South Africa: Land Claims Court Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Land Claims Court >> 2007 >> [2007] ZALCC 15

| Noteup | LawCite

Klink v Klink (LCC59R/2007) [2007] ZALCC 15 (1 January 2007)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE GRONDEISEHOF VAN SUID-AFRIKA

RANDBURG


SAAKNOMMER: LCC59R/2007



In die saak van:


P J L KLINK APPLIKANT


en


S G P KLINK RESPONDENT




UITSPRAAK



GILDENHUYS R


[1] Hierdie saak dien voor my op outomatiese hersiening ingevolge art 19(3) van die Wet op Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg, Nr 62 van 1997 (“ESTA”).


[2] Die Landdros, Ladismith Wes-Kaap, het op 14 November 2006 ‘n uitsettingsbevel kragtens ESTA teen die respondent verleen. Die bevel lees soos volg:


“Die Agbare Hof bevind:

  1. Dat dit regverdig en billik is dat die respondent (en enige familie) die perseel te Gedeelte 72 van Plaas 73 in die Distrik van Ladismith Wes-Kaap ontruim voor of op 15 Desember 2006; en

  2. Indien die respondent (en enige familie) versuim om die perseel te ontruim, kan die Balju van die bogenoemde Agbare Hof die uitsettingsbevel uitvoer op of na 12h00 op 22 Desember 2006.”


[3] Die Kantoorbestuurder: Landdroshofkantoor: Ladismith het die oorkonde vir doeleindes van outomatiese hersiening op 7 Junie 2007 na hierdie Hof gestuur. Die oorkonde is op 18 Junie 2007 deur die Griffier ontvang.


[4] Die oorkonde bevat ‘n kennisgewing van Appél waarkragtens die Respondent appél aanteken teen die uitsettingsbevel. Die appél was buite tyd. Daar is ‘n formele aansoek vir kondonasie deur die respondent ingedien.


[5] Kennelik is daar nie met die appél voortgegaan nie. Die respondent se prokureur het op 15 Mei 2007 soos volg aan die Departement van Justisie en Konstitusionele Ontwikkeling geskryf:

Ons verwys na bovermelde aangeleentheid en gee u hiermee kennis dat ons kliënt a.g.v ‘n gebrek aan fondse nie instaat sal wees om die appél verder te prosesseer nie.


Ons sal dit dus waardeer indien u die bedrag van R 1000.00 wat tans in u rekening lê t.o.v die sekuriteits steling aan ons kantore oorbetaal en wel in die volgende bankrekening…”


[6] Op 22 Junie 2007 het die Griffier op my versoek die volgende navrae per brief aan die Landdros, die applikant se prokureur en die respondent se prokureur gerig:


1. AAN DIE RESPONDENT SE PROKUREUR:

Kan dit aanvaar word dat daar tans nie meer ‘n hangende appél is nie? Indien die appél wel nog hangende is, wat is die status daarvan?

2. AAN DIE APPLIKANT SOWEL AS DIE RESPONDENT SE PROKUREURS:

2.1 Hoeveel beloop die verweerder se maandelikse pensioen?

2.2 Is die verweerder nog in okkupasie van die eiendom?

2.3 Siende dat die datums vir ontruiming in die Landdros se uitsettingsbevel reeds lank verstreke is, watter nuwe datums stel die partye voor?

3. Ek verneem graag van u teen 19 Junie 2007.”


Ek het geen antwoord op my navrae ontvang nie.


[7] Hierdie Hof het kragtens art 19(4) van ESTA nie die bevoegdheid om ‘n uitsettingsbevel in outomatiese hersiening te neem indien ‘n okkupeerder kennis van appél gegee het nie.


[8] Ek is nie daarvan oortuig dat die respondent ‘n “okkupeerder” soos omskryf in artikel 1(1) van ESTA is nie. Indien sy pensioen meer as R 5 000.00 per maand beloop, is hy nie ‘n okkupeerder nie, en is ESTA nie van toepassing nie. Kyk sub-par (c) van die definisie.


[9] Vir die redes hierbo uiteengesit maak die volgende bevel:


(a) Die Landdros se bevel van 14 November 2006 word hiermee in sy geheel ter syde gestel;

(b) Die aangeleentheid word na die Landdroshof terugverwys ten einde die partye geleentheid te gee om inligting voor die Landdros te plaas betreffende die aangeleenthede waaromtrent ek op 22 Junie 2007 navraag gedoen het;

(c) Sodra die Landdros die inligting bekom het, kan hy die aangeleentheid heroorweeg en opnuut ‘n bevel maak. Sodanige bevel moet aan hierdie Hof vir outomatiese hersiening voorgelê word.


______________

A GILDENHUYS

REGTER VAN DIE GRONDEISEHOF


4