South Africa: Free State High Court, Bloemfontein Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2015 >> [2015] ZAFSHC 237

| Noteup | LawCite

Brandwag Primary Aftercare BK v Brandwag Primere Skool and Others (4896/2012) [2015] ZAFSHC 237 (3 December 2015)

Download original files

PDF format

RTF format


VRYSTAATSE HOË HOF, BLOEMFONTEIN

REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA

          Saaknommer:  4896/2012

In die saak tussen:-

BRANDWAG PRIMARY AFTERCARE BK                                               Applikant/Eiser

en

BRANDWAG PRIMêRE SKOOL                                      1ste Respondent/1ste Verweerder

DIE LID VAN DIE UITVOERENDE RAAD

VIR ONDERWYS, VRYSTAAT PROVINSIE                2de Respondent/2de Verweerder

UITSPRAAK IN AANSOEK OM VERLOF TOT APPEL

CORAM:                       KRUGER, R

GELEWER OP:          3 DESEMBER 2015

[1] Hierdie is ’n uitspraak in ‘n aansoek om verlof om te appelleer teen ‘n uitspraak van Murray WnR gelewer op 23 Oktober 2014 waarin sy verlof aan die eiser (“Aftercare CC”) verleen het om sy besonderhede van eis te wysig, en sekere kostebevele gemaak het.  Gerieflikheidshalwe word na die partye as eiser en eerste verweerder verwys.  Die eerste verweerder vra verlof om te appelleer. 

[2] Die wysiging moes ingevolge Eenvorminge Hofreël 28(6) aangebring gewees het 10 dae na die bevel wat op 23 Oktober 2014 gegee is, naamlik op 6 November 2014.  Die eiser het versuim om die wysiging aan te bring voor 6 November 2014.  Op 7 November 2014 het die eerste verweerder (“die Skool”) ’n Aansoek om verlof tot Appèl by die Griffier ingedien en op die eiser se prokureur beteken.  Gevolglik, so voer Mnr Snellenburg vir eerste verweeder aan, is die aansoek om verlof om teen die wysiging te appelleer akademies, want die reg om te wysig het by regswerking ingevolge reël 28(6) verval.  Mnr Greyling, vir eiser sê dat die toestaan van ’n wysiging ’n interlokutêre bevel is wat nie appelleerbaar is nie met verwysing na Webber Wentzel v Batstone and Another 1994 (4) SA 334 (T).  Die eiser se reg om te wysig het deur die werking van Eenvorminge Hofreël 28(6) verval.  Die hofbelvel van Murray WnR wat die wysiging magtig het geen verdere regswerking nie en kan nie die onderwerp van ’n appèl wees nie.  Verlof om teen die toestaan van die wysiging te appelleer kan nie toegestaan word nie.

[3] Die eerste verweerder vra ook verlof om teen die kostebevel te appelleer, wat die koste van die uitstel op 9 Oktober 2014 insluit en die koste van die wysigingsaansoek. 

[4] Verlof tot appèl teen kostebevele word nie geredelik toegestaan nie.  Die omstandighede is hier buitengewoon, want die wysigingsbevel wat aan die kostebevel gekoppel was, het verval en die party wat die vergunning gevra en gekry het is nie gelas om die koste te betaal nie.  ’n Party soos eiser, wat wysiging verlang, vra ’n vergunning, veral waar dit gaan om die terugtrekking van ‘n erkening, en so ’n party word gewoonlik gelas om die koste te betaal ten einde nadeel uit die weg te ruim, tensy die opponering onredelik was.  Daar bestaan na my mening redelike vooruitsigte dat ’n ander hof kan bevind dat Murray WnR nie bevind het dat opponering onredelik was nie, en nie die vraag beslis het of daar benadeling was, en dat sy nie volledig aandag aan die vraag gegee het of benadeling deur ’n kostebevel uitgewis sou word nie.   In hierdie geval bestaan daar na my mening ’n redelike moontlikheid dat ’n ander hof ’n ander kostebevel sal maak met inagneming van die rede vir uitstel, en benadeling. 

BEVEL

Verlof word toegestaan om na die Volle Hof van hierdie afdeling te appelleer teen die kostebevel gemaak op 13 Oktober 2013.

 

____________

A.  KRUGER, R

Namens Appellant:                   Adv N Snellenburg SC

                                                          In opdrag van:

                                                          Horn & Van Rensburg

                                                          BLOEMFONTEIN

 

Namens Verweerder:                Adv P Greyling

                                                          In opdrag van:

                                                          Goodrick & Franklin

                                                          BLOEMFONTEIN

/wm