South Africa: High Courts - Gauteng Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Courts - Gauteng >> 2005 >> [2005] ZAGPHC 257

| Noteup | LawCite

S v Botha (A2487/2003) [2005] ZAGPHC 257 (27 May 2005)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID AFRIKA


(TRANSVAALSE PROVINSIALE AFDELING)


DATUM: 27/05/2005


SAAK NO: A2487/2003

ONRAPORTEERBAAR







In die saak tussen:


ANDRIES JOHANNES BOTHA APPELLANT


En


STAAT RESPONDENT



UITSPRAAK


JORDAAN, R


Die appellant het in die streekhof te Pretoria tereggestaan op 236 aanklagtes van bedrog alternatiewelik sameswering om bedrog te pleeg. Hy is aan al 236 aanklagtes skuldig bevind en is tot vyftien jaar gevangenisstraf gevonnis. Die klagtes was vir doeleindes van vonnis saamgeneem. Hy kom nou in hoër beroep op appèl na hierdie hof teen beide die skuldigbevindings en die vonnis.


Die aanklagte teen die appellant kom daarop neer dat hy gedurende 1993 tot 1997 vals eise aan die BTW afdeling van die Ontvanger van Inkomste voorgelê het. Dit word beweer dat die bedrae betrokke in hierdie vals eise ’n bedrag van R5 847 968.47 beloop het .


Elsie Johanna Coetzee het getuig dat sy werksaam is by die Suid Afrikaanse Inkomstediens (SAID) aanvanklik as ouditeur en later as ondersoeker by die spesiale ondersoek of kriminele ondersoek afdeling by SAID. Deel van haar pligte behels die ondersoek na BTW bedrog. Haar verslag, bewysstuk SR, vorm ’n belangrike bestandeel van die staat se saak teen die appellant.


Sy het getuig dat in Junie 1977 sy ’n navraag hanteer ten aansien van ’n besigheid, Jackie Slaghuis BK Centurion. By die adres tot haar beskikking was daar nie so ’n slaghuis gewees nie.


Sy is na die appellant se kantoor naamlik Stokes Botha en Schreiber Finansiële Dienste wat as rekenmeester van die BK aangegee was. Die appellant was nie daar nie en die ontvangsdame was onbewus van die bestaan van so ’n BK.


Terug by haar kantoor deel ’n kollega van haar, haar mee dat sy tydens ondersoek van ’n BK bekend as Lebele Plant Hire deur ’n bediende na dieselfde adres van Stokes Botha en Schreiber Finansiële Dienste verwys as synde die adres van die BK.


Hulle het toe deur middel van ondersoek vasgestel dat die appellant betrokke was by die volgende BK’s:


1. White Rain Equipment BK

2. Koloi Rentals BK

3. Bonolo Construction BK

4. Lebele Plant Hire BK

5. Jackie’s Slaghuis BK


Sy sê dat as gevolg van ondersoeke wat sy gedoen het sy vasgestel het dat vals eise vir terugbetaling van BTW gemaak was. Die totale bedrag ten opsigte van die vals eise met betrekking tot gemelde BKs is R1 292 701.90.


Die appellant was twee keer skriftelik versoek om bewyse te lewer ten opsigte van die terugbetalingseise maar hy het nie op hierdie versoeke gereageer nie.


Verdere ondersoek lei toe daartoe dat sy vasstel dat die appellant ook betrokke was by ’n reeks verdere BKs naamlik:


1. Van Riebeeck’s Slaghuis BK

2. Sansekop BK

3. Alda Botha Handeldrywende as Alda Botha Boerdery BK

4. Ka Moka Transport BK

5. Thaisa Electronics BK

6. AJ Botha Handeldrywende as Anda Boerdery BK

7. Small and Tall Plant Hire BK

8. Octopus Rentals BK

9. Software Toolbox (Edms) Beperk

10. Anda Plant Hire BK

11. Anda Meatmarket BK

12. Anda Freezar Foods BK

13. Anda Transport BK

14. Anda Rollermeule (Edms) Beperk


Sy het getuig dat sy die transaksies nagegaan het van die gemelde BKs ten opsigte waarvan terugbetaling vir BTW van die Ontvanger geëis is. Sy het ’n lys van fiktiewe transaksies opgestel wat uiteindelik die grondslag vir die 236 klagtes van bedrog gevorm het.


Me G J van Eden het getuig dat sy by Stokes Botha en Schreiber Finansiële Dienste gewerk het as administratiewe beampte. Sy het getuig dat die werkspapiere van die BKs ter sprake onder beheer van die appellant was. Sy getuig dat die Ontvanger se kantoor dikwels geskakel het met navrae maar dat die appellant dit geïgnoreer het. Sy is seker sy het die Ontvanger se boodskappe aan die appellant oorgedra.


William Schreiber is ingevolge die bepalings van artikel 204 van Wet 51 van 1977 gewaarsku as medepligtige. Hy was in diens by die appellant as ’n rekenmeester.


Hy het getuig dat hy by ’n hele aantal geleenthede in opdrag van die appellant vals fakture gegenereer het ten einde BTW eise wat by die Ontvanger ingedien is te regverdig. Die doel was om die Ontvanger ’n rat voor die oë te draai in geval van oudits. Hy getuig verder dat wanneer die ontvanger navrae gerig het die appellant voete gesleep het en gesloer het en verskonings uitgedink het. Vals fakture wat hy gegenereer het is op sterkte van inligting wat die appellant aan hom gegee het gefabriseer. Briefhoofde van die maatskappye is ook deur die appellant aan hom verskaf. Daar sal hieronder in meer besonderhede na hierdie aspek verwys word.


Me M E Pake het getuig dat sy drie jaar voor sy getuig het skuldig gepleit het aan bedrog teen die Ontvanger en tot tien jaar gevangenisstraf gevonnis is. Haar vonnis is op appèl verminder en sy was ten tye van haar getuienis onder korrektiewe toesig aangesien haar vonnis aldus omskep is. Sy het tevore vir die appellant gewerk en daar het ook ’n meer intieme verhouding tussen hulle ontstaan.


Sy sê die appellant was verantwoordelik vir die administrasie. Die onderskeie BKs voormeld was geregistreer maar was nie effektief werksaam as besighede nie. Sy het ook in opdrag van die appellant fakture gegenereer na aanleiding van inligting deur die appellant aan haar verstrek. Daar sal later na verdere aspekte in haar getuienis teruggekeer word as die onderskeie aanklagtes bespreek word.


Die getuies S B Pretorius, S M Pretorius, C M van der Bank, G E J van Vuuren, P J Meyer, P J Korf, C Vissekerke, C F van der Nest, M C Vissekerke en C Golden het getuig oor vals fakture en ander dokumentasie asook beweerde transaksies wat nooit met hulle plaasgevind het nie. Waar nodig word hieronder na hul getuienis verwys. P J Korf het ook getuig dat die appellant by geleentheid lêers op die plaas aangebring het en dat hy die appellant gehelp het om die rugkante van die lêers te verbrand.


Me J M Humann het ook getuig dat sy in diens van die appellant was. Sy het bevestig dat Schreiber haar gevra het om die kantoor te verlaat wanneer hy fakture op die rekenaar gedruk het.


Ek gaan nou daartoe oor om die onderskeie klagtes te bespreek.


Ten opsigte van white RainEquipment BK (klagtes 1 tot 6) Koloi Rentals (klagtes 7 tot 17) en Bonolo Construction BK (klagters 18 tot 32) was die appellant se moeder die verteenwoordiger en die appellant die rekenmeester. Dit het uiteindelik gemeensaak geblyk te wees dat die appellant se moeder nie in enige van hierdie BKs of in enige ander BK deur die appellant gestig enige aktiewe rol gespeel het nie.


In elk van die 32 gevalle is die BTW 201 opgawes deur die appellant voltooi.


Die appellant het versoeke om stawende dokumente vir ’n oudit voor te lê geïgnoreer. Hy het herhaalde boodskappe in die verband onbeantwoord gelaat. Tydens deursoeking en beslaglegging deur SARS kon geen fakture ter stawing van bogenoemde BTW eise gevind word nie.


Dieselfde gebeur ten opsigte van Lebele Plant Hire BK (klagtes 33 tot 48) die appellant se moeder was die verteenwoordiger en die appellant die rekenmeester. Die eise is deur die appellant voltooi en die tjeks ter betaling daarvan is deur die appellant agterop geteken. Geen fakture ter ondersteuning van eise kon gevind word nie. Een faktuur is in November 1994 teruggetel (die eis is geweier) weens die twyfelagtige aard daarvan. Die faktuur is volgens die getuie S B Pretorius nooit deur S B Plant Hire BK uitgereik nie (soos wat dit voorgee om te wees) en die getuie Schreiber getuig dat die faktuur in opdrag van die appellant deur hom gegenereer vervals is.


Ten opsigte van Van Riebeeck Slaghuis BK (klagte 49) was die appellant se eggenote die verteenwoordiger, Schreiber die rekenmeester en die BTW201 opgawe deur die appellant voltooi. Die eis is gebaseer op ’n faktuur wat volgens Schreiber deur hom in opdrag van die appellant gegenereer is. Net soos in die geval van die appellant se moeder het sy eggenote op die getuienis hoegenaamd geen rol in die besigheid van enige van die BKs gespeel nie.


Ten opsigte van Sansekop BK (klagtes 50-61) is die eise of deur die appellant of deur Schreiber voltooi en ingedien. Slegs ten opsigte van klagtes 50 en 51 is fakture gevind. Schreiber getuig dat hy die twee fakture in opdrag van die appellant gegenereer het. Die fakture gee voor te wees uitgereik deur SPG Konstruksie. Die enigste direkteur van SPG Konstruksie, C Golden, getuig dat die bouwerk aangetoon in die fakture nie deur SPG Konstruksie gedoen is nie.


Korf, die appellant se oom, getuig dat die konstruksie soos beskryf in die fakture nie op Sansekop voorkom nie.


Ten opsigte van Alda Botha Handelende as Alda Botha Boerdery (klagtes 62 tot 76) kon ten aansien van klagtes 63 tot 76 geen stawende fakture gevind word nie. Ten opsigte van klagte 62 is wel ’n aantal fakture gevind. In paragraaf 21.3 tot 21.8 van haar verslag sit Me. Coetzee oortuigend uiteen waarom hierdie fakture vals was. Afgesien hiervan getuig Schreiber dat hy van die fakture in opdrag van die appellant in antisipasie van ’n oudit deur SARS gegenereer het. Me. Pake getuig ook dat sy in alle waarskynlikheid twee van die dokumente (ET2 en ET3) in opdrag van die appellant op ’n tikmasjien gegenereer het.


Dieselfde patroon blyk ten aansien van klagte 63. Fakture wat veronderstel is om die eis te ondersteun blyk uit die getuienis van Van der Bank verbonde aan die Vissekerke groep met wie die transaksies na bewering gesluit was vals te wees. Dit word gestaaf deur Schreiber dat hy die fakture in opdrag van die appellant in afwagting van ’n SARS oudit gegenereer het, en die getuienis van M C Vissekerke dat die verkope aangedui op fakture ET8 tot ET11 nooit plaasgevind het nie.


Ten opsigte van klagtes 77 tot 94 (Kamoka Transport BK) was die verteenwoordiger volgens die dokumentasie van die BK die appellant se eggenote en Schreiber die rekenmeester. Die BTW eise is egter deur die appellant voorberei en ingedien. Slegs een faktuur is tydens ’n SARS oudit voorgelê waarvolgens SPG Konstruksie ’n trok en ’n Fiat trekker aan Kamoka sou verkoop het. Volgens Schreiber het hy die faktuur in opdrag van die appellant gegenereer. Golden van SPG Konstruksie getuig dat so ’n transaksie nooit plaasgevind het nie en dat die faktuur nie deur SPG Konstruksie uitgereik is nie.


In paragraaf 14 van die respondent se betoogshoofde betoog Mnr. Fourie soos volg:


“’n Ondersoek na SPG Konstruksie se verklaarde uitset opgawes het ook getoon dat die BTW geëis op bovermelde ‘faktuur’ (R14 902.45) tesame met die een ‘faktuur’ wat na bewering aan Sansekop gelewer is ... baie meer is as die verklaarde uitsetbelasting van SPG Konstruksie. Die twee fakture – wat beide na bewering in dieselfde maand uitgereik is – se totale BTW beloop R41 512.64 terwyl die totale uitset van SPG Konstruksies slegs R25 789.00 beloop het. Hierdie anomalie moet beoordeel word teen die feit dat die appellant ook SPG Konstruksie se rekenmeester was.”


Ten aansien van die res van die eise kon geen stawende fakture voorgelê word nie.


Ten opsigte van klagtes 95 tot 97 (Thaisa Electronics BK) was die appellant se eggenote weereens die verteenwoordiger Schreiber die rekenmeester en is die BTW eise deur die appellant voorberei en ingedien.


Ter ondersteuning van die eis in aanklag 95 was die faktuur uitgereik deur Software Toolbox (Edms) Beperk. Die appellant was die verteenwoordiger van hierdie maatskappy.


Geen faktuur kon ten opsigte van die eis waarop aanklag 96 betrekking het gevind word nie.


Ten opsigte van klagtes 97 is deur SARS gepoog om ’n oudit te doen. Volgens Coetzee het die appellant die oudit vermy. Die uitset wat verklaar is, is kleiner as die uitset wat verklaar moes gewees het ten opsigte van ’n faktuur van Compuroots ten opsigte waarvan hierdie transaksie na bewering sou plaasgevind het.


Ten opsigte van klagtes 98 tot 125 (A J Botha Handeldrywende as Anda Boerdery BK) was die appellant die verteenwoordiger van die BK en ten spyte van die feit dat hy nie die rekenmeester daarvan was nie het hy die BTW eise voorberei en ingedien.


Ten opsigte van klagtes 106 en 107 is ’n sogenaamde tafel oudit gedoen. (Dit is ’n oudit wat bloot gedoen word deur na dokumente wat voorgelê is te kyk) geen stawende fakture kon gevind word nie. Ten opsigte van klagte 125 is ook ’n tafel oudit gedoen maar dit is teruggetel (geweier) omdat die beweerde ondernemer nie opgespoor kon word nie. Die weiering van die eis is nie deur die appellant bevraagteken nie.


’n Versoek om bewyse voor te lê ten opsigte van die eise waarop aanklagtes 124 en 125 gebaseer is, is deur die appellant geïgnoreer.


Ten opsigte van die balans van die klagtes kon geen stawende dokumente gevind word nie.


Ten opsigte van klagtes 126 tot 143 (Small and Tall Planthire BK) was die appellant die verteenwoordiger en Schreiber die rekenmeester. Met die uitsondering van die eis waarop klagte 126 gebaseer is kon geen stawende fakture vir die eise voorgelê word nie. Die faktuur ten aansien van klagte 126 is vir die aankoop van ’n trok en ’n Fiat trekker vanaf C J van Vuuren Konstruksie. Die voertuie is dieselfde as wat op presies dieselfde datum na bewering deur Kamoka BK van SPG Konstruksie gekoop is. (Sien hierbo.) Van Vuuren het getuig dat hy nie so ’n transaksie aangegaan het nie, inderdaad nooit in besit van sulke items was nie, en dat die faktuur wat die transaksie ondersteun nie deur hom of sy BK uitgereik is nie. Bevestiging hiervan is Schreiber se getuienis dat hy op sterkte van inligting deur die appellant verskaf die faktuur gegenereer het.


Ten opsigte van klagtes 144 tot 152 (Octopus Rentals BK) was die appellant die verteenwoordiger en rekenmeester van die BK en hy het die BTW eise voorberei en ingedien. Ek stem saam met die staat se betoog dat die afwesigheid van enige ander depositos in die BK se bankrekening benewens die inbetaling van die eise in die rekening deur SARS daarop dui dat die BK geen daadwerklike besigheid gedoen het nie. Volgens Mev. Coetzee was die besigheidsadres van die BK dieselfde fiktiewe besigheidsadres wat vir Jackies Slaghuis gebruik is.


Die eis waarop klagte 152 betrekking het is nie deur die ontvanger uitbetaal nie. Die appellant het dit nie benavraag nie.


Daar was ook nie fakture om die balans van die eise te bevestig nie.


Ten opsigte van klagtes 153 tot 169 [Software Toolbox (Edms) Beperk] was die appellant die enigste direkteur van die maatskappy. Die BTW eise is deur hom voorberei en ingedien hoewel Schreiber die rekenmeester was. Ten spyte van die feit dat ten aansien van die meeste van hierdie eise groot bedrae ter sprake is, is geen fakture ter bewys van die transaksies gevind nie.


Ten opsigte van klagtes 170 tot 186 (Anda Planthire BK) was die appellant die verteenwoordiger van die BK en Schreiber die rekenmeester. Die appellant het tekenmagte op die BK se rekening gehad. Met betrekking tot klagte 170 het Schreiber dokumente aan SARS gefaks ter ondersteuning van die eis. Volgens die staatsgetuies is die dokumente nie eg nie: Me. Pake getuig dat dokument MY3 waarin sy ontvangs erken vir die betaling van ’n Isuzu bakkie deur haar vervals is.


Dokument MY4 vir dieselfde eis gee voor dat S P Pretorius ’n Datsun 4X4 aan Anda Planthire verkoop. Pretorius kon nie onthou dat hy die dokument geteken het nie. Die dokument gee voor dat die voertuig vir R30 000.00 verkoop is en dat die registrasienommer JCN686T is. Pretorius die koopprys van die bakkie was tussen R10 000.00 en R12 000.00. Volgens Mev. Coetzee behoort voormelde registrasienommer aan ’n Mazda Sedan motor en nie ’n Datsun 4X4 nie.


Dokument MY5 gee voor dat Mev. Botha R25 000.00 ontvang het vir ’n trekker wat sy aan Alda Plant Hire verkoop het. Volgens Mev. Botha egter was die trekker ’n sekuriteit vir ’n lening wat sy aan die appellant gemaak het. Daar was dus nie ’n koop en verkoop transaksie nie.


Ten aansien van klagte 186 kon die ondernemer nie deur SARS opgespoor word nie en is die eis teruggetel (geweier). Weereens het die appellant dit nie bevraagteken nie.


Ten aansien van die res van die klagtes kon geen fakture gevind word om die eise te ondersteun nie.


Ten opsigte van klagtes 187 tot 202 (Anda Meat Market) was die appellant verteenwoordiger van die BK en Schreiber die rekenmeester. Die BTW eise is egter deur die appellant voorberei en ingedien.


Ten opsigte van klagte 187 is twee fakture voorgelê wat voorgee te wees vir ’n trok verkoop deur Bop Planthire. Die getuies Van der Bank, C Vissekerke en Van der Nest ontken dat Bop Planthire so ’n transaksie met die BK aangegaan het. Verder getuig Schreiber dat die faktuur NX4 deur hom in opdrag van die appellant gegenereer is.


Ten opsigte van faktuur NX3 getuig P J Meyer dat hy nie – soos die faktuur voorgee – ’n koelkamer vir BK opgerig het of ’n vleissaag en worsstopper aan die BK verkoop het nie. Schreiber sê ook dat die faktuur deur hom in opdrag van die appellant gegenereer is.


’n Poging om die BK te oudit is deur die appellant en Schreiber geïgnoreer. Die Ontvanger tel toe die eis terug om ’n reaksie te ontlok. Die appellant het egter weereens nie die optrede van die Ontvanger benavraag nie.


Daar is geen fakture op die res van die eise ten opsigte van hierdie klagtes te ondersteun nie.


Ten opsigte van klagte 203-221 (Anda Freezer Foods BK) was die appellant die verteenwoordiger van die BK en Schreiber die rekenmeester. Die appellant het weereens egter die BTW eise voorberei en ingedien.


Die fakture wat die eis waarop aanklag 203 betrekking het is volgens Van Der Bank en die Vissekeres vals. Hulle ontken dat enige van hul BK’s enige koeltrok of koelkamers gelewer het aan die appellant se BK soos die fakture voorgee.


Ten aansien van die res van die eise kon geen stawende fakture gevind word nie.


Ten opsigte van klagtes 222 en 223 (Anda Transport BK) was die appellant die verteenwoordiger en rekenmeester van die BK. Hy het ook die BTW eise voorberei en ingedien. Uit die bankstate van die BK blyk dit dat die enigste inbetalings en onttrekkings die bedrae is wat die Ontvanger op die eise uitbetaal het. Ek stem met Mnr. Fourie namens die staat saam dat dit aanduidend is dat die BK nie werklik besigheid gedoen het nie. Die besigheidsadres van die BK is ook vals. Van Vuuren ontken dat sy adres wat as adres opgegee is as besigheidsadres ooit gebruik is vir die BK.


Daar is verder geen fakture wat die eise met betrekking tot hierdie aard klagte ondersteun nie.


Ten opsigte van klagtes 224 tot 236 [Anda Rollermeule (Edms) Bpk] was die appellant weereens die verteenwoordiger van die maatskappy. Hy het die BTW eise opgestel en ingedien.


Ten opsigte van klagte 224 is ’n faktuur voorgelê wat aandui dat ’n voertuig deur L-data South Africa gekoop is. Afgesien van ander verdagte omstandighede rondom die faktuur getuig Schreiber dat hy die faktuur gegenereer het in opdrag van die appellant op sterkte van inligting wat hy vir die appellant verkry het.


Ten opsigte van klagte 225 getuig Schreiber dat hy insgelyks die drie fakture wat op hierdie klagte betrekking het in opdrag van die appellant gegenereer het.


Ten opsigte van klagte 227 was die eis op sterkte van ’n faktuur uitgereik deur White Rain Equipment. Die appellant was die rekenmeester van White Rain (sien klagtes 1 tot 6 supra). In die ooreenstemmende periode het White Rain ’n nulopgawe ten aansien van uitsetbelasting ingedien.


Ten aansien van die res van die klagtes is weereens geen stawende dokumente gevind om die eise te ondersteun nie.


Die appellant se weergawe strek oor ’n paar honderd bladsye. Om elk en ’n ieder aspek daarvan hier op te som is na my mening onnodig. Ons het dit nagegaan. Natuurlik hoef sy weergawe net redelik moontlik waar te wees om sy ontslag te verseker. Die landdros het sy weergawe verwerp ten koste van die van die staatsgetuies.


Soos die landdros tereg in sy uitspraak aandui het die appellant in dispuut getree met elk en ieder aspek wat hom in hierdie saak inkrimineer. Die getuies wat getuig het dat hy navrae deur die Ontvanger ontduik het is ontken. Schreiber is as sondebok gebrandmerk. Hy het ontken dat fakture in sy opdrag vervals is. Slegs fakture van sy eie besighede is na die tyd gegenereer.


Volgens die appellant het die transaksies gereflekteer in die dokumentasie inderdaad plaasgevind en daar was geen fiktiewe transaksies nie. Die afwesigheid van dokumentasie verklaar hy deur te sê dat tydens verhuising van sy kantoor lêers in swart sakke geplaas was en dat mense van die straat gekry was om dit te dra. Die sakke raak toe verlore. Daar is ook gewag gemaak van die feit dat die staat op ’n groot aantal van sy dokumentasie beslag gelê het. Die insinuasie is dat daar van die dokumente relevant in hierdie saak onder daardie dokumente was. Die appellant was deurentyd gedurende sy saak verteenwoordig. Die vraag ontstaan waarom daardie dokumente dan nie nagegaan is ten einde dit voor die hof te plaas nie.


Die appellant het herken dat sekere dokumente wel verbrand is maar dit was ou dokumente sê hy. Korf praat nie die waarheid as hy sê dat hy daarmee gehelp het om die dokumente te verbrand nie.


As daar vals fakture was dan is Schreiber die een wat daarvoor aanspreeklik was.


’n Karakter ene Vaan Botma figureer permanent in die appellant se getuienis. Of daar so ’n persoon bestaan of nie weet ek nie. Die landdros dui egter tereg aan dat Botma nog in die staatsaak nog tydens die ondersoeke deur die Ontvanger figureer. ’n Mens sou verwag dat Vaan Botma se doen en late aan die staatsgetuies gestel sou gewees het indien hy inderdaad die rol in die besighede gespeel het wat die appellant aan hom toedig.


By die nagaan van die staat se getuienis sowel as die getuienis namens die verdediging kan ek nie bevind dat enige iets wat die appellant gesê het die afleiding ontsê nie dat hier ’n bedrieglike skema was waarvan die Ontvanger van Inkomste die prooi was nie. In soverre die landdros die appellant se getuienis verwerp het ten koste van die staatsgetuies kan ek die bevinding nie bevraagteken nie.


Die landdros het die gevare verbonde aan die aanvaarding van ’n erkende medepligtige, Schreiber, en ’n veroordeelde bedrieër, Pake, ingesien. By die beoordeling van die getuienis as geheel – en dit is hoe getuienis in ’n strafsaak beoordeel moet word – pas hul getuienis in by die legkaart waarvan die res van die staatsgetuies die stukke vorm.


Ek kan nie sê dat die landdros in sy geloofwaardigheidsbevindinge misgetas het nie.


Die staat se getuienis as geheel dui op ’n konstante patroon. Vals eise is ingedien op ’n ... of nie bestaande fakture. Dit staan na my oordeel soos ’n pal bo water. Die appèl teen die skuldigbevinding kan gevolglik nie slaag nie.


Die appellant is ’n vonnis van vyftien jaar gevangenisstraf opgelê nadat alle klagtes vir doeleindes van vonnis saamgeneem is.


Die persoonlike omstandighede van die appellant is wel deeglik deur die landdros in ag geneem. Hy is 47 jaar oud, geskei maar weer versoen. Hy het nie vorige veroordelings nie. Hy het in ’n gebroke huis grootgeword.


Die verswarende omstandighede daarenteen is:

(a) Die bedrag betrokke, bykans R6 000 000.00.

(b) Sy vrou en sy moeder is gebruik om die misdade te pleeg.

(c) Ook Schreiber is betrek om die misdade te volvoer.

(d) Die periode waartydens hierdie stelselmatige en bebrande bedrieglike handelinge gestrek het strek oor jare.

(e) Die Ontvanger is ten opsigte van BTW groot en deels aangewese op die bona fides van die belastingpligtiges.

(f) Nie alleen bring optrede soos die van die appellant die fiskus ingedring nie maar reflekteer ook op ander belastingpligtiges – die man op straat – wat die tekorte in die staatskas as gevolg van misdadige optrede moet aanvul.


Die landdros is ’n verwysing na wat gesê is in S v Rabie 1975 4 SA 855 (A) is sekerlik nie misplaas nie. Op 862H merk HOLMES AR soos volg op:


Fraud is always a grave and ugly offence, and worse when it is fanned by human cupidity over a delivered period. What is particularly heinous in this case is the fact that the fraud was deliberately planned, and it was deliberately perpetrated nineteen times over a period of seventeen months. The appellant had ample time for reflection and a change of heart. There is thus revealed a protracted and contemptuous interference to integrity, design to frustrate the detection of repetitive and gainful crimes.”


Sien ook S v Erasmus 1998 (2) SASV 466 (OK) waar die volgende gesê word:


It is commonly known that white colour crimes in this country, such as thefts, frauds committed by people in possession of authority and trust, have reached alarming proportions. In the interest of society where balanced against the personal interest of the accused, the magnitude of the crime dictated that the accused had to serve a term of imprisonment.”


In S v Sadler 2000 (1) SASV 331 (HHA) is ’n bankbestuurder se vonnis vir onder andere bedrog van R300 000.00 van twee jaar opgeskort na vier jaar direkte gevangenisstraf verhoog. In S v Preis and Another 2003 SASV 551 (HHA) is ’n prokureur skuldig bevind aan bedrog in die bedrag van R1 945 000.00. Hy was 49 jaar oud, getroud en het drie afhanklike kinders gehad. Hy was ook ’n eerste oortreder. As gevolg van die beplanning betrokke is sy vonnis van vyftien jaar gevangenisstraf op appèl bekragtig.


Die appellant het deur middel van minstens agtien BKs ’n meganisme geskep wat oor jare bereken die Ontvanger bedrieg het. Ek vind geen mistasting deur die landdros by sy bepaling van ’n gepaste vonnis nie. Hy het hom in geen opsig wanvoorgelig nie.


Die appèl teen die skuldigbevinding en vonnis word van die hand gewys.


E JORDAAN

WAARNEMENDE REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF


A2487/2003


DATUM VAN VERHOOR:

NAMENS DIE APPLIKANT:

IN OPDRAG VAN: MNRE

NAMENS DIE RESPONDENT: ADV

IN OPDRAG VAN: MNRE

DATUM VAN UITSPRAAK: