South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
You are here: SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2002 >> [2002] ZANCHC 19 | Noteup | LawCiteStuttafords magte Rugbyklub v Horn and Others (499/2002) [2002] ZANCHC 19 (7 June 2002)
Download original files |
Verslagwaardig: Ja / Nee
Sirkuleer aan Regters: Ja / Nee
Sirkuleer aan Landdroste: Ja / Nee
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Afdeling)
Saakno: 499/2002
DATUM VERHOOR: 2002-05-31
DATUM GELEWER: 2002-06-07
In die saak van:
STUTTAFORDS MAGTE RUGBYKLUB APPLIKANT
versus
MELVYN HORN N.O. EERSTE RESPONDENT
DANIE VAN DER MERWE N.O. TWEEDE RESPONDENT
DIE GRIEKWALAND-WES RUGBY UNIE DERDE RESPONDENT
SCANIA POLISIE RUGBYKLUB, KIMBERLEY VIERDE RESPONDENT
VRYBURG RUGBYKLUB VYFDE RESPONDENT
KURUMAN RUGBYKLUB SESDE RESPONDENT
SISHEN RUGBYKLUB SEWENDE RESPONDENT
Coram: VAN DER WALT R et MAJIEDT R
REDES VIR BEVEL
MAJIEDT R:
Ons het die volgende bevel uitgereik in hierdie hiersieningsaansoek wat op ‘n dringende basis gebring was:
“DIT WORD GELAS:
DAT die besluit van die bestuur van die Kimberley streek van die Griekwaland-Wes Rugby Unie geneem op 17/5/2002 soos vervat in Aanhangsel A hiertoe hersien en tersyde gestel word.
DAT die effek sover dit die liga kompetisie betref van die uitslae van die wedstryde gespeel op 18 Mei 2002 tussen die Vryburg Rugbyklub en die Kuruman Rugbyklub asook tussen Scania Polisie Kimberley Rugbyklub en Sishen Rugbyklub opgeskort word hangende die uitslag van die hangende dissiplinêre ondersoek teen die applikant welke ondersoek voortgesit moet word om 18h00 op 3 Junie 2002.
DAT enige van die partye wat dit nodig vind of so geadviseer word om teen ‘n bevinding van die dissiplinêre kommitee appél aan te teken, dit sal doen nie later as die dag nà die dag van die bevinding nie en dat die verhoor oor sodanige appél ‘n aanvang sal neem op die daaropvolgende dag
DAT uitspraak op koste voorbehou word.
DAT redes vir die uitspraak sal volg.”
Ons het die redes vir die bevel sowel as die koste-aspek voorbehou. Hier volg hulle.
Die Applikant se aansoek is gebring teen die Eerste Respondent in sy verteenwoordigende hoedanigheid as waarnemende voorsitter van die Kimberley streek van die Griekwaland-Wes Rugby-unie (Derde Respondent) sowel as teen die Tweede Respondent in sy verteenwoordigende hoedanigheid as voorsitter van die Dagbestuur van die Derde Respondent. Die Vierde-, Vyfde-, Sesde- en Sewende Respondente is rugbyklubs wat almal ‘n belang het by die aangevraagde regshulp.
Ek maak nou reeds al daarvan melding dat hierdie die derde aansoek binne ‘n bestek van twee weke was wat op ‘n dringende basis voor hierdie Hof geplaas is aangaande die voortslepende rugbytwis tussen die partye. Ek sal aanstons na ten minste van een van die vorige aansoeke verwys hierin.
In sy Kennisgewing van Mosie vra die Applikant dat die besluit van die Bestuur van die Kimberley streek van Derde Respondent wat geneem is op 17 Mei 2002 ingevolge waarvan die Applikant se ligapunte hom ontneem is en die Applikant verbied is om verder aan die M-Net uitdaag-kompetisie deel te neem, hersien en tersyde gestel word. Die Applikant vra verder ook vir die hersiening en tersydestelling van ‘n besluit van die Dagbestuur van Derde Respondent geneem op dieselfde datum (17 Mei 2002) in terme waarvan die voormelde besluit van die Kimberley streek gehandhaaf is. Daar is ook sekere aanverwante regshulp aangevra as volg:
dat die uitslae van rugbywedstryde gespeel op 18 Mei 2002 tussen die Vyfde en Sesde Respondente sowel as tussen die Vierde en Sewende Respondente ongeldig verklaar word;
dat die Applikante toegelaat word om verder deel te neem aan wedstryde in die M-Net liga;
dat, hangende die finale afhandeling van die voormelde hersieningsaansoeke alle verdere wedstryde wat nog in die M-Net liga gespeel moet word in die Kimberley- en Van Drutenstreke van Derde Respondent opgeskort word;
Kostebevele teen die Derde Respondent sowel as die Kimberley-streek van Derde Respondent en enige ander persoon of instansie wat die aansoek opponeer.
Al die Respondente behalwe die Sesde en Sewende Respondente (wat hulle berus by die beslissing van hierdie Hof) opponeer die aansoek. Die stukke in hierdie aansoek is omvangryk, sonder dat daar enige regverdiging hoegenaamd daarvoor bestaan. Daar is ‘n warboel van beweringe, ontkennings, gedeeltelike erkennings en teenbeweringe wat grootliks ontersaaklik is tot die eintlike geskilpunte tussen die partye. Op die stukke is daar feitegeskille (grootliks oor ontersaaklikhede) wat so wyd as die Liewe Heer se Genade loop. Dit wil my voorkom dat diegene wat die Applikant se funderende stukke opgestel het, ‘n mog-het-troffe houding ingeneem het, sonder om daadwerklik te besin oor wat die eintlike kern van die Applikant se saak is. Ek ag dit nie nodig om hierin te handel met al die aspekte wat te berde gebring is in die Applikant se stukke waarop die Respondente noodwendig moes antwoord nie. Ek volstaan met die opmerking dat, na my mening, die stukke in hierdie aansoek gereduseer kon word tot ‘n kwart van die huidige omvang, as die werklike geskilpunte vanuit die staanspoor aangespreek was.
Op die keper beskou is die eintlike geskilpunt tussen die partye bloot maar of die Bestuur van die Kimberley-streek van die Derde Respondent die nodige regsbevoegdheid gehad het om die gewraakte besluit van 17 Mei 2002 te neem, welke besluit die onderwerp vorm van die hersieningsaansoek. Dit staan vas, en die Applikant het dit so aanvaar, dat die Derde Respondent inderdaad geen besluit geneem het op 17 Mei 2002 wat op hersiening geneem kan word nie. Ten einde ons diskresie behoorlik te kan uitoefen ten aansien van die koste-aspek, moet noodwendig ook daaroor besin word of die Applikant hom inderdaad skuldig gemaak het aan ‘n oortreding van die reëls ten aansien van die M-Net liga wat die Derde Respondent neergelê het. Alhoewel Mnr Botha, wat namens die Applikant voor ons verskyn het, gesubmitteer het dat dit onnodig en inderdaad onvanpas is dat ons daaroor ‘n beslissing moet maak, is ek die teenoorgestelde mening toegedaan. Die Applikant het pertinent hierdie aspek te berde gebring in sy funderende stukke en moes die Respondente noodwendig daarop reageer. Ek sal vir doelmatigheidsredes hierdie aspek waarna ek so pas verwys het, eerste behandel hierin.
7.1 Ten einde die aangeleentheid in konteks te plaas, is dit nodig om ‘n kort agtergrond te verskaf tot die geskil tussen die partye. Die M-Net liga van die Derde Respondent word gespeel in vier streke in Griekwaland-Wes:
Kimberley-streek,
Van Druten-streek,
Oranje-streek,
Namakwalandstreek.
7.2 In die Kimberley-streek is daar agt spanne waarvan twee as volwaardige eerste liga spanne beskou word, te wete die Applikant en die Vierde Respondent.
In die Van Druten-streek is daar drie spanne wat almal as volwaardige eerste liga spanne beskou word.
In die Namakwaland-streek is daar vyf spanne, waarvan vier as volwaardige eerste liga spanne beskou word.
In die Oranje-streek is daar drie spanne waarvan twee as volwaardige eerste liga spanne beskou word.
7.3 Die Derde Respondent het 34 gekontrakteerde rugbyspelers, d.w.s. spelers wat op ‘n professionele basis rugby voltyds as ‘n beroep beoefen en aan die Provinsiale Unie gekontrakteer is. Hierdie spelers is almal vir klubrugbydoeleindes toegedeel aan die Applikant en die Vierde Respondent. Ten einde die speelvelde gelyk te maak in die Kimberley-streek het die Derde Respondent se Dagbestuur op 15 Februarie 2002 ‘n besluit geneem dat kotrakspelers wat vir die voormelde klubs speel aan die M-Net liga mag deelneem, behalwe vir wedstryde teen Kimberley plattelandse spanne en die B-span van die Vierde Respondent. Die effek van die voormelde besluit is dat die gekontrakteerde spelers van die Applikant en die Vierde Respondent slegs aangewend kan word wanneer dié twee spanne teen mekaar speel. Die M-Net liga is as volg gestruktureer:
In elke streek speel die onderskeie spanne eers teen mekaar uit, die vier beste spanne dring deur na die semi-finale waar die twee beste spanne in daardie streek bepaal word (op grond van ligapunte).
Daarna speel die eerste en tweede bestes van die onderskeie streke oorkruis teen mekaar in die kwarteindrondte van Derde Respondent se M-Net liga reeks, deurdat die eerste en tweede beste spanne van Kimberley-streek onderskeidelik die naasbeste en beste spanne van die Van Druten-streek aanpak. Dieselfde situasie geld vir die beste en tweede beste spanne van Oranje-streek teen dié van die naasbeste en beste van die Namakwaland-streek.
Die wenspanne dring uiteindelik deur tot ‘n halfeindrondte en dan ‘n eindrondte. Die wenner van die M-Net liga kompetisie verteenwoordig Griekwalandwes as provinsie by die nasionale klubkampioenskappe wat jaarliks plaasvind. Dit is gemeensaak dat die nasionale klubkampioenskappe vanaf 29 Junie tot 6 Julie van hierdie jaar plaasvind.
Die Suid-Afrikaanse Rugby Voetbal Unie (SARVU) het bepaal dat ‘n gekontrakteerde speler slegs in die nasionale klubkampioenskappe mag deelneem indien hy drie klubwedstryde vir sy klub gespeel het. Dit is dus duidelik uit die voorafgaande dat, wat die bepalings in die Kimberley-streek self betref, ‘n gekontrakteerde speler nie daarin sou kon slaag om drie wedstryde te speel vir sy klub nie, aangesien hy hoogstens twee keer sou kon deelneem vir sy span in sy wedstryde wat binne die streek uitgespeel word, m.a.w. een keer in die rondomtaliegedeelte en in die semi-finaal indien die Applikant en die Vierde Respondent daarby betrokke is. Alhoewel daar vertoë daaraangaande gerig is deur die Derde Respondent aan SARVU, het laasvermelde voet by stuk gehou by hulle voormelde vereiste.
7.4 Dit is gemeensaak dat daar gedurende April 2002 dissiplinêre stappe teen die Applikant ingestel is deur die Kimberley-streek vir oortreding van die reël aangaande die gebruik van gekontrakteerde spelers waarna ek alreeds verwys het. Die sanksie wat die Applikant opgelê is, soos in gewysigde vorm gehandhaaf op appél, is as volg:
“Die Applikant se eerste span word vanaf 17 April 2002 vir ‘n periode van een jaar van alle rugby-aangeleenthede geskors welke skorsing opgeskort was vir een jaar op voorwaarde dat dieselfde oortreding nie weer gedurende die periode van opskorting gepleeg word nie.”
7.5 Op 13 April 2002 het die bestuur van die Derde Respondent weereens die voormelde besluit van die dagbestuur van 15 Februarie 2002 ten aansien van die gebruik van gekontrakteerde spelers bevestig en verder bygevoeg dat, vanaf alle kwarteind en hoër wedstryde gekontrakteerde spelers nie uitgesluit word nie. Daar is verder ook besluit op 13 April 2002 “dat daar vanaf hierdie stadium spanne op volle sterkte met die oog op die klubkampioenskappe behoort te funksioneer.”
8.1 Op 14 Mei 2002 het die Applikant se span in die semi-finaal van die Kimberley-streek (te onderskei van ‘n kwarteind, semi-finaal en finaal in die hele Unie-liga) gespeel teen Vyfde Respondent se span en hulle met 55-13 geklop. Die gevolg van daardie uitslag sowel as die uitslag in die ander semi-finaal tussen die Vierde Respondent en die Hartswater Rugbyklub was dat die Applikant opgeskuif het na die eerste posisie op die punteleer van die Kimberley-streek en was dus die top-span in daardie streek.
Die verdere gevolg daarvan was dat die span van die Applikant op Saterdag 18 Mei 2002 teen die span van Sewende Respondent in die kwarteindstryd van die M-Net liga van die Derde Respondent moes speel. Die Applikant is egter op 16 Mei 2002 in kennis gestel per faks dat ‘n dissiplinêre verhoor gehou sou word, omrede die Applikant na bewering die Derde Respondent se reël oortree het deur van gekontrakteerde spelers gebruik te maak in die voormelde semi-finaal wedstryd op 14 Mei 2002 teen Vyfde Respondent se span. Dit is gemeensaak dat daardie verrigtinge nog nie afgehandel is nie, aangesien dit uitgestel was.
Op 17 Mei 2002, d.w.s. ‘n dag voordat die kwarteind wedstryde van die Derde Respondent se M-Net liga moes plaasvind, is ‘n vergadering van die Kimberley-streek gehou. Dit is verder gemeensaak dat die Applikant nie op sodanige vergadering verteenwoordig was nie, alhoewel hulle daarvan kennis gekry het.
‘n Deel van die Applikant se aanvanklike saak het daarop berus dat:
daar nie voldoende kennis van die vergadering aan hulle gegee is nie;
die agendapunte nie volledig aan hulle oorgedra is nie; en
die feit dat besluite in hul afwesigheid geneem is wat hulle regte benadeel.
Mnr Botha het wyslik afgesien van hierdie punte en dit is gevolglik nie nodig om dit te bereg nie. Ek volstaan bloot met die opmerking dat dit my prima facie mening is dat die Applikant grootliks die outeur van sy eie benadeling is, deurdat hy op die oog af onverskillig gestaan het teenoor die vergadering en die gevolge van die besluite wat daar geneem mag word en sy amptenare eerder verkies het om deel te neem aan ‘n gholfdag in Bloemfontein. Hoe dit ook al sy, op hierdie vergadering is besluit deur die Bestuur van die Kimberley-streek dat die Applikant se liga-punte ontneem word en dat hy nie verder mag deelneem aan die M-Net kompetisie nie.
9.1 Dit dan wat betref die agtergrond van hierdie aangeleentheid. Ek moet byvoeg dat op Saterdag 18 Mei 2002, enkele ure voordat die wedstryde in die semi-finale sou plaasvind, die Applikant vir Kgomo RP genader het op ‘n dringende basis met ‘n aansoek vir ‘n interdik om die speel van daardie middag se wedstryde te verbied. Die verrigtinge het in ope hof plaasgevind, mondelinge getuienis is gelei en daardie verrigtinge is getranskribeer en die oorkonde daarvan voor ons geplaas.
9.2 Die volgende aspekte val pertinent op in die voormelde verrigtinge:
Die Applikant het die dringende aansoek gebring op die volgende basisse:
Dat daar onvoldoende kennis gegee is van die vergadering van 17 Mei 2002 en dat die agendapunte nie volledig aan hulle oorgedra is nie;
Dat ‘n besluit geneem is in die afwesigheid van Applikant wat sy belange en regte aantas;
Dat die bestuur van Kimberley-streek ‘n besluit van die Bestuur van die Derde Respondent omvergewerp het sonder dat hy die bevoegdheid het om sodanige besluit omver te werp.
Uit die voorafgaande blyk dit dus duidelik dat die Applikant tydens daardie aansoek glad nie daarop gesteun het dat die Bestuur van Kimberley-streek nie die regsbevoegdheid voortspruitend uit die Grondwet van die Derde Respondent gehad het om ‘n besluit te kon neem om die Applikant verdere deelname aan die M-Net liga te ontsê nie.
In sy mondelinge getuienis het die getuie vir die Applikant, ene Mnr Jacobus Christiaan Olivier, wat die sekretaris van die Applikant is, in hoof getuig dat die wedstryde van daardie dag (18 Mei 2002) die status het van ‘n kwarteind wedstryd. Die effek hiervan is duidelik: op Olivier se getuienis kon die wedstryd van 14 Mei 2002 wat die onderwerp van dissiplinêre verrigtinge teen die Applikant vorm, hoegenaamd nie ‘n kwarteind wedstryd wees nie.
10.1 Die Applikant het deurgaans in voorafgaande korrespondensie, sy funderende en repliserende stukke, en selfs in sy advokaat se betoogshoofde die houding ingeneem dat die besluit van die Bestuur van die Derde Respondent geneem op 13 April 2002 ten aansien van die gebruik van gekontrakteerde spelers in die M-Net liga uitgelê moet word as dat dit die speel van semi-finaal wedstryde binne ‘n streek insluit. Die Respondente neem almal die teenoorgestelde houding in. Dit gaan my verstand te bowe hoe enige regdenkende sò ‘n uitleg kan koppel aan die voormelde besluit soos wat die Applikant dit wil hê. Binne ‘n streek se wedstrydbepalings is daar tog geen kwarteind wedstryd nie. Daar is slegs ‘n aantal rondomtalie wedstryde wat gevolg word deur ‘n semi-finaal ten einde die eerste en tweede beste spanne binne daardie streek te bepaal, waarna die kwarteind wedstryde oorkruis in die onderskeie streke volg.
10.2 Mnr Botha het klem gelê op die gebruik van die woord “alle” in die besluit wat lui:
“Dat vanaf alle kwarteind en hoër wedstryde gekontrakteerde spelers nie uitgesluit word nie.”
Ek volg nie sy argument hoe die gebruik van hierdie woord die Applikant se uitleg daarvan ondersteun nie. Die woord “alle” verwys na my mening bloot na die feit dat al die kwarteind wedstryde wat tussen die onderskeie streke gespeel word, daarby ingesluit word. Die verwysing na “kwarteind en hoër wedstryde” verwys myns insiens na daardie deel van die M-Net liga kompetisie waarby al die streke van die Unie betrokke word, m.a.w. na die provinsiale M-Net liga as geheel. In die eerste deel van die voormelde kompetisie speel die streek binne homself uit en is daar nie sprake dat daar kwarteind wedstryde gespeel word nie. As die bewoording van die betrokke besluit dit nie al reeds duidelik na vore bring nie, moet daar na die omringende omstandighede en die doel van die besluit gekyk word. Die doel was duidelik om billike kompetisie teweeg te bring ten aansien van al die spanne in al die streke ten opsigte van die eindmikpunt, te wete die bepaling van die M-Net ligakampioen in die hele Unie.
Die onbillikheid wat die Applikant se uitleg teweeg bring spreek nie alleen vanself nie, maar blyk ook uit wat in die praktyk gebeur het.
‘n Plattelandse span is aangewese op die trek van spelers uit sy eie omgewing wat uit die oogpunt van rugbyspelers yl bevolk is, terwyl spanne soos dié van die Applikant en Vierde Respondent die voordeel het van beroepspelers vanoor die hele land wat aan die Unie gekontrakteer word. Dit verbaas gevolglik nie dat Applikant se span op 14 Mei 2002 die Vyfde Respondent se span met 55-13 kafgedraf het nie.
10.3 Dit is geykte reg dat by uitleg van ‘n besluit, reël, verordening of ‘n wet die vertrekpunt is dat aan woorde hulle normale betekenis gegee word. Indien daar enigsins sprake kan wees van vaagheid en verwarrendheid, dan word gekyk na die omringende omstandighede en die konteks waarin die woorde gebruik word.
Vergelyk in dié verband: Kommissaris van Binnelandse Inkomste vs Execom Mining and Exploration 1996(1) SA 50 (NK) te 58 B-C.
Vir soverre daar ruimte is vir vaagheid en verwarring rondom die besluit van Derde Respondent nou hier ter sprake, is dit in die konteks van die gebeure hierin myns insiens heeltemal duidelik dat die besluit soos hierbo aangedui is:
gemik was op daardie deel van die M-Net liga kompetisie wanneer wenners van die streke oorkruis teen mekaar speel in die kwarteindwedstryde en daarna;
die motivering daarvoor te vinde is in die feit dat die Derde Respondent klaarblyklik dit ten doel gehad het dat spanne op volle sterkte moet kompeteer vanaf die kwarteindronde wedstryde en hoër.
10.4 Ek het vroeër hierin (par 7.2) ‘n uiteensetting gegee van die onderskeie spanne in die streke. In ‘n skrywe gerig deur die Tweede Respondent hierin, is vertoë gerig aan SARVU om die reël ten aansien van drie klubwedstryde wat deur gekontrakteerde spelers gespeel moet word alvorens hulle in die nasionale klub kampioenskappe kan deelneem, te verslap ten aansien van die Griekwaland-Wes Rugby-unie. In daardie skrywe, wat aanhangsel VDM2 tot die Tweede Respondent se opponerende eedsverklaring is, word ‘n uiteensetting gegee van die erkende eerste liga klubs in die Provinsie (sien par 7.2 hierbo). Dit is opmerklik dat daar in elke streek ten minste twee sodanige eerste liga klubs bestaan. Ek het alreeds uitgewys dat in die Kimberley-streek daar slegs twee sodanige spanne is, te wete die Applikant en die Vierde Respondent. Hierdie feit bevestig na my mening dat die Derde Respondent dit ten doel gehad het dat gekontrakteerde rugbyspelers sonder beperking gebruik kon word wanneer die M-Net liga die oorkruis kwarteind rondte fase bereik, wanneer die streke se bestes en naasbestes kragte meet.
Vir die voormelde redes is ek derhalwe die mening toegedaan dat daar absoluut geen meriete bestaan in die Applikant se submissie dat die korrekte uitleg van die reël is dat dit ook die semi-finale binne ‘n streek sou insluit nie.
Die gevolg van hierdie bevinding is dat die Applikant baie duidelik na my mening die reël oortree het deur op 14 Mei 2002 in die semi-finaal van sy gekontrakteerde spelers gebruik te maak.
Ek bespreek vervolgens die volgende aspek te wete of die Bestuur van die Kimberley-streek wel met die nodige regsbevoegdheid beklee was om ‘n besluit te neem soos dié wat hulle geneem het op 17 Mei 2002.
Dit is aksiomaties in ons reg dat vrywillige verenigings soos sportklubs en sportunies, synde privaat entiteite, in hulle interne huishoudelike reëlings genoop is om die gemeenregtelike beginsels van die administratiewe reg te eerbiedig.
Sien in dié verband: Devenish, Govender & Hulme: ADMINISTRATIVE LAW AND JUSTICE IN SOUTH AFRICA, te 25 soos aangehaal in:
Pennington v Friedgood & others 2002(1) SA 251(K) te 263 B-D.
11.3 Een van die hoekstene van die gemeenregtelike beginsels van administratiewe reg is dat administratiewe handelinge deur ‘n privaat entiteit soos die Streekbestuur van die Derde Respondent in die onderhawige geval wat openbare bevoegdhede uitoefen, met die nodige regsbevoegdheid beklee moet wees daartoe.
Sien in dié verband: Baxter: ADMINISTRATIVE LAW te 386.
11.4 ‘n Vrywillige vereniging soos die Derde Respondent ontleen al sy regsbevoegdhede vanuit sy grondwet. Dieselfde geld vir instellings, geskep in sodanige grondwet, wat gemagtig word om sekere regsbevoegdhede namens die moederliggaam (Derde Respondent) uit te oefen by wyse van gedelegeerde bevoegdheid. ‘n Tipiese voorbeeld daarvan is ‘n dissiplinêre komitee ingestel ingevolge die grondwet van die Derde Respondent wat met die regsbevoegdheid beklee is daarvolgens om met alle dissiplinêre aangeleenthede van Derde Respondent te handel.
Sien ondermeer: Turner vs Jockey Club of South Africa 1974(3) SA 633(A) te 645 C – 646 F.
11.5 In die onderhawige geval is dit opvallend dat die Bestuur van die Kimberley-streek geen bevoegdhede vanuit die Derde Respondent se grondwet verkry het om dissiplinêre aangeleenthede self aan te spreek nie. Daarvoor word daar uitdruklik in die grondwet ‘n dissiplinêre komitee geskep, beide in die streek asook op unie-vlak. Na my mening het die Bestuur van die Kimberley-streek deur sy besluit van 17 Mei 2002 aan homself ‘n bevoegdheid wat uitsluitlik aan die dissiplinêre komitee toevertrou is, toegeïen. Sodanige optrede is ultra vires;
Sien: Baxter: ADMINISTRATIVE LAW, te 434.
Dit ly na my mening geen twyfel nie dat die effek van die besluit van 17 Mei 2002 neerkom op dissiplinêre optrede teen die Applikant – dit is per slot van sake waaroor die uitgestelde dissiplinêre verrigtinge gegaan het.
Mnr Knoetze, wat namens daardie respondente wat hierdie aansoek opponeer, verskyn het, het hom beroep op klousules 19.1.1, 19.1.6 en 28 van die grondwet van die Derde Respondent. Hy het aangevoer dat die Kimberley-streek Bestuur uit hierdie klousules die regsbevoegdheid ontleen om sy besluit van 17 Mei 2002 te kon geneem het. Ek meen dat daar geen meriete in hierdie submissie is nie. Klousule 19 omskryf bloot in algemene terme wat die doelstellings van die streekbestuur is. Dit sluit in die bevordering, ontwikkeling en bestuur van rugby in sy streek sowel as die handhawing van dissipline en orde ter bevordering van rugby. Geen bevoegdhede word direk of selfs by noodwendige implikasie toegedeel aan die streekbestuur uit hoofde van hierdie klousule nie. Klousule 28 handel oor ligabepalings van klubrugby in die streek. Ook hierdie klousule verleen hoegenaamd geen regsbevoegdheid aan die streek se Bestuur aangaande dissiplinêre aangeleenthede nie. Dit handel bloot met die bepalings van die ligas vir klubs (“fixtures”).
Alles inaggenome dus is ek die mening toegedaan dat die Bestuur van die Kimberley-streek nie die regsbevoegdheid gehad het om die besluit te neem wat op 17 Mei 2002 geneem is nie. Om daardie rede het ons daardie besluit hersien en tersyde gestel. Die sinvolle weg verder was dat die hangende dissiplinêre verrigtinge teen die Applikant so spoedig doenlik deur die bevoegde liggaam (die dissiplinêre komitee) afgehandel moes word. Ons het derhalwe, by ooreenkoms tussen die partye, die verdere bevele uitgereik soos vervat in paragrawe 2 en 3 van die oorspronklike bevel.
14.1 Ek behandel nou die koste-aspek. Hierdie aspek berus uitsluitlik in ons diskresie en meen ek dat die tersaaklike faktore wat ‘n beslissing oor koste moet onderlê, die volgende is:
dat die Derde Respondent inderdaad geen besluit geneem het wat vatbaar vir hersiening is nie;
dat die Applikant hierdie Hof genader het op ‘n dringende basis met uiteenlopende, grootliks ontersaaklike gronde en beweringe ter ondersteuning vir die aansoek om hersiening;
dat die Applikant as’t ware met “vuil hande” hof toe gekom het, gegewe sy oortreding van die duidelike reël wat deur die Derde Respondent neergelê is, soos alreeds hierin bevind is; en
die feit dat die Applikant in die dringende aansoek voor Kgomo RP waarna ek alreeds verwys het, glad nie gesteun het op die gebrek aan regsbevoegdheid van die Streekbestuur wat die gewraakte besluit geneem het nie; dit wil voorkom asof hierdie aspek as ‘n soort van nagedagte toegevoeg is tot die onderhawige aansoek.
14.2 Na my mening was die voor-die-handliggendste basis waarop hierdie aansoek gevoer moes gewees het dié een waarna ek so pas verwys het, te wete die feit dat die Bestuur van Kimberley-streek hoegenaamd nie regsbevoegheid ingevolge die grondwet gehad het om ‘n besluit te geneem het soos wat hulle wel geneem het nie. Indien die Applikant op dié basis sy saak gevoer het sou hy nie net suksesvol gewees het nie, maar sou die magdom beweringe in die omvangryke stukke ook aansienlik verminder gewees het. Aan die ander kant is dit wel so dat die Streekbestuur ‘n besluit geneem het waartoe hy duidelik nie regsbevoegd was nie en het hy al by ‘n vorige geleentheid die pot mis gesit toe die Derde Respondent ‘n soortgelyke besluit omver moes werp.
In die omstandighede meen ek dat dit billik sal wees om te gelas dat elke party sy eie koste betaal, behalwe dat die Applikant noodwendig die Derde Respondent se koste moet betaal, aangesien die Derde Respondent nooit ‘n besluit geneem het wat op hersiening geneem kon word nie.
By gevolg sou ek die volgende bevel uitreik bykomend tot die bevel wat alreeds uitgereik is op 31 Mei 2002:
Die Applikant word gelas om die koste van die Derde Respondent te betaal.
___________
SA MAJIEDT
REGTER
Ek stem saam en dit word aldus gelas:
_________________
JC VAN DER WALT
REGTER
ADVOKAAT NAMENS APPLIKANT: CH BOTHA
ADVOKAAT NAMENS RESPONDENTE 1, 2, 3, 4 EN 5: B KNOETZE
PROKUREUR NAMENS APPLIKANT: ENGELSMAN, BENADE & VAN DER WALT INGELYF
PROKUREUR NAMENS RESPONDENTE 1, 2, 3, 4 EN 5: VAN DE WALL & VENNOTE
DATUM VAN VERHOOR: 31 MEI 2002
DATUM VAN LEWERING VAN REDES: 7 JUNIE 2002