South Africa: High Courts - Gauteng Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Courts - Gauteng >> 2009 >> [2009] ZAGPHC 46

| Noteup | LawCite

S v Ramahlo (A159/09) [2009] ZAGPHC 46 (25 February 2009)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

GAUTENG NOORDSE PROVINSIALE AFDELING



HOOGGEREGSHOF VERWYSDINGSNOMMER:26



In die saak tussen:


Die Staat


en


LEE-ROY TYBIN LITHA QUARTE RAMAHLO Beskuldigde





HERSIENINGSUITSPRAAK


1. Die beskuldigde het in die Landdroshof vir die distrik Vereeninging, gehou te Meyerton, op 'n aanklag van bedrog verskyn.

2. Hy het skuldig gepleit en is korrek skuldig bevind.

3. Hy het valslik aan 'n bank te kenne gegee dat hy geregtig en gemagtig is om 'n tjekboek vir 'n ingenieursmaatskappy in ontvangs te neem.

4. Dit is gemeensaak dat hy en sy medepligtige beoog het om vals tjeks uit te skryf en geld uit die betrokke besigheid se rekening te onttrek, wel wetende dat hulle nie daarop geregtig was nie.

5. Nadat die beskuldigde skuldig bevind is, het die staat ses vorige veroordelings vir diefstal bewys, wat deur die beskuldigde erken is.

6. Al die oortredings is tussen 2004 en 2008 gepleeg.

7. Die andermansgoed wat tydens die diefstalle gebuit is, was klaarblyklik nie baie waardevol nie, aangesien die beskuldigde telkens die voordeel van 'n betreklik geringe boete met korttermyn tronkstraf as alternatief, of 'n opgeskorte vonnis gekry het.

8. Dit blyk nie uit die notule of die beskuldigde die boetes betaal het en of hy die alternatiewe gevangenisstraf moes ondergaan nie

9. Tydens vonnisoplegging het die beskuldigde verklaar dat hy 'n dwelmverslaafde is, heroien, mandrax en ander dwelms misbruik en horn ook met verslswende middles inspuit.

10. Dit is die klaarblyklike rede vir sy reeks misdrywe. Hierdie feit is nooit in twyfel getrek nie.

11. Die verhoorhof het die beskuldigde tot drie jaar gevangenisstraf gevonnis in terme van artikel 276(1)(i) van die Strafproseswet 51 van 1977. Die beskuldigde kan dus, nadat hy een sesde van sy vonnis uitgedien hy, deur die Kommissaris van Korrektiewe Dienste onder korrektiewe toesig geplaas word.

12. Op hersiening is die agbare verhoorlanddros gevra waarom daar nie aandag aan 'n vonnis in terme van artikel 296 van die Strafprosewet, nl die verwysing na 'n rehabilitasiesentrum, geskenk is nie.

13. Die agbare verhoorlanddros het geantwoord dat die beskuldigde nog nooit 'n vonnis opgele is wat afskrikkingswaarde het nie omdat hy nog nooit tot (direkte) gevangenisstraf gevonnis is nie.

14. Indien die agbare verhoorlanddros hiermee sou bedoel dat geen vonnis ander as gevangenisstraf afskrikkingswaarde het nie, sou dit op 'n fundarnentele mistasting ten aansien van die rol van vonnisoplegging in die strafproses neerkom. Daar is oorvloedige gesag dat opgeskorte vonnisse, gemeenskapsdiens, boetevonnisse, vergoedende boetes, korrektiewe toesig en periodieke gevangenisstraf seer sekerlik afskrikkingselemente bevat en d ;arom ook sonder huiwering toegepas kan word in elke geval waar direkte gevangenisstraf ongewens is.

15. Waarskynlik bedoel die agbare verhoorlanddros egter dat die ander vonnisopsies nie die gewenste uitwerking in die beskuldigde se geval gehad het nie. Daarom het hy ook aan die hand gedoen dat die beskuldigde, nadat hy een sesde ven sy vonnis uitgedien het, deur die korrektiewe beampte aan gepaste programme onderwerp sou kan word.

16. Alhoewel hierdie benadering nie sonder meriete is nie, toon die beskuldigde se geskiedenis dat hy hoogswaarskynlik 'n persoon is wat die dissipline van 'n gestruktureerde onttrekkings- en rehabilitasieprogram in 'n amptelike rehabilitasiesentrum nodig het.

17. Indien die hof 'n proefbeampteverslag verkry het soos in art 296 beoog, sou die hof behoorlik ingelig kon gewees het of die vonnis nie die verwysing na 'n rehabilitasiesentrum moes behels het of nie.

18. Onder die omstandighede word die skuldigbevinding bekragtig en die vonnis tersyde gestel. Die saak word na die verhoorhof terugverwys vir heroplegging van vonnis in die lig van hierdie uitspraak.



Geteken te Pretoria op hierdie 25ste dag van Februarie 2009.


E Bertelsmann

Regter van die Hooggeregshof



Ek stem saam.


Regter van die Hooggeregshof

D A Basson