South Africa: High Courts - Gauteng Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Courts - Gauteng >> 2009 >> [2009] ZAGPHC 33

| Noteup | LawCite

Nasionale Aartappel Kooperasie Beperk v Price Waterhouse Coopers Incorporated en Andere (33297/1999) [2009] ZAGPHC 33 (20 February 2009)

Download original files

PDF format

RTF format


/LVS

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA


(TRANSVAALSE PROVINSIALE AFDELING)



SAAKNO.: 33297/1999

DATUM: 20/02/2009

ONRAPPORTEERBAAR









In die saak tussen:


NASIONALE AARTAPPEL KOÖPERASIE BEPERK EISER


en


PRICE WATERHOUSE COOPERS INCORPORATED 1STE RESPONDENT


HOEK & WIEHAHN 2de RESPONDENT


WIEHAHN MEYERNEL 3de RESPONDENT


PRICE WATERHOUSE MEYERNEL 4de RESPONDENT


PRICE WATERHOUSE 5de RESPONDENT



UITSPRAAK

______________________________________________________________



BOTHA, R:


Dit is `n Reël 35(12) aansoek wat interlokutoor is tot `n Reël 47(4) aansoek en `n Reël 27 aansoek. Ek gaan slegs `n bondige uitspraak gee ten einde die verhoor van die hoof aansoeke nie te vertraag nie.


Die verweerders vra insae in sekere dokumente waarna die eiser in sy beëdigde verklarings verwys het naamlik:

  1. sekere memorandums wat gewissel is tussen die eiser se aanvanklike befondser, HLS, en sy een senior advokaat, advokaat Alberts SC, en

  2. die befondsingskontrak wat die eiser op 28 Januarie 2009 met `n nuwe befondser, IMF, aangegaan het.


Na my mening is die verweerders nie geregtig op insae in die memorandums nie omdat hulle gepriviligieerde dokumente is. Die destydse befondser, HLS, kan nie bloot as `n derde persoon met geen belang in die saak beskou word nie. Hy was as’t ware `n verlengstuk van die eiser.


Na my mening is die beginsel uiteengesit in Euroshipping Corporation of Monrovia v Minister of Agricultural Economics and Marketing and Others 1979(1) SA 637 (c) at 651 A-B by analogie van toepassing. Andersins is ek van oordeel dat die sogenaamde litigasie privilegie (litigation privilege) beskryf in The South African Law of Evidence deur Zeffert et al op 590-598 van toepassing is.


Wat betref die befondsingskontrak meen ek dat dit wel relevant is tot die aangeleenthede in die hoof aansoek, ge-opper. Dit het betrekking op die eiser se vermoë om met behulp van die befondser die geding voort te sit. Dit is relevant in `n situasie waar die aanvanklike befondser, sonder enige moeite, bloot deur hom te verlaat op die bepalings van sy kontrak, hom uit sy verpligtinge kon loswikkel met die gevolg dat die vasgestelde verhoordatum nie meer haalbaar was nie, dit alles met groot koste implikasies vir die verweerders.


Die bepalings van die kontrak is relevant ten einde te bepaal of daar `n geldige en bindende kontrak is, of dit voorwaardelik is, en as dit voorwaardelik is, of die voorwaardes opskortend is en indien wel, of hulle vervul is.


Die eiser het betoog dat die kontrak gepriviligieer is. Ek kan nie sien hoe die bepalings van die kontrak as sodanig beskou kan word as gepriviligieer nie. Hulle mag vertroulik wees, maar dit maak hulle nie gepriviligieer nie. Sien die Euroshipping saak supra op 652 E-F.


Mnr Alberts SC, wat op hierdie aspek die saak namens die eiser voorgedra het, het my verwys na die Australiese saak van Kingsheath Club of Clubs Limited (in liquidation) [2003] FCA 1034 (3e September 2003) waar die hof insae tot `n befondsingskontrak toegelaat het, maar met uitwissing van bedrae wat die omvang van die befondsing kan verraai. Die hof het bevind dat dit onbillik sou wees as `n teenparty deur insae te wete sou kom wat die omvang van die krygskas van die befondsde party is. In paragraaf 33 van die uitspraak is die volgende gesê:

I consider that it is appropriate that the applicants should have access to the confidential exhibit “KLS 15” but that there should be blanked out or deleted from the copy of documents made available to them the amounts of funding proposed or agreed to and the return to the funders. In an ordinary litigation situation, leaving aside any issue as to security for costs, a litigant is not normally privy to the “war chest” that the opposing party had available to fund the litigation. Although the applicants, as creditors, have an interest in the financial commitments and obligations entered into by the liquidator, it would give them an unfair advantage in any litigation brought by the liquidator against them for them to have knowledge of the amount of money available to the liquidator to run the litigation. They would, by virtue of that knowledge, have a tactical and strategic advantage which ought not to be given to them. Although they wish to have regard to, and consider, the commerciality of the liquidator’s agreement with IMF (Australia) Ltd, it is necessary to balance against that interest the consequence of knowledge of the amount of funding in the event that litigation against them ensues.”


Ek mag byvoeg dat die hof klaarblyklik aanvaar het dat die kontrak nie gepriviligieer was nie, maar dat die saak op `n grondslag van billikheid benader moes word.


Na my mening behoort ek `n soortgelyke benadering te volg.


Die eiser het aangedui dat daar twee aanhangsels is wat sensitiewe inligting bevat. Die eerste is `n begroting wat die eiser se strategiese beplanning weergee. `n Tweede aanhangsel sit die verhouding tussen IMF en die eiser se prokureur uiteen. Na my mening sal ek die eiser se regmatige belange genoegsaam beskerm as ek gelas dat enige bedrae wat die omvang of monetêre perk van die befondsing aandui, uitgewis of toegekleur kan word.


Die koste van die uitstel van hierdie aansoek op 16 Februarie 2009 staan nog oor. In die lig van die feit dat die hoof aansoeke op 2 Februarie 2009 uitgestel is en datums vir die uitruil van verklarings tussenin vasgestel is, was daar nie baie tyd vir die verweerders om ruim kennis van die Reël 35(12) aansoek te gee nie. Die aansoek het gevolg uit die verklarings wat in die hoofaansoeke gebaseer is. Daar was `n aanmaning op 10 Februarie 2009 en een op 11 Februarie 2009. Op 12 Februarie 2009 het die eiser geweier om aan die aanmanings te voldoen.


Onder die omstandighede meen ek nie dat hierdie aansoek vroeër geloods kon gewees het, of dat kennis daarvan soveel vroeër gegee kon gewees het dat die verkwisting van koste op 16 Februarie 2009 vermy kon gewees het nie. Daar was nie `n realistiese kans dat enige Reël 35(12) aansoek wat die verweerders mag gebring het, ryp vir verhoor op 16 Februarie 2009 kon wees nie. Gevolglik meen ek dat die koste op 16 Februarie 2009 verkwis, koste in die aansoek moet wees.


Omdat die verweerders wel regshulp gaan ontvang, is hulle op die koste van die aansoek geregtig.


Die volgende bevel word verleen:

  1. Die eiser word gelas om `n afskrif van sy befondsingskontrak met IMF aan die verweerders beskikbaar te stel met uitwissing of toekleuring van enige bedrae wat `n aanduiding sal gee van die omvang of monetêre perk van die befondsing.

  2. Die eiser moet die verweerders se koste betaal wat sal insluit die koste van twee advokate en die verkwiste koste verbonde aan die verskyning op 16 Februarie 2009.





________________________________

C BOTHA

REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF