South Africa: High Courts - Gauteng Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Courts - Gauteng >> 2005 >> [2005] ZAGPHC 92

| Noteup | LawCite

Jacobs and Another v African Bank Beperk (A2042/04) [2005] ZAGPHC 92; 2006 (5) SA 21 (T) (16 September 2005)

                  IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA /ES
(TRANSVAALSE PROVINSIALE AFDELING)
                                                               SAAK NO: A2042/2004
                                                               DATUM: 16/9/2005
rapporteerbaar



IN DIE SAAK TUSSEN
ANITA CHRISTINAH JACOBS                    EERSTE APPELLANT
JACQUES JASON JACOBS                                TWEEDE APPELLANT
EN
AFRICAN BANK BEPERK                                 RESPONDENT
010009000003bb00000006001c00000000000400000003010800050000000b0200000000050000000c021a000807040000002e0118001c000000fb021000070000000000bc02000000000102022253797374656d000008070000c09c0000d43a120026e28239304b17000c020000040000002d01000004000000020101001c000000fb02ceff0000000000009001000000000440001254696d6573204e657720526f6d616e0000000000000000000000000000000000040000002d010100050000000902000000020d000000320a2c000000010004000000000008071900200f1600030000001e0007000000fc020000aca899000000040000002d01020008000000fa02050000000000ffffff00040000002d0103000e00000024030500ffffffffffff1800080718000807ffffffffffff08000000fa0200000000000000000000040000002d01040007000000fc020000ffffff000000040000002d010500040000002701ffff040000002d010000030000000000
UITSPRAAK
SMIT, R
         Appellante het in die hof a quo, ooreenkomstig die bepalings van artikel 74 van die Wet op Landdroshowe 32 van 1944, aansoek gedoen vir die toestaan van 'n administrasiebevel. Die aansoek is deur die landdros met koste afgewys op grond daarvan dat die aansoek val binne die perke en omvang van die beslissing in Prima Slaghuis (Carletonville) v Roux en 'n Ander 1973 1 SA 108 (T) en dat die landdros van mening was dat sy aan daardie beslissing gebonde was. Die huidige app l is gerig teen die geheel van die landdros se bevinding en bevel.

         In die besonderhede wat appellante in die hof a quo verskaf het word onder andere vermeld dat die totale bedrag van appellante se skulde wat opeisbaar en betaalbaar is ("debts due and payable") die bedrag van R22 069,08 beloop. Die besonderhede is verskaf op die voorgeskrewe vorm 45(A) soos vereis in artikel 74A(1) van die Wet op Landdroshowe. Tydens die verhoor in die hof a quo het respondent die korrektheid van die berekening van appellante se totale skulde wat verskuldig was, betwis. Dit is naamlik beweer dat item 3 op die betrokke staat van appellante se skulde nie die korrekte feitelike posisie weerspie l nie in soverre die bedrag van appellante se verskuldigheid onder daardie item slegs aangedui word as R1 167,32. Hierdie bedrag, so is deur respondent aangevoer, is die bedrag van die maandelikse betaling wat tweede appellant aan respondent moet maak ingevolge 'n besoldigingsbeslagbevel toegestaan deur die landdroshof vir die distrik van Pretoria ter delging van die totale vonnisskuld in die bedrag van R30 249,70. As die totale skuld onder hierdie item van R30 249,70 teen appellante in aanmerking geneem word by oorweging van die vraag of appellante ingevolge die bepalings van artikel 74(1)(b) van die Wet kwalifiseer vir die toestaan van 'n administrasiebevel, sou appellante nie voldoen aan die vereistes van artikel 74(1)(b) nie in soverre die totale bedrag van appellante se skulde verskuldig die bedrag van R51 151,46 beloop. Dit is gemeensaak dat die Minister die bedrag van R50 000,00 in die Staatskoerant bepaal het as die bedrag beoog in artikel 74(1)(b) van die Wet.

         Geen getuienis is in die verband deur die respondent voorgel nie maar het die partye en o nskynlik ook die landdros aanvaar dat as die bedrag onder item 3 van R1 167,32, synde die maandelikse bedrag betaalbaar, vervang word met die totale vonnisskuld van R30 249,70 sou die verskuldigde bedrag nie R22 069,08 beloop het nie maar R51 151,46.

         Dit wil my gevolglik voorkom of die wesenlike vraag vir beslissing in die huidige geding is, wat word met die term "totale bedrag van sy skulde wat verskuldig is" in artikel 74(1)(b) van die Wet bedoel.

         Artikel 74(1) van die Landdroshowe Wet bepaal as volg:
         "74.     Verlening van administrasiebevele
         (1)      Wanneer 'n skuldenaar-
(a)      nie in staat is om die bedrag van 'n vonnis wat teen hom in 'n hof verkry is, onmiddellik te betaal nie, of om sy finansi le verpligtings na te kom nie, en nie genoegsame vir beslagvatbare bates het om aan sodanige vonnis of verpligting te voldoen nie; en
(b)      beweer dat die totale bedrag van sy skulde wat verskuldig is, nie die bedrag wat die Minister van tyd tot tyd by kennisgewing in die Staatskoerant bepaal, te bowe gaan nie,
kan daardie hof of die hof van die distrik waarin die skuldenaar woon of besigheid dryf of in diens is, op aansoek van die skuldenaar of kragtens artikel 651, onderworpe aan die voorwaardes wat die hof goed ag ten opsigte van die stel van sekuriteit, bewaring of van die hand sit van bates, te gelde making van verhipotekeerde roerende goedere (behalwe roerende goedere in artikel 34 bis van die Landbankwet, 1944) (Wet 13 van 1944, bedoel) of andersins, 'n bevel (in hierdie Wet 'n administrasiebevel genoem) verleen waarby voorsiening gemaak word vir die administrasie van sy boedel en vir die vereffening van sy skulde in paaiemente of andersinds."

         Dit blyk duidelik uit die bepalings van artikel 74(1)(a) dat die betrokke bevel slegs verleen kan word waar die skuldenaar nie in staat is om die volle bedrag van 'n vonnis wat teen hom verleen is onmiddellik te betaal nie. Insgelyks blyk dit uit die bepalings van artikel 74A(2)(e)(i) dat die wetgewer met die daarstelling van artikel 74 bedoel het dat die volle bedrag van vonnisskulde in aanmerking geneem moet word om vas te stel of die skuldenaar se skulde die bedrag van R50 000,00 te bowe gaan. Daarom bepaal artikel 74A(2)(e)(i) as volg:
"(2)     In die vorm in sub-artikel (1) genoem, moet voorsiening gemaak word vir, onder andere, die volgende besonderhede, naamlik-
         ...
(e)      'n volledige lys van al die skuldenaar se skuldeisers en hulle adresse, en die bedrag verskuldig aan elke skuldeiser, waarin duidelik onderskei word tussen-
(i)      die skulde waarvan die hele bedrag verskuldig is, met inbegrip van vonnisskulde wat in paaiemente betaalbaar is ingevolge 'n hofbevel, besoldigingbeslagbevel of skuldbeslagbevel; ..."

         Na my mening beoog die wetgewer deur hierdie bepaling die effek dat na verlening van 'n vonnis teen 'n skuldenaar deur 'n bevoegde hof dit geag word vir doeleindes van artikel 74 dat die totale bedrag van die vonnis wat verleen is in berekening gebring moet word ten einde te bepaal wat die skulde beloop waarvan die hele bedrag verskuldig is. Ek meen ook daar is steun te vind vir die standpunt wat ek hierbo uiteengesit het in die uitspraak van VILJOEN, R (soos hy toe was) in die saak van Prima Slaghuis (Carletonville) v Roux en 'n Ander 1973 1 SA 108 (T) waarin die geleerde regter hom as volg uitlaat op 112AD:
"Die enigste vraag wat oorbly is of 'n bevel dat die vonnisskuldenaar die vonnisskuld by wyse van paaiemente moet afl , die skuld iets anders gemaak het as 'n verhaalbare skuld. Waar in die twee sake hierbo genoem beslis is dat onverhaalbare skulde nie ingesluit kan word onder 'n administrasiebevel nie, is daar bedoel skulde ten aansien waarvan die verpligting om te betaal nog nie ontstaan het nie. Waar vonnis verkry is in 'n sekere bedrag het die hof deur die vonnisverlening bevestig dat die skuld wel verhaalbaar is. Na vonnisverlening word die masjinerie wat die reg skep om voldoening aan die vonnis te bewerkstellig deur betaling, in werking gestel. Een wyse van tenuitvoerlegging is kragtens die bepalinge van art 65. 'n Bevel kragtens art 65 om die vonnisskuld in paaiemente te betaal is dus van 'n totaal ander aard as 'n verpligting kragtens ooreenkoms om in futuro te betaal. As die vonnisskuldenaar se finansi le posisie eensklaps verbeter, is daar niks wat verhoed dat die bevel herroep word nie en dat daar op 'n ander wyse opgetree word wat onmiddellike voldoening verseker."

         Gevolglik na my mening het die toestaan van 'n vonnis teen 'n skuldenaar die effek dat dit geag word dat die volle bedrag van die vonnisskuld verhaalbaar is en is daar gevolglik 'n voldoening aan die vereistes van artikel 74(1)(b) tot die mate dat die totale bedrag van die vonnisskuld deel vorm van "die totale bedrag van sy skulde wat verskuldig is".

         In die verband is namens appellante betoog dat die toestaan van 'n besoldigingsbeslagleggingsbevel teen tweede appellant die gevolg het dat slegs die totale bedrag van die maandelikse betaling ingevolge die besoldigingsbeslagleggingsbevel in ag geneem moet word om te bepaal of die totale bedrag van appellante se skulde die bedrag van R50 000,00 te bowe gaan.

         By oorweging van die argument namens appellante is dit van belang om in gedagte te hou dat hoofstuk IX van die Landdroshowe Wet handel oor "tenuitvoerlegging" en ten doel het om in gevalle waar 'n hof vonnis gegee het teen 'n skuldenaar vir betaling van 'n bedrag geld die vonnisskuldenaar tegemoet te kom indien die vonnis onvoldaan bly. Indien 'n besoldigingsbeslagleggingsbevel, soos in die onderhawige geval, ingevolge artikel 65J toegestaan word, sou dit deel vorm van die wyse van tenuitvoerlegging van 'n vonnis wat reeds deur 'n hof toegestaan is. Sodanige vonnis, wat insluit die totale vonnisbedrag, vorm dan deel van die totale bedrag wat die vonnisskuldenaar verskuldig is aan die vonnisskuldeiser. 0m hierdie rede alleen kan appellante se voormelde betoog nie korrek wees nie.

         Hierbenewens bepaal artikel 65I(4) van die Wet:
"4.      Indien die hof 'n administrasiebevel ten opsigte van die vonnisskuldenaar se boedel verleen, skort die hof die verrigtinge ingevolge die kennisgewing kragtens artikel 65A(1) op, maar kan die hof aan die vonnisskuldeiser koste wat alreeds in verband met daardie verrigtinge aangegaan is, toestaan en daardie koste kan by die vonnisskuld gevoeg word."

         In die lig van hierdie bepaling kan dit nie ges word dat slegs die totale bedrag van die maandelikse betaling in ag geneem moet word om die totale bedrag van appellante se skulde te bepaal nie. Insgelyks is die bepalings van artikel 74P ook nie te versoen met die argument wat namens appellant betoog is nie in soverre die verlening van 'n administrasiebevel tot gevolg sal h dat geen ander regsmiddel, insluitende die bestaande besoldigingsbeslagbevel, enige regswerking teen appellante sal h nie.

         Namens appellante is, ter ondersteuning van hul standpunt soos hierbo uiteengesit, grootliks gesteun op die uitspraak in die saak van Da Mata v Firstrand Bank Ltd 2002 6 SA 506 (W). In daardie saak het die bank vonnis in die totale bedrag van R104 762,35 teen Da Mata verkry. Daarna is 'n artikel 65 bevel verkry waarkragtens Da Mata maandelikse betalings van R400,00 aan die bank moes maak ter vereffening van die totale bedrag van die vonnis. 'n Administrasiebevel wat uitgereik was ingevolge artikel 74(1) van die Landdroshof Wet is ingevolge artikel 74(2) ingetrek op grond daarvan dat die totale bedrag van sy skulde wat verskuldig was die beperking van R50 000,00, soos in artikel 74(1)(b) gestel, te bowe gegaan het. Da Mata het app l aangeteken teen die intrekking van die administrasiebevel en sy app l is gehandhaaf. FLEMMING ARP, met wie PONNAN R (soos hy toe was) saamgestem het, kom tot die gevolgtrekking dat paaiemente wat deur 'n skuldenaar betaal moet word ingevolge 'n bevel ooreenkomstig die bepalings van artikel 65 van die Landdroshowe Wet 32 van 1944, en wat nie agterstallig is nie, nie as verskuldig vir die doel van artikel 74(1)(b) van die Wet beskou kan word nie omrede die skuldenaar nog nie verplig is om sodanige paaiemente op daardie stadium te betaal nie. Totdat die bedrag verskuldig is het die skuldeiser geen reg om betaling af te dwing nie. Gevolglik, so word bevind, waar 'n skuldenaar beveel word om 'n vonnisskuld te betaal, terwyl die skuld R50 000,00 te bowe gaan soos voorsien in artikel 74(1)(b) van die Wet, in paaiemente elk waarvan nie die jurisdiksionele perke oorskry nie, oorskry die totaal van die skuldenaar se skulde wat verskuldig is nie die jurisdiksionele perke uiteengesit in artikel 74(1)(b) nie en kan 'n administrasiebevel ingevolge artikel 74(1) toegestaan word.

         Die vraag ontstaan, met respek, of die uitspraak gestand doen aan die betekenis van die woorde "wat verskuldig is" soos vervat in artikel 74(1)(b) van die Wet. Ter aanvang is dit van belang om daarop te wys dat die Afrikaanse teks van die Landdroshowe Wet 32 van 1944 onderteken is. In die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal van 0dendaal, Schoonees, Swanepoel, Du Toit en Booysen (vierde uitgawe) word die woord "verskuldig" soos volg omskryf:
"verskuldig b.nw. skuldig; verplig, onbetaal: ek is dit aan hom verskuldig. Die verskuldigde bedrag geld, uitstaande, onbetaalde. Met verskuldigde eerbied, met die eerbied wat hom toekom. Met verskuldigde aandag, met die aandag wat dit verdien. Iemand, jou ouers, goeie vriende, leermeesters baie verskuldig wees, baie aan hom/hulle te danke h . Ek is dit aan my eer verskuldig, die behoud van my eer eis dit. 0ok selfst.: die verskuldigde, wat betaal moet word."

         In die 0xford Advance Learners Dictionary of Current English (Second Impression) word die woord "due" wat in die Engelse teks van artikel 74(1)(b) gebruik word, as volg omskryf:
"Due ... that which must be given to sb. Because it is right or owing: give the man his due, ... be fair to a person even though he is not a friend, or does not deserve much ... sums of money to be paid eg for membership of a club, legal charges paid."

         Dit wil my voorkom of in die Da Mata beslissing 'n wyer betekenis, as die normale betekenis, aan die woord "verskuldig" verleen is. Die gewraakte betekenis wat aldaar aan die woord "verskuldig" verleen is, is die betekenis wat normaalweg verstaan word onder die woorde "opeisbaar en betaalbaar" ("due and payable"). Dit blyk duidelik dat artikel 74(1)(b) slegs die vereiste van "verskuldig" ("due") stel en nie die verdere vereiste van "betaalbaar" nie. Alhoewel daar in die voorgeskrewe vorm 45A, wat 'n applikant moet invul, verwys word na "debts due and payable" is dit nie 'n vereiste wat in artikel 74(1)(b) gestel word nie.

         Ek het ook reeds hierintevore verwys na die belang, vir die huidige geskil, van die bepalings van artikel 74P van die Wet in soverre by verlening van 'n administrasiebevel geen ander regsmiddels enige regswerking teen appellante sal h nie. Die bevel wat respondent teen appellante verkry het vir betaling van maandelikse paaiemente in die bedrag van R1 167,32 sal gevolglik ook verval indien 'n administrasiebevel toegestaan word. 0ok vir hierdie rede sou dit, myns insiens, verkeerd wees om te vereis dat alleenlik skulde waarvan die bedrag opeisbaar en betaalbaar is ingesluit kan word as deel van applikante se skulde wat verskuldig is soos vereis in artikel 47(1)(b) van die Wet.

         In die Da Mata saak word verklaar, te 508G:
"It would be surprising if the jurisdictional limit which in so many terms refers only to that which is 'due' is so applied that the procedure is not available because of amounts which, though owing, need not then be paid by the debtor yet. Why may that approach be frustrated by a judgment debt of which payment was due but payment of which is no longer due?"

Met die grootste respek word in die verband uit die oog verloor dat die inwerkingtreding van 'n besoldigingbeslagbevel ingevolge die bepalings van artikel 65 van die Wet bloot dien as 'n metode van tenuitvoerlegging van 'n reeds bestaande vonnis vir betaling, welke vonnis die gevolg van verskuldigdheid het.

         Ek het, met respek, ook bedenkings aangaande die korrektheid van die volgende stelling in die Da Mata saak te 509FH:
"The prerequisite for applying s 65A is accordingly that there must be ten days during which the judgment was not satisfied which is calculated either from (i) the date of the judgment or (ii) from the date when an unpaid instalment becomes payable. The latter deals with an order for payment in instalments and the former with other cases. Thus one observes legislative realisation of what seems obvious: an instalment which is one of those which was ordered by the court to be paid on a future date is not 'due' until the date for its payment arises."

Ek meen, met respek, die benadering is verkeerd om die betaling van 'n paaiement ("an instalment") gelyk te stel aan skulde ("debts") soos bedoel in artikel 74(1)(b) aangesien die wetgewer nie bepaal het dat die jurisdiksionele perk vasgestel moet word met verwysing na paaiemente wat betaalbaar is nie maar wel na skulde wat moet insluit skulde wat verskuldig is waarvan die betalingswyse vasgestel is in die vorm van 'n besoldigingsbeslagbevel. Hierbenewens, as die stelling in die laaste re l van die aangehaalde passasie korrek is sou dit beteken dat die paaiement slegs op die betaaldag daarvan verskuldig sou wees maar op die voorafgaande dae kan die skuldenaar aandui dat hy niks verskuldig is nie.

         In para 10.4 te 510 in die Da Mata saak word verklaar:
"... s 74A(2)(e) works on the assumption that the total debts which are 'due' amount to less than R50 000 (the currently operating limit)."

Na my mening is die stelling, met respek, vir die redes soos hierna uiteengesit nie korrek nie: artikel 74A(2)(e) voorveronderstel dat 'n administrasiebevel nog nie toegestaan is nie aangesien dit daardie stukke stipuleer wat voorgel moet word met 'n aansoek om 'n administrasiebevel. 0mdat daar nog geen bevel is nie kan die assumpsie ook nie gemaak word nie. Hierbenewens doen die standpunt nie gestand aan die Afrikaanse bewoording van die Landdroshowe Wet nie in soverre die woord "verskuldig" voorkom in artikel 74A(2)(e)(i) sowel as 74(1)(b). 0ok word daar nie in die uitspraak in aanmerking geneem die onderskeid wat getref word in subartikels (i) en (ii) van artikel 74A(2)(e) tussen "die skulde waarvan die hele bedrag verskuldig is" en verpligtings wat in die toekoms betaalbaar is of gaan word nie.

         Volgens die beslissing in die Da Mata saak (sien para 11 te 511) is die wesenlike vraag vir beslissing "whether instalments which are not in arrear (if one interprets the relevant section 65 order correctly) can be regarded as 'due'". Na my mening is die vraag of die hoofskuld, ten opsigte waarvan die afbetaling in paaiemente gemaak word, verskuldig is.

         Dit is in die verband ook belangrik om daarop te wys dat artikel 74(2) ook verwys na "skulde wat verskuldig is". In die Engelse teks is die verwysing in artikel 74(2) na "debts" en nie na "debts due" of "debts due and payable" nie.

         Vir die redes hierbo vermeld kan ek my respekvol nie vereenselwig met die uitspraak van die geleerde regters in die Da Mata beslissing nie en meen ek moes daar in daardie saak beslis gewees het dat 'n insluiting moet plaasvind van die totale bedrag van 'n vonnis toegestaan teen 'n applikant wat om 'n administrasiebevel aansoek doen nieteenstaande die feit dat 'n bevel toegestaan was ingevolge waarvan die skuldenaar gelas was om betaling van die totale vonnisbedrag in paaiemente te maak.

         Mnr Swanepoel, namens die respondent, het my, in sy weldeurdagte argument, ook verwys na die uitspraak in die saak van Fortuin and 0thers v Various Creditors 2004 2 SA 570 (C). In daardie saak beslis DLODLO WR (soos hy toe was) te 574A dat die woord "debts" soos vervat in artikel 74(1) "means debts which are due and payable and does not include obligations to pay money in futuro". 0ok hierdie stelling van die geleerde regter is na my mening, met respek, nie korrek nie. N g die Afrikaanse n g die Engelse teks van die Landdroshowe Wet verwys na skulde wat opeisbaar en betaalbaar is ("debts due and payable"). Dit is ook opmerklik dat die geleerde regter in die aangehaalde passasie verwys na skulde ("debts") en direk daarna verwys na verpligtinge ("obligations"). Die onderskeid word nie gemaak in die bepalings van artikel 74(1) van die Wet nie in soverre slegs na "skulde" ("debts") verwys word. In die verband is dit miskien ook belangrik om daarop te wys dat artikel 74(1)(a), as voorloop tot die bepalings vervat in artikel 74(1)(b) spesifiek voorsiening maak vir die geval waar 'n skuldenaar nie in staat is om die bedrag van 'n vonnis wat teen hom verleen is onmiddellik te betaal nie. Dit wil my voorkom of die verwysing na "onmiddellike betaling van 'n vonnis" aanduidend daarvan is dat die wetgewer bedoel het om voorsiening te maak vir die insluiting van 'n totale vonnisskuld in die bepaling van die vraag of die jurisdiksionele perk van R50 000,00 oorskry word al dan nie.

         Ten slotte het mnr Swanepoel ons tydens argument ook verwys na die ongerapporteerde beslissing in die saak van In the Ex Parte appeal of Piet and Johanna Visagie, case no A1000/04 (Cape of Good Hope Provincial Division): judgment delivered Thursday 17 March 2005. Alhoewel ex parte het 'n advokaat, op versoek van die hof as amicus curiae, die app l teen die appellante geargumenteer. Dieselfde geskil as in die onderhawige saak is ook in daardie app l geargumenteer en is daar ook op die uitspraak in die Da Mata saak, supra, gesteun. In die Visagie saak kom ALLIE R, met wie LOUW R saamstem, tot die gevolgtrekking dat die wesenlike vraag vir beslissing is of skulde wat verskuldig is ("debts due") soos beoog in artikel 74(1)(b) verwys na alle skulde verskuldig deur die appellante en dus insluit die hele bedrag van die vonnisskuld dan wel of die slegs verwys na die gedeelte wat verskuldig en betaalbaar is ingevolge 'n artikel 65A(1) bevel.

         Nadat daar in die uitspraak verwys is na van die wysigings wat oor die jare aan die bepalings van artikel 74 aangebring is word met goedkeuring verwys na die uitspraak in die Da Mata saak. Die geleerde regters skyn ook steun te vind vir hul standpunt in die beslissing van Cape Town Municipality v Dunne 1964 1 SA 741 (C). In laasgenoemde saak is beslis dat die woord "skulde" soos dit voorkom in die voorbehoud tot artikel 74(1) van die Landdroshowe Wet beteken skulde wat verskuldig en betaalbaar is en sluit nie in verpligtinge om in futuro geld te betaal nie. Dit word dan ook beslis dat dit moontlik is dat die wetgewer deur die wysiging in 1976, toe die oorspronklike verwysing na slegs skulde in artikel 74(1) vervang is met die woorde "skulde wat verskuldig is" ("debts due") gepoog het om die bepalings van die betrokke subartikel in ooreenstemming te bring met die uitspraak in die Dunne saak.

         In die verband moet egter in gedagte gehou word dat CORBETT R, soos hy toe was, se beslissing in die Dunne saak gaan oor die vraag of die woord "skulde" soos dit in die destydse artikel 74(1) gebruik is ook insluit verpligtinge om in futuro geld te betaal. Ek meen nie daar kan op grond van hierdie uitspraak 'n beslissing gemaak word oor die betekenis van die woorde "skulde wat verskuldig is" in die huidige artikel 74(1)(b) nie. Die beslissing in die Dunne saak het, myns insiens, meer waarskynlik aanleiding gegee tot die invoeging deur die wetgewer van artikel 74A gedurende 1976 toe daar in artikel 74A(2)(e)(i) en (ii) onderskei is tussen skulde waarvan die hele bedrag verskuldig is en die verpligting wat in futuro in periodieke betalings betaalbaar is.

         Ek meen gevolglik, met respek, dat die beslissing in die Visagie saak dat slegs daardie gedeelte van 'n skuld wat verskuldig en betaalbaar is in paaiemente ingevolge 'n artikel 65A(1) bevel in ag geneem moet word om die jurisdiksionele limiet te bepaal, nie korrek is nie en is ek nie van voorneme om daardie beslissing in die huidige geskil te volg nie.

         Bygevolg kan die huidige app l nie slaag nie en meen ek dat die landdros korrek was in sy beslissing om die toestaan van 'n administrasiebevel te weier in soverre die appellante se totale bedrag van hul skulde wat verskuldig is die jurisdiksionele perk van R50 000,00 oorskry het.

         Die app l word met koste afgewys.






                                                               J M C SMIT
                                                      REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF

                                    Ek stem saam


                                                      P M MABUSE
                                             WNDE REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF
A2042-2004



GEHOOR OP: 29 AUGUSTUS 2005
ADVOKAAT VIR APPELLANTE: ADV M OLIVIER
IN OPDRAG VAN: FRANCOIS GREEFF PROKUREURS
ADVOKAAT VIR RESPONDENT: ADV P A SWANEPOEL
IN OPDRAG VAN: LIEZEL SWART PROKUREURS