South Africa: High Courts - Gauteng

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: High Courts - Gauteng >>
2008 >>
[2008] ZAGPHC 193
| Noteup
| LawCite
S v Johnson (A1008/2006) [2008] ZAGPHC 193 (12 May 2008)
Download original files |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID AFRIKA
(TRANSVAALSE PROVINSIALE AFDELING)
Saaknommer: A1008/2006
Datum aangehoor: 8/10/2007
Datum van uitspraak: 12/05/2008
RAPORTEERBAAR
In die saak tussen:
ANDRIES JOHNSON APPELLANT
En
DIE STAAT RESPONDENT
UITSPRAAK
DU PLESSIS R:
Die appellant het saam met twee ander beskuldigdes in die streekshof verskyn op 'n aanklag van diefstal van R100 000 kontant. Hy was beskuldigde 3. Die appellant is skuldig bevind soos aangekla en tot vier jaar gevangenisstraf gevonnis. Met die nodige verlof het die appellant teen sowel die skuldigbevinding as die vonnis appel aangeteken.
Luidens die staatsaak het die klaer, 'n beesspekulant by name Kuit, byene Kruger gehoor van mense wat beeste wil verkoop. Na aanleiding daarvan het Kuit kontak gemaak met beskuldigde 2 , mm Hendrik Nquana wat intussen oorlede is. 'n Telefoongesprek tussen Kuit en Nquana het daartoe gelei dat Kuit later per telefoon gepraat het met 'n persoon wat homself as "Lucky" voorgestel het. Daar is gereël dat Kuit en Nquana mekaar op Vrydag 8 November 2002 sou ontmoet.
Nadat Kuit vir Nquana op die afgespreekte dag en plek ontmoet het, het hulle twee in Kuit se bakkie na 'n ander plek toe gery waar hulle vir "Lucky" ontmoet het. Kuit het getuig dat "Lucky" die appellant is. "Lucky" en Nquana het toe vir Kuit na 'n beeskraal toe geneem waar hulle hom die beester gewys het wat hulle na bewering wou verkoop. Die voormalige beskuldigde 1 was in die beeskraal. Nadat Kuit die beeste bekyk het, het hy ingestem om 'n koopprys van R100 000 kontant daarvoor te betaal. Hy, "Lucky" en Nquana het gereël dat hy die beeste die Maandag, 11 November, sou kom haal en dat hy dan die koopprys in kontant sou betaal. Later op die Vrydag het Kuit van plan verander en hy het vir "Lucky" gebel en gereël dat hy wat Kuit is, die beeste reeds die Saterdag sou gaan haal en dan ook die koopsom sou betaal.
Op Saterdag 9 November het Kuit toe weer vir Nquana gaan haal. Hulle twee en 'n man wat toevallig saam met Kuit gery het, het na 'n huis toe gery waar hulle vir "Lucky" ontmoet het. Daar het "Lucky" vir Kuit gesê hy wou die geld vir 'n "ouma" gaan wys wat die een ot ander belang by die transaksie sou hê. Kuit het die geld aan "Lucky" oorhandig. "Lucky" het na agter toe in die huis verdwyn. Na verloop van tyd het Kuit beset "Lucky" gaan nie terugkom nie. Onder voorwendsel dat hy gaan ondersoek instel, het Nquana ook verdwyn. Kuit het ondersoek ingestel en vasgestel dat daar omtrent niks in die huis is nie, ook nie 'n "ouma" nie. Daar was wel 'n oop venster waardeur die twee waarskynlik verdwyn het.
Kuit het die saak by die polisie aangegee en beskuldigdes 1 en 2 is gearresteer. Kuit het hulle op 'n uitkenningsparade uitgeken. Later, met intelligente speurwerk, het die polisie ook die appellant vasgetrek.
Ek het daarop gewys dat Kuit onomwonde die appellant as "Lucky" geïdentifiseer het. In sy getuienis het Nquana in wese Kuit se getuienis bevestig, alhoewel daar belangrike verskille was. In die eerste plek was dit Nquana se weergawe dat Kuit diamante, en nie beeste nie, wou koop. Tweedens het Nquana getuig dat Kuit die diamante ontvang het voordat hy die geld oorhandig het. Nquana het beklemtoon dat sy ral tot die van tussenganger tussen Kuit en die appellant beperk was. Dit is van belang om daarop te let dat Nquana bevestig het dat "Lucky" en die appellant een en dieselfde persoon is.
Die appellant het getuig dat hy ten tye van die misdaad elders was. Volgens hom was hy tot op 16 Desember 2002 glad nie in die omgewing waar die misdaad plaas sou gevind het nie. Kortom, volgens die appellant weet hy niks van die gebeure af nie.
Vir die appellant het mm. Van den Berg eerstens betoog dat die getuienis nie bo redelike twyfel bewys dat die appellant die persoon is wat die geld gevat het nie. Dit is korrek, soos betoog is, dat Kuit, wat die wese van die staat se weergawe betref, 'n enkelgetuie was. Wat Kuit se getuienis betref, het hy baie tyd, op meer as een geleentheid, gehad om vir "Lucky" waar te neem en hom te identifiseer. Daar is op die getuienis geen grondslag om selfs te vermoed dat hy doelbewus die appellant vals impliseer nie. Bowendien het Nquana die identifikasie van die appellant as "Lucky" gestaaf. AI het Nquana 'n ander weergawe van die transaksie gegee, staan dit vas dat daar volgens hom wel 'n transaksie was en dat die appellant in die loop daarvan die R100 000 ontvang het. Mnr Van den Berg het tereg daarop gewys dat Nquana 'n medepligtige is en dat sy getuienis as sodanig benader moet word. Medepligtiges se getuienis word met omsigtigheid benader veral omdat hulle intieme kennis van die betrokke misdaad het en dus maklik die feite net genoeg kan verdraai om de blaam op iemand anders te plaas. Dit is nie wat Nquana probeer doen het nie. Hy het homself wel verontskuldig, maar hy het terselfdertyd die appellant probeer verontskuldig deur aan te voer dat Kuit die geld in ruil vir diamante gegee het. Só beskou, meen ek dat Nquana se getuienis wel 'n waarborg vir die korrektheid van Kuit se identifikasie daarstel. In die lig van die getuienis as geheel, meen ek dat die streekslanddros terg die appellant se alibi as vals bo redelike twyfel verwerp het.
Die volgende vraag is of die transaksie redelik moontlik was so os wat Nquana getuig het, en dat die appellant dus nie die geld gesteel het nie, maar diamante in ruil daarvoor gegee het. Mm Van den Berg het nie betoog dat daar so 'n moontlikheid bestaan nie. Ek meen ook nie so nie. Kuit het die transaksie in detail beskryf en dit is nie werklik in geskil dat hy finansiering vir die beeste gaan kry het en met sy bakkie gery het om die beeste op te laai nie. In elk geval is dit inherent onwaarskynlik dat hy onmiddellik polisie toe sou gaan as hy by 'n onwettig diamant transaksie betrokke was.
Die leser sal onthou dat die appellant van diefstal aangekla is en daaraan skuldig bevind is. Mm. Van den Berg het betoog dat die appellant selfs op die staat se weergawe nie aan diefstal skuldig bevind kon gewees het nie. Dit is volgens die betoog s6 omdat die staat se getuienis nie diefstal nie, maar diefstal deur middel van valse voorwendsels bewys het. Die appellant kan volgens die betoog ook nie nou op appel aan diefstal deur middel van valse voorwendsels skuldig bevind word nie omdat dit nie 'n geoorloofde uitspraak op 'n klag van diefstal is nie. Die betoog was gebaseer op die beslissings in R v Levitan 1958 (1) SA 639 (T) en S v Knox 1963 (3) SA 431 (N).
Diefstal deur middel van valse voorwendsels is 'n feitestel wat op, of miskien eerder oor, die raakvlak tussen diefstal en bedrog lê. 'n Persoon wat hom aan diefstal skuldig maak deur middel van valse voorwendsels, pleeg tegelyk bedrog en diefstal (Vgl. die obiter opmerking in E.p. Minister of Jusitice: In re R v Gesa; R v De Jongh 1959 (1) SA 234 (AD) op 239 tot 240). Op grond van so 'n feitestel kan die beskuldigde dus van bedrog of van diefstal aangekla word. Alhoewel dit selde gebeur, en alhoewel ons howe ai, tereg, twyfel uitgespreek het oor die waarde van so 'n afsonderlike misdaad, kan die persoon ook van diefstal deur middel van valse voorwendsels aangekla word (S v Stevenson 1976 (1) 636 (T) op 637F tot G; In S v Kudjiwane 1975 (3) SA 335 (O) op 336A noem MT Steyn WR dit "'n wanstaltige juridies figuur"). Mm Van den Berg se betoog opper dus twee pertinente vrae: eerstens of 'n persoon wat van diefstal aangekla word, daaraan skuldig bevind kan word as die getuienis diefstal deur middel van valse voorwendsels bewys. Tweedens opper die betoog die vraag of 'n persoon wat van diefstal aangekla word, aan diefstal deur middel van valse voorwendsels skuldig bevind kan word.
Ek begin met die eerste vraag. In R v Levitan (supra) is die appellant, soos in hierdie saak, van diefstal aangekla en daaraan skuldig bevind. Die feite was dat die appellant die klaer deur middel van 'n wanvoorstelling daartoe beweeg het om 'n tjek ten gunste van 'n derde party te trek en dit aan die appellant te oorhandig. Die appellant het die tjek gebruik om geld wat hy (en nie die klaer nie) aan die derde party verskuldig was, te betaal. Alhoewel die feite duidelik bedrog daargestel het, het die hof 'n argument dat die appellant van bedrog, en nie van diefstal nie, aangekla moes gewees het, verwerp op die grondslag dat die getuienis diefstal deur middel van valse voorwendsels bewys het. Op gesag van R v Hyland 1924 TPD 336, waaraan die hot in Levitan hom gebonde geag het, is verder bevind dat 'n beskuldigde wat van diefstal aangekla is, wel aan diefstal skuldig bevind kan word al bewys die getuienis die misdaad diefstal deur middel van valse voorwendsels. Dit volg dat die Levitan-saak nie gesag is daarvoor dat 'n persoon wat van diefstal aangekla is, nie aan diefstal deur middel van valse voorwendsels skuldig bevind kan word nie.
In die Levitan-saak is wel beslis dat, waar die aanklag diefstal is, die staat tydig voldoende besonderhede van die beweerde valse voorwendsels moet verstrek. As dit nie gedoen is nie, en die beskuldigde word deur die gebrek aan besonderhede benadeel, kan hy nie op die klag van diefstal skuldig bevind word nie. Op die feite van daardie saak is verder beslis dat, alhoewel geen besonderhede van die valse voorwendsels in die klagstaat verstek is nie, die appellant nie benadeel is nie omdat die getuienis dit van die begin af vir hom duidelik gemaak het hoe die diefstal na bewering gepleeg is.
In die Knox-saak (supra) was die hot van oordeel dat, waar besonderhede van die valse voorstelling nie in die klagstaat voorkom nie, die beskuldigde meestal benadeel sal wees as hy slegs van diefstal aangekla is terwyl hy eintlik diefstal deur middel van valse voorwendsels sou gepleeg het. Die beslissing is egter ook nie gesag daarvoor dat 'n beskuldigde wat van diefstal aangekla is, nie aan diefstal skuldig bevind kan word as die getuienis diefstal deur middel van valse voorwendsels bewys nie.
Opgesom is die effek van die Levitan en Knox beslissings dat 'n persoon wat diefstal gepleeg het deur middel van valse voorwendsels en van diefstal aangekla is, só skuldig bevind kan word mits hy nie benadeel is deur 'n gebrek aan besonderhede van die gedrag wat hom ten laste gelê word nie. Dit is, meen ek, in ooreenstemming met die obiter opmerkings van Schreiner WHR in E.p. Minister of Jusitice: In re R v Gesa; R v De Jongh waarna ek hierbo verwys het.
Waar 'n persoon diefstal pleeg deur middel van valse voorwendsels, en hy word van diefstal aangekla, is die wanvoorstelling die metode of middel wat hy gebruik om die roerende goed waarom dit gaan toe te eien. Behoudens die vereiste dat die beskuldigde nie deur 'n gebrek aan besonderhede benadeel moet word nie, is dit nie noodsaaklik dat in die klagstaat beweer word dat die diefstal deur middel van 'n wanvoorstelling gepleeg is nie. Artikel 91 van die Strafproseswet bepaal dan ook: "'n Aanklag hoef nie die wyse waarop of die middel of werktuig waarmee 'n handeling verrig is, uiteen te sit nie, tensy die wyse, middel of werktuig 'n wesenlike bestanddeel van die betrokke misdryf is." Daar is geen beginselverskil tussen die dief wat by 'n huis insluip en R100 000 steel, die een wat die geld deur 'n wanvoorstelling in die hande kry en die een wat die geld regmatig ontvang en dit dan toeëien nie. Dit gaan telkens maar om die metode wat die dief aanwend om sy hande op die goed te kry ten einde dit toe te eien.
Dit is ten slotte nodig om daarop te wys dat in S v Kudjiwane (supra) is wel bevind dat 'n persoon wat van diefstal aangekla is, nie aan diefstal deur middel van valse voorwendsels skuldig bevind kan word nie. Dit handel egter met die tweede vraag wat tans ter sprake is. Wat die eerste vraag betref, het die hof in S v Kudjiwane ook bevind dat die beskuldigde wat van diefstal aangekla is, daaraan skuldig bevind kan word al bewys die getuienis dat hy die diefstal gepleeg het deur middel van valse voorwendsels.
Die vraag in die huidige saak is dus of die appellant deur 'n gebrek aan besonderhede in die klagstaat benadeel is. Die klagstaat self is maar die geykte een wat in gevalle van beweerde diefstal gebruik word en beweer nie dat die appellant die geld bekom het deur middel van 'n valse voorwendsel nie. Ek meen egter nie dat die appellant deur die gebrek aan besonderhede benadeel is nie. Soos in die Levitan saak, het die staat se getuienis dit van die begin af duidelik gemaak presies watter gedrag die appellant ten laste gelê word. Kuit was die staat se eerste getuie. Die appellant was regsverteenwoordig en op geen stadium is teen die staat se getuienis beswaar gemaak nie. Die appellant se verweer was deurgaans 'n alibi, en daardie verweer kon op geen manier deur die feit dat daar 'n wanvoorstelling gepleeg sou gewees het, geraak word nie. Besonderhede van die staatsaak sou die voer van die verweer ook nie kon affekteer nie.
Ek meen dus dat die appellant tereg aan diefstal skuldig bevind is. Dit is gevolglik onnodig om die tweede vraag wat mnr Van den Berg se betoog geopper het te oorweeg, nl. of die appellant op 'n klag van diefstal aan diefstal deur middel van valse voorwendsels skuldig bevind kon gewees het.
Wat die vonnis betref, die appellant is 41 jaar oud, hy is getroud en hy het vier afhanklike kinders. Hy het ten tye van vonnisoplegging en toe hy die misdaad gepleeg het, sy eie besigheid bedryf. Die appellant het wel 'n vorige veroordeling maar dit is so oud dat ek meen dat hy as eerste oortreder beskou kan word soos wat die landdros, soos ek dit verstaan, dan ook gedoen het.
Vir diefstal is 'n vonnis van vier jaar gevangenisstraf 'n redelike swaar vonnis. In hierdie geval moet egter in ag geneem word dat die diefstal deeglik vooraf beplan is en dat dit 'n hele set was waardeur die klaer van sy geld ontneem is. Ek meen nie dat die vonnis skokkend onvanpas is nie en ek meen ook nie dat die streekslanddros 'n mistasting in haar oorweging van vonnis begaan het nie. In elk geval meen ek dat die vonnis van pas is.
Gevolglik word die volgende bevel gemaak:
Die appèl teen die skuldigbevinding en die vonnis word van die hand gewys.
B. R. DU PLESSIS
REGTER V AN DIE HOOGGEREGSHOF
Ek stem saam
J. R. MURPHY
REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF
Advokaat vir die Appellant: JS van den Berg
Advokaat vir die Respondent: AG Janse van Rensburg