaande is ek heeltemal oortuig daarvan dat daar geen sprake hoegenaamd van enige benadeling aan die applikante hierin kan wees nie.

  2. Bowendien en in elk geval, selfs al het die respondente gefouteer deur nie ‘n geskrewe transkripsie van die klankopnames sowel as die bewysstukke aan die applikante beskikbaar te stel nie, is daar by my geen twyfel nie dat die slotsom presies dieselfde sou wees, te wete eerste respondent se bekragtiging van die tweede respondent se besluit om die applikante uit diens te ontslaan. In sulke omstandighede het ‘n geregshof op hersiening geen bevoegdheid om met sodanige besluit in te meng nie.

Sien: Hira v Booysen 1992(4) SA 69 (A) te 93 G-H.

Vergelyk ook die hof se benadering in: Du Plessis v Prokureursorde, Transvaal, supra te 350 G-H/

  1. Dit volg derhalwe dat daar nie ‘n regsbasis is waarop hierdie Hof die eerste respondent se besluit kan hersien en tersyde stel nie. Die advokate was ad idem dat die afwysing van die aansoek noodwendig daartoe sal lei dat die applikante as onsuksesvolle party die koste van die hoofaansoek sowel as die koste van die uitstel op 27 September 2002 sal moet betaal.

  2. Vervolgens maak ek die volgende bevel:

1. Die aansoek word afgewys.

2. Die applikante word gelas om gesamentlik en afsonderlik die koste van die aansoek te betaal, welke koste sal insluit die koste teweeggebring deur die uitstel van die aansoek op 27 September 2002.



___________

SA MAJIEDT

REGTER



Ek stem saam:



___________

HJ LACOCK

REGTER


ADVOKAAT NAMENS APPLIKANTE : ADV JI DU TOIT

ADVOKAAT NAMENS RESPONDENTE : ADV WA OLIVIER SC

PROKUREUR NAMENS APPLIKANTE : VAN DE WALL & VENNOTE

PROKUREUR NAMENS RESPONDENTE : HAARHOFFS

DATUM VAN VERHOOR : 21 NOVEMBER 2002

DATUM VAN UITSPRAAK : 29 NOVEMBER 2002