South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2002 >> [2002] ZANCHC 28

| Noteup | LawCite

S v Kiwido (CA & R 139/2002) [2002] ZANCHC 28 (22 November 2002)

Download original files

PDF format

RTF format


Verslagwaardig: Ja / Nee

Sirkuleer aan Regters: Ja / Nee

Sirkuleer aan Landdroste: Ja / Nee


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(Noord-Kaapse Afdeling)



Saakno: CA & R 139/2002


Datum verhoor: 2002-11-25

Datum gelewer: 2002-11-25



In die appél van:


MARTIN EMANUEL KIWIDO APPELLANT


versus


DIE STAAT RESPONDENT


Coram: MAJIEDT R et LACOCK R


UITSPRAAK OP APPéL



MAJIEDT R:

  1. Die appellant is skuldig bevind op ‘n aanklag van crimen iniuria. Hy het aanvanklik onskuldig gepleit en is na skuldigbevinding gevonnis tot ‘n boetestraf van R1200 of 6 maande gevangenisstraf, waarvan die helfte (R600 of 3 maande gevangenisstraf) opgeskort was vir ‘n periode van 5 jaar op bepaalde voorwaardes. Die appellant kom nou in hoër beroep teen sy skuldigbevinding en vonnis.

  2. Hierdie voorval het plaasgevind op 23 Julie 2001 te Victoria-Wes. Op daardie stadium was die appellant die stadsekretaris van die Ubuntu Munisipaliteit (die saamgesmelte munisipaliteit van Loxton, Richmond en Victoria-Wes, hierna genoem “die raad”). Hy was ook die verteenwoordiger van die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie,’n vakbond. Op die stadium toe hierdie voorval plaasgevind het, was die klaer Mnr. Van Heerden, voorsitter van die raad se finansiële komitee. Op daardie bepaalde datum is ‘n vergadering gehou tussen amptenare van die raad sowel as die plaaslike arbeidsforum wat die raad se werknemers se verteenwoordigers was. Die vergadering het gehandel oor ‘n finalisering van ‘n organogram en daarmee gepaardgaande die raad se finansiële probleme. Tydens hierdie vergadering wat in die stadsaal gehou is, het die appellant na bewering die klaer bestempel as ‘n rassis en as ‘n skelm. Laasvermelde weergawe is van staatsweë voorgehou deur die klaer self en ene Mnr Mcintosh, wat ook ‘n raadslid by die gemelde munisipaliteit was en teenwoordig was by die betrokke vergadering.

  3. Die appellant en sy getuie het nie heeltemal met hierdie weergawe saamgestem nie en het hulle beweer dat die appellant bloot vir die klaer gesê het dat hy rassisties optree. Die appellant het heeltemal ontken dat hy die klaer ‘n skelm genoem het.

  4. Die appellant was regsverteenwoordig deur ‘n plaaslike prokureur tydens die verhoor. Op appél voor ons het hy egter self sy appél behartig en is die betoogshoofde ook deur hom self opgestel. Een van die gronde van die appél is dat die staatsaanklaer en die landdros teenoor die appellant bevooroordeeld was. Hierdie aspek blyk nie uit die rekord van die verrigtinge self nie en by ‘n gebrek aan enige ander getuienis, is ek heeltemal tevrede dat die betrokke grond van appél geen meriete het nie.

  5. Wat die meriete van die skuldigbevinding self aanbetref wil dit my voorkom dat dit die appellant se saak is dat die landdros gefouteer het deur die verdedigingsweergawe te verwerp ten gunste van dié van die staat. Verder blyk dit ook dat die appellant aanvoer dat hy die reg gehad het om te verskil van die klaer tydens die vergadering en dat hy die reg gehad het om uit te wys waar die klaer òf leuenagtig opgetree het òf gediskrimineer het by die voorhou van sekere inligting aan die vergadering, te wete die salarisse wat swart werknemers verdien het.

  6. Die bevoegdhede van ‘n Hof van Appél ten aansien van feitebevindinge is nou alreeds welbekend. In dié verband het Marais AR, in S v Hadebe and others 1997(2) SASV 642 (A) te 645 e-f dit as volg gestel:

Before considering these submissions it would be as well to recall yet again that there are well-established principles governing the hearing of appeals against findings of fact. In short, in the absence of demonstrable and material misdirection by the trial Court, its findings of fact are presumed to be correct and will only be disregarded if the recorded evidence shows them to be clearly wrong. The reasons why this deference is shown by appellate Courts to factual findings of the trial court are so well known that restatement is unnecessary.”

  1. Op die oorkonde voor ons is daar geen aanduiding dat die landdros gefouteer het in sy geloofwaardigheidsbevindinge nie. Die landdros het die voordeel gehad om die getuies self waar te neem en is al die getuies onderwerp aan deurtastende kruisondervraging deur die appellant se prokureur en die staatsaanklaer onderskeidelik. Daar bestaan geen wesenlike weersprekinge in die staatsaak nie en is die staat se weergawe op die waarskynlikhede aansienlik meer aanvaarbaar as dié van die appellant en sy getuie. In die omstandighede is ek dus tevrede dat daar geen basis is op grond waarvan ons op die landdros se feite- en geloofwaardigheidsbevindinge kan inmeng nie.

  2. Die volgende vraag wat ontstaan is of die appellant hom skuldig gemaak het aan die misdryf van crimen iniuria op die bewese feite soos bevind deur die landdros. Snyman, Strafreg, 4de uitgawe te 466 omskryf die betrokke misdryf as volg:

Crimen iniuria is die wederregtelike, opsetlike en ernstige aantasting van die waardigheid of privaatheid van ‘n ander.”

In hierdie geval het die klaer getuig dat sy eer gekrenk en sy waardigheid aangetas was deur die woorde wat die appellant hom toegesnou het. Daar is by my geen twyfel nie dat dit inderdaad ‘n aantasting van ‘n persoon se waardigheid sal wees om hom in die openbaar by ‘n vergadering soos in die onderhawige geval as ‘n skelm uit te kryt. Die woorde per se sou enige regdenkende persoon se dignitas aantas en sou dit ook so beskou word wanneer die mores van ons samelewing van vandag inaggeneem word.

  1. Ek is verder die mening toegedaan dat om ‘n persoon ‘n rassis te noem in ons huidige demokratiese bestel ook ‘n persoon se dignitas kan aantas. Die klaer het getuig tydens die verhoor dat hy die term rassis beskou as ‘n persoon wat nie vir persone van ‘n ander ras hoegenaamd omgee nie. Ek is die mening toegedaan dat hierdie ‘n korrekte en algemeen aanvaarbare omskrywing sou wees van die bepaalde term. Daar is by my min twyfel dat in die oë van die algemene publiek ‘n persoon wat met reg as ‘n rassis bestempel kan word se aansien en waardigheid aansienlik sal daal. Ek is dus tevrede dat ook hierdie woorde die misdryf van crimen iniuria daarstel.

  2. Ek is verder tevrede dat op die getuienis wat deur die landdros aanvaar is, die appellant die direkte opset gehad het om die misdryf te pleeg. Al is ek verkeerd in hierdie beskouing staan dit in elk geval oorvloediglik bewese op die oorkonde dat die appellant ten minste met dolus eventualis opgetree het. Hierdie betrokke opsetsvorm is voldoende om die misdryf van crimen iniuria daar te stel.

Sien S v Steenberg 1999(1) SASV 594 (N) te 597 g.

In al die omstandighede dus is ek tevrede dat die appellant korrek skuldig bevind is aan crimen iniuria.

  1. Wat die vonnis betref betoog die appellant dat die vonnis skokkend onvanpas is wanneer dit vergelyk word met ‘n appélsaak waarin ‘n boete van R1000 opgelê is. Die appellant verwys hier na die Steenberg-beslissing waarna ek hierbo verwys het. In daardie saak het 2 regters van die Natalse Provinsiale Afdeling ‘n skuldigbevinding aan crimen iniuria bekragtig waar die appellant in daardie saak ‘n swart polisiebeampte ‘n “kaffer” genoem het. ‘n Vonnis van R1000 of 6 maande gevangenisstraf in geheel opgeskort vir 5 jaar is ook bekragtig.

  2. Die landdros het al die tersaaklike faktore inaggeneem en voer in sy verdere redes aan dat die openbare belang vereis dat raadslede of vakbondlede nie mekaar kwetsende woorde moet toesnou nie. Volgens sy verdere redes is dit om iemand ‘n rassis te noem net so erg kwetsend as rassisme self. Verder is dit ook erg kwetsend om iemand as ‘n skelm uit te kryt. Die landdros is heeltemal korrek met hierdie benadering. Wat egter deeglik in gedagte gehou moet word en wat nie blyk uit die landdros se redes nie, is dat emosies klaarblyklik baie hoog geloop het by hierdie vergadering. Daar was ‘n aansienlike mate van onvergenoegdheid by die vakbondlede teenoor sekere van die uitlatings wat die klaer gemaak het, hetsy sodanige onvergenoegdheid geregverdig was al dan nie. Dit blyk ook duidelik uit die oorkonde en het die landdros ook daarna verwys in sy uitspraak, dat die klaer erge kru-taal gebruik het teenoor van die aanwesiges op die vergadering. Dit is te verwagte dat in die omstandighede mense dinge sou sê waaroor hulle later spyt sal wees. Ek is van mening dat in die omstandighede van hierdie saak dit gepas sou wees om, soos in die Steenberg-saak, die opgelegde boete of alternatief van gevangenisstraf soos opgelê deur die landdros, in geheel op te skort. Deur in te meng met die vonnis probeer ek nie te kenne gee dat dit aanvaarbaar is dat sulke kwetsende woorde deur verantwoordelike persone in leierskap posisies soos wat die appellant staan, mag gebruik nie. Ek meen egter dat daar onvoldoende aandag geskenk was aan die strafversagtende faktore wat ek hierinvantevore na verwys het en inmenging op appél geregverdig is gegewe die skokkende onvanpastheid van die vonnis wanneer dit vergelyk word met dié in S v Steenberg supra.

  3. Die appellant se skuldigbevinding word bekragtig maar die vonnis word tersyde gestel en vervang met die volgende: ‘n boete van R1200 (een duisend twee honderd Rand) of 6 (ses) maande gevangenisstraf wat in die geheel opgeskort word vir ‘n tydperk van 5 (vyf) jaar op voorwaarde dat die appellant nie weer skuldig bevind word aan crimen iniuria gepleeg gedurende die tydperk van opskorting nie.






___________

SA MAJIEDT

REGTER



Ek stem saam:



_____________

HJ LACOCK

REGTER




NAMENS APPELLANT : VERSKYN IN PERSOON

NAMENS RESPONDENT : ADV E KAMMIES


DATUM VAN VERHOOR : 18 NOVEMBER 2002

DATUM VAN UITSPRAAK :