South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >>
2014 >>
[2014] ZAFSHC 26
| Noteup
| LawCite
Fibreglass Marketing BK v Knoetze N.O. and Others (4095/2011) [2014] ZAFSHC 26 (13 March 2014)
Download original files |
IN DIE HOË HOF VAN SUID-AFRIKA
VRYSTAATSE AFDELING, BLOEMFONTEIN
Saaknr. : 4095/2011
In die saak tussen:-
FIBREGLASS MARKETING BK …............................................................ Eiser
en
GJ KNOETZE N.O........................................................................ 1ste Verweerder
GS KNOETZE N.O..........................................................................2de Verweerder
H SWANEPOEL N.O...................................................................... 3de Verweerder
AANGEHOOR: IN KAMERS
UITSPRAAK DEUR: JORDAAN, R
GELEWER OP: 13 MAART 2014
[1] Hierdie aangeleentheid is voor my geplaas in terme van Reël 48 van die Eenvormige Hofreëls vir hersiening van ‘n taksasie deur die takseermeester van hierdie hof.
[2] Die agtergrond is kortliks dat die eiser ‘n beslote korporasie is met geregistreerde kantoor in Bloemfontein, maar waarvan die enigste lid woonagtig was te Kroonstad in die Vrystaat. Die betrokke lid van die eiser het ter invordering van skulde verskuldig aan eiser gebruik gemaak van prokureurs in Kroonstad om hom by te staan in die invordering van skulde. Op ‘n stadium is die betrokke lid oorlede en is die eksekuteur in sy boedel, wat woonagtig is te Kimberley, die persoon wat namens die eiser optree en die belange namens die oorledene derhalwe behartig. Die erfgename van die oorlede lid van die eiser was ook woonagtig te Kroonstad.
[3] As gevolg van die feit dat die betrokke prokureursfirma in Kroonstad reeds invorderingstappe namens die eiser begin het teenoor verskeie debiteure, het die aangewese eksekuteur dit goed geag om steeds van daardie firma se dienste gebruik te maak, in plaas daarvan om gebruik te maak van die dienste van prokureurs in Kimberley waar die eksekuteur woonagtig is.
[4] Uiteindelik is dagvaarding teen die verweerders uitgereik en pleitstukke gewissel. Namens die verweerders is twee spesiale pleite geopper, eerstens dat die eksekuteur nie locus standi het om namens eiser op te tree nie en tweedens dat die verskaffing van krediet aan die verweerders ingevolge ‘n nietige kontrak geskied het deurdat die eiser nie geregistreer is as ‘n kredietverskaffer in terme van die Nasionale Kredietwet nie en in die lig van die bewering dat die totale verskuldigheid aan die eiser die perk soos vereis in die Nasionale Kredietwet vir registrasie van ‘n entiteit, oorskry.
[5] By aanvang van die verhoor is slegs die twee spesiale pleite vir beregting voorgelê en is beide spesiale pleite afgewys met koste.
[6] Dit is ten opsigte van die kosterekening vir die beregting van die voormelde spesiale pleite wat die huidige hersiening van taksasie voorgelê word. Dit dien vermeld te word dat beide die rekening van die Bloemfonteinse prokureurs, wat namens eiser opgetree het en die korrespondent prokureurs in Kroonstad, voorgelê is vir taksasie
[7] Die beswaar van die verweerders ten opsigte van die getakseerde rekening is hoofsaaklik tweërlei, naamlik:
(a) die feit dat die rekening van die Kroonstad korrespondent prokureurs toegelaat is; en
(b) ‘n beswaar teen sekere items in die rekening van die Bloemfontein prokureurs op basis daarvan dat dit nie verband hou met beregting van die spesiale pleit nie.
[8] Wat die tweede beswaar betref, is teen verskeie items beswaar gemaak, maar almal op dieselfde gronde, naamlik dat dit nie verband hou met die spesiale pleit wat bereg is nie. Hierdie items sluit in die eiser se kennisgewing ingevolge reël 35 waarvan slegs die helfte fooi gevorder is ten aansien van die spesiale pleit en dan ook verskeie items wat handel met die voorbereiding en sortering van die brevet en in besonder die nagaan en voorbereiding van ‘n bundel van fakture.
[9] Uit die gestelde saak deur die takseermeester opgestel in terme van reël 48(3) en die voorleggings namens die onderskeie partye, blyk die volgende:
(i) Wat betref die rekening van die korrespondent plattelandse prokureurs is daar nie beswaar gemaak teen enige van die items nie, maar bloot teen die beginsel dat die rekening toegelaat word. Die houding namens die verweerders was dat die eiser se geregistreerde kantoor in Bloemfontein geleë was en dat dit derhalwe gerieflik en maklik sou wees om met Bloemfonteinse prokureurs te konsulteer en die saak te voer slegs vanuit Bloemfontein.
Die houding van die eiser soos ook aanvaar deur die takseermeester, was dat die realiteite is dat die enigste lid van die eiser in Kroonstad woonagtig was, die eiser slegs deur ‘n lid verteenwoordig kan word en dat dit derhalwe nie onredelik sou wees om gebruik te maak van prokureurs in Kroonstad waar die enigste lid van die eiser woonagtig was nie. Na die afsterwe van die betrokke lid is weliswaar ‘n eksekuteur in sy plek gestel wat woonagtig was te Kimberley. Die takseermeester het beslis dat die eksekuteur, synde woonagtig in Kimberley, geregtig sou wees om gebruik te maak van prokureurs in Kimberley as korrespondent prokureurs vir die Bloemfontein prokureurs, dat sodanige gebruikmaking toelaatbaar sou wees op taksasie en dat daar niks onredelik in was in die besluit van die eksekuteur om voort te gaan om gebruik te maak van die prokureurs in Kroonstad nie, aangesien daar geen addisionele koste veroorsaak is weens die feit dat nie Kimberley prokureurs nie maar Kroonstad prokureurs gebruik is. Die takseermeester het in ag geneem dat die saak reeds in ‘n gevorderde stadium was ten tyde van die afsterwe van die lid van die eiser, dit redelik was vir die eksekuteur om voort te gaan om van die dienste van dieselfde prokureurs gebruik te maak wat reeds kennis van die saak dra en derhalwe meer effektief daarmee kon handel.
(ii) Wat betref die rekening van die Bloemfontein prokureurs is, soos reeds gemeld, aangevoer dat die items wat betrekking het op die fakture ter ondersteuning van die totale eis van die eiser, nie relevant was ter beregting van die spesiale pleite nie.
[10] Dit blyk egter uit die totaliteit van die stukke dat die vraag of die eiser geregistreer moes wees as kredietverskaffer in terme van die Nasionale Kredietwet, nou saamhang met die vraag na die totale bedrag van verskuldigheid aan die betrokke eiser deur die verweerders. Dit blyk voorts dat daar tydens die verhoor inderdaad gebruik gemaak is van die betrokke fakture ter ondersteuning van die tweede spesiale pleit. Vir doeleindes van taksasie was slegs die helfte van die koste van die onderskeie items grootliks gevorder, weens die feit dat slegs ten opsigte van die spesiale pleit ‘n rekening voorgelê word en nie ten opsigte van die hele verhoor nie. In die lig daarvan het die geagte takseermeester bevind dat dit inderdaad redelik is en alhoewel die takseermeester sekere items verder aftakseer het, is dit in wese toegelaat soos gevorder.
[11] Die kern van die tweede spesiale pleit was juis geleë in die vraag of die totale verskuldigheid aan die eiser die perk soos gestel in die Nasionale Kredietwet oorskry en registrasie as kredietverskaffer derhalwe nodig was. Vir daardie doeleindes is daar klaarblyklik gebruik gemaak van die fakture ten einde die punt te kan bereg. Die takseermeester het bevind dat die eiser fooie gehef het slegs op die gedeeltes wat betrekking het op die spesiale pleit en dat sekere van die items verder verminder is as soos gevorder en sekere items met die helfte verminder is.
[12] Synde ‘n hersiening van taksasie kan slegs ingemeng word met die uitoefening van die diskresie van die takseermeester indien dit gegrond was op arbitrêre besluite, nie redelik gefundeer deur die feite nie en nie gebaseer is op die toepassing van gesonde beginsels nie. Saamgevat is die vraag derhalwe of die takseermeester, met die gegewens tot sy beskikking, sy diskresie behoorlik en regterlik uitgeoefen het. Selfs indien die takseermeester sy diskresie in die breë behoorlik uitgeoefen het, maar hy onder ‘n wanpersepsie van die reg of die feite of die praktyk van die hof sou wees, sal ek geregtig wees om in te meng met die uitoefening van daardie diskresie. (Sien City of Cape Town v Arun Property Development (Pty) Ltd and Another 2009 (5) SA 227 (CPD) te 232 para [17].)
[13] Wat betref die rekening van die korrespondent prokureur kan ek nie fout vind met die redenasie van die takseermeester nie en seer sekerlik op die beskikbare gegewens nie bevind dat die diskresie van die takseermeester nie regterlik uitgeoefen is nie.
[14] Wat die rekening van die plaaslike prokureurs betref, is ek eweneens nie oortuig dat fout gevind kan word met die redenasie en uitoefening van die diskresie van die takseermeester op die beskikbare gegewens nie. Daar is geen voldoende gronde om te bevind dat die diskresie van die takseermeester nie behoorlik, regterlik en gegrond op toepaslike regsbeginsels en feite uitgeoefen is nie.
[15] Met betrekking tot die koste verbonde aan die hersiening van taksasie het ek ‘n wye diskresie om ‘n gepaste kostebevel te maak. Dit blyk dat daar in sommige jurisdiksies ‘n praktyk is om slegs ‘n nominale bedrag ten opsigte van koste vas te stel betaalbaar deur die onsuksesvolle party sonder verwysing na die werklike koste verbonde aan die hersiening van die taksasie. Myns insiens is daar, ten minste in hierdie geval, geen rede waarom die onsuksesvolle party nie gelas sal word om al die koste verbonde aan opponering van die hersiening van die suksesvolle party te betaal nie.
[16] Bygevolg word die aansoek om ‘n hersiening afgewys met koste.
_______________
A.F. JORDAAN, R
Namens die eiser: Phatshoane Henney Prokureurs
BLOEMFONTEIN
Verw: A.C. Lubbe
nms J.A.M. VOLSCHENK
Namens die verweerders: Vosloo Prokureurs
BLOEMFONTEIN
Verw: VOSLOO/FIB6/0002
/spieterse