South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2002 >> [2002] ZANCHC 29

| Noteup | LawCite

S v Monyobo and Another (15/2002) [2002] ZANCHC 29 (27 September 2002)

Download original files

PDF format

RTF format


Verslagwaardig: Ja / Nee

Sirkuleer aan Regters: Ja / Nee

Sirkuleer aan Landdroste: Ja / Nee


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(Noord-Kaapse Afdeling)



Saakno: 15/2002


DATUM VERHOOR:

DATUM GELEWER: 2002-09-27



In die saak van:


DIE STAAT


versus


DAVID TONI MONYOBO BESKULDIGDE 1

JOSEF TSHABALALA BESKULDIGDE 2


Coram: MAJIEDT R


UITSPRAAK



MAJIEDT R:


  1. Die beskuldigdes staan tereg op ‘n aanklag van huisbraak met die opset om te roof en roof met verswarende omstandighede soos omskryf in art 1 van die Strafproseswet sowel as moord.

  2. Die Staat beweer dat hulle tussen 9 en 10 Junie 1996 te Brian Shone-paneelkloppers te Jan Kempdorp hierdie misdrywe gepleeg het deur Brian Desmond Shone (die oorledene) se huis oop te breek met die opset om te roof en het daar toe sekere goedere soos vermeld in die aanhangsel, die eiendom van die oorledene, geroof. In die aanhangsel verskyn die volgende items: 1 ligbruin mansbaadjie ter waarde van R400, 1 bruin tas ter waarde van R200. Ten aansien van die moordaanklag beweer die Staat dat die beskuldigdes op dieselfde datums en op dieselfde plek die oorledene gedood het.

  3. Die beskuldigdes, bygestaan deur Advokaat Langenhoven namens beskuldigde 1 en Mnr Van Vuuren namens beskuldigde 2, het onskuldig gepleit en albei het verwere van alibi’s opgewerp.

  4. Dit is nie in geskil hierin nie dat die misdrywe soos voormeld wel gepleeg is op die datums en op die plek soos vermeld in die akte van beskuldiging. Wat wel beregting vereis is of die beskuldigdes aandadig was aan die pleging van hierdie misdrywe.

  5. n Stel foto’s is as bewysstuk B ingehandig. Daarop word die perseel van die oorledene uitgebeeld sowel as die oorledene self waar hy aan sy enkels en polse vasgebind is met sokkies en ‘n telefoonkoord onderskeidelik en met ‘n tou om sy nek verwurg is. Die kamer waarin die oorledene vermoor is, is binne-in, luidens die foto’s, opmerklik in ‘n warboel en so ook etlike ander vertrekke in die huis.

  6. n Bamboesstok is as bewysstuk 3 ingehandig, dit is ook sigbaar op van die foto’s in die bundel. Die bamboesstok is vermoedelik gebruik om die oorledene mee aan te rand.

  7. Die destydse distriksgeneesheer, Dr JF Els, het die oorsaak van dood bevind as strangulering met hipoksiese dood, d.w.s. dat die oorledene verwurg is met gevolglike afsluiting van die bloedvloei na en van die brein en asemhalingsbelemmering. Volgens Dr Els se getuienis het die oorledene ‘n swak hart gehad en was daar ook breinbloeding aanwesig. Volgens hom het die oorledene duidelik ‘n hou met ‘n stomp voorwerp teen sy kop gekry, heelwaarskynlik voordat hy verwurg is. As die nie was vir die feit dat die oorledene doodgewurg het nie, sou hy waarskynlik a.g.v. hierdie hou teen die kop mettertyd te sterwe kom indien mediese bystand nie tydig verleen is nie.

  8. Daar is ‘n aantal formele erkennings deur beide beskuldigdes gemaak wat aangeteken is ingevolge die bepalings vervat in art 220 van die Strafproseswet, vervat in bewysstuk H en J. Daarvolgens is die oorledene se identiteit erken en is ook erken dat hy geen verdere beserings opgedoen het van die tyd wat sy lyk verwyder is nie totdat dr Els die regsgeneeskundige lykskouing uitgevoer het op hom nie.

  9. Die Staat het ‘n hele aantal getuies geroep, maar ag ek dit nodig om in groot besonderhede met almal se getuienis te handel nie. Wat duidelik vasstaan is dat die oorledene gedurende die oggend van 10 Junie 1996 dood aangetref is in sy woonhuis soos op die foto’s aangedui. Die huis was dan ook in warboel gevind. Van sy werknemers het die oggend opgedaag en aangesien hulle onraad vermoed het, het hulle die polisie ontbied. Daar is toe ondersoek gedoen op die toneel en foto’s van die toneel is ook geneem. Ek sal hierin slegs die getuienis van die belangrikste staatsgetuies wat die beskuldigdes aan die misdrywe verbind, se getuienis in ‘n mate van detail opsom.

  10. Die getuie, Mnr Albert Moritimang was ‘n werknemer van die oorledene ten tye van sy dood. Volgens hom het beskuldigde 1 in die geselskap van ene Bushy op die 4de Junie 1996 daar aangedoen en met die oorledene ‘n gesprek gevoer. Hy kon nie die gesprek hoor nie. Hierna het beskuldigde 1 by die getuie se huis opgedaag en daar ‘n voorstel gemaak dat hulle die oorledene moet doodmaak sodat hulle sy geld kan kry en uit Jan Kempdorp kan vlug. Hierdie gesprek het op ‘n Saterdag plaasgevind net na die voorval waar die beskuldigde 1 ene Bushy aangedoen het by die oorledene se werk. Die dag daarna, d.w.s. Sondag het beskuldigde 1 weer by die getuie aangedoen om hom te kom haal sodat hulle die misdryf kan gaan pleeg wat hy vantevore melding van gemaak het. Die getuie het besluit om nie saam te gaan nie. Hy het die Maandag oggend verneem dat die oorledene dood aangetref is. ‘n Hele aantal weersprekings tussen hierdie getuie se viva voce getuienis en sy getuieverklaring aan die polisie, bewysstuk D, is aan hom uitgewys geduirende kruisondervraging. Ek sal aanstons hierna terugkeer.

  11. Die volgende getuie van belang wat namens die Staat getuig het, is Maggie Boyi. Sy was die vrymeisie van beskuldigde 1 toe hierdie voorval plaasgevind het gedurende 1996. Volgens haar het sy die beskuldigde op 10 Junie 1996 ontmoet in ‘n kroeg waar hulle gedrink het. Die beskuldigde was in die geselskap van ene Mapita wie se regte naam Petrus Mothupi is. Hulle het by etlike drinkplekke drank gedrink. Op ‘n stadium het beskuldigde 1 vir haar ‘n R100 gegee, maar sy het slegs R30 daarvan aanvaar. Hulle het hul later by Mapita se huis bevind waar hulle verder gedrink het. Mapita se vrou was ook daar aanwesig. ‘n Vriendin van haar, ene Disebo was deurgaans ook teenwoordig tydens hier drink ekspedisie. Op ‘n stadium het die getuie, Disebo en beskuldigde 1 beweeg na die kamer waar beskuldigde 1 gewoonlik op Mapita se perseel slaap. Daar was ‘n tas binne-in hierdie kamer en beskuldigde 1 het aan haar gesê dat hy mooi goed vir haar in die tas het en het hy vir haar damesbroekies daarin gewys wat, volgens haar, vir haar te groot was. Binne-in die tas was ook gesigsepies gewees. Ook hierdie getuie se getuieverklaring is ingehandig as bewysstuk F en sal ek aanstons daarna verwys wanneer ek haar geloofwaardigheid as ‘n getuie evalueer.

  12. Die volgende getuie wie se getuienis ek opsom is dié van Elizabeth Meyer, die hou-vrou van Mapita gedurende die tersaaklike tye. Volgens die getuie ken sy beide beskuldigdes aangesien hulle by haar man kom kuier het en beskuldigde 1 ook by hulle tuisgegaan het. Volgens haar was beide beskuldigdes aanwesig op Sondag die 9de Junie 1996 waar hulle om ‘n vuur gesit het saam met haar en haar man. Die volgende oggend, d.w.s. Maandag die 11de Junie 1996, het sy wakker geword ongeveer 5 uur die oggend toe iemand geklop het aan die deur. Dit was beskuldigde 1. Haar man het opgestaan en buite met beskuldigde 1 gaan praat. Sy kon nie hoor wat hulle sê nie. Na hierdie gesprek het haar man teruggekom, hom aangetrek en het hy en beskuldigde 1 vertrek en die hele dag weggebly. Hulle het eers kort voor 6 uur die middag weer teruggekeer. Op daardie betrokke dag het beskuldigde 1 ‘n roomkleurige baadjie aangehad volgens haar. Sy het dié baadjie uitgewys as as bewysstuk 2 wat voor die Hof was. ‘n Ruk later het beskuldigde 2 opgedaag met ‘n tas. Hy het met hierdie tas beweeg na die plek waar beskuldigde 1 gewoonlik slaap. Die tas het sy uitgewys as bewysstuk 1 voor die Hof. Sy het toe die huis binnegegaan en beskuldigde 2 het haar later geroep en gesê dat hy weggaan en dat sy vir beskuldigde 1 en Mapita in kennis moet stel dat hy daar was. Beskuldigde 1, haar man (Mapita) en beskuldigde 1 se meisie (Maggie) het later opgedaag en het toe gesit en drink. Beskuldigde 1 en sy meisie het toe gaan slaap en sy en haar man ook. Die polisie het die volgende dag daar opgedaag en onder andere beslaggelê op die tas wat in beskuldigde 1 se slaapplek gevind is. Ek sal later na hierdie getuie se kruisondervraging en na haar getuieverklaring verwys wanneer ek haar geloofwaardigheid as ‘n getuie evalueer.

  13. Superintendent Wentzel, die destydse ondersoekbeampte in die saak, het ook getuienis afgelê. Hy het getuig oor die toneel wat hy aangetref het en wat aan hom oorhandig is deur ‘n ander polisiebeampte. Hy het ook die bamboesstok formeel ingehandig sowel as die tas en die baadjie voor die Hof as bewysstukke. In die loop van sy ondersoek het hy beskuldigde 1 gearresteer nadat dié eers van hom probeer ontvlug het. Hy het ook beskuldigde 2 gearresteer.

  14. Me Ellen Senatle, die huishulp van die oorledene, het getuig dat bewysstuk 2 (die baadjie) wel aan die oorledene behoort het. Volgens haar het sy dit gereeld aangetrek wanneer hy vanaf die huis beweeg het na sy werkplek wat op dieselfde perseel geleë is. Volgens haar het sy op ‘n stadium na ‘n swart baadjie, wat ook die eiendom van die oorledene was, gesoek op versoek van die polisie. Sy het uiteindelik dié baadjie in ‘n kas gevind maar het nie bewysstuk 2 daar gesien nie.

  15. Die volgende getuie was Petrus Mothupi alias Mapita. Hy het getuig dat gedurende die week van 4 Junie 1996 beskuldigde 1, wat toe by hom gebly het, van tyd tot tyd weg was en teruggekeer het die Maandag oggend 10 Junie 1996 so ongeveer 5 uur die oggend. Hy bevestig sy vrou, Elizabeth Meyer, se getuienis oor die feit dat beskuldigde 1 hom wakker kom klop het. Op versoek van beskuldigde 1 het hulle na beskuldigde 2 gaan soek by verskeie plekke en het hulle hul uiteindelik in Hartswater bevind. By die taxi-staanplek te Hartswater het hulle beskuldigde 2 aangetref en was hy in besit van ‘n tas wat volgens die getuie bewysstuk 1 voor die Hof is. Beskuldigde 1 het vir die getuie aangesê om ‘n papiersak te gaan koop, wat hy dan gedoen het. Met sy terugkeer by die taxi-staanplek het hy gesien dat die twee beskuldigdes klere en ander items tussen hulle verdeel het. Beskuldigde 1 het sy deel van die klere en ander items in die papiersak wat die getuie gekoop het geplaas terwyl beskuldigde 2 sy deel in die tas, bewysstuk 1 voor die Hof, geplaas het. Volgens dié getuie het beskuldigde 1 ‘n baadjie, bewysstuk 2, aangehad. Hierdie baadjie het hy daar by die taxi-staanplek gekry. Oppad terug in ‘n taxi vanaf Hartswater na Jan Kempdorp het daar ‘n berig oor die radio gekom dat ‘n witman vermoor is in Jan Kempdorp en beskuldigde 1 was sigbaar ontsteld oor die nuus. Terug in Jan Kempdorp het hulle, soos wat Maggie Boyi getuig het, haar raakgeloop by ‘n drankhuis en op verskillende plekke drank ingeneem. Op ‘n stadium het die polisie daar opgedaag en is die getuie gearresteer. Volgens hom het die polisie sy plek deursoek maar niks gekry nie en hy het later verneem dat hulle die tas, bewysstuk 1, in ‘n ander vertrek waar beskuldigde 1 gebly het, aangetref het. Ongeveer 3 dae na sy arrestasie is hy weer vrygelaat. Ek sal eweneens hierdie getuie se kruisondervraging en ander aspekte bespreek wanneer en sy geloofwaardigheid oorweeg.

  16. Beide beskuldigdes het in hulle verweer getuig en albei van hulle het alibi’s aangevoer. Volgens beskuldigde 1 was hy daardie bepaalde naweek uitstedig. Hy het eers die Maandagoggend 11 Junie 1996 tussen 7 en 8 uur teruggekeer na Jan Kempdorp. Volgens hom behoort bewysstuk 2, die baadjie, aan hom, synde ‘n geskenk van sy broer wat in die weermag is. Hy het enige aandadigheid aan die ten laste gelegde misdrywe ontken. Hy het ook die getuienis van die Staatsgetuies wat hom inkrimineer ontken. Namens hom het sy broer, Reginald Monyobo getuig. Hy is ‘n skutter in die SANW en het bevestig dat hy gedurende 1994/95 die baadjie, bewysstuk 2, wat hy in Durban aangekoop het, aan sy broer geskenk het. Beide beskuldigde 1 en sy broer het die baadjie geïdentifiseer aan die hand van die naam daarvan te wete Sterling asook 2 skeurmerke op die agter regterskouer daarvan. Ek het die baadjie besigtig en dit is so dat die baadjie ‘n etiket op het van Sterling en dat daar 2 opsigtelike skeurmerke op die agter regterskouer daarvan is.

  17. Beskuldigde 2 voer as alibi aan dat hy as dagga handelaar gedurende die betrokke naweek besigheid gedoen het in Lime Acres en eers ongeveer 5 uur Maandag middag, d.w.s. 11 Junie 1996, terug was in Jan Kempdorp. Hy het ontken dat hy ooit in besit was van ‘n tas soos voor die hof en het ook ontken dat hy Mapita se vrou, Elizabeth Meyer, enigsins ken. Namens hom het ene Morgan Mongoale getuig en bevestig dat beskuldigde 2 by hulle gebly het en eers die Maandagmiddag teruggekeer het na Jan Kempdorp.

  18. Dit is duidelik dat die getuies Albert Moretimang, Elizabeth Meyer, Maggi Boyi en Petrus Mothupi enkelgetuies is ten aansien van daardie aspekte waar hulle inkriminerende getuienis teen die onderskeie beskuldigdes lewer. In dié verband is die gevestigde versigtigheidsreël ten aansien van enkelgetuies op hulle van toepassing. Drie van hulle se getuieverklarings is ingehandig te wete Moretimang, Meyer en Boyi. Daaruit blyk verskeie opsigtelike en, na my mening, wesentlike weersprekinge tussen hulle viva voce getuienis en hulle verklarings. Ten aansien van Albert Moretimang is daar die feit dat hy hom gruwelik weerspreek oor die motief wat hy aan beskuldigde 1 voorgehou het ten aansien van die aanval op die oorledene. In sy verklaring sê hy dat beskuldigde 1 genoem het dat hy die oorledene sou wou beroof, terwyl hy in die Hof getuig het dat beskuldigde 1 hom versoek het om hom te help om die oorledene te dood. Verder verwys hy deurgaans in sy verklaring na beskuldigde 1 as ‘n onbekende man terwyl hy in die hof sy naam genoem het. Hy was ook nie ‘n baie bevredigende getuie toe hy onder kruisverhoor geneem is nie, soos sal blyk uit die oorkonde. Hy was opsigtelik senuagtig in die hof en sy houding het voorgekom, volgens my, soos iemand wat onseker is van homself. In sy geval, soos in die geval van al die ander staatsgetuies, moet natuurlik ook nie buite die oog verloor word nie dat hierdie voorval alreeds 6 jaar gelede plaasgevind het. Na my mening behoort Moritemang se getuienis met groot versigtigheid benader te word en kan dit alleen aanvaar word waar sy inkrimenerende getuienis teen ‘n bepaalde beskuldigde deur ander aanvaarbare getuienis gestaaf word.

  19. Wat Elizabeth Meyer aanbetref, is daar ‘n kennelike weerspreking tussen haar getuieverklaring en haar mondelinge getuienis ten aansien van ‘n wesenlike aspek van haar getuienis, naamlik die stadium toe beskuldigde 2 met die tas by haar huis sou aangekom het. In haar verklaring het sy die indruk gekep dat sy in haar huis was, reeds gereed om te slaap toe beskuldigde 2 daar opdaag. In haar getuienis in die hof aan die ander kant, getuig sy dat sy besig was om die hoenders toe te maak buite toe beskuldigde 2 daar aangekom het. Verder verklaar sy in haar getuieverklaring dat die beide beskuldigdes die voorafgaande week daar woonagtig was by hulle, terwyl sy in die hof gesê het dat beskuldigde 2 elders gewoon het. Sy het inderdaad ontken dat dit korrek is dat beskuldigde 2 vir ‘n week daar by hulle woonagtig was. Hierdie weersprekinge plaas ook haar getuienis onder kwaai verdenking en is my benadering dieselfde as dié met die getuienis van Albert Moritemang, naamlik dat ek slegs Elizabeth Meyer se getuienis sal aanvaar as enkelgetuie waar sy gestaaf word deur ander aanvaarbare getuienis sover dit inkriminering van ‘n beskuldigde aanbetref.

  20. Maggy Boyi weerspreek haarself ook in haar getuieverklaring gemeet teenoor haar viva voce getuienis oor ‘n kern aspek, naamlik of beskuldigde 1 in haar aanwesigheid ooit die tas, bewysstuk 1, oopgemaak het. In haar getuieverklaring sê sy: “Ek het die koffer nie kop toe gevat nie”. In haar mondelinge getuienis beweer sy dat die koffer wel oopgemaak is en dat sy sekere goed daarin gesien het. Hierdie is ‘n wesenlike weerspreking. Die Staat se beroep op S v Bruinders en ‘n ander 1998(2) SASV 432 (OK) gaan net eenvoudig nie op nie. Hierdie is nie ‘n geval waar ‘n getuie in ‘n getuieverklaring besonderhede weggelaat het nie. Dit is inteendeel ‘n direkte en wesentlike weerspreking. Wat Maggi Boyi aanbetref is ek ook nie bereid om haar getuienis vir sover dit ‘n beskuldigde inkrimineer te aanvaar nie, tensy dit gestaaf word deur ander aanvaarbare getuienis.

  21. Ek het Petrus Mothupi as ‘n redelike goeie getuie ervaar. Hy was selfversekerd en het nêrens homself wesentlik weerspreek nie. Daar is ‘n vermoede dat hy meer weet van die aangeleentheid as wat hy wil voorgee. Ek meen tog dat sy getuienis aanvaar kan word. Die probleem egter is dat, selfs aanvaar ek (soos ek wel doen), dat hy saam met die beskuldigdes was waar ‘n tas op die toneel was waar goedere verdeel was te Hartswater, is ek nie in staat om bo redelike twyfel te bevind dat daardie betrokke tas dieselfde tas is wat voor die hof as bewysstuk 1 is nie, die eiendom van die oorledene nie.

  22. Beskuldigde 1 was ‘n baie swak getuie. Hy het op verskeie aspekte getuienis gelewer wat nooit in kruisondervraging deur sy advokaat, ‘n bekwame en ervare regsman, aan die staatsgetuies gestel is nie. Die afleiding is onafwendbaar dat hy nooit sulke instruksies aan sy advokaat gegee het nie. Hoe dit ook al sy, is ek nie tevrede dat die Staat bo redelike twyfel bewys het dat bewysstuk 2, die baadjie, wel aan die oorledene behoort het nie. Daar is ten minste ‘n redelike twyfel dat dit die eiendom van beskuldigde 1 kan wees. Beskuldigde 2 was marginaal ‘n beter getuie as beskuldigde 1.

  23. Wanneer ek die getuienis voor my oorweeg om te bepaal of die beskuldigdes se skuld bo redelike twyfel bewys is en daarmee saam, of hulle weergawes redelik moontlik waar is, dan moet ek die toets soos neergelê in S v Van Aswegen 2001(2) SASV 97 (HHA) te 101 b-e toepas waar Cameron AR die volgende dictum van Nugent R in S v Van der Meyden aanhaal. LEES AANHALING UIT BOEK. Met toepassing van die voormelde benadering is hier, na my mening, net nie voldoende getuienis om die beskuldigdes se skuld bo redelike twyfel te bewys nie. Die Staat het ‘n moedige en prysenswaardige poging aangewend om wel so te doen. Die polisie ondersoekspan en die Staat het na my mening soveel gedoen as wat hulle kon om die misdrywe te bewys teen die beskuldigdes . Die getuies voor my plaas die beskuldigdes , veral beskuldigde 1, onder sterk verdenking. Dit is egter nie voldoende om hulle skuldig te bevind aan sulke ernstige misdrywe nie. Die Staat het my versoek om aan die hand van die omstandigheidsgetuienis te bevind dat die beskuldigdes in besit was van die onlangs gesteelde goedere van die oorledene en dat hulle derhalwe hulself skuldig gemaak het aan die misdrywe soos ten laste gelê. Soos ek alreeds gesê het, is die Staat se getuienis net eenvoudig nie voldoende om tot so ‘n bevinding te kan kom nie. Die probleem wat hier bestaan is dat daar nie stawing is vir daardie brokkies inkriminerende getuienis teen die beskuldigdes wat die onderskeie staatsgetuies soos voormeld, gelewer het nie.

  24. Onder die omstandighede dus gee ek die beskuldigdes die voordeel van die aansienlike twyfel wat by my bestaan en word albei beskuldigdes onskuldig bevind aan beide die klagtes hul ten laste gelê.





__________

SA MAJIEDT

REGTER



NAMENS STAAT: ADV C NEKOSIE EN MNR L ROACH

NAMENS BESKULDIGDE 1: ADV T LANGENHOVEN

NAMENS BESKULDIGDE 2: MNR D JANSE VAN VUUREN


DATUM VAN VERHOOR: 19-26 SEPTEMBER 2002

DATUM VAN UITSPRAAK: 27 SEPTEMBER 2002