South Africa: High Courts - Gauteng

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: High Courts - Gauteng >>
2005 >>
[2005] ZAGPHC 336
| Noteup
| LawCite
S v Lukhele en 'n Ander (A1308/2005) [2005] ZAGPHC 336 (7 November 2005)
Download original files |
A1308/2005 /SG
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID AFRIKA
(TRANSVAALSE PROVINSIALE AFDELING)
DATUM: 07/11/2005
ONRAPORTEERBAAR
Landdros
VOLKSRUST
Saak No: 324/2005
Hooggeregshof Verw No: 3611
DIE STAAT V JULY SAMSON LUKHELE en THANDI JOANA LUKHELE
HERSIENINGSUITSPRAAK
VAN DER MERWE, R
Die beskuldigdes is op 5 September 2005 in die landdroshof te Volksrust skuldig bevind aan ’n oortreding van artikel 2 van die Wet op Veediefstal, no. 57 van 1959. Hulle is op dieselfde dag soos volg gevonnis:
1. Beskuldigde no. 1: R800.00 of twee maande gevangenisstraf plus ’n verdere ses maande gevangenisstraf wat op sekere voorwaardes vir ’n tydperk van drie jaar opgeskort is; en
2. Beskuldigde no. 2: R1 500.00 of vyf maande gevangenisstraf wat in geheel op sekere voorwaardes vir ’n tydperk van vyf jaar opgeskort is.
Die kantoorhoof van die landdroshof te Volksrust het die aangeleentheid op spesiale hersiening gestuur met die versoek dat die skuldigbevinding tersyde gestel word en dat ’n de novo verhoor gelas moet word. Die redes wat die kantoorhoof aangevoer het is soos volg:
1. Die beskuldigdes het na bewering voldoende rekenskap van hulle besit van die vleis gegee en moes die bepalings van artikel 113 van Wet 51 van 1977 toegepas gewees het;
2. Nie een van die beskuldigdes het erken dat toe hulle in besit van die vleis gevind is, die polisie ’n redelike verdenking gehad het of moes gehad het dat die vleis gesteel was nie;
3. Paragraaf (3) van beskuldigde no. 1 se skriftelike pleitverduideliking maak geen sin nie.
Toe die aangeleentheid aanvanklik op hersiening gedien het, het ek dit na die kantoor van die Direkteur van Openbare Vervolgings verwys vir kommentaar. ’n Baie behulpsame en besonder volledige memorandum is ontvang van adv. S C Bukau waarmee adv. B J Bredenkamp SC saamstem. Ek is die advokate dank verskuldig oor die volledige wyse waarmee hulle met die saak gehandel het. Ek gaan nie al die inligting in die memorandum gebruik nie, nie omdat dit nie van belang is nie maar omdat ek van mening is dat dit op ’n eenvoudige wyse afgehandel kan word.
Die beskuldigdes het aanvanklik tereg gestaan op ’n aanklag van diefstal deurdat hulle na bewering gedurende Junie 2005 een skaap, die eiendom of in die regmatige besit van ’n onbekende persoon gesteel het. Beide die beskuldigdes is deur dieselfde regsverteenwoordiger bygestaan. Hulle het beide skuldig gepleit op die eerste alternatiewe aanklag, naamlik ’n oortreding van artikel 2 van Wet 57 van 1959, die besit van vermoedelik gesteelde vee of produkte. Geskrewe pleitverduidelikings is in die rekord ingelees en ontvang as bewysstukke A en B. Die staat het die pleite van skuldig aanvaar waarna beide die beskuldigdes op die eerste alternatiewe aanklag skuldig bevind is.
Dit is nodig om te verwys na die inhoud van beskuldigde no. 1 se pleitverduideliking soos dit voorkom in paragrawe (2) tot (4) van bewysstuk A. Geparafraseer lui dit soos volg:
“... I plead guilty to the charge of possession of stolen raw meat in that on or about 27 June 2005 an African male came to my house ... and told me he was selling meat and I bought it for R150.00 and this unknown African male left my house. I admit that I was in possession of stolen raw meat and that I obtained it without reasonable proof as to whether it was stolen from this African male I obtain it from. I admit that I was approached by the police and they asked me where and how I got this meat. I was unable to give reasonable explanation to them.”
Wat betref beskuldigde no. 2 se weergawe word dit soos volg in paragrawe (2) tot (4) van die pleitverduideliking, bewysstuk B weergegee:
“... I plead guilty to the charge of possession of stolen raw meat in that ... my husband told me that there was meat he had bought from an unknown African male the night before and he then left to go to work. I admit that I did not enquire from my husband as to whether the person he had bought it from had stolen it or not. I admit that when I was approached by the police and they asked me where and how I got this raw meat I was unable to give reasonable explanation to them.”
Dit is duidelik dat die beskuldigdes ’n verduideliking gegee het vir hulle besit sonder om te erken dat die polisie ’n redelike verdenking gehad het dat die vleis gesteel was. Talle aspekte is onbekend en moes sekerlik aangespreek gewees het. So byvoorbeeld die vraag waarom die polisie die beskuldigdes se perseel besoek en of deursoek het, die vraag ook oor wie teenwoordig was op die perseel tydens die polisie se aankoms, wie was in besit van die vleis gevind en wat was die persoon of die beskuldigdes se reaksie op daardie stadium. Geen aanduiding bestaan of die polisie ’n redelike verdenking gehad het dat die vleis gesteel was nie. Die toestand van die vleis is niks oor gesê nie. Die vraag is ook of die polisie hoegenaamd vir die beskuldigdes of wie ookal in besit van die vleis gevind was om ’n verduideliking gevra het.
Ek stem saam met die verteenwoordigers van die Direkteur van Openbare Vervolging dat die beskuldigdes redelike verduidelikings gegee het van hulle besit van die vleis. Moontlik kon die bepalings van artikel 3 van Wet 57 van 1959 van toepassing gewees het. Dit is iets wat deur die staat ondersoek moes word.
Die skuldigbevindings en vonnisse behoort tersyde gestel te word. Daar behoort verder deur die verhoorhof opgetree te word in terme van die bepalings van artikel 312 van Wet 51 van 1977.
Die skuldigbevinding en vonnis ten opsigte van beide beskuldigdes word tersyde gestel. Die aangeleentheid word terug verwys na die verhoorhof om ooreenkomstig die bepalings van artikel 312 van Wet 51 van 1977 met die aangeleentheid te handel.
W J VAN DER MERWE
REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF
Ek stem saam
J ELS
REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF
324/2005
/tikster. S geldenhuys