South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >>
2017 >>
[2017] ZAFSHC 77
| Noteup
| LawCite
Smith v Smith (1324/2017) [2017] ZAFSHC 77 (23 May 2017)
Download original files |
FREE STATE HIGH COURT, BLOEMFONTEIN
REPUBLIC OF SOUTH AFRICA
Saak No.: 1324/2017
In die saak tussen:
JANNETHA ADRIANA SMITH Applikant
en
FERDINAND JACOBUS SMITH Respondent
UITSPRAAK: HEFER, WnR
AANGEHOOR OP: 11 MEI 2017
GELEWER OP: 23 MEI 2017
[1] Die Applikant in die aansoek in terme van Reël 43 verlang ʼn bevel in terme waarvan ʼn bedrag onderhoud pendente lite sowel as bydrae tot koste aan haar betaal word. Die Applikant is ʼn 63 jarige administratiewe klerk wat vir die laaste 13 jaar in diens is van een van die besighede van die Respondent. Die Applikant verdien ʼn bruto salaris van R17 000,00 waarvan die netto salaris wissel tussen R11 712,00 en R12 000,00 per maand, afhangend of dit ʼn vier of vyf week maand is. Dit blyk dat die partye reeds sedert Desember 2016 nie meer in dieselfde gemeenskaplike woning woon nie en dat die Applikant sedertdien in ʼn huis, waarvan sy die geregistreerde eienaar is, woonagtig is. Terwyl die partye nog saamgewoon het in die gemeenskaplike woning, is die huis klaarblyklik twee jaar gelede omskep in ʼn gastehuis. Volgens die Applikant het die Respondent, op die stadium toe Applikant die gemeenskaplike woning verlaat het, geweier dat sy enige van haar meubels uit die woning neem aangesien hy van mening was dat dit nou so geplaas is om die gastehuis te verfraai. Daar blyk ʼn geskil te wees oor die hoeveelheid, indien enige, meubels, waarvan Applikant dan die eienaar is in die eertydse gemeenskaplike woning agtergelaat is. Wat wel gemeensaak is, is dat die Applikant ʼn tafel en twee stoele waarvan sy die eienaar is, reeds verwyder het.
[2] Dit is verder ook gemeensaak dat op die stadium wat Applikant die gemeenskaplike woning verlaat het, Respondent ʼn bedrag van R150 000,00 aan haar oorbetaal het. Die Applikant beweer dat laasgenoemde bedrag aan haar oorbetaal is ten einde haar in staat te stel om nuwe meubels aan te koop vir die woning waar sy huidiglik woonagtig is. Daarenteen beweer die Respondent dat die woning waar die Applikant tans woonagtig is voor die Applikant se intrek as gastehuis en selfsorg-verblyf benut is en dit juis as gevolg van voormelde behoorlik gemeubeleer en toegerus is. Die Respondent beweer dat die R150 000,00 is aan Applikant betaal om haar in staat te stel om haar voete te vind en haarself te onderhou.
[3] Wat belangrik is vir doeleindes van die onderhawige aansoek is dat dit blyk dat die Applikant, op advies van haar prokureur, nog nie hierdie bedrag gebruik het nie en dit klaarblyklik belê het tot afhandeling van die egskeidingsgeding. Hierdie feit word as sulks nie deur die Respondent betwis nie, maar bevraagteken hy die korrektheid van die advies wat die Applikant in hierdie verband ontvang het. Dit is hierdie bedrag wat tans die hoofpunt van kontensie blyk te wees.
[4] Mnr van Aswegen namens die Applikant het betoog dat waar hierdie bedrag, op die weergawe van die Applikant, aan Applikant oorbetaal is ten einde meubels aan te koop, en die Applikant dit inderdaad aangewend het om te belê as ʼn kapitale bate, daar nie van Applikant verwag kan word om hierdie fondse te gebruik vir doeleindes van onderhoud en meer spesifiek onderhoud pendente lite nie. Mnr Els namens die Respondent het op die weergawe soos gestel deur die Respondent aangevoer dat waar hierdie bedrag aan Applikant oorbetaal is om soos deur Respondent beweer om:
“... haar in staat te stel om haar voete te vind en haarself te onderhou”
hierdie fondse inderdaad daarvoor aangewend moet word, ten minste pendente lite.
[5] Op hierdie stadium is dit doenlik om te vermeld dat vòòr die aanvang van die aansoek, mnr Van Aswegen namens die Applikant aangetoon het dat hy sal aansoek doen vir uitstel van die aansoek ten einde aansoek te doen vir verlof om ʼn verdere verklaring te liasseer namens die Applikant. Dit het geblyk dat hierdie verklaring klaarblyklik sal handel met die inhoud van ʼn klaarblyklik, konsep akte van dading wat spesifiek sal handel met hierdie bedrag van R150 000,00.
[6] Dit is so dat Reël 43 nie voorsiening maak vir die liassering van ʼn repliserende verklaring nie. Reël 43(5) maak wel daarvoor voorsiening dat ʼn party ʼn hof kan versoek om verdere getuienis te ontvang, hetsy by wyse van viva voce getuienis of ʼn verdere verklaring ten einde sodanige party se saak behoorlik voor die hof te plaas. (Sien: Verster v Verster 1975 (2) SA 493 op 494 (C)).
[7] Aangesien, soos ek van mnr Van Aswegen verstaan het, hierdie verdere verklaring met niks meer sou handel anders dan die inhoud van ʼn klaarblyklik konsep skikkingsakte nie, is hierdie versoek ten aansien van die verdere getuienis van die hand gewys. Ek het dit nie doenlik geag dat verdere getuienis aangehoor word op welke wyse ookal ten aansien van ʼn skikkingsakte wat klaarblyklik nie deur die partye onderteken is en as sulks nie voor die hof geplaas is nie.
[8] Uit die aard van die aansoekprosedure moet die bewerings van die onderskeie partye derhalwe oorweeg word op grond van die inhoud van die verklarings wat voor die hof geplaas is. Daar kan nie ʼn geloofwaardigheidsbevinding gemaak word ten aansien van enige van die partye op die aansoekstukke voor die hof nie. In Levin v Levin and Another 1962 (3) SA 330 (W) op 331 D is die volgende gesê:
“To decide the issues I am compelled to draw inferences and to look to the probabilities as they emerge from the papers. Obviously my findings are in no way binding on the trial court and indeed after hearing the evidence it may emerge that some or all of the inferences I have drawn are wrong. On this basis I now turn to the issues as they emerge from the papers.”
[9] Dit kan egter wel vermeld word dat dit hoogs onwaarskynlik is dat waar die Applikant gedurende ongeveer Desember 2016 reeds die gemeenskaplike woning verlaat met net ʼn tafel en twee stoele, Respondent dan aan haar ʼn bedrag oorbetaal ten einde haar in staat te stel om meubels aan te koop vir haar woning en sy dan eerder hierdie bedrag belê, die huis nie inderdaad behoorlik gemeubeleer en toegerus is soos deur die Respondent beweer nie.
[10] Ek is egter van voorneme om in die guns van die Applikant die aangeleentheid te bereg op die weergawe soos deur Applikant gestel, naamlik dat die bedrag inderdaad aan haar betaal is ten einde haar in staat te stel om meubels aan te koop en waar sy dit eerder belê het, hierdie bedrag as ʼn kapitale bate beskou moet word.
[11] In Micklen v Micklen 1988 (3) SA 259 (CPD) is die volgende gesê op 262 H – J:
“The fact that a husband has unlimited means does not in our law entitle his wife to unlimited spending. There is a difference between her wants and her needs (Grasso v Grasso 1987 (1) SA 48 (C) at 59 G – H.”
[12] In Barass v Barass 1979 (1) SA 247 R is die volgende gesê:
“There are many cases however where the wife may possess modest assets and husband though not a wealthy man, may still possess more assets than those of the wife. It seems in such a case it would be inequitable to compel the wife to exhaust all her modest assets before compelling the husband to make any contribution at all towards her costs, even though he would normally be described as ‘a rich man’. The same principles applicable to granting the wife maintenance pendente lite apply to contribution towards her costs. It therefore seems to me that it is proper to take into account the relative assets possessed by both parties in arriving at a conclusion, where it is apparent that both parties individually have the necessary funds to pay the costs.”
[13] In Kroon v Kroon 1986 (4) SA 616 (ECD) is daar verwys na die eiser in daardie aangeleentheid se motor ter waarde van R7 000,00 en meubels wat verseker was vir die bedrag van R34 000,00. Die hof verwys na sulke bates inderdaad as kapitale bates wat nodig is vir haar eie gebruik sowel as diè van haar kinders. In die onderhawige geval egter soos gestel, op die weergawe van die Applikant ontvang die Applikant die bedrag van R150 000,00 van die Respondent met die doel om soos deur haar gestel, vir haar meubels aan te koop op die stadium wat sy die gemeenskaplike woning verlaat. Klaarblyklik het die Applikant nie hierdie fondse nodig om meubels aan te koop nie aangesien sy dit nie aanwend vir daardie doel nie, maar dit gaan belê het. Dit is insiggewend dat in Applikant se uiteensetting van haar maandelikse inkomste, die Applikant geen besonderhede verskaf van die rente opbrengs uit hierdie belegging van R150 000,00 nie.
[14] Die Applikant self verkies om nie hierdie fondse aan te wend òf vir die aankoop van meubels nie òf vir onderhoud nie. Dit word net belê deur Applikant. In hierdie verband moet verder in gedagte gehou word dat die Applikant klaarblyklik ook bates van haar eie het en in besonder die onroerende eiendom waar sy tans woonagtig is, waarvan sy die geregistreerde eienaar is. Die R150 000,00 wat aan die Applikant betaal is, is derhalwe nie wat my aanbetref “... Capital assets needed for her own use …” soos daar na verwys word in Kroon v Kroon supra nie.
[15] Waar die Applikant derhalwe oor hierdie fondse beskik, meen ek dat die Applikant nie ʼn finansiële behoefte vir onderhoud pendente lite uitgemaak het nie. Afgesien van haar eie inkomste as administratiewe klerk kan die Applikant ook hierdie fondse aanwend aangesien die bedrag van R150 000,00, rente uitgesluit, ʼn bedrag van ongeveer R12 500,00 per maand vir ʼn tydperk van twaalf maande tot beskikking van Applikant stel, welke bedrag genoegsaam blyk te wees om die maandelikse tekort van R12 856,00, met in aanmerking van sekere geregverdigde aftrekkings, aan te vul.
[16] Wat die Applikant se versoek om bydrae tot kostes aanbetref, meen ek dat die Applikant wel ʼn saak uitgemaak het dat, gesien in die lig van die finansiële stand van die Respondent in vergelyking met diè van die Applikant, die Respondent ʼn bydrae behoort te maak tot die regskostes van die Applikant. Ek meen egter dat daar nie ʼn saak uitgemaak is vir afwyking van die gewone bedrag van R5 000,00 bydrae tot koste wat die bedrag is wat gewoonlik in hierdie Afdeling toegeken word as bydrae tot koste nie.
[17] In die lig van bogenoemde word die volgende beveel:
BEVEL
1. Respondent word gelas om ʼn bydrae tot Applikant se regskostes te maak in die bedrag van R5 000,00.
2. Die koste van die aansoek is koste in die hoofaksie.
________________
J.J.F HEFER, WnR
Namens die Applikant: Adv. W.A. van Aswegen
In opdrag van:
Bezuidenhoudts Ing.
BLOEMFONTEIN
Namens die Respondent: Adv. E.G. Els
In opdrag van:
Rossouw & Conradie Prokureurs
BLOEMFONTEIN