South Africa: High Courts - Gauteng Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Courts - Gauteng >> 2008 >> [2008] ZAGPHC 22

| Noteup | LawCite

Mans v Minister van Korrektiewe Dienste en Andere (2007/17113) [2008] ZAGPHC 22 (30 January 2008)

Download original files

PDF format

RTF format


29/01 Rapporteerbaar


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

WITWATERSRAND AFDELING

SAAKNOMMER: 2007 / 17113


In die saak tussen:

MANS, JACOBUS VAN DER MERWE Applikant

en


DIE MINISTER VAN KORREKTIEWE DIENSTE Eerste respondent

DIE HOOF VAN DIE GEVALLEBESTUURSKOMITEE Tweede respondent

DIE HOOF VAN DIE PAROOLRAAD Derde respondent

DIE HOOF VAN ONTVANGS Vierde respondent

MNR JANSE VAN RENSBURG (Streekskantoor) Vyfde respondent



UITSPRAAK


Van Rooyen Wn R

[1] Die applikant word tans aangehou by Leeuwkop Maksimum Gevangenis te Bryanston. Hy doen aansoek om verskeie bevele, maar die belangrikste van die bevele is dat die Hof verklaar dat hy geregtig is om vrygelaat te word omdat hy verplig word om ander vonnissie uit te dien, ten spyte van die feit dat hy reeds meer as 15 jaar uitgedien het as gewoontemisdadiger. Hy beroep hom op die feit dat die Konstitusionele Hof in S v Niemand 2002(1) SA 21(KH) beslis het dat `n persoon wat as gewoontemisdadiger verklaar word nie langer as 15 jaar in die gevangenis gehou mag word nie. Enige verdere aanhouding sou ongrondwetlik wees, aldus sy betoog.Die misdade wat daartoe gelei het dat hy tot `n gewoontemisdadiger verklaar is, het verband gehou met diefstal en bedrog.


[2] Die probleem is dat applikant verskeie kere ontvlug het en dat hy

gedurende die ontvlugting weer soortgelyke misdade gepleeg het.

Hiervoor is hy addisionele gevangenisstraf opgelê. Hy is tot altesaam 95

jaar gevangenisstraf gevonnis nadat hy as ‘n gewoontemisdadiger

verklaar is.Die applikant is, nadat hy reeds as ‘n gewoontemisdadiger

verklaar is, skuldig bevind op die volgende aanklagte:

(i) Roof;

(ii) 7 aanklagte van ontsnapping uit wettige aanhouding;

(iii) 10 aanklagte van bedrog en vervalsing wat gepleeg is terwyl die applikant voortvlugtend was nadat hy ontsnap het;

(iv) 20 aanklagte van diefstal wat gepleeg is terwyl die applikant voortvlugtend was nádat hy ontsnap het.


[3] Aan die applikant is altesaam 7 jaar 10 maande afslag op sy bepaalde

vonnisse van gevangenisstraf toegestaan, wat 1 jaar spesiale afslag insluit. Die applikant dien altesaam 73 jaar en 2 maande van sy bepaalde vonnisse van gevangenisstraf gelyktydig uit.Indien die afslag wat aan die applikant toegestaan is en die gelyktydige vonnisse in berekening gebring word, dien die applikant gevolglik 43 jaar en 8 maande se effektiewe bepaalde gevangenisstraf uit. Teen 20 September 2009 sal hy vir parool oorweeg mag word.


[4] Applikant se argument is dat die wetgewing, wat oor die saamloop van vonisse gaan, hom geregtig maak om na die vyftien jaar, ongeag die verdere vonnissie, ontslaan te word uit die gevangenis.


[5] Artkel 39(2)(a) van die Wet op Korrektiewe Dienste 111 van 1998 (“die Wet”) bepaal soos volg:

“Behoudens die bepalings van paragraaf (b), sal ‘n persoon wat meer as een vonnis van gevangenisstraf opgelê word of bykomende vonnisse ontvang terwyl hy of sy ‘n termyn van gevangenisstraf uitdien, elke sodanige vonnis na die verstryking, tersydestelling of kwytskelding van die ander uitdien in die volgorde wat die Kommissaris bepaal, tensy die hof spesifiek anders beveel, of tensy die hof beveel dat sodanige vonnisse gelyktydig uitgedien moet word maar moet –

  1. enige bepaalde vonnis van gevangenisstraf wat deur enige persoon uitgedien word gelyktydig met ‘n lewenslange vonnis uitgedien word of met ‘n vonnis van gevangenisstraf wat deur sodanige persoon uitgedien word as gevolg daarvan dat hy of sy as ‘n gewoontemisdadiger of ‘n gevaarlike misdadiger verklaar is…”

Die Engelse teks lui soos volg:

"(2) (a) Subject to the provisions of paragraph (b), a person who receives more than one sentence

of imprisonment or receives additional sentences while serving a term of imprisonment, must serve each such sentence, the one after the expiration, setting aside or remission of the other, in such order as the Commissioner may determine, unless the court specifically directs otherwise, or unless the court directs that such sentences shall run concurrently but-

  1. any determinate sentence of imprisonment to be served by any person runs concurrently with a life sentence or with sentence of imprisonment to be served by such person in consequence of being declared an habitual criminal or a dangerous criminal;

  2. one or more life sentences and one or more sentences to be served in consequence of a person being declared an habitual criminal or a dangerous criminal also run concurrently; and

  3. no placement or release of a dangerous criminal may take place other than in terms of section 286B of the Criminal Procedure Act."


[6] Artikel 39(2)(a) moet saam gelees word met artikel 73(6)(c) van die Wet:

“Iemand wat verklaar is as ‘n gewoontemisdadiger, mag nie in ‘n gevangenis aangehou word vir ‘n tydperk langer as 15 jaar nie en mag nie op parool geplaas word voor ‘n tydperk van ten minste sewe jaar verloop het nie.”


Die Engelse teks lui soos volg:


"(c) A person who has been declared an habitual criminal may be detained in a prison for a period of 15 years and may not be placed on parole until after a period of at least seven years." (Beklemtoning bygevoeg)


Alhoewel die twee tekste verskil, soos beklemtoon, is die beginsel duidelik: `n person wat as gewoontemisdadiger aangehou word mag nie langer as vyftien jaar as sodanig aangehou word nie. Die diskresie om die person langer aan te hou, berus dus, soos beslis in S v Niemand (supra), nie meer by die Uitvoerende Gesag nie.


[7] Die applikant argumenteer dat die Wet geen bepaling bevat dat ‘n gevangene die oorblywende termyn van ‘n bepaalde vonnis van gevangenisstraf moet uitdien ná die verstryking van ‘n tydperk van 15 jaar wat daardie gevangene uitgedien het as gevolg daarvan dat hy of sy as ‘n gewoontemisdadiger verklaar is nie. Die applikant voer verder aan dat daar aan elke woord van die Wet betekenis geheg moet word en dat die woorde van die Wet letterlik uitgelê behoort te word. As dit “gelyktydig” is vir doeleindes van lewenslank dan moet dit ook “gelyktydig” wees vir doeleindes van die tyderk vir `n gewoontemisdadiger, naamlik 15 jaar in die lig van S v Niemand (supra).Die slotsom waartoe die applikant kom is dat artikels 39(2)(a)(i) en 73(6)(c) van die Wet duidelik is en dat hy gevolglik onmiddellik vrygelaat moet word aangesien hy reeds meer as 15 jaar se gevangenisstraf uitgedien het.


[8]. Mnr Du Bruyn, namens die Respondent, argumenteer dat die Hof moet kennis neem van: elke woord van die Wet; die sekondêre en tersiêre hulpmiddels by wetsuitleg; en die uitsonderlike feite van hierdie saak.Hy voer verder aan dat, wanneer die Hof op die voormelde faktore let, dit duidelik blyk dat dit nooit die bedoeling van die Wetgewer kon gewees het dat die applikant, by die verstryking van die 15 jaar, uit die gevangenis vrygelaat moes gewees het nie.

[9] Dit is my taak om kragtens art 39(2) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika die betrokke artikel oor die maksimum termyn uit te lê op so `n wyse dat die gees, oogmerk en doelwitte van die Handves van Menseregte bevorder word. Die artikel mag nie so uitgelê word dat dit weer ontaard in `n wrede, onmenslike of degraderende straf ingevolge art 12(1)(e) van die Grondwet nie. Die Konstitusionele Hof, by monde van Yacoob R, waarsku egter dat daar by sodanige art 39(2)-uitleg, steeds in gedage gehou moet word dat die woorde redelikerwys vatbaar moet wees vir die uitleg wat die Hof neerlê. Vgl Director of Public Prosecutions, Cape of Good Hope v Robinson 2005(4) SA 1 (CC) waar die die vermelde Regter die volgende sê:

[54] Fourthly, the High Court misconceived the extent of its power to construe a legislative provision consistently with the Constitution. A Court's power to do so is not unqualified; a Court cannot give a meaning to the provision which it regards as consistent with the Constitution without more. The provision concerned must be reasonably capable of the preferred construction without undue strain to the language of the provision.


[10] Indien Applikant se uitleg van art 39(2)(a) korrek is, sou dit beteken dat waar `n gevangene moord in die gevangenis pleeg, die gevangenistermyn wat vir moord opgelê word ten einde moet loop wanneer die 15 jaar verby is, tensy lewenslank vir die moord opgelê word. Hierdie voorbeeld dui, met respek, op die onhoudbaarheid van applikant se standpunt. “Gelyktydig” (“concurrent”) beteken dat enige deel van `n vonnis wat opgelê word vir `n misdaad gepleeg gedurende die termyn van 15 jaar, saam loop met daardie termyn. Die balans moet egter afsonderlik uitgedien word ná die vyftien jaar verby is. “Lewenslank” kan nie hiermee vergelyk word nie: “lewensank” beteken inderdaad “lewenslank” en alle vonnisse moet daarmee saam uitgedien word. Dit is egter so dat vir parool aansoek gedoen mag word na `n sekere termyn van “lewenslank” verloop het. Die Paroolraad sou noodwendig in ag neem as `n gevangene wat lewenslank uitdien weer `n verdere moord pleeg waarvoor hy lewenslank gekry het. Die datum waarop dit gebeur het sal ook relevant wees.


[11] In die geval van verklaring tot gewoontemisdadiger is die maksimum termyn 15 jaar gevangesetting. As die gevangene ná die aanvang van sodanige gevangesetting skuldig bevind sou word aan `n misdaad wat hy voor die verklaring gepleeg het en die misdaad redelikerwys binne die groep van misdade val waarvoor hy tot gewoontemisdadiger verklaar is, is die gees van die Grondwet en S v Niemand (supra) deurslaggewend: die termyn wat opgelê word moet ten volle saamloop met die vyftien jaar. As daar nog `n balans oorbly na die termyn moet dit geïgnoreer word.


[12] Word hy egter skuldig bevind aan `n misdaad wat hy voor die verklaring gepleeg het en daardie misdaad nie redelikerwys hoort tot die groep misdade waarvoor hy tot gewoontemisdaiger verklaar is nie, moet die eerste vyftien jaar (indien toepaslik) van daardie vonnis uitgedien word saam met die termyn as gewoontemisdadiger. Dit sou ook die geval wees waar hy, byvoorbeeld, eers na tien jaar aldus skuldig bevind en gevonnis word. Die vermelde tien jaar word beskou asof hy dit reeds uitgedien het en loop vanaf datum van verklaring tot gewoontemisdadiger.

[13] Waar hy gedurende die gevangenistermyn as gewoontemisdaiger `n misdaad pleeg, loop die termyn saam met die vyftien jaar vanaf die datum waarop die vonnis opgelê is. Indien daar onredelik gesloer word om hom aan te kla, behoort die verhoorhof (of `n Hof van appèl of hersiening) dit in ag te neem by die bepaling van die termyn van gevangenisstraf. In die geval sal die hof moet in ag neem dat die termyn maksimaal vytien jaar is en dat die Konstitusioneel geregverdigde beginsel van saamloop met die 15 jaar deur `n onredelike gesloer aangetas sal word.

[14] Binne die omvang van hierdie aansoek is dit natuurlik nie vir my moontlik om in te gaan op die vraag of daar onredelik gesloer is met die aankla van die applikant vir dade gepleeg ná die verklaring nie. Die respondente word egter beveel om dié aspek te ondersoek en aan my, via die huidige regsverteenwoordiger (indien moontlik), verslag te doen voor of op 1 April 2008.


[15] Die applikant het verder aansoek gedoen dat die Streekskommissaris Gauteng bevel word om weer te oorweeg of hy nie geregtig sou wees op afslag op grond van die inligting wat hy verleen het nie. Die inligting het gelei tot die skuldigbevinding van `n werknemer. Ek is van mening dat die twee gevalle aparte oorweging regverdig en dat die applikant geregtig is op die afslag volgens die gewone reëls.Ek verwys dus die besluit dat die applikant nie geregtig is op afslag vir die tweede geval nie terug na die Streekskommissaris met die opdrag om die Claasens-geval as `n aparte geval te behandel en dienooreenkomstig die toepaslike afslag toe te staan aan die applikant.

[16] Vir sover die applikant versoek dat ek beveel dat hy geregtig is om `n bandopnemer te gebruik om die parool-proses op te neem, is ek van mening dat die praktyk sal uitwys dat dit ontoereikend en onbetroubaar sal wees. Ondervinding het geleer dat selfs opnames wat formeel gemaak word in `n Hof met behulp van moderne tegnologie soms ontoereikend sou kon wees. Die gebruik van `n bandopnemer deur `n gevangene sal van geen waarde wees nie: daar is geen objektiewe opnemer en tikster wat sal kan sertifiseer dat die rekord, soos getik, waar en korrek is nie. Rekord word gehou van die proses en behoort aan die gevangene op sy versoek beskikbaar gestel te word wanneer hy of sy die Hof in dié verband wil nader. In die volle besef van die koste hieraan verbonde, is ek van mening dat dit aan te beveel is dat die Departement wel self die proses elektronies opneem en die rekord laat tik en sertifiseer. Dit sal ongegronde aantygings van onredelikheid in die proses in die kiem smoor. Daar moet natuurlik steeds in ag geneem word dat die Paroolraad onderhewig is aan art 3 van die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid Wet 3 van 2000 en dat die gevangene geregtig is op `n regverdige administratiewe proses by die aanhoor van sy aansoek.


[17] Vir sover die applikant versoek dat ek beveel dat kennisgewings aan hom gestuur word in verband met die aanhoor van sy paroolaansoek, is ek van mening dat dit `n saak is wat beheers word deur artikel 3(1)(b)a-(e) van die die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid en dat dit onprakties is om `n reëling vanuit hierdie hoek in dié verband neer te lê. Dit speek vanself dat `n gevangene se aansoek betyds aangehoor moet word sodat, indien toegestaan, die volle afslag sal geld. Indien dit nie gebeur nie, is die gevangene geregtig om `n bevel aan te vra by die Hof dat dit wel betyds gebeur. Aangesien die applikant se huidige getuienis in dié verband prematuur en spekulatief is, is daar nog nie `n dreigende skending van sy regte aangetoon nie. Die bede wat verband hou met die plaas in `n enkelsel wanneer hy verskuif word na `n ander Gevangenis, is ook prematuur. Dit is ook spekulatief en nie op `n dreigende skending baseer nie. Die respondente antwoord dat daar, in elk geval, geen aanduiding is dat sodanige skuif moontlik gaan plaasvind nie. Ek beveel nietemin aan dat die applikant in `n enkelsel gehou word.


Bevel

(1) Enige vonnis wat opgelê is tav die applikant ná sy gevangesetting as gewoontemisdadiger en wat gebaseer is op `n misdaad wat gepleeg is voor die gevangesetting as gewoontemisdadiger en wat in dieselfde generiese groep val as die ander misdade op grond waarvan die bevel van gewoontemisdadigheid gemaak is (bedrog en diefstal), moet (op die laaste) ten einde loop aan die einde van die vyftien jaar maksimum tydperk.


(2) Enige vonnis wat opgelê is tav die applikant ná sy gevangesetting as gewoontemisdadiger en wat gebaseer is op `n misdaad wat gepleeg is ná die gevangesetting as `n gewoontemisdadiger, moet saamloop met die tydperk van vyftien jaar. As daar `n balans oorbly, moet die balans nog voltooi word na die vyftien jaar. Natuurlik onderhewig aan parool.


(3) Die besluit dat die applikant nie geregtig is op afslag vir die tweede geval van inligting verleen mbt `n oortreding (die sg Claasens-geval) nie, word terug verwys na die Streekskommissaris. Die opdrag is om die Claasens-geval as `n aparte geval te beskou en dienooreenkomstig dieselfde afslag van sy gevangenistermyn toe te staan aan die applikant as wat hy vir die eerste inligting-geval ontvang het. Dit sal dan daartoe lei dat die applikant se aansoek om parool dienooreenkomstig vroeër aangehoor moet word.


(4) Die ander aansoeke word van die hand gewys.


(5) Die vyfde respondent word beveel om aan my `n verslag voor te lê voor 1 April 2008 oor die vraag of die skuldigbevindings en vonnisse van die applikant wat opgelê is ná die bevel van gewoontemisdadigheid gemaak is tav dade gepleeg ná die verklaring, nie hersien moet word in die lig van die datums waarop die misdade gepleeg is en die datums waarop die applikant skuldig bevind en gevonnis is nie. Die regsverteenwoordigers van die respondente word vriendelik versoek om die aangeleentheid te administreer.

(6) Geen bevel word ten aansien van koste gemaak nie.


________________

JCW Van Rooyen 30 Januarie 2008

Waarnemende Regter van die Hooggeregshof

Die Applikant: Persoonlik

Adv LJ du Bruyn namens die Respondente in opdrag van die Staatsprokureur, Johannesburg