South Africa: Free State High Court, Bloemfontein Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2013 >> [2013] ZAFSHC 210

| Noteup | LawCite

Leeto v S (A75/2011) [2013] ZAFSHC 210 (21 November 2013)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOë HOF VAN SUID-AFRIKA

VRYSTAATSE AFDELING, BLOEMFONTEIN



Appélnommer : A75/2011

In die appél tussen:-



MPANE JOEL LEETO.............................................................Appellant

en

DIE STAAT...........................................................................Respondent



CORAM: VAN ZYL, R et VAN ROOYEN, WND R



AANGEHOOR OP: 22 APRIL 2013



UITSPRAAK DEUR: VAN ZYL, R





GELEWER OP: 21 NOVEMBER 2013



[1] Appellant het as beskuldigde 3 van drie beskuldigdes terggestaan op `n aanklag van moord.Dit is beweer dat hulle op 12 Mei 2007 in die distrik van Botshabelo vir Moeketsi Maine (“die oorledene”) wederregtelik en opsetlik gedood het. Appellant en die ander twee beskuldigdes het aldrie regsverteenwoordiging geniet in die hof a quo, het onskuldig gepleit op die ten laste gelegde aanklag en verkies om geen pleitverduideliking te maak nie. Appellant en die ander twee beskuldigdes is egter skuldig bevind soos aangekla en elk tot vyftien (15) jaar gevangenisstraf gevonnis.

[2] Appellant en beskuldigde 2 het by die hof a quo aansoek gedoen om verlof om te appelleer teen beide hul skuldigbevinding en die opgelegde vonnis. Die aansoek is egter van die hand gewys. Hulle het toe `n petisie tot hierdie hof gerig waarin sodanige verlof versoek is. Beskuldigde 2 se petisie is van die hand gewys. Appellant se petisie het egter geslaag en is daar aan hom verlof verleen om teen beide sy skuldigbevinding en die opgelegde vonnis te appelleer.

AD SKULDIGBEVINDING:

[3] Gebaseer op die Staat se weergawe, blyk die beweerde feite opsommenderwys die volgende te wees. Mpamo Aaron Maine (“Aaron”), die broer van die oorlede, was die aand van die voorval tuis saam met sy vrou en sy 70-jarige vader, Jim Jeremiah Maine (“Jeremiah”), wie ook die vader van die oorlede is en ook as staatsgetuie geroep is. Die oorlede was in dieselfde huis saam met hulle woonagtig, maar was nie tuis nie. Teen ongeveer 20h30 die aand het die oorledene die huis binne gehardloop en geskree dat sy vader die polisie moes bel, aangesien die mense oppad was. Die oorledene het toe na die slaapkamer van sy susters gehardloop. Daar was baie mense in die erf van die huis en ook buite in die straat. Aaron het uit sy slaapkamer gekom waar hy saam met sy vrou gesit het en het gehoor hoe die huis se deure en vensters gebreek word. Jeremiah het ook uit sy kamer gekom en het Aaron en Jeremiah by die kombuisdeur gestaan, welke deur reeds oopgebreek was. Beskuldigde 2 het toe opgedaag en gese dat hy opsoek was na Kidikidi, welke naam die oorledene se bynaam was. Aaron het aan beskuldigde 2 gevra wat aan die gang was, waarop beskuldigde 2 gesê het dat die oorledene iemand doodgemaak het. Volgens Jeremiah se getuienis het ook hy met beskuldigde 2 gepraat en hom gevra hoekom hy sy huis vandaliseer, waarop beskuldigde 2 geantwoord het dat dit nie hy was nie, maar die gemeenskap. Daarop het appellant opgedaag en het hy en beskuldigde 2 die twee staatsgetuies weggestoot vanaf die deur af en die huis binne gegaan. Volgens Aaron se getuienis het `n groep persone van die gemeenskap toe ook die huis binne gekom, wat strook met Jeremiah se getuienis dat daar baie persone in die huis was.   Appellant het `n sabel/spies by hom gehad en het hy die huis se plafon daarmee gekap. Beskuldigde 2 het ook `n sabel/spies by hom gehad, maar het hy op daardie stadium niks daarmee gedoen nie. Die twee van hulle het die vertrekke van die huis deursoek. Appellant en beskuldigde 2 het toe die slaapkamer binne gegaan waar die oorledene was en het hulle hom uit die slaapkamer gesleep terwyl hulle hom met die sabels gekap het. Hulle het die oorledene sodanig gesleep en gekap tot by die sitkamer se deur wat na buite lei, maar welke deur ook reeds oopgebreek was. Op daardie stadium het beskuldigde 1 by die deur gestaan. Beskuldigde 1 het vir appellant en beskuldigde 2 gehelp om die oorledene tot by die straat te sleep. Die verdere getuienis van Aaron lees dan, onder andere, as volg op p. 11, reel 8 tot p. 12, reel 12:

At the street, what happened? ...Your worship, they chopped him with those sables until to the street and the deceased fell down. The community helped them.

So at that stage there were also other members of the community, of the public? ... Yes the community was there.



Now when the deceased fell in the street, what transpired? ... Your worship, when the deceased fell on the ground in the street, the accused 1 took a rock and hit him with it.



Where did he hit the deceased with it? ... On his head.



Now when you say he hit him with it, did he hit him or did he throw it on him because there is a difference. ... Your worship he threw the stone at the deceased.



What else happened to the deceased while he was lying there? ... At that stage your worship, he was already dead and the police arrived.



No, no no, accused 1 threw this rock on his head, what was the other people doing who was there? ... Your worship, there were many people there, after accused 1 hit him with that rock, the police arrived.



But was accused 1 the only person that assaulted him outside, that injured him or did the other people also take part in the assault? ... Your worship, they saw that he is dead, and now this one, accused 1 took a rock and and hit him on his head.



And what was accused 2 and 3 doing when accused 1 hit the deceased with the rock? ... They were finished your worship, they were just standing there, they saw that this person is gone.



Volgens sy getuienis is daar ook `n motor buiteband om die oorledene se nek geplaas, maar voordat dit aan die brand gesteek kon word, het die polisie opgedaag. Toe die polisie opgedaag het, was appellant en beskuldigde 2 weg, maar was beskuldigde 1 steeds daar. Hy het teenoor die polisie woorde geuiter min of meer die effek dat die polisie moet sien dat dit is wat die gemeenskap met `n persoon doen wat moelikheid maak in die gemeenskap.



Die onbetwiste getuienis van Aaron was dat die beligting deurentyd goed was, aangesien daar `n Apollo lig in die omgewing was wat buite beligting verskaf het, terwyl daar elektriese beligting in die huis was wat aangeskakel was. Beide Aaron en Jeremiah het ook verduidelik op welke manier appellant en die ander beskuldigdes aan hulle bekend was op daardie stadium. Daaruit het dit geblyk dat appellant en beide die ander beskuldigdes baie goed aan Aaron bekend was voor die voorval en dat hy ongeveer `n meter van elk van hulle was op die stadiums wat hy hulle identifiseer het. Hulle was voorts vir etlike minute in die huis. Appellant was nie voor die voorval aan Jeremiah bekend nie, maar was die ander twee beskuldigdes baie goed aan hom bekend. Jeremiah het egter getuig dat hy die gesig van appellant baie duidelik gesien het.

Die klip waarmee beskuldigde 1 die oorledene mee teen die kop gegooi het, is op foto 5 van bewysstuk “A” uitgebeeld en het Aaron die grootte/lengte daarvan beskryf as ongeveer 50 cm. Dit het egter uit kruisverhoor van Aaron geblyk, sowel as uit die getuienis van Jeremiah, dat die gemeenskap ook die oorledene met klippe gegooi het nadat hy in die straat geval het en het daar baie klippe op die toneel gelê na die voorval.

[4] Die inhoud en korrektheid van die regsgeneeskudige lykskouingsverslag, bewysstuk “C”, was deur die verdediging erken ooreenkomstig die bepalings van artikel 220 van die Strafproseswet, Wet 51 van 1977, welke erkennings vervat was in bewysstuk “B”. Uit die verslag blyk dit dat die oorsaak van dood aangeteken is as “hoofbesering as gevolg van stompbesering”. Verder blyk dit dat die hele skedel verbrokkel was en dat die oorledene se liggaam verskeie laserasies, snywonde en kneusings vertoon het, asook frakture van die maksilla en die mandibel met verlies van sekere tande, asook beserings aan die regter long vanweë `n steekwond.

[5] Appellante het al drie alibi’s geopper en in hulle eie verdediging getuig en elk ook ‘n verdedigingsgetuie geroep.  Die wese van beskuldigde 1 se alibi kom daarop neer dat hoewel hy van die voorval verneem het, hy nie na die toneel gegaan het nie. Wat beskuldigde 2 betref, het hy getuig dat hy op die toneel opgedaag het nadat die oorledene reeds in die straat gelê het.  Wat appellant  self betref, het hy getuig dat hy nooit op die tersaaklike toneel was nie.  Volgens hom het hy van ‘n familielid verneem dat sy swaer vermoor is, waarop die familielid, appellant en appellant se vrou na die huis van die oorlede swaer is  Hulle het geensins na die oorledene se huis gegaan nie.  Vandaar het hulle teruggekeer na appellant se huis.  Dit kan vermeld word dat dit uit die getuienis blyk dat appellant se swaer waarskynlik deur die oorledene gedood was en dat dit die rede was waarom die gemeenskap agter die oorledene aan was.



Die Hof het ook twee getuies geroep, synde die een getuie waarna beskuldigde 1 in sy getuienis verwys het en die familielid van appellant waarna appellant in sy getuienis verwys het.



[6] In haar evaluering van die getuienis het die verhoorlanddros tot die gevolgtrekking gekom dat beide die staatsgetuies geloofwaardige en betroubare getuies was wat ‘n uitstekende indruk op die Hof gemaak het.  Ten opsigte van die enkele weersprekings wat wel in hulle getuienis bestaan het, het die verhoorhof bevind dat dit in die lig van die totaliteit van die getuienis nie afbreuk doen aan hul geloofwaardigheid en betroubaarheid nie.  Wat appellant en die  ander beskuldigdes se alibi’s betref, het die Hof in ‘n goed gefundeerde en behoorlik beredeneerde uitspraak die getuienis daaromtrent ondersoek en op grond van die verskillende tye waarop verskillende gebeure plaasgevind het, tot die gevolgtrekking gekom dat hulle getuienis nie uitgesluit het dat hulle steeds betrokke kon wees op die aanval op die oorledene soos deur die staatsgetuies getuig nie.  Spesifiek wat appellant betref het die Hof tot die volgende gevolgtrekking gekom:



Accused 3 was at his brother in law’s place but no one could satisfactorily tell the Court when he arrived there except that it was after sunset.  That sunset could be before or after the deceased was killed.  The Court cannot therefore rely on the evidence of the accused….”



[7] Mnr Tshabalala, wie aanvanklik die betoogshoofde namens appellant opgestel het, het in sy betoogshoofde in wese toegegee dat daar geen meriete in appellant se appèl teen die skuldigbevinding is nie.  Eventueel het Mnr Nel egter die appèl voor ons behartig en het hy aanvullende betoogshoofde geliasseer, waarvoor hy bedank word.  In sy betoog het hy nie die bevindings met betrekking tot appellant se alibi aangeveg of bevraagteken nie.  Sy betoog was daarop geskoei dat die Staat nie bo redelike twyfel appellant se opset bewys het nie, dat die nexus tussen appellant-hulle se optrede en die dood van die oorledene nie bewys is nie en dat gemeenskaplike opset om die oorledene te dood soos deur die verhoorhof bevind, ook nie bo redelike twyfel bewys is nie. Hy het dus betoog dat appellant slegs aan aanranding skuldig bevind kon word of ten beste vir die Staat, aan aanranding met die opset om ernstig te beseer.

[8] Die verhoorhof het in die verband as volg in haar uitspraak bevind:



The crux question then to ask at this stage is whether or not the accused exhibited the requested intention or mens rea to kill.  All of these persons are adult males who displayed above average intelligence in Court.  Accused 2 and 3 were armed with sables on arrival at the deceased’s parental place.  They hit and chopped the deceased with the sables.  They started to do so in the house until in the street.  They knew that they were making use of dangerous weapons.  Accused 1 then threw the deceased with a big stone on the head whilst the deceased was lying down.  All accused persons had no other intention but to kill the deceased as he also killed accused 3’s relative Sam.  They had a direct intention to kill the deceased.  They even acted in furtherance of a common purpose.”

[9] Ek meen nie dat daar enige basis is waarop met laasgenoemde bevindings van die Hof a quo ingemeng kan word nie.  Appellant en die twee beskuldigdes het duidelik saam met die groep gemeenskapslede die oorledene op gewelddadige wyse agtervolg tot in die huis van die oorledene.  Daar was appellant een van die hoofrolspelers waar hy die oorledene uit die kamer gesleep het saam met beskuldigde 2 en voortdurend na die oorledene gekap het met die sabel.  Appellant en die twee beskuldigdes het pertinent die oorledene na buite die huis gesleep, welwetende dat lede van die gemeenskap daar teenwoordig was wat wou wraak neem op die oorledene.  Uit die getuienis wat ek vroeër in die uitspraak aangehaal het, blyk dit dat die oorledene op die stadium wat hy in die pad geval het, waarskynlik reeds dood was.  Maar selfs indien hy nie op daardie stadium reeds dood was nie, het appellant en die twee beskuldigdes opsetlik die oorledene aan die ander lede van die gemeenskap “oorhandig”, welwetende dat daar verdere geweld op die oorledene toegepas gaan word.  Hoewel dit so is, soos deur Mnr Nel betoog, dat dit nie uit die getuienis duidelik is welke persoon en/of welke wapen bo redelike twyfel die dood van die oorledene veroorsaak het nie, moet ek met Me Moroka, namens die Staat, se betoog saamstem dat appellant en die beskuldigdes hulle deurentyd vereenselwig het met die optrede van die ander lede van die gemeenskap terwyl hulle voorsien het dat indien die oorledene nie reeds dood was toe hy in die straat geval het nie, die ander lede van die gemeenskap die oorledene sou dood.  Onder sodanige omstandighede kan dit nie geag word dat appellant en beskuldigde 2 hulle enigsins van die gemeenskaplike opset onttrek het deur die feit dat hulle nie die oorledene verder aangerand het nadat hy in die pad geval het nie.  Hulle het steeds toegekyk hoe die oorledene verder met klippe bestook word en het geen handeling verrig om die oorledene daarteen te beskerm nie.  Dit is die enigste redelike afleiding dat hulle hulle steeds met daardie gewelddadige optrede teenoor die oorledene vereenselwig het.

[10] Gevolglik stem ek met die Hof a quo saam dat appellant en die ander twee beskuldigdes met gemeenskaplike opset tussen hulle, maar ook tussen hulle saam met die ander lede van die gemeenskap, opgetree het terwyl hulle voorsien het dat die oorledene gedood sou word.  Dit is dus onder die omstandighede nie nodig gewees vir die Staat om te bewys welke persoon en/of welke wapen die dood van die oorledene veroorsaak het nie.

[11] Die appèl teen die skuldigbevinding kan gevolglik nie slaag nie.



AD VONNIS:



[12] In die onderhawige geval het die skuldigbevinding geval binne die kader van Bylae 1 van Skedule 2 tot Wet 105 van 1997, wat tot gevolg het dat lewenslange gevangenisstraf die voorgeskrewe minimum vonnis is, behalwe indien daar wesenlike en dwingende omstandighede bestaan wat die oplegging van ‘n mindere vonnis noodsaak en regverdig.  Die Hof a quo het reeds ten gunste van appellant bevind dat daar sodanige wesenlike en dwingende omstandighede bestaan en derhalwe vyftien jaar gevangenisstraf in plaas van lewenslange gevangenisstraf opgelê.



[13] Mnr Nel het egter aan die hand gedoen dat in die lig van die totaliteit van die feite en omstandighede, die opgelegde vonnis steeds skokkend swaar en onvanpas is en het hy aan die hand gedoen dat gevangenisstraf van tien jaar ‘n gepaste termyn is.  Mnr Nel het onder andere gesteun op provokasie as een van die versagtende faktore, inaggenome dat dit blyk dat dit appellant se swaer was wat deur die oorledene gedood was.

[14] By nalees van die Hof a quo se uitspraak ten opsigte van vonnis blyk dit egter dat die verhoorhof reeds die persoonlike omstandighede van appellant behoorlik in ag geneem het, tesame met die aard en erns van die misdryf en die belange van die gemeenskap.  Hierdie evaluering is op ‘n ewewigtige wyse gedoen.  Hoewel dit so is dat die oorledene klaarblyklik ‘n ander persoon gedood het, regverdig dit steeds op geen wyse appellant en die ander persone se optrede om reg in eie hande te geneem het nie.  Gevolglik is dit noodsaaklik,  soos deur die Hof a quo ook bevind, dat ‘n boodskap van afskrikking uitgestuur moet word ten einde te verhoed dat die gemeenskap tot die gevolgtrekking kan kom dat dit in orde is om eie reg toe te pas.

[15] Die opgelegde vonnis van vyftien jaar gevangenisstraf is derhalwe na my mening nie skokkend swaar en onvanpas nie.  Die Hof a quo het ook geen mistasting begaan in haar oorweging van ‘n gepaste vonnis nie en kan daar dus op geen basis met hierdie vonnis ingemeng word nie.

[16] Derhalwe word appellant se appèl teen beide sy skuldigbevinding en die opgelegde vonnis van die hand gewys.



______________

C. VAN ZYL, R



Ek stem saam:



_________________________

P.C.F. VAN ROOYEN, WND R



Namens die Appellant: Adv. P.W. Nel

In opdrag van:

Bloemfontein Regssentrum



Namens die Respondent: Adv. M.M.M. Moroka

In opdrag van:

Direkteur: Openbare Vervolgings

Bloemfontein