South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2002 >> [2002] ZANCHC 10

| Noteup | LawCite

S v Dava (CA&R 141/01) [2002] ZANCHC 10 (27 March 2002)

Download original files

PDF format

RTF format


Verslagwaardig: Ja / Nee

Sirkuleer aan Regters: Ja / Nee

Sirkuleer aan Landdroste: Ja / Nee


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(Noord-Kaapse Afdeling)



Saakno: CA&R 141/01

Datum verhoor: 2002-03-26

Datum gelewer: 2002-03-27



In die borgappél van:


AARON SAMUEL DAVA APPELLANT


versus


DIE STAAT RESPONDENT


Coram: MAJIEDT R


UITSPRAAK OP BORGAPPéL



MAJIEDT R:

  1. Die Appellant kom in hoër beroep teen die Streeklanddros se weiering van sy aansoek om borgtog hangende die beregting van sy appél teen skuldigbevinding en vonnis wat hy genotuleer het na hierdie Hof.


  1. Die Appellant is skuldig bevind aan diefstal en gevonnis tot vyf jaar gevangenisstraf. Twee voertuie, te wete ‘n Ford Cortina bakkie met registrasienommer CMG 283 GP sowel as ‘n Ford vragmotor met registrasienommer FWN 539 GP is verder ook ingevolge die bepalings vervat in art 35(1) van die Strafproseswet aan die Staat verbeurd verklaar. Soos alreeds gemeld, het die Appellant appél aangeteken na hierdie Hof teen die voormelde skuldigbevinding en vonnis.


  1. Die enigste aspek wat beregting verg in hierdie appél is of daar meriete bestaan in die voormelde appél teen skuldigbevinding en vonnis. Die toets by ‘n appél soos die onderhawige word uiteengesit in die bepalings vervat in art 65(4) van die Strafproseswet, d.w.s. dat die beslissing waarteen geappelleer word nie tersyde gestel word nie, “tensy sodanige hof of regter oortuig is dat die beslissing verkeerd is, in welke geval die hof of regter die beslissing gee wat na sy oordeel deur die laer hof gegee moes gewees het.”


  1. Daar bestaan in ons regspraak huidiglik twee denkrigtings oor die benadering van ‘n Hof van Appél ten aansien van borgtog hangende ‘n appél teen vonnis waar gevangenisstraf opgelê is. Die een denkrigting is dat daar bloot ‘n argumenteerbare appél moet wees wat vonnis aanbetref en sou ‘n appellant dan in sulke omstandighede kwalifiseer vir borg hangende appél. Sien onder andere:

S v Anderson 1991(1) SASV 525(K) te 526 i – 527 b.

S v Naidoo 1996(2) SASV 250(W) te 252 h-j.

Aan die ander kant is die denkrigting dat die maatstaf hoër gestel moet word, te wete dat daar redelike vooruitsigte van sukses in so ‘n appél moet bestaan.

Sien onder meer:

S v Rawat 1999(2) SASV 398(W) te 401 e-g.

Wat myself aanbetref verkies ek die laasvermelde benadering soos voorgestaan deur Van Oosten R in die Rawat-saak. Soos aanstons egter sal blyk is dit na my mening nie nodig om ‘n beslissing te maak in hierdie verband nie, aangesien ek die mening toegedaan is dat selfs met toepassing van die ligter maatstaf soos voorgestaan in die eersvermelde benadering, die Appellant steeds nie die mas opkom in hierdie appél nie.


  1. Wat die skuldigbevinding aanbetref het die landdros die Appellant skuldig bevind aan diefstal op grond van omstandigheidsgetuienis nadat hy die Appellant se weergawe verwerp het as nie redelik moontlik waar nie. Meneer Van Heerden wat namens die Appellant verskyn het, het op verskeie gronde betoog dat hierdie bevinding ontvanklik is vir inmenging op appél. Ek stem nie met hom saam nie. Dit is nie nodig om in groot besonderhede in te gaan op die meriete van die skuldigbevinding nie behalwe die volgende:


    1. Die getuienis is baie duidelik dat die polisiebeamptes wat getuig het deel was van ‘n voorlê-operasie nadat hulle inligting ontvang het oor die diefstal van Telkom-koperdraad. Hulle getuienis is oor die algemeen konsekwent en eenvormig dat die Appellant en sy makkers (wat weggekom het in die daaropvolgende polisie-optrede) die gebied eers verken het en toe daarna die Telkom-draad opgelaai het in ‘n trok (die trok waarna ek vroeër hierin na verwys het en wat verbeurd verklaar is aan die Staat).

    2. Dit is gemeensaak dat die Appellant die bestuurder was van hierdie trok, dat hy deur die polisie voorgekeer is in die daaropvolgende optrede en dat 2580 kg koperdraad ter waarde van R24 480.00 agter in die trok gevind was. Dit is verder gemeensaak dat hierdie draad die eiendom van Telkom is.

    3. Die landdros was myns insiens heeltemal korrek deur te bevind dat die Appellant se weergawe so vergesog en deurspek van onwaarskynlikhede is dat dit net nie redelik moontlik waar kan wees nie. So byvoorbeeld:

      • Die Appellant wil dit hê dat hy per toeval drie persone met oorpakke aan waarop die woorde “Fencing contractors” verskyn het, ontmoet het wat hom versoek het om sekere goedere vir hulle op te laai.

      • Hy vervoer die drie onbekende “Fencing contractors” (wat nie eers hulle eie vervoer het nie maar voorgee om “Fencing contractors” te wees) en is teenwoordig waar hulle die koperdraad in die veld optel en oplaai in die vragmotor. Dit is net eenvoudig té vergesog dat hy op geen stadium voordat die polisie hulle voorgekeer het begin vermoed het dat hierdie gesteelde draad is nie.


Na my mening grens die Appellant se weergawe soos in die Hof a quo voorgehou, aan ‘n fantasie.


  1. Alles inaggenome dus meen ek dat die Appellant ‘n hopelose saak het wat betref sy appél teen die skuldigbevinding hierin.


  1. Vervolgens skenk ek oorweging aan die Appellant se saak op appél soos wat dit die vonnis aanbetref. Die landdros het in sy uitspraak deeglik voor oë gehou dat die Appellant ‘n eerste oortreder is, dat hy nadelig getref word deur die verbeurdverklaringsbevel ten aansien van die twee voertuie waarna ek alreeds verwys het asook die feit dat die Appellant verhoorafwagtend was in dié saak vir ongeveer 2-3 maande. Die landdros het klem gelê op die volgende strafverswarende faktore:

      • Dat die Appellant geen waarneembare berou getoon het nie;

      • Dat die Appellant vanuit Gauteng na hierdie provinsie gereis het om die misdryf te kom pleeg;

      • Dat Telkom ontsettende skade ly a.g.v. die diefstal van koper telefoondraad en dat die gemeenskap nadelig daardeur beïnvloed word;

      • Dat die misdryf vooraf beplan was.


  1. Meneer Van Heerden het aangevoer dat die landdros op ten minste twee van die voormelde strafverswarende aspekte misgetas het, te wete die feit dat Telkom skade sou gely en die gemeenskap nadelig beïnvloed is deur die diefstal van die koperdraad asook die feit dat die misdryf vooraf beplan was. Sy betoog is dat geen sodanige getuienis op rekord is nie en dat dit inderdaad moontlik is:

  1. Dat Telkom self besig was om die drade af te haal ten einde van meer moderne telekommunikasie metodes gebruik te maak; en

  2. Dat die Appellant eers besluit het om die Telkom draad te steel toe hy die drie onbekendes langs die pad opgelaai het en agtergekom het dat hulle daarop uit was om Telkom koperdraad te steel.


Ek meen dat hierdie submissies heeltemal misplaas is, aangesien dit in gedagte gehou moet word dat die draad onder bosse versteek was en mens jou dit beswaarlik kan indink dat Telkom die draad aldus sou versteek het. Verder moet ook inaggeneem word dat, indien bevind word dat die landdros korrek was om die Appellant se weergawe as vals bo redelike twyfel te verwerp, dan val die verduideliking oor die drie onbekendes wat hom na die koperdraad sou gelei het ook daarmee weg.


  1. Selfs al is ek verkeerd in my voormelde siening en selfs al word bevind op appél dat hierdie inderdaad mistastings is, is die onoorkomelike probleem vir die Appellant die feit dat daar beswaarlik enige redelike vooruitsigte op sukses kan wees dat hy ‘n algehele opgeskorte vonnis gekoppel aan ‘n stywe boetevonnis opgelê sal word op appél. Ek is die mening toegedaan dat hierdie misdryf so ernstig is en dat, vir die redes soos voorgehou deur die landdros, ‘n Hof van Appél, indien dit sou inmeng met die vonnis, slegs ‘n klein gedeelte daarvan sou opskort en dat die Appellant dus steeds vir ‘n aansienlike tydperk in die gevangenis sal moet deurbring. Bygevolg meen ek dat selfs met toepassing van die ligter maatstaf soos voorgehou in die Anderson-saak en die Naidoo-saak supra, die Appellant nie daarin geslaag het om my te oortuig dat die landdros verkeerd was deur die aansoek om borg hangende appél van die hand te wys nie.



Bygevolg word die appél afgewys.




___________

SA MAJIEDT

REGTER


NAMENS APPELLANT: ADV F VAN HEERDEN

NAMENS RESPONDENT: MNR LJ ROACH


DATUM VAN VERHOOR: 2002-03-26

DATUM VAN UITSPRAAK: 2002-03-27