South Africa: Cape Town Labour Court, Cape Town Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Cape Town Labour Court, Cape Town >> 2014 >> [2014] ZALCCT 51

| Noteup | LawCite

Cloete v R P Logistics (C 439/2013) [2014] ZALCCT 51 (21 October 2014)

Download original files

PDF format

RTF format

Bookmark/share this page

Bookmark and Share

REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA

Nie rapporteerbaar nie

DIE ARBEIDSHOF VAN SUID-AFRIKA, KAAPSTAD

UITSPRAAK

Saaknommer: C 439/2013



In die geskil tussen:

HENDRIK CLOETE.........................................................................................................APPLIKANT



en



R P LOGISTICS.............................................................................................................RESPONDENT



Verhoor: 9 Oktober 2014

Uitspraak: 21 Oktober 2014

Opsomming: Ontslag vir operasionele vereistes. Bedryfsvereistes vir ontslag.   Billike proses gevolg. Ontslag billik.

UITSPRAAK

STEENKAMP R

Inleiding

[1] Die applikant, Mnr Hendrik Cloete, is ontslaan deur die respondent, R P Logistics (RPL) weens bedryfsvereistes. Hy beweer die ontslag was onbillik.

Kondonasie

[2] Ter aanvang van die verhoor moes die hof beslis oor ‘n aansoek om kondonasie vir die laat liassering van die applikant se saakverwysing. Dit was sowat ses maande laat. Die hof het dit oorweeg aan die hand van die bekende uitspraak in Melane v Santam Insurance Co Ltd 1962 (4) SA 531 (A) en kondonasie toegestaan. Ek som kortliks die redes op wat die hof ex tempore verskaf het.

Tydperk

[3] Soos ek genoem het, was die verwysing sowat ses maande laat. Me Abdol het betoog dat dit nie buitensporig is nie. Ek verskil. Dit is inderdaad buitensporig, maar die hof moes dit opweeg teen die redes daarvoor en die vooruitsigte op sukses soos dit op daardie stadium geblyk het.

Redes

[4] Die hoofrede waarom Cloete die saak so laat verwys het, is dat hy onder die indruk was dat RPL aan hom ‘n ander pos sou aanbied. Dit blyk uit sy eedsverklaring ter ondersteuning van sy aansoek om kondonasie. (Die eedsverklaring is in Engels opgestel. In sy mondelinge getuienis het Cloete beweer dat hy nie Engels verstaan nie en dat hy bloot die eedsverklaring onderteken het sonder om dit te verstaan. Me Abdol kon dit nie verduidelik nie).

[5] RPL het nie ‘n opponerende eedsverklaring geliasseer nie, alhoewel Cloete se weergawe in die pleit onder verdenking geplaas word. Aan die hand van die onbetwiste stelling van Mnr Cloete onder eed op daardie stadium moes die hof sy verduideliking aanvaar. Hy is nie ‘n geleerde man nie en het slegs tot graad 7 (die destydse standerd 5) op skool gevorder. Die hof het aanvaar dat hy wel redelik onder die indruk was dat RPL vir hom ‘n ander pos oorweeg het en dat ‘n verwysing na hierdie Hof in daardie omstandighede ‘n stokkkie daarvoor sou kon steek. Dit was ‘n redelike verduideliking.

Vooruitsigte op sukses

[6] Op Cloete se onbetwiste weergawe in sy eedsverklaring op daardie stadium het hy wel redelike vooruitsigte op sukses getoon. Op daardie weergawe was daar hoegenaamd geen konsultasie met hom voor sy ontslag nie.

Beslissing oor kondonasie

[7] Op ‘n konspektus van al hierdie faktore het die Hof kondonasie toegestaan, tesame met ‘n bevel dat die koste van die aansoek die koste in die hoofgeskil sou volg.

Die feite

[8] Die feite is merendeels gemeensaak. Dit blyk uit die pleitstukke, die voorverhoornotule en die getuienis van Mnr Jaco Wiese, die finansiële direkteur, en Me Mmatshepo Masinamele namens RPL; en dié van die applikant, Mnr Cloete.

[9] Cloete het vir meer as vier jaar vir RPL as werktuigkundige gewerk, vanaf 2 April 2008 tot met sy ontslag in Augustus 2012.

[10] Gedurende 2012 het RPL ernstige finansiële probleme ondervind. Die maatskappy het ‘n verlies van sowat R25 miljoen gely. Die bates het die laste oorskry en RPL was so te sê insolvent. Geld moes by die moedermaatskappy geleen word om dit as ‘n lopende onderneming aan die gang te hou.

[11] RPL het drasties koste besnoei. Die maatskappy is in die vervoerbedryf. Sy vloot voertuie is van 68 na 40 verminder. Dit het op sy beurt die besnoeiing van poste in die werkswinkel genoodsaak. Op die ou end is 28 mense ontslaan weens bedryfsvereistes, waarvan vier in die werkswinkel gewerk het saam met Cloete. Daardie vier het almal langer vir RPL gewerk as Cloete. Niemand anders het die billikheid van hul ontslag aangeveg nie.

[12] Op 6 Julie 2012 het RPL se Direkteur van Menslike Hulpbronne, Mnr L S Hollander, die werknemers in die Paarl toegespreek. (RPL het ook takke in Johannesburg en Durban gehad. Daardie depots is gesluit weens die finansiële verknorsing). Hy het die maatskappy se finansiële posisie uiteengesit en verduidelik dat dit tot moontlike afleggings (m.a.w. ontslag weens bedryfsvereistes) kon lei. Hy het beide Afrikaans en Engels gepraat. Aan die einde van die vergadering het hy ‘n brief wat opgestel is aan die hand van die vereistes van art 189(3) van die Wet op Arbeidsverhoudinge (Wet 66 van 1995) aan elke werker oorhandig. Sommige van die werkers was vakbondlede, ander nie. Cloete was nie ‘n vakbondlid nie. Hy het ontvangs van die brief erken, maar beswaar gemaak dat dit net in Engels opgestel is. Volgens hom het Hollander onderneem om aan hom ‘n brief in Afrikaans te gee maar dit nooit gedoen nie. Hollander het nie getuig nie, maar hierdie weergawe is nie aan enige van RPL se getuies (Wiese – wat by dieselfde vergadering was – of Masinamela) gestel nie.

[13] Konsultasies is met werkers gehou op twee verdere geleenthede, nl 13 en 25 Julie. Masinamela het van Johannesburg na Kaapstad en Paarl gereis om die vergaderings by te woon. Die vakbond het sy lede verteenwoordig. Volgens Masinamela is nie-vakbondlede die geleentheid gegun om ook voorstelle te maak of verdere gesprekke te hê met haar of Hollander. Almal van hulle het op die ou end hul afdanking en vergoedingspakette aanvaar. Cloete betwis dit dat hy die geleentheid gegee is om met RPL te konsulteer. Volgens hom het hy vir Masinamela by geleentheid op die perseel gesien, maar niemand het aangedui dat hy sy moontlike afdanking met haar kon bespreek nie. Dit is egter nie aan haar gestel onder kruisondervraging nie.

[14] Op 26 Julie 2012 rig Cloete die volgende brief aan RPL:

Deur middel van hierdie geskrewe stuk wil ek Hendrik Cloete u vra om RP-6 CS 37545 aan my te verkoop vir bedrag van R16 000. Ek wil ook nou op my oudag iets probeer. Baie dankie by voorbaat.

Groete, H Cloete.”

[15] Cloete het verduidelik dat die aanbod was om ‘n bakkie te koop wat enjinprobleme ondervind het en net op die perseel gestaan het. Hy wou dit herstel en dan gebruik om vir homself ‘n inkomste te verseker. In kruisondervraging het hy egter ontken dat dit was as gevolg van die konsultasieproses die vorige dag. Hy het sover gegaan as om te beweer hy het nie besef hy sou ontslaan word totdat hy die ontslagbrief gekry het op 21 Augustus 2012 nie.

[16] Op 21 Augustus het Jaco Wiese aan Cloete sy kennisgewing van ontslag gegee. Die brief verwys na die vorige brief van 6 Julie 2012 “and subsequent consultations”. Dit wys daarop dat RPL nie ‘n ander geskikte pos vir hom kon vind nie en bepaal 31 Augustus as as sy laaste werksdag. Hy is vier weke se lone uitbetaal vir uitdienstrede ooreenkomstig a 41 van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes, asook sy opgehoopte verlof.

[17] Op 17 Oktober 2012 het Cloete ‘n geskil na die KVBA verwys. Bemiddeling was onsuksesvol. Die partye was dit egter eens dat RPL aan Cloete ‘n aanbod gemaak het om ‘n alternatiewe pos te aanvaar, naamlik dié van “tyre fitter”. Volgens RPL se getuies, wat beide teenwoordig was, het Cloete dit van die hand gewys weens ‘n rugbesering. Cloete het in sy getuienis bevestig dat hy ‘n rugbesering het, maar het ontken dat hy die aanbod bloot van die hand gewys het. Volgens hom het hy kans gesien om die werk te doen mits hy opleiding kon ontvang.

[18] Cloete het ook voorgestel dat RPL hom in diens moes neem as ‘n vragmotorbestuurder. Dis gemeensaak dat hy oor ‘n Kode 14-swaarvoertuiglisensie beskik. Hy het egter erken dat hy nie lang afstande kon bestuur nie weens sy rugbesering. Wiese het versuidelik dat hulle hom slegs ‘n pos as langafstandbestuurder (Kaapstad-Johannesburg) kon aanbied, en dat daar geen voltydse poste vir kort afstande bestaan nie. Cloete het wel van tyd tot tyd “pre-load” vragte gaan haal, bv van Distell op Stellenbosch tot op die Paarl, vanwaar dit dan na Johannesburg vervoer is.

Evaluering

[19] Die Hof moet uitsluitsel gee oor die vraag of daar inderdaad bedryfsvereistes was wat ontslag genoodsaak het; en indien wel, of die proses billik was.

Bedryfsvereistes

[20] Daar is geen geskil omtrent die bedryfsvereistes (en dus die kommersiële rede vir ontslag) nie. Die finansiële direkteur, Mnr Wiese, se getuienis is geensins in twyfel getrek nie. Die maatskappy het reuseverliese gely. Dit was so te sê insolvent. Daar was goeie redes om te besnoei, en al die ander werkers wat afgedank is, het dit so aanvaar.

Billike proses?

[21] Wat die proses betref, is dit gemeensaak dat RPL aan al die werkers – met inbegrip van Cloete – op 6 Julie 2012 skriftelike kennis gegee het van hul moontlike ontslag en hulle genooi het om te konsulteer. Die vraag is dan of ‘n sinvolle konsultasieproses plaasgevind het; en indien nie, of Cloete die geleentheid gegee is om voorstelle te maak om sy ontslag te verhoed en of dit ernstig opgeneem is. Die billikheid van die seleksieproses kom ook onder die loep.

[22] Die kennisgewing wat Hollander op 6 Julie aan die werkers – met inbegrip van Cloete – gegee het, voldoen aan die vereistes van a 189(3) van die Wet. Cloete bekla hom daarop dat dit nie in Afrikaans opgestel is nie; maar hy het in kruisondervraging erken dat Hollander die inhoud daarvan in Afrikaans verduidelik het. Die weergawe dat Hollander onderneem het om die brief in Afrikaans te vertaal en aan Cloete te gee, het vir die eerste keer in Cloete se getuienis na vore gekom. Dit is nie aan enige van die maatskappy se getuies gestel deur Cloete se advokaat nie. Dit verskyn nêrens in die pleitstukke nie. En in elk geval het dit Cloete vrygestaan om weer vir Hollander of Wiese te nader om dit in Afrikaans aan hom te gee. Alhoewel hy net tot in Standerd 5 (nou graad 7) op skool gevorder het, is hy wel ter tale. Dit blyk ook uit sy brief i.v.m. die bakkie se aankoop dat hy wel deeglik geletterd is.

[23] Wat die daaropvolgende konsultasieproses betref, is dit so dat RPL nie spesifiek vir Cloete genader het om met hom op sy eie te konsulteer nie. Me Masinamela het verduidelik dat sy gefokus het op konsultasies met die vakbond; maar terselfdertyd het sy nie-vakbondlede daarop attent gemaak dat sy (sowel as Hollander en Wiese) beskikbaar was vir verdere voorstelle en konsultasies. Ander individue – bv Braam Groenewald en Werner Victor – het van daardie geleentheid gebruik gemaak. Cloete het nie, ten spyte daarvan dat hy bewus was van Masinamela se besoeke aan die Paarl.

[24] Die konsultasieproses is nie ‘n eenrigtingstraat nie. Die werknemer wat nie van die geleentheid gebruik maak om voorstelle te maak om sy ontslag te verhoed of uit te stel nie, kan hom nie bekla dat die werkgewer nie ‘n billike proses gevolg het nie. In hierdie geval kan dit dalk gesê word dat die werkgewer meer besliste pogings kon aangewend het om Mnr Cloete in te roep vir verdere konsultasies; aan die ander kant was hy wel deeglik bewus van Me Masinamela se besoeke en kon hy te eniger tyd met haar, Wiese of Hollander verdere gesprekke gevoer het. Dit blyk uit die getuienis dat die werkgewer wel die prosedurele vereistes in art 189 van die Wet nagekom het.

[25] Alhoewel Mnr Cloete ‘n enigsins naïewe getuie was wat oor die algemeen nie die indruk geskep het dat hy die Hof probeer mislei nie, is daar tog een aspek waar sy geloofwaardigheid nie heeltemal bo verdenking is nie. Hy het getuig dat hy bloot die bakkie van RPL wou koop “om ‘n geldjie te maak op sy oudag” omdat hy dit op die perseel sien staan het. Dit doen egter vreemd aan dat hy dié aanbod maak ‘n dag nadat Me Masinamela die Paarl besoek het om te konsulteer; maar hy skram weg daarvan dat hy enigsins bewus was daarvan dat hy op die rand van ontslag staan, en dat hy voorleggings moes maak om dit af te weer. Die waarskynlikhede dui daarop dat hy juis as gevolg van sy hangende ontslag “op sy oudag iets wou probeer” met die bakkie.

[26] Wat die alternatiewe tot ontslag betref, blyk dit dat RPL wel vir Cloete ‘n alternatief aangebied het in die pos van “tyre fitter”. Hy is die een wat geweier het weens sy rugprobleme. Sy verduideliking dat hy wel die werk sou kon doen mits hy opgelei kon word, strook nie met die bewese feite nie. RPL se weergawe dat hy dit nie kon doen nie weens sy rugbesering, strook wel daarmee. Dit strook ook met Cloete se erkenning dat hy nie lang skofte kon bestuur nie weens sy rugbesering, en dat hy dus ook nie ‘n pos as langafstand-vragmotorbestuurder kon aanvaar nie.

[27] In die lig van hierdie feite blyk dit dat RPL wel billik opgetree het. Daar was geldige bedryfsvereistes vir die besnoeiing van poste, met inbegrip van dié van Cloete. RPL het vir al die werkers behoorlik kennis gegee van die moontlike ontslag weens bedryfsvereistes kragtens art 189(3) van die Wet. Daar was pogings om te konsulteer. Ten minste twee alternatiewe poste vir Cloete is ernstig oorweeg, maar hy was nie geskik daarvoor nie weens sy rugbesering. Die seleksiekriteria is nie onder verdenking geplaas nie. Die ontslag was onvermydelik.

Gevolgtrekking

[28] Die ontslag was weens geldige bedryfsvereistes en dus vir ‘n billike rede. Dit was ook prosedureel billik.

[29] Wat koste betref, neem ek in ag dat Mnr Cloete nie ‘n vermoënde man is nie en dat hy dit op sy oudag moeilik sal vind om ander werk te kry. Hy is nie hoogs opgelei nie en beskik nie oor skaars vaardighede nie. Hy was nie roekeloos deur die aansoek te bring nie; ten spyte daarvan dat hy regsverteenwoordiging gehad het, is dit moontlik dat hy die billikheid van die rede vir sy ontslag en die proses nie deurentyd gevolg het nie. ‘n Kostebevel sou myns insiens nie billik wees teenoor hom nie.

Bevel

[30] Die verwysing word van die hand gewys sonder enige kostebevel.



_______________________

A J Steenkamp

Regter van die Arbeidshof



VERSKYNINGS

APPLIKANT:                             Me Shaheeda Abdol

                                                    In opdrag van TNK prokureurs.

RESPONDENT:                       Chris Roodt

                                                    In opdrag van A M Spies prokureurs.