South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2002 >> [2002] ZANCHC 21

| Noteup | LawCite

Griekwaland-Wes Korporatief Beperk v Fletcher (187/02) [2002] ZANCHC 21 (2 August 2002)

Download original files

PDF format

RTF format


14


Verslagwaardig: Ja / Nee

Sirkuleer aan Regters: Ja / Nee

Sirkuleer aan Landdroste: Ja / Nee


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(Noord-Kaapse Afdeling)


Saakno: 187/02


Datum verhoor: 2002-07-26

Datum gelewer: 2002-08-02



In die saak van:


GRIEKWALAND-WES KORPORATIEF BEPERK APPLIKANT


versus


JAMES FLETCHER RESPONDENT



Coram: MAJIEDT R


UITSPRAAK



MAJIEDT R:

  1. Die Applikant vra dat die voorlopige sekwestrasiebevel in hierdie aangeleentheid bekragtig word, terwyl die Respondent versoek dat ek dit ophef.


  1. Dit is gemeensaak dat die Respondent de facto insolvent is deurdat sy laste sy bates oorskry. Verder het die Respondent, op sy eie weergawe, ‘n daad van insolvensie soos bedoel in art 8(e) van die Insolvensiewet, 24 van 1936 (“die Wet”) gepleeg, deurdat hy gepoog het om ‘n ooreenkoms aan te gaan met een van sy skuldeisers, die Landbank, waarvolgens hy van sy skuld teenoor die Landbank kwytgeskeld word.


  1. Die Respondent voer aan dat die Applikant nie ‘n gelikwideerde vordering van ten minste R100 teen hom bewys het nie (soos bedoel in art 9(1) van die Wet) en dat dit nie tot voordeel van sy skuldeisers sal wees indien sy boedel gesekwestreer word nie. Die Respondent het ook in limine aangevoer dat:


Dit wil (my) voorkom asof applikant nie voordat die stukke in die aansoek uitgereik is, sekuriteit gestel het soos bedoel in artikel 9(3) van Wet 24 van 1936 nie”.


Vir doelmatigheidsredes behandel ek eers hierdie punt in limine.


  1. Artikel 9(3)(b) van die Wet bepaal as volg:


Die bewerings in die versoekskrif moet deur 'n beëdigde verklaring bevestig word en die versoekskrif moet vergesel gaan van 'n sertifikaat van die Meester wat nie meer as tien dae voor die datum van die versoekskrif uitgereik is nie, dat voldoende sekuriteit gestel is vir die betaling van alle gelde en koste wat nodig is om alle sekwestrasieverrigtings te volvoer en van alle koste van bereddering van die boedel totdat 'n kurator aangestel is, of as geen kurator aangestel word nie, van alle gelde en koste wat nodig is om die boedel van sekwestrasie te onthef.”


5.1 Die Applikant se aansoek is uitgereik op 28 Februarie 2002, luidens die Griffier se datumstempel daarop. Die Meester se sertifikaat, soos bedoel in die voormelde art 9(3)(b), het ‘n datumstempel daarop, ook van 28 Februarie 2002.


5.2 Vir doeleindes hiervan is ek bereid om te aanvaar, ten gunste van die Respondent, dat die sertifikaat uitgereik is nà die uitreiking van die stukke. Wat wel vasstaan is dat die Meester se sertifikaat voor die Hof was op die stadium toe die aansoek gedien het vir die uitreiking van ‘n voorlopige bevel. Die Respondent beweer nie dat dit nie die geval was nie. Ek is in die bevoorregte posisie dat ek voorgesit het toe die aansoek vir ‘n voorlopige sekwestrasiebevel gedien het. ‘n Voorlopige sekwestrasiebevel sou nie toegestaan gewees het as ek nie dié sertifikaat voor my gehad het nie.


5.3 Daar bestaan ‘n oormaat van gesag dat dit voldoende is dat die Meester se sertifikaat voor die Hof is wanneer die voorlopige sekwestrasiebevel uitgereik word.

In Mafeking Creamery Bpk v Van Jaarsveld 1980(2) SA 776 (NK) te 781 G – 782 B het Zietsman R as volg beslis:


Die pertinente vraag in die onderhawige aansoeke was of daar aan die bepalings van die Wet voldoen is in 'n geval waar die nodige sekuriteit gegee is, maar waar die applikant nog nie in besit is van die sertifikaat van die Meester nie, toe hy die stukke op die respondent beteken en toe die respondent begin om onkoste aan te gaan om die aansoek te bestry.

Die Insolvensiewet bepaal nie dat aansoeke van hierdie aard op die respondent beteken moet word nie. In die verlede het dit gebeur dat voorlopige sekwestrasie en voorlopige likwidasiebevele uitgereik is sonder enige kennisgewing aan die respondente, en in sekere gevalle, soos, bv, waar kennisgewing van so 'n aansoek aan die respondent mag veroorsaak dat die respondent skielik van sy bates ontslae raak tot nadeel van krediteure, sal dit miskien nog gebeur. Waar moontlik moet stukke natuurlik behoorlik op die respondent beteken word, maar dit word nie volgens die Wet vereis nie en waar dit nie gedoen word nie beteken dit nie dat 'n gebiedende wetlike bepaling nie nagekom is nie.

Dit is na my mening duidelik dat die nodige sertifikaat deur die Meester uitgereik moet word en voor die Hof moet wees voordat 'n voorlopige bevel uitgereik kan word, maar aangesien betekening van die stukke op die respondent nie 'n wetlike vereiste is nie is dit my mening dat die betekening van 'n afskrif van die aansoek op die respondent voordat die sertifikaat van die Meester ontvang is, en die versuim om op enige stadium daarna 'n afskrif van die genoemde sertifikaat op die respondent te beteken, nie 'n versuim is om aan 'n bepaling van die Wet te voldoen nie en derhalwe nie noodwendig 'n fatale defek tot die aansoek is nie.”


Vergelyk ook: RSA Factors Ltd v Hansen 1983(4) SA 873 (D) te 876 B-E;

Intercontinental Exports (Pty) Ltd v Fowles 2000(4) SA 833 (W) te 835.


5.4 In die omstandighede dus, was daar wel behoorlike nakoming van die bepalings vervat in art 9(3)(b) van die Wet en kan die punt in limine nie slaag nie.


6. Artikel 12(1) van die Wet bepaal as volg:


As die hof by die verhoor na aanleiding van voormelde bevel nisi oortuig is dat-


(a) die petisionerende skuldeiser 'n vordering soos bedoel in subartikel (1) van artikel nege teen die skuldenaar bewys het; en


(b) die skuldenaar 'n daad van insolvensie begaan het of insolvent is; en


(c) daar rede bestaan om aan te neem dat dit tot voordeel van die skuldeisers van die skuldenaar sal strek as sy boedel gesekwestreer word,


dan kan die hof die skuldenaar se boedel sekwestreer.


7.1 Dit word nie in geskil geplaas nie dat die Applikant op 23 November 2001 in hierdie Hof summiere vonnis teen die Respondent verkry het in die bedrag van R620 579.29, sowel as rente op daardie bedrag teen 21.5% per jaar vanaf 1 Januarie 2001 sowel as gedingskoste.


7.2 Die Respondent beweer ook nie dat hy nooit kennis gedra het van die voormelde vonnis teen hom nie, nog minder word beweer dat die vonnis verkeerdelik toegestaan is.


7.3 Uit die stukke blyk dit dat die dagvaarding uit hoofde waarvan die voormelde summiere vonnis verleen is teen die Respondent, op sy wederhelf beteken is op 20 Februarie 2001.


8.1 Die Respondent beweer dat hy ‘n teeneis het teen die Applikant wat die Respondent se verskuldigdheid teenoor die Applikant uitwis deur toepassing van skuldvergelyking. Hierdie teeneis bestaan volgens die Respondent uit die volgende:


  1. n bedrag van ongeveer R100 000.00 verskuldig deur Applikant aan Respondent, synde laasgenoemde se ledebelang in die Applikant; en


  1. n bedrag van R600 000.00 plus rente daarop, ten aansien van dienste gelewer deur die Respondent aan die Applikant.


8.2 Dit is nodig dat ek die Respondent se beweringe ten aansien van 8.1(b) hierbo nader toelig. Die Respondent beweer dat hy gedurende 2001 instrumenteel was tot die belê van ‘n vergadering tussen die Applikant se topbestuur en die Premier en LUR van Landbou in die Noord-Kaap, wat later uitgeloop het op ‘n vergadering tussen die Applikant se topbestuur en die Nasionale Minister van Landbou. Hierdie vergaderings was daarop gemik om die Applikant se probleme op te los wat ontstaan het uit die kwarantyn wat deur die Nasionale Minister van Landbou ingestel is op besmette koring wat deur Applikant se lede geoes en geberg is. Volgens die Respondent was daar ‘n mondelinge ooreenkoms tussen hom en die Applikant dat indien hy die vergaderings belê en die kwarantyn opgehef word, dan sou die Applikant R600 000.00 as vergoeding ontvang. Volgens die Respondent het hy sy deel van die ooreenkoms nagekom en is hy derhalwe geregtig op vergoeding.


8.3 Ons reg erken die beginsel dat skuldvergelyking toegepas kan word teenoor ‘n vonnisskuld.

Sien: The Government v Regna-Adwel Business Machines Africa (Pty) Ltd 1970 (2) SA 428 (T) te 433 F.


8.4 Die benadering ten aansien van feitegeskille in bestrede aansoeke waar ‘n finale bevel aangevra word, is gesaghebbend neergelê deur die Appélhof in Plascon-Evans Paints Ltd v Van Riebeeck Paints (Pty) Ltd [1984] ZASCA 51; 1984 (3) SA 623 (A) te 634 H – 635 C.

Van kardinale belang, volgens daardie benadering in die onderhawige geval, is om te bepaal of die Respondent se beweringe aangaande die beweerde teeneis vir dienste gelewer hoegenaamd houdbaar is.

Vergelyk ook: Associated South African Bakeries (Pty) Ltd v Oryx & Vereinigte Backereien (Pty) Ltd en Andere 1982 (3) SA 893 (A) te 924 A.

Die Respondent se beweringe is myns insiens heeltemal vergesog. Ek kan my nie voorstel dat enige regdenkende mens, nog minder persone in die topbestuur van die Applikant, hulle weg sal oopsien om aan ‘n persoon die astronomiese bedrag van R600 000.00 te betaal net om vergaderings met belangrike besluitnemers te belê nie! Dit is verder opvallend dat:


  1. die Respondent tot op hede nog nooit die Applikant aangemaan het tot betaling van die som geld nie; en


  1. die Respondent nooit hierdie “verweer” te berde gebring het op die stadium toe die Applikant aansoek gedoen het vir summiere vonnis nie (daar sal onthou word uit wat ek alreeds hierin vermeld het dat die Applikant se dagvaarding gedurende Februarie 2001 beteken is, maar summiere vonnis is eers toegestaan gedurende November 2001).


8.5 Hierdie teeneis van die Respondent is na my mening sò vergesog dat dit onteenseglik onhoudbaar is en verwerp kan word alreeds op die stukke.


9. Bowendien en in elk geval, selfs al word vir doeleindes hiervan aanvaar dat hierdie teeneis houdbaar is en in ag geneem moet word, oorskry die Applikant se vonnisbedrag tesame met rente steeds die Respondent se beweerde teeneis met rente.


10. Vir die redes voormeld is ek derhalwe tevrede dat die bepalings van art 12(1)(a), saamgelees met art 9(1) van die Wet, wel nagekom is.


11. Wat betref die voordeel vir skuldeisers het Mnr Van Niekerk, namens die Respondent, tereg toegegee dat op die Respondent se eie syfers soos vervat in sy opponerende stukke, ‘n bedrag van ongeveer 20 c in die Rand as dividend die konkurrente skuldeisers sal toeval.

Hierdie sal ‘n beduidende voordeel vir skuldeisers daarstel en is ek eweneens tevrede dat die bepalings van art 12(1)(c) nagekom is.


12.1 Daar is ‘n laaste aspek wat ek kortliks mee moet handel alvorens ek by die koste-aspek kom. By die aanvang van hierdie verrigtinge het ek die Respondent se aansoek dat ek hom toelaat om ‘n verdere stel (dupliserende) eedsverklarings te liasseer, van die hand gewys. Hier volg my redes vir daardie bevel.


12.2 ‘n Vierde stel eedsverklarings word slegs by wyse van hoë uitsondering toegelaat in mosieverrigtinge.

Sien: Kasiyamhuru v Minister of Home Affairs and Others 1999 (1) SA 643 (W) te 649 H – 650 D.

12.3 In die onderhawige geval behandel die vierde stel eedsverklarings geen nuwe aspekte wat na vore getree het uit Applikant se repliserende eedsverklarings nie. Verder handel dit grootliks oor ontersaaklike sydelingse aangeleenthede.

Geen verduideliking is voorgehou waarom dié aspekte nou eers te berde gebring word deur die Respondent nie. Gevolglik het ek die aansoek afgewys.

Ek moet byvoeg dat die Respondent se modus operandi om die stukke in te sluit by die res van die aansoek voor my heeltemal voorbarig en verkeerd was. Die korrekte wyse is om die stukke agterweë te hou tot tyd en wyl ‘n aansoek om hulle in te sluit toegestaan is.


13. Daar is namens die Respondent aangevoer dat ek behoort te gelas dat die koste meegebring deur die Respondent se opponering van die aansoek uit die insolvente boedel gedelg behoort te word.

Ek kan my kwalik ‘n meer onvanpaste scenario voorstel om sò ‘n bevel te maak as die onderhawige saak.

Die Respondent het ‘n uiters mankolieke bed gekies om op te lê wat die opponering van hierdie aansoek aanbetref. Dit verbaas glad nie dat, toe hy tydens betoog daarop moes gaan lê, die hele affêre in duie gestort het sodat sy prokureur uiteindelik ‘n hele klomp toegewings moes maak en op die uiteinde maar handdoek moes ingooi.

Dit sou ‘n onreg wees teenoor die Respondent se skuldeisers om te voldoen aan sy versoek.


14. Die voorlopige sekwestrasiebevel, wat op 1 Maart 2002 uitgereik is, word bekragtig.




___________

SA MAJIEDT

REGTER


NAMENS APPLIKANT: Advokaat JG van Niekerk

NAMENS RESPONDENT Mnr Mark van Niekerk


PROKUREUR NAMENS APPLIKANT: Duncan & Rothman

PROKUREUR NAMENS RESPONDENT: Engelsman Benade & Van der Walt


DATUM VAN VERHOOR: 2002-07-26

DATUM VAN UITSPRAAK: 2002-08-02