South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2002 >> [2002] ZANCHC 15

| Noteup | LawCite

S v De Wee (202/2002) [2002] ZANCHC 15 (10 May 2002)

Download original files

PDF format

RTF format


Verslagwaardig: Ja / Nee

Sirkuleer aan Regters: Ja / Nee

Sirkuleer aan Landdroste: Ja / Nee


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(Noord-Kaapse Afdeling)


Hersieningsnr: 199/02

Saaknr: 202/2002


Datum gelewer: 2002-05-10



In die hersieningsaak van:



DIE STAAT


versus


MARTIENS DE WEE


Coram: Kgomo RP et MAJIEDT R


UITSPRAAK OP HERSIENING



MAJIEDT R:

  1. Ek het die volgende navrae aan die landdros gerig toe hierdie saak op outomatiese hersiening voor my gedien het:


Hierdie was weliswaar ‘n ernstige aanranding op ‘n vrou, maar is die vonnis nie te swaar nie? Moes die landdros nie ‘n gedeelte (byvoorbeeld een jaar) daarvan opgeskort het op gepaste voorwaardes nie?


Misken die vonnis nie die beskuldigde se jeugdigheid en skoon rekord nie?”

Die landdros het hierop gereageer en ek sal weldra daarna verwys.


  1. Die beskuldigde was 21 jaar oud ten tye van die voorval en 22 jaar oud tydens vonnisoplegging. Hy is skuldig bevind aan aanranding met die opset om ernstig te beseer deurdat hy die klaagster, sy vrymeisie, sewe keer met ‘n Okapi-mes gesteek het. Sy het veelvuldige beserings opgedoen te wete steekwonde op:


    1. die linkergedeelte van haar rug onder die blad;

    2. die regterkant van haar bors;

    3. die linkerkant van haar bors;

    4. haar linkerhand;

    5. regterkant van haar bo-boud;

    6. onderkant van haar linker bo-arm;

    7. onderkant van die regter bo-arm.


Sy moes twee dae in die hospitaal deurbring en het hegsteke vir die wond op haar rug gekry.


  1. Dit blyk dat die beskuldigde die aanranding op die klaagster gepleeg het omdat hy op haar jaloers was. Sy het klaarblyklik na sy mening te veel aandag bestee aan ander jong mans.


  1. Die landdros het in sy redes aangedui dat hy meen die vonnis vanpas is deurdat die aanranding, na sy mening, grens aan poging tot moord en dat hy aan die beskuldigde genade betoon het deur nie die aangeleentheid na die Streekhof te verwys vir vonnisoplegging nie. Verder dui die landdros aan dat hy tydens vonnisoplegging inaggeneem het die feit van die beskuldigde se jeugdige ouderdom, dat hy ‘n eerste oortreder was en dat die klaagster ‘n jong meisie van slegs 15 jaar oud was.


  1. Hierdie was inderdaad ‘n ernstige aanranding op ‘n jong meisie wat beslis direkte gevangenisstraf regverdig. Ek meen egter dat die landdros onvoldoende klem geplaas het op die beskuldigde se jeugdigheid en die feit dat hy ‘n eerste oortreder is. Die vonnis is na my mening dermate onvanpas dat dit ‘n gevoel van skok wek en meen ek daarom dat inmenging op hersiening geregverdig is. Die landdros het in sy redes ook verwys na ‘n ongerapporteerde Volbank-beslissing, te wete Die Staat v Klaas van Wyk (saaknommer CA&R 45/00 gedateer 5/6/2000). Ek meen dat die individualisering van vonnisse voor oë gehou moet word en dat die beskuldigde in hierdie saak meer strafversagtende faktore in sy guns het as in die Van Wyk-saak en daarom meen ek dat die twee sake nie heeltemal analoog aan mekaar is nie.


BEVEL:


  1. Die beskuldigde se skuldigbevinding word bekragtig maar die vonnis word ter syde gestel en vervang met een van drie jaar gevangenisstraf waarvan een jaar opgeskort word vir ‘n tydperk van vyf jaar op voorwaarde dat die beskuldigde nie weer skuldig bevind word aan ‘n misdryf waarvan geweld teen ‘n ander persoon ‘n wesenlike element is, gepleeg gedurende die tydperk van opskorting nie.


  1. Ingevolge artikel 282 van die Strafproseswet 51 van 1977 word die vonnis teruggedateer na 03/04/2002.





___________

SA MAJIEDT

REGTER



Ek stem saam.




___________

FD KGOMO

REGTER-PRESIDENT