South Africa: Free State High Court, Bloemfontein Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2014 >> [2014] ZAFSHC 110

| Noteup | LawCite

Muller v Burger and Others (316/2014) [2014] ZAFSHC 110 (7 August 2014)

Download original files

PDF format

RTF format


VRYSTAATSE HOË HOF, BLOEMFONTEIN

REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA


Saaknommer: 316/2014


In die aansoek van:-


JACOBIE JANSE MULLER …...............................................................................................Applikant


en


HELMUT BURGER …...................................................................................................1ste Respondent

CORNELIUS JOHANNES MULLER ….......................................................................2de Respondent

CASPER ANDRIES MULLER …..................................................................................3de Respondent


AANGEHOOR OP: 31 JULIE 2014

CORAM: KRUGER, R

GELEWER OP: 7 AUGUSTUS 2014



[1] Die applikant versoek ‘n bevel dat eerste respondent, ‘n prokureur, gelas word om R204 516,62 plus rente aan hom te betaal.  Die applikant vra ‘n kostebevel teen die drie respondente gesamentlik en afsonderlik.  Antwoordende eedsverklarings is deur aldrie respondente geliasseer.  Die eerste respondent is die regsverteenwoordiger van die tweede en derde respondente.

[2] Die agtergrond word soos volg deur die applikant in die funderende eedsverklaring uiteengesit, met die respondente se weergawe tussen hakies.

(1) In November 2003 het die drie respondente ‘n vennootskapsooreenkoms aangegaan om ‘n boerdery besigheid te bedryf. Volgens die applikant was die winsverdeling 50% vir hom, en 25% vir elk van die tweede en derde respondente.

(Volgens die tweede en derde respondente was die winsverdeling gelykop tussen die drie vennote.)

(2) Gedurende 2004 het onenigheid tussen die vennote ontstaan en moes verrekening plaasvind van die winste indien enige.  (Die tweede respondent bevestig die onenigheid en meld dat die probleem was dat die applikant nie die berekeninge van die ouditeur wat deur die applikant benoem is aanvaar het nie, en gedreig het om ‘n ander boekhouer te versoek om state op te stel, wat tot vandag toe nie gebeur het nie.  In die repliserende eedsverklaring ontken die applikant nie hierdie bewering nie, en neem die houding in dat die verrekening van winste nie vir die huidige aansoek relevant is nie.  Hy meld dat die tweede en derde respondente ‘n aksie ingestel het oor die verrekening van winste, maar dat daardie aksie “verouderd” geword het.)

(3) Nadat die vennootskapsooreenkoms tot ‘n einde gekom het, het die applikant lammers verkoop vir R173 818,23. Tweede en derde respondente het aangedring dat hierdie bedrag deel moet vorm van die afrekening van die winste van die vennootskap. Die applikant sê: “Bloot ten einde vrede te bewaar het ek besluit om die bedrag van R173 818,23 welke die volle opbrengs op die lammers was en nie alleenlik wins nie op trust in te betaal by my prokureur van rekord” (Mnr Richter).

(Oor hierdie transaksie met die lammers ontken die tweede en derde respondente dat dit na beëindiging van die vennootskapstransaksie plaasgevind het, alternatiewelik is hul houding dat dit vennootskapsbates was wat die applikant te gelde gemaak het na beëindiging van die vennootskapstransaksie.  Die tweede respondent verwys na die brief van eerste respondent, wat op 11 Februarie 2010 applikant se prokureur was, wat aangeheg is by die funderende eedsverklaring, waarin vermeld word: “Met verwysing na die lammers wat deur die vennootskap verkoop was, die opbrengs waarvan by u in trust belê is.” Tweede respondent sê hierdie brief is op instruksies van die applikant gestuur.  In repliek ontken die applikant dat hy so ‘n opdrag aan die eerste respondent gegee het, en sy houding is dat die eerste respondent “op daardie stadium verkies het om die belange van die tweede en derde respondente te benadruk en nie my eie nie”.  Die tweede respondent se houding is dat die bedrag “inbetaal is om op trust gehou te word hangende afhandeling van die aksie na aanduiding van die ontbinding van die vennootskap”. In repliek is daar ‘n blote ontkenning van hierdie bewering.  Die tweede respondent meld ook dat die vennootskap geen afsonderlike tjekrekening gehad het nie, en dat applikant se eie tjekrekening vir doeleindes daarvan gebruik is.  Hierdie bewering word nie deur applikant ontken nie.  Tweede respondent sê dat hoewel die lammers-transaksie in naam van die applikant gedoen is, was dit de facto ‘n vennootskapstransaksie.)

(4) Applikant sê in repliek:

20.3 Ek het uit eie beweging toe besluit om die bedrag vir praktiese redes by Richter in te betaal aangesien ek hoopvol was dat die dispuut tussen my en die Tweede en Derde Respondente vinnig opgelos sou kon word.

20.4 Daar was geen ooreenkoms dat die trustgeld in trust gehou sal word hangende die afhandeling van ‘n aksie of skikking nie.”

(5) Die beweging van die geld en verbandhoudende handelinge was soos volg:

(i) November 2004: Applikant betaal R173 818,23 in by prokureur Richter wat dit op sy beurt by Eerste Nasionale Bank belê (bl 24, “A”).

(ii) 28 November 2005: Tweede en derde respondente reik dagvaarding uit teen applikant vir betaling van R325 332,254 aan elkeen van hulle, synde die balans op hulle kapitaal-rekeninge in die vennootskap aan hulle verskuldig.

(iii) 5 April 2006: Applikant se verweerskif word geliasseer waarin hy vra dat die eise afgewys word.  Geen repliek is afgelewer nie, en die pleitstukke het volgens applikant gesluit op 21 April 2006.  Op 11 April 2006 het eerste respondent se prokureur namens tweede en derde respondent, aan Mnr Richter, applikant se prokureur kennis gegee dat hy voortgaan om aansoek te doen om ‘n hofdatum.  Applikant sê vanaf April 2006 tot op datum het die tweede en derde respondent geen stappe in daardie hoofaksie geneem nie.  In antwoord hierop sê die tweede respondent dat daar tot redelik onlangs pogings was om die aksie te skik, en bly die aksie steeds hangende.

(iv) Februarie 2010: Applikant beëindig Richter se mandaat “en die Eerste Respondent versoek om voortaan die saak namens my te behartig”.  Die applikant wys daarop dat die eerste respondent op daardie stadium as prokureur vir die tweede en derde respondente opgetree het, en sê dan: “Ek wou graag die aangeleentheid tot finaliteit bring en was dit die rede waarom ek die Eerste Respondent as prokureur gaan konsulteer het”.

(v) 11 Februarie 2010: Eerste respondent skryf aan Richter en vra dat Richter die geld aan eerste respondent oorbetaal:

Met verwysing na die lammers wat deur die vennootskap verkoop was, die opbrengs waarvan by u in trust belê is.

Mnr JJ Muller het versoek dat u die bedrag op belegging by u tesame met rente daarop, aan ons in trust oorbetaal en ‘n verrekeningstaat aan ons sal voorsien.”

(vi) 3 Maart 2010: Richter betaal R204 516,62 (die bedrag plus R30 698,39 rente) aan eerste respondent oor.

(vii) Applikant besluit dat eerste respondent “sy belange nie ten volle sou kon behartig weens die feit dat hy ook namens die Tweede en Derde Respondent opgetree het nie” en vra prokureur Wiersma van Heidelberg om die geld by eerste respondent aan te vra. Eerste respondent het geweier om die geld aan Wiersma oor te betaal.

(In die antwoordende eedsverklaring sê die tweede respondent dat voordat die skrywe van prokureur Wiersma ontvang is, was daar ‘n skrywe van prokureurs Pretorius en Bosman waarin verwys is na “die geld van Mnr Muller”.  Die respondente sê hierdie was die eerste keer dat die applikant die bewering gemaak het dat die geld aan hom behoort sonder enige verwysing van die vennootskap. Die indruk was geskep dat die applikant van plan verander het en besluit het om die gelde vir homself toe te eien.  Die tweede en derde respondente het aan die eerste respondent opdrag gegee om nie die geld aan Pretorius prokureurs te betaal nie, en eerste respondent het so ‘n skrywe aan Pretorius prokureurs gerig.

Wat prokureur Wiersma betref, verwys tweede respondent na die skrywe van prokureur Wiersma waarin versoek word dat die geld in applikant se bankrekening betaal word.)

In repliek sê die applikant dat dit deurentyd sy saak was dat die trustgeld wat hy destyds by prokureur Richter inbetaal het, sy eiendom is.  Applikant se tweede en derde respondente se aksie het deur regswerking verjaar.

[3] Mnr Cilliers namens applikant, voer aan dat dit nie eerste respondent se saak is dat hy die geld in trust ontvang het om te hou hangende afhandeling van ‘n dispuut tussen applikant en tweede en derde respondente nie.  Mnr Cilliers sê dat volgens die eerste respondent hou hy die trustgeld op sy eie aandrang hangende afhandeling van die aksie, en kan hy nie die geld uitbetaal as ‘n skikking nie bereik kan word nie.  Volgens Mnr Cilliers bly trustgeld by ‘n prokureur gedeponeer as algemene reël die eiendom van die klient wat dit gedeponeer het, met verwysing na Frikkie Pretorius Inc and Another v GG 2011 (2) SA 407 (KZP) op 413-415.  Mnr Cilliers maak die punt dat die eerste respondent onder die indruk was dat hy weens ‘n onderonsie tussen applikant en Richter versoek is om die geld te hou, eerder as wat dit by Richter gebly het.

[4] Namens die respondente wys Mnr Louw daarop dat dit gemeensaak is dat die inbetaling van die geld voortspruit uit die boerdery-vennootskapsooreenkoms wat beëindig is en uit hoofde waarvan verrekening moes plaasvind.  Dis ook gemeensaak dat die inbetaalde geld voortspruit uit ‘n transaksie vir die verkoop van lammers, en dit moet bepaal word of daardie transaksie ‘n vennootskapsbate was vir doeleindes van afrekening van die winste van die ontbinde vennootskap.  Mnr Louw wys daarop dat dit gemeensaak is dat, in ‘n poging om die afrekening van die winsdispuut te probeer oplos, die ouditeur Mnr Davel opdrag gegee word om die nodige berekeninge te doen.  Davel se berekeninge het getoon dat applikant die bedrag van R325 332,24 aan elk van die tweede en derde respondente verskuldig was.  Die applikant was nie bereid om Davel se berekeninge te aanvaar nie, en het die tweede en derde respondente toe dagvaarding teen die applikant uitgereik om vermelde bedrae te vorder.

[5] Daar is teenstrydige aansprake op die bedrag wat applikant in trust inbetaal het.  Die tweede en derde respondente se saak is dat hulle op meer as net daardie bedrag geregtig is, maar in ieder geval op ‘n gedeelte daarvan.

[6] Volgens Mnr Louw het die litigasie gesloer omdat die applikant ‘n  teeneis wou instel en omdat skikkingsonderhandelinge skipbreuk gely het.

[7] Volgens Mnr Louw het eerste respondent ingestem om die geld vanaf Richter oor te neem na sy trustrekening met die voorbehoud dat hy bloot sou probeer om te medieer wat die skikkingsvoorstelle betref sonder dat hy bereid was om homself in die proses te kompromiteer.  In hierdie verband sê die eerste respondent die volgende (bl 67 par 6):

6. Ek erken dat die Applikant my genader het om te probeer medieer ten einde ‘n skikkking te probeer bereik tussen hom en Tweede en Derde Respondent.  Dit was egter reeds in Augustus 2009 en nie gedurende Februarie 2010, soos deur hom beweer nie. Ek het dit duidelik aan hom gestel, toe hy my daartoe versoek het, dat ek steeds as Prokureur van Rekord vir die Respondente optree en dat ek myself nie sal kompromiteer nie maar bloot sal poog om skikkingsvoorstelle van die Respondente te verkry, wat ek ook gedoen het.”

Hierop reageer die applikant soos volg in sy repliserende eedverklaring  (bl 136 par 5.1):


5.1 Dit is absoluut onwaar dat ek die Eerste Respondent bloot genader het om ‘n skikking te probeer bewerk tussen my en die Tweede en Derde Respondente.  Ek het Eerste Respondent genader om in alle opsigte my prokureur van rekord te wees en my belange te behartig.”

[8] Richter, applikant se voormalige en huidige prokureur, wat hy weer in Julie 2013 opdrag gegee het om namens hom te verskyn, skryf in ’n brief gedateer 19 Oktober 2013 (Aanhangsel “O” tot die funderende eedsverklaring).

Bostaande drie persone was in ’n boerdery vennootskap wat ongeveer in 2004/2005 ontbind het.  Alle tjeks was uitgemaak aan JJ Muller.  Ten tye van die vennootskap was daar ’n tjek ten bedrae van ongeveer R173 000,00 by skrywer inbetaal hangende die afhandeling van die ontbinding.”

In die antwoordende eedsverklaring verwys die tweede en derde respondente na hierdie skrywe, maar in repliek brei die applikant nie verder daaroor uit nie.  Die insette en houding van die tweede en derde respondente kan nie buite rekening gelaat word, by beoordeling van die vraag waarom die applikant die geld aan eerste respondent oorbetaal het nie.  Hulle was en is betrokke by die geskil, en applikant het geweet dat eerste respondent hulle prokureur is toe hy die geld aan eerste respondent laat oorplaas het.

[9] Synde mosie-verrigtinge, moet, soos Mnr Cilliers ook toegee, die weergawe van die respondente gevolg word waar hulle nie met die applikant saamstem nie.  Verder sou dit vreemd, en onprofessioneel wees van die eerste respondent om as prokureur van rekord op te tree vir twee partye wat in litigasie teen mekaar gewikkel is.  Die omstandighede van die oorbetaling van die geld op applikant se instruksie vanaf Richter na die eerste respondent, dui daarop dat die eerste respondent die geld moes behou hangende die bereiking van ‘n skikking of beslegting van die geskil tussen die partye.  As die applikant die alleen-beskikkingsreg oor die geld gehad het, sou hy tog vir Richter versoek het om die geld aan hom te betaal, nie aan eerste respondent nie.

[10] Dit is moontlik dat geld gehou word as rers litigiosa hangende afhandeling van litigasie  (Baker v Probert 1985 (3) SA 429 (A) op 441A–D) maar in Mnr Cilliers se submissie is dit nie eerste respondent se saak dat hy die trustgeld ontvang het om dit te hou hangende afhandeling van die litigasie nie.  Dis belangrik om te bepaal wat die bedoeling van die applikant en die eerste respondent was met die oorbetaling van die geld aan Richter en aan eerste respondent.   Mnr Louw stel die retoriese vraag: vir watter ander doel as hangende die oplossing van teenstrydige aansprake was die geld by eerste respondent inbetaal?  Mnr Louw sê dit is onderliggend aan die applikant se inbetaling dat dit gedoen is hangende die uitklaring van die vraag wie die geld toekom.  Hy sê die geld moes volgens die objektiewe beoordeling van die applikant en eerste respondent se bedoeling in trust gehou word totdat uitklaring verkry is oor die wie die geld toekom.  Die geld was res litigiosa.

[11] Die eerste respondent sê ook (bl 68 par 7):


In geen stadium van hierdie gebeure het die Applikant selfs gesuggereer dat die geld nie vennootskapsgelde is nie en dat hy dit bloot ter skikking of, om die vrede te bewaar, by my laat inbetaal het nie.”

Die eerste respondent sê reeds aan die begin van sy antwoordende eedsverklaring (par 4) dat hier teenstrydige aansprake op die geld is.  Hierdie is die respondente se weergawe, wat nie verwerp kan word tensy dit duidelik verkeerd is nie, en waarop die aangeleentheid beslis moet word. 

[12] Die hooggeregshof aksie waarin die tweede en derde respondente ‘n eis teen applikant ingestel het, is steeds hangende. Die applikant is nie remedieloos nie.  Hy kan daardie saak ter rolle plaas en vra vir afwysing daarvan.  Die vraag of die aksie nie meer bestaan hang af van die omstandighede.  In hierdie geval het die partye probeer skik, en daar was vertragings omdat die applikant oorweeg het om ‘n teeneis in te stel.  As die applikant meen dat die respondente onnodiglik vertraag het met die aksie, kan hy vra dat dit afgewys word (sien Molala v Minister of Law and Order and Another 1993 (1) SA 673 (W).  Dit is in die hof se diskresie om die voortsetting van ‘n geding toe te laat waar daar vertraging was (Bernstein v Bernstein 1948 (2) SA 205 (W) op 207).      Hofsake gaan nie net weg nie.  Die hofreëls gee aan die verweerder die reg om die saak te plaas vir afwysing as die eiser onnodiglik vertraag.  Mnr Louw sê, met verwysing na Cassimjee v Minister of Finance 2014 (3) SA 198 (HHA) par [11] dat die verweerders se gebrek aan optrede ook ’n faktor is wat in ag geneem word. 

[13] In die huidige geval bestaan die geskil oor die verdeling van die vennootskapswinste steeds.  Dit is die rede waarom die eerste repondent die geld het.  ‘n Litigant betaal nie geld oor aan die opponerende party se prokureur om dowe neute nie, of op die basis dat hy dit kan terugkry sodra hy wil nie. Wie die reghebbende op die bedrag wat by die eerste respondente is, is in geskil.  Die respondente sê dit is vennootskapbates, wat gehou moet word totdat besleg is wie daarop geregtig is.  Die applikant verdien rente op die geld.  Op die respondente se weergawe is hy die een wat afhandeling van die rekening van die vennootskap vertraag, omdat hy ’n ander boekhouer wou inbring, of ‘n teeneis in die litigasie wou indien. Daardie weergawes moet aanvaar word.

[14] Die applikant kan nie nou die geld opeis wat hy vrywilliglik in die trustrekening van die eerste respondent geplaas het nie.  Die hooggeregshofgeding is nog lewendig.  Die afhandeling van die vennootskap het nog nie geskied nie.

[15] Die Aansoek word afgewys met koste.


______________

A.  KRUGER, R


Namens Applikant: Adv.HJ Cilliers

In opdrag van:

                                                          Stander en Vennote

                                                          BLOEMFONTEIN

Namens Respondent:                    Adv. NJ Louw

                                                          In opdrag van:

                                                          Alberts Prokureurs

                                                          BLOEMFONTEIN