South Africa: High Courts - Gauteng Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Courts - Gauteng >> 2008 >> [2008] ZAGPHC 31

| Noteup | LawCite

Absa Bank Beperk v Van Niekerk en Andere (6384/2005) [2008] ZAGPHC 31 (7 February 2008)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(TRANSVAAL PROVINSIALE AFDELING)


Datum: 2008-02-07

Saaknommer: 6384/2005

ONRAPORTEERBAAR

In die saak tussen:


ABSA BANK BEPERK Applikant


en


FREDERICK HERMANUS VAN NIEKERK EN ANDER Respondente



UITSPRAAK


SOUTHWOOD R


[1] Absa doen aansoek om verlof om te appelleer teen die uitspraak wat op 14 Desember 2007 gelewer is. Absa het op 21 Desember 2007 sy eerste kennisgewing van aansoek om verlof om te appelleer per faks afgelewer en na 10 Januarie 2008 die kennisgewing ooreenkomstig die reëls afgelewer. Absa het op 4 Februarie 2008 sy tweede, Gewysigde Kennisgewing van Aansoek om te Appelleer, afgelewer. Absa het verlang dat die tweede kennisgewing die eerste kennisgewing in sy geheel vervang.


[2] Absa het aansoek gedoen vir kondonnasie vir die laat liassering van die aansoek om verlof om te appelleer en vir die wysiging van die kennisgewing van aansoek om te appelleer. Die aansoeke is toegestaan.


[3] Ek is van mening dat die gronde vervat in die Gewysigde Kennisgewing van Aansoek om te Appelleer nie vooruitsigte van sukses het nie.


[4] Ten spyte van die omvattende uitspraak wat nodig was om die menigte punte wat tydens die argument geopper is te oorweeg en te besleg was en is hierdie saak eenvoudig. Die respondente wou graan verkoop en het die graanhandelaar se standaardkontrak geteken. In die geloof dat hulle aanbiedinge aanvaar sou word het die respondente met Absa se vier takke lasgewingsooreenkomste aangegaan ingevolge waarvan Absa die respondente se silosertifikate in veilige bewaring sou hou totdat die respondente betaling vir hulle graan (soos verteenwoordig deur die silosertifikate) ontvang het waarna Absa die silosertifikate aan die koper sou oorhandig. Absa het nie die respondente se silosertifikate in veilige bewaring gehou totdat die respondente betaling ontvang het nie. Absa het in stryd met die lasgewingsooreenkomste en ten spyte van die respondente se besware die silosertifikate tot sy eie voordeel verhandel en betaling daarvoor ontvang. Die respondente het nie betaling daarvoor ontvang nie en het geen teenwaarde vir hulle graan of silosertifikate ontvang nie. Die respondente het dus skade gely as gevolg van Absa se kontrakbreuk of Absa se wederregtelike toe-eiening van die silosertifikate.


[5] Die respondente vra dat die hof gelas dat die koste van hierdie aansoek, indien onsuksesvol, deur Absa op die skaal soos tussen prokureur en kliënt betaal word. Hierdie versoek is gebaseer op die wanvoorstelling van die feite in paragraaf 1.10 op bladsy 11 van Absa se Gewysigde Kennisgewing van Aansoek om te Appelleer. Die respondente se advokaat het geklem gelê op die volgende passasie –


Knipe het glad nie ontken dat die eisers ooreenkomste met Hantie Steenkamp aangegaan het nie. Hy het glad nie beweer dat die ABSA 2577 vorms nie kwitansies was nie. Knipe het uitdruklik aanvaar (p334 para 12) dat ‘n kwitansie voltooi sou wees en dat dit wou voorkom asof dit Aanhangsel “C2” tot die funderende stukke is, wat ‘n afskrif is van die ABSA vorm 2577. Die dokument self is egter deur die produsent onderteken in die naam van AT Grain. Die vorm bevat dus beide ‘n mandaat en ‘n kwitansie;’


[6] Die respondente het die bepalings van die ooreenkomste wat hulle met Hantie Steenkamp aangegaan het in paragraaf 7.5 van Van Niekerk se funderende eedsverklaring uiteengesit (K1 18 para 7.5). Knipe het in paragraaf 9 van Absa se beantwoordende eedsverklaring daarop geantwoord. Hy het duidelik nie die respondente se bewerings erken nie en het staatgemaak op die silosertifikaatmandaat (met vrywaring) wat Van Niekerk (en Wessels) namens die respondente onderteken het. Hy het aangevoer dat die respondente se bewering in verband met die ooreenkomste ‘grootliks weerspreek (word) deur die bewerings in die silosertifikaatmandaat hiertoe’. Hy het duidelik beweer dat die ooreenkomste wat aangegaan is in die silosertifikaatmandate vervat word (K2 326-328 paras 9.1-9.6) (Sien ook para 105 van die uitspraak). In paragraaf 24 (K1 25 para 24) van Van Niekerk se funderende eedsverklaring verwys Van Niekerk na die foutiewe silokwitansies. In paragraaf 23 (K2 349 para 23) van Absa se beantwoordende eedsverklaring sê Knipe onomwonde in antwoord –


soos reeds gesê, is die silosertifikaatmandate nie kwitansies nie maar mandate. Die sertifikaat word dus nie by die tak namens die boer ontvang nie, maar namens die graanhandelaar self. Die produsent se naam en handtekening moet dus nie op die silosertifikaatmandaat voorkom nie. Hantie het die vorms volgens my korrek voltooi’


(In haar stawende eedsverklaring sê Hantie Steenkamp dat sy Knipe se eedsverklaring deurgelees het en bevestig die inhoud daarvan insover dit op haar betrekking het (K2 614 para 2)).


[7] Absa het dus in die kennisgewing die feite verdraai en ‘n wanvoorstelling aan die hof gemaak. In ‘n saak van hierdie omvang is dit onverskoonbaar dat die feite nie korrek aan die hof voorgedra word nie. Na my mening regverdig hierdie wanvoorstelling ‘n spesiale kostebevel.


Bevel


[8] Die aansoek om verlof om te appelleer word van die hand gewys met koste, welke koste op die skaal soos tussen prokureur en kliënt betaal moet word.





___________________

B.R. SOUTHWOOD

REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF




SAAK NR: 6384/2005


DATUM VAN VERHOOR: 6 Februarie 2008


NAMENS DIE APPLIKANT: ADV. H. VAN EEDEN

IN OPDRAG VAN: Mev. M. Cowley van Lowndes Dlamini Prokureurs


NAMENS DIE 1ste tot 51ste RESPONDENTE: ADV. C.J.J. JOUBERT

IN OPDRAG VAN: Mnr. Prinsloo van Prinsloo Ingelyf


NAMENS DIE 52ste en 53ste RESPONDENTE: ADV. H.N. DE WET

IN OPDRAG VAN: Mnr. A. van Aarde van Cilliers & Reynders Ing.


DATUM VAN UITSPRAAK: 7 Februarie 2008