South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
You are here: SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2002 >> [2002] ZANCHC 30 | Noteup | LawCiteSishen iron Ore Company (Pty) Ltd v Krugel (986/2002) [2002] ZANCHC 30 (29 November 2002)
Download original files |
Verslagwaardig: Ja / Nee
Sirkuleer aan Regters: Ja / Nee
Sirkuleer aan Landdroste: Ja / Nee
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Afdeling)
Saakno: 986/2002
Datum Verhoor: 2002-11-15 Datum Gelewer: 2002-11-29
In die saak van:
SISHEN IRON ORE COMPANY (PTY) LTD APPLIKANT
versus
WILLEM FREDERICK KRüGEL VERWEERDER
Coram: MAJIEDT R
UITSPRAAK
MAJIEDT R:
Hierdie is ‘n bestrede aansoek vir die voorlopige sekwestrasie van die respondent se boedel. Die aansoek is aanvanklik as een van dringendheid gebring, maar na opponering is dit uitgestel sodat antwoordende en repliserende eedsverklarings afgelewer kon word.
Artikel 10 van die Insolvensiewet, nr. 24 van 1936 (hierna “die Wet” genoem), vereis van ‘n applikant om die volgende prima facie bewys te lewer deur getuienis voor die hof alvorens ‘n bevel van voorlopige sekwestrasie uitgereik sal word :
Dat die applikant ‘n vordering het teen die respondent van ten minste R100;
Dat die respondent ‘n daad van insolvensie gepleeg het of daadwerklik insolvent is;
Dat daar rede is om te glo dat die sekwestrasie van die respondent se boedel tot die voordeel van die respondent se skuldeisers sal wees.
In die stukke voor my is dit gemeensaak dat die applikant wel vereistes (a) en (b) in die voorafgaande paragraaf bewys het. Al wat in geskil is, is die vraag of daar rede bestaan om aan te neem dat dit tot voordeel van die skuldeisers van die respondent sal strek as sy boedel gesekwestreer word. Wat hierdie betrokke aspek aanbetref, beoog ek om ‘n tweeledige ondersoek te doen naamlik :
of daar ‘n dividend beskikbaar sal wees aan konkurrente skuldeisers en daarmee saam of sodanige dividend noemenswaardig moet wees en of enige dividend goed genoeg sal wees;
of daar voldoende gronde bestaan op die stukke om te glo dat die aanstelling van ‘n kurator en sy daaropvolgende ondersoeke daartoe sal lei dat òf verdere bates ontdek sal word òf dat transaksies aangegaan deur die respondent tersyde gestel kan word.
4.1 Die respondent het via sy prokureur in sy opponerende stukke ‘n berekening gedoen en daarvolgens sou ‘n vrye oorskot van R66873.12 beskikbaar wees vir verdeling onder konkurrente skuldeisers wat ‘n dividend van hoogstens 3 sent in die rand sou oplewer. Hierdie berekening neem egter nie in aanmerking die opgelope rente op bedrae verskuldig aan bepaalde skuldeisers nie. Wanneer sodanige opgelope rente ook bygewerk word, dan sal die dividend natuurlik minder wees.
4.2 Meskin, Insolvency Law te bladsy 2-19 neem die volgende houding ten aansien van die beskikbare dividende vir verdeling onder konkurrente skuldeisers in:
“It is respectfully submitted that the correct position is that the relevant reason to believe (whether sequestration will be to the advantage of creditors) exists where, after making allowance for the anticipated costs of sequestration, there is a reasonable prospect of an actual payment being made to each creditor who proves a claim, however small such payment may be, unless some other means of dealing with the debtor’s predicament is likely to yield a larger such payment.” (my invoeging en beklemtoning)
Ons howe het egter deurlopend ‘n teenoorgestelde houding ingeneem as dié voorgehou deur Meskin. Daarvolgens sal enige bedrag nie noodwendig voldoende wees nie maar word vereis dat daar inderdaad ‘n “not negligible dividend” moet wees.
Sien ondermeer : London Estates (Pty) Ltd v Nair 1957(3) SA 591 (D);
Epstein v Epstein 1987(4) SA 606 (K) te 609 D;
Hillhouse v Stott; Freban Investments (Pty) Ltd v Itzkin; Botha v Botha 1990(4) SA 580 (W).
4.3 Op die stukke voor my blyk dit nie asof die applikant ernstig in geskil plaas dat, soos wat die respondent se bates en laste tans daar uitsien nie, daar nie voordeel vir die skuldeisers sal wees nie. Alhoewel Mnr Zietsman, wat namens die applikant verskyn, my probeer oortuig het dat ek die benadering van Meskin behoort te volg, is ek tevrede dat die benadering soos deur die howe gevolg, inderdaad die korrekte een is. Dit is dan ook die benadering in hierdie afdeling dat ‘n beduidende dividend moet voortvloei alvorens gesê kan word dat sekwestrasie tot voordeel van skuldeisers sal wees. Tydens sy betoog was Mnr. Zietsman dan ook genoodsaak om ‘n toegewing te maak dat daar nie ‘n beduidende dividend sal voortvloei vir konkurrente skuldeisers nie, gegewe die huidige stand van sake van die respondent se boedel. Ek moet hier melding maak van die feit dat die respondent in sy antwoordende eedsverklaring ‘n volledige uiteensetting verskaf het van sy bates en laste. In repliek het die applikant glad nie daarmee in geskil getree nie. Ek neem in ag dat wanneer dit kom by die konsep van voordeel vir skuldeisers, dan beteken dit die voordeel wat ‘n aansienlike gedeelte van skuldeisers sal toeval. In Fesi and another v Absa Bank Ltd 2000(1) SA 499 (K) te 505 B – 506 D is bevind dat hierdie term beteken dat dit ‘n meerderheid van skuldeisers moet wees ten aansien van die bedrag wat verskuldig is deur die insolvent/respondent. Ek vereenselwig my respekvol met hierdie siening. Alles inaggenome is ek die mening toegedaan dat daar nie ‘n basis is om te kan bevind dat wat betref die dividend wat konkurrente skuldeisers sal toeval daar voordeel vir skuldeisers sal wees indien die respondent se boedel gesekwestreer sou word nie.
5.1 In sy aanvullende skriftelike betoogshoofde het Mnr. Zietsman aangevoer dat waar ‘n daad van insolvensie bewys is deur ‘n applikant in sekwestrasieverrigtinge (in casu is dit gemene saak dat die respondent wel ‘n daad van insolvensie gepleeg het), sterk gronde deur ‘n respondent aan die Hof voorgelê sal moet word, ter weerlegging. As gesag het hy verwys na Stock Owners Co-operative Co. Ltd v Rautenbach 1960(2) SA 123 (EC) te 127.
5.2 Hierdie voormelde benadering wat ook in ander vroeëre sake neergelê is (vergelyk Wilkens v Pieterse 1937 CPD 165; Erasmus v Van Zyl 1959(3) SA 146 (E) te 147 A-F), is nie gevolg in ander afdelings nie.
Sien: Leadenhall Meat Market v Hartman 1938 WLD 99 te 103;
Paarl Wine & Brandy Co. Ltd v Van As 1955(3) SA 558 (O) te 560 A;
Lotzof v Raubenheimer 1959(1) SA 90(O) te 93 G – 94 A.
5.3 In hierdie afdeling is die benadering in die Stock Owners Co-op-saak (supra) en die ander sake tot dieselfde effek, uitdruklik verwerp.
Sien: LTR Beleggings (Edms) Bpk v Hechter (Mynhardt toetredend) 1977 (1) SA 22 (NK) te 24 A-B.
Ek vereenselwig my respekvol met hierdie laasvermelde benadering.
5.4 Die betoog dat ‘n nulla bona relaas (soos in casu) die redelike afleiding regverdig dat ‘n ondersoek noodwendig mag lei tot voordeel vir skuldeisers, gaan ook nie op nie.
Vergelyk: Paarl Wine & Brandy Co. Ltd v Van As, supra, te 560 C:
“......a nulla bona return, provide no reinforcement for the contention that the sequestration will be to the advantage of creditors”.
Sien ook: Lotzof v Raubenheimer, supra, te 93 H.
Dit bring my by die volgende aspek, te wete of die aanstelling van ‘n kurator met die gepaardgaande masjinerie wat die Insolvensiewet aan hom verskaf, redelikerwys daartoe sal lei dat hy bates sal opspoor wat sal lei tot ‘n finansiële voordeel vir die respondent se skuldeisers. Wat hierdie aspek aanbetref is dit klinkklaar op die stukke dat daar nie ‘n suggestie is dat daar verborge bates van die respondent is wat hy nie geopenbaar het nie. Die applikant se saak is uitsluitlik daarop geskoei dat die kurator suksesvol kan wees in die tersydestelling van sekere suspisieuse transaksies waarna ek aanstons meer volledig sal verwys.
In Borchers v Kaehne 1933 SWA 105 te 108 het Van den Heever R verklaar dat:
“Sequestration is an extraordinary process in execution – if it can at all be appropriately regarded as such – and each creditor is presumed to be the best judge as to what is to his benefit.”
In LTR Beleggings (Edms) Bpk v Hechter supra te 24 D verklaar Van den Heever R (soos sy toe was) as volg:
“En, die geleentheid wat sekwestrasie daarstel om ondersoek in te stel na 'n insolvent se transaksies is per se 'n voordeel mits daar rede is om te vermoed dat
"as a result of inquiry under the Act some asset may be revealed or recovered for the benefit of the creditors"
Vergelyk ook: Meskin & Co. v Friedman 1948(2) SA 555(W) te 559;
London Estates (Pty) Ltd v Nair supra te 593.
Wat staan dan ‘n applikant te doen om oor hierdie bepaalde hekkie te kom om ‘n hof te oorreed dat daar voordeel vir skuldeisers sal wees voortspruitend uit ‘n kurator se ondersoeke? “Rede om te vermoed” gaan van die veronderstelling uit dat daar feite bestaan wat sò ‘n vermoede onderlê – hierdie feite moet op ‘n prima facie basis aangetoon word deur ‘n applikant op die stadium wanneer hy ‘n voorlopige sekwestrasiebevel aanvra (by die keerdag sal hy dit op ‘n oorwig van waarskynlikhede moet bewys indien hy ‘n finale sekwestrasiebevel sou verlang).
Sien London Estates (Pty) Ltd v Nair supra te 593.
Meneer Zietsman, wat namens die applikant verskyn, het veral gefokus op twee suspisieuse transaksies hierin, te wete die verkoop van die plaas Wonderfontein asook die verkoop van die respondent se skrootmateriaal besigheid aan ene Wienand. Alhoewel Mnr Zietsman sydelings in sy betoogshoofde verwys het na die bestaan van 4 erwe te De Aar wat die eiendom van die respondent is en waarop onvoldoende bodpryse ontvang is tydens ‘n eksekusieveiling, het hy glad nie daarmee gehandel tydens sy mondelinge betoog nie. Die submissie gemaak in die skriftelike betoogshoofde dat ‘n insolvensieveiling gehou deur ‘n kurator gewoonlik beter pryse oplewer as ‘n gewone eksekusieveiling, verloor heeltemal buite die oog dat hierdie ‘n gedwonge veiling sal wees. Daar kan derhalwe verwag word dat pryse betaal sal word wat aansienlik laer is as markverwante pryse;
Sien in hierdie verband: Nel v Lubbe 1999(3) SA 109(W);
Ex parte Anthony en ‘n ander en ses soortgelyke aansoeke 2000(4) SA116(K).
Daar is nêrens gesuggereer dat daar enigiets verdag is rondom hierdie voormelde 4 erwe te De Aar nie en meen ek dat dit buite rekening gelaat kan word vir hierdie bepaalde ondersoek waarmee ek nou besig is.
Wat die plaas Wonderfontein aanbetref is die volgende aspekte gemeensaak:
Die plaas, wat 3,400 ha groot is, is deur die respondent aangekoop gedurende 1999 vir ‘n bedrag van R1 240 000,00.
Deur ‘n skriftelike koopkontrak gedateer 20 Julie 2000 is die plaas verkoop aan die Wonderfontein Familietrust, waarvan die respondent en sy eggenote die enigste trustees was, vir ‘n bedrag van R268 630,00.
Eiendomsreg het oorgegaan by die registrasie van transport op 1 Junie 2001.
Daar is sekere verbeterings aangebring aan die plaas voordat dit vervreem is soos voormeld, welke verbeterings deur die respondent beweer word die plaas se markwaarde verhoog het tot ongeveer R 1 400 000,00.
Uit hoofde van die voorafgaande beweer die respondent dat daar “sterk aanduidings” is dat die vervreemding van hierdie plaas sonder teenwaarde was en dat daar derhalwe ‘n redelike vooruitsig is dat ‘n kurator daarin sal kan slaag om dit tersyde gestel te kry. In sy betoogshoofde het Mnr. Zietsman aangevoer dat daar geen aanduiding is in die koopkontrak self dat die bestaande verband ten gunste van die Landbank deur die koper (die familietrust) oorgeneem sal word nie. Soos Mnr. Olivier, wat namens die respondent verskyn, tereg aangetoon het, hou hierdie submissie heeltemal buite rekening die feit dat die applikant dit self in sy funderende stukke vermeld het. Dit is inteendeel gemene saak op die stukke voor my dat die koopprys van die plaas nie slegs die bedrag van R268 630,00 behels het nie, maar ook die oorname van die verband (d.w.s. ‘n verdere bykomende R500 000,00). Daarbenewens, só het Mnr. Olivier gesubmitteer, moet die verdere nie-tasbare voordeel vir die respondent inaggeneem word, naamlik dat hy waarde daaruit sou verkry dat hy as vader/trustee die plaas vir die familietrust bekom. In dié verband het Mnr. Olivier verwys na die bepaling van teenwaarde, naamlik dat dit nie voldoende per se hoef te wees nie en dat dit nie markwaarde hoef te wees nie; wat inaggeneem behoort te word is die materiële voordele wanneer al hierdie omstandighede inaggeneem word.
Sien Swanee’s Boerdery (Edms) Bpk (in liquidation) v Trust Bank 1986(2) 850 (A) te 860 E-F;
Commissioner for Inland Revenue v Bowman N.O. 1990(3) SA 311 (A) te 314 G-H.
Meneer Olivier is natuurlik korrek dat hierdie aspek ook in oorweging geneem moet word, maar die probleem daarmee is dat dit baie moeilik is om ‘n monetêre waarde daarop te plaas.
12.1 ‘n Verdere aspek van belang wat beregting verg wat hierdie plaas se vervreemding aanbetref, is die bepaling van die tersaaklike transaksie datum ten aansien daarvan. Meneer Zietsman het betoog dat die tersaaklike datum die datum van oordrag van eiendomsreg is, met ander woorde toe die oordrag geregistreer is op 1 Junie 2001. Meneer Olivier aan die ander kant het aan die hand gedoen dat die tersaaklike transaksie datum die datum van ondertekening van die koopkontrak is, te wete 20 Julie 2000. Die tersaaklike transaksie datum is van belang omdat òf artikel 26 van die Wet (Beskikkings oor goed sonder teenwaarde) of artikel 29 van die Wet (Vernietigbare voorkeure) se bepalings van toepassing mag wees op die bepaalde transaksie.
12.2 Artikel 26(1) van die Wet bepaal as volg:
“Elke vervreemding van goed sonder teenwaarde kan deur die hof tot niet gemaak word as daardie vervreemding gedaan is deur 'n insolvent-
(a) meer as twee jaar voor die sekwestrasie van sy boedel en bewys gelewer word dat onmiddellik na die vervreemding die skulde van die insolvent sy bate te bo gegaan het;
(b) binne twee jaar voor die sekwestrasie van sy boedel en die persoon wat kragtens die vervreemding 'n vordering inbring of wat daardeur bevoordeel is, nie kan bewys nie dat onmiddellik na die vervreemding die bate van die insolvent sy skulde te bo gegaan het:
Met dien verstande dat as bewys word dat die skulde van die insolvent te eniger tyd na die vervreemding sy bate te bo gegaan het met minder as die waarde van die vervreemde goed, die vervreemding slegs tot die hoogte van daardie oorskot tot niet gemaak kan word.”
12.3 Artikel 29(1) van die Wet lees as volg:
Elke vervreemding van sy goed, deur 'n skuldenaar nie meer as ses maande voor die sekwestrasie van sy boedel of, indien hy oorlede en sy boedel insolvent is, voor sy dood, gedaan, waarvan die gevolg is dat aan een van sy skuldeisers bo 'n ander voorkeur verleen is, kan deur die hof vernietig word, as die skulde van die skuldenaar onmiddellik na die vervreemding die waarde van sy bate te bo gegaan het, tensy die persoon ten bate van wie die vervreemding gedaan is, bewys dat die vervreemding in die gewone loop van besigheid gedaan is en dat daarmee nie bedoel was om aan een skuldeiser bo 'n ander voorkeur te verleen nie.
12.4 Uit die voorafgaande blyk dit dus dat die datum van die transaksie bepalend is vir die tydperk van òf 2 jaar òf 6 maande, soos die geval mag wees, wat bereken moet word.
In Cohen and others NNO v Saphi (Pty) Ltd 1996(1) SA 1190 (A) het dit gegaan oor die bepaling van die tersaaklike transaksie datum met die verkoop van ‘n besigheid. Die koopooreenkoms is onderteken op 6 Desember 1989 en daarin is bepaal dat, nieteenstaande die datum van ondertekening van die ooreenkoms, die effektiewe datum van die ooreenkoms 16 Desember 1989 sou wees. By ‘n bepaling van die tersaaklike transaksie datum vir doeleindes van die berekening van die 6 maande periode vervat in artikel 34(1) van die Wet, kom die Appélhof eenparig tot die gevolgtrekking dat die datum van ondertekening van die koopooreenkoms die tersaaklike datum is. Op 1194 D-E sê Vivier AR die volgende:
“He submitted, however, that in the present case both the conclusion of the contract on 6 December 1989 and the delivery on 16 December 1989 constituted dispositions for the purpose of s 34(1) of the Act. I do not agree. In my view there was only one relevant disposition and that occurred when the contract was concluded. The delivery was no more than a legal incident of that disposition, viz the performance of the seller's obligation in terms of the contract.:
Sackstein v Van der Westhuizen en ‘n ander 1996(2) SA 431(O) is direk in punt op hierdie bepaalde aspek. In daardie saak het dit gegaan oor die bepaling van die datum van vervreemding van onroerende goed vir doeleindes van artikel 29 van die Wet. Op 436 F bevind Beckley R pertinent dat die vervreemding van onroerende eiendom plaasgevind het op die datum toe die skriftelike koopooreenkoms aangegaan is. Die applikant se benadering dat die tersaaklike transaksie datum die datum van oordrag van registrasie is, is uitdruklik verwerp in die voormelde saak deur Beckley R. Ek is dit respekvol eens met die geleerde Regter se benadering en kan die applikant se submissies hierin nie opgaan nie.
12.5 Meneer Zietsman het verder aangevoer dat die woordomskrywing van “beskikking” of “disposition” in Engels in die Wet so wyd is dat dit ook oordrag van registrasie kan insluit. Hierdie betoog hou eweneens nie water nie. Daar kan tog nie twee vervreemdings van dieselfde bate wees nie. Die woordomskrywing van “beskikking” sluit in die woord oordrag bloot omdat ek meen dit ten doel het daardie gevalle waar lewering van roerende bates plaasvind sonder dat daar ‘n vooraf ooreenkoms aangegaan is.
12.6 Vir doeleindes van hierdie aangeleentheid dus is die datum van vervreemding van die plaas Wonderfontein inderdaad die datum van die ondertekening van die skriftelike koopooreenkoms, te wete 20 Julie 2000.
As vir die oomblik aanvaar word dat die applikant korrek is in sy submissies dat daar prima facie op die beskikbare inligting geen teenwaarde vir die plaas betaal is tydens die vervreemding daarvan nie, ontstaan die volgende vraag naamlik: is daar rede om te glo dat die kurator met ‘n aksie ingevolge artikel 26(1) van die Wet daarin kan slaag om aan te toon dat onmiddellik na die vervreemding van die plaas die respondent se laste sy bates te bowe gegaan het? Daar moet nie buite die oog verloor word nie dat by die instel van so ‘n aksie die kurator hom natuurlik van die bewyslas op ‘n oorwig van waarskynlikhede sal moet kwyt. Nêrens in die funderende stukke het die applikant enigsins aangevoer dat die respondent se laste sy bates te bowe gegaan het onmiddellik na 20 Julie 2000, dit wil sê die datum van vervreemding van die plaas nie. Verder moet die volgende inaggeneem word ter oorweging van die moontlike tersydestelling van hierdie transaksie:
In die geval van tersydestelling van die transaksie sal die koopsom van R286 630,00 aan die koper (die familietrust) terug betaal moet word.
Die verbandverpligting van meer as R500 000,00 ten gunste van Landbank sal ook terugval na die respondent se boedel.
Daar is nie getuienis voor die Hof oor wat die plaas op ‘n gedwonge verkoping sal behaal nie.
Die sekwestrasiekoste in die boedel sal aansienlik toeneem indien die plaas terugval in die boedel, inaggenome die bykomende advertensiekoste verbonde aan die verkoop van die plaas sowel as die kurators- en afslaerskostes.
Die plaas is tans onderworpe aan ‘n huurkontrak, welke ‘n nadelige effek sal hê op die koopprys wat bekom sal kan word op ‘n gedwonge verkoping.
Laastens moet natuurlik ook inaggeneem word dat indien ingevolge artikel 26(1) van die Wet die bedrag van oorskryding van die respondent se laste oor sy bates minder is as die waarde van die plaas by vervreemding, sal die boedel slegs geregtig wees op ‘n bedrag waarmee die laste toé die bates oorskry het.
Alles inaggenome is ek nie daarvan oortuig dat daar redelike gronde bestaan om te kan bevind dat die kurator redelikerwys in staat sal wees om hierdie bepaalde transaksie tersyde gestel te kry nie.
Wat die transaksie met Wienand ten aansien van die skrootmateriaal aanbetref is die feite kortliks die volgende:
14.1 Nadat die Balju beslaggelê het op sekere roerende bates van die respondent het ene Wienand ‘n eedsverklaring geliasseer wat in die vorm is van ‘n aanspraak soos geformuleer in ‘n tussenpleitgeding.
14.2 Kragtens hierdie aanspraak beweer Wienand dat hy ‘n skriftelike ooreenkoms met die respondent aangegaan het ingevolge waarvan hy die respondent se gehele skrootmetaalbesigheid aangekoop het teen die uitstaande skuld wat respondent aan Wienand verskuldig was.
14.3 Die applikant het hierdie transaksie as verdag afgemaak op grond daarvan dat die bates teen boekwaarde verkoop is wat beteken dat ‘n bepaalde waardevermindering inaggeneem is en die goedere dus nie teen die werklike ekonomiese waarde verkoop is nie. Verder gee die applikant ook te kenne dat Wienand in effek betaal is as ‘n skuldeiser ten minste op 1 Mei 2001, wat ondersoek regverdig.
Die respondent het volledig gehandel met die bepaalde beweringe rondom die transaksie met Wienand. Daarvolgens blyk dit duidelik, na my mening, dat hierdie ‘n bona fide ooreenkoms was en dat respondent heeltemal sy belange in die skrootmetaalbesigheid oorgedra het. Hy is tans bloot ‘n werknemer by ‘n ander soortgelyke onderneming en meen ek dat dit opsigself glad nie suspisie wek nie. Die koopooreenkoms tussen die respondent en Wienand is aangeheg in die stukke. Die applikant het nooit in sy funderende stukke ‘n saak daarvoor uitgemaak dat hierdie aanspraak van Wienand ongegrond is nie en dat bates teruggevorder sou kon word vir die boedel nie. In repliek het die applikant slegs effens verder gegaan en aan die hand gedoen dat die transaksie bloot ondersoek moet word. Ek neem in aanmerking die feit dat dit blyk uit die stukke dat hierdie bepaalde transaksie tussen respondent en Wienand ten aansien van die respondent se skrootmetaalbedryf alreeds solank as 18 maande gelede plaasgevind het; die bepalings van artikel 29(1) van die Wet sal derhalwe nie aanwending vind hier nie. Selfs wat betref die bepalings vervat in artikels 30 en 31 van die Wet bestaan geen rede tot ‘n ondersoek nie. Wat artikel 30 aanbetref het die applikant nêrens aangetoon of eers beweer dat die respondent se bates sy laste oorskry het as gevolg van die bepaalde transaksie nie.
Daar is in die applikant se stukke in repliek vir die eerste keer gewag gemaak van die feit dat artikel 31 van die Wet moontlik ter sprake mag kom aangesien daar moontlike samespanning was met die verkoop van die plaas Wonderfontein. Ek kan glad nie ag slaan op die beweringe wat in repliek gemaak is nie, aangesien die respondent geen geleentheid gehad het om daarmee te handel nie en sal dit wesenlike benadeling vir die applikant teweegbring. Ek is in elk geval tevrede op die stukke dat daar geen sprake van samespanning met die vervreemding van die plaas kan wees nie omrede:
a) Die respondent het ‘n volledige en aanvaarbare verduideliking daaraangaande verskaf.
b) Lank voordat die plaas vervreem is het die respondent alreeds besluit om ‘n spesiale trust tot stand te bring sodat hy die plaas daaraan kan vervreem.
c) Dit staan onbetwis dat die respondent tydens hierdie transaksie steeds probeer het om die applikant te kan betaal vir sy skuld deur sekere eiendom van hom van die hand te sit. Hierdie bepaalde aspek militeer teen ‘n bedoeling om die plaas bedrieglik weg te hou van die applikant.
‘n Deeglike oorweging van die voorafgaande aspekte en inaggenome die toets by die vraag of daar voordeel vir skuldeisers sal wees betreffende hierdie eng grond, te wete of daar rede is om te vermoed of ‘n kurator daarin sou kon slaag om van hierdie voormelde transaksies tersyde gestel te kry, is ek nie tevrede dat die applikant prima facie bewys gelewer het van hierdie aspek nie.
Meneer Olivier het aangevoer dat die aansoek bloot op grond van die gebrek aan dringendheid afgewys kan word. Ek meen egter dat daar voldoende basis was vir die applikant om hom spoedeisend tot hierdie Hof te wend, gegewe die twyfelagtige aard van sommige van die transaksies hierin.
Gevolglik word die applikant se aansoek van die hand gewys met koste.
___________
SA MAJIEDT
REGTER
ADVOKAAT NAMENS APPLIKANT : ADV P ZIETSMAN
ADVOKAAT NAMENS RESPONDENT : ADV CJ OLIVIER
PROKUREUR NAMENS APPLIKANT : ELLIOTT, MARIS, WILMANS & HAY
PROKUREUR NAMENS RESPONDENT : DUNCAN & ROTHMAN
DATUM VAN VERHOOR : 2002-11-15
DATUM VAN UITSPRAAK : 2002-11-29