South Africa: High Courts - Gauteng Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Courts - Gauteng >> 2008 >> [2008] ZAGPHC 132

| Noteup | LawCite

S v Van Der Merwe (A597/2006) [2008] ZAGPHC 132 (5 May 2008)

Download original files

PDF format

RTF format


/LVS

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA


(TRANSVAALSE PROVINSIALE AFDELING)



SAAKNOMMER: A597/2006

NIE RAPPORTEERBAAR DATUM: 5/5/2008








In die saak tussen:



ALBERTUS VAN DER MERWE APPELLANT

EN


DIE STAAT RESPONDENT

______________________________________________________________

UITSPRAAK


BOTHA R:


Die appellant appelleer met verlof van die hof a quo teen sy skuldigbevinding en vonnis op `n reeks aanklagte.


Die appellant het op 53 aanklagte tereg gestaan. Die aanklagte het in verband gestaan met die herstel, opbou en verkoop van motorvoertuie deur besighede wat die appellant in Klerksdorp bedryf het: CarCare Valet, CarCare Paneelkloppers en Motor Inn.


Aanklagte 1 tot 15 was aanklagte van diefstal wat betrekking het op gesteelde voertuie wat die appellant in sy besit gehad het. Die klagtes behels dat die appellant die voertuie en of komponente daarvan in sy besit gehad het en derhalwe skuldig was aan die diefstal van die voertuie. Die appellant is op al hierdie aanklagte skuldig bevind.


Daar was drie reekse van alternatiewe aanklagte wat nie vir die doeleindes van die appèl ter sake is nie.


Aanklagte 16 tot 21 is ook aanklagte van diefstal. Dit het betrekking op voertuie wat opgebou is uit een of meer gesteelde komponente en waarvan die identifiserende nommers verwyder is met die gevolg dat die wettige eienaars van die voertuie hulle nie meer kon identifiseer nie.


Aanklag 22 is `n aanklag van diefstal wat betrekking het op die masjien van `n Isuzu voertuig waarvan die nommer verwyder is met die gevolg dat die wettige eienaar nie opgespoor kan word nie.


Aanklagte 23 tot 36 is aanklagte van bedrog wat betrekking het op voertuie ten opsigte waarvan die appellant voorgegee het dat hulle gebruikte voertuie was terwyl hulle inderdaad opgeboude voertuie was.


Aanklagte 37 tot 39 is aanklagte van bedrog wat betrekking het op voertuie wat weens skade in botsings afgeskryf is, en ten opsigte waarvan die appellant voorgegee het dat hulle gebruikte voertuie was. Daar is alternatiewe aanklagte wat nie relevant is nie.


Aanklag 40 is `n aanklag van bedrog wat betrekking het op `n blou BMW 316i voertuig. Daar word beweer dat die opgebou is met komponente van `n gesteelde swart BMW 316i wat behoort het aan ene Mnr Figuiera en komponente uit `n afgeskryfde blougrys BMW 316i. Daar word beweer dat die appellant bedrieglik versuim het om aan sy kurator te vermeld dat die voertuig met gesteelde komponente opgebou is, met die gevolg dat sy kurator dit op `n veiling laat verkoop het tot sy nadeel of tot die nadeel van die koper.


Aanklagte 41 tot 44 het betrekking op voertuie wat die appellant ingevolge krediet transaksies gekoop het en weer verkoop het terwyl eiendomsreg nog in die krediet verlener gesetel het. Daar is hoof aanklagte van diefstal en alternatiewe aanklagtes van bedrog. Die appellant is aan die hoof aanklagte skuldig bevind.


Aanklag 45 is `n aanklag van bedrog wat betrekking het op `n Mazda 323 voertuig wat die appellant opgebou het en verkoop het as `n gebruikte motor.


Aanklagte 46, 47, 48 en 49 is aanklagte van bedrog wat betrekking het op voertuie wat afgeskryf is, maar wat deur die appellant by finansieringsinstellings verdiskonteer is asof hulle gebruikte voertuie was.


Aanklag 50 was `n aanklag van oortreding van artikel 1(1)(a)(i) van die Wet op Korrupsie, 1992 (Wet 94 van 1992). Die bewering is dat die appellant gedurende 1994 tot November 1995 lede van die voertuigdiefstaleenheid van die Suid Afrikaanse Polisie op Klerksdorp sekere voordele laat toekom het sodat voertuie nie behoorlik ondersoek word, korrupte prosedure met uitklarings gevolg word ens. Daar is `n alternatiewe klag van oortreding van artikel 1(1)(a)(ii) waarin daar beweer word dat sulke voordele laat toekom is vir korrupte handelinge wat reeds verrig was.


Aanklag 51 is `n soortgelyke aanklag ingevolge artikel 1(1)(a)(1) van Wet 94 van 1992 met `n alternatief ingevolge artikel 1(1)(a)(ii) ten aansien van voordele wat laat toekom is aan beamptes van die registrasie owerheid. Die korrupte handelinge was om te help met die registrasie van voertuie as kode 2 voertuie terwyl hulle in werklikheid kode 3 (opgeboude voertuie) was.


Aanhangsel 52 en 53 was twee aanklagte van diefstal wat betrekking het op die diefstal van twee voertuie. Daar is alternatiewe aanklagte wat nie ter sake is nie.


Die vervolging het gevloei uit `n deursoeking van die appellant se perseel in November 1995. Voor die deursoeking het die polisie reeds inligting ontvang van `n persoon wat vir die appellant gewerk het, Mnr. Dodgson.


Daar was `n vervolging wat op niks uitgeloop het omdat die voorsittende beampte hom moes onttrek.


Die huidige saak het op 1 Februarie 2000 begin toe die appellant op al die aanklagte onskuldig gepleit het.


Op 12 Augustus is hy op al die aanklagte skuldig bevind. Waar daar alternatiewe aanklagte was wil dit voorkom of die appellant telkens op die hoofaanklag skuldig bevind is.


Op 15 Februarie 2006 is hy gevonnis.


Die appellant is op aanklagtes 1 tot 22, 23 tot 40 en 52 en 53 gevonnis tot een jaar gevangenisstraf per aanklag. Aanklagte 41 tot 49 is saamgeneem vir vonnisdoeleindes en daarop is die appellant tot 6 jaar gevangenisstraf gevonnis. Daar is gelas dat die vonnisse op aanklagte 23 tot 49 moet saamloop met die vonnisse op aanklagte 1 tot 22 en 52 en 53. Die effektiewe tydperk van gevangenisstraf is derhalwe 24 jaar. Op aanklagte 50 en 51 is `n boete van R100 000.00 of 5 jaar gevangenisstraf opgelê. By wanbetaling van die boetes sal die effektiewe tydperk van gevangenisstraf dus 34 jaar wees.


Dit is nie nodig om die feite op te som nie. Die streeklanddros het `n uitvoerige uitspraak gelewer waarin sy die staatsgetuienis aanvaar het en die getuienis van die appellant verwerp het. Hierdie basiese uitgangspunt word nie op appèl aangeveg nie. Die argument is beperk daartoe dat die staatsgetuienis in sekere gevalle nie die misdaad bewys nie, of in ander gevalle `n mindere misdaad. In die geval van aanklag 38, `n aanklag van bedrog, is die betoog dat net potensiële nadeel, en nie daadwerklike nadeel nie, bewys is.


Die appèl teen die vonnis is gerig op die impak van die effektiewe vonnis, ook as in ag geneem word dat die boetes op aanklagte 50 en 51 nie betaal kan word nie.


Wat die skuldigbevindings betref, is die appèl net aangeteken teen die skuldigbevindings op aanklagte 1 tot 15, 16 tot 21, 39, 41, 47 en 50 tot 53.


Volgens `n praktyksnota deur die advokate geliasseer is net die skuldigbevindings op aanklagte 8, 10, 12, 19, 20, 22, 40, 44, 47 en 50 tot 53 in geskil. Ten aansien van aanklagte 1 tot 7, 9, 13 tot 15, 17, 18 en 21 is die geskil of die appellant skuldig bevind moes gewees het aan die diefstal van hele voertuie of net komponente van voertuie.


Dit is gerieflik om aanklagte 1 tot 7, 9, 13 tot 15, 17 tot 18 en 21 saam te behandel. Dit die aanklagte van diefstal waar daar betoog word dat die appellant skuldig bevind moes gewees het aan die diefstal van komponente van voertuie, en nie aan die diefstal van die voertuie waarvan die komponente oorspronklik deel was nie.


Die getuienis is nie dat die appellant die dief was wat die voertuie primêr gesteel het nie. Hy het hulle ontvang in `n afgetakelde toestand, meestal die kajuit of die bakwerk sonder `n enjin of onderstel. Ek sal later die getuienis ten aansien van elkeen van hierdie aanklagte behandel.


Die argument van die staat berus daarop dat diefstal `n voortdurende misdaad is en dat die diefstal van `n komponent van `n saak nog steeds die gevolg het dat die oorspronklike eienaar permanent van die gebruik van die hele oorspronklike saak ontneem word. `n Verdere argument is dat dit uit die getuienis blyk dat die hoof komponent van `n voertuig die kajuit is. Met beroep op Sumatie (Edms) Bpk v Venter en `n Ander 1990(1) SA 173T en Khan v Minister of Law and Order 1991(3) SA 439T op 443E-F word daar betoog dat die kajuit van `n voertuig die hoofsaak is en as dit gesteel word, word die voertuig gesteel.


Na my mening is dit twyfelagtig of mens regsreëls wat betrekking het op accessio, aanhegting, kan aanwend op die teenoorgestelde situasie, naamlik wanneer `n roerende saak afgetakel en opgebreek word. Selfs al sou mens daardie beginsels by analogie kan toepas, kan ek kwalik sien hoe `n kajuit sonder `n enjin en `n onderstel as `n voertuig beskou kan word. Op die beste kan mens, op sterkte van die dictum in Khan se saak supra, sê dat die bakwerk van `n voertuig met die onderstel, maar sonder die enjin, wel as die voertuig beskou kan word. Ek kan ook nie sien hoe die kajuit van `n voertuig sonder die laaibak as die voertuig beskou kan word nie. Dit moet ook nie vergeet word nie dat volgens die appellante se werkswyse die gesteelde komponente moes opgaan in opgeboude voertuie waarvan die identiteit bepaal sou word deur die onderstelle wat wettig aangekoop is.


Soos reeds gesê betwyfel ek die toepaslikheid van die beginsels wat gebruik word by die aanhegting om te bepaal watter saak in watter een opgaan: wat is die hoofsaak, wat is hulpsaak en wat is bysaak.


In `n situasie waar `n voertuig in onderdele opgebreek word, word die eenheid tussen die komponente verbreek. Dit kom vir my werklikheidsvreemd voor om die opbreking van `n saak, hoe onregmatig ook al, te negeer. Dit kan tot absurde resultate lei, soos dat enige persoon wat `n relatief onbenullige onderdeel bekom, mag blootstaan aan `n skuldigbevinding aan diefstal van die hele saak.


In hierdie geval het die appellant `n bepaalde plek beklee in die ketting van distribusie. Ek kan aan geen rede dink waarom hy nie bloot skuldig bevind moet word ten opsigte van dit wat hy wel gesteel het nie. Dat die appellant geweet het dat die hele voertuig gesteel moes gewees het om hom te laat toekom wat hy ontvang het, staan vas. Dit is egter iets was relevant is by sy strafwaardigheid.


Ek verwys vervolgens na die getuienis op hierdie aspek.


In die algemeen is daar getuig dat gesteelde voertuie in `n toe vragmotor na die appellant se perseel vervoer is. Die appellant het die voertuie ontvang van die sogenaamde Khoka sindikaat wat persele gehad het te Meadowlands, Eldorado Park en Garangkua. Die voertuie is afgetakel en soms middeldeur gesny. Meesal is net die kajuite afgelaai sonder die onderstelle.


Daar is getuig dat `n voertuig uit vier komponente bestaan: `n onderstel, `n laaibak, `n kajuit en `n enjin. Die terminologie in die getuienis gebruik was nie altyd konsekwent nie. Soms is gepraat van `n cab. Soms van bakwerk.


Volgens die getuienis is die volgende items ontvang op elkeen van hierdie aanklagte:

Aanklag 1: die kajuit en enjin

Aanklag 2: die kajuit

Aanklag 3: die kajuit

Aanklag 4: die kajuit en die voor en agterste gedeeltes van die

onderstel met die wiele

Aanklag 5: die bakwerk

Aanklag 6: die kajuit en die alarm stelsel

Aanklag 7: die kajuit

Aanklag 9: die bakwerk, paneelbord en sitplekke

Aanklag 13: die enjin

Aanklag 14: die enjin

Aanklag 15: die kajuit

Aanklag 17: die kajuit en laaibak (die hele bakkie sonder sy onderstel

en enjin)

Aanklag 18: die kajuit

Aanklag 21: die kajuit.


Dit volg uit wat hierbo gesê is dat die skuldigbevindings op hierdie groep aanklagte gewysig moet word om dit duidelik te maak dat die appellant net skuldig bevind word aan die diefstal van die gemelde komponente.


Vervolgens sal ek die aanklagte behandel waar daar betoog word dat die skuldigbevinding ter syde gestel moet word. Hulle is aanklagte 8, 10, 12, 19, 20, 22, 40,, 44, 47, 50, 51, 52 en 53. Ek sal ook aanklag 38 behandel waar die betoog is dat net potensiële nadeel bewys is.


Ek begin by aanklag 8.


Aanklag 8 het betrekking op `n wit Nissan LAW met registrasie nommer RJM 621 GP wat op 15 Junie 1995 te Soweto van N Maboane en/of Rent a Bakkie (Pty) Ltd gesteel is.


Mnr T Mabusa van Rent a Bakkie het getuig dat hy `n wit Nissan wat uitgebeeld word op die foto, bewysstuk H1, op 1 Augustus 1996 uitgeken het aan die een deur waarop die naam van sy firma nog deurgeskyn het. Mnr Dodgson het getuig dat hy die voertuig, waarvan die registrasie nommer nou BGS 991 NW was, se bakwerk van Meadowlands ontvang het. Die appellant het toe hy aansoek om klaring gedoen het, verklaar dat hy die opgeboude voertuig by Eldo’s (van Eldorado Park) gekry het.


Die betoog is dat die deur van die voertuig wat op bewysstuk H1 uitgebeeld is, dié van `n Venture voertuig is en dat Mnr Mabusa nie getuig het dat `n Venture voertuig gesteel is nie.


Mnr Mabusa het nie getuig dat die deur dié van `n Venture voertuig is nie. Dit was die deur van `n Nissan voertuig en `n Nissan voertuig is van Rent a Bakkie gesteel.


Die bakwerk met deur en al is van Eldo’s bekom. Die deur wys dat die bakwerk van `n gesteelde voertuig afkomstig is.


Daar is geen rede om te aanvaar dat die deur nie behoort het aan die wit Nissan wat die onderwerp van die aanklag is nie. Op die beste vir die appellant kon dit behoort het aan `n ander wit Nissan wat van Rent a Bakkie gesteel is. Daar is egter geen rede om so `n aanname te maak nie.


Na my mening is die skuldigbevinding op aanklag 8 in orde.


Aanklag 10 gaan oor `n wit Toyota Venture voertuig wat volgens die klagstaat op 31 Mei 1994 by die registrasiekantore te Gyani gesteel is. Die registrasie nommer was GAZ 12233.


Die argument is dat die voertuig nie behoorlik uitgeken is nie. Daar word betoog dat die getuie wat die voertuig uitgeken het eintlik net kon steun op die kleur van die voertuig. Getuienis wat gelei is oor die enjin nommer en onderstel nommer is hoorsê omdat dit voorkom in `n dokument waarvan die outeur nie geroep is nie. Daar word betoog dat die verdediging die geleentheid ontsê is om getuienis oor die identifikasie van die domkrag behoorlik te toets.


Mnr Dodgson het getuig dat hy in opdrag van die appellant `n Venture bak op `n Stallion onderstel monteer het.


Mnr T Lethekie, `n amptenaar van die destydse Gazankulu regering het getuig dat `n wit Toyota Venture met registrasie nommer GAZ 12233 op 30 Mei 1994 uit sy besit gesteel is. Op 1 Februarie 1995 het hy die voertuig in die besit van die polisie te Klerksdorp uitgeken. Hy het verwys na die kleur van die voertuig asook die registrasie nommer wat op die battery aangebring is. Op die domkrag het die registrasie nommer GAZ 187 verskyn. Hy onthou nog dat hy toe hy `n probleem met die domkrag gehad het, dit vervang het met die domkrag van `n ander voertuig.


Hy het ook verwys na `n dokument waarin die voertuig se onderstel nommer en enjin nommer verskyn. Hy was nie die outeur van die dokument nie.


Die onderstel nommer en enjin nommer is nie relevant nie omdat hulle nie gevind is op die voertuig wat deur Mnr Lethekie uitgeken is nie.


Die registrasie nommer op die battery, tesame met die GAZ nommer op die domkrag, gegee die getuie se verduideliking daarvoor, sou na my mening genoeg wees om die identifikasie van die voertuig te bewys.


Die getuie is gekruisvra na aanleiding van die oorkonde van die abortiewe verhoor, waarvolgens hy sou gesê het dat die nommer op die battery 2233 was. Die aanklaer het beswaar gemaak en betoog dat die oorkonde verkeerd oorgetik is. Die appellant se advokaat het voorgestel dat die battery en domkrag voor die hof geplaas word. Die aanklaer het `n probleem daarmee gehad dat die getuie moes oorbly sodat die battery en domkrag voor die hof gebring word omdat die getuie meer as 1000 kilometer gery het om by die hof te kom. Die streeklanddros het die getuie verskoon en aangedui dat iemand anders die volgende dag kon getuig na die voertuig besigtig is.


Daar is geen aanduiding dat die oorkonde van die abortiewe verhoor behoorlik voor die hof geplaas is nie. Dit synde so is daar geen basis gelê vir die kruisverhoor waardeur daar gepoog is om twyfel te saai oor die getuienis van die getuie dat die gesteelde voertuig se registrasie nommer op die battery aangebring was nie.


Nogtans het die inskripsies op die battery en domkrag relevant geword en die kruisverhoor van die getuie Lethekie is duidelik kortgeknip op die verstandhouding dat iemand ander sou kom getuig oor wat op die battery en domkrag geskryf staan. Dit het nooit gebeur nie.


Dit is opvallend dat Mnr Bouwer, wat namens die staat verskyn, in sy hoofde van argument nie steun op die inskrywings op die battery en domkrag nie.


Onder die omstandighede meen ek dat daar `n redelike twyfel bestaan oor die uitkenning van hierdie voertuig.


Gevolglik behoort die appèl teen die skuldigbevinding op aanklag 10 te slaag.


Aanklag 12 is `n aanklag wat betrekking het op die diefstal van `n rooi Toyota Conquest met registrasie nommer RFT 599T op 26 tot 27 Februarie uit die besit van Elizabeth Vincento.

Elizabeth Vincento is nooit as `n getuie geroep nie. Die enigste getuienis oor die feit van die diefstal was dié van inspekteur Palmer van die Suid Afrikaanse Polisie Diens te Klerksdorp. Hy het getuig dat hy `n dossier ge-open het na aanleiding van `n klagte van Mev Elizabeth Vincento. Sy het gekla dat haar rooi Toyota Conquest met registrasie nommer RFT 599T gesteel is. Die besonderhede van die voertuig is op die polisie rekenaar geplaas.


Superintendent Venter het getuig dat met die visentering van die appellant se perseel op 21 November 1995 het hy `n enjin blok gevind met `n nommer wat ooreenstem met die enjin nommer van `n Toyota Conquest met registrasie nommer RFT 599 T. Dit is vasgestel volgens inligting op die polisie rekenaar.


Die argument van Mnr Engelbrecht SC, wat namens die appellant verskyn, is dat die getuienis dat Mev Vincento se voertuig gesteel is, hoorsê getuienis is. Mnr Bouwer het geen antwoord op die argument nie. Hoorsê getuienis kan wel toegelaat word maar dan moet daar `n basis daarvoor gelê word en die verdediging moet kennis kry dat die Staat dit wil doen. Sien S v Ndhlovu and Others 2002(6) SA 305 HHA op 318 D-E. Niks daarvan het hier gebeur nie.


Mnr Bouwer het in die alternatief betoog dat die appellant aan `n oortreding van artikel 36 van Wet 62 van 1955 skuldig bevind moet word. Na my mening is die vereiste vir so `n skuldigbevinding nie bewys nie.


Gevolglik moet die appél teen die skuldigbevinding op aanklag 12 slaag.


Aanklag 19 is `n aanklag van diefstal van `n wit Toyota Hilux met registrasie BCX 669 N wat gedurende die tydperk Oktober 1995 tot 21 November 1995 in die besit van die appellant was.


Hierdie aanklag vorm deel van `n reeks aanklagte (16-21) waar die bewering is dat die indentifiserende nommers op plaatjies so verander is dat die wettige eienaar nie opgespoor kan word nie. Op die wyse, so word beweer, word die wettige eienaar van sy eiendomsreg ontneem.


Die aanklag hang saam met aanklag 34, `n aanklag van bedrog, waar die bewering is dat die appellant valslik aan die koper voorgegee het dat die voertuig `n gebruikte voertuig was terwyl dit `n opgeboude voertuig was.


Die skuldigbevinding op aanklag 34 word nie aangeval nie. Wat aanklag 19 betref word daar betoog dat daar nie bewys is dat die voertuig gesteel is omdat die enjin nommer leesbaar was en die eienaar opgespoor kon gewees het.

Die voertuig ter sprake is op 21 November 1995 deur Mnr Redelinghuys van Tzaneen Motors van die appellant aangekoop. Op 23 November 1996 het kaptein Pretorius daarop beslag gelê. Hy het bevind dat die onderstel plaatjie nie deur die vervaardiger aangebring is nie. Dit is bevestig deur Mnr Naidoo, `n tegnikus van Toyota, wat die voertuig ook ondersoek het.


Volgens Mnr Bekker, `n nywerheidstegnikus, was die pons oppervlakte van die enjin nommer oorspronklik. Dit het die nommer 2L1162984 vertoon. Die appellant het in sy aansoek om klaring aangetoon dat die enjin nommer 2L1165908 was.


Daar was ook getuienis van Mnr Ribeiro van Voltex wat op aanklag 6 getuig het, dat hy op die betrokke voertuig spore gesien het van die blou verf wat Voltex op sy voertuie gebruik het.


Daar kan nie gesê word dat Mnr Ribeiro se getuienis bewys het dat die voertuig aan Voltex behoort het nie. Dit is des te meer so aangesien hy getuig het dat Voltex met `n skroewedraaier `n merk op hulle voertuie gekrap het en hy glad nie getuig het dat daar so `n merk op hierdie voertuig was nie.


Dit is so dat die enjin nommer van die voertuig leesbaar was en blykbaar nie opgevolg is nie.


Nogtans dui die feit dat die vervaardigersplaatjie op die onderstel vervals is en die feit dat die appellant `n ander enjin nommer in sy aansoek om klaring aangedui het, daarop dat die voertuig gesteel is.


Na my mening moet die appél op hierdie aanklag van die hand gewys word.


Aanklag 20 het betrekking op `n room kleurige Toyota Hilux met registrasie nommer BHV 667 NW wat in November 1995 in die appellant se besit was. Die enjin nommer was 2L3192132 en die onderstel nommer YN679001755.


Aanklag 20 is `n aanklag van diefstal wat saamhang met aanklag 35, `n aanklag van bedrog wat nie die onderwerp van appèl is nie.


Die grondslag van aanklag 20 is dat die appellant in besit was van `n voertuig wat gesteelde komponente bevat het en waarvan die identifiserende nommers deur hom verwyder is.


Die voertuig wat in die appellant se besit gevind is het sy oorspronklike onderstel nommer gehad. `n Beskadigde voertuig met dieselfde onderstel nommer is op 2 Oktober 1995 deur die Suid-Afrikaanse Weermag op `n veiling verkoop aan Motor Scene van Klerksdorp. Die enjin nommer van daardie voertuig was 410074511.


Daardie voertuig is as `n gebruikte voertuig deur Jeegar Auto Sales aan die appellant se besigheid Motor Inn verkoop. Op 15 November is dit op die naam van Motor Inn geregistreer.


Op 21 November 19954 is die voertuig deur inspekteur Papst inspekteer. Hy het gevind dat die enjin nommer geskuur en verander is. Die enjin nommer, 243192632, was nie die oorspronklike enjin nommer nie. Dit was ook die getuienis van Mnr Bekker, `n nywerheidstegnikus wat voorheen `n polisieman was. Mnr H Naidoo, `n spesialis tegnikus in diens van Toyota SA, het getuig dat die enjin nommer 243192132 nie `n geldige enjin nommer was nie omdat Toyota nog nie by daardie nommer uitgekom het nie.


Die appellant het getuig dat hy die voertuig vir R27 000.00 gekoop het. Sien AAA26. Hy het dit by KG Paneelkloppers herstel nadat hy `n kajuit en laaibak by Eldo’s aangekoop het. Die enjin het hy vervang met `n 2.4 diesel enjin wat hy by Lahoud’s Motor Spares gekoop het. Hy het R8 550.00 daarvoor betaal. `n Faktuur waarop die nommer van die enjin voorkom, uitgemaak aan A.C Niemand, is ingehandig. Sien AAA27 op 11/7872.


Op 10 Oktober 1995 het hy R8 550.00 aan A.C Niemand betaal. Sien AAA28 op 11/7873. Die appellant het getuig dat Mnr Niemand die enjin namens hom gekoop het.


Mnr Engelbrecht betoog dat die weergawe van die appellant dat hy die enjin reëlmatig verkry het, nie weerlê kan word nie. Hy wys daarop dat die feit dat die enjin nommer ongeldig was, nie binne die kennis van `n leek sou wees nie.


Na my mening moet Mnr Engelbrecht gelyk gegee word.


Die enigste komponent ten opsigte waarvan die staat getuienis aangebied het dat dit moontlik gesteel kon gewees het, was die enjin. Die appellant het getuienis gelewer wat op die oog af aandui dat hy die enjin reëlmatig in die handel verkry het. Die streeklanddros het nie die appellant se getuienis oorweeg met die oog daarop of dit `n redelike verduideliking vir die herkoms van die enjin verskaf nie.


Dit is nie duidelik dat die verandering van die enjin nommers so opsigtelik was dat die appellant dit moes opgemerk het nie. Bygevolg kan hy ook nie skuldig bevind word aan die tweede alternatiewe aanklag dat hy in besit was van `n motorvoertuig waarvan die enjin nommer mee gepeuter is nie (oortreding van artikel 125(5)(b) van Wet 29 van 1989).


Onder die omstandighede is ek van oordeel dat die staat nie die appellant se skuld op aanklag 20 bewys het nie.


Aanklag 22 is `n aanklag van diefstal wat betrekking het op die diefstal van `n Isuzu voertuig waarvan die enjin in die besit van die appellant gevind is.


Die nommer van die enjin is afgeskuur. Met behulp van die ets proses kon net vier van die syfers herwin word.


Mnr Engelbrecht betoog, met verwysing na Datnis Motors (Meadowlands) (Pty) Ltd v Minister of Law and Order 1988(1) SA 305N op 509I-510F dat daar nie sonder meer aanvaar kan word dat die enjin gesteel is nie.


Na my mening verskil die feite van hierdie saak van die Datnis saak. Die appellant het op `n groot skaal en op `n gereelde basis gesteelde voertuie aangekoop. As `n enjin met `n afgevylde nommer op sy perseel gevind is, is daar geen rede om dit as `n redelike moontlikheid te aanvaar dat dit nie deel was van die voorraad gesteelde goed wat hy bekom het nie.


In lyn met die bevinding ten aansien van die ontvangs van gesteelde komponente moet die skuldigbevinding verander word na een van diefstal van `n motor enjin.

Aanklag 40 is `n aanklag van bedrog wat betrekking het op `n blou BMW 316i met enjin nommer 184E10008B052 en onderstel nommer ABMCA 38070FG78189. Die grondslag van die aanklag is dat die appellant versuim het om aan die kurator van sy insolvente boedel te openbaar dat die voertuig uit gesteelde onderdele opgebou is. Die bewering is dat dit die kurator beweeg het om die voertuig op `n boedel veiling te verkoop aan Mnr S.J Bruyns, en Mnr Bruyns beweeg het om dit te koop.


Die argument namens die appellant is dat die kurator, Mnr Dries Pretorius, en Mnr Bruyns nie as getuies geroep is nie en dat die appellant se getuienis dat hy nie van die verkoping bewus was, aanvaar moet word.


Geen submissies word namens die Staat gemaak nie.


Na my mening moet die appél op hierdie grondslag slaag. Daar is eenvoudig geen getuienis oor watter voorstellings aan die kurator gemaak is nie, hetsy uitdruklik hetsy by wyse van stilswye.


Aanklag 44 is die laaste van vier aanklagtes van diefstal waarin daar beweer word dat die appellant motor voertuie wat hy ingevolge krediet ooreenkomste gekoop het, vervreem het. In hierdie geval gaan dit om `n 1993 Nissan Maxima voertuig met registrasie nommer SBV 843 T. Die krediet ooreenkoms is op 31 Mei 1995 met Bankfin aangegaan en die voertuig is op 18 Maart 1996 aan BNA Motors verkoop.


Aanklag 44 hang saam met aanklag 47, wat `n aanklag van bedrog is, in dié sin dat dit om dieselfde voertuig gaan. Daar word beweer dat die appellant valslik aan Bankfin voorgegee het dat die voertuig `n gebruikte voertuig was (terwyl dit in werklikheid afgeskryf was), dat dit padwaardig was en dat die waarde daarvan R77 000.00 was.


Die punt wat gemaak word ten aansien van aanklag 44 is dat dit nie die appellant is wat die voertuig aan BNA Motors vervreem het nie.


Dit blyk uit die getuienis van Mnr Beetge, `n eise bestuurder by Bankfin, dat die voertuig na die sekwestrasie van die appellant in Maart 1996 opgespoor is by Tip Top Motors wat aanspraak gemaak het op `n retensiereg vir herstelwerk.


Bankfin moes Tip Top se eis betaal en het die voertuig uiteindelik vir R5 000.00 verkoop.


Die getuienis toon aan dat die voertuig nie deur die appellant vervreem is nie. Die appél teen die skuldigbevinding op aanklag 44 moet dus slaag.


Ten aansien van aanklag 47 is die argument dat die staat nie die getuienis aangebied het van die Bankfin amptenaar met wie die krediet ooreenkoms gesluit is nie.


Mnr Venter, die eienaar van Tip Top, of `n vennoot daarin, het getuig dat hy die appellant R37 755.72 gekwoteer het om die voertuig te herstel. Volgens Mnr Venter sou die voertuig sonder die skade sowat R70 000.00 werd gewees het.


Die appellant het getuig dat die voertuig nie `n opgeboude voertuig was nie, maar `n gebruikte voertuig. Hy het getuig dat die prys van die voertuig volgens die Mead & McGrouter handleiding vasgestel is. Hy het toe `n kwotasie van Mnr Venter gekry om die voertuig te herstel.


Dis is na my mening duidelik uit die appellant se getuienis dat hy nie vir Bankfin vertel het van die skade aan die voertuig nie. Die voertuig kon net die sogenaamde boekie waarde gehad het as die skade reeds herstel was.


Dit was `n wesenlike verswyging wat op `n wanvoorstelling neerkom. Die nadeel was Bankfin gely het is onbetwisbaar.


Gevolglik is ek van mening dat die appellant tereg op aanklag 47 skuldig bevind is.

Aanklagte 50 en 51 kan saam behandel word. Altwee is aanklagte van `n oortreding van artikel 1(1)(a)(i) van die Wet op Korrupsie, 1992 (Wet 94 van 1992) met `n alternatief van `n oortreding van artikel 1(1)(a)(i).


In aanklag 50 is die bewering dat die appellant gedurende 1994 tot November 1995 sekere voordele aan lede van die Suid Afrikaanse Polisie Diens laat toekom het sodat hulle polisie klarings sou uitreik sonder om voertuie behoorlik te ondersoek; sonder om die korrekte prosedure te volg; nie behoorlik aandag te skenk aan klagtes dat gesteelde voertuie betrokke mag wees; en inligting kon verskaf oor waar oral op `n voertuig identifiserende nommers of plaatjies voorkom.


Die hoofaanklag is gemik op korrupte handelinge wat in die toekoms gelewer moes word. Die alternatiewe aanklag is in dieselfde trant, net gerig op korrupte handelinge wat in die verlede verrig is, dit wil sê voor die voordeel verskaf is.


Aanklag 51 is `n soortgelyke aanklag met `n soortgelyke alternatief wat gerig is op belonings verskaf aan beamptes van die registrasie owerheid sodat hulle behulpsaam kon wees om inligting met betrekking tot voertuie op die rekenaar stelsel te verander of te verwyder; voertuie vinniger deur die toets te sit, terwyl hulle nie heeltemal padwaardig was nie; opgeboude voertuie as kode 2 voertuig deur die toets te sit; en voertuie nie behoorlik te ondersoek nie.

Wet 94 van 1992 is deur Wet 12 van 2004 herroep, maar indertyd was dit van krag en het dit die aangeleentheid van korrupsie gekodifiseer.


Die betoog namens die appellant is dat artikel 1(1)(a)(i) en artikel 1(1)(a)(ii) twee afsonderlike oortredings skep en dat die Staat nie bewys het of die korrupte handelinge voor of na die verskaffing van die beloning verrig is nie.


Mnr Engelbrecht wys daarop dat die streeklanddros nie gespesifiseer het of die appellant op die twee aanklagte op die hoof of op die alternatiewe aanklag skuldig bevind is nie.


Dit is argumenteerbaar dat artikel 1(1) van Wet 94 van 1992 net twee oortredings skep, een gepleeg deur iemand wat `n voordeel aanbied of verskaf (artikel 1(1)(a)) en een deur iemand wat `n voordeel verkry of instem om dit te verkry. (Artikel 1(1)(b). Ek haal artikel 1 aan:

1. (1) Iemand-

  1. wat aan enige persoon aan wie daar-

  1. `n bevoegdheid verleen of `n plig opgedra is uit hoofde van `n diensbetrekking of die bekleding van `n amp of `n verteenwoordigingsverhouding of `n wet, of aan enigiemand anders, op korrupte wyse enige voordeel van watter aard ook al wat nie regtens verskuldig is nie gee of aanbied of instem om dit te gee met die opset om die persoon aan wie so `n bevoegdheid verleen of plig opgedra is, te beïnvloed om `n handeling met betrekking tot so `n bevoegdheid of plig te verrig of na te laat; of

  2. `n bevoegdheid verleen of `n plig opgedra is uit hoofde van `n diensbetrekking of die bekleding van `n amp of `n verteenwoordigingsverhouding of `n wet en wat `n handeling verrig of nagelaat het wat `n oorskryding van so `n bevoegdheid of `n versuim van so `n plig uitmaak, op korrupte wyse enige voordeel van watter aard ook al wat nie regtens verskuldig is nie gee of aanbied of instem om dit te gee met die opset om die persoon aan wie so `n bevoegdheid verleen of plig opgedra is, te beloon omdat hy aldus opgetree het; of

  1. Aan wie daar `n bevoegdheid verleen of `n plig opgedra is uit hoofde van `n diensbetrekking of die bekleding van `n amp of `n verteenwoordigingsverhouding of `n wet en wat op korrupte wyse van enige persoon enige voordeel van watter aard ook al wat nie regtens verskuldig is nie ontvang of verkry of tot die ontvangs daarvan instem of poog om dit te verkry, hetsy vir homself of vir enigiemand anders, met die opset-

    1. dat hy `n handeling met betrekking tot so `n bevoegdheid of plig moet verrig of nalaat, hetsy die gewer of aanbieder van die voordeel die opset het om die persoon aan wie so `n bevoegdheid verleen of plig opgedra is, te beïnvloed om aldus op te tree al dan nie; of

    2. om beloon te word vir `n handeling wat hy verrig of nagelaat het wat `n oorskryding van so `n bevoegdheid of `n versuim van so `n plig uitmaak, hetsy die gewer of aanbieder van die voordeel met die opset het om die persoon aan wie so `n bevoegdheid verleen of plig opgedra is, te beloon omdat hy aldus opgetree het al dan nie, is aan `n misdryf skuldig.


So gesien kan gesê word dat artikel 1(1)(a) oortree kan word of deur voordele vir toekomstige korrupte handelinge aan te bied, of deur dit te gee vir korrupte handelinge reeds verkry.

Die Staat het die appellant egter in die alternatief aangekla. Hy is aangekla daarvan dat hy voordele verskaf het of vir handelinge nog verrig te word, of vir handelinge reeds verrig.


Dit is duidelik dat die getuienis nie bewys wanneer voordele verskaf is: voor of na die pleeg van die korrupte handelinge nie.


In die geval van aanklag 50 was daar getuienis dat die appellant betalings aan Maj Marx, destyds bevelvoerder van die voertuig diefstal eenheid, ten bedrae van R6 540.00 gemaak het.


Daar was getuienis dat Maj Marx `n Uno voertuig op gunstige terme by die appellant gekoop het en dat die appellant finansiering vir hom gereël het toe hy dit nie self kon bekom nie. Dit blyk ook dat die appellant Maj Marx se paaiemente bygehou het as hy dit nie kon doen nie. Die appellant self beweer dat hy voorskotte aan Maj Marx betaal het op die wins wat met die verkoop van die voertuig gemaak sou word.


Die hof het bevind dat die transaksie ten aansien van die Uno voertuig in wese korrup was. Hierdie bevinding word nie op appél aangeveg nie.


Dan was daar getuienis dat die lede van die voertuig diefstal eenheid hulle voertuie verniet by CarCare Valet kon laat was, iets wat sowat R250.00 werd was.


Daar was getuienis dat die appellant `n afsluitingsfunksie van die voertuig diefstal eenheid bygewoon het.


Mev Powrie, die bestuurderes van CarCare Valet, het getuig dat die appellant haar gevra het om `n funksie vir die voertuig diefstal eenheid te reël, iets wat sy geweier het om te doen.


Dit alles, tesame met die polisie se versuim om ongerymdhede in die appellant se transaksies op te spoor, het die streeklanddros tot die gevolgtrekking gedryf dat die appellant die polisie omgekoop het. Ek herhaal: dit is nie `n bevinding waarteen die appellant appelleer nie. Sien die appél kennisgewing, p 8052.


In die geval van aanklag 51 was die bewering dat die appellant by vier geleenthede R1 500.00 aan Mnr Lombaard van die Klerksdorp se registrasie owerheid betaal het. Dit het betrekking op vier transaksies waaroor elke keer R1 500.00 betaal is. Die getuienis dui nie aan of die betalings voor of na die transaksies gemaak is nie.


Daar word beweer dat die streeklanddros dit nie uitgespel het of sy die appellant op die hoof aanklagte of die alternatiewe aanklagte van aanklagte 50 en 51 skuldig bevind het nie. Dit is so dat sy nie uitdruklik so gesê het nie, maar na my mening moet aanvaar word dat die appellant op die hoof aanklagte skuldig bevind is tensy die teendeel blyk. Sien R v Levine 1927 TPD 949 en Rex v Scholtz 1949(3) SA 887 O op 890 en 891. Dit is klaarblyklik wat gebeur het op die ander aanklagte waar daar alternatiewe aanklagte was en Mnr Engelbrecht het geen probleem gehad om die situasie op daardie aanklagte so te verstaan nie.


Die argument namens die appellant veronderstel verkeerdelik dat die gee van `n voordeel in ruil vir `n korrupte handeling net vir `n reeds gedane korrupte handeling of net vir `n toekomstige korrupte handeling kan plaasvind. Die argument hou nie rekening met `n situasie soos wat ons hier het nie, naamlik waar daar `n voortdurende korrupte verhouding is waar voordele gegee en korrupte handelinge verrig word op `n deurlopende basis.


In so `n verhouding is die beloning of voordeel tweedoelig: beloning vir reeds gelewerde dienste en terselfdertyd gerig op bestendiging van die verhouding met die oog op die lewering van verdere dienste.


Waar die dienste nog gelewer te word wat bestaan uit die nalaat van pliguitoefening, soos versuim om te ondersoek, foute mis te kyk, onreëlmatighede oor te sien ens, is dit uiteraard so dat die beloning gegee sal word met die oog op toekomstige korrupte optrede.


Op hierdie grondslag is ek van oordeel dat die enigste afleiding is dat ten minste `n deel van die voordeel wat gegee is, gemik was op toekomstige korrupte handelinge.


Om daardie rede is ek van oordeel dat die skuldigbevindings op albei aanklagte gehandhaaf moet word.


Wat aanklag 51 betref kan ek byvoeg dat ofskoon Mnr Lombaard getuig het van vier betalings, elkeen per transaksie, blyk dit ook uit sy getuienis dat daar `n deurlopende korrupte verhouding tussen hom en die appellant was.


Aanklagte 52 en 53 is aanklagte van diefstal waarin daar beweer word dat die appellant voertuie gesteel het deurdat hy in besit van die voertuie of komponente daarvan was.


Daar is alternatiewe aanklagte wat nie ter sake is nie.


Aanklag 52 het betrekking op `n Isuzu LAW met registrasie nommer YB/21073. Daar word beweer dat dit op 8 Maart 1995 te Liphimville gesteel is uit die besit van Peter Maboa van die Departement Openbare Werke en dat dit van Maart 1995 tot 24 April 1995 in die appellant se besit was.


Die getuienis van Mnr Dodgson was dat hy foto’s geneem het van `n Isuzu ratkas wat met `n rooi voertuig by die appellant se perseel aangekom het. Op die foto’s, bewysstuk EE, kan die nommer van die ratkas gesien word. Mnr Neef van die Isuzu fabriek het getuig dat die ratkas nommer behoort het aan `n wit Isuzu KB280 4x4 turbo wat aan die Departement Openbare Werke van die Noord-Wes Provinsie gelewer is.


Mnr P Maboa van die Departement Openbare Werke van die Noord-Wes Provinsie het getuig dat `n Isuzu met registrasie nommer YB121073 op 8 Maart 1995 van hom geroof is.


Die argument is dat die ratkas nie as gesteel aangemerk kan word nie.


Mnr Engelbrecht moet gelyk gegee word. Die ratkas waaroor Mnr Dodgson getuig het word geensins verbind met die voertuig waaroor Mnr Maboa getuig het nie. Daar is niks aan die voorkoms van die ratkas wat daarop dui dat dit noodwendig gesteel is nie.


Die skuldigbevinding op hierdie aanklag moet tersyde gestel word.

Mnr Bouwer het in die alternatief betoog dat die appellant skuldig bevind moet word aan die diefstal van die ratkas. Die probleem bly nog steeds dat daar bewys is dat die voertuig waarvan die ratkas oorspronklik deel was, gesteel is nie.


Aanklag 53 gaan oor `n Toyota Hilux met registrasie nommer LRS 033T wat na bewering op 23 Februarie 1994 uit die besit van A Simaan gesteel is. Daar word beweer dat die appellant van 1 September 1995 tot 24 November 1995 in die besit daarvan was.


Die enigste getuienis op hierdie aanklagte is dié van kaptein Steynberg wat getuig het dat op 17 Februarie 1998 het `n Mnr Lekgotoane `n voertuig by die Tzaneen bergingswerf aan hom uitgeken het. Die voertuig se registrasie nommer was op die klein venster gegraveer. Die nommer was LRS 033T. Hy het ook getuig dat die voertuig op allerhande maniere verander was sodat daar nie uitkenningsmerke was nie.


Die submissie is dat die uitkenning deur Mnr Lekgotoane ontoelaatbaar is omdat Mnr Lekgotoane nie as `n getuie geroep is nie.


Mnr Bouwer betoog dat daar wel afgelei kan word dat die voertuig gesteel is.


Die Staat het `n probleem. Die enigste persoon wat sou kon sê dat die voertuig gesteel is, is nie as `n getuie geroep nie.


Daar kan nie sonder meer uit die veranderings afgelei word dat die voertuig gesteel is nie, want voertuie kan wettiglik opgebou word. Die feit dat die registrasie nommer op die klein venster gelees kan word is nie in ooreenstemming met die patroon wat die appellant met gesteelde motors gevolg het nie, naamlik om die vensters waarop die nommers gegraveer is, stukkend te slaan.


Die appèl moet dus op aanklag 53 ook slaag.


Die resultaat is dan as volg:

      1. op aanklagte 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 9, 13, 14, 15, 17, 18, 21 en 22 (altesaam 15 aanklagte) word die skuldigbevindings aan diefstal gehandhaaf, maar net ten opsigte van die komponente betrokke.

      2. Op aanklagte 10, 12, 20, 40, 44, 52 en 53 (ses aanklagte) word die skuldigbevinding ter syde gestel.

      3. Op aanklagte 8, 11, 16, 19, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 41, 42, 43, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51 (31 aanklagte) word die skuldigbevindings bekragtig.


Dit bring my by die kwessie van vonnis.


Die appellant het geen vorige veroordelings gehad nie. Hy was 47 jaar oud. Hy was getroud en die vader van drie kinders.


Namens die appellant het `n kriminoloog, Dr Irma Labuschagne getuig oor die omstandighede wat die appellant se optrede beïnvloed het.


Mnr Piet Nel, `n ouditeur, het getuig oor die balansstaat van Asber Motors, die besigheid wat die appellant na sy sekwestrasie in sy vrou se naam op die been gebring het. Daarvolgens het die besigheid se bates sy laste op 28 Februarie 2003 met R219 000.00 oorskry. Die appellant, sy vrou en nog sewe persone het by die besigheid gewerk. Die omset van die besigheid was R3,6 miljoen. In die jaar eindigende op 29 Februarie 2004 was die omset R5,3 miljoen.


Die appellant se kurator, Mnr Wouda, het getuig dat hy sedertdien gerehabiliteer is.

Die streeklanddros het in haar uitspraak op vonnis na die volgende verwys:

  1. die voorkoms van die tipe misdaad en hoe moeilik dit is om oortreders op te spoor;

  2. die verslag van Dr Labuschagne en die insig wat dit gee in die faktore wat tot die pleging van die misdaad gelei het;

  3. die persoonlike omstandighede van die appellant;

  4. die afname in inhibisies wat volgens Dr Labuschagne vloei uit groepsgedrag;

  5. die feit dat die appellant ander persone by sy optrede betrek het en skade berokken het aan persone tot wie hy in `n vertouensverhouding gestaan het;

  6. dat die appellant `n afset geskep het vir gesteelde voertuie, sommige waarvan geroof is;

  7. dat die appellant deel was van `n groep wat op `n georganiseerde wyse voertuie gesteel het, opgekap het en versprei het;

  8. die wyse waarop die appellant Mnr Dodgson as mens uitgebuit het;

  9. die monitêre skade die appellant berokken het, R3 miljoen volgens die aanklaer en R2 miljoen ten opsigte van die koste van polisie ondersoeke;

  10. dat dit twyfelagtig is of die appellant berou het gesien die wyse waarop die saak uitgerek is sonder om erkennings te maak;

  11. dat die appellant `n manipulerende karakter het soos blyk uit die wyse waarop hy sy werknemers en lede van die polisie en die registrasie owerheid gebruik het;

  12. dat dit blyk dat 13 van die voertuie betrokke by die saak gekaap is;

  13. dat die appellant homself wou verryk.


Die streeklanddros het tot die gevolgtrekking gekom dat `n vonnis ingevolge artikel 276(1)(i) van Wet 51 van 1977 nie van pas sou wees omdat so `n vonnis tot vyf jaar gevangenisstraf beperk is.


Na aanleiding van die balansstaat van Asber Motors het die hof dit van pas geag om `n boete straf op te lê en die appellant sodoende die keuse te gee om die tydperk van gevangenisstraf te verminder. Dit het dan gelei tot die boete keuses op aanklagte 50 en 51.


Die kritiek teen die vonnis is as volg:

  1. dat die hof die persoonlike omstandighede van die appellant en die redes vir sy verval onderbeklemtoon het;

  2. dat die hof gefouteer het deur nie die appellant se vermoë om `n boete van R200 000.00 te betaal, ondersoek het nie;

  3. dat die hof nie die kumulatiewe effek van die vonnisse behoorlik in ag geneem het nie;

  4. dat die vonnis skokkend swaar is;

  5. dat die hof gefouteer het deur die monetêre waarde van die polisie ondersoek in ag te neem waar die ondersoek ook teen ander oortreders gerig was;

  6. dat die hof gefouteer het deur te bevind dat die appellant met Khoka saamgewerk het.


Dit spreek vanself dat die feit dat die appél op 7 aanklagte geslaag het, `n hersiening van die vonnis regverdig.


Oor die algemeen kan daar nie fout gevind word met die opmerkings wat die streeklanddros in haar uitspraak op vonnis gemaak het nie.


Ek het geen twyfel dat die hof daarvan bewus was dat die koste van die polisie ondersoek nie net op die appellant betrekking gehad het nie. Die ondersoek was volgens die getuienis `n landwye ondersoek met die naam Operasie Reënboog.


Die opmerking dat die appellant deel was van `n groep wat op `n georganiseerde wyse voertuie gesteel, opgekap en versprei het, was in die kol.


Dit is duidelik dat daar `n organisasie was wat seepglad verloop het. Die regte komponente het keer op keer by die appellant opgedaag.


Trouens die optrede van die appellant in groepsverband is nogal deur Dr Labuschagne gesien as iets wat hom ge-deïndividualiseer het en sodoende sy inhibisies verminder het.


Ek sien dit nie so dat hy hom in `n hegte groep bevind het waar sy individualiteit in die kudde opgegaan het.


Hy was op sy eie in Klerksdorp en alhoewel hy in `n losse verband met ander opgetree het, het hy baie tyd gehad om te besin en hom te bedink.


Daar is twee probleme wat ek met die vonnis het: die vonnisse op aanklagte 50 en 51 en die totale effektiewe vonnis. Ek kom daarna terug.


As `n uitgangspunt meen ek dat die streeklanddros se standaard vonnis van een jaar per aanklag (behalwe in die geval van aanklagte 50 en 51) billik is, selfs in ag genome dat van die diefstal aanklagte `n eweknie van bedrog het. Die feit dat in vyftien gevalle die skuldigbevindings verander is na diefstal van die komponente, maak geen verskil daaraan nie. Die appellant kon geen illusies daaroor gehad het dat as hy `n gesteelde komponent gekry het, moes iemand `n hele voertuig daarvoor inboet.


Op die ou end moet die vonnisse versag word deur hulle te laat saamloop ten einde die straf menslik gesproke draaglik te maak en reg te laat geskied aan die persoonlike omstandighede van die appellant.


Ek stem saam dat die hantering van die vonnisse op aanklagte 50 en 51 verkeerd was. Dit blyk dat die streeklanddros gemeen het dat Asber Motors se surplus van R219 000.00 genoeg sou wees om die boetes te betaal. Dit beteken eenvoudig nie dat omdat daar `n oorskot van bates oor laste op `n balansstaat is, daar `n ekwivalente bedrag in kontant beskikbaar is nie. Op die beste sal dit gebeur as die besigheid gelikwideer word.


In elk geval vind ek dit heel onvanpas om aan iemand wat reeds 24 jaar effektiewe gevangenisstraf opgelê word, die kans te gee om nog 10 jaar af te koop. In die lig van die feit dat direkte gevangenisstraf vanweë die ander aanklagte onvermydelik is, meen ek dat dit ook die gepaste vonnis op aanklagte 50 en 51 was.


Na my mening behoort `n vonnis van 2 jaar gevangenisstraf op elkeen van hierdie twee aanklagte voldoende te wees.


Die resultaat is dan dat daar 44 aanklagte is waarop `n vonnis van een jaar opgelê word en twee aanklagte waarop `n vonnis van twee jaar opgelê word. Die totaal van 48 jaar is duidelik onaanvaarbaar en moet aansienlik getemper word by wyse van `n sameloping van vonnisse.


Ek is bewus daarvan dat sommige van die aanklagte saamhang omdat hulle op dieselfde voertuie betrekking het, maar ek meen nie dat dit nodig is om apart te gelas dat die vonnisse op sulke aanklagte saamloop nie. In elk geval is die basis straf van een jaar gevangenisstraf op daardie aanklagte baie laag. Daar is andersins geen logiese wyse wat hom voordoen van hoe die vonnisse moet saamloop nie. Dit is na my mening meer doenlik om eenvoudig te bepaal wat die totale effektiewe vonnis moet wees en dan te gelas dat die vonnisse so saamloop dat dit bereik word.


Dit bring my dan terug by die alewige konflik tussen die persoonlike omstandighede van die dader en die gemeenskapsbelang.


Ek stem saam met die uitgangspunt van die streeklanddros dat langtermyn gevangenisstraf die enigste gepaste straf is.


Die hof sou sy plig teenoor die gemeenskap versaak as hy hom blind staar op die persoonlike omstandighede van die appellant.


Die appellant het hom op `n berekende wyse begeef met aktiwiteite wat nie kinderspeletjies was nie. Hy was miskien een of twee stappe verwyder van die tonele waar die werklike vuil en morsige werk gedoen is, maar hy moes goed geweet het wat dit behels het.


Die appellant het `n onontbeerlike rol gespeel in die ketting van diefstal, aftakeling, heropbou, vermomming, her-registrasie en verhandeling van gesteelde voertuie. Dit is `n netwerk wat misdadigheid van elke soort behels: geweld, waar nodig, toe-eiening, vervalsing, bedrog en korrupsie.


Dit kom op so `n skaal voor dat elkeen wat `n voertuig besit dit voel en daaronder ly in die vorm van hoë assuransie premies en die veiligheidsmaatreëls wat deur assuransie maatskappye afgedwing word. Dit is `n gemeenplaas dat die werk van die diewe op grondvlak moontlik gemaak word deur mense soos dié appellant wat hulle in staat stel om van hulle buit ontslae te raak. Die morele laakbaarheid van mense wat hulle leen tot die verwerking en hersirkulasie van gesteelde voertuie is enorm. As hulle skuldig bevind word moet die strawwe toepaslik wees en verband hou met hulle blaamwaardigheid.


Na oorweging van alle relevante omstandighede is ek van oordeel dat `n effektiewe vonnis van 16 jaar gevangenisstraf reg sal laat geskied aan die appellant sowel as aan die Staat.


Gevolglik word die volgende bevel verleen:

  1. Die appél teen die skuldigbevinding slaag ten aansien van aanklagte 10, 12, 20, 40, 44, 52 en 53. Op daardie aanklagte word die skuldigbevindings en vonnisse tersyde gestel.

  2. Op aanklagte 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 9, 13, 14, 15, 17, 18, 21 en 22 slaag die appél teen die skuldigbevindings tot dié mate dat die appellant (beskuldigde) se skuldigbevinding verander word na skuldig aan diefstal van die komponente of onderdele hieronder uiteengesit:

Aanklag 1: die kajuit en enjin

Aanklag 2: die kajuit

Aanklag 3: die kajuit

Aanklag 4: die kajuit en die voor en agterste gedeeltes van die onderstel met die wiele

Aanklag 5: die bakwerk

Aanklag 6: die kajuit en die alarm stelsel

Aanklag 7: die kajuit

Aanklag 9: die bakwerk, paneelbord en sitplekke

Aanklag 13: die enjin

Aanklag 14: die enjin

Aanklag 15: die kajuit

Aanklag 17: die kajuit en laaibak (die hele bakkie sonder sy onderstel en enjin)

Aanklag 18: die kajuit

Aanklag 21: die kajuit

Aanklag 22: `n motor enjin.

3. Op aanklagte 8, 11, 16, 19, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29,

30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 41, 42, 43, 45, 46, 47, 48, 49, 50 en 51 word die appél teen die skuldigbevindings van die hand gewys en die skuldigbevindings bekragtig..

4. Die appél teen die vonnis slaag tot die

volgende mate:

    1. Op aanklagte 50 en 51 word die vonnisse ter syde gestel en vervang met `n vonnis van twee jaar gevangenisstraf op elke aanklag.

    2. Op elke aanklag in paragrawe 2 en 3 hierbo vermeld, word die opgelegde vonnis van een jaar gevangenisstraf per aanklag bekragtig.

    3. Die vonnisse op al die aanklagte (aanklagte vermeld in paragrawe 2, 3 en 4.1) sal saamloop op so `n wyse dat die effektiewe tydperk van gevangenisstraf 18 jaar is.

5. Die vonnis word terugdateer tot 15 Februarie 2005.


_______________________

C. BOTHA

REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF


Ek stem saam



___________________________

E JORDAAN

REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF


Ek stem saam



________________________

M.W MSIMEKI

REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF