South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria >> 2010 >> [2010] ZAGPPHC 177

| Noteup | LawCite

Botes v Cornelius (57343/2008) [2010] ZAGPPHC 177 (15 June 2010)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOË HOF VAN SUID-AFRIKA

(NOORD GAUTENG HOË HOF, PRETORIA)


SAAK No. 57343/2008

DATE: 15/06/2010


In die saak tussen:-


PETRUS JOHANNES BOTES

............Eiser


en


JAN CHRISTIAAN CORNELIUS......................................................................................................................Verweerder


........................



UITSPRAAK




Van der Byl, Wn. R:-


Inleiding


[1] In hierdie saak eis die Eiser, benewens die gewone kostebevel, van die Verweerder betaling van ‘n bedrag van R200 000, tesame met rente bereken teen 15,5 persent per jaar vanaf datum van betekening van dagvaarding tot datum van betaling.


[2] Soos blyk uit Eiser se Besonderhede van Vordering is sy eis gegrond op ‘n bewering -

(a) dat hy en die Verweerder op of omtrent 6 Julie 2007 ‘n mondelinge ooreenkoms aangegaan het ingevolge waarvan hy van die Verweerder ‘n vragmotor en sleepwa met registrasienommer LWP 671 GP sou koop (paragraaf 3 van die Besonderhede van Vordering);


(b) dat die verkoopprys daarvan R400 000 sou wees, dat hy ‘n deposito van R200 000 op daardie voertuig sou betaal, dat die balans betaal sou word teen lewering, binne ‘n redelike tyd, deur die Verweerder van ‘n padwaardigheidsertifikaat, ‘n registrasiesertifikaat en alle ander dokumentasie wat nodig is vir hom om registrasie van die voertuie in sy naam te kan bewerkstellig (paragraaf 4 van die Besonderhede van Vordering);


(c) dat hy die vereiste deposito op 12 Julie 2007 aan die Verweerder betaal het (paragraaf 5 van die Besonderhede van Vordering);


(d) dat, soos blyk uit Aanhangsel A by die Besonderhede van Vordering, die Verweerder betaling van die deposito erken het (paragraaf 6 van die Besonderhede van Vordering);


(e) dat die Verweerder versuim het om die betrokke padwaardigheidsertifikaat, registrasiesertifikaat en ander dokumentasie aan die Eiser te lewer (paragraaf 7 van die Besonderhede van Vordering);


(e) dat die partye gedurende Augustus 2007 ooreengekom het om die ooreenkoms om daardie rede te kanselleer (paragraaf 8 van die Besonderhede van Vordering);


(f) dat die Verweerder, ongeag aanmaning, weier of versuim om die deposito van R200 000 aan Eiser terug te betaal (paragraaf 9 van die Besonderhede van Vordering).


[3] In sy Verweerskrif -


(a) ontken die Verweerder in effek dat hy op 6 Julie 2007 die voertuig met registrasienommer LWP 671 GP besit het;


(b) erken die Verweerder dat hy R200 000 van die Verweerder ontvang het, maar pleit dat die bedrag ontvang is ten opsigte van die voertuie vermeld in Aanhangsel A by Eiser se Besonderhede van Vordering.


[4] Aanhangsel A by Eiser se Besonderhede van Vordering lees soos volg:


Re : Contract of sale between:


CFC Transport - Jannie Cornelius

ID number 5611065047086

and P J Botes - ID number 681031 5039 097


The following trucks have been purchased at the price of R400 000 per truck and trailer, except the MAN truck and trailer which was purchased at R375 000


1. 2535 Mercedes Benz - registration no.

Trailer - registration no.

2. Mercedes Benz

Trailer -

3. Mercedes Benz

Trailer -

4. MAN

Trailer -


A deposit of R200 000 has been made to CFC Transport account number 4066561678 held at ABSA on 12 July 2007.


The balance on each truck and trailer will be paid after completion of the roadworthy certificate and receipt of the registration papers.


CFC Transport hereby certify that the (sic) all the above mentioned trucks with their trailers are fully paid and that they do not owe any financial institution or any other party any outstanding amounts payable on the abovementioned trucks and trailers.


It is also understood and agreed by both parties that Mr P J Botes will take over and continue with the existing contract and understanding between CFC Transport and Reclamation Group.”.


Getuienis van Eiser


[5] Dit blyk uit die Eiser se getuienis -


(a) dat hy en die Verweerder ‘n mondelinge ooreenkoms op 6 Julie 2007 gesluit het welke ooreenkoms op 23 Julie 2007 skriftelik bevestig is ingevolge waarvan hulle ooreengekom het -


(i) dat hy drie vragmotors, elk met sy eie sleepwa, teen R400 000 en ‘n vierde vragmotor en sleepwa teen R375 000 van die Verweerder sou koop waarvan geeneen deur die partye by wyse van hul registrasienommers geïdentifiseer is nie;

(ii) dat hy ‘n deposito van R200 000 op die vier voertuie sou betaal en die balans daarna by lewering van elke vragmotor tesame met ‘n padwaardigheidsertifikaat en die tersaaklike registrasie dokumente, welke deposito hy op 12 Julie 2007 in die bankrekening van die Verweerder se besigheid gestort het;


(iii) dat die Verweerder die eerste van hierdie voertuie, blykbaar ‘n Mercedes Benz voertuig wat die Verweerder op 6 Julie 2007 van die pad afgetrek het sodat hy dit kon besigtig, binne sewe dae na betaling van die deposito sou lewer;


(b) dat die Verweerder hom op ‘n later tydstip meegedeel het dat hy net drie van die voertuie kan verkoop aangesien die vierde een aan sy moeder behoort;


(c) dat die Verweerder hom op 7 Augustus 2007 verwittig het dat die voertuig reg is en dat hy sal reël, as hy sy identiteitsdokumente die volgende dag bring, dat die voertuig vir ‘n padwaardigheidsertifikaat getoets kan word en dit dan op sy naam geregistreer kan word;


(d) dat hy daarop na die Verweerder gery het waar hy gesien het dat dit die wit Mercedes Benz is wat op die eerste dag aan hom gewys is en waar hy opgemerk het dat ‘n registrasieplaat met registrasienommer LWP 671 GP daarop aangebring is;


(e) dat die Verweerder hom egter die volgende dag geskakel het en hom meegedeel het dat hy nie die voertuig se dokumente kan kry nie;


(f) dat die Verweerder hom later weer geskakel het en meegedeel het dat die dokumente by die “Reclamation Group” te Dunswart ingehandig is as sekuriteit vir geld wat hulle geleen het en dat hy ‘n sekere mev. Martie le Roux daar kan skakel;


(g) dat hy mev. Martie le Roux daarop geskakel het wat teenoor hom bevestig het dat daar sekere dokumente is wat as sekuriteit dien vir ‘n bedrag van R85 000 wat Verweerder hulle geskuld het;


(h) dat daar toe op 15 Augustus 2007 op sy aandrang ‘n vergadering by die “Reclamation Group” gereël is om te kyk of hy die dokumente kan kry;


(i) dat dit by die vergadering geblyk het dat daar wel ‘n bedrag van R85 000 is wat die Verweerder verskuldig was en ‘n verdere bedrag van R175 000 is wat deur die Verweerder se seun geskuld word;


(j) dat hy daar in die teenwoordigheid van die Verweerder na die inhoud van die leêr gekyk het en gesien het dat slegs vier lisensieskyfies daarin was van voertuie met registrasienommers LWP 673 GP, LVB 570 GP, MYN 295 GP en BWM 294 MP;


(k) dat die Verweerder, nadat hy aan hom gesê het dat die voertuig wat hy op 7 Augustus 2007 by Verweerder se werkswinkel besigtig het ‘n voertuig met registrasienommer LWP 671 GP is, verduidelik het dat daardie registrasienommer nie by die voertuig hoort nie aangesien hy, vanweë verskeie verkeersoortredings wat deur sy bestuurders gepleeg word, een nommer by verskeie voertuie gebruik het waarna hulle blykbaar in taamlike onmin uitmekaar is;


(l) dat die Verweerder hom op 17 Augustus 2007 geskakel en meegedeel het dat alles reg is, maar as hy wou kanselleer, kan hy dit maar doen waarop hy bevestig het dat hy sou verkies om dit te kanselleer waarop hulle ooreengekom het dat die Verweerder sy geld binne 14 dae aan hom sou terugbetaal het;


(m) dat hy die Verweerder op 21 Augutus 2007 geskakel het en gesê het dat hy sy prokureurs gaan kontak om die kansellasie op skrif te stel waarop hy die “kansellasie”, soos hy dit gesien het, synde ‘n skrywe van prokureurs, Malherbe Rigg & Ranwell Inc, aan die Verweerder gaan oorhandig het wat egter geblyk in effek ‘n aanmaning te wees dat die bedrag van R200 000 binne 14 dae aan Eiser terug betaal moet word;


(n) dat hy na 14 dae niks van die Verweerder verneem het nie waarop hy sy huidige prokureurs, Creighton Prokureurs, gevra het om weer ‘n brief aan hom te skryf wat hulle op 22 Oktober 2007 gedoen het waarin dit uitdruklik aangetoon is dat hul ooreenkoms gedurende Augustus 2007 gekanselleer is en terugbetaling van die bedrag van R200 000 binne sewe dae van die Verweerder geëis is;


(o) dat die Verweerder op geeneen van hierdie skrywes gereageer het nie.


[6] Voorts blyk dit uit die getuienis dat die telefoniese gesprekke tussen die Eiser en Verweerder op 15 Augustus 2007 en 21 Augustus 2007 met behulp van die Eiser se eggenote by wyse van Eiser se selfoon opgeneem is en waarvan die transkripsie deel van die blootgelegde dokumente uitmaak.


[7] Onder kruisverhoor is dit aan Eiser gestel dat dit die Verweerder se weergawe is dat die ooreenkoms tussen hulle was dat hy drie voertuie, twee Mercedes Benz voertuie en een MAN voertuig, aan Eiser sou verkoop en dat die deposito sou wees om daardie voertuie padwaardig te kry.


Verweerder se getuienis


[8] Die Verweerder het erken dat hy en die Eiser op 6 Julie 2007 ‘n mondelinge ooreenkoms in verband met die verkoop van vragmotors en sleepwaens aangegaan het en dat hy op 23 Julie 2007 die skriftelike ooreenkoms, Aanhangsel A by die Eiser se Besonderhede van Vordering aangeheg, maar het in verskeie opsigte nie net van die Eiser se getuienis verskil nie, maar ook van die inhoud van Aanhangsel A by die Besonderhede van Vordering.


[9] Soos blyk uit sy getuienis is dit sy saak -


(a) dat hy in daardie stadium 16 voertuie gehad het en die Eiser meegedeel het dat hy drie daarvan wou verkoop en dat sy swaer, ene, C F Viljoen, ook ‘n vragmotor, ‘n Mercedes Benz 2535, gehad het om te verkoop;


(b) dat hy daarop, soos die Eiser getuig het, twee van die voertuie aan die Eiser gewys, een was ‘n Mercedes Benz 2633 met registrasienommer LVB 570 GP wat hy van die pad afgetrek het en die ander een ‘n MAN vragmotor met registrasienommer BWM 294 MP wat in die werkswinkel was;


(c) dat hulle daarop mondelings ooreengekom het dat Eiser daardie twee voertuie en ‘n derde een, ook ‘n Mercedes Benz 2633, met registrasienommer LWP 673 GP sou koop en dat hy ‘n kontrak met die “Reclamation Group” vir die vervoer van skroot materiaal sou oorneem;


(d) dat hy die Eiser voor die keuse gestel het om die voertuie voetstoots te koop of dat hy hulle deur die werkswinkel sou vat waarop die Eiser laasgenoemde keuse uitgeoefen het wat meegebring het dat nuwe bande op die voertuie aangebring sou word, aan die ratkas en enjins gewerk sou word, die sleepwaens geel gesprei moes word en daar andersins na die algemene toestand van die voertuie gekyk sou word;


(e) dat hy, omrede die Eiser nie die voertuie voetstoots wou koop nie, R200 000 deposito op die drie voertuie van die Verweerder aangevra het sodat sodra die drie voertuie van tyd tot tyd beskikbaar en gelewer word die balans op die onderskeie kooppryse bereken sou word om een-derde van die deposito van die betrokke koopprys af te trek;


(f) dat die eerste van die voertuie, dit is die een met registrasienommer LVB 570 GP so gou doenlik afgelewer sou word terwyl die ander twee na so drie tot vier maande afgelewer kon word;


(g) dat hy wel die ooreenkoms, Aanhangsel A by Eiser se Besonderhede van Vordering, geteken het, maar het verduidelik -


(i) dat daar vier voertuie op aangedui is omrede die Eiser aanvanklik vier voertuie wou koop, maar later gesê het dat hy slegs geld het vir drie;


(ii) dat dit eintlik geteken is as ontvangserkenning van die betaling van die R200 000;


(iii) dat hulle later die registrasienommers van die voertuie sou inskryf omdat hy op daardie datum nie die registrasienommers kon onthou nie;


(iv) dat die eerste voertuig wat daarin aangedui word, nie sy eiendom is nie, maar aan sy swaer behoort en dat sy seun aan die Eiser genoem het dat sy swaer dit ook sou wou verkoop het.

[10] Wat betref die gebeure wat op 7 Augustus 2007 en 15 Augustus 2007 plaasgevind het, het die Verweerder getuig dat hy wel vir die Eiser, klaarblyklik op 7 Augustus 2007, gesê het dat hy die eerste voertuig, volgens hom die een met registrasienommer LVB 570 GP, die volgende dag deur die toets sou sit.


[11] Op ‘n dag wat 15 Augustus 2007 kon gewees het, is hulle na Mev. Martie le Roux om die dokument van die voertuig te gaan kry. Die dokumente was daar omdat sy seun aanvanklik die voertuie by hom wou gekoop het en hy die dokumente daarheen geneem het aangesien hy by die “Reclamation Group” geld daarvoor wou geleen het. Mev. le Roux het die dokumente vir die Eiser gewys en sy wou nie die dokumente aan hom gee nie waarop die Eiser net sy kop geskud het en gesê het dat hy nie sy geld gaan terug kry nie. Hy het toe vir hom gesê dat hulle by die ooreenkoms bly. Hy het toe gesê dat hulle saam na sy huis moet gaan om die voertuie te identifiseer en dat hy by die Polisie ‘n verklaring sal gaan maak. Die Eiser het toe vir ‘n ent agter hom aangery, maar het afgedraai en hom nie tot by sy huis gevolg nie. Hy het hom geskakel waarop hy vir hom gesê dat hy weer van hom sal hoor.


[12] ‘n Ruk later het die Eiser hom geskakel en gesê dat hy die ooreenkoms wou kanselleer en sy geld wou terug hê want hy het ander trokke gekry.


[13] Hy het later die prokureursskrywe ontvang waarin terugbetaling van die geld geëis is, maar hy het besluit om nie daaraan gehoor te gee nie, aangesien hy gevoel het dat dit onregverdig is aangesien hy onnodige kostes aangegaan het aan kommissies en werk wat aan die voertuie verrig is asook verlies aan inkomste in die tyd wat die voertuie gestaan het.


[14] Die Verweerder het toegegee dat die Eiser na die voertuig kom kyk het, maar het bygevoeg dat hy nie op daardie dag by die huis was nie en dat as ‘n voertuig oorgesprei word, word die nommerplate gewoonlik afgehaal. Sy werktuigkundige wat intussen oorlede is, moes, so het hy aangedui, seker die verkeerde nommerplate op die voertuig teruggesit. Hy het egter ontken dat die Eiser by mev. Le Roux oor die voertuig met registrasienommer LWP 671 GP gepraat het en dat hy vir hom sou gesê het dat hy een nommer vir verskeie voertuie gebruik as gevolg van verkeersoortredings wat deur die bestuurders van sy voertuie gebruik word.


[15] Dit blyk egter uit die transkripsie van die telefoniese gesprek tussen die Eiser en die Verweerder op 15 Augustus 2007 dat die Verweerder die volgende hieroor te sê gehad het:


En hoekom hierdie ding hierdie nommerplate op het, kan ek onthou van een van hulle se liksensie het verval of ek moes ‘n dringende vrag ry, ek kan nie presies onthou nie. Dit is nie reg nie, ek gaan nie daarteen stry nie, dit is nie reg nie, maar sorry, dit is ‘n fout gewees. En daar gaat jy net mal, jy hardloop weg met die hele ding”.


Toe hy hieroor onder kruisverhoor gekonfronteer is, het hy erken hy het dit gesê, maar het bygevoeg dat hy dit nie bedoel het nie. Volgens die Verweerder het die Eiser die aand geskakel en hom meegedeel het dat hy daar was en die nommer van die voertuig gekry het waarop hy vir hom gesê dat daardie nommer nie by daardie voertuig hoort nie.

[16] Die Verweerder het erken dat die Eiser tydens ‘n gesprek wat op 17 Augustus 2007 kon plaasgevind het, gesê het dat hy die ooreenkoms kanselleer en hy het, alhoewel hy in sy hart gevoel het dit is nie reg nie, dit beaam. Dit blyk dat hulle toe ooreengekom het dat die Verweerder aan die Eiser sy geld binne 2 weke sou terug gee.


Beoordeling van pleitstukke en getuienis


[17] Uit die getuienis, soos ek dit hierbo opgesom het, is dit duidelik dat daar geen geskil tussen die partye is -


(a) dat die Eiser en Verweerder op 23 Julie 2007 ‘n ooreenkoms aangegaan het ter bevestiging van ‘n mondelinge ooreenkoms wat op 6 Julie 2007 aangegaan is;


(b) dat dit, onder andere, uit daardie ooreenkoms blyk -


(i) dat die Verweerder vier vragmotors elk met sy eie sleepwa verkoop wat, behalwe vir die feit dat drie Mercedes Benz voertuie en een ‘n MAN voertuig is, nie andersins geïdentifiseer is nie;


(ii) dat Eiser R400 000 vir elk van die Mercedes Benz voertuie en R375 000 vir die MAN voertuig sal betaal;


(iii) dat die Verweerder op 12 Julie 2007 ‘n deposito van R200 000 aan die Eiser betaal het;


(iv) dat die “balance on each truck and trailer will be paid after completion of of the roadworthy certificate and receipt of the registration papers” betaal sal word;


(c) dat een van die Mercedes Benz voertuie eerste aan die Eiser gelewer sou word;


(d) dat op of omtrent 21 Augustus 2007 die Verweerder nog nie ‘n padwaardigheidsertifikaat of registrasiedokument ten opsigte van daardie voertuig of enige van die ander voertuie gelewer het nie;


(e) dat hulle op 17 Augustus 2007 ooreengekom het, weliswaar in omstandighede waaroor hulle met mekaar verskil, om die ooreenkoms te kanselleer en dat die Verweerder die deposito aan die Eiser binne 14 dae sou terugbetaal welke ooreenkoms die Eiser nie gestand gedoen het nie.


[18] Teen hierdie agtergrond is daar ten behoewe van die Verweerder aangevoer dat die saak om die volgende vrae wentel, naamlik -


(a) eerstens, die vraag of die Eiser, gesien die feit, so is dit aangevoer, dat hy in die verhoor op ‘n verskillende ooreenkoms gesteun het as waarop hy in veral paragraaf 3 van sy Besonderhede van Vordering steun, geregtig is op die regshulp wat hy in sy Besonderhede van Vordering vra;


(b) tweedens, indien die Hof sou bevind dat die Eiser nietemin geregtig is om op die “true state of affairs” staat te maak, die vraag -


(i) of die ooreenkoms tussen die partye regmatiglik gekanselleer is; en


(ii) of die deposito van R200 000 terugbetaalbaar is.


[19] Ek handel afsonderlik met elkeen van hierdie aspekte.


Aard van ooreenkoms wat Eiser in Besonderhede van Vordering vermeld in vergelyking met ooreenkoms waarvan hy in sy getuienis vermelding gemaak het


[20] Wat betref die eerste van hierdie aspekte blyk die Verweerder se saak na my oordeel nie net ‘n letterknegtelike en enge benadering van die Besonderhede van Vordering te wees, maar ook ‘n opportunistiese een te wees.


[21] Paragraaf 3 van die Besonderhede van vordering lees soos volg:


On or about 6th of July 2007and at Devon the Plaintiff acting personally and the Defendant acting personally concluded an oral agreement in terms whereof the Plaintiff purchased from the Defendant a horse and trailer, the horse having registration number LWP 671 GP and the trailer being a Copeland tipper trailer the further particulars of which are unknown to the Plaintiff.”


[22] Hierop het die Verweerder soos volg gepleit:


2.1. The contents of this paragraph are denied.


2.2. The defendant in amplification hereto pleads that at the date as alleged by the plaintiff, the defendant did not possess the vehicle, alleged by the plaintiff to have formed the basis of the alleged agreement.


[23] Uit die pleit kom dit nie voor dat die Verweerder die bestaan van die ooreenkoms ontken nie en dat hy inderwaarheid net die identiteit van die voertuig ontken synde ‘n voertuig wat hy, volgens hom, ingevolge ‘n skikking aan sy voormalige eggenote gegee het.


[24] Dit kom duidelik na vore as daar gelet word op sy pleit vervat in paragraaf 4 van sy Verweerskrif waar hy op die bewerings vervat in paragraaf 5 van die Besonderhede van Vordering pleit.


[25] In paragraaf 5 van die Besonderhede van Vordering beweer die Eiser soos volg:


5. The Plaintiff complied with his obligations in terms of the agreement and on the 12th of July 2007 the Plaintiff paid to the Defendant the sum of R200 000 by paying the amount into an amount nominated by the Defendant.”.


[26] In antwoord hierop pleit die Verweerder soos volg:

4.1. The defendant admits having received R200 000 from the plaintiff, and pleads that the said sum in respect of the vehicles as set out on Annexure ‘A’ to the plaintiff’s particulars of claim.


4.2. The defendant reiterates that the vehicle referred to by the plaintiff in his particulars of claim never formed the basis of the agreement between the parties.


[27] Dit blyk duidelik hieruit dat die Verweerder in effek erken dat daar ‘n ooreenkoms tussen hom en die Eiser gesluit is wat op vier voertuie betrekking het, maar bloot aanvoer dat nie een van daardie voertuie een was met registrasienommer LWP 671 GP.


[28] Dit word nog des te meer duidelik as daar gelet word op paragraaf 6 van die Eiser se Besonderhede van Vordering waarin hy na die ooreenkoms Aanhangsel A wat op 23 Julie 2007 gesluit is en waaruit blyk dat die ooreenkoms op vier voertuie betrekking gehad het.


[29] Wanneer daar nou na die Eiser se getuienis gekyk word, blyk dit sy saak te gewees het dat, alhoewel die ooreenkoms tussen hom en die Verweerder, op vier voertuie betrekking gehad het, hulle ooreengekom het dat die Eiser vir eers een van die voertuie sou lewer, dat hy ten opsigte van daardie voertuig die R200 000 deposito sou betaal het, dat toe hy daardie voertuig gaan besigtig het dit met die registrasienommer LWP 671 GP toegerus was en dat die ander voertuie mettertyd aan hom gelewer sou word.


[30] Die Verweerder se pleit en getuienis dat hy nie ‘n voertuig met registrasienommer LWP 671 GP besit het nie, kan nie afbreek doen aan die basis waarop die Eiser sy eis gegrond het nie.


[31] Ek het geen twyfel dat die Verweerder geweet het en uit die Besonderhede van Vordering ook kon sien dat dit die Eiser se saak is -


(a) dat hulle op 6 Julie 2007 ‘n ooreenkoms aangegaan het wat op 23 Julie 2007 skriftelik bevestig is ingevolge waarvan die Verweerder vier voertuie aan die Eiser verkoop het;


(b) dat die registrasienommer van een van daardie voertuie LWP 671 GP was;


(c) dat die Eiser ‘n deposito van R200 000 ten opsigte van een of meer van daardie voertuie betaal het.


[32] Voorts wentel sy hele saak eintlik rondom die bewering dat hul hele ooreenkoms by onderlinge ooreenkoms gekanselleer is en dat hy op grond daarvan die deposito van R200 000 wat hy betaal het van die Verweerder terugeis.


[33] ‘n Submissie is gemaak dat as die Eiser sy Besonderhede van Vordering en in die besonder paragraaf 3 moes gewysig het sodat die Verweerder ook sy pleit kon gewysig het en bes moontlik ‘n teeneis kon instel.


[34] Ek kan in die lig van my bevindinge baie moeilik sien wat in so ‘n wysiging beliggaam kon gewees het, hoe ‘n pleit daarop kon gelees het en hoe dit opsigself die weg vir die Verweerder sou open om ‘n teeneis te kon instel. Al wat die Eiser miskien kon gedoen het was om dit duidelik in paragraaf 3 uit te gespel het dat hulle op 6 Julie 2007 ‘n ooreenkoms vir die verkoop van vier voertuie aangegaan het, dat een van daardie voertuie eerste binne sewe dae aan hom tesame met ‘n padwaardigheidsertifikaat en registrasiedokumente afgelewer sou word en dat een van daardie voertuie met registrasienommer LWP 671 GP toegerus was. Die Eiser sou waarskynlik dan daarop gepleit het, soos hy reeds gedoen het, dat hy nie ‘n voertuig met so ‘n registrasienommer besit het nie. Hoe so ‘n bewering hom kon beweeg het om ‘n teeneis in te stel, kan ek nie begryp nie. Te oordeel aan sy getuienis het hy gevoel dat die kansellasie van die ooreenkoms onregverdig is aangesien dit hom skade aangedoen het. As dit nie vir sy opportunistiese benadering tot die Eiser se saak was nie, kon hy, as dit miskien nie was nie vir die feit dat hy, soos ek aanstons sal aantoon, met die Eiser ooreengekom het om die ooreenkoms te kanselleer en die geld terug te betaal, op die pleitstukke soos hulle staan ‘n teeneis ingestel het.


[34] Ek is gevolglik van oordeel dat daar geen meriete in die submissie is dat Eiser in sy Besonderhede van Vordering bloot op ‘n ooreenkoms aangaande die verkoop van een voertuig steun nie en dat hy in sy getuienis op ‘n ander of ‘n verskillende ooreenkoms gesteun het nie


[35] Dit laat my met die vraag of die partye ooreengekom het om die ooreenkoms te kanselleer en dat die Verweerder die deposito aan die Eiser sal terug betaal.


Die ooreenkoms om die ooreenkoms te kanselleer en die terugbetaling van die deposito


[36] Na my oordeel staan dit bo enige twyfel dat die partye by onderlinge ooreenkoms die ooreenkoms gekanselleer het en dat die Verweerder onderneem het om die deposito binne 14 dae vanaf 17 Augustus 2007 aan die Eiser terug te betaal.


[37] Die partye se weergawes oor hoe hierdie ooreenkoms tot stand gekom het, verskil egter van mekaar.


[38] Aan die eenkant, is dit die Eiser se weergawe dat die Verweerder hom, na ‘n onderonsie tussen hom en die Verweerder op 15 Augustus 2007 oor die lewering van die registrasiedokument van veral die eerste voertuig wat afgelewer sou word, hom op 17 Augustus 2007 geskakel het en, onder andere, aangedui het dat hy die ooreenkoms kan kanselleer as hy so sou verkies, synde ‘n aanbod wat hy dan ook aanvaar het. Daarop het hulle, soos dit ook uit die getranskribeerde weergawe van hul telefoniese gesprek op 21 Augustus 2007, ooreengekom dat die bedrag binne 14 dae in Eiser se bankrekening inbetaal sou word.


[39] Aan die anderkant is dit die Verweerder se weergawe, dat die Eiser vir hom gesê het dat hy die ooreenkoms wil kanselleer en dat hy, alhoewel hy nie in sy hart daarmee gelukkig was, dit so aanvaar het. Dit is eers later nadat hy weer oor dit alles gedink het, besluit het om nie die deposito terug te betaal nie omrede hy dit as onregverdig beskou het gesien die feit dat hy uitgawes as gevolg van die transaksie aangegaan het, soos R100 000 kommissie wat hy aan sy seun betaal het en werk wat hy aan veral die eerste voertuig gedoen het, soos die vervanging van nuwe en versoolde bande en die opknapping van die ratkas en enjin.


[40] Vir sover die Verweerder agterna, nadat hy tot die kansellasie van die ooreenkoms en terugbetaling van die deposito ingestem het, besluit het om die deposito nie terug te betaal nie omrede hy dit as onregverdig beskou het, is na my oordeel geen verweer teen die Eiser se Eis nie. Deur dit te doen, het hy eenvoudig, sonder om ‘n eis of teeneis teen die Eiser in te stel, die reg in sy eie hande geneem.


[41] Dit maak nie saak of die deposito vir een of, soos die Verweerder beweer, drie voertuie betaal is nie, aangesien die hele ooreenkoms tussen hulle by ooreenkoms gekanselleer is.


[42] Afgesien van voorgaande oorwegings, moet ek aandui dat die Verweerder my in vele opsigte as gevolg van, onder andere, onlogiese, vae en ontwykende antwoorde, nie as ‘n goeie en geloofwaardige getuie beïndruk het nie, maar ek vind dit nie nodig nie om in die lig van die gevolgtrekking wat ek bereik het verder daarmee te handel nie.


Koste


[43] Dit is ten behoewe van die Verweerder aan die hand gedoen dat ek by die oorweging van ‘n gepaste kostebevel die benadelende posisie voor oë moet hou waarin die Eiser die Verweerder geplaas het as gevolg van sy gebrekkige pleitstukke. Ek stem nie saam met hierdie submissie nie. Na my oordeel was die Verweerder in geen benadeelde posisie nie. Trouens, na my oordeel was hy nie as gevolg van sy opportunisme eenvoudig onnodig obstruktief. Na my oordeel behoort die koste die uitslag van die saak te volg.


[44] Bygevolg is ek van oordeel dat die Eiser ‘n saak vir die terugbetaling van die deposito van R200 000 uitgemaak het.


Om voorgaande redes word vonnis soos volg ten gunste van die Eiser gegee:-


1. Betaling aan die Eiser van ‘n bedrag van R200 000.


2. Rente op die bedrag van R200 000 bereken teen 15,5 persent per jaar vanaf datum van betekening van die dagvaarding tot datum van betaling.


3. Koste van die geding.


...............................

P C VAN DER BYL

WAARNEMENDE REGTER VAN DIE HOË HOF


NAMENS DIE EISER ADV A P BRUWER

In opdrag van: CREIGHTON PROKUREURS

p/a A L MAREE ING

Bronkhortststraat 79

Groenkloof

PRETORIA

Verw: B075/BC/tdr

Tel: (011) 892 3758


NAMENS DIE VERWEERDER ADV G BEYTEL


In opdrag van: KRUGER & OKES PROKUREURS

Verw: C1889/FM/bj

Tel: (011) 814 3444

p/a H M BOTHA

Suite 202

Waterkloof Country Gardens

Brooklyn

PRETORIA

DATUM AANGEHOOR 17 en 18 Mei 2010

UITSPRAAK GELEWER 15 Junie 2010