South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >>
2015 >>
[2015] ZAFSHC 74
| Noteup
| LawCite
B v B (3951/2013) [2015] ZAFSHC 74 (16 March 2015)
Download original files |
SAFLII Note: Certain personal/private details of parties or witnesses have been redacted from this document in compliance with the law and SAFLII Policy |
IN DIE HOë HOF VAN SUID-AFRIKA
VRYSTAAT AFDELING. BLOEMFONTEIN
Saaknommer.: 3951/2013
In die saak tussen:
M[...] P[...] B[...] ….............................................................................................................Applikant
en
S[...] J[...] B[...] …............................................................................................................Respondent
UITSPRAAK DEUR: DAFFUE, R
AANGEHOOR OP: 29 JANUARIE 2015
GELEWER OP: 16MAART2015
I INLEIDING
[1] Twee kinders, ‘n dogter J[...], tans 12 jaar oud en ‘n seun A[...], tans 10 jaar oud (“die kinders”), is die middelpunt van ‘n dispuut en toutrekkery rondom hul permanente bewoningsreg. Die kinders word binne enkele maande 13 en 11 jaar oud en is in Graad 7 en Graad 5 onderskeidelik.
II DIE PARTYE
[2] Applikant is M[...] P[...] B[...], die vader van die kinders en ‘n rekenmeester van beroep woonagtig te Bloemfontein. Hy is verteenwoordig in hierdie aansoek deur Adv A de Wet. Respondente is die moeder van die kinders en ‘n prokureur van beroep woonagtig te Bloemfontein. Sy is verteenwoordig deur Adv S Grobler.
[3] Applikant versoek die hof om die akte van dading van 25 November 2011 wat op 1 Desember 2011 ‘n hofbevel gemaak is, te wysig in die mate dat die permanente bewoningsreg van die kinders aan hom toegeken word en dat al die ander regte wat hy tot op hede geniet uit hoofde van die hofbevel in die toekoms aan respondente verleen word. Applikant vorder ook onderhoud in die bedrag van R1 750,00 per maand per kind welke bedrag presies dieselfde is as wat hy tans aan respondente betaal ten aansien van die kinders uit hoofde van die bestaande hofbevel en word koste van die aansoek in die kennisgewing van mosie gevorder.
[4] Die partye is op 15 Januarie 2000 met mekaar getroud, welke huwelik soos vermeld op 1 Desember 2011 ontbind is. Slegs die twee kinders, waarna hierbo verwys is, te wete J[...] en A[...], is uit die huweliksverhouding gebore en wel op 8 Mei 2002 en 1 Junie 2004 onderskeidelik.
[5] Op 24 Junie 2011 het applikant ‘n egskeidingsdagvaarding uitgereik onder saaknommer 2438/2011 waarin hy ‘n bevel van egskeiding verlang het en spesifieke ouerlike verantwoordelikhede en regte ten aansien van die kinders, in besonder dat die primêre sorg en permanente bewoningsreg van die kinders aan hom toegeken word onderhewig aan redelike kontakregte van respondente. Respondente het ‘n teeneis geliasseer waarin sy eweneens versoek het dat die permanente bewoningsreg van die kinders aan haar toegeken word met redelike kontak ten gunste van applikant.
[6] Enkele maande nadat die egskeidingsgeding aanhangig gemaak is, is dit geskik en het die partye op 25 November 2011 ‘n skriftelike skikkingsakte aangegaan wat op 1 Desember 2011 ‘n hofbevel gemaak is. Daarkragtens is ooreengekom dat beide partye met die voile ouerlike verantwoordelikhede en regte van versorging beklee sal word met betrekking tot die kinders onderhewig daaraan dat die permanente bewoningsreg van die kinders aan respondente toegeken word en dat sy gevolglik verantwoordelik is vir die dag tot dag versorging van die kinders, terwyl spesifieke kontakregte aan applikant toegeken is.
[7] Applikant wil die status quo nou verander sodat die permanente bewoningsreg van die kinders aan hom toegeken word. Sy aansoek word geopponeer en is volledige argumente deur my aangehoor op 29 Januarie 2015 waarna ek my uitspraak voorbehou het.
V DIE WEERGAWES VAN DIE PARTYE
[8] Applikant kan uit die aard van die saak nie direkte getuienis aanbied van wat in die huis van respondente aangaan sedert samewoning beëindig is nie. Hy is derhalwe daarop aangewese om te steun op inligting wat hy van die kinders ontvang en tot ‘n mate sy eie waarnemings soos ondere andere dat respondente se saamleefmaat, Mnr Dell, by geleentheid so “smoordronk” was dat hy “beswaarlik hoorbaar kon praat”. Desnieteenstaande het hy toegelaat dat Mnr Dell die kinders na respondente se huis vervoer in daardie toestand “om enige onaangenaamheid te vermy” soos in sy epos waarna ek hieronder verwys uiteengesit. Hy het dit egter goedgevind om agter hom aan te ry om te verseker dat hulle veilig tuiskom. Teenstrydig met wat Mnr Dell sou verkondig, het respondente skynbaar vroeër met haar huisbediende gereël dat sy nie die aand by die huis sou slaap nie. Respondente en Mnr Dell se weergawe ter opponering van die aansoek is dat hy nie onder die invloed van drank was nie, maar dat sy mond oortrek was van koorsblare. Ex facie die aansoekstukke het nóg respondente, nóg Mnr Dell op applikant se epos van 27 Februarie 2013, bylaag “C” tot die funderende beëdigde verklaring waarin die aantuigings wat applikant in hierdie verband onder eed maak, uiteengesit is, gereageer.
[9] Dit is duidelik met die deurlees van die aansoekstukke dat die kinders se band met respondente as hulle moeder versleg het vanaf die moment toe Mnr Dell op die toneel verskyn het.
[10] Die applikant steun op ‘n verslag van die sielkundige, Dr Zendrê Swanepoel wat die kinders ge-evalueer het aan die begin van 2013 toe hulle nog in Graad 5 en Graad 3 onderskeidelik was. Hulle was toe slegs 10 en 8 jaar oud en soos hierbo vermeld word hulle eersdaags 13 en 11 jaar onderskeidelik. Drie konsultasies is gevoer op 22 Februarie, 15 Maart en 16 Maart 2013 onderskeidelik. Afsonderlike onderhoude is met elke kind gevoer. Dit is duidelik dat dit A[...] se grootste wens is om by die applikant te woon soos dit ook duidelik verwoord is teenoor die sielkundige. Jané het ook baie duidelik laat blyk dat sy veiliger by applikant voel en dat hy en sy huidige eggenote dit vir die kinders lekker maak om by hulle te wees en drukkies en soentjies uitdeel, terwyl respondente baie op hulle skree, onnodig raas en Mnr Dell se drankmisbruik hulle ontstel. Kortom, beide kinders voel veilig en geborge by applikant en sy huidige eggenote in direkte kontras met hulle ervarings by respondente en Mnr Dell.
[11] Dit is insiggewend dat applikant respondente uitgenooi het om haar beskikbaar te stel vir ‘n onderhoud met Dr Swanepoel, maar dat die uitnodigings van die hand gewys is omdat “(o)ns kliënt is ongelukkig nie beskikbaar op gemelde tyd en datum om die eensydige gereëlde afspraak met Dr Zendrë Swanepoel na te kom nie.” Alhoewel die indruk geskep word dat respondente bereid sou wees om haar samewerking te gee in die toekoms word dit duidelik gemaak in dieselfde skrywe van Horn & Van Rensburg gedateer 19 Februarie 2013 dat sy uiters onwillig is om haar samewerking te verleen en ek haal die volgende aan:
“Huidiglik plaas ons op rekord dat ons kliënt nie toestem tot enige sodanige konsultasies en/of evaluasies van die minderjarige kinders alvorens u ons nie voorsien het van die redes daarvoor asook die verwysingsraamwerk daaraan verbonde nie. Ons kliënt is uit die aard van die saak meer as bereid om haarself te onderwerp aan ‘n evaluasie, sodra ons behoorlik in kennis gestel (sic) wat die aard en doel daarvan sal wees. U kliënt het wel by ons kliënt aangedoen, en gedreig dat die kinders voortaan by horn moet tuisgaan. Hy het ook aangedui dat hy formeel gaan aansoek doen hiervoor.”
Die inligting hierin vervat is verstommend omdat dit duidelik bevestig dat respondente inderdaad weet dat applikant evaluasies wil laat doen omdat hy van oordeel is dat die akte van dading gewysig behoort te word met betrekking tot die permanente bewoningsreg van die kinders en daarom is die tweede laaste paragraaf van die skrywe net so ontstellend:
“Ons is van oordeel dat, gesien in die lig van die trauma waardeur die kinders asook ons kliënt reeds gegaan het gedurende die loop van die egskeiding, enige verdere konsultasies en/of evaluasies soos versoek deur u kliënt ten voile en na behore gemotiveer word alvorens ons enigsins dit sal oorweeg om ons kliënt dienooreenkomstig te adviseer. Ons kan dit uit die aard van die saak slegs doen wanneer ons u kliënt se aansoek ontvang het.”
Die opvolgskrywe van Horn & Van Rensburg van 22 Februarie 2013 is ewe onverstaanbaar in die mate dat beweer word dat verhoed moet word dat evaluasies deur deskundiges “ontaard in ‘n visvang-ekspedisie”. Reeds op daardie stadium word dan beweer dat applikant en sy nuwe eggenote sowel as applikant se ouers die kinders “indoktrineer, manipuleeren opsteek”.
[12] Op 12 Junie 2013 het Symington & De Kok aan Horn & Van Rensburg geskryf en die verslag van Dr Swanepoel aangeheg. Respondente is versoek om aan te dui watter gekwalifiseerde kindersielkundiges sy tevrede mee sou wees om ‘n evaluasie te doen na aanleiding van haar bereidwilligheid verklaar in ‘n skrywe van 10 Junie 2013. Hierna het Horn & Van Rensburg die name van drie deskundiges voorgestel, maar respondente was nie bereid om verantwoordelikheid vir ‘n gedeelte van die koste te dra nie, alhoewel sy tevrede was dat die fooie van die deskundige eventueel takseerbaar en betaalbaar sal wees as koste in die geding. Dit was nie aanvaarbaar nie vir applikant wat daarop aangedring het dat sowel hy as respondente hulle onderwe'rp aan evaluasie deur Dr Swanepoel. Respondente was nie bereid hiertoe nie en het sy voortgegaan om haar opponerende beëdigde verklaring af te lewer waarin sy uit haar pad gegaan het om applikant se optrede deur Dr Swanepoel van instruksies te voorsien om ‘n evaluasie van die kinders te doen, te kritiseer. Volgens haar gaan dit goed met die kinders, woon hulle in dieselfde huis waar hulle grootgeword het saam met die huishulp wat sedert hul geboorte gehelp het om na hulle om te sien en is sy as moeder hulle bastion van sekuriteit, standvastigheid, dissipline, liefde en versorging. Dit sal volgens haar verkeerd wees om die kinders nou onmiddellik na die trauma en angs van die egskeiding verder te ontwrig en behoort die status quo met betrekking tot hulle permanente bewoningsreg gehandhaaf te word. Respondente beweer dat nie een van die kinders op enige stadium teenoor haar laat deurskemer het dat hulle ontevrede is by haar of met die verhouding tussen haar en Mnr Dell nie. Sy is ook nie bereid om die inhoud van Dr Swanepoel se verslag te aanvaar nie.
[13] Respondente se werksomstandighede veroorsaak dat sy soms uitstedig is, maar is dit haar saak dat sy voile vertroue het in haar huishulp, Me Maria Tsiu, wat reeds 12 jaar by haar werksaam is en wie die kinders na behore tydens haar tydelike afwesigheid kan versorg. Sy ontken dat haar omstandighede na die egskeiding enigsins verander het, alhoewel sy erken dat sy en Mnr Dell in ‘n saamleefverhouding betrokke is. Volgens haar gebruik hulle drank op ‘n matige wyse deur byvoorbeeld een glasie wyn per maaltyd in die aand te nuttig.
[14] Volgens respondente is Jané op die vooraand van haar puberteit en het sy juis op hierdie stadium haar moeder se liefde en aandag deurentyd nodig. Dit is in die kinders se beste belang dat hulle permanent by haar woonagtig is en sal enige verskuiwing traumaties wees.
[15] In repliek toon applikant aan dat wanneer die kinders by horn oorbly, hulle in aparte kamers slaap, terwyl hulle verkies om in een kamer onder respondente se dak te slaap. Hy doen aan die hand dat die rede daarvoor is dat hulle nie geborge voel nie en dat dit heeltemal abnormaal vir kinders van hulle ouderdom is, gegewe dat dit ‘n seun en ‘n dogter is, om te weier om in hulle eie kamers te slaap.
[16] Applikant verwys ook na die akte van dading wat ‘n hofbevel gemaak is in die egskeidingsgeding van Mnr en Mev Dell waarin die volgende in paragraaf 1.4 verklaar word:
“Sonder om te erken dat hy horn in die verlede aan enige wangedrag skuldig gemaak het, onderneem die verweerder om nie gedurende die uitoefening van sy kontakregte en wanneer die minderjarige kinders onder sy beheer is, enige alkohol te gebruik nie.”
[17] Applikant maak ook die punt dat respondente as gevolg van haar werksomstandighede baie uitstedig is en soms vir ‘n aantal dae op ‘n keer soos blyk uit paragraaf 22 van sy repliserende beëdigde verklaring.
[18] Applikant se repliserende beëdigde verklaring is reeds op 26 November 2013 geliasseer. Op 20 April 2014 is ‘n verslag voorberei deur Me Tertia Spangenberg, ‘n kliniese sielkundige van Bloemfontein. Daarin beweer sy dat respondente haar gedurende Oktober 2014 (dit moet wees 2013) gekontak het om ‘n opinie te verkry ten opsigte van die onderhawige aansoek. Sy het inderdaad die aansoekstukke met sielkundige verslag nagegaan en ook gesprekke gehad met die kinders, respondente se huishulp en haar buurvrou, respondente self en haar vriend, Mnr Dell. Die kliniese sielkundige het skynbaar verkies om nie met applikant en sy eggenote te konsulteer nie. Sy maak dit duidelik dat beide die kinders spontaan met haar gesels het, dat albei haar meegedeel het dat hulle eerder by hulle pa wou bly, maar dat hulle vir ‘n lang tyd bang was dat as hulle ma daarvan sou uitvind, sy kwaad sou wees. Beide kinders het soortgelyke redes as motivering aangevoer, te wete alkoholmisbruik, die feit dat hulle lekkerder slaap by hulle pa, derdens dat hulle nie van Oom Charles (Mnr Dell) hou nie en vierdens dat hulle lekkerder goed by hulle pa doen. Dit is onseker wanneer hierdie konstultasies gevoer is maar moes dit gewees het tussen Oktober 2013 en April 2014 en waarskynlik eerder kort voor finalisering van die verslag in April 2014. Die effek hiervan is dus dat die kinders oor ‘n tydperk van ongeveer ‘n jaar en selfs meer by hulle weergawe gebly het soos uitgespreek teenoor Dr Swanepoel. Me Spangenberg is van oordeel dat die kinders hulle redes soos aan haar verskaf “ingeoefen het” en dat A[...] se weergawe ‘n “eggo” van sy suster s’n is. Jané toon volgens haar duidelike tekens en simptome van veralgemeende angsversteuring en beveel sy aan dat die dogter na ‘n psigiater geneem word. Gedurende April 2014 en skynbaar net voordat die verslag gefinaliseer is, het Me Spangenberg weer eens met beide kinders telefoniese gesprekke gevoer en het hulle tydens hierdie gesprekke hulle redes weer eens herhaal. Alhoewel sy van oordeel is dat die status quo ten aansien van die kinders nie verander behoort te word nie, doen sy aan die hand dat beide psigoterapie behoort te ontvang en behoort beide ouers by die psigoterapie betrek te word sodat hulle as ‘n span kan saamwerk in die belang van hul kinders.
[19] Die gesinsadvokaat het ook ‘n verslag voorberei waarin sy gesteun het op ‘n verslag gedateer 5 September 2014 van die huweliksraadgewer, Me M.M.E. May. Dit is insiggewend dat beide kinders onafhanklik van mekaar aan Me May ‘n versoek gerig het om hangende die finalisering van die hofproses by hulle vader, die applikant te mag inwoon. Dit is duidelik dat die kinders weer eens hulle redes wat reeds aan twee ander professionele persone gekommunikeer is, herhaal het teenoor die gesinsraadgewer. Sy beweer dan die volgende:
“10.5 The children were assessed and their views were given due consideration. The children are respectively nine and twelve years old. They are not mature enough to make meaningful decisions that are in their best interest. The children explanation and reasoning is similar and rehearsed, (sic)”
Dit is die weergawe van die gesinsraadgewer dat sy behoorlike aandag aan die kinders se uitgangspunte gegee het, maar dit is juis duidelik dat sy dit nie gedoen het nie omdat hulle volgens haar te onvolwasse is om besluite wat in hulle belang is te maak, dat alhoewel hulle mekaar staaf, hul weergawes skynbaar ingeoefen is.
[20] Ek is meer bekommerd dat Me Tshimo of Tshiamo (soos die gesinsraadgewer na haar verwys) (dalk Me Maria Tsiu?) voorgesê is wat om te sê en nie die kinders nie. Volgens hierdie dame drink respondente en Mnr Dell een glas wyn elk gedurende aandete. Dit strook toevallig met wat respondente beweer in haar beëdigde verklaring. Ek vind dit vreemd dat ‘n huisbediende oor hierdie inligting sou beskik so asof sy saam met die huisbewoners aandete nuttig wat in elk geval nie haar weergawe is nie. Daar is net geen wyse waarop enige normale mens kan aanvaar dat een glasie wyn per aandete ‘n probleem kan wees nie en daarom is die aanbeveling in paragraaf 10.9 van die gesinsraadgewer se verslag eenvoudig sinneloos. Dit is egter duidelik dat die gesinsraadgewer so ietwat van ‘n vermoede het dat respondente die kinders afskeep en word die volgende opmerking gemaak:
“The respondent needs to start putting more effort when coming to the needs of the children and spend quality time with them, (sic)”
[21] Artikel 28(2) van die Grondwet bepaal soos volg:
“28.2 A child’s best interests are of paramant importance in every matter concerning the child.”
Dit word ge-eggo in artikel 9 van die Children’s Act, 38 van 2005, wat soos volg lees:
“In all matters concerning the care, protection and well-being of a child the standard that the child’s best interest is of paramount importance, must be applied.”
Sien ook Jackson v Jackson 2002 (2) SA 303 (HHA) te 307I tot 308A en F v F 2006 (3) SA 42 (HHA) te para [8], ‘n Hof is nie verplig om die verslae van deskundiges, en selfs dan ook die gesinsadvokaat, eenvoudig klakkeloos te aanvaar nie. Alhoewel deskundiges die hof se taak in baie gevalle vergemaklik, kan nie toegelaat word dat ‘n deskundige getuie of getuies die funksie van die hof vir horn of haar of hulself toe-eien nie. Vergelyk P v P 2007 (5) SA 94 (HHA) te para [16] en die gesag waarna met goedkeuring verwys is.
[22] Hattingh R het reeds bykans 20 jaar gelede baanbrekerswerk gedoen vir die regte van vaders. Vergelyk:
Van der Linde v Van der Linde 1996 (3) SA 509 (O). Ons leef nie meer in die dae toe moeders by die huis gesit en kinders grootgemaak het nie. ‘n Groot persentasie vrouens is deesdae professionele mense en/of op ‘n voltydse basis werksaam in een of ander verband. Dit is dan ook nie snaaks nie dat vaders in ‘n baie groter mate as in die verlede betrokke is by die opvoeding van hul kinders en selfs in baie gevalle die rol van “huisman” vertolk. Dit gebeur immers gereeld dat vaders deesdae skoolkar ry, kinders dokter toe of na sport en/of kulturele gebeurtenisse vergesel, kosmaak en andersins na die kinders omsien wanneer die moeder haar professionele take verrig en/of vergaderings en dies meer bywoon. Die geleerde Regter het hom soos volg uitgelaat te 515C:
“Die begrip ‘bemoedering’ is aanduidend van ‘n funksie eerder as ‘n persona en is hierdie funksie nie noodwendig geleë in die biologiese moeder nie. Dit behels die teergevoelige gehegtheid wat voortvloei uit die aandag wat van dag tot dag bestee word aan die kind se behoefte aan liefde, fisieke versorging, voeding, vertroosting, gerustheid, geborgenheid, bemoediging en onderskraging. Alleenlik die ouer wat hierdie behoefte kan bevredig sal daarin slaag om ‘n psigologiese band met die kind te smee in welke ouer se sorg die kind kan ervaar dat sy bestaan nog veelbeduidend is, en wat met toegeneentheid beskut en beskerm word. Bemoedering veronderstel om onvoorwaardelik liefde te kan betoon sonder om noodwendig'‘n teenprestasie te verwag.
Bemoedering is nie net ‘n komponent van die vrou nie, maar ook deel van die man se wese. In die verlede het die gemeenskap van mans verwag om daardie deel van hul persoonlikheid te onderdruk omdat dit nie by die beeld van die man pas nie. Tradisioneel was die man die heerser en die meester, die jagter en wagter, die prediker en verdediger van huis en haard. Hy moes sover moontlik emosioneel onbetrokke bly. Die vrou daarteenoor se bestemmingsfunksie was om kinders te baar, hulle te versorg en te vertroetel, om moeder en minnares te wees en daarmee saam die algehele huishouding na behore te behartig.
Hedendaags het die man die vrymoedigheid om sy bemoederingsgevoel te openbaar en uit te leef... Al meer mans is bereid om bemoedering as deel van hul persoonlikheid te herken, te erken en uitdrukking daaraan te verleen.
Die toekenning van bewaring verg ‘n rasionele oordeel gegrond op die feite van elke saak en nie bloot op die vroeëre morele waardes nie.”
In P v P het die Hoogste Hof van Appél te paragraaf [26] hierdie beginsels onderstreep, met goedkeuring aanvaar en afgesluit met die volgende:
“The later approach, it needs be added, is in any event consistent with the equality principle enshrined in s 9 of our Constitution.”
Kinders kan natuurlik maklik gemanipuleer word en die een oomblik ‘n spesieke mening vorm net om die volgende dag of die volgende week and^rs oor ‘n onderwerp te voel. Dieselfde sou geld vir hulle gevoeiens teenoor hulle ouers of broers en susters. ‘n Hof wat kinders se mening in oorweging wil neem kan met vrug let op wat Lombard R aangetoon het met verwysing na ‘n seun se versugting om onder bewaring van sy vader geplaas te word in Meyer v Gerber 1999 (3) SA 650 (O) te 656E:
“Met ander woorde, dit is nie ‘n emosionele eenogige en irrasionele uiting van sy frustrasies of kwellinge nie - dit dra ook die stempel van ‘n gewigtige besluit waarin hy lank bepeins en gedink het en nie iets wat hy op die ingewing van die moment die lig laat sien het nie.”
In die verlede het howe verskillende menings uitgespreek met betrekking tot die opinies van kinders. Dit is onnodig om teenstrydige uitsprake te behandel maar is dit duidelik dat artikel 10 van die Children’s Act dit gebiedend maak om die mening van ‘n kind in sekere gevalle te oorweeg en ek haal aan:
“Every child that is of such an age, maturity and stage of development as to be able to participate in any matter concerning that child has the right to participate in an appropriate way and views expressed by the child must be given due consideration.”
[23] Die Appélhof, soos dit toe geheet het, het onomwonde verklaar dat bestrede litigase wat verband hou met die belange van kinders anders hanteer behoort te word en dat die geykte toets van toepassing by die beoordeling van bestrede aansoeke, die Plascon-Evans toets, beslis nie slaafs nagevolg kan of mag word nie. Tewens, die hof het dit soos volg uitgelaat:
“In addition it seems to me to be necessary to lay down that where a parental couple’s access (or custody) entitlement is being judicially determined for the first time - in other words where there is no existing court order in place - there is no onus in the sense of an evidentiary burden, or so-called risk of non-persuasion, on either party. This litigation is not of the ordinary civil kind. It is not adversarial. Even where variation of an existing custody or access order is sought, and where it may well be appropriate to cast an onus on an applicant, the litigation really involves a judicial investigation and the Court can call evidence mero motu\ ...” (my onderstreping.)
Sien B v S 1995 (3) 571 (A) te 584I - 585A. Die hof gaan as volg voort te 585C - E:
“That presupposes, of course, that all the available evidence, fully investigated, is finally in. It follows that if a Court were unable to decide the issue of best interests on the papers, it would not let the matter rest there. While there might often be valid reasons (for example, expense or the nature of the disputed evidence) for not involving expert witnesses, at the least the Court would require, and if necessary call, oral evidence from the parties themselves in order to form its own impression (almost always a vital one) of their worth and commitment. Because the welfare of a minor is at stake, a Court should be very slow to determine the facts by way of the usual opposed motion approach (Plascon-Evans Paints Limited v Van Riebeeck Paints (Pty) Ltd [1984] ZASCA 51; 1984 (3) SA 623 (A). That approach is not appropriate if it leaves serious disputed issues of fact relevant to the child’s welfare unresolved.” (my onderstreping).
[24] In Lubbe v Du Plessis 2001 (4) SA 57 (K) het aldrie die kinders, seuntjies van 10, 8 en 6 jaar oud onderskeidelik, aangetoon dat hulle eerder by hulle vader, die applikant in die aansoek om wysiging van die skikkingsakte, woonagtig wou wees. Dit was duidelik dat die kinders ‘n sterk band met mekaar gehad het en nie geskei moes word nie. Die hof het te p. 73 I bevind dat minstens die oudste kind aan die hand van sielkundige verslae voldoende volwasse was om “an intelligent and informed judgment on what he subjectively perceives to be in his best interests” te vorm.
VII FINALE EVALUERING VAN DIE WEERGAWES
[25] Applikant en respondente verskil duidelik van mekaar oor wat in die beste belang van hulle kinders is. Dit is duidelik dat applikant uit die staanspoor toe hy die egskeidingaksie aanhangig gemaak het, aangedring het op die permanente bewoningsreg van die kinders. Skynbaar het hy besef dat hierdie aanspraak sou veroorsaak dat die partye in ‘n bestrede aksie betrokke sou raak omdat respondente in haar teeneis ook aangedring het op permanente bewoningsreg van die kinders. Die saak sou vir etlike maande en selfs langer as ‘n jaar gesloer het indien die waglys vir verhoorsake in ag geneem word. Hy meld nie in sy aansoek om welke rede hy bes gegee het nie, maar die feit is dat hy inderdaad besluit het om respondente haar sin te gee.
[26] Binne 13 maande na die egskeiding, dit wil sê, in Januarie 2013, het dit volgens hom duidelik geword dat die kinders ontevrede is met die toedrag van sake en het hy die stappe gedoen waarna ek reeds hierbo verwys het. Ek is nie bereid om te aanvaar dat die kinders gesamentlik en/of afsonderlik geindoktrineer en gemanipuleer is deur applikant en sy familie om valse weergawes aan drie verskillende onafhanklike persone oor ‘n tydperk van meer as ‘n jaar te verskaf nie. Waar daar ‘n rokie is, is daar ‘n vuurtjie en uit die mond van die suigeling kom menigmaal die waarheid. Gegewe die oorvloedige korrespondensie tussen die partye, by wyse van epos of andersins deur middel van hulle prokureurs, kan ek nie anders as om applikant se weergawe vervat in sy epos van 27 Februarie 2013 en onder eed deur hom bevestig, wat ek in paragraaf 8 supra behandel het, as waar te aanvaar nie. Beide respondente en Mnr Dell is prokureurs en behoort kennis te dra van die gevolge wat mag ontstaan as daar nie gereageer word op beskuldigings nie. Stilbly is ook ‘n antwoord. Die weergawe van respondente en Mnr Dell ten opsigte hiervan en soos verwoord in die opponerende eedsverklarings kom eerder neer op ‘n nagedagtenis en word verwerp as vals.
[27] Hierdie is nie gewone aansoekprosedure nie. Mnr Grobler het beweer dat die aansoek^ “ill-conceived” en “ill-advised” was, dat ‘n onvolledige saak voor die hof geplaas is en dat hierdie onvolledige saak in elk geval ‘n “crippling blow” toegedien is met die liassering van die gesinsadvokaat se verslag. Hy vra die retoriese vraag “what has changed?” sedert die finale egskeidingsbevel toegestaan is. Dit is duidelik dat minstens een wesenlike verandering ingetree het. Mnr Dell het sy intrek by respondente geneem en dit het daartoe gelei dat daar spanning in respondente se huis veroorsaak is in so ‘n mate dat die kinders baie meer veilig en geborge voel aan huis van applikant en sy huidige eggenote. Ek kan nie my oë sluit, soos Me Spangenberg, die gesinsadvokaat en haar raadgewer, vir die kinders se versugting nie. Hulle weergawe oor ‘n langdurige tydperk bly konsekwent. Ek kan nog verstaan as A[...] as gevolg van sy houding oor sport meer tyd met sy vader sou wou deurbring en selfs by hom wil inwoon en daarom stories uitdink of vatbaar word vir manipulasie, maar dit is ondenkbaar dat ‘n dogter van bykans dertien jaar sodanig opgesweep kan word dat sy verkies om eerder by haar vader te bly. Dit is na my mening noodsaaklik dat ‘n onafhanklike deskundige evauasies doen om hopelik agter die kap van die byl te kom voordat finale regshulp verleen word.
[28] Ek besef dat nie een van die deskundiges of die partye of hulle gades onder kruisverhoor geneem is nie en dat ‘n mens met ‘n situasie te doen het dat papier maar uiters geduldig is. Ek sou ook graag wou voorkom dat die partye en veral die kinders weer eens aan enige ondersoeke deur deskundiges blootgestel word. Tog, en na deeglike besinning oor ‘n paar weke wat dit my geneem het om uiteindelik hierdie uitspraak te skryf, het ek tot die gevolgtrekking gekom dat ‘n verdere evaluering onvermydelik is en dat die beste belange van die kinders daardeur gedien sal word.
[29] Intussen is ek van oordeel dat die kinders se wense soos gekommunikeer aan die gesinsraadgewer gehoorsaam behoort te word. Dit sal my prima facie gevoel, wat uit die aard van die saak onderhewig is aan heroorweging na ontvangs van verdere getuienis, bevredig. Ex facie die weergawe van applikant, soos bevestig deur Dr Swanepoel, is die kinders alreeds vir meer as twee jaar vasgevang in ‘n ondraaglike en emosioneel aftakelende situasie. Respondente ontken steeds enige probleme. Die bevel wat ek van voorneme is om te maak sal geen negatiewe uitwerking hê op die kinders se skool- en/of kulturele en/of sosiale aktiwiteite nie. Die ontwrigting van ‘n verskuiwing van die een woning na die ander en ‘n moontlike latere herverskuiwing is oorweeg, maar ek glo dat die kinders se belange ten beste gedien sal word met die bevel wat ek in gedagte het. Hierdie kwartaal se werksaamhede moet egter eers voltooi word en daarom sal die bevel in werking tree op die laaste skooldag van die kwartaal met inagneming van enige vakansiereëlings wat die partye reeds onderling getref het.
[30] Tydens mondelinge argument het ek dit aan die advokate genoem dat ek oorweging daaraan skenk om die partye en die kinders te verwys vir verdere evaluasie deur ‘n deskundige en het die naam van Me Enida Badenhorst, ‘n kliniese sielkundige, by my opgekom. Beide partye het geen beginselbesware gehad dat hierdie dame gekonsulteer word nie, alhoewel hulle twee direk teenstrydige voorstelle in hierdie verband gehad het. Me De Wet namens die applikant was tevrede met my voorstel dat ‘n volledige evaluasie gedoen word deur die kliniese sielkundige, terwyl Mnr Grobler namens respondente aangevoer het dat daarteen gewaak behoort te word om so ‘n bevel te maak en dat die doeleindes van besoeke aan die kliniese sielkundige bloot vir terapie en die verskaffing van ‘n verslag behoort te wees. Daardie verslag kan dan aan die partye sowel as die gesinsadvokaat beskikbaar gestel word vir die indiening van enige verdere verslae en/of kommentaar. Ek het ook oorweging daaraan verleen om die aangeleentheid te verwys vir mondelinge getuienis op die basis soos uiteengesit in B_v S loc cit te 588B - H sodat al die deponente wat verklarings hierin afgelê het en/of verslae afgelewer het, behoorlik gekruisverhoor kon word en dat verlof aan die partye verleen word om sodanige verdere getuienis aan te bied as wat hulle raadsaam sou ag. Sodanige prosedure het die potensiaal om ‘n bodemlose put te wees waarin geld onnodiglik gestort word, terwyl dit net nie regverdig teenoor die kinders sou wees om byvoorbeeld ook in die getuiebank te verskyn om hulle weergawe weer te gee nie. Dit behoort ‘n laaste uitweg te wees. Bygevolg het ek tot die gevolgtrekking gekom soos in die bevel hieronder uiteengesit.
[31] Applikant het ook ‘n onderhoudsbevel versoek maar soos ek aan sy advokaat uitgewys het, is daar geen basis op grond waarvan sodanige bevel verleen kan word nie. Applikant het geen uiteensetting gegee van die onderhoudsbehoeftes van die kinders indien hulle permanent by horn woonagtig sou wees nie en voorts is daar ook geen inligting met betrekking tot respondente se verdienvermoë voor my geplaas nie. Bygevolg maak ek geen bevel in hierdie opsig nie.
[32] Beide partye het aangedring op kostebevele in hulle guns, die applikant in die geval van ‘n suksesvolle aansoek en die respondente in die geval waar ek die aansoek van die hand sou wys. Beide partye tree klaarblyklik op in belang van hulle kinders en alhoewel ek meen dat die respondente onbehoorlik opgetree het deur nie toe te stem tot ‘n volledige evaluasie deur ‘n onpartydige deskundige en aangebied het om by te dra tot die helfte van die koste van sodanige deskundige nie, en die daaropvolgende oefening waarskynlik onnodige koste teweeggebring het, sal ek haar nie penaliseer nie. Ek is van oordeel dat elke party verantwoordelikheid moet aanvaar vir sy of haar koste tot op datum hiervan.
[33] Bygevolg maak ek die volgende bevele:
1. Die aansoek word uitgestel tot Donderdag 6 Augustus 2015;
2. Pendente lite word die volgende bevele gemaak:
2.1 Die bewoningsreg van die kinders word aan die applikant toegeken en sal applikant verantwoordelik wees vir die dag-tot-dag versorging van die kinders met ingang van die laaste skooldag van hierdie huidige skoolkwartaal, te wete 25 Maart 2015, asook;
2.2 spesifieke verantwoordelikhede en regte ten aansien van kontak met die kinders soos uiteengesit in artikel 18(2)(b) van die Kinderwet word aan die respondente toegeken op die volgende basis:-
2.2.1 Kontak met die kinders twee naweke per maand vanaf Vrydag om 13h00 tot en met die daaropvolgende Sondag om 18h00;
2.2.2 Kontak met die kinders elke Dinsdag vanaf 13h00 tot 19h30 en elke Woensdag vanaf 13h00 tot 19h30;
2.2.3 Publieke vakansiedae sal verwissel tussen die partye;
2.2.4 Die partye se bestaande reeling met betrekking tot die eerskomende Aprilvakansie sal eerbiedig word en indien geen reelings getref is nie, sal die kinders onder die sorg van applikant bly en voorts sal die komende Julievakansie gelykop tussen die partye verdeel word;
2.2.5Ten minste drie ure kontak op die respondente se verjaarsdag asook op die kinders se onderskeie verjaarsdae;
2.2.6 Kontak op moedersdag vanaf 09h00 tot en met 17h00 indien moedersdag nie oor ‘n normale kontaknaweek val nie;
2.2.7 Redelike telefoniese kontak;
2.2.8 Kontak met die kinders te alle redelike tye, soos vooraf met die applikant gereël.
3. Die applikant en respondente word beide gelas om so spoedig doenlik deur middel van hul prokureurs afsprake te maak met Me Enida Badenhorst, ‘n kliniese sielkundige van Bloemfontein, op datums wat beide partye en die kinders pas ten einde die kliniese sielkundige in staat te stel om na ‘n oorweging van al die aansoekstukke en deskundige verslae, konsultasies met die partye en sodanige derde partye as wat sy mag goed vind, ‘n volledige evaluasie te doen met betrekking tot die vraag aan watter van die partye die permanente bewoningsreg van hul kinders toegeken behoort te word, met dien verstande dat indien Me Badenhorst nie bereid of in staat is om hierkragtens op te tree nie, die partye by ooreenkoms ‘n alternatiewe sielkundige of kliniese sielkundige moet aanstel om gevolg aan hierdie bevel te gee, en in ieder geval sal beide partye gesamentlik aanspreeklik wees vir die betaling van die deskundige se fooie, onderhewig daaraan dat dit die hof later sal vrystaan om in die uitoefening van sy diskresie ‘n gepaste kostebevel te maak.
4. Onmiddellik na ontvangs van die deskundige se verslag moet die partye toesien dat dit onmiddellik aan die gesinsadvokaat beskikbaar gestel word aan wie die reg verleen word om enige verdere verslae uit te bring met dien verstande dat sodanige verslae beskikbaar moet wees teen nie later as 1 Julie 2015.
5. Verlof word gegee aan beide applikant en respondente om voor of op 15 Julie 2015 enige verdere aanvullende verklarings wat hulle wens in te dien, te liasseer.
6. Enige verdere betoogshoofde moet afgelewer word ooreenkomstig die praktyksreëls van hierdie afdeling.
7. Elke party is verantwoordelik vir die betaling van sy of haar eie regskoste tot en met datum hiervan
J. P. dÁFFUËTR
Namens die applikant: Adv. A. De Wet
In opdrag van:
Symington & De Kok BLOEMFONTEIN
Namens die respondent: Adv. S. Grobler
In opdrag van:
Horn & Van Rensburg BLOEMFONTEIN