South Africa: Land Claims Court Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Land Claims Court >> 2003 >> [2003] ZALCC 17

| Noteup | LawCite

Ouwerf Boerdery (Edms) Bpk v September en andere (LCC48R/03) [2003] ZALCC 17 (1 July 2003)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE GRONDEISEHOF VAN SUID-AFRIKA



RANDBURG SAAK NOMMER: LCC 48R/03

In kamers: GILDENHUYS R LANDDROSHOF SAAKNOMMER: 280/02


Besluit op: 1 Julie 2003


In die hersienings aansoek van:


OUWERF BOERDERY (EDMS) BPK Applikant

en


SEPTEMBER, A Eerste Respondent

FORTUIN, J Tweede Respondent

FORTUIN, K Derde Respondent

SEPTEMBER, K Fierde Respondent

SEPTEMBER, G Vyfde Respondent




UITSPRAAK




  1. Hierdie saak dien voor my op outomatiese hersiening kragtens artikel 19(3) van die Wet op Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg, Wet 62 van 1997 (soos gewysig). Die stukke is, volgens die Landdros se dekkingsbrief, op 30 April 2003 aan die Griffier van hierdie Hof versend, maar is eers op 17 Junie 2003 ontvang.


  1. Die Landdros op Clanwilliam het op 29 April 2003 ‘n uitsettingsbevel toegestaan, bewoord soos volg:


Na oorweging van aansoek en stawende dokument word bevel dat:

(a) Respondente die plaas Sewe-Oliene, ontruim op of voor 29 Mei 2003.

(b) Balju gemagtig word om ‘n uitsettingsbevel uit te voer op of voor 6 Junie 2003;

(c) Afskrifte van die uitsettingsbevel op elk van die respondente persoonlik beteken word.


Koste aan applikant toegestaan.

Getakseer te word.


Die uitsettingsbevel is toegestaan na ‘n bykans ongelooflike aantal uitstelle.


  1. Die respondente was op 29 April 2003, toe die uitsettingsbevel verleen was, afwesig by die Clanwilliam hof. Hulle was, vanweë ‘n klaarblyklike misverstand, by ‘n ander (verkeerde) hof teenwoordig.


Die Landdros het soos volg daaromtrent berig:


Volgens die oorkonde was die aansoek op die rol geplaas vir 1 April 2003 en as gevolg van die feit dat die Respondente nie vervoer van Citrusdal gehad het nie, was dit uitgestel na 2 April 2003.

Geen verdere uitstel was op die oorkonde aangeteken nie, maar op die leromslag was aangeteken dat die saak op 29 April 2003 op die rol is.Op die 29ste was slegs die Applikant se regsverteenwoordiger teenwoordig en nadat die die Respondente se name by herhaling geroep was en hulle nie teenwoordig was nie, was die aansoek toegestaan met koste soos uit die oorkonde blyk.

Volgens landdros Jurie en Mnr Syster [Klerk van die Hof] wat op die betrokke datum by die Citrusdal Periodieke Hof diens verrig het, was die Respondente egter by daardie hof teenwoordig. Aangesien daar nie sodanige saak op die betrokke hofrol verskyn het nie, is die Respondente onverrigtersake huis toe gestuur.

Ek versoek gevolglik eerbiediglik dat die bevel ter syde gestel en die saak terugverwys word vir ter rolle plasing en aanhoor van die aansoek de novo.

Uit die oorkonde behoort dit duidelik te blyk dat die Respondente ernstig benadeel sal word indien daar aan die hofbevel uitvoering gegee word.


  1. Na my oordeel behoort die uitsettingsbevel, vanweë die verwarring betreffende die plek waar die saak verhoor sou word, ter syde gestel te word. Ek hoop werklik dat wanneer die Landdros die saak weer verhoor, hy dit sonder verdere uitstelle sal kan afhandel.


  1. Vir die redes hierbo uiteengesit, beveel die hof soos volg:



  1. Die bevel van die Landdros gemaak op 29 April 2003 word in sy geheel ter syde gestel.

  2. Die aansoek word na die Landdros terugverwys om opnuut verhoor te word.

  3. Die applikant mag die saak weer in die Landdroshof vir aanhoring op die rol plaas, met voldoende kennisgewing aan die respondente.






_________________________

REGTER A GILDENHUYS