South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2002 >> [2002] ZANCHC 20

| Noteup | LawCite

S v Khaziwa (CA&R 86/01) [2002] ZANCHC 20 (10 June 2002)

Download original files

PDF format

RTF format


Verslagwaardig: Ja / Nee

Sirkuleer aan Regters: Ja / Nee

Sirkuleer aan Landdroste: Ja / Nee


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(Noord-Kaapse Afdeling)



Saakno: CA&R 86/01


Datum verhoor: 10 Junie 2002

Datum gelewer: 10 Junie 2002



In die appél van:


VINCENT KHAZIWA APPELLANT


versus


DIE STAAT RESPONDENT


Coram: VAN DER WALT R et MAJIEDT R


KONSEPUITSPRAAK OP APPéL



MAJIEDT R:

  1. Die Appellant het tereg gestaan in die Streekhof op vyf aanklagtes en is op twee daarvan skuldig bevind te wete roof en huisbraak met die opset om te steel en diefstal. Die Appellant is gevonnis tot ses jaar en vier jaar gevangenisstraf onderskeidelik op die voormelde twee aanklagte. Sameloping van vonnisse is gelas sodat die effektiewe vonnis een van agt jaar gevangenisstraf is. Aan die Appellant, wat regsverteenwoordig was, is verlof verleen om te appelleer teen beide skuldigbevindings en vonnisse, maar voor ons het sy regsverteenwoordiger, Me Padayachee, slegs die appél teen die skuldigbevindings voortgesit.


  1. Wat die roofaanklag aanbetref, was dit die Appellant ten laste gelê dat hy op 29 Januarie 1998 vir Clement Mpondo beroof het van ‘n trui en ‘n paar tekkies, die totale waarde waarvan R600.00 is. Op die aanklag van huisbraak met die opset om te steel en diefstal het die Staat die Appellant dit ten laste gelê dat hy op 2 Oktober 1998 wederregtelik en opsetlik Sarah Mofokeng se woning oopgebreek en binnegegaan het met die opset om te steel en toe wederregtelik drie komberse ter waarde van R1200.00, die eiendom van Sarah Mofokeng, gesteel het.


  1. Die klaer op die roofaanklag, Mpondo, ‘n polisiebeampte, het getuig dat hy op 29 Januarie 1998 in ‘n voetpad in die veld voorgekeer is deur die Appellant, ene Thembisile en ‘n ander persoon. Hulle al drie het messe in hul besit gehad en het hom daarmee gedreig. Hy is ook op ‘n stadium met vuiste bygedam. Op hulle bevel het hy sy tekkies en trui uitgetrek en hulle het dit geneem en daarmee spore gemaak. Volgens die klaer ken hy die Appellant baie goed omdat hy hom altyd in die woonbuurt ontmoet het en het die Appellant ook van tyd tot tyd sy (die klaer se) hare gesny. Volgens hom was die plek waar die voorval plaasgevind het redelik goed belig, danksy die lig vanaf die spreiligte in die woonbuurt. Hy het die Appellant en die ander persoon Thembisile (wat hy ook goed geken het vanuit hul skooldae saam) duidelik geïdentifiseer toe hy in hulle gesigte gekyk het die aand van die voorval. Al drie sy aanvallers het hoede op hulle kop gehad. Volgens die klaer het hy alreeds in vorige verrigtinge teen Thembisile getuig en is dié skuldig bevind aan die roof op die Appellant.


  1. Die persoon Thembisile na wie die klaer verwys het in sy getuienis, het ook namens die Staat getuig en bevestig dat hy dié aand in die geselskap was van die Appellant en ‘n ander toe hulle die klaer beroof het. Volgens hom het hy en die ander persoon, ene Bungi, die klaer vasgehou, die Appellant het die klaer met ‘n mes gedreig en hulle het die klaer van sy tekkies en trui beroof. Thembisile het bevestig in sy getuienis dat hy en die klaer saam skoolgegaan het. Hy het ook bevestig dat hy skuldig bevind is aan hierdie roof en twee jaar gevangenisstraf is hom daarvoor opgelê.


  1. In sy uitspraak het die landdros bevind dat die klaer ‘n uitstekende getuie was, maar het tog sy identifikasie getuienis, tesame met dié van Thembisile, met die nodige versigtigheid benader. Die volgende faktore het die landdros tevrede gestel dat die klaer se uitkenning van die Appellant as synde een van sy aanvallers dié aand, nie net geloofwaardig nie maar ook betroubaar is in die omstandighede:


    1. Die feit dat daar voldoende beligting in die omgewing was;

    2. Die Appellant was aan die klaer goed bekend;

    3. Die klaer het genoegsame tyd gehad om die Appellant te identifiseer, die Appellant het met die klaer gepraat en naby aan die klaer gestaan tydens die voorval;

    4. Die deurslaggewende aspek wat dui op die betroubaarheid van die klaer se uitkenning is die feit dat een van die rowers wat alreeds bo redelike twyfel in ‘n hof skuldig bevind is en self sy aandadigheid onder eed erken het, te wete Thembisile, positief deur die klaer geïdentifiseer is.


  1. Ek is die mening toegedaan dat daar glad geen fout te vind is met die landdros se benadering ten aansien van die identifikasie getuienis in hierdie saak nie. Me Padayachee het namens die Appellant aangevoer dat daar steeds ‘n redelike twyfel behoort te bestaan oor die uitkenning van die Appellant. Haar betoog hieraangaande is grootliks gerig op die feit dat daar relatief min beligting moes wees op die toneel asook die feit dat die klaer nie kon onthou watter klere die Appellant die aand gedra het nie. Verder het sy ook uitgewys dat, alhoewel die klaer die Appellant se bynaam geken het, hy versuim het om dit aan die polisie te noem in sy verklaring. Verder submitteer sy dat die klaer versuim het om vir die Appellant in die polisievoertuig uit te wys, alhoewel hy vir Thembisile by daardie geleentheid uitgewys het.


  1. Ek meen dat die landdros se benadering ten aansien van die beligting heeltemal korrek is in hierdie saak. Boonop is daar verdere betroubaarheidswaarborge waarna ek alreeds hierin verwys het. Die feit dat die klaer versuim het om die Appellant se naam te noem aan die polisie of om sy klere wat hy die aand van die voorval aangehad het te beskryf, is van minder belang waar die Appellant duidelik aan die klaer goed bekend was. Soos die landdros tereg uitwys, het die klaer ook ‘n korrekte uitkenning gemaak ten aansien van Thembisile wat erken het dat hy aandadig was aan die roof en ook aldus skuldig bevind is. Die submissie oor die uitkenning van die Appellant in die polisievoertuig is misplaas – dit blyk uit die rekord dat die Appellant nie in die polisievoertuig was op die stadium toe die klaer vir Thembisile (wat wel daarin was) uitgeken het nie.


  1. In die omstandighede dus is die Appellant na my mening behoorlik skuldig bevind aan roof.


  1. Wat betref die aanklag van huisbraak met die opset om te steel en diefstal het Sarah Mofokeng (die klaagster) sowel as haar buurman, ene Lazarus Maarman, getuig namens die Staat. Volgens die klaagster het sy die aand van die voorval saam met die Appellant by ‘n drankhuis gedrink en op ‘n stadium het die Appellant wie se arm beseer was en verbind was met gips of ‘n verband, verdwyn. Toe sy omstreeks drie-uur die oggend huiswaarts wou keer, het haar buurman, Maarman, daar opgedaag en haar meegedeel dat sy haar huis toe moet haas want daar was iemand binne-in haar huis. Maarman het aan haar ‘n beskrywing van dié persoon gegee. Sy het toe besef dat dit die Appellant moet wees en het sy later, ongeveer vyf dae daarna, ‘n saak teen die Appellant aanhangig gemaak. By haar huis aangekom, het sy gevind dat die venster (wat vroeër behoorlik toegemaak was) se knip oop was en daar binne het sy drie van haar komberse vermis.


  1. Maarman, die buurman, het getuig dat hy nie die Appellant voor die voorval geken het nie. Hy het die aand gelê en slaap en gehoor dat daar iemand hard klop aan die deur van die klaagster langsaan. Hy het na buite gegaan en die Appellant daar buite aangetref. Die Appellant het verneem by hom of die klaagster tuis was en het Maarman hom meegedeel dat sy nie daar is nie omdat hy die slot buite haar deur gesien hang het. Die Appellant het toe ‘n mes te voorskyn gebring en gesê dat die klaagster sy geld uitdrink, dat sy seker binne-in die huis met ‘n ander man is en dat hy hulle altwee daar binne gaan doodmaak. Maarman het besef dat daar probleme is en het hom na die drinkplek waar die klaagster haar bevind het, gehaas, waar hy haar dan ook opgespoor het. Hy bevestig dat hy die klaagster meegedeel het dat sy huiswaarts moet keer omdat daar probleme is. Volgens Maarman het hy, alvorens hy die klaagster gaan soek het, gesien dat die Appellant peuter by die venster van die klaagster se huis, maar hy het nie die Appellant die huis sien binnegaan nie. Maarman het verder getuig dat sy gesprek met die Appellant so ongeveer 10 minute geduur het en dat hy die Appellant se gesig goed gesien het. Volgens hom was daar ‘n hoë maslig in die omgewing en was daar voldoende beligting dat hy die Appellant kon uitken. Ongeveer ‘n week later het hy die Appellant gesien by die polisiekantoor en daar het hy die Appellant uitgewys as die persoon wat vermoedelik by die klaagster se perseel ingebreek het. Hy bevestig ook dat die Appellant op daardie stadium ‘n verband om sy arm gehad het, maar het beklemtoon dat hy nie die Appellant daaraan uitgeken het nie, maar wel aan sy gelaatstrekke omdat hy sy gesig gesien het.


  1. Die landdros was tevrede dat die klaagster ‘n redelik goeie getuie was. Sy word, volgens die landdros se bevindinge, in alle wesenlike opsigte gestaaf deur die getuie Lazarus Maarman. Die landdros was eweneens tevrede dat Maarman se uitkenning van die Appellant voldoende betroubaar is aangesien daar beligting was, hy ruim tyd gehad het om die Appellant waar te neem (10 minute) en dat hy die Appellant uitgeken het aan sy gelaatstrekke. Die landdros het stawing vir Maarman se uitkenning gevind in die feit dat die Appellant vir Maarman sou gesê het dat die klaagster sy geld uitdrink, aangesien die klaagster wel vroeër getuig het dat sy en die Appellant besig was om te drink by die drankhuis toe hy daar weg is. Die landdros was derhalwe tevrede dat op die klaagster se getuienis, soos gestaaf deur dié van Maarman, die Appellant hom wel skuldig gemaak het aan die misdryf van huisbraak met die opset om te steel en diefstal.


  1. Me Padayachee se betoog is dat nòg Sarah Mofokeng, die klaagster, nòg Lazarus Maarman, haar buurman, die Appellant gesien inbreek het by die perseel. Die is weliswaar so, maar moet ingedagte gehou word dat Maarman, voor hy daar vertrek het, gesien het dat die Appellant aan die klaagster se venster peuter. Die klaagster se getuienis is verder dat sy met haar terugkeer by die huis inderdaad opgemerk het dat die venster se knip oop is en is toegang tot haar huis deur daardie venster verkry.


  1. Na my mening het die Staat bo redelike twyfel wel die Appellant se skuld bewys op hierdie aanklag, soos die landdros tereg bevind het.


  1. Na my mening is daar dus geen meriete in die appél teen skuldigbevindings nie en sou ek die skuldigbevindings en vonnisse bekragtig.




___________

SA MAJIEDT

REGTER



Ek stem saam.

Die appél word van die hand gewys en die Appellant se skuldigbevindings en vonnisse word bekragtig.




_________________

JC VAN DER WALT

REGTER


NAMENS APPELLANT: ME PADAYACHEE

NAMENS RESPONDENT: ADV S HINANA


DATUM VAN VERHOOR: 10 JUNIE 2002

DATUM VAN UITSPRAAK: 10 JUNIE 2002