South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
You are here: SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2002 >> [2002] ZANCHC 25 | Noteup | LawCiteS v Witbooi (503/2002) [2002] ZANCHC 25 (5 September 2002)
Download original files |
Verslagwaardig: Ja / Nee
Sirkuleer aan Regters: Ja / Nee
Sirkuleer aan Landdroste: Ja / Nee
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Afdeling)
Hersieningsnr: 428/02
Saaknr: 503/2002
Datum gelewer: 2002-09-05
In die hersieningsaak van:
DIE STAAT
versus
FRANS WITBOOI BESKULDIGDE
Coram: MAJIEDT R et LACOCK R
UITSPRAAK OP HERSIENING
MAJIEDT R:
Ek het redes vir die opgelegde vonnis versoek van die landdros hierin en hy het volledige redes verskaf.
Die beskuldigde is skuldig bevind aan ‘n oortreding van art 122(a) van die Wet op Korrektiewe Dienste, Wet 111 van 1998 (“die Wet”) deurdat hy van buite af oor ‘n muur by die gevangenis ingeklim het. Hy is ‘n vonnis van 24 maande gevangenisstraf opgelê waarvan die helfte (12 maande) opgeskort is vir ‘n tydperk van 5 jaar op bepaalde voorwaardes.
Die landdros beklemtoon in sy redes die strafbepaling by art 122 van die Wet waarvolgens ‘n skuldigbevinding strafbaar is met ‘n boete, of by wanbetaling daarvan met gevangenisstraf vir ‘n tydperk van hoogstens 4 jaar of met sodanige gevangenisstraf sonder ‘n keuse van ‘n boete of beide sodanige boete en sodanige gevangenisstraf. Na sy mening is “dit duidelik dat die Wetgewer ‘n oortreding van hierdie aard in ‘n baie ernstige lig beskou – vandaar die hoër jurisdiksie wat ‘n landdroshof verleen word in die Wet.” Verder wys die landdros daarop dat hy kennis geneem het van die beskuldigde se vorige veroordelings (3 waarvan ressorteer onder die Dwelmwet) en “moet die Hof noodwendig wonder of hierdie onwettige betreding nie ook verband hou met verskaffing van dwelmmiddels aan gevangenes nie”. Daarbenewens het die landdros inaggeneem dat gevangenes onder beheer van die Staat verkeer en dat aangesien hier toegang tot ‘n vrouegevangene verkry is, die Staat verantwoordelik gehou sou word indien ‘n vrouegevangene byvoorbeeld verkrag, aangerand of selfs vermoor sou word.
Die landdros se beklemtoning van die strafbepaling hou selektief buite rekening die feit dat die betrokke bepaling ook voorsiening maak vir ‘n boetestraf. Dit impliseer eweneens dat die Wetgewer ook voor oë gehou het die feit dat daar grade van betreding mag wees met bepaalde gevolge. In die onderhawige geval is daar hoegenaamd geen getuienis oor enige skade of ander moles veroorsaak deur die beskuldigde binne die gevangenis nie. Dit moet nie uit die oog verloor word nie dat die Staatsaanklaer dit goed geag het om die beskuldigde se pleit asook die basis daarvan soos vervat in die art 112(2)-pleitverduideliking, te aanvaar. Daarvolgens wou die beskuldigde bloot met die vroumense in die gevangenis gesels. Dit is derhalwe na my mening blote ongegronde spekulasie wanneer die landdros aandui dat hy wonder of die onwettige betreding nie ook verband hou met die verskaffing van dwelmiddels aan die gevangenes nie.
Die landdros neem tereg in ag die feit dat gevangenes onder die beheer van die Staat verkeer en dat hulle veiligheid aan die Staat toevertrou is. Weereens egter is daar geen getuienis byvoorbeeld dat die betreder/beskuldigde gewapen was of met onedele motiewe die gevangenis betree het nie.
Dit is weliswaar so dat die beskuldigde ‘n redelik indrukwekkende misdaadrekord het (5 vorige oortredings in die voorafgaande 10 jaar), maar meen ek dat die vonnis wat opgelê is skokkend onvanpas is, gegewe die feite en omstandighede van hierdie saak. Ek is van mening dat daar heeltemal te veel klem gelê is op die feit dat die Wetgewer ‘n vonnis van tot soveel as 4 jaar gevangenisstraf voorskryf. Soos ek alreeds aangetoon het, het die landdros verkeerdelik die strafbepalings selektief gelees. Hierdie is, na my mening, een van die minder ernstige gevalle van betreding in ‘n gevangenis wat ‘n mens jou kan voorstel en regverdig dit nie die opgelegde vonnis nie.
Na my mening sal ‘n halvering van die opgelegde vonnis ‘n meer gepaste vonnis wees.
Die beskuldigde se skuldigbevinding word gevolglik bekragtig maar die vonnis word tersyde gestel en vervang met die volgende:
8.1 12 (twaalf) maande gevangenisstraf waarvan 6 (ses) maande gevangenisstraf opgeskort word vir ‘n tydperk van 5 (vyf) jaar op voorwaarde dat die beskuldigde nie weer skuldig bevind word aan ‘n oortreding van artikel 122(a) van Wet 111 van 1998 gepleeg gedurende die tydperk van opskorting nie en waarvoor die beskuldigde gevonnis word tot gevangenisstraf sonder die keuse van ‘n boete.
8.2 Ingevolge die bepalings vervat in art. 282 van die Strafproseswet 51 van 1977 word die vonnis terugdateer na 17 Julie 2002.
___________
SA MAJIEDT
REGTER
Ek stem saam:
___________
HJ LACOCK
REGTER