South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2002 >> [2002] ZANCHC 26

| Noteup | LawCite

S v Sebokolodi and Others (KS 56/00) [2002] ZANCHC 26; [2002] 4 All SA 282 (NC)' (9 September 2002)

Download original files

PDF format

RTF format


Verslagwaardig: Ja / Nee

Sirkuleer aan Regters: Ja / Nee

Sirkuleer aan Landdroste: Ja / Nee


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(Noord-Kaapse Afdeling)


Saakno: KS 56/00

Datum verhoor: 4 Maart 2002

Datum gelewer: 9 September 2002



In die appél van:



PETER TSWAILE SEBOKOLODI APPELLANT 1

DAVID SIMONE APPELLANT 2

WELILE BASIL BOLTON APPELLANT 3

DINGAAN ALPHEUS KHALO APPELLANT 4

EDDIE NDLOVU APPELLANT 6

VINCENT DADLA APPELLANT 7

GIDEON MATELA APPELLANT 8

JEREMIA MALUME KHANYILE APPELLANT 9


versus



DIE STAAT RESPONDENT


Coram: VAN DER WALT R et MAJIEDT R et LACOCK R


UITSPRAAK OP APPéL



MAJIEDT R:

  1. Die Appellante kom met verlof van die Verhoorregter in hoër beroep teen hulle vonnisse.

Ek verwys hierin na die Appellante soos wat na hulle verwys is tydens die verhoor, ten einde verwarring te vermy.

Ons is by die aanvang van die verrigtinge meegedeel deur mnr. Muhlohlonyi dat die Eerste Appellant nie voortgaan met sy appél nie en dat die Tweede Appellant intussen oorlede is.

Hy het ons nietemin versoek om ons inherente hersieningsbevoegdheid uit te oefen ten aansien van die Eerste Appellant ingeval ons sou inmeng met die opgelegde vonnisse.


  1. Die Appellante het op altesaam 10 aanklagte tereggestaan, te wete:


    1. Aanklag 1:

Diefstal van ‘n motorvoertuig;

    1. Aanklag 2:

Roof met verswarende omstandighede (roof van ‘n motorvoertuig tydens welke rooftog vuurwapens na bewering gebruik is);

    1. Aanklag 3:

Roof met verswarende omstandighede (roof van ‘n motorvoertuig, kontant, klerasie en kredietkaarte, waartydens vuurwapens na bewering gebruik is);

    1. Aanklag 4:

Roof met verswarende omstandighede (‘n sogenaamde transitoroof van R642 100.00 kontant en van vuurwapens, tydens welke rooftog vuurwapens, insluitend outomatiese vuurwapens na bewering gebruik is);

    1. Aanklag 5:

Poging tot moord (na bewering is daar met vuurwapens geskiet na verskeie polisiebeamptes tydens of net na uitvoering van die transitoroof hierbo vermeld);

    1. Aanklag 6:

Poging tot moord (‘n soortgelyke aanval as dié na verwys in aanklag 5 hierbo);

    1. Aanklag 7:

Oortreding van die bepalings vervat in artikel 2, gelees met artikels 1, 39(1)(h) en 39(2) van Wet 75 van 1969, d.w.s. besit van ongelisensieerde vuurwapens insluitend ‘n outomatiese geweer, submasjiengewere, rewolwers en pistole;

    1. Aanklag 8:

Oortreding van artikel 36, gelees met artikels 1, 39(1)(h) en 39(2) van Wet 75 van 1969, d.w.s. onwettige besit van ammunisie;

    1. Aanklag 9:

Oortreding van artikel 32(1)(a) gelees met artikels 1, 32(5)(a), 32(5)(b) en 39(2)(aA)(i) van Wet 75 van 1969, d.w.s. onwettige besit van ‘n masjiengeweer;

    1. Aanklag 10:

Oortreding van artikel 32(1)(e) gelees met artikels 1, 32(5)(a), 32(5)(b) en 30(2)(aA)(ii) van Wet 75 van 1969, d.w.s. onwettige besit van ammunisie wat bestem is om uit ‘n masjiengeweer afgevuur te word.


  1. Buys R, bygestaan deur 2 assessore, het na ‘n lang verhoor op die voormelde aanklagte die onderskeie Appellante skuldig bevind en gevonnis soos skematies hierna getabuleer. Waar toepaslik het die geleerde Verhoorregter in elke bepaalde geval gelas ingevolge die bepalings vervat in artikel 280 van die Strafproseswet, dat vonnisse samelopend uitgedien word. Buys R het ook in die geval van al die Appellante aanbeveel dat ‘n bepaalde termyn van gevangenisstraf eers uitgedien moet word alvorens hulle vir parool oorweeg moet word. Al die Appellante is onbevoeg verklaar om vuurwapens te besit ingevolge artikel 12 van Wet 75 van 1969.


Die skuldigbevindings en vonnisse sien as volg daaruit:

APPELLANT 1 : PETER TSWAILE SEBOKOLODI

Aanklag

No

Aanklag

Beskrywing

Skuldig/

Onskuldig

Vonnis

in jare

1*

Diefstal

Skuldig

6*

2*

Roof met verswarende omstandighede

Skuldig

6*

3

Roof met verswarende omstandighede

Onskuldig

-

4

Roof met verswarende omstandighede

Skuldig

20

5**

Poging tot moord

Skuldig

10**

6**

Poging tot moord

Skuldig

10**

7***

Besit van vuurwapens sonder lisensie

Skuldig

7***

8

Onwettige besit van ammunisie

Onskuldig

-

9***

Onwettige besit van masjiengeweer

Skuldig

15***

10***

Onwettige besit van masjiengeweer ammunisie

Skuldig

5***

Totale opgelegde vonnis in jare

79

Totale effektiewe vonnis in jare

51

Jare voordat parool oorweeg mag word

30

* / ** / ***Vonnisse samelopend


APPELLANT 2 : DAVID SIMONE

Aanklag

No

Aanklag

Beskrywing

Skuldig/

Onskuldig

Vonnis

in jare

1

Diefstal

Onskuldig

-

2

Roof met verswarende omstandighede

Skuldig

6

3

Roof met verswarende omstandighede

Onskuldig

-

4

Roof met verswarende omstandighede

Skuldig

20

5*

Poging tot moord

Skuldig

10*

6*

Poging tot moord

Skuldig

10*

7

Besit van vuurwapens sonder lisensie

Skuldig

7

8

Onwettige besit van ammunisie

Onskuldig

-

9

Onwettige besit van masjiengeweer

Onskuldig

-

10

Onwettige besit van masjiengeweer ammunisie

Onskuldig

-

Totale opgelegde vonnis in jare

53

Totale effektiewe vonnis in jare

43

Jare voordat parool oorweeg mag word

30

* Vonnisse samelopend


APPELLANT 3 : WELILE BASIL BOLTON

Aanklag

No

Aanklag

Beskrywing

Skuldig/

Onskuldig

Vonnis

in jare

1*

Diefstal

Skuldig

6*

2*

Roof met verswarende omstandighede

Skuldig

6*

3

Roof met verswarende omstandighede

Onskuldig

-

4

Roof met verswarende omstandighede

Skuldig

25

5**

Poging tot moord

Skuldig

10**

6**

Poging tot moord

Skuldig

10**

7***

Besit van vuurwapens sonder lisensie

Skuldig

7***

8

Onwettige besit van ammunisie

Onskuldig

-

9***

Onwettige besit van masjiengeweer

Skuldig

15***

10***

Onwettige besit van masjiengeweer ammunisie

Skuldig

5***

Totale opgelegde vonnis in jare

84

Totale effektiewe vonnis in jare

56

Jare voordat parool oorweeg mag word

35

* / ** / ***Vonnisse samelopend


APPELLANT 4 : DINGAAN ALPHEUS KHALO

Aanklag

No

Aanklag

Beskrywing

Skuldig/

Onskuldig

Vonnis

in jare

1

Diefstal

Onskuldig

-

2*

Roof met verswarende omstandighede

Skuldig

6*

3*

Roof met verswarende omstandighede

Skuldig

6*

4

Roof met verswarende omstandighede

Skuldig

25

5**

Poging tot moord

Skuldig

10**

6**

Poging tot moord

Skuldig

10**

7***

Besit van vuurwapens sonder lisensie

Skuldig

7***

8

Onwettige besit van ammunisie

Onskuldig

-

9***

Onwettige besit van masjiengeweer

Skuldig

15***

10***

Onwettige besit van masjiengeweer ammunisie

Skuldig

5***

Totale opgelegde vonnis in jare

84

Totale effektiewe vonnis in jare

56

Jare voordat parool oorweeg mag word

35

* / ** / ***Vonnisse samelopend


APPELLANT 6 : EDDIE NDLOVU

Aanklag

No

Aanklag

Beskrywing

Skuldig/

Onskuldig

Vonnis

in jare

1

Diefstal

Onskuldig

-

2

Roof met verswarende omstandighede

Skuldig

6

3

Roof met verswarende omstandighede

Onskuldig

-

4

Roof met verswarende omstandighede

Skuldig

24

5*

Poging tot moord

Skuldig

10*

6*

Poging tot moord

Skuldig

10*

7**

Besit van vuurwapens sonder lisensie

Skuldig

9**

8

Onwettige besit van ammunisie

Onskuldig

-

9**

Onwettige besit van masjiengeweer

Skuldig

15**

10**

Onwettige besit van masjiengeweer ammunisie

Skuldig

5**

Totale opgelegde vonnis in jare

77

Totale effektiewe vonnis in jare

55

Jare voordat parool oorweeg mag word

35

* / ** Vonnisse samelopend


APPELLANT 7 : VINCENT DLADLA

Aanklag

No

Aanklag

Beskrywing

Skuldig/

Onskuldig

Vonnis

in jare

1

Diefstal

Onskuldig

-

2

Roof met verswarende omstandighede

Skuldig

6

3

Roof met verswarende omstandighede

Onskuldig

-

4

Roof met verswarende omstandighede

Skuldig

20

5*

Poging tot moord

Skuldig

10*

6*

Poging tot moord

Skuldig

10*

7**

Besit van vuurwapens sonder lisensie

Skuldig

7**

8

Onwettige besit van ammunisie

Onskuldig

-

9**

Onwettige besit van masjiengeweer

Skuldig

15**

10**

Onwettige besit van masjiengeweer ammunisie

Skuldig

5**

Totale opgelegde vonnis in jare

73

Totale effektiewe vonnis in jare

51

Jare voordat parool oorweeg mag word

30

* / ** Vonnisse samelopend


APPELLANT 8 : GIDEON MATELA

Aanklag

No

Aanklag

Beskrywing

Skuldig/

Onskuldig

Vonnis

in jare

1

Diefstal

Onskuldig

-

2

Roof met verswarende omstandighede

Skuldig

6

3

Roof met verswarende omstandighede

Onskuldig

-

4

Roof met verswarende omstandighede

Skuldig

25

5*

Poging tot moord

Skuldig

10*

6*

Poging tot moord

Skuldig

10*

7**

Besit van vuurwapens sonder lisensie

Skuldig

7**

8

Onwettige besit van ammunisie

Onskuldig

-

9**

Onwettige besit van masjiengeweer

Skuldig

15**

10**

Onwettige besit van masjiengeweer ammunisie

Skuldig

5**

Totale opgelegde vonnis in jare

78

Totale effektiewe vonnis in jare

56

Jare voordat parool oorweeg mag word

35

* / ** Vonnisse samelopend



APPELLANT 9 : JEREMIA MALUME KHANYILE

Aanklag

No

Aanklag

Beskrywing

Skuldig/

Onskuldig

Vonnis

in jare

1

Diefstal

Onskuldig

-

2

Roof met verswarende omstandighede

Skuldig

6

3

Roof met verswarende omstandighede

Onskuldig

-

4

Roof met verswarende omstandighede

Skuldig

20

5*

Poging tot moord

Skuldig

10*

6 *

Poging tot moord

Skuldig

10*

7**

Besit van vuurwapens sonder lisensie

Skuldig

7**

8

Onwettige besit van ammunisie

Onskuldig

-

9**

Onwettige besit van masjiengeweer

Skuldig

15**

10**

Onwettige besit van masjiengeweer ammunisie

Skuldig

5**

Totale opgelegde vonnis in jare

73

Totale effektiewe vonnis in jare

51

Jare voordat parool oorweeg mag word

30

* / ** Vonnisse samelopend



  1. Die opgelegde vonnisse is primêr op die volgende gronde aangeval deur die Appellante se advokate:


    1. Dat die vonnisse skokkend onvanpas is en dat dit neerkom op “wrede, onmenslike of vernederende” straf, wat uitdruklik verbied word in artikel 12(1)(e) van die Grondwet, Wet 108 van 1996.

    2. Daar is verder aangevoer dat die vonnisse die Appellante se lewensverwagtinge ver oorskry en dat dit uiteindelik beteken dat die Appellante die res van hul lewens in die gevangenis sal moet slyt.

    3. Submissies is gemaak dat die Verhoorregter ongrondwetlik opgetree het deur aanbevelings oor parool te maak – daar is aangevoer dat sodanige aanbevelings ongeldig is.

    4. Na submissie het die Verhoorhof te min gewig gelê op die feit dat van die Appellante beseer is tydens die gebeure, terwyl aan die anderkant, niemand deur hulle beseer is nie.


      1. Op ons versoek het die advokate ook aanvullende skriftelike betoogshoofde geliasseer aangaande die regsvraag of ‘n Hof bevoegd is om by vonnisoplegging twee of meer minimum vonnisse soos voorgeskryf in Wet 105 van 1997, te laat saamloop.


      1. Ek skets vervolgens baie bondig die gebeure wat aanleiding gegee het tot die skuldigbevindings en vonnisse in hierdie saak.


6.1 Op 17 Februarie 2000, in die omgewing van die Vryburg-Morokweng-hoofpad (distrik van Vryburg) het ‘n totaal van 13 swaar gewapende rowers ‘n rooftog uitgevoer op ‘n gepantserde pensioenvoertuig wat vergesel was deur sekuriteitswagte en ‘n voertuig van die pensioene maatskappy.


6.2 Tydens die rooftog is ‘n groot bedrag kontant en vuurwapens buitgemaak.


6.3 Die polisie, wat vooraf inligting ontvang het oor die beplande rooftog en in die gebied ontplooi het, het toegeslaan op die rowers onmiddellik na afloop van die rooftog. ‘n Woeste skietgeveg het ontstaan waartydens drie van die rowers op die toneel doodgeskiet is en vier ander gewond is (die derde, sesde, sewende en agste Appellante).


6.4 Die Appellante is almal op of naby die toneel van die roof gearresteer.


6.5 Die tweede Appellant, wat soos alreeds vermeld intussen oorlede is, was ‘n werknemer van die sekuriteitsmaatskappy wat dekking tydens die vervoer van die pensioengelde verskaf het. Hy was na bewering (en dit is so bevind deur die Verhoorhof) die rowers se kontak binne-in die sekuriteitsmaatskappy.


6.6 Die rooftog was fyn beplan en is voorafgegaan deur:

  1. die diefstal en roof van voertuie wat uiteindelik gebruik is deur die rowers in die uitvoering van die rooftog;

  2. n mislukte poging op 21 Januarie 2000 in dieselfde omgewing;

  3. kontak met onder andere tweede Appellant asook ene mnr Mocwiri, die bestuurder van die pensioenvoertuig (dit is laasgenoemde wat via sy toesighouer die polisie van die voorgenome transitoroof van 17 Februarie 2000 ingelig het).


    1. Dit ly geen twyfel nie dat hierdie misdrywe, soos wat die Verhoorregter tereg bevind het, baie ernstig van aard is – die advokate namens die Appellante het dit dan ook so toegegee. Hierdie was inderdaad ‘n fyn beplande rooftog waartydens die rowers nie geskroom het om wild en wakker op die polisie te skiet nie. Dit is heeltemal tereg bevind deur die Verhoorregter dat hulle na die polisie geskiet het om dood te skiet.

Verdere verswarende faktore is die volgende:


  1. Die rowers het pensioengeld buitgemaak, dus geld wat vir die behoeftiges en minderbevoorregtes bestem was – dié aspek het hulle vanweë hebsug hulle glad nie aan gesteur nie.

  2. Die oorgrote meerderheid van hulle het honderde kilometers ver gereis vanaf Gauteng om die roof te kom uitvoer.

  3. Wat aanklagte 5 en 6 (poging tot moord) aanbetref, is dit duidelik dat hulle op die polisie geskiet het nadat die rooftog alreeds afgeloop het. Hierdie faktor speel ‘n besliste rol by die vraag rakende die sameloping van vonnisse, ‘n aspek waarmee ek tegelegenertyd sal handel.

  4. Die rowers was, soos alreeds vermeld, tot die tande toe gewapen en het nie gehuiwer om dié vuurwapens te gebruik nie.


8.1 Die submissie namens die Appellante dat dit ‘n versagtende faktor is dat geen onskuldige persone gedood of beseer is tydens die voorval, het geen meriete nie. Dit sou na my mening verregaande wees om erkenning te verleen aan die Appellante se powere skietvernuf of die paraatheid van die polisie deur dit in hulle guns as strafversagtende faktor in ag te neem.


8.2 Die verdere submissie dat die beserings opgedoen deur van die Appellante (nrs 3, 6, 7 en 8) as morele vergelding beskou moet word en in ag geneem moes word deur die Hof a quo, kan eweneens nie opgaan nie. ‘n Gewapende transito rower neem tog bewustelik die risiko aan dat hy sy Moses mag teëkom en dat hy beseer (selfs gedood) mag word in die loop van sy misdadigheid. Die Appellante se beroep op S v De Vries 1995(1) SASV 662(T) is heeltemal misplaas. Die feite in daardie saak is heeltemal onderskeibaar van dié in die onderhawige geval. De Vries se beserings was baie ernstiger as dié in hierdie saak. Belangriker nog – De Vries was nie ‘n slagoffer van ‘n oor-en-weer skietery met die polisie waar die polisie in selfverdediging opgetree het soos wat hier die geval is nie.

Eweneens is ‘n beroep op S v Brand 1998(1) SASV 296(K) misplaas, gegewe die onderskeibare feite van daardie saak.


  1. Die bevoegdhede van ‘n Hof van Appél ten aansien van vonnis is nou reeds baie duidelik uitgekristalliseer en behoef nie herhaling hierin nie. Daar is voor ons hoegenaamd nie aangevoer deur enigeen van die Appellante se advokate dat die Verhoorregter ‘n wesenlike mistasting begaan het nie. Wat egter noukeurige oorweging verg is die submissie dat die opgelegde vonnisse skokkend onvanpas is. Hiermee saam verg die volgende betoë deeglike evaluering:


  1. Het die Verhoorregter ten doel gehad om die Appellante permanent uit die samelewing te verwyder? – indien wel, was die vonnis van lewenslange gevangenisstraf die enigste gepaste vonnis?

  2. Het die Verhoorregter gepoog om die effek van parool te neutraliseer deur die swaar vonnisse wat opgelê is?

  3. Openbaar die vonnisse ‘n treffende verskil met dié opgelê in soortgelyke sake?


      1. Die geleerde Verhoorregter het die volgende gesê ten aansien van verwydering van die Appellante uit die samelewing:


Ek is van oordeel dat die beskuldigdes mense is wat, indien nie permanent nie, dan wel vir die grootste deel van hulle lewe uit die samelewing verwyder moet word.”


Hy het verder daarop gewys dat die gemeenskap vuisvoos is vir misdaad en dat transito rowers kennis moet neem dat hulle die res van hul lewens of die grootste deel daarvan agter tralies mag deurbring.


      1. Dit is onteenseglik so dat lewenslange gevangenisstraf die mees gepaste vonnis is waar ‘n Hof die samelewing wil beskerm teen ‘n beskuldigde op permanente en effektiewe wyse.

Sien: S v Siluale en ander 1999(2) SASV 102 (HHA) te 106 i-j;

S v Bull and another, S v Chavulla and others 2001(2) SASV 681 (HHA) te 693j – 694a.

Die Hoogste Hof van Appél het ook al by herhaling gemaan dat dit geheel en al onvanpas is om vonnisse op te lê wat so lank is dat dit ‘n beskuldigde se lewensverwagting ver oorskry, met die doel om die verlening van parool te neutraliseer;

Sien: S v Mhlakaza and another 1997(1) SASV 515 (HHA) te 521g – 522h (waarin met goedkeuring verwys word na S v Smith 1996(1) SASV 250(O) te 254c – 259c);

S v Siluale en ander, supra, te 107b-c;

S v S 1987(2) SA 307(A) te 313 H-J.

In S v Mhlakaza and another, supra, het Harms AR in groot besonderhede oorweging geskenk aan lewenslange gevangenisstraf as ‘n vonnis. Die Hoogste Hof van Appél moes oorweeg of vonnisse met ‘n kumulatiewe effek van 47 jaar en 38 jaar onderskeidelik opgelê deur die Verhoorhof, gepas is.

Die volgende belangrike aspekte word voorgehou in Harms AR se uitspraak:


  • Tot ‘n mate is alle vonnisse van gevangenisstraf onbepaalde termyne van gevangenisstraf, inaggenome die moontlikhede van parool en remissie van vonnis (te 520f – 521d);

  • n Geregshof wat vonnis oplê se funksie is om ‘n maksimum termyn van gevangenisstraf te bepaal wat ‘n beskuldigde moet uitdien; ‘n Hof het geen beheer oor die minimum of werklike termyn wat uitgedien word nie (te 521d-e);

  • Inaggenome die voorafgaande, is ‘n vonnis van lewenslange gevangenisstraf ‘n vonnis wat potensieel die effek het van gevangenisstraf vir die res van ‘n prisonier se natuurlike lewe en ‘n vonnis van 47 jaar mag potensieel vir die totale termyn (47 jaar) loop. De jure dus, is ‘n vonnis van lewenslange gevangenisstraf potensieel swaarder as een van 47 jaar (afhangende natuurlik van die beskuldigde se lewensverwagting) – sien 521d-e;

  • Die howe het nie die bevoegdheid om voor te skryf aan die uitvoerende gesag oor hoe en vir hoe lank persone wat skuldig bevind en gevonnis is aangehou moet word nie. Eweneens mag howe nie die bevoegdhede van die uitvoerende gesag toe-eien deur vonnisse op te lê wat onvanpas is nie (te 521g-i).

Die geleerde Appélregter kom dan tot die slotsom dat, aangesien ‘n vonnis van lewenslange gevangenisstraf gepas sou wees in daardie saak, inmenging op appél nie geregverdig is nie, aangesien so ‘n vonnis de jure nie ligter is as ‘n vonnis van 47 jaar of 38 jaar effektiewelik nie.

      1. Die advokate vir die Appellante het groot gewag gemaak van die beslissing in S v Bull and another; S v Chavulla and others 2001(2) SASV 681(HHA).

Die argument is kortliks die volgende – die misdrywe gepleeg in daardie twee sake is aansienlik ernstiger as dié in die onderhawige geval aangesien daar ook meerdere skuldigbevindings aan moord ter sprake is. Inaggenome dus dat op appél die vonnisse tersydegestel is en vervang is met lewenslange gevangenisstraf in die Chavulla-saak en 25 jaar in die Bull-saak, des te meer is inmenging op appél geregverdig in casu.

Ek is die mening toegedaan dat hierdie ietwat simplistiese benadering die volgende heeltemal uit die oog verloor:


  1. In Bull en Chavulla het dit primêr gegaan oor die bepalings van artikels 286A en 286B van die Strafproseswet, wat nie die geval hier is nie.

  2. Toe die Verhoorhowe vonnisse opgelê het in daardie sake was die bepalings vervat in Wet 105 van 1997, die Strafregwysigingswet, nie van toepassing nie. Die Hoogste Hof van Appél het dus ook nie nodig gehad om daarmee te handel nie. Hierdie is ‘n belangrike onderskeidende faktor in die onderhawige saak, aangesien Wet 105 van 1997 se bepalings, na my mening, ‘n ingrypende nuwe benadering tot vonnisoplegging ten aansien van sekere ernstige misdrywe teweeggebring het.


    1. In Bull en Chavulla se saak bespreek Vivier Wn AHR breedvoerig die kwessies van lewenslange gevangenisstraf, parool en lang kumulatiewe vonnisse.

Tot ‘n groot mate bevestig hy die beginsels alreeds neergelê in die Siluale en Mhlakaza-sake waarna ek alreeds verwys het.

Van groot belang is die volgende dictum van die geleerde Regter:


It is clear from the above passage in the judgment of Grosskopf JA (in die Siluale-saak te 106g-107c) that it is the possibility of parole which saves a sentence of live imprisonment from being cruel, inhuman and degrading punishment” (te 695c).


14.1 Daar is in die jongste tyd heelwat regspraak oor paroolbeleid, oor die effek daarvan by vonnisoplegging en oor ellelange termyne van gevangenisstraf wat deur die Howe opgelê word met die doel om die effek van moontlike parool te neutraliseer. Ek het alreeds in paragraaf 11 hierin sommige van hierdie gewysdes aangehaal. Daarby kan gevoeg word:

S v Tcoeib 1991(2) SASV 627 (Nm);

S v Nkosi 1993(1) SASV 709(A) te 717;

S v Segole and another 1999(2) SASV 115(W), veral te 125b-j;

S v Sidyno 2001(2) SASV 613(T) te 620h – 622i.


14.2 Na my mening is die regsposisie nou duidelik uitgekristalliseer deur die Hoogste Hof van Appél as volg:


  • Die swaarste vonnis wat regtens huidiglik opgelê kan word is lewenslange gevangenisstraf – dít behoort alleenlik opgelê te word in gevalle:

    1. waar die vonnisoplegger se oogmerk is om die oortreder permanent uit die samelewing te verwyder; of

    2. dit die minimum voorgeskrewe straf is uit hoofde van die bepalings van Wet 105 van 1977 en daar geen wesenlike en dwingende omstandighede bestaan nie.

      • Alhoewel ‘n regsprekende beampte nie by vonnisoplegging sy/haar oë kan sluit vir die praktiese effek van parool nie, is dit ‘n onbepaalbare faktor, hoogs spekulatief van aard en behoort derhalwe heeltemal buite rekening gelaat te word.

      • Aansluitend by die voorafgaande, is dit nie geoorloof om sulke lang termyne van gevangenisstraf op te lê om parool te neutraliseer, wat ‘n beskuldigde se lewensverwagting ver oorskry nie.

      • Daar moet uiteindelik vir ‘n gevonnisde lig aan die einde van die tonnel wees – as ‘n vonnis opgelê word wat geen realistiese hoop vir die gevonnisde bied om dit ooit uit te dien nie, al gebeur wat ook al, word die vonnis ‘n klug en hoort dit nie in ‘n beskaafde regstelsel nie.


15.1 Ek wend my nou na die submissies oor die aanbevelings ten aansien van parool wat die Verhoorregter gemaak het, wat na bewering ongeldig is.

Dit staan vas dat ‘n geregshof nie kan voorskryf aan die uitvoerende gesag hoe lank ‘n gevonnisde aangehou moet word en wanneer parool oorweeg of toegestaan kan word nie. Sien:

S v Nkosi, (1) S v Nkosi (2), S v Mchunu 1984(4) SA 94(T) te 98-99,

S v Mhlakaza and another, supra, te 521g-h.


15.2 ‘n Aanbeveling is egter allermins ‘n voorskrif of lasgewing. Die advokate kon ons na geen gesag verwys nie en ek is nie bewus van enige gesag tot dien effekte dat ‘n aanbeveling ten aansien van parool deur ‘n geregshof neerkom op toe-eiening van ‘n bevoegdheid wat by die uitvoerende gesag tuishoort en derhalwe ultra vires is nie. Die hofverslae wemel van gewysdes waar vonnisopleggers sulke aanbevelings maak – tot my kennis is tot op hede nog nooit met sodanige aanbevelings ingemeng op appél nie.

‘n Geregshof wat ‘n aanbeveling doen ten aansien van parool poog nie om ‘n bevoegdheid uit te oefen nie. Sien S v Maseko 1998(1) SASV 451(T) te 459h-i waar Swart R hom soos volg uitlaat:


Grobbelaar R was natuurlik bewus daarvan dat die appellant op parool uitgelaat kon word. Ek dink nie dat hy, soos beweer, misgetas het nie. Ek dink nie hy wou aan die gevangenisowerhede voorskryf nie. Hy het 'n aanbeveling gemaak, wat nie bindend is nie, maar wat aanduidend is van sy mening oor die verloop van tyd voordat parool oorweeg moet word.”


Ek vereenselwig my met respek met hierdie siening. Ek is hoegenaamd nie oortuig dat ‘n Hof nie enige aanbevelings ten aansien van parool mag maak nie.

In S v Sidyno, supra, te 623b-f het Van der Westhuizen R die vraag oorweeg of dit gepas is vanuit ‘n grondwetlike en juridiese oogpunt om so ‘n aanbeveling te maak ten aansien van parool wat nie oorweeg mag word nie vir ‘n tydperk wat 25 jaar oorskry. Die geleerde Regter bespreek weliswaar die aangeleentheid van beide kante, maar kom nie tot ‘n besliste antwoord nie.

Wat van belang is, is die daaropvolgende oorweging of sò ‘n aanbeveling enige effek het en of dit hoegenaamd in ag geneem word (te 623g).

Met verwysing na S v Segole, supra, te 125F-J kom die geleerde Regter tot die slotsom dat sò ‘n aanbeveling wel in aanmerking geneem word, mits dit nie twee-derdes van ‘n vonnis te bowe gaan nie en nie 25 jaar oorskry nie.


15.4 Ons het nie die voordeel gehad van insae in die dokument waarna in S v Segole verwys is nie. Mnr. Pienaar, wat namens die derde en sesde Appellante verskyn, het aangevoer dat daar inderdaad geen statutêre voorskrifte oor parool bestaan by die Departement van Korrektiewe Dienste nie. Hy het aan ons opgehandig ‘n stel diensorders van daardie Departement wat onder andere insluit kriteria vir die oorweging van parool wat riglyne bevat ten aansien van prisoniere wat lewenslange gevangenisstraf uitdien.

Daarvolgens blyk dit dat sò ‘n prisonier ten minste 20 jaar moet uitdien alvorens parool oorweeg kan word. Insiggewend verder verskyn die volgende daarin [par. VI (1A)(22)(f)]:


Courts still have the competence to stipulate a period of reviewal when imposing a sentence, yet the recommendation does not derogate the competence of the Parole Boards to consider placement after 20 years”.


Meneer Pienaar het verder ons aandag daarop gevestig dat die dokument waarna verwys word te 695g in die Bull- en Chavulla-saak (Kennisgewing 1222 van 1996 in Staatskoerant Nr 17386 van 30 Augustus 1996) inderdaad nie die Departement van Korrektiewe Dienste se vrylatingsbeleid weergee nie, maar bloot ‘n besprekingsdokument is. Hy het hierdie Kennisgewing aan ons opgehandig en daaruit blyk dit inderdaad die geval is – die Kennisgewing se opskrif is:


VOORSTELLE RAKENDE DIE VRYLATINGS-/UITPLASINGSBELEID VAN DIE DEPARTEMENT (VAN KORREKTIEWE DIENSTE)” – die beklemtoning en invoeging is myne.


Die Kennisgewing vra dan ook kommentaar en reaksie aan op die voorstelle daarin vervat.


16.1 Die vraag rondom parool en paroolbeleid word verder vertroebel deur die betreurenswaardige stand van sake van die tersaaklike wetgewing.

Die Wetgewer is vermoedelik deeglik bewus van die debat rondom hierdie aangeleentheid en van die sluimerende spanning tussen vonnisopleggers en die gevangenisowerhede.

Hierdie vermoede is gebaseer op die feit dat die Wetgewer dit nodig geag het om:


  1. artikels 65(5) en (6) van die Wet op Korrektiewe Dienste, 8 van 1959, te wysig deur die Wysigingswet op Parool en Korrektiewe Toesig, 87 van 1997; en

  2. n nuwe wet, die Wet op Korrektiewe Dienste, 111 van 1998, op die wetboek te plaas.


Beide hierdie Wette bevat bepalings dat ‘n gevonnisde prisonier wat lewenslange gevangenisstraf uitdien ten minste 25 jaar moet uitdien alvorens oorweging aan parool geskenk kan word (art 9(d)(v) van Wet 87 van 1997 en art. 73(6)(b)(iv) van Wet 111 van 1998).

Die nuwe Wet op Korrektiewe Dienste (111 van 1998) gaan verder as dit en bepaal dat ‘n Hof moet bepaal wanneer ‘n gevonnisde wat lewenslange gevangenisstraf uitdien op parool vrygelaat moet word [art 73(5)(a)(ii)].

Die tersaaklike bepalings van Wet 87 van 1997, en van Wet 111 van 1998 is tot op hede nog nie in werking gestel nie.

Ek vereenselwig my respekvol met Vivier Wn AHR se opmerkings aangaande hierdie onbevredigende stand van sake (sien 702a-3 van die Bull- en Chavulla-saak).


16.2 Daar is egter ‘n verdere kompliserende verwikkeling in die alreeds treurige stand van sake.

Die Wysigingswet op Korrektiewe Dienste, 32 van 2001, is teen die einde van laasjaar op die wetboek geplaas.

Artikel 27 van daardie Wet wysig verskeie bepalings van Wet 111 van 1998 (welke bepalings, soos gesê is, nog steeds nie in werking gestel is nie) en meer bepaald art 73(6) daarvan wat handel met vrylating op parool. Dit is steeds nie duidelik waarom Wet 111 van 1998, of ten minste dan die deel daarvan wat betrekking het op parool, tot op hede nog nie in werking gestel is nie.


17.1 Ek neem nou die opgelegde vonnisse in casu onder die loep.

Die strafverswarende faktore is alreeds uitgewys vroeër hierin. Daar is geen noemenswaardige strafversagtende faktore wat uit die oorkonde blyk nie. Die belangrikste is die feit dat die eerste, tweede, sewende en negende Appellante geen vorige veroordelings gehad het nie. Die Verhoorregter het dit deeglik in ag geneem en het ‘n onderskeid getref tussen hulle en die ander Appellante wat wel vorige veroordelings gehad het. Dié onderskeid word dan ook weerspieël in die vonnisse. Die vorige veroordelings van die derde, vierde, sesde en agste Appellante is in ag geneem by die vonnis wat opgelê is op aanklag vier (die transitoroof) asook by die aanbeveling ten aansien van parool.


    1. Die vonnisse wat opgelê is is gewis baie swaar. Daar is nie voor ons deur enige van die Appellante se advokate aangevoer dat die individuele vonnisse self te swaar is nie. Daar is eerder gesubmitteer dat die vonnisse kumulatief beskou, heeltemal té swaar en skokkend onvanpas is. Mnr Muhlohlonyi het as alternatief aan ons voorgehou dat lewenslange gevangenisstraf vir al die aanklagte tesame meer gepas sou wees. Ek meen nie dat dít die aangewese weg is om te volg nie. Myns insiens was dit nie die Verhoorregter se oogmerk om die Appellante permanent uit die samelewing te verwyder nie.


    1. n Verdere aspek wat nou oorweging verg is of minimum vonnisse soos voorgeskryf in Wet 105 van 1997 kan saamloop met ander vonnisse (wat ‘n ander minimum vonnis kan insluit). Die advokate is dit almal eens dat daar regtens geen sodanige beletsel daarteen bestaan nie.

Ek is die mening toegedaan dat hierdie konsensusposisie die korrekte een is. Dit is opvallend dat artikel 51(5) van Wet 105 van 1997 uitdruklik die opskorting van enige vonnis of deel daarvan opgelê ingevolge artikel 51 verbied.

Artikel 51(4) bepaal dat ‘n vonnis opgelê ingevolge artikel 51, bereken word vanaf die datum van die vonnis – hierdeur word die terugdatering van vonnisse uitdruklik belet (die vindingryke argument van mnr Hugo dat dié subartikel ten doel sou hê dat alle minimum vonnisse vanaf datum van vonnisoplegging begin loop en dus die bepalings van art 280(2) van die Strafproseswet “neutraliseer”, is heeltemal sonder meriete).

Daar kom egter geen sodanige verbod teen sameloping van vonnisse voor nie. Indien die Wetgewer bedoel het dat minimum vonnisse nie mag saamloop nie, sou die Wetgewer dit tog uitdruklik gesê het.

Ek is van mening dat die stelreël “expressio unius est exclusio alterius” aanwending vind hier. Hierdie stelreël moet weliswaar met versigtigheid toegepas word.

Sien: South African Roads Board v Johannesburg City Council 1991(4) SA 1(A) te 16G.

Dit verskaf myns insiens egter minstens ‘n prima facie-aanduiding dat die Wetgewer sò ‘n verbod op sameloping nie wou uitgesluit het nie.

Sien: R v Vlotman 1912 AD 136 te 141;

Hlatswayo and others v Hein 1999(2) SA 834(LCC) te 837 F-G.

Verdere steun vir hierdie siening is te vinde in die gevestigde beginsel by wetsuitleg dat by uitleg van ‘n latere Wet dit nie die wetgewer se bedoeling is om vroeëre wette te herroep of te wysig nie – sò ‘n herroeping of wysiging moet uitdruklik geskied of by wyse van noodsaaklike implikasie.

Sien: LC Steyn: Die Uitleg van Wette, 5de uitgawe te 99-100 en te 189.

GE Devenish: Interpretation of Statutes (1992) te 159-161.

Gevolglik kan aanvaar word dat die bepalings vervat in Wet 105 van 1997 nie die bepalings van art 280(2) van die Strafproseswet ten aansien van die sameloping van vonnisse herroep of gewysig het nie.


    1. Die kumulatiewe vonnisse in casu wissel van 53 jaar tot 84 jaar. Die effektiewe vonnisse, inaggenome die effek van die sameloping van vonnisse soos gelas deur Buys R, wissel van 43 jaar tot 56 jaar.

Alhoewel daar meriete is in mnr De Nysschen, wat vir die Staat verskyn, se betoog dat lewensverwagtinge nie bepaalbaar is deur toepassing van eksakte wetenskaplike beginsels nie, meen ek tog dat dit ‘n faktor is wat ons in aanmerking behoort te neem. Tewens, dit blyk uit van die gewysdes waarna ek alreeds verwys het, dat dit deeglik in ag geneem behoort te word. Die vonnisse, selfs die effektiewe termyne, oorskry die lewensverwagtinge van al die Appellante voor ons.

Ek is die mening toegedaan dat die vonnisse te swaar is en dat inmenging op appél geregverdigd is.

Ek kom tot hierdie slotsom primêr aan die hand van rigtinggewende beslissings hierinvantevore aangehaal, veral dié van die Hoogste Hof van Appél.

Ek is die mening toegedaan dat die vonnisse getemper behoort te word deur sameloping van die vonnisse op aanklagte 4 en 9 waar daar minimum vonnisse betrokke is (daar is nie namens die Appellante aangevoer dat Buys R gefouteer het deur te bevind dat daar geen wesenlike en dwingende omstandighede bestaan nie).


    1. Ek het vroeër hierin (sien par 7(c) hiervan) melding gemaak van die feit dat wat aanklagte 5 en 6 (poging tot moord) aanbetref, daar op die polisie geskiet is nadat die transitoroof (aanklag 4) reeds afgeloop het.

Daar is, met ‘n beroep op S v Belelie 1997(2) SASV 79(W) deur mnr Hugo in sy betoogshoofde aan die hand gedoen dat, deur nie te gelas dat die vonnisse op die poging tot moord klagtes (5 en 6) saamloop met dié op die transitoroof klagte (4) nie, het Buys R as’t ware ‘n verdubbeling van straf laat plaasvind. Hierdie submissie het geen meriete nie – in die Belelie-saak het die poging tot moord plaasgevind tydens die rooftog (sien 80 a-b van daardie uitspraak waar Labe R die tersaaklike feite uiteensit). Die feite in die onderhawige geval is, soos ek alreeds uitgewys het, totaal en al onderskeidbaar – nadat die roof afgeloop het en die rowers alreeds in besit was van hul buit, het die skietgeveg met die polisie op twee verskillende plekke ontstaan.

In sulke omstandighede is daar na my mening geen aanvaarbare basis waarop sameloping gelas kan word nie.

Vergelyk: S v Maraisana and another 1992(2) SASV 507(A).

Aan die ander kant en juis op dieselfde basis, meen ek dat dit vanpas sou wees om die vonnisse op aanklag 4 (transitoroof) en 9 (onwettige besit van ‘n masjiengeweer) te laat saamloop – die masjiengeweer was gebruik in die uitvoering van die transitoroof.


    1. Hierdie was ‘n baie ernstige voorval, soos blyk uit die feite hierin uiteengesit. Ek meen dat dit een van daardie uitsonderlike gevalle is waar ‘n Hof geregtig is om ‘n aanbeveling te maak ten aansien van ‘n minimum termyn van gevangenisstraf wat eers uitgedien moet word alvorens parool oorweeg kan word.

Sien: S v Sidyno, supra, te 624h.

Die minimum termyne moet uiteraard aangepas word ooreenkomstig die aanpassing van die effektiewe vonnisse, gegewe die beslissing oor sameloping van die vonnisse op aanklagte 4 en 9. Soos aanvanklik versoek deur mnr. Muhlohlonyi oefen ons ons inherente hersieningsbevoegdheid uit ten aansien van die Eerste Appellant se vonnisse.



In die omstandighede sou ek die vonnisse van die eerste, derde, vierde, sesde, sewende, agste en negende Appellante tersydestel en vervang met die volgende:


    1. EERSTE APPELLANT

Aanklag 1: 6 (ses) jaar gevangenisstraf

Aanklag 2: 6 (ses) jaar gevangenisstraf

Aanklag 4: 20 (twintig) jaar gevangenisstraf

Aanklag 5: 10 (tien) jaar gevangenisstraf

Aanklag 6: 10 (tien) jaar gevangenisstraf

Aanklag 7: 7 (sewe) jaar gevangenisstraf

Aanklag 9 15 (vyftien) jaar gevangenisstraf

Aanklag 10: 5 (vyf) jaar gevangenisstraf

Ingevolge art 280 van die Strafproseswet word dit gelas dat die vonnisse op die volgende aanklagte gelyktydig uitgedien word:

  • Aanklagte 1 en 2

  • Aanklagte 5 en 6

  • Aanklagte 4, 7, 9 en 10

Die Eerste Appellant word dus ‘n effektiewe vonnis van 36 jaar gevangenisstraf opgelê.

Dit word aanbeveel dat die Eerste Appellant nie vir parool oorweeg word alvorens hy 20 jaar van die gevangenisstraf uitgedien het nie.


    1. DERDE APPELLANT

Aanklag 1: 6 (ses) jaar gevangenisstraf

Aanklag 2: 6 (ses) jaar gevangenisstraf

Aanklag 4: 25 (vyf-en-twintig) jaar gevangenisstraf

Aanklag 5: 10 (tien) jaar gevangenisstraf

Aanklag 6: 10 (tien) jaar gevangenisstraf

Aanklag 7: 7 (sewe) jaar gevangenisstraf

Aanklag 9 15 (vyftien) jaar gevangenisstraf

Aanklag 10: 5 (vyf) jaar gevangenisstraf

Ingevolge art 280 van die Strafproseswet word dit gelas dat die vonnisse op die volgende aanklagte gelyktydig uitgedien word:

  • Aanklagte 1 en 2

  • Aanklagte 5 en 6

  • Aanklagte 4, 7, 9 en 10

Die Derde Appellant word dus ‘n effektiewe vonnis van 41 jaar gevangenisstraf opgelê.

Dit word aanbeveel dat die Derde Appellant nie vir parool oorweeg word alvorens hy 20 jaar van die gevangenisstraf uitgedien het nie.


    1. VIERDE APPELLANT

Aanklag 2: 6 (ses) jaar gevangenisstraf

Aanklag 3: 6 (ses) jaar gevangenisstraf

Aanklag 4: 25 (vyf-en-twintig) jaar gevangenisstraf

Aanklag 5: 10 (tien) jaar gevangenisstraf

Aanklag 6: 10 (tien) jaar gevangenisstraf

Aanklag 7: 7 (sewe) jaar gevangenisstraf

Aanklag 9 15 (vyftien) jaar gevangenisstraf

Aanklag 10: 5 (vyf) jaar gevangenisstraf

Ingevolge art 280 van die Strafproseswet word dit gelas dat die vonnisse op die volgende aanklagte gelyktydig uitgedien word:

  • Aanklagte 2 en 3

  • Aanklagte 5 en 6

  • Aanklagte 4, 7, 9 en 10

Die Vierde Appellant word dus ‘n effektiewe vonnis van 41 jaar gevangenisstraf opgelê.

Dit word aanbeveel dat die Vierde Appellant nie vir parool oorweeg word alvorens hy 20 jaar van die gevangenisstraf uitgedien het nie.


    1. SESDE APPELLANT

Aanklag 2: 6 (ses) jaar gevangenisstraf

Aanklag 4: 24 (vier-en-twintig) jaar gevangenisstraf

Aanklag 5: 10 (tien) jaar gevangenisstraf

Aanklag 6: 10 (tien) jaar gevangenisstraf

Aanklag 7: 7 (sewe) jaar gevangenisstraf

Aanklag 9 15 (vyftien) jaar gevangenisstraf

Aanklag 10: 5 (vyf) jaar gevangenisstraf

Ingevolge art 280 van die Strafproseswet word dit gelas dat die vonnisse op die volgende aanklagte gelyktydig uitgedien word:

  • Aanklagte 5 en 6

  • Aanklagte 4, 7, 9 en 10

Die Sesde Appellant word dus ‘n effektiewe vonnis van 40 jaar gevangenisstraf opgelê.

Dit word aanbeveel dat die Sesde Appellant nie vir parool oorweeg word alvorens hy 20 jaar van die gevangenisstraf uitgedien het nie.


    1. SEWENDE APPELLANT

Aanklag 2: 6 (ses) jaar gevangenisstraf

Aanklag 4: 20 (twintig) jaar gevangenisstraf

Aanklag 5: 10 (tien) jaar gevangenisstraf

Aanklag 6: 10 (tien) jaar gevangenisstraf

Aanklag 7: 7 (sewe) jaar gevangenisstraf

Aanklag 9 15 (vyftien) jaar gevangenisstraf

Aanklag 10: 5 (vyf) jaar gevangenisstraf

Ingevolge art 280 van die Strafproseswet word dit gelas dat die vonnisse op die volgende aanklagte gelyktydig uitgedien word:

  • Aanklagte 5 en 6

  • Aanklagte 4, 7, 9 en 10

Die Sewende Appellant word dus ‘n effektiewe vonnis van 36 jaar gevangenisstraf opgelê.

Dit word aanbeveel dat die Sewende Appellant nie vir parool oorweeg word alvorens hy 20 jaar van die gevangenisstraf uitgedien het nie.


    1. AGSTE APPELLANT

Aanklag 2: 6 (ses) jaar gevangenisstraf

Aanklag 4: 25 (vyf-en-twintig) jaar gevangenisstraf

Aanklag 5: 10 (tien) jaar gevangenisstraf

Aanklag 6: 10 (tien) jaar gevangenisstraf

Aanklag 7: 7 (sewe) jaar gevangenisstraf

Aanklag 9 15 (vyftien) jaar gevangenisstraf

Aanklag 10: 5 (vyf) jaar gevangenisstraf

Ingevolge art 280 van die Strafproseswet word dit gelas dat die vonnisse op die volgende aanklagte gelyktydig uitgedien word:

  • Aanklagte 5 en 6

  • Aanklagte 4, 7, 9 en 10

Die Agste Appellant word dus ‘n effektiewe vonnis van 41 jaar gevangenisstraf opgelê.

Dit word aanbeveel dat die Agste Appellant nie vir parool oorweeg word alvorens hy 20 jaar van die gevangenisstraf uitgedien het nie.


    1. NEGENDE APPELLANT

Aanklag 2: 6 (ses) jaar gevangenisstraf

Aanklag 4: 20 (twintig) jaar gevangenisstraf

Aanklag 5: 10 (tien) jaar gevangenisstraf

Aanklag 6: 10 (tien) jaar gevangenisstraf

Aanklag 7: 7 (sewe) jaar gevangenisstraf

Aanklag 9 15 (vyftien) jaar gevangenisstraf

Aanklag 10: 5 (vyf) jaar gevangenisstraf

Ingevolge art 280 van die Strafproseswet word dit gelas dat die vonnisse op die volgende aanklagte gelyktydig uitgedien word:

  • Aanklagte 5 en 6

  • Aanklagte 4, 7, 9 en 10

Die Negende Appellant word dus ‘n effektiewe vonnis van 36 jaar gevangenisstraf opgelê.

Dit word aanbeveel dat die Negende Appellant nie vir parool oorweeg word alvorens hy 20 jaar van die gevangenisstraf uitgedien het nie.




___________

SA MAJIEDT

REGTER



Ek stem saam en dit word so beveel.




________________

JC VAN DER WALT

REGTER





Ek stem saam.





__________

HJ LACOCK

REGTER


NAMENS APPELLANTE 1 EN 4: ADV MM MUHLOHLONYI

NAMENS APPELLANTE 3 EN 5: ADV J LE F PIENAAR

NAMENS APPELLANTE 7, 8 EN 9: ADV DP HUGO

NAMENS RESPONDENT: ADV JM DE NYSSCHEN



DATUM VAN VERHOOR: 4 MAART 2002

DATUM VAN UITSPRAAK: 9 SEPTEMBER 2002