South Africa: High Courts - Gauteng Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Courts - Gauteng >> 2007 >> [2007] ZAGPHC 198

| Noteup | LawCite

S v Sibanyoni (A1092/2005) [2007] ZAGPHC 198 (14 September 2007)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA /ES

(TRANSVAALSE PROVINSIALE AFDELING)

SAAK NO: A1092/2005

DATUM: 14/9/2007

NIE RAPPORTEERBAAR




IN DIE SAAK TUSSEN

LUIS SAMUEL SIBANYONI APPELLANT

EN

DIE STAAT RESPONDENT


UITSPRAAK

VAN DER MERWE, R

Die appellant, volgens die klagstaat 'n 38 jarige man, het in die streekhof te Middelburg tereggestaan op 'n aanklag van verkragting deurdat hy na bewering op 16 0ktober 1999 die 10 jarige klaagster, Sabina Masango, verkrag het. Die appellant is op 10 November 2000 deur die streekhof skuldig bevind soos aangekla. Die aangeleentheid is daarna in terme van die bepalings van artikel 52(1)(b) van Wet 105 van 1997 na die hooggeregshof oorgeplaas vir die oplegging van vonnis. Die appellant is gevonnis tot twintig jaar gevangenisstraf.


Die appellant was regsverteenwoordig in die streekhof sowel as tydens oplegging van vonnis in die hooggeregshof.


Die appellant het self die kennisgewing van appèl geliasseer. Daarvolgens appelleer hy teen sowel die skuldigbevinding as die vonnis. Die grondslag vir die appèl teen die skuldigbevinding is daarop gebaseer dat die geneesheer wat die klaagster ondersoek het na bewering niks fout met die klaagster gevind het nie en dat die hof bloot net na die getuienis van die klaagster se moeder geluister het sonder om die verslag van die geneesheer in aanmerking te neem. Ten opsigte van vonnis is die appellant se appèl daarop gebaseer dat hy onregverdiglik gevonnis is.


Ek sal later in meer detail handel met die grondslag van die appellant se appèl teen sy skuldigbevinding.


In die appellant se oorspronklike hoofde van betoog is ten opsigte van die skuldigbevinding slegs daarop gesteun dat die appellant na bewering nie 'n billike en regverdige verhoor gehad het nie. Die grondslag vir daardie bewering was dat die streekhoflanddros na bewering versuim het om aan die appellant te verduidelik dat 'n minimum voorgeskrewe vonnis in terme van die bepalings van Wet 105 van 1997 opgelê kon word. Dit is nie nodig dat ek in detail met hierdie grond van appèl handel nie. Die staat het heeltemal korrek daarop gewys dat die kennisgewing van appèl nie voorsiening maak vir hierdie grond van appèl nie en dat dit daarom nie behoorlik voor hierdie hof is nie.


Verder het die staat aangevoer dat selfs indien hierdie hof geneë sou wees om betoog oor die beweerde onreëlmatigheid aan te hoor, dit uit die oorkonde blyk dat die appellant wel 'n billike verhoor gehad het. Die betoog is daarop gebaseer dat die klagstaat dit duidelik maak dat die klaagster 'n dogter is, dit wil sê 'n jong kind wat bowendien aan die appellant bekend was. Verdermeer was die appellant deurentyd regsverteenwoordig en was daar geen verpligting op die verhoorhof om die bepalings van Wet 105 van 1997 in enige detail aan die appellant te verduidelik nie. In ieder geval het die appellant se regsverteenwoordiger voor die hooggeregshof toegegee dat die skuldigbevinding korrek uitgebring is en geen betoog aangevoer waarom die skuldigbevinding nie bekragtig kon word nie.


Appellant se advokaat het tydens betoog op appèl prakties toegegee dat daar geen meriete in die appèl op hierdie betrokke grond is nie.


In die verhoorhof se uitspraak is volledig met die feite gehandel ten spyte daarvan dat die landdros gesê het dat die uitspraak redelik kort sal wees. Ek vind dit nie nodig om al die feite soos in die verhoorhof se uitspraak uiteengesit te herhaal nie. Ek sal veel eerder verwys na dit wat relevant is. MYNHARDT R het in ieder geval na aanhoor van betoog die verhoorhof se bevinding bekragtig.


Soos blyk uit die kennisgewing van appèl het die appellant hom in sy gronde van appèl beperk tot die mediese ondersoek wat gedoen is deur dr B H Veenemans soos dit blyk uit die sogenaamde J88 vorm wat ingehandig is as bewysstuk "A". Meer in besonder bekla die appellant hom daaroor dat die verhoorhof nie voldoende aandag gegee het aan die inhoud van bewysstuk "A" nie maar eerder gehoor gegee het aan die getuienis van die klaagster se moeder.


Die vraag het ontstaan of die J88 vorm hoegenaamd toegelaat moes word as getuienis in hierdie aangeleentheid.


Volgens die oorkonde het die aanklaer versoek dat die J88 vorm ingehandig word as bewysstuk "A" waarop die verhoorhof appellant se prokureur gevra het of hy insae gehad het in die dokument. Die appellant se regsverteenwoordiger het bevestigend geantwoord waarop die hof hom verder gevra het of hy toestem dat dit as bewysstuk ingehandig kan word waarop die regsverteenwoordiger weer eens bevestigend geantwoord het. Die vorm J88 is daarna ontvang as bewysstuk "A".


Tydens kruisverhoor van die appellant is hy ook verwys na die inhoud van vorm J88. Niks besonders blyk uit die kruisverhoor en sy antwoorde daarop nie en ek hoef nie verder daarmee te handel nie.


In die loop van sy uitspraak het die verhoorhof gesê dat die J88 vorm met instemming van die verdediging as bewysstuk ingehandig is.


Die J88 vorm is nie in terme van 'n formele erkenning in terme van artikel 220 van Wet 51 van 1977 as 'n bewysstuk ontvang nie. Die inhoud van daardie mediese verslag is dus nooit formeel erken nie.


Die J88 vorm is ook nie ingevolge die bepalings van artikel 212 van Wet 51 van 1977 as getuienis voor die hof geplaas nie. Die J88 vorm voldoen nie aan die formele voorskrifte soos neergelê deur gemelde artikel 212 nie. Vergelyk S v Hlongwa 2002(2) SASV 37 op 42g e.v.


Na my oordeel is die J88 vorm deur middel van 'n informele erkenning deel van die getuienis in die onderhawige saak gemaak.


Vir 'n volledige bespreking van die sogenaamde informele erkenning, vgl Schmidt Bewysreg 4de uitgawe, p504 e.v.


Dit is duidelik waarom die appellant se regsverteenwoordiger toegestem het dat die J88 vorm as 'n bewysstuk ingehandig kan word. Die J88 vorm het aangedui dat die klaagster se vaginale opening rooi en gestu was en dat die geneesheer slegs die punt van sy pinkie in die vagina kon inkry. Selfs op appèl wil die appellant op daardie mediese verslag steun om aan te dui dat hy die klaagster nie verkrag het nie. Soos reeds aangedui vorm dit die enigste grond van appèl ten opsigte van die skuldigbevinding.


Dit is korrek dat die inhoud van die J88 vorm alleen nie verkragting bewys nie. 0p die inligting in die J88 vorm tesame met al die ander getuienis wat voor die verhoorhof geplaas is het die verhoorhof, na my oordeel, korrek tot die gevolgtrekking gekom dat die appellant se skuld bo redelike twyfel bewys is. Dit is toegegee deur appellant se regsverteenwoordiger voor MYNHARDT R wat in sy diskresie die skuldigbevinding van die verhoorhof bekragtig het.


Na my oordeel is daar geen meriete in die appèl teen die skuldigbevinding nie.


Ten opsigte van vonnis het MYNHARDT R bevind dat daar wesenlike en dwingende omstandighede aanwesig is wat hom regverdig het om van die voorgeskrewe minimum vonnis af te wyk. Ek is van oordeel dat MYNHARDT R sy diskresie in daardie opsig behoorlik uitgeoefen het. Daar was geen wanvoorligting of mistasting deur hom begaan nie. Die opgelegde vonnis is na my oordeel ook nie onvanpas nie en in ieder geval nie tot 'n mate wat hierdie hof sou regverdig om met die opgelegde vonnis in te meng nie.


Na my oordeel is daar ook geen meriete in die appèl teen vonnis nie.


Die appèl teen die skuldigbevinding en vonnis word van die hand gewys.










W J VAN DER MERWE

REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF


Ek stem saam



F G PRELLER

REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF


Ek stem saam





M J RAMAGAGA (Me)

WNDE REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF

A1092-2005






GEHOOR OP:

VIR DIE APPELLANT:

IN OPDRAG VAN:

VIR DIE RESPONDENT:

IN OPDRAG VAN: