South Africa: High Courts - Gauteng

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: High Courts - Gauteng >>
2008 >>
[2008] ZAGPHC 1
| Noteup
| LawCite
MGK Bedryfsmaatskappy (Eiendoms) Beperk v Booysen en 'n Ander (49375/2007) [2008] ZAGPHC 1 (8 January 2008)
Download original files |
/SG
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID AFRIKA
(TRANSVAALSE PROVINSIALE AFDELING)
DATUM: 08/01/2008
ONRAPORTEERBAAR
In die saak tussen:
MGK BEDRYFSMAATSKAPPY (EIENDOMS)
BEPERK APPLIKANT
En
PIETER WOUTER BOOYSEN 1STE RESPONDENT
JESAJA JEREMIAH VAN DER RYST 2DE RESPONDENT
UITSPRAAK
VAN DER MERWE, R
Hierdie aangeleentheid is aangehoor as ‘n saak van dringendheid. Die dringendheid was nie van so ‘n aard dat uitspraak onmiddellik gegee hoef te gewees het nie. Weens die aard van die geskille en die belange van die partye, het ek tyd geneem om die aangeleentheid te oorweeg.
In terme van die kennisgewing van mosie vra die applikant ‘n bevel wat die eerste en tweede respondente verbied om vir ‘n tydperk van drie jaar vanaf 18 September 2007, in stryd met ‘n handelsbeperking vervat in klousule 10 van aanhangsel AL5 tot die aansoek dokumente, besigheid te werf of te probeer werf van kliënte, of betrokke te wees of ‘n belang te hê in enige besigheid van dieselfde aard as die van die applikant, binne die konsessiegebied in die funderende beëdigde verklaring na verwys en in besonder die landdros distrikte van Groblersdal, Middelburg en Marble Hall. In die alternatief word tussentydse regshulp gevra in die terme soos vermeld hangende die finale beregting van die aansoek, alternatiewelik die instel van ‘n aksie binne ‘n tydperk van een maand vanaf die verlening van sodanige tussentydse bevel. Koste is ook gevra.
Ten einde die verhouding tussen die applikant en die respondente te begryp is dit nodig om na die agtergrondsfeite te verwys. Vir doeleindes daarvan sal ek hoofsaaklik steun op die feitelike uiteensetting van die posisie deur die eerste respondent. In soverre nodig sal daardie feite aangevul word deur die bewerings vervat in die funderende beëdigde verklaring.
Die eerste respondent het homself aan die Technikon Pretoria bekwaam as ‘n plant en plaagbeheerkundige. Vir ongeveer dertig jaar is hy woonagtig en later ook werksaam in die distrikte van Groblersdal/ Marble Hall waar hy deurentyd gewerk het as plantkundige met spesifieke verwysing na plant- en gewasbeskerming en plaagbeheer. So sê hy het hy ‘n goeie verhouding met die boere in die omgewing opgebou as voorligter en bemarker van plaagbeheer chemikalieë. Hy het onder die boere bekend gestaan as ‘n “gifsmous”.
In die jare 2003 – 2004 het die eerste respondent die meeste van sy produkte wat hy aan die boere in die area verkoop het, aangekoop van ‘n maatskappy bekend as Avello Eiendoms Beperk. Op ‘n stadium was hy deur ‘n sekere mnr. Loots van Avello Eiendoms Beperk genader en het hy voorgestel dat die sogenaamde gifsmouse in die betrokke area saamstaan in hulle bemarkingsaanslag. Loots het voorgestel dat Avello Eiendoms Beperk as konsessiegewer konsessies aan gifsmouse kon verkoop. Dit sou sekere voordele vir die konsessienemers inhou.
Die eerste respondent was die enigste direkteur en aandeelhouer van ‘n maatskappy bekend as Bio-crop Agrochemicals LFS Eiendoms Beperk. Hierdie maatskappy se naam is later verander na Avello Loskop Eiendoms Beperk. Op 20 Februarie 2004 is ‘n konsessie-ooreenkoms gesluit tussen Avello Eiendoms Beperk en Avello Loskop Eiendoms Beperk. Hierdie ooreenkoms is by die funderende verklaring aangeheg as AL2.
Avello Loskop Eiendoms Beperk het besigheid gedoen in ‘n gebied wat bekend staan as die Loskop skema wat die landdros distrikte van Marble Hall, Groblersdal en Middelburg insluit. Die tweede respondent was saam met die eerste respondent betrokke in die werksaamhede van Avello Loskop Eiendoms Beperk.
Die eerste respondent sê dat gedurende 2005 Avello Loskop Eiendoms Beperk finansiële druk ervaar het en was die hulp van ‘n sekere mnr. Stoffel Nel van die konsessiegewer ingeroep.
Dit blyk dat Avello Loskop Eiendoms Beperk op ‘n stadium ‘n bedrag van nagenoeg R1,7 miljoen verskuldig was aan Avello Eiendoms Beperk.
As gevolg van onderhandelinge tussen Avello Loskop Eiendoms Beperk en Avello Eiendoms Beperk is besluit om die konsessie- ooreenkoms tussen hierdie twee partye te kanselleer en dat die konsessie aangekoop sou word deur Avello Kwena Eiendoms Beperk vanaf Avello Eiendoms Beperk. Effektiewelik is die konsessie-ooreenkoms tussen Avello Eiendoms Beperk en Avello Loskop Eiendoms Beperk dus gekanselleer. Die nuwe konsessie tussen Avello Eiendoms Beperk en Avello Kwena Eiendoms Beperk wat voortaan handel sou dryf as Avello Loskop is by die funderende beëdigde verklaring aangeheg as aanhangsel A4. Uit die bepalings van daardie ooreenkoms blyk dit dat die koopprys van die regte die bedrag van R1,5 miljoen bedra welke bedrag in vyf jaarlikse paaiemente betaalbaar sou wees.
In die funderende beëdigde verklaring voer die applikant aan dat die kansellasie van die konsessie-ooreenkoms tussen Avello Eiendoms Beperk en Avello Loskop Eiendoms Beperk mondeling geskied het en wel op die volgende terme:
1. Die konsessie-ooreenkoms is gekanselleer.
2. Die konsessie sou aan Avello Kwena Eiendoms Beperk aangebied word. Soos reeds aangedui was die konsessie aan Avello Kwena Eiendoms Beperk verkoop.
3. Die eerste respondent sou vir ‘n periode van vyf jaar in diens tree van Avello Kwena Eiendoms Beperk ten einde sy bestaande kundigheid en verhoudinge wat hy met sy kliënte in die betrokke konsessiegebied opgebou en gevestig het, tot voordeel van die nuwe konsessiehouer aan te wend.
4. Die jaarlikse paaiemente ten opsigte van die koopprys wat Avello Kwena Eiendoms Beperk vir die konsessie sou moes betaal sou deur die konsessiegewer, Avello Eiendoms Beperk, in verrekening gebring word teen die eerste respondent se uitstaande skuld van R1,7 miljoen wat hy as borg namens Avello Loskop Eiendoms Beperk verskuldig was.
5. Indien die eerste respondent sy verpligtinge ten volle sou nakom en die koopprys van R1,5 miljoen ten volle betaal sou word deur Avello Kwena Eiendoms Beperk aan Avello Eiendoms Beperk sou die eerste respondent se skuld van R1,7 miljoen ten volle kwytgeskel word.
Na sluiting van die konsessie-ooreenkoms tussen Avello Eiendoms Beperk en Avello Kwena Eiendoms Beperk is ‘n dienskontrak op 3 Augustus 2006 gesluit tussen Avello Kwena Eiendoms Beperk en die eerste respondent. Daardie dienskontrak is by die dokumentasie aangeheg as aanhangsel AL5. ‘n Soortgelyke dienskontrak is deur die tweede respondent gesluit met Avello Kwena Eiendoms Beperk.
Ten opsigte van hierdie dienskontrakte sê die applikant in die funderende beëdigde verklaring in paragrawe 5.21 en 5.22 die volgende:
“5.21 Aangesien die betrokke konsessiebesigheid in die gemelde konsessiegebied totaal gekoppel aan en afhanklik was van die aktiwiteite van die eerste en tweede respondente wat op daardie stadium reeds gevestigde verhoudinge met die kliëntebasis binne die gebied gehad het en gehandhaaf het, en die twee respondente intieme kennis van die betrokke besigheid opgedoen het en reeds volledige kundigheid opgebou het en in hierdie verband opleiding van die konsessiegewer ontvang het, is hulle voortgesette teenwoordigheid in die besigheid as noodsaaklik vir die voortgesette bedryf van die besigheid beskou.
5.22 Om hierdie rede is daar in elk van die dienskontrakte voormeld ‘n sogenaamde handelsbeperking vervat. Die handelsbeperking in elke geval is identies en is vervat in elk van die kontrakte as klousule 10, die inhoud waarvan vanself spreek.”
Die applikant voer verder aan dat beide respondente op ‘n maandelikse basis voortgesette opleiding ontvang het en word dan soos volg aangevoer in paragraaf 5.30 van die funderende beëdigde verklaring:
“Uit hoofde van hulle betrekkings en uit hoofde van die aard van die werk deur die twee respondente verrig, het beide van hulle uit die aard van die saak intieme kennis opgedoen en gedra van die besigheid se totale kliënte basis, van die besigheidsmodel en van Avello Kwena Eiendoms Beperk se prysstruktuur vir die verskillende produkte en die winsmarge deur Avello Kwena Eiendoms Beperk op die produkte gemerk. In hierdie verband, het beide respondente ook presies geweet wat die werklike kosprys vir Avello Kwena Eiendoms Beperk op die verskillende produkte was.”
Klousule 10 van die dienskontrak bevat ‘n handelsbeperking. Klousule 10.1 daarvan lui soos volg:
“Die werknemer erken dat die opleidingsmiddele, advies en bystand van die werkgewer se toesighouers, kliëntelys, prysinligting, roete kaarte en ander konfidensiële inligting wat aan die werknemer verskaf is deur die werkgewer, of verkry of geformuleer is deur die werknemer gedurende die bestaan van hierdie ooreenkoms uit hoofde van die feit dat die werknemer toegang het tot die voornoemde hulpmiddels en inligting en die werkgewer se produkte verkoop en daarin handeldryf, welke van so ‘n waarde en aard is, dat dit noodsaaklik is dat die werkgewer beskerm word teen mededinging met die werkgewer binne die geografiese area hieronder genoem ten opsigte van ‘n kliënt of potensiële kliënte van die werkgewer vir die tydperk hierna genoem.”
Klousule 10.2 bevat dan ‘n onderneming deur die respondente om vir ‘n periode van drie jaar na die beëindiging van hulle dienste vir welke rede ookal nie op enige wyse hoegenaamd betrokke te raak by ‘n besigheid wat in kompetisie met die besigheid van die werkgewer is nie. Dit is nie nodig dat ek in verdere detail na die bepalings van klousule 10 verwys nie.
Teen ongeveer die middel van 2007 het die applikant, synde die houermaatskappy van onder andere Avello Kwena Eiendoms Beperk, die totale besigheid van Avello Kwena Eiendoms Beperk as lopende saak tesame met alle regte en verpligtinge oorgeneem.
Op 18 September 2007 het die eerste respondent skriftelik uit die diens van Avello Kwena Eiendoms Beperk en gevolglik ook uit die diens van die applikant bedank. Die tweede respondent het op 8 Oktober 2007 bedank.
Die applikant voer aan dat dit ‘n beskermingswaardige belang het en verduidelik dit soos volg in paragrawe 6.1 en 6.2 van die funderende beëdigde verklaring:
“6.1 Soos voormeld beskryf, is die konsessiebesigheid onlosmaaklik gekoppel aan die persone van die twee respondente. Die betrokke besigheid is aanvanklik deur die twee respondente opgebou en daarna oor ‘n tydperk van ‘n aantal jare uitgebou, gevestig en gehandhaaf. In hierdie verband, het elk van die twee respondente uitgebreide kontak en verhoudings met ‘n breë kliëntebasis in die konsessiegebied opgebou en is die tweede respondent die kontakpunt tussen die kliënte en die konsessiehouer en ook die konsessiegewer. Dit is verder belangrik om daarop te let dat in ‘n besigheid soos die onderhawige, daar noodwendig ‘n vertrouensverhouding opgebou word tussen die kliënte en die verteenwoordigers met wie hulle kontak het, synde die eerste en tweede respondente in die onderhawige geval.
6.2 ‘n Besigheid soos die onderhawige is gevolglik ten nouste gekoppel aan en totaal afhanklik van die voortgesette diens en teenwoordigheid van daardie verteenwoordigers wat in die diens van die konsessiehouer in die veld met die kliënte skakel.”
Daar is geen twyfel dat die handelsbeperking verbreek is nie aangesien beide respondente in diens getree het van ‘n besigheid wat in kompetisie met die applikant is.
Die respondente betwis dat die applikant ‘n beskermbare belang het. In besonder sê die eerste respondent dat afgesien van die tydperk wat hy woonagtig en werksaam was en is in die betrokke gebied, hy vir bykans sewentien jaar as ‘n sogenaamde gifsmous presies dieselfde werk gedoen het as wat hy vir die laaste twee jaar ongeveer vir Avello Kwena Eiendoms Beperk gedoen het.
Die eerste respondent sê dat die boere in die Loskop gebied bedien word van raad, advies en produkte deur verskeie gifprodusente. ‘n Reeks sodanige produsente is werksaam in die gebied. Volgens die eerste respondent is daar nie ‘n enkele boer in die distrik wat slegs by een gifagentskap koop nie. ‘n Boer koop die produkte waar hy dit die goedkoopste kry en waar hy die beste diens kry. Daarom het verskeie boere dan ook rekeninge by al die gifmaatskappye en bestaan daar net eenvoudig nie ‘n eksklusiewe lys van kliënte soos wat die applikant probeer aantoon nie. Inteendeel, sê die eerste respondent bestaan daar ook nie ‘n eksklusiewe lys gifprodukte nie. Hy sê dat die gif maatskappye min of meer dieselfde produkte verkoop aan die boere sonder aanspraak van eksklusiewe regte ten aansien van die boer of die produk.
Die eerste respondent voer aan dat hy in besonder, en dan ook die tweede respondent, deur jare self ‘n kliëntebasis en ‘n vertouensposisie met boere in die betrokke gebied opgebou het. Geen inligting, hetsy name van kliënte, pryslyste, lyste van produkte, wyse van bemarking, kosprys van artikels, winsmarge of enige vertroulike inligting is deur die respondente verkry vanaf of Avello Eiendoms Beperk of Avello Kwena Eiendoms Beperk of van die applikant nie. Die eerste respondent voer aan dat hy die diens van die applikant verlaat het en nie van voorneme is om daarheen terug te keer nie. Op die applikant se eie weergawe, sê die eerste respondent, is daar geen besigheid wat die applikant sal kan doen nie. Die eerste respondent sê dat hy bloot met sy eie kennis en verbintenisse besigheid doen wat daarop dui dat die applikant geen beskermbare belang hoegenaamd het nie.
Verder wys die eerste respondent daarop dat die applikant die besigheid van Avello Kwena Eiendoms Beperk oorgeneem het. Daardie besigheid is oorgedra aan die applikant deur middel van sy sogenaamde Obaro divisie. Obaro doen besigheid onder daardie naam en bedryf al sy besigheid onder daardie naam. Die eerste respondent wys daarop dat die applikant hoegenaamd nie aangetoon het op welke wyse die besigheid van Avello Kwena Eiendoms Beperk in Obaro voortgesit gaan word nie.
Die eerste respondent ontken ook dat klousule 10 van die dienskontrak die ware feite weergee. Hy ontken dat daar enige opleidingsmiddele voorsien is of dat daar enige advies en bystand van die kant van die werkgewer se toesighouers was. Kliënte lyste, prys inligting, roete kaarte en ander konfidensiële inligting bestaan nie en was nie verskaf aan die respondente nie.
Uit die eerste respondent se beantwoordende verklaring staan dit na my oordeel vas dat alle kundigheid en vaardigheid wat die eerste respondent as gifsmous opgedoen het, opgedoen is voordat hy nog in diens van Avello Kwena Eiendoms Beperk en dus in diens van die applikant getree het.
Die eerste respondent sê dat hy totaal en al afhanklik is daarvan om ‘n inkomste te verdien deur as ‘n gifsmous handel te dryf. Dit doen hy deur sy betrokkenheid by die besigheid waar hy tans in diens getree het. Hy kan geen ander werk verrig ten einde hom en sy gesin aan die lewe te hou nie.
Na my oordeel is dit duidelik dat die applikant en dus ook Avello Kwena Eiendoms Beperk geen klandisiewaarde wat aan die respondente gekoppel het oorgeneem het nie. Die respondente het bloot in diens van die applikant en sy voorganger in titel getree.
Daar is ook geen meriete daarin om te betoog dat die eerste respondent se skuldverpligting van R1,7 miljoen afgelos sou word deur die betaling deur Avello Kwena Eiendoms Beperk oor ‘n tydperk van vyf jaar indien die eerste respondent in diens van die applikant sou bly nie. Indien sodanige vordering teen die eerste respondent bestaan verdwyn dit nie eenvoudig deur sy uitdienstreding by die applikant nie.
Die afdwingbaarheid al dan nie van ‘n ooreenkoms wat ‘n beperking plaas op die handelsvryheid van ‘n individu, soos klousule 10 van die dienskontrak in hierdie geval plaas op die handelsvryheid van die respondente, is gesaghebbend beantwoord in die uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl in Magna Alloys and Research (SA) (Pty) Ltd v Ellis [1984] ZASCA 116; 1984 4 SA 874. Die kopstuk van die uitspraak vat die beginsels saam en lui soos volg:
“Die benadering wat in talle Suid-Afrikaanse Hofbeslissings gevolg is, dat ‘n bepaling in ‘n ooreenkoms wat ‘n beperking op die handelsvryheid van ‘n party plaas, prima facie ongeldig of onafdwingbaar is, is ‘n benadering wat uit die Engelse reg afkomstig is. In ons gemene reg is daar niks te vind wat verklaar dat ‘n bepaling in ‘n ooreenkoms wat ‘n party se handelsvryheid inkort, ongeldig of onafdwingbaar is nie. Die regsposisie by ons is dat elke ooreenkoms in die lig van die omstandighede van die betrokke geval beoordeel moet word om vas te stel of die afdwing van die ooreenkoms die openbare belang sou skaad, in welke geval dit onafdwingbaar sou wees. Alhoewel dit in die openbare belang is dat ooreenkomste wat vryelik aangegaan is, nagekom moet word, is dit egter ook, in die algemeen, in die openbare belang dat iedereen hom vir sovêr moontlik vryelik in die handels- en beroepswêreld moet kan laat geld. ‘n Beperking van ‘n persoon se handelsvryheid wat onredelik is, sal waarskynlik ook die openbare belang skaad indien dit afgedwing word. Aanvaarding van die openbare belang as die toetssteen bring mee dat wanneer iemand beweer dat hy nie gebonde is aan ‘n beperkende bepaling waartoe hy in ‘n ooreenkoms toegestem het nie, hy die las dra om te bewys dat die afdwing van die bepaling teen die openbare belang sal wees. Die Hof sal moet let op die omstandighede wat geld op die tydstip waarop hy gevra word om die beperking af te dwing, en is nie beperk daartoe om te bevind dat ‘n beperkende bepaling in sy geheel afdwingbaar of onafdwingbaar is nie – ‘n gedeelte van so ‘n bepaling kan ook as sodanig bevind word.”
Die afdwingbaarheid van sodanige handelsbeperking het weereens pertinente aandag verdien in die uitspraak van NIENABER AR in Basson v Chilwan and Others [1993] ZASCA 61; 1993 3 SA 742 (A) in besonder op 767C 768E waar die volgende gesê is:
“Dit gaan hier, soos in die Magna Alloys-saak passim herhaaldelik beklemtoon word, om die afdwingbaarheid van ‘n bepaling in ‘n ooreenkoms wat andersins geldig is. ‘n Ooreenkoms is in sy geheel of ten dele aanvegbaar as dit die openbare belang skaad en aldus teen die openbare beleid indruis. ‘n Bepaling van hierdie aard wat ‘n werknemer of vennoot n beëindiging van die kontrak aan bande probeer lê – en dis al geval wat hier in oënskou geneem moet word – druis teen die openbare beleid in as die uitwerking van die belemmering onredelik sou wees. Die redelikheid al dan nie van die belemmering word beoordeel aan die hand van die breëre belange van die gemeenskap, enersyds, en van die kontrakterende partye self, andersyds. Wat die breëre gemeenskap betref is daar twee botsende oorewegings: ooreenkomste moet gehandhaaf word (al bevorder dit ook onproduktiwiteit); onproduktiwiteit moet ontmoedig word (al verongeluk dit ook ‘n ooreenkoms) (vgl Sunshine Records (Pty) Ltd v Frohling and Others 1990 (4) SA 782 (A) te 794D-E). Wat die partye self betref, is ‘n verbod onredelik as dit die een party verhinder om hom, na beëindiging van hul kontraktuele verhouding, vryelik in die handels- en beroepswêreld te laat geld, sonder dat ‘n beskermingswaardige belang van die ander party na behore daardeur gedien word. So iets is op sigself strydig met die openbare beleid. Origens mag ‘n beperking wat inter partes redelik is nietemin, vir ‘n rede wat nie aan die partye eie is nie, die openbare belang skaad. En besmoontlik ook omgekeerd.
Vier vrae moet in dié verband gestel word:
(a) Is daar ‘n belang van die een party wat na afloop van die ooreenkoms beskerming verdien?
(b) Word so ‘n belang deur die ander party in gedrang gebring?
(c) Indien wel, weeg sodanige belang kwalitatief en kwantitatief op teen die belang van die ander party dat hy ekonomies nie onaktief en onproduktief moet wees nie?
(d) Is daar ‘n ander faset van openbare belang wat met die verhouding tussen die partye niks te make het nie maar wat verg dat die beperking gehandhaaf moet word, al dan nie? (Laasgenoemde vraag kom nie hier ter sprake nie.)
Vir sover die belang in (c) die belang in (a) oortref, is die beperking in die reël onredelik en gevolglik onafdwingbaar. Dit is ‘n kwessie van beoordeling wat van geval tot geval kan wissel (Sibex Engineering Services (Pty) Ltd v Van Wyk and Another 1991 (2) SA 482 (T) te 486H).
Die partye se eie beskouing, soos in die ooreenkoms verwoord, oor wat redelik is, kan nooit deurslaggewend wees nie. (Die Magna-saak supra te 488E-F.) Ten eerste word die redelikheid van die verbod eers by nabetragting deur ‘n hof beoordeel aan die hand van faktore en maatstawwe wat nie noodwendig deur die partye in oënskou geneem was nie. Ten tweede kan die inhoud van die ooreenkoms nie self die uitsluitlike maatstaf wees van wat redelik is nie, want dan word die behoorlikheid van die ooreenkoms aan homself getoets. Dat dit die partye by die aangaan van die ooreenkoms erns was dat so ‘n beperking nodig is, dat hulle die omstrede belange geïdentifiseer en na waarde geskat en die beperking self as hoogs redelik beskryf het, kan dus nie beslissend wees nie (vgl David Wuhl (Pty) Ltd and Others v Badler and Another 1984 (3) SA 427 (W) te 434H-I). Hoogstens kan gesê word dat dit ‘n faktor kan wees by oorweging van wat beskermingswaardig en van wat redelik is. Dieselfde geld vir die oorweging dat die partye ten tyde van kontraksluiting nie op gelyke voet verkeer het nie – dit is ‘n faktor, een van vele, wat by die bepaling van die redelikheid van die beperking ‘n rol kan speel. Maar daar eindig dit. As die verbodsbepaling ten tyde van die beoordeling daarvan deur die Hof onredelik geag word, is dit onafdwingbaar, hoe die partye ook al teenoor mekaar gesitueer was en hoe hulle die bepaling ten tyde van kontraksluiting ook al mag beskou en beskryf het. Geen ooreenkoms, hoe noukeurig bewoord, kan ‘n andersins onredelike bepaling verskans nie. Kortom, vir die partye is dit regtens net nie moontlik om ‘n ooreenkoms te sluit waardeur die handelsverkeer op ‘n onredelike wyse gekniehalter word nie.”
Vergelyk ook die uitspraak in Hiert en Carter (Pty) Ltd v Mansfield and Another 2007 4 All SA 1423D vir ‘n handige samevatting van die regspraak oor verskeie aspekte van die geldigheid al dan nie van handelsbeperkinge. In besonder is in die Hiert en Carter saak bevind dat indien ‘n handelsbeperking daarop gerig is om kompetisie uit te skakel dit ongeldig is.
Na my oordeel is die handelsbeperking in die onderhawige geval bloot daarop gerig om kompetisie deur die twee respondente uit te skakel. Die handelsbeperking druis in teen die openbare belang en is daarom na my oordeel ongeldig en gevolglik onafdwingbaar.
Alhoewel die posisie van die eerste respondent in besonder bespreek is, is die van die tweede respondent ooreenstemmend.
Die aansoek word van die hand gewys met koste.
W J VAN DER MERWE
REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF
49375/2007
Vir die applikant: Adv
Opdrag deur: Mnre
Vir die respondent: Adv
Opdrag deur: Mnre
Datum van verhoor: