South Africa: South Gauteng High Court, Johannesburg Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: South Gauteng High Court, Johannesburg >> 2011 >> [2011] ZAGPJHC 213

| Noteup | LawCite

S v Smith and Another (CC 18/10) [2011] ZAGPJHC 213 (4 April 2011)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(Rondgaande Plaaslike Afdeling vir die Oostelike Rondgang Distrik)





Saaknr. CC 18/10

Date:04/04/2011







In die saak van:


DIE STAAT


versus



BERNARDUS EDWARD SMITH en CINDY ANNE SNYMAN




VONNIS




MEYER, R


[1] Op 4 November 2010 het ek beskuldigde nr 1, Mnr Bernardus Edward Smith, en beskuldigde nr 2, Me Cindy Anne Snyman, elk skuldig bevind aan die moord van beskuldigde nr 2 se oorlede eggenoot, Mnr Johannes Gerhardus Snyman (aanklag 1) en aan roof van die oorledene se selfoon met verswarende omstandighede soos omskryf in artikel 1 van die Strafproseswet 51 van 1977 (aanklag 2).

[2] Ek het voorvonnisverslae vereis vir doeleindes van die oorweging van gepaste vonisse. Die verslae (bewysstukke ‘L’ en ‘M’) is voorberei deur die adjunk direkteur maatskaplike dienste van die Mpumalanga Provinsiale Regering Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, Me Lynette Louw, wat ook tydens die vonnisverrigtinge getuig het (‘die proefbeampte’). ‘n Verslag wat verkry is van die Departement Korrektiewe Dienste, Ermelo aangaande korrektiewe toesig as ‘n vonnismoontlikheid vir beskuldigde nr 1 en ‘n brief van sy ouma is ook aangebied en ontvang as bewysstukke ‘N’ en ‘O’. Die beskuldigdes het verkies om nie ter versagting van vonnis te getuig nie. Mnr Rudi Vorster vir wie die beskuldigde sowat 6 maande voor sy skuldigbevindings gewerk het, het namens hom getuig. Die staatsadvokaat en die beskuldigdes se advokate het my toegespreek oor die aangeleentheid van vonnis.

[3] Die misdaad moord waaraan die beskuldigdes elk skuldig bevind is was beplan en met voorbedagte rade gepleeg en is daarom ‘n skuldigbevinding aan ‘n misdryf gemeld in Deel I van Bylae 2 van die Strafregwysigingswet Nr. 105 van 1997 (‘die Wet’) waarvoor die voorgeskrewe vonnis, in terme van artikel 51(1) daarvan, lewenslange gevangenisstraf is tensy daar wesenlike en dwingende omstandighede soos bedoel in artikel 51(3) daarvan bestaan wat die oplegging van ‘n mindere vonnis regverdig. Die misdaad roof waaraan die beskuldigdes elk skuldig bevind is was gepleeg met verswarende omstandighede en is daarom ‘n skuldigbevinding aan ‘n misdryf gemeld in Deel II van Bylae 2 van die Wet waarvoor die voorgeskrewe vonnis, in terme van artikel 51(2)(a)(i) daarvan, gevangenisstraf vir ‘n tydperk van minstens 15 jaar in die geval van eerste oortreders soos die beskuldigdes is tensy daar wesenlike en dwingende omstandighede soos bedoel in artikel 51(3) bestaan wat die oplegging van ‘n mindere vonnis regverdig.

[4] Lewenslange gevangenisstraf vir die beskuldigdes se skuldigbevindings aan moord en gevangenisstraf vir ‘n tydperk van minstens vyftien jaar vir hulle skuldigbevindings aan roof is gevolglik die vertrekpunte by die oorweging van gepaste vonnisse. In die oorweging of wesenlike en dwingende omstandighede bestaan wat die oplegging van mindere vonnisse regverdig is die tradisionele oogmerke van straf - voorkoming, vergelding, afskrikking en rehabilitasie - toepaslik en word die persoonlike omstandighede van elke beskuldigde opgeweeg teen die misdaad deur hom en haar gepleeg en ook die belange van die gemeenskap.

[5] Beskuldigde nr 1 se persoonlike omstandighede is uiteengesit in die voorvonnisverslag (bewysstuk ‘L’). Hy is gebore op 3 Desember 1985 en was gevolglik byna 24 jaar oud ten tye van die pleging van die misdade waaraan hy skuldig bevind is. Hy is ‘n eerste oortreder wat ‘n versagtende omstandigheid in sy guns is. Sy pa was ‘n konstruksiewerker en sy ma het in ‘n apteek gewerk. Hy het twee jonger susters. Hy het sy kinderjare by sy grootouers deurgebring terwyl sy susters by sy ouers woonagtig was. Sy ouers het egter baie kontak met hom gehad. Hy was goed versorg en sy kinderjare blyk gelukkig te wees. Hy het gehou van sport en was ‘n goeie rugbyspeler. Hy het probleme ervaar met lees en leer. Hy het skool na standerd 8 verlaat. In haar brief (bewysstuk ‘O’) sê sy ouma, Mev F Coleman, dat sy hom van babatyd tot en met 19-jarige ouderdom groot gemaak het waarna hy na sy ouers te Ermelo is. Sy beskryf sy goeie karaktertrekke en eienskappe as kind en ook na skoolverlating. Beskuldigde nr 1 was 16 toe hy begin werk het. Sy gebrek aan kwalifikasies het veroorsaak dat hy laagbesoldigde werk verrig het. Hy is in 2007 getroud. Hy en sy vrou het ‘n baba wat tans twee jaar oud is. Sy vrou het hom kort voor die pleging van die misdade verlaat en hulle is tans besig om te skei. Beskuldigde nr 1 het daarna eers ‘n woonstel met sy suster en haar mansvriend gedeel waarna hy ingetrek het by sy vriend, Mnr Stapelberg, wat ‘n staatsgetuie teen hom was. Mnr Rudi Vorster het getuig dat beskuldigde nr 1 ‘n harde werker is en dat hy hom enige tyd weer in diens sal neem.

[6] Beskuldigde nr 2 se persoonlike omstandighede is uiteengesit in die voorvonnisverslag (bewysstuk ‘M’). Sy is gebore op 4 Junie 1985 en was gevolglik 24 jaar oud ten tye van die pleging van die misdade waaraan sy skuldig bevind is. Sy is ook ‘n eerste oortreder wat ‘n versagtende omstandigheid in haar guns is. Haar pa is ‘n ketelmaker van beroep en haar ma ‘n huisvrou. Sy het twee ouer broers en ‘n halfbroer. Haar pa het alkohol misbruik totdat sy sowat sewe of agt jaar oud was waarna hy sy sokkies opgetrek het. Daarna was haar kinderdae sonder huislike probleme. Sy het skool verlaat gedurende standerd 8. Sy en die oorledene, wat ook ‘n sekuriteitsbeampte was, het ontmoet terwyl sy na skoolverlating as sekuriteitsbeampte in ‘n supermark werksaam was. Hulle is later getroud en het na Ermelo verhuis. Die oorledene en beskuldigde nr 2 het twee kinders, ‘n seuntjie van 6 jaar en ‘n dogtertjie van 4 jaar oud. Ten tye van sy dood het die oorledene, beskuldigde nr 2 en hulle twee kinders in armoede en in beknopte omstandighede in ‘n klein woonstel geleef. Beskuldigde nr 2 en die oorledene was werkloos en hulle huwelik was op die rotse.

[7] Vrydagaand, 31 Oktober 2009, onderweg na ‘n plaaslike dansplek, Rebels, het beskuldigde nr 2 haar vriendin, Veronica, vertel dat die oorledene in haar pad was en dat sy van hom wou skei, maar dat sy bang was dat sy hulle twee kinders in die proses sou verloor. Sy het Veronica ook vertel van ‘n buite-egtelike verhouding tussen haar en ‘n buurman. Later in die vroeë oggendure terwyl hulle ‘n na-geselligheid in die buitelug by ‘n plaaslike dam genaamd Petdam bygewoon het, het beskuldigde nr 2 vir Mnr Stapelberg, wat ‘n lid van die Max motorfietsryklub was, in die teenwoordigheid van beskuldigde nr 1, wat na volwaardige lidmaatskap van die Max motorfietsryklub gestreef het, gevra om haar man dood te maak teen ‘n vergoeding van R10, 000.00. Sy het hierdie versoek en aanbod van ‘n finasiële beloning later herhaal, maar Mnr Stapelberg het geweier om dit te doen.

[8] Die ontmoeting by Petdam is opgevolg met selfoonkontak tussen die beskuldigdes op Maandagoggend, 3 November 2009 en op Dinsdagoggend, 4 November 2009 het hulle mekaar agter die plaaslike Spur restourant ontmoet. Onderweg na hierdie ontmoeting het beskuldigde nr 2 vir Veronica, wat haar daarheen vergesel het, vertel dat sy ‘moeg’ was vir die oorledene en dat sy iemand gevind het om hom ‘dood te maak’. Daarna het die beskuldigdes buite die Spur en in die teenwoordigheid van Veronica beplan en afgespreek om die oorledene daardie aand dood te maak. Die afgespreekte plan was om die oorledene, wat werkloos was, uit te nooi vir ‘n werksonderhoud in die industriële gebied van Ermelo waar beskuldigde nr 1 hom sou inwag en doodmaak. Beskuldigde nr 2 se uitgesproke woorde aan beskuldigde nr 1 was ‘maak dit stadig en pynvol’. Beskuldigde nr 1 sou die oorledene se selfoon neem sodat die voorval soos ‘n roof voorkom. Beskuldigde nr 2 het beskuldigde nr 1 versoek om ‘n foto te neem van hoe haar man uitsien nadat hy met hom afgereken het en om dit aan haar te stuur. Daarna het die beskuldigdes onder andere alkohol saam geniet, biljart (‘pool’) gespeel en seksueel met mekaar omgegaan.

[9] Daardie aand het beskuldigde nr 1 die oorledene iewers in die industriële gebied van Ermelo ingewag. Hy het hom tweekeer in die gesig geslaan met die vuis waarop die oorledene geval het. Beskuldigde nr 1 het die oorledene se kop flenters geskop met sy harde en swaar veiligheidstewels met staalpunte terwyl die oorledene magteloos op die grond gelê het. Die skedelfrakture wat die oorledene opgedoen het was ingedrewe en oop frakture van die linker en regter slape en agterhoofs. Sy breinweefsel het by die agterkopskedelfraktuur uitgepeul. Beskuldigde nr 1 het die oorledene van sy selfoon beroof om die moord van die oorledene die voorkoms van roof te gee wat so algemeen in ons land voorkom. Hy het beskuldigde nr 2 geskakel en haar waarskynlik verwittig van die volvoering van hulle moordafspraak. Beskuldigde nr 2 is die persoon wat die oorledene se liggaam eers die volgende oggend iewers in ‘n sloot in die industriële gebied van Ermelo gevind het. Die oorledene was maar 31 jaar oud toe hy so vermoor was.

[10] Hierdie misdaad van moord wat deur die beskuldigdes gepleeg was is ernstig en uiters grusaam. Hulle het opgetree in flagrante verontagsaming van die heiligheid of onskendbaarheid van menselewe. Hulle het die moord op die oorledene beplan en met voorbedagte rade gepleeg. Hulle het saamgesweer en uitdruklik ooreengekom om die oorledene te dood. Beskuldigde nr 2 het beskuldigde nr 1 en Veronica betrek en sy het die hoofrol beklee in die aangaan van die ooreenkoms om haar man dood te maak, in die beplanning van die aanval op die oorledene en sy het aktief hulp verleen in die uitvoering van die moordafspraak. Beskuldigde nr 1 het in opdrag of op versoek van beskuldigde nr 2 opgetree en hy het die doodslag met koelbloedigheid en wreedaardigheid uitgevoer.

[11] Die dood van die oorledene is ook wesenlik benadelend vir die twee jong kinders. Hulle is permanent ontneem van ‘n pa wat hulle primêre versorger was. Die teenwoordigheid van hulle ma is hulle ook ontneem. Die gebeurtenis was vir hulle uiters traumaties. Hulle was aldus die proefbeampte verward en angstig. Hulle simptome het nagmerries, enkuprese en aggressie ingesluit. Hulle word egter tans goed versorg deur hulle materne grootouers. Ek is meegedeel dat beide die kinders se paterne en materne grootouers huidiglik aansoek doen om hulle aan te neem. Ongetwyfeld het die dood van die oorledene ook ‘n negatiewe inwerking op sy familie wie gedurende dieselfde tyd ook ‘n ander seun vanweë bloedkanker aan die dood afgestaan het.

[12] Wat die belange van die gemeenskap aanbetref is dit alom bekend dat ons land gebuk gaan onder ‘n onaanvaarbare en kwellende vlaag van veral ernstige geweldsmisdade. Die gemeenskap vereis dat howe ferm optree teen persone soos die beskuldigdes wat sulke ernstige misdade pleeg.

[13] Verdere aspekte wat geopper word in die voorvonnisverslae vereis oorweging. Die proefbeampte skryf oor beskuldigde nr 1 dat hoewel hy as kind goed versorg en baie liefde gekry het terwyl hy by sy grootouers woonagtig was hy ‘n hunkering na sy ouerhuis gehad het en dat hy soms verwerp gevoel het. Sy skryf ook dat hy probleme met lees en leer ervaar het en dat dit sy selfbeeld verder benadeel het. Dit blyk egter ook uit haar verslag dat beskuldigde nr 1 gelukkige kinderjare geniet het, dat hy van sport gehou het en in rugby uitgeblink het. Sy aanleg was moontlik nie akademies nie, maar hy het nietemin elke jaar op skool geslaag. Dit blyk ook nie dat hy as kind enige gedragsafwykings openbaar het omdat hy nie by sy ouers woonagtig was of omdat hy leerprobleme ervaar het nie. Sy goeie karaktertrekke en eienskappe as kind blyk dan ook uit sy ouma se brief.

[14] Die proefbeampte maak die stelling dat beskuldigde nr 1 ‘gesosialiseer’ is ‘om te glo dat ‘n man ‘n vrou moet beskerm.’ Sy sê dat hy kort voor die pleging van die misdade ‘n soortgelyke situasie op min of meer dieselfde wyse ‘suksesvol’ hanteer het. Die ‘situasie’ waarna sy verwys is ‘n vuisgeveg waarin hy en sy suster se mansvriend betrokke geraak het terwyl beskuldigde nr 1 saam met hulle ‘n woonstel gedeel het, nadat hy sy vrou verlaat het. Die vriend het sy suster na bewering sleg behandel. Die proefbeampte sê voorts dat hierdie insident beskuldigde nr 1 waarskynlik moed gegee het om dieselfde vir beskuldigde nr 2 te doen. Beskuldigde nr 1 se aggressiewe optrede teenoor sy eie vrou spreek egter nie van ‘n man wat vrouens beskerm nie. Hy het sy vrou onder andere fisies aangerand en na bewering gewurg toe sy vier maande swanger was. Beskuldigde nr 1 se optrede teenoor sy vrou, teenoor sy suster se vriend en teenoor die oorledene spreek van ‘n man wat uiters aggressief kan optree nieteenstaande Mnr Rudi Vorster se getuienis dat beskuldigde nr 1 glad nie aggressief is nie.

[15] Die proefbeampte is van mening dat beskuldigde nr 1 ‘n persoon is wat aanvaarding gesoek het en beïnvloedbaar was. Sy verwys onder andere na beskuldigde nr 1 se ma se mededelings aan haar dat sy intrek by Mnr Stapelberg

... ‘n groot fout was, aangesien hy daar blootgestel is aan persone met baie swak morele waardes. Daar is baie gedrink en hulle was betrokke by ‘n motorfietsklub (die Max’s). Mnr Smith was mnr Stapelberg se ‘appie’ by die klub en en mnr Stapelberg was sy ‘senior’. Mnr. Smith het saam met mnr. Stapelberg uitgegaan na nagklubs en byeenkomste van die motorfietsklub. Dit is by een van hierdie besoeke aan ‘n nagklub waar mnr. Smith sy mede-oortreder, mev Snyman, ontmoet het. ...

Sy moeder is van mening dat die misdaad ‘n direkte uitvloeisel is van mnr. se pogings om die ander lede van die motorfietsgroep waarmee hy geassosieer het, te beïndruk. Dit blyk asof hy veral probeer het om die veel sterker mnr. Stapelberg te beïndruk. ...

Mnr en mev Smith is oortuig daarvan dat hulle kind nie in staat was om die oorledene te vermoor nie. Hulle glo dat daar ‘n ander party betrokke was wat in ‘n wit Ford Ikon motor gery het. Die gesin voel dat mnr. Smith se assosiasie met verkeerde vriende hom in die situasie laat beland het. Hulle is oortuig daarvan dat hy toegestem het om mnr. Snyman aan te rand sodat hy erkenning kon kry van die manne in die motorfietsklub. ...’


[16] Wat onder andere nie heeltemal strook met hierdie spekulatiewe bewerings nie is die bewese feit dat Mnr Stapelberg in die teenwoordigheid van beskuldigde nr 1 die versoek van beskuldigde nr 2 dat Mnr Stapelberg die oorledene doodmaak vir ‘n beloning van R10, 000.00, geweier het en dat hy as staatsgetuie teen die beskuldigdes getuig het. Beskuldigde nr 1 het verkies om hierdie Hof nie ten volle in sy vertroue te neem nie. Onbeantwoord is byvoorbeeld die vraag of daar enige meriete in die menings en gevoelens van beskuldigde nr 1 se ouers is oor die betrokkenheid van andere wie hy moontlik wou beïndruk het met en wie hom moontlik kon beïnvloed het tot die pleging van die gruweldaad. Dit is nie deur aanvaarbare getuienis aangetoon dat beskuldigde nr 1 die gruwelmoord begaan het vanweë selfbeeldprobleme, soeke na aanvaarding, beïnvloedbaarheid en onvolwassenheid aan sy kant om dan as versagtende omstandigheid in aanmerking geneem te word nie.

[17] Die proefbeampte maak ook die stelling dat die oormatige gebruik van alkohol ‘n definitiewe rol gespeel het by beskuldigde nr 1 se betrokkenheid by die misdaad, dat hy alle inhibisies verloor het en dat dit waarskynlik sy eiewaarde verhoog en hom moed gegee het. Die feit dat beskuldigde nr 1 alkohol oormatig gebruik het nadat hy by Mnr Stapelberg ingetrek het regverdig egter nie die afleiding dat hy onder die invloed van drank was ten tye van die pleging van die misdade nie. Geen sodanige getuienis is voor hierdie Hof geplaas nie.

[18] Beskuldigde nr 1 het woorde van berou uitgespreek tydens sy getuienis voor skuldigbevinding, teenoor die proefbeampte en skynbaar ook teenoor die familie van die oorledene. Ek is egter nie instaat om te bevind dat sy woorde vertolk kan word as opregte berou vir die koelbloedige en wreedaardige moord wat hy gepleeg het nie en dat dit gevolglik as ‘n geldige oorweging ter strafversagting in aanmerking geneem moet word nie. Dit is ongetwyfeld so dat beskuldigde nr 2 hom betrek het by die moord op die oorledene deur voor te gee dat haar man haar slaan en hulle kinders molesteer. Die leuenagtige weergawe waarmee hy volhard is dat hy en beskuldigde nr 2 ooreengekom het dat hy haar man ‘‘n goeie pak slae’ sou gee. Hierdie nie-moordgerigte motief is vals. Die vraag of beskuldigde nr 1 dalk enige ander voordeel soos aansien of ‘n finasiële een sou ontvang is oopgelaat. Beskuldigde nr 2 het geld aan Mnr Stapelberg beloof indien hy bereid sou wees om haar man dood te maak. Kortom, beskuldigde nr 1 se werklike motief met die gruwelmoord op die oorledene is ‘n aangeleentheid vir spekulasie en ook sy beweerde hartsverandering. Hy is waarskynlik spyt oor sy optrede, maar sodanige spyt verplaas nie sondermeer in opregte berou nie.

[19] Die proefbeampte wys daarop dat beskuldigde nr 2 as vyfjarige kind in die bad brandwonde in haar gesig, nek en bolyf opgedoen het. Beskuldigde nr 2 het gegly en die warmwater kraan het oopgegaan. Hieroor lees die verslag soos volg:

Hierdie brandwonde en die letsels wat dit gelaat het, het ‘n verreikende impak op mev. Snyman se sosiale ontwikkeling gehad.

Mev. Snyman is selfbewus oor die brandmerk in haar gesig en nek en sy voel dat almal dit raaksien en dat sy anders is as ander mense. Sy is as kind en tiener daaroor gespot en sy moes byname soos ‘toaster’ in die hoërskool verduur. Sy kon haarself nie laat geld nie en het baie magteloos en vernederd gevoel as sy gespot is. Sy het erge verwerping en emosionele pyn ervaar, totdat sy in Graad 10 uit desperaatheid die skool verlaat het. Sy het gevoel dat onderwysers ook vir haar lag en dat niemand haar wou beskerm nie. Haar ma het probeer om die saak by die skool te beredder, maar sonder resultate.

Sy het geen sielkundige of psigiatriese behandeling ontvang om die brandwondtrauma te verwerk nie omdat haar ouers nie regtig besef het hoe groot die impak van die brandwonde was nie en hulle ook nie die finansiële vermoë of mediese fonds gehad het nie.

Mev Snyman is ‘n introvert wat huiwerig is om enige gevoelens te kommunikeer. Sy kom emosioneel afgestomp voor. Sy vind dit moeilik om gevoelens te verwoord en onderdruk meestal enige emosie. Sy is maklik beïnvloedbaar omdat sy graag aanvaarding wil hê, maar kan ook baie gedetermineerd en dominerend wees as sy iets wil hê. Volgens haar ouers was sy as kind maklik om te dissiplineer, maar was soms passief-aggressief en sou haar ontevredenheid wys deur terug te trek en te tob. Sy sukkel om konflik en verwerping te hanteer en sal eerder voorgee dat niks haar kan ontstel nie. Sy maak nie maklik vriende met vroue nie, aangesien hulle haar meestal minderwaardig laat voel. Sy beweer sy is meer gemaklik met mansvriende omdat hulle haar nie etiketteer op grond van haar voorkoms nie.

Die proefbeambpte is van opinie dat mev. Snyman goed georienteerd is ten opsigte van datum, tyd en omgewing. Sy ervaar geen hallusinasies of illusies nie en sy is toerekeningsvatbaar. Sy kan rasioneel en duidelik op vrae antwoord en is in staat om goed te redeneer binne die perke van haar intellek en skolastiese opleiding. Haar sosiale hanteringsvaardighede is egter beperk en sy voel maklik hulpeloos en verneder. Hierdie eienskappe het waarskynlik ‘n groot bydrae gelewer tot die motivering van en uiteindelike pleging van die misdryf.’


[20] Beskuldigde nr 2 en die oorledene was aanvanklik gelukkig getroud. Sy het die proefbeampte meegedeel dat sy egter haar liefde en agting vir die oorledene verloor het nadat hy en haar stiefbroer ‘n seksuele daad gepleeg het terwyl sy met hulle dogtertjie swanger was. Huweliksprobleme tussen hulle het daarna net toegeneem. Die ongelukkige situasie is vererger deur die oorledene wat ook sy werk as leerling motorwerktuigkundige verloor het en sy onvermoë om weer ‘n vaste betrekking te bekom. Die gesin het finansieel baie swaar gekry en beskuldigde nr 2 was baie bekommerd oor hulle situasie. Sy het onder andere haar trouring verpand om in die gesin se basiese behoeftes te voorsien. Alhoewel sy sedert haar swangerskap met hulle eerste kind nie gewerk het nie was sy kort voor die moord op die oorledene genoop om maar self te gaan werk soek. Sy het die verwagting gehad om ‘n werksbetrekking by ‘n winkelgroep, Game, te bekom. Sy het geglo dat die oorledene nie moeite gedoen het om ‘n werksbetrekking te bekom nie en dit het haar frustreer. Die proefbeampte sê in haar verslag dat beskuldigde nr 2 baie kwaad was toe die oorledene na bewering teenoor haar aangedui het dat sy by Game moes gaan werk en dat hy na die kinders sou omsien. ‘Sy het geglo dat dit die man se rol is om die broodwinner in die huis te wees.’ Dit blyk ook dat die oorledene die primêre versorger van die kinders was, dat beskuldigde nr 2 kritiseer was vir die wyse waarop sy die huishouding hanteer het, dat sy nie gewild by die skoonfamilie was nie, dat sy nie welkom by sekere van die familielede was nie en dat sy met die intimiteit van die ouer-kind verhouding gesukkel het. Beskuldigde nr 2 was bekommerd dat sy die kinders in ‘n egskeidingsproses kon verloor.

[21] Die emosionele trauma wat beskuldigde nr 2 as kind ervaar het met die emosionele en sielkundige gevolge daarvan, die ongelukkige huwelik tussen haar en die oorledene en hulle ongunstige huislike en finansiele omstandighede kan nie sonderrmeer aanvaar word haar tot moord gedwing het nie. Beskuldigde nr 2 was bekommerd dat sy haar kinders in ‘n egskeidingsproses kon verloor. Of dit haar hulpeloos laat voel het en tot wanhopigheid gedwing het sodat sy geen ander uitweg kon sien soos byvoorbeeld om regshulp in te win en te berus by die uitkoms van regsverrigtinge nie, is nie deur aanvaarbare getuienis aangetoon nie. Sy het die moord oor ‘n tydperk van sowat vier dae beplan. Daar was voldoende tyd vir haar om te besin. Sy het instede met die wreedaardige plan gewetenloos voortgegaan. Deur beskuldigde nr 1, wie se rol soortgelyk aan dié van ‘n huurmoordenaar is, te betrek is ‘n ernstige verswarende faktor wat teen haar in aanmerking geneem word.

[22] Daar is ook geen sprake van opregte berou aan die kant van beskuldigde nr 2 nie. Sy volhard steeds met haar leuenagtige verontskuldigende weergawe wat die moord van die oorledene aanbetref. Sy het verkies om hierdie Hof hoegenaamd nie in haar vertroue te neem nie. Wat beskuldigde nr 2 se bewerings van seksuele misbruik van die kinders deur die oorledene aanbetref, wys die proefbeampte daarop dat daar geen aanduiding van seksuele oorbewustheid of seksuele trauma by die kinders gevind was tydens terapie wat hulle ontvang het nie. Sy wys ook daarop dat beskuldigde nr 2 se

... verweer dat sy haar man ‘n les wou leer, is nie in lyn met die normale progressie van gesinsgeweld nie. In normale omstandighede sou so ‘n stap ‘n baie aggressiewe eggenoot meer geweldadig maak. In die tipiese siklus van huweliksgeweld, sou vroue probeer om alle provokasie te vermy, en sal waarskynlik net self tot geweld oorgaan as hulle direk bedreig sou word.’


[23] ‘n Opweging van al die omstandighede en oorwegings wat relevant is tot die oplegging van gepaste vonisse wat insluit al die verswarende omstandighede en die min versagtende omstandighede noop my tot die onafwendbare gevolgtrekking dat daar nie wesenlike en dwingende omstandighede bestaan wat die oplegging van mindere vonnisse as die voorgeskrewe vonnisse regverdig nie.

[24] Bygevolg word:

(a) beskuldigde nr 1, Mnr Bernardus Edward Smith, gevonnis tot lewenslange gevangenisstraf vir sy skuldigbevinding aan die moord op die oorledene, Mnr Johannes Gerhardus Snyman (klagte 1 van die akte van beskuldiging) en tot gevangenisstraf vir ‘n tydperk van vyftien jaar vir sy skuldigbevinding aan die roof van die oorledene se selfoon met verswarende omstandighede soos omskryf in artikel 1 van die Strafproseswet 51 van 1977(klagte 2 van die akte van beskuldiging), welke vonnis van vyftien jaar gevangenisstraf samelopend met die vonnis van lewenslange gevangenisstraf is; en

(b) beskuldigde nr 2, Me Cindy Anne Snyman, gevonnis tot lewenslange gevangenisstraf vir haar skuldigbevinding aan die moord op haar oorlede eggenoot, Mnr Johannes Gerhardus Snyman (klagte 1 van die akte van beskuldiging) en tot gevangenisstraf vir ‘n tydperk van vyftien jaar vir haar skuldigbevinding aan die roof van die oorledene se selfoon met verswarende omstandighede soos omskryf in artikel 1 van die Strafproseswet 51 van 1977(klagte 2 van die akte van beskuldiging), welke vonnis van vyftien jaar gevangenisstraf samelopend met die vonnis van lewenslange gevangenisstraf is.





P.A. MEYER

REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF

VAN SUID-AFRIKA

4 April 2011