South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria >>
2012 >>
[2012] ZAGPPHC 47
| Noteup
| LawCite
Prokureursorde van die Noordelike Provinsies v Botha en Ander (41168/2008) [2012] ZAGPPHC 47 (24 February 2012)
Download original files |
NOT REPORTABLE
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
( TRANSVAALSE PROVINSIALE AFDELING)
Datum: 2012-02-24
Saaknommer: 41168/2008
In die saak tussen:
DIE PROKUREURSORDE VAN DIE NOORDELIKE
PROVINSIES............................................................................................................... Applikant
en
CHARL BOTHA...............................................................................................1 ste Respondent
SAMUEL JACOBUS BOTHA..........................................................................2de Respondent
UITSPRAAK
SOUTHWOOD R
[1] Die applikant, die Prokureursorde van die Noordelike Provinsies, doen aansoek in terme van artikel 22(1 )(d) van die Wet op Prokureurs 53 of 1979 ('die Wet') vir ln bevel dat die eerste respondent in sy praktyk as prokureur en aktevervaardiger geskors word totdat hy die hof kan oortuig dat hy 'n geskikte en gepaste persoon is om weer te kan praktiseer as 'n prokureur. Die applikant steun vir hierdie regshulp op A v Law Society of the Cape of Good Hope 1989 (1) SA 849 (A) Hierdie hof het reeds op 17 Desember 2008 'n tussentydse bevel
gemaak ingevolge waarvan die eerste respondent in sy praktyk as prokureur en aktevervaardiger geskors is hangende die finale afhandeling van die aansoek vir sy skorsing. Daardie tussentydse regshuip is in die afwesigheid van die eerste respondent of 'n opponerende eedsverklaring van die eerste respondent verleen.
[2] Voordat die tussentydse regshuip verleen is het die applikant op 3 November 2008 'n resolusie aangeneem dat die eerste respondent se naam van die lys van die prokureurs en aktevervaardigers geskrap behoort te word. Die applikant se standpunt het egter verander nadat sy vader, die tweede respondent, 'n opponerende eedsverklaring geliasseer het waarin hy beweer het dat die eerste respondent:-
(1) dwelms gebruik het;
(2) van dwelmmiddels afhanklik was; en
(3) sedert September 2007 onder behandeiing was van 'n sielkundige en psigiater vir afhanklikheid van dwelmmiddels.
Die tweede respondent het voorgestel dat die hof die eerste respondent vir ses maande in sy praktyk skors en dat hy (daarna) weer toegelaat word om te praktiseer op sekere voorwaardes.
[3] Die eerste respondent het op 'n baie laat stadium kennis gegee van sy voorneme om die aansoek te bestry. Dit was nadat die applikant 'n kennisgewing van plasing van Deel B van die kennisgewing van mosie (d.w.s. vir sy skorsing) op horn beteken het. Op 15 November 2011 is die aansoek op die eerste respondent se versoek na 24 Februarie 2012 uitgestel en die eerste respondent is geias om sy opponerende eedsverklaring voor of op 23 Desember 2011 te liasseer. Die eerste respondent het op 22 Desember 2011 sy opponerende eedsverklaring afgelewer.
[4] In sy beantwoordende eedsverklaring handel die eerste respondent hoofsaaklik met sy verval in sy dwelmafhanklikheid en sy herstel en rehabilitasie daarvan. In die lig hiervan doen hy aan die hand dat hy 'n geskikte en gepaste persoon is om weer as prokureur te praktiseer. Die applikant stem nie daarmee saam nie.
[5] Die eerste respondent se persoonlike omstandighede kan soos volg saamgevat word: die eerste respondent is op 7 Februarie 2002 as 'n prokureur toegelaat en op 12 August 2003 as 'n aktevervaardiger. Gedurende die tersaaklike tydperk was hy betrokke by drie praktyke. Vanaf 2005 tot 17 September 2008 was hy 'n direkteur saam met die tweede respondent van S & C Botha Ingelyf. In daardie praktyk het hy al die aktes en padongelukkefonds eise hanteer. Vanaf Januarie 2007 tot ongeveer Julie 2008 was hy saam met Martin Lombard 'n direkteur van Botha Lombard Ingelyf. Die praktyk het uitsluitlik aktes gedoen.
Die eerste respondent het ook die aktes gedoen van CD Terblanche Ingelyf wat uitsluitlik 'n aktespraktyk was. As gevolg van sy betrokkenheid by hierdie drie praktyke het die eerste respondent baie lang ure gewerk en 'n hoe vlak van stres ervaar en het hy dwelms soos CAT en kokai'en begin gebruik om die stres te hanteer. Naderhand het hy aan die dwelms verslaaf geraak en kon nie meer sy werk effektief doen nie. Die werksure, stres en dwelmgebruik het klaarblyklik ook 'n rol gespeel in die verbrokkeling van sy eerste huwelik. Gedurende die tydperk Julie tot September 2008 het die eerste respondent sy betrokkenheid by hierdie praktyke beeindig en met sy rehabilitasie begin. Hy is by tye gehospitaliseer en is hy behandel deur twee kliniese sielkundiges, Dr. Johan Beuster en Dr. Wilna Coetzee, en 'n psigiater, Dr. J.P. Roux. Die eerste respondent is nog onder behandeling en sal wees tot 2014. Die presiese aard van die behandeling blyk nie uit sy opponerende eedsverklaring nie. Vanaf die einde 2009 het die eerste respondent weer begin werk. Hy was eers 'n industriele verhoudingskonsultant by Landbounet (Edms) Beperk. Daarna was hy by Nosmesa waar hy arbeidswerk gedoen het en vanaf November 2011 het hy as 'n arbeidskonsultant gewerk by Saneo Labour (Pty) Ltd 'n maatskappy wat hy en Roy Stewart en Dean Whiteley gestig het. Die eerste respondent is ook 'n lektor by die Lyceum College in Johannesburg waar hy kursusse skryf en lesings gee in verskeie regsvakke. Volgens die opponerende eedsverklaring ervaar die eerste respondent geen probleme om al sy werksverpligtinge na te kom en betyds af te handel nie.
[6] Die eerste respondent se persoonlike !ewe het ook herstel. Hy is van sy eerste vrou geskei maar hy is weer getroud en hy het reeds 'n gesin begin. Hy se hy het berou oor die probleme, ongerief en finansiele verlies wat sy destydse optrede veroorsaak het maar hierdie is net 'n algemene stelling. Hy se nie watter probleme, ongerief en finansiele verlies hy versoorsaak het of hoe hy dit gedoen het nie.
[7] Die eerste respondent heg by sy eedsverklaring aan 'n onbeedigde verslag van Dr. Roux en verklarings van Roy Stewart en Andre Roets. Wilson en Roets is albei van mening dat die eerste respondent weens sy werksverrigting 'n geskikte persoon is om as prokureur te praktiseer. Dit blyk nie uit hulle eedsverklarings wat hulle kwalifikasies en ervaring is en hoekom hulle bevoeg is om so 'n mening uit te spreek nie. Dit is opvallend dat die eerste respondent nie (n verklaring van enige van die twee sielkundiges aangeheg het nie. Hulle getuienis sou relevant wees tot die vraag of hy sodanig van sy probleme herstel het dat gevind kan word dat hy in staat is om 'n prokureur se praktyk te hanteer.
[8] Die eerste respondent het versuim om die meriete van die applikant se aansoek aan te spreek. Die probleme wat die eerste respondent nie aangespreek het nie kan as gevolg saamgevat word:
(1) Hy (en die tweede respondent) het sedert 1 Januarie 2008 gepraktiseer sonder dat hulle in besit was van getrouheidsfondssertifikate;
(2) Hy (en die tweede respondent) het onreelmatige ouditeurverslae vir die tydperk eindigende 28 Februarie 2006 en 28 Februarie 2007 by die applikant ingedien. Ten spyte van die feit dat die applikant hulle in kennis gestel het dat die ouditeursversiae onreelmatig was is hierdie situasie nie reggeste! nie;
(3) Hy het versuim om op 6 Mei 2008 voor 'n dissiplinere komitee van die applikant se raad op verskeie klagtes te verskyn;
(4) Hy het versuim om 'n openingsouditeursverslag ten aansien van Botha Lombard Ingelyf by die applikant in te dien nadat die firma op 1 Maart 2007 geopen is;
(5) Hy het versuim om enige verdere ouditeursverslag in die jaar 2007 by die applikant in te dien. Vanwee hierdie versuim is 'n getrouheidsfondssertifikaat nie aan die eerste respondent uitgereik nie en het hy sedert 1 Januarie 2008, totdat hy hierdie praktyk geabandoneer het, sonder 'n getrouheidsfondssertifikaat gepraktiseer;
(6) Hy het nie met die applikant se verteenwoordiger saamgewerk om insae te gee in S & C Botha \nge\yi se rekeningkundige aantekeninge nie;
(7) Hy het nie met die applikant se verteenwoordiger saamgewerk om insae te gee in Botha Lombard Ingelyf se rekeningkundige aantekeninge nie;
(8) Hy het die praktyk van Botha Lombard Ingelyf geabandoneer en nie ln afsluitingsouditeursverslag by die applikant ingedien nie;
(9) Sy versuim om ongeveer R116 000 aan sy klient, W.T. Mnguni, na afhandeling van 'n oordrag van Mnguni aan ene Khumalo oor te betaal aan sy klient te verreken;
(10) Sy versuim om te verreken aan Cheryl Ann Gaw Agencies en Daniel Loots in yerband met die oordrag wat hy moes hanteer namens Loots en die deposito van R170 000 wat hy in sy trustbankrekening ontvang het. Hy het versuim om uitvoering te gee aan die oordrag van die eiendom en hy het versuim om aan die klient te verreken ten aansien van die deposito wat hy ontvang het;
(11) Hy het instruksies ontvang van Michael Salomon & Associates om 'n oordrag van 'n onroerende eiendom vir Mnr. J.S.
Francisesco te hanteer en hy het sekere gelde in die firma se trustbankrekening ontvang. Hy het versuim om uitvoering te gee aan sy opdrag en om aan die klient ten aansien van die gelde ontvang in sy trustrekening te verreken;
(12) Mev. Ria Homan het namens die erfgename in boedel wyle J.J. Slabbert aan die eerste respondent opdrag gegee om toe te sien tot die oordrag en registrasie van 'n onroerende eiendom van die boedel aan die koper. Die koopprys was R668 000 en die eerste respondent moes ten aansien van hierdie bedrag aan die erfgename verreken. Die eerste respondent het sekere gelde aan die erfgename oorbetaal maar daar was 'n bedrag van R409 000 aan die erfgename verskuldig. Die eerste respondent het versuim om aan die erfgename te verreken ten aansien van die bedrag wat in sy trustrekening oorgebly het;
(13) Sy oortredings van die Wet en reels; en
(14) Die trusttekort in sy trustbankrekening.
[9] Hierdie versuim om met die applikant se klagtes te handel is kommerwekkend. Dit is duidelik in stryd met die prokureur se plig om al die tersaaklike feite voor die hof te plaas sodat die hof die saak behoorlik kan oorweeg - sien Prokureursorde van Tranvaal v Kieynhans 1995 (1) SA 839 (T) te 853G-H. Die eerste respondent moes die applikant se funderende en aanvullende eedsverkiarings gelees het - hy se hy het die stukke op 13 Oktober 2011 ontvang - en moes besef het dat hy daarop moet antwoord. Indien nie het hy n gebrek aan die insig wat van 'n prokureur verwag word. Hy het die klagtes geensins in verband gebring met sy sielkundige en/of dwelmprobleem nie. Dit is opvallend dat die eerste respondent erken dat sy optrede finansiele verlies veroorsaak het sonder om die detail daarvan te voorsien. Die afleiding waartoe ek gedwing word is dat die eerste respondent nie in staat is om 'n bevredigende antwoord of verduideliking vir sy optrede te gee nie en gevolglik word bevind dat hierdie klagtes wel bewys is.
[10] In die lig daarvan moet die hof nou die oorblywende ondersoeke doen wat in sulke gevaile van 'n hof verwag word: naamlik -
(1) besluit, in die uitoefening van sy diskresie, of die eerste respondent nie 'n geskikte en gepaste persoon is om voort te gaan om as prokureur te praktiseer. Dit verg 'n waardeoordeel: en, indien nie -
(2) besluit of, in die omstandighede, die eerste respondent van die rol van prokureurs verwyder moet word of 'n bevel wat horn vir ln bepaalde tydperk in sy praktyk skors voldoende sal wees.
Sien Jassat v Natal Law Society 2000 (3) SA 44 (HHA) te 51B-I; Malan and Another v Law Society of the Northern Provinces 2009 (1)SA216(HHA) te219B-D.
[11] Geneem as 'n geheei is die klagtes teen die eerste respondent baie ernstig. Maar die klagtes dat daar trusttekorte was en dat hy versuim het om groot bedrae in sy trustrekening aan kliente oor te betaal en aan hulle te verreken ten aansien van bedrae in sy trustbankrekening is opsigself ernstig en regverdig normaaiweg :n bevinding dat die eerste respondent nie 'n geskikte en gepaste persoon is om voort te gaan om as 'n prokureur te praktiseer nie - sien Summerley v Law Society, Northern Provinces 2006 (5) SA 613 (HHA) para 21. Die feit dat die eerste respondent nie goedgedink het om hierdie oortredings te verduidelik is erg verswarend en regverdig 'n bevinding dat hy nie voldoende insig in 'n prokureur se pligte en verantwoordelikhede het om toegelaat te word om as prokureur te praktiseer nie. Ek bevind dat die eerste respondent nie ln geskikte en gepaste persoon is om toegelaat te word om voort te gaan om as prokureur te praktiseer nie.
[12] Wat die derde ondersoek betref moet bevind word dat in die lig van die eerste respondent se optrede in verband met sy trustbankrekening en sy versuim om aan kliente te verreken en bedrae aan hulle verskuldig aan hulle oor te betaal en sy versuim om instruksies uit te voer die publiek teen horn beskerm moet word. Daar is geen rede om die eerste respondent nie van die rol verwyder nie soos normaalweg sou gebeur wanneer 'n praktisyn trustgeide steel of wanaanwend of ander ernstige oortredings begaan. Voordat die eerste respondent weer as prokureur kan praktiseer sal hy moet bewys dat hy ten voile herstel het van sy sielkundige en dwelmafhanklikheidsprobleme en dat hy homself ten voile gerehabiliteer het wat betref sy vermoe om trustgeide behoorlik te hanteer, opdragte uit te voer en die Wet en die reels van die Prokureursorde na te kom. In die lig van die getuienis kan ek nie bevind dat die eerste respondent nie sy vorige optrede sal herhaal nie. Gevolglik kan ek nie met die applikant saamstem dat skorsing vanpas is nie. Na my mening is die gepaste bevel skrapping van die rol van prokureurs - sien Malan and Another v Law Society, Northern Provinces supra paragrawe 8 en 11.
[13] Dit is geykte reg dat die eerste respondent die koste van die aansoek op die skaal soos tussen prokureur en klient moet betaal - sien Prokureursorde v LancteaaM 993 (4) SA 807 (T) te 816A-D.
[14] Die volgende bevel word gemaak:
Die konsepbevel soos gewysig (p242-243 van die oorkonde) word 'n bevel van die hof gemaak.
B.R. SOUTHWOOD
REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF
Ek stem saam
RG. TOLMAY
REGTERVAN DIE HOOGGEREGSHOF
SAAK NR: 41168/08
DATUM VAN VERHOOR: 24 Februarie 2012
NAMENS DIE APPLIKANT: MNR. AT. LAMEY
IN OPDRAG VAN: Rooth Wessels Maluleke Ing.
NAMENS DIE EERSTE RESPONDENT: ADV. M. JOUBERT
IN OPDRAG VAN: SJ Botha Prokureurs
DATUM VAN UITSPRAAK: 24 Februarie 2012