South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2002 >> [2002] ZANCHC 13

| Noteup | LawCite

S v Molale (CA&R 1/02) [2002] ZANCHC 13 (10 May 2002)

Download original files

PDF format

RTF format


Verslagwaardig: Ja / Nee

Sirkuleer aan Regters: Ja / Nee

Sirkuleer aan Landdroste: Ja / Nee


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(Noord-Kaapse Afdeling)



Saakno: CA&R 1/02


Datum verhoor: 2002-05-06

Datum gelewer: 2002-05-10



In die appél van:



SINDISWA SYLVIA MOLALE APPELLANT


versus


DIE STAAT RESPONDENT



Coram: HATTINGH R et MAJIEDT R


UITSPRAAK OP APPéL



MAJIEDT R:

  1. Die appellant, ‘n hoftolk, is in die landdroshof skuldig bevind aan bedrog en gevonnis tot 12 maande gevangenisstraf. Sy kom nou in hoër beroep teen beide haar skuldigbevinding en vonnis.


  1. Die misdryf wat die appellant ten laste gelê is en waaraan sy skuldig bevind is, het gespruit uit ‘n voorval toe die klaer, John Brand, gedurende Augustus 1999 ‘n boete van R100 by die landdroshof betaal het, welke boete hom opgelê is vir wat bestempel is as “dronkenskap”. By die landdroskantoor het hy die bedrag in kontant aan ‘n dame oorhandig en het hy die aangeleentheid as afgehandel beskou. Dit blyk uit sy getuienis dat hy nooit ‘n kwitansie vir dié betaling ontvang het nie. Later, en wel gedurende Februarie 2000 is hy deur ‘n Mev Conradie, werksaam by die kantoor van die Klerk van die Hof, versoek om haar te spreek by die landdroskantoor. Dit het toe geblyk dat die kontantbedrag op wederregtelike wyse toegeëien is deur die dame aan wie Brand dit in die eerste instansie oorhandig het. Op die stadium toe Conradie vir Brand gespreek het by die landdroskantoor, is die kantoorhoof, Mnr Bezuidenhout, laat roep. Terwyl hulle drie in gesprek was by die kontantsaal het die appellant van agter die klaer, Brand, genader en het Brand toe die appellant uitgewys as die dame aan wie hy die geld oorhandig het.


  1. Die appellant het van meet af aan identiteit in geskil geplaas, aangesien haar verweer een van algehele ontkenning is. Sy het self getuig en het ontken dat sy ooit vir Brand op die dag van die voorval ontmoet het of enige bedrag geld van hom ontvang het. Sy het verder aangedui in haar getuienis dat sy nie kan onthou wat haar bewegings was op die dag van die voorval nie.


  1. Die landdros het Brand as ‘n goeie getuie bestempel en hy het, gedagtig aan die versigtigheidsreël ten aansien van identifikasiegetuienis, bevind dat op Brand se uitkenning en die uitwysing van die appellant in die teenwoordigheid van Conradie en Bezuidenhout, die appellant wel skuldig is aan die misdryf.


  1. Namens die appellant het Mnr Titus, wat ook tydens die verhoor vir haar verskyn het, hoofsaaklik hierdie uitwysing en uitkenning van die appellant aangeval in betoog. Die redes wat die bestaan van ‘n versigtigheidsreël ten aansien van identifikasiegetuienis onderlê, is nou reeds welbekend en behoef geen verdere herhaling hierin nie. Ek volstaan daarmee deur daarop te wys dat die eerlikheid van ‘n uitkenningsgetuie alleen nie voldoende is nie, maar dat daar ook bevredigende waarborge ten aansien van die betroubaarheid van so ‘n uitkenning moet wees, alvorens daar bo redelike twyfel bevind kan word dat ‘n uitkenning korrek is.


  1. In die onderhawige geval het die klaer weliswaar getuig dat hy die persoon aan wie hy die geld oorhandig het vir ongeveer vyf minute waargeneem het en dat hy haar goed gade geslaan het ingeval hy weer sou moes terugkeer na die landdroskantoor. Ek meen egter dat die volgende aspekte militeer teen ‘n betroubare uitkenning:


    1. Die sogenaamde uitwysing van die appellant by die landdroskantoor het ongeveer ses maande na die voorval plaasgevind;

    2. Brand het nooit vantevore die appellant geken of eers gesien voor die dag van die voorval nie;

    3. Daar bestaan ten minste ‘n redelike twyfel op die getuienis van Conradie, welke getuienis dié van Bezuidenhout weerspreek, of daar nie ‘n onbehoorlike suggestie gemaak was aan Brand toe hy die appellant uitgewys het of sy dalk die persoon was aan wie hy die geld oorhandig het;

    4. Uit die getuienis blyk dit duidelik dat daar min waarde te heg is aan Brand se beskrywing van die persoon aan wie hy die geld oorhandig het as synde ‘n kort gesette dame, wanneer inaggeneem word dat daar klaarblyk baie ander dames is bo-en-behalwe die appellant wat dié beskrywing pas by die landdroskantoor;

    5. Verder is daar beduidende verskille tussen die getuies Brand, Conradie en Bezuidenhout se weergawes oor Brand se beskrywing aan wie hy die geld oorhandig het. Só byvoorbeeld is die getuies dit nie eens of Brand inderdaad genoem het dat dit ‘n tolk of hofbeampte was en of hy hoegenaamd ‘n beskrywing van so ‘n persoon aan Conradie gegee het nie.


      1. Alles inaggenome meen ek dat daar redelike twyfel is op die aangebode getuienis aangaande die betroubaarheid van die uitkenning van Brand. Daar is ‘n verdere aspek waarna ek moet verwys. Die landdros se benadering in sy uitspraak dat geen beweegrede aangevoer is waarom valse getuienis teen die appellant aangebied sou wees nie, is ‘n verkeerde benadering vir die volgende redes:


        1. Eerstens, soos ek alreeds hierbo aangedui het, is die vraag nie slegs of ‘n uitkenningsgetuie eerlik en bona fide is nie, maar ook of sy uitkenning betroubaar is in die omstandighede.

        2. Tweedens dien daarop gelet te word dat ons howe by meerdere geleenthede al gemaan het dat ‘n beskuldigde se weergawe onder eed behoorlik oorweeg moet word ten einde te bepaal of dit nie redelik moontlik waar is nie.


Sien: S v Van Aswegen 2001(2) SASV 97 (HHA).

In die onderhawige geval het die appellant se weergawe uiteraard neergekom op ‘n blote ontkenning, maar hou so ‘n algehele ontkenning ook in die moontlikheid dat ‘n eerlike dog foutiewe uitkenning behoorlik oorweeg moet word.


      1. Gevolglik meen ek dat die appél behoort te slaag en dat die skuldigbevinding en vonnis ter syde gestel behoort te word.




___________

SA MAJIEDT

REGTER



Ek stem saam. Die appél slaag en die appellant se skuldigbevinding en vonnis word ter syde gestel.




_____________

GA HATTINGH

REGTER



NAMENS APPELLANT: MNR B TITUS

NAMENS RESPONDENT: ADV E VAN DYK


DATUM VAN VERHOOR: 2002-05-06

DATUM VAN UITSPRAAK: