South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
You are here: SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2002 >> [2002] ZANCHC 24 | Noteup | LawCiteVan Heerden and Others v Senwes Beperk (1625/99, 1939/99) [2002] ZANCHC 24 (4 September 2002)
Download original files |
Verslagwaardig: Ja / Nee
Sirkuleer aan Regters: Ja / Nee
Sirkuleer aan Landdroste: Ja / Nee
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Afdeling)
Datum verhoor: 26 Augustus – 4 September 2002
Datum gelewer: 4 September 2002
In die saak van:
JAN VAN HEERDEN & SEUNS BK Eiser in saaknr 1635/99
CHARLES JOHANNES ENGELBRECHT Eiser in saaknr 1643/99
LOUIS JACOBUS FOURIE Eiser in saaknr 1664/99
CHARLES HENRY DU PREEZ MARTINSON Eiser in saaknr 1715/99
TIELMAN CHRISTIAAN LODEWIKUS MEYER Eiser in saaknr 1716/99
SUSANNA KATHERINA OTTO N.O. Eiser in saaknr 1724/99
PETRUS PAULUS VAN EEDEN VAN WYK Eiser in saaknr 1737/99
versus
SENWES BEPERK Eerste Verweerder
SENWESBEL Tweede Verweerder
VAALHARTS KOöPERASIE BEPERK Derde Verweerder
Coram: MAJIEDT R
UITSPRAAK IN AANSOEK OM UITSTEL
MAJIEDT R:
Die Eisers doen aansoek vir ‘n uitstel van hierdie saak omdat dit deelsverhoord is. Die verhoor is ter rolle geplaas vir 5 weke en ons is nou in die 2de week van die voormelde 5 weke. Die aansoek berus hoofsaaklik op twee gronde te wete:
dat ‘n sleutelgetuie vir die Eiser, Mnr DE Collett wat tans onder kruisverhoor is en alreeds vier dae in die getuiebank deurgebring het, ongesteld is tot die mate dat hy nie in die afsienbare toekoms hof kan bywoon nie en nie die Eisers kan bystaan nie.
Dat die Verweerders, teenstrydig met hul verweerskrif, ‘n gewysigde verweerskrif by wyse van ‘n deskundige opsomming ingevolge Reël 36(9)(b) en deur kruisondervraging van die getuie Collettt ‘n wesenlike element van die Eisers se saak wat gegrond is op onregverdige verryking, in geskil geplaas het, met die gevolg dat die Eisers verdere deskundige getuienis moet bekom, wat noodwendig ‘n uitstel sal noodsaak.
Die Verweerders bestry die aansoek hoofsaaklik op twee gronde, te wete:
dat die Eisers nie toelaatbare getuienis voor my geplaas het waarop ek tot ‘n bevinding kan kom dat Collett wel ongesteld is tot die mate dat hy nie die hofverrigtinge kan bywoon nie, en
dat die pleitstukke inderdaad weergee dat die Verweerders die wesenlike element van verarming/verryking in geskil plaas vir soverre dit die Eisers se eisoorsaak van onregverdige verryking aangaan.
‘n Volledige stel eedsverklarings is voor my geplaas in hierdie aansoek. Dit is ongetwyfeld so dat hierdie ‘n komplekse, omvangryke saak is met verrykende implikasies vir die onderskeie partye hiertoe. Dit is verder van belang om daarop te let dat hierdie saak voor my wat gekonsolideerde aksie van ses verskillende eise teen die Verweerders is, in sommige kringe beskou word as '’n toetssaak vir ongeveer 160 ander hofgedinge wat tans hangende is en waar ten minste die Eerste en Tweede Verweerders betrokke is.
‘n Nuttige samevatting van die regsbeginsels wat in oorweging van ‘n aansoek soos hierdie onderlê, word gevind in Myburgh Transport v Botha t/a SA Truck Bodies1991(3) SA 310 (NMSC) te 314 F – 315 J. Vir soverre dit hierdie onderhawige aansoek aanbetref is die regsbeginsels wat beklemtoning verdien die volgende:
dat ek ‘n diskresie het om die aansoek toe te staan of te weier en sodanige diskresie moet regterlik uitgeoefen word;
‘n hof moet slegs in uitsonderlike omstandighede ‘n aansoek vir uitstel van ‘n saak weier waar die ware rede vir ‘n party se onvermoë om voort te gaan ten volle verduidelik is en waar sodanige onvermoë nie te wyte is aan ‘n sloertaktiek nie en mits belange van geregtigheid vereis dat die saak uitgestel moet word.
‘n Hof moet die benadeling wat ‘n Respondent in so ‘n aansoek sal toeval indien die aansoek vir uitstel toegestel word, opweeg teenoor die benadeling teenoor die Applikant as die aansoek afgewys sou word.
Volgens die Eisers se funderende stukke het die getuie Mnr Collett, volgens die waarneming in prokureur Brits se eedsverklaring, teen Donderdag laas week ongesteld begin voel en teen Vrydagoggend het Mnr Collett gekla van duiselikheid en dubbele visie. ‘n Plaaslike geneesheer, Dr Booyens, wat Mnr Collett ondersoek het, het griep en koors by hom gediagnoseer. ‘n Mediese sertifikaat indiervoege is voorgelê aan my, op my versoek aangesien dit verlê was op die stadium toe die aansoek gebring was. Mnr Collett het toe ‘n internis te Pretoria, ‘n Dr Kok geraadpleeg op Saterdag 31 Augustus en die internis het hom verwys vir verdere ondersoeke, ondermeer ‘n neurologiese ondersoek.
Die Eisers voer aan dat Collett ‘n sleutelgetuie is, dat sy aanwesigheid en kundige advies noodsaaklik is vir die voorbereiding en verdere voer van hulle saak en dat hy inderdaad onmisbaar is in die verrigtinge vir sover wat dit hulle aanbetref.
Die Verweerders betwis nie die feit dat Collett inderdaad ‘n sleutelgetuie vir die Eisers is nie. Hulle maak egter kapsie teen die feit dat die Eisers se aansoek feitlik uitsluitlik wat Collett se gesondheidstoestand aanbetref, op hoorsê-beweringe berus. Ek is versoek om hierdie hoorsê-beweringe nie toe te laat as getuienis nie en bygevolg die aansoek alreeds op daardie grond van die hand te wys.
Ek het alreeds vroeër in hierdie verrigtinge ‘n voorlopige reëling gemaak aangaande beswaar oor getuienis wat onder kruisondervraging ontlok is aangaande die waardasie van die Eiser, Engelbrecht, se ledeheffingsfondse ten tyde van die transaksie tussen die Derde en Eerste Verweerders gedurende November en Desember 1996. Soos ek toe aangedui het is daardie ‘n voorlopige reëling en het bondige voorlopige redes daarvoor verskaf. Dit is ‘n aangeleentheid wat tegelegenertyd weer oorweging sal moet geniet. Die feit dat die Eisers hierdie aspek weer te berde bring as die tweede been vir hulle aansoek vir ‘n uitstel beteken in effek dat ek uitgenooi word om hierdie voorlopige reëling alreeds nou in heroorweging te bring. Dit is na my mening onwenslik en, gegewe die gevolgtrekking waartoe ek hierin gekom het betreffende die eerste been van die Eisers se aansoek vir uitstel, is dit ook nie nodig om dit nou weer onder die loep te neem nie.
Dit is inderdaad so, en die Eisers by monde van Mnr De Bruin, het dit geredelik toegegee, dat die beweringe aangaande Collett se gesondheidstoetstand grootliks, indien nie geheel en al nie, berus op hoorsê. Die Eisers voer aan dat ek die hoorsê getuienis behoort toe te laat omrede:
hiedie aansoek as een van dringendheid gebring is en hoorsê beweringe in dringende aansoeke toegelaat word onder sekere omstandighede (sien Erasmus, Superior Court Practice, te B1-54); en
dat ek my diskresie behoort uit te oefen ingevolge die bepalings vervat in art 3(1)(c) van die Wysigingswet op die Bewysreg, Wet 45 van 1988.
Die voormelde artikel verleen aan my ‘n diskresie om hoorsê getuienis toe te laat indien ek van oordeel is dat dit in die belang van geregtigheid toegelaat behoort te word. Ek moet die volgende faktore onder andere in aanmerking neem:
die aard van die verrigtinge;
die aard van die getuienis;
die doel waarvoor die getuienis aangebied word;
die getuieniswaarde van die getuienis;
die rede waarom die getuienis nie afgelê word deur die persoon van wie se geloofwaardigheid die getuieniswaarde afhang nie;
die moontlikheid van benadeling;
enige ander tersaaklike faktor.
Ek oorweeg vervolgens die onderskeie faktore afsonderlik:
11.1 Aard van die verrigtinge. As uitgangspunt moet vermeld word dat hoorsê getuienis in wese steeds onbetroubaar bly. Soos dit in S v Ramavhale 1996(1) SASV 639(A) te 650 a aangemerk is: “But the facts of life do not simply vanish at the flourish of a legislators pen. Hearsay evidence was long recognised to be unreliable and continues to tend to be so”. Schmict, Bewysreg, 4de uitg. te 477 lug die mening dat howe meer geredelik die betrokke artikel sal toepas in siviele as in strafsake. Ek is ad idem met die geleerde skrywer oor hierdie aspek. In casu is ons besig met ‘n lang, komplekse siviele verhoor en die getuienis van ‘n sleutelgetuie wie se getuienis baie duidelik die hoeksteen vorm van die Eisers se saak.
11.2 Die aard van die getuienis. Hierdie faktor handel oor die betroubaarheid al dan nie van die hoorsê getuienis. Faktore wat hier ter sake is, is die volgende:
Die verhouding, indien enige tussen die afwesige getuie en die ander partye. Van belang hier is dat die Verweerders in hulle beantwoordende eedsverklaring daarop gewys het dat die internis, Dr Kok, ‘n direkteur is van Landbou Lex, ‘n organisasie wat klaarblyklik ‘n kampanje voer teen ten minste die Eerste en Tweede Verweerders. Daar is ‘n suggestie dat ‘n indirekte verbintenis tussen Collett en Landbou Lex ook alreeds in die getuienis gevestig is wat deur Collett afgelê is. Hierdie is ‘n faktor wat ek in ag neem, alhoewel my mening van minder belang is.
Die moontlikheid van ‘n motief om vals bewerings te maak – hierdie aspek hang saam met die aspek vermeld in (a) hierbo en kom ek tot dieselfde gevolgtrekking as voorheen.
Die spontaneïteit van die uiting en of dit sonder enige spesifieke doel voor oë gemaak is, die aspek is nie tersake in die onderhawige geval nie.
Die omstandighede waaronder die afwesige getuie die bewerings gemaak het. Beide geneeshere het die getuie medies ondersoek en het hulle mediese verslae voor die Hof gedien.
Die afwesige getuie se reputasie vir eerlikheid. Ek is nie in staat om op die stukke voor my enige bevinding teen die betrokke getuies, Drs Booysen en Kok te maak nie en is ek ook nie versoek om so te doen nie.
Die tydsverloop tussen die gebeurtenis waaroor die bewerings handel en die uiting daarvan aan die getuie wat getuie oor die hoorsê. Dit is duidelik dat prokureur Brits die mededelings wat hy skriftelik ontvang het, dadelik voor die Hof geplaas het in sy eedsverklaring.
Die manier waarop die inligting oorgedra is (d.w.s. mondeling of skriftelik). In casu het ons twee skriftelike mediese verslae van twee geneeshere, een van hulle ‘n spesialis/internis. In Mnyama v Gxalaba 1990(1) SA 650(K) het Conradie R (soos hy toe was) die problematiek verbonde aan die akkurate herroep van mondelinge medelings uitgewys. Dit is onteenseglik so dat mondelinge, eerder as skriftelik mededeling meer geredelik deur howe toegelaat sal word in hierdie omstandighede.
11.3 Die doel waarvoor die getuienis aangebied word. Daar is ‘n verskil in benadering ten aansien van hierdie aspek deur sommige van ons howe.Aan die een kant word die standpunt gehuldig dat hoorsê getuienis oor ‘n sentrale aspek van ‘n saak minder geredelik toegelaat behoort te word as getuienis i.v.m. ‘n kollaterale aangeleentheid. Sien ondermeer: Hlongwane v Rector St Francis College 1989(3) SA 319 (D); Hewen v Curie NO 1993(3) SA 233 (T). In S v Mpofu 1993(2) SASV 109(N) te 116 i verskil Alexander R egter van die standpunt en verklaar as volg: “So far as the purpose for which the evidence is tendered I cannot, with respect, agree that the importance of the evidence is an aspect ??? against his admission. Evidence that is otherwise relevant, should not depend for its reception on its importance in the case. If the evidence saught to be lead carries the hallmark of truthfulness and reliability, then its reception is doubtless justified”. Ek is dit eens met Schmidt, Bewysreg, 4de uitgawe te 479 dat die laasvermelde standpunt ondersteun behoort te word. As die getuienis relevant is en al slaan dit ook op ‘n sentrale aspek van die saak soos wat in die onderhawige geval wel is, behoort dit toegelaat te word as die ontvangs daarvan geregverdig is.
11.4 Die getuieniswaarde van die getuienis. As die getuienis relevant is, is dit toelaatbaar en derhalwe moet die aangebode hoorsê getuienis ook die toets van relevantheid slaag. Die partye voor my is ad idem dat hoorsê getuienis aangaande Collett hoogs relevant is.
11.5 Die rede waarom die getuienis die afgelê word deur die persoon van wie se geloofwaardigheid die getuieniswaarde afhang nie. In die onderhawige geval is die getuie Kok in Pretoria en nie geredelik beskikbaar nie. Dit is so dat Dr Booyens ‘n plaaslike geneesheer en is daar aansienlike meriete in die betoog namens die Verweerder dat ‘n eedsverklaring ten minste van hom verkry kon gewees het. Ek neem ook hierdie faktor in ag.
11.6 Die moontlikheid van benadeling. Die mediese verslae vorm ongetoetse getuienis voor my. Daarmee saam moet egter inaggeneem word dat die prokureur Brits se waarnemings dat Collett sigbaar ongesteld vir hom as leek voorgekom het Vrydagoggend, 30 Augustus 2002, hoegenaamd nie betwis is deur die Verweerders nie.
11.7 Enige ander faktore wat die Hof in ag mag neem. Ek ondersteun die volgende siening uiteengesit in Hewen v Courie supra waarna ek alreeds verwys het: “Section 3(1)(c) requires the Court, in the excercise of its discression, to have regard to the collective and interrelated effect of all the considerations set out in paragraphs 1-6, also to any other factor to the opinion of the Court be taken into account”. ‘n Faktor wat ek bykomend inagneem, is dat die Eisers baie min tyd gehad het om die aansoek vir uitstel voor te berei. Bowendien moes dit oor ‘n naweek geskied, met inagneming van die logistieke probleme veroorsaak deur die feit dat die Eisers se regsverteenwoordigers in Bloemfontein was, die geneeshere Booyens en Kok onderskeidelik in Kimberley en Pretoria, en die Eisers grootliks in die Hartswater omgewing woonagtig is. Die faktor van tyd is onder andere inaggeneem deur Navsa R (soos hy toe was) in Van Zyl v Jonathan Ball Publishers Pty (Ltd) 1999(4) SA 571 (W) te 590 D, die geleerde Regter in sy diskresie hoorsê getuienis toegelaat het.
Alles inaggenome dus, en gegewe die kritieke belangrikheid vir die Eisers se saak van die getuienis van Collett en die omvangrykheid van sy getuienis soos duidelik blyk uit die oorkonde en sy deskundige verslae met aanhangsels, is ek die mening toegedaan dat belange van geregtigheid vereis dat ek die hoorsê getuienis van die Eisers se funderende stukke behoort toe te laat. Bygevolg dus is ek tevrede dat met ‘n oorwig van waarskynlikhede die Eisers substantieel benadeel sal word indien ek nie hulle aansoek vir ‘n uitstel toestaan nie vanweë Collett se ongesteldheid.
Wat koste aanbetref meen ek dat die Eisers die Hof ‘n vergunning vra en dat die geykte reël passing behoort te vind naamlik dat selfs al is dit buite ‘n Eiser se beheer dat sy getuie onsteld word tydens die verrigtinge, nog steeds die koste van ‘n aansoek vir uitstel behoort te dra. Verder is ek die mening toegedaan dat die Verweerders heeltemal geregtig was om hierdie aansoek te bestry, gegewe die feit dat die Eisers grootliks van hoorsê getuienis gebruik gemaak het in hulle funderende eedsverklaring ter ondersteuning van die aansoek.
Die kwessie van die verkwiste koste meegebring deur die uitstel in die saak staan egter op ‘n ander been. Ek meen dit sal raadsaam wees om dié aspek oor te laat staan tot aan die einde van die verhoor wanneer dit baie duideliker sal wees of die Eisers behoorlik voorbereid was vir die verhoor gegegewe die stand van die pleitstukke en inaggenome enige verdere reëling of bevel wat ek mag maak aangaande die kwessie van die waardasie van die ledeheffingsfondse van die Eisers tydens die transaksie.
Ek reik gevolglik die volgende bevel uit:
15.1 Die Eisers se aansoek word toegestaan en die saak word sine die uitgestel.
15.2 Die Eisers word gelas om gesamentlik en afsonderlik die koste van die aansoek te betaal op ‘n bestrede basis, welke koste sal insluit die koste van twee advokate.
15.3 Die aspek van die verkwiste koste meegebring deur die uitstel van die saak sal oorstaan vir beregting aan die einde van die verhoor.
___________
SA MAJIEDT
REGTER
NAMENS EISERS
Adve JP de Bruin SC en AJR Van Rhyn i.o.v. Haarhoffs Ing., Kimberley
NAMENS VERWEERDERS 1, 2, EN 3
Adve Smallberger SC en JP Vorster SC i.o.v. Van de Wall & Vennote, Kimberley
DATUMS VAN VERHOOR: 18 – 20 FEBRUARIE 2002; en
26 AUGUSTUS – 4 SEPTEMBER 2002
DATUM VAN UITSPRAAK: 4 SEPTEMBER 2002