South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria >>
2010 >>
[2010] ZAGPPHC 207
| Noteup
| LawCite
Hoogenboezem v Amalgameerde Mikroleners van Suid-Afrika (Edms) BPK (38432/2006) [2010] ZAGPPHC 207 (2 December 2010)
Download original files |
NOT REPORTABLE
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(GAUTENG-NOORD AFDELING)
SAAKNR.: 38432/2006
DATE: 02/12/2010
In die saak tussen
A.P. HOOGENBOEZEM..............................................................................Respondent/Eiser
en
AMALGAMEERDE MIKROLENERS VAN
SUID-AFRIKA (EDMS) BPK. …................................................................Applikant/Verweerder
CORAM: EBERSOHN WR. Aangehoorop: 25 November 2010
Uitspraak afgegee op: 2 Desember 2010
UITSPRAAK
EBERSOHN WR.
[1] Die partye sal in hierdie uitspraak na verwys word as die eiser en verweerder en nie as appiikant en respondent nie.
[2] Die eiser het 'n dagvaarding teen die verweerder uitgereik, die verweerder het verset aangeteken, 'n verweerskrif ingedien en ook etlike teeneise teen die eiser ingestel.
[3] Die verweerder het daarna 'n kennisgewing van wysiging afgelewer waarin sekere gedeeltes van die verweerskrif gewysig staan te word. Die eiser het beswaar gemaak teen die voorgenome wysigings.
[4] Die aangeleentheid is omvattend geargumenteer deur mnr. de Wet namens die verweerder en mnr. van Ryneveld namens die eiser. Uitspraak is daarna voorbehou.
[5] Paragraaf 3 van die besonderhede van vordering lees soos volg:
"3. Gedurende ongeveer Mei 2001 en te Naboomspruit, het die eiser, persoonlik en die verweerder, behoorlik verteenwoordig deur DANIEL ELARDUS DE BEER, 'n deel skriftelike en deels mondelinge ooreenkoms aangegaan met die volgende uitdruklike, alternatiewelik stilwyende, verder alternatiewelik geVmpliseerd relevante terme:
3.1 Die verweerder sou die eiser aanstel met onmiddellike effek as streeksbestuurder/streeksverteenwoordiger van die eiser vir die Noord-Kaap streek;
3.2 Die eiser sou in sy hoedanigheid as streeksbestuurder/streeksverteenwoordiger die uitbouing, onderhouding en gesonde funksionering van die kantore van die vergundes van die verweerder in die Noord-Kaap streek monitor en hanteer;
3.3 Die eiser sou vergoed word in sy hoedanigheid as streeksbestuurder / streeksverteenwoordiger, in 'n persentasie te wete 25 per sent van die rentedeel betaalbaar deur die kantore van vergundes van die verweerder in die Noord-Kaap streek, teenoor die verweerder, welke 25 per sent deel van die rentedeel betaalbaar sou wees aan die eiser binne 30 dae na maandeinde;
3.4 'n Afskrif van die skriftelike gedeelte van die voormelde ooreenkoms, synde die eiser se aansteilingsbrief as streekbestuurder, gedateer 28 Mei 2001, word hierby aangeheg gemerk aanhangsel "A"."
[6] Paragraaf 3 van die verweerskrif wat handel met paragraaf 3 van die besonderhede van vordering, lees soos volg:
"Die inhoud van hierdie paragraaf word erken."
[7] Die verweerder het skynbaar, tydens 'n verdere konsultasie, tot die besef gekom, so lees die stawende verklaring tot die aansoek vir 'n bevel wat die wysiging magtig, dat die paragraaf nie die ware beeld en verweer van die verweerder weergee nie derhalwe is die omvattende kennisgewing van voorneme om te wysig opgestel en beteken. Soos voormeld opponeer die eiser die wysiging en dit is die eiser se saak dat die verweerder gebonde is aan die "erkenning" wat die verweerder gemaak het.
[8] In die voorgenome wysiging van die verweerder erken die verweerder in effek die inhoud van paragraaf 3 van die besonderhede van vordering maar brei daarop uit en verwys na die volledige kontraktuele verhouding soos wat die verweerder beweer te bestaan tussen die eiser en die verweerder. Dat die eiser nie al die voorwaardes van die ooreenkoms tussen die eiser en die verweerder gepleit het in paragraaf 3 van die besonderhede van vordering nie, word gestaaf deur die gebruik van die woorde tot die effek dat die eiser net wat die eiser as "relevante" voorwaardes ag, gepleit het met die onvermydelike implikasie dat daar nog ander voorwaardes is, wat die eiser nie voor die hof geplaas het nie.
[9] Dit wat die verweerder wil doen is in effek nie 'n uit en uit terugtrekking van 'n erkenning nie maar is die regstelling van 'n erkenning in die verweerskrif welke erkenning 'n verkeerde beeld, soos dit tans staan, voor die hof plaas.
[10] Die hof sal 'n wysiging toestaan waar die oogmerk van die wysiging is om die ware geskil tussen die partye voor die hof te plaas. (Sien: Cross v Ferreira 1950 (3) SA 447 (C) en die sake daarin vermeld; Zarug v Parvathie N.O. 1962 (3) SA 87 (O); President Versekeringsmaatskappy Bpk. v Moodley 1964 (4) SA 109
(T)). In Heeriah & Others v Ramkisoon 1955 (3) SA 222 (N) het Broome RP met goedkeuring die volgende passasie uit die uitspraak van Bowen LJ in Cropper v Smith L.R. 26 Ch. D. 710-711, aangehaal:
"I know of no kind of error or mistake which, if not fraudulent or intended to overreach, the court ought not to correct, if it can be done without injustice to the other party. Courts do not exist for the sake of discipline, but for the sake of deciding matters in controversy, and I do not regard such amendment as a matter of favour or grace..... It seems to me that as soon as it appears that the way in which a party has framed his case will not lead to a decision of the real matter in controversy, it is as much a matter of right on his part to have it corrected, if it can be done without injustice, as nothing else in the case is a matter of right......."
[11] Na noukeurige oorweging van die voorgenome wysiging, nadat die gedeeltes wat mnr. de Wet aangedui geskrap word uit die voorgenome wysiging, is die hof tevrede dat dit 'n gepaste geval is waar die oorblywende gedeelte van die wysiging toegestaan behoort te word.
[12] Die eiser was geregtig om die aansoek te bestry gevolgiik sal die verweerder gelas word om die koste van die aansoek te betaal.
[13] Die volgende bevel word verleen:
1. Die verweerder se aansoek om sy verweerskrif te wysig soos uiteengesit in die kennisgewing van voorneme om te wysig word toegestaan uitgesonderd paragraaf 3.5 en die tweede sin van paragraaf 3.8 daarvan.
2. Die verweerder moet die vervangende bladsye beteken en liaseer binne 'n periode van 10 hofdae na die verlening van hierdie bevel.
3. Die verweerder moet die koste van die aansoek, asook die verkwiste koste veroorsaak deur die, wysiging, betaal.
P. Z. EBERSOHN
WARWEMENDE REGTERVAN DIE HOOGGEREGSHOF
Applikant/Verweerder se advokaat …..........................................Adv. H.N. de Wet
Applikant/Verweerder se prokureurs ….....................................Cilliers & Reynders Ing.
…...........................................................................................................Verw. T.A. van Schalkwyk/HC002127
…...........................................................................................................Tel. (012) 667 2405
Respondent/Eiser se advokaat.................................................Adv. P.M. van Ryneveld
Respondent/Eiser se prokureurs …........................................Le Grange Prokureurs Ing.
….......................................................................................................Verw.Mnr. le Grange/ 111/06L/MH
….......................................................................................................Tel. (012) 344 2611