South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >>
2013 >>
[2013] ZAFSHC 142
| Noteup
| LawCite
Pretorius v L & V Prokureurs (A314/2012) [2013] ZAFSHC 142 (22 August 2013)
Download original files |
VRYSTAATSE HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA
Appèlnommer: A314/2012
In die appèl tussen:-
RENéE PRETORIUS ...............................................................Appellante
en
L & V PROKUREURS ...........................................................Respondent
_____________________________________________________
CORAM: VAN ZYL, R et JORDAAN, R et SEPATO, WnR
_____________________________________________________
AANGEHOOR OP: 12 AUGUSTUS 2013
_____________________________________________________
UITSPRAAK DEUR: JORDAAN, R
_____________________________________________________
GELEWER OP: 22 AUGUSTUS 2013
_____________________________________________________
[1] Die appellante kom in hoër beroep teen ‘n uitspraak en bevel van ‘n enkelregter van hierdie afdeling.
[2] Die agtergrondsfeite van die aangeleentheid is redelik eenvoudig. Die appellante was in ‘n geding in die CCMA deur respondent prokureurs verteenwoordig en uiteindelik suksesvol deurdat die CCMA die verweerder, synde appellante se vorige werkgewer, gelas het om ‘n bedrag van R125 000,00 aan die appellante te betaal.
[3] Aangesien die bedrag nie betaal is nie, het die appellante, verteenwoordig deur die respondent, aansoek gedoen vir ‘n lasbrief van eksekusie by die Arbeidshof ten einde betaling te verkry. Uiteindelik het die respondent die lasbrief vir eksekusie by die Arbeidshof verkry, maar weier om dit aan die appellante beskikbaar te bestel vir uitvoering daarvan alvorens die respondent se rekening van R6 600,00 ten opsigte van die aansoek vir die verkryging van die lasbrief te betaal. Die respondent het op ‘n retensiereg op die inhoud van sy lêer gesteun.
[4] Die appellante het die betrokke rekening betwis en die respondent versoek om dit te laat takseer. Die respondent het geweier en aangevoer dat die appellante self die rekening by die Prokureursorde kon laat takseer. ‘n Toutrekkery oor wie die rekening moet laat takseer het ontstaan.
[5] Dit dien vermeld te word dat, om redes wat nie werklik ter sake is nie, die verhouding tussen die appellante en die respondent versuur het tot so ‘n mate dat, volgens die respondent
“so ver dit die afhaal van die lasbrief by die CCMA aanbetref, bevestig ek dat die lasbrief op 12 September 2011 in ontvangs geneem is. Dit was reeds op daardie stadium ‘n uitgemaakte saak dat ek onttrek uit beide aangeleenthede”.
Later sê die respondent dat hy, nadat hy die lasbrief ontvang het, besluit het om summier te onttrek en ‘n rekening te lewer.
[6] Onder andere was daar ‘n dispuut oor die respondent se rekening in ‘n ander aangeleentheid en het appellante ‘n klag daaroor by die Prokureursorde ingedien op 9 September 2011, ongeveer drie dae voordat respondent die lasbrief ontvang het en nadat verskeie skrywes tussen die partye gewissel is.
[7] Die appellante het verskeie pogings aangewend om die lasbrief vir eksekusie by die respondent te verkry. Aanvanklik het sy ontken dat die respondent ‘n retensiereg het, daarna aangebied om die bedrag van R60,00 wat op die respondent se rekening voorkom vir die afhaal van die lasbrief vir eksekusie te betaal. Later is ‘n kantooronderneming van haar prokureurs aangebied vir betaling van die rekening na taksasie daarvan en toe dit alles onsuksesvol was, is ‘n bankwaarborg vir die bedrag van R6 600,00 aangebied vir betaling sodra die dispuut met betrekking tot die respondent se rekening besleg is. Al hierdie pogings was onsuksesvol en die respondent het volhard dat hy ‘n retensiereg op die lasbrief behou tot tyd en wyl sy rekening betaal is.
[8] Die appellante het toe ‘n aansoek gebring na hierdie hof vir ‘n bevel wat die respondent verplig om die lasbrief vir eksekusie te oorhandig teenoor die lewering van sekuriteit tot bevrediging van die Griffier van hierdie hof vir betaling van die respondent se rekening.
[9] Die aanvanklike smeekbedes was ietwat onbevredigend deurdat daar nie voorsiening gemaak was vir taksasie of ‘n ander wyse van beslegting van die geskil met betrekking tot die rekening nie.
[10] Die appellante se aansoek was geopponeer en uiteindelik is die appellante se aansoek afgewys met koste. Die appellante kom in hoër beroep teen voormelde bevele met verlof van die Hoogste Hof van Appèl nadat verlof deur die verhoorregter geweier is.
[11] In die hof a quo en in hierdie hof is namens die respondent aangevoer dat die appellante se remedie was om:
(i) die respondent se rekening te betaal, haar dokumente te bekom en dan ‘n klag by die Prokureursorde te lê vir oorverhaling van fooie of
(ii) ‘n klag te lê by die Prokureursorde, te wag tot die Orde ‘n gespesifiseerde rekening by die respondent aanvra en dit takseer, die getakseerde bedrag betaal en dan haar dokumente te verkry.
[12] Soos reeds vermeld, was daar deurentyd ‘n toutrekkery oor wie die verantwoordelikheid het om die rekening voor te lê vir taksasie aan wie ookal die taksasie moet doen.
[13] In die verhoorhof was die hoofsaaklike vraag of die hof in sy diskresie loslating van die lasbrief vir eksekusie teenoor die stel van sekuriteit moet gelas.
[14] Die verhoorhof het bevind dat die respondent met betrekking tot sy rekening twee dinge kon doen, naamlik hy kon die dokumente behou en dagvaar vir betaling van sy fooie totdat die fooie betaal is of hy kon bloot die dokumente behou uit hoofde van sy retensiereg totdat sy fooie betaal is. Die hof merk ook op:
“Hy kon ook ander stappe neem.”
Ongelukkig meld die hof nie welke ander stappe geneem kon word nie.
[15] Uit die uitspraak blyk dit dat die hof aanvaar het dat, indien daar ‘n dispuut oor die rekening was, die korrekte wyse van optrede sou wees soos deur die respondent as voorgestelde remedies vir die appellante voorgehou is, naamlik:
(i) om die rekening te betaal en daarna ‘n klag by die Prokureursorde in te dien of
(ii) ‘n klag by die Prokureursorde in te dien, te wag totdat die dispuut besleg is, die rekening wat dan deur die Orde getakseer is te betaal en haar dokumente te verkry.
[16] Die verhoorhof neem hierdie houding in op basis daarvan dat die bewerings van die respondent met betrekking tot die voormelde alternatiewe remedies nie spesifiek deur die appellante in haar repliek mee gehandel is nie. Dit blyk egter uit die stukke dat, in antwoord op voormelde voorgestelde remedies deur die respondent, die appellante in repliek aangevoer het dat die respondent se vertolking van die regsbeginsels verkeerd is en dat dit inderdaad in dispuut geplaas is.
[17] Later bevind die hof dat:
“Onder ander omstandighede sou taksasie die respondent se oplossing gewees het, maar hier is dit gewens dat applikant eers die lasbrief kry en daarna die verdere stappe neem teen respondent as sy wil, maar voor sy die lasbrief kry, moet sy eers die rekening betaal.”
[18] Die verhoorhof bevind ook dat dit onprakties en ongewens is om in die omstandighede soos hierdie waar dit oor ‘n baie slegte verhouding tussen partye gaan, met ‘n bankwaarborg te werk soos deur die appellante aangebied. Die hof bevind dat die voorwaardes vir uitbetaling moeilik te verwoord blyk te wees.
[19] Dit is gemene saak dat die respondent inderdaad ‘n retensiereg op die inhoud van sy lêer, insluitende die lasbrief vir eksekusie, gehad het en ook dat die hof a quo se bevinding gebaseer is op die uitoefening van ‘n diskresie. Weens die feit dat die hof ‘n diskresionêre bevinding moes maak, sal ‘n Hof van Appèl nie maklik inmeng met die verhoorhof se uitoefening van sodanige diskresie nie, tensy hierdie hof oortuig is dat die verhoorhof sy diskresie nie regterlik uitgeoefen het nie, met ander woorde, indien bevind word dat die verhoorhof sy diskresie uitgeoefen het om onvoldoende redes, op grond van foutiewe beginsels of nie onbevooroordeeld was nie in sy benadering van die geskil nie of versuim het om op te tree op onvoldoende gronde.
Sien: Minister of Education, Western Cape, and Others v Governing Body, Mikro Primary School, and Another 2006 (1) SA 1 (SCA) te 17C – D;
Shepstone & Wylie and Others v Geyser NO 1998 (3) SA 1036 (SCA) te 1044J – 1045A.
[20] Daar is verskeie beslissings wat onteenseglik daarop dui dat ‘n kliënt van sy prokureur kan vereis om sy rekening te laat takseer.
Sien onder andere: Aircraft Completions Centre (Pty) Ltd v Rossouw and Others 2004 (1) SA 123 (WLD) te 183H – 184B.
In die saak van Blakes Maphanga Inc v Outsurance Insurance Co Ltd 2010 (4) SA 232 (SCA) te 240C word eksplisiet bevind:
“A client is entitled to taxation of his or her attorney’s account.”
[21] Dit blyk uit die voormelde dat dit die prokureur se plig is om sy rekening, indien sodanig versoek, op te stel en aan te bied vir taksasie. Uiteraard kan ‘n kliënt nie ‘n kosterekening namens sy of haar prokureur opstel nie. Die feit dat daardie werkswyse moontlik verdere koste sou meebring, soos deur die verhoorhof bevind, is myns insiens irrelevant. ‘n Prokureur is geregtig om die koste vir die opstel en taksasie van sy rekening te verhaal. Om derhalwe te bevind dat taksasie in die onderhawige geval nie gepas sou wees nie, is nie alleen ongefundeerd nie, maar regtens verkeerd.
[22] Uit die voorgaande is dit duidelik dat die appellante se aandrang op taksasie die uitoefening van ‘n reg was. Redelikheid of onredelikheid van haar versoek is regtens irrelevant. Die respondent se weiering om sy rekening voor te lê vir taksasie was nie bloot onredelik nie, maar inderdaad onregmatig.
[23] Dit is uit die stukke duidelik dat die appellante deurgaans bereid was om die rekening, na taksasie, te betaal. Die respondent se onregmatige weiering het gelei tot die verdere ongelukkige verloop van gebeure wat uiteindelik tot die bring van die aansoek aanleiding gegee het.
[24] Die verhoorhof se bevinding omtrent welke ander stappe die appellant moes en kon geneem het, is derhalwe duidelik verkeerd en gebaseer op onvoldoende gronde en ‘n foutiewe siening van haar regte, in besonder haar reg om taksasie te vereis. Hierdie mistasting het duidelik die verhoorhof se benadering in die uitoefening van sy diskresie beïnvloed.
[25] Die verhoorhof verwys, onder andere, ook na ander geskille tussen die appellante en respondent met betrekking tot ‘n rekening ten opsige van ‘n ander saak en ten opsigte waarvan die appellante ‘n klag by die Prokureursorde gelê het. Dit, volgens die verhoorhof, en haar stemboodskappe aan die respondent waarin sy onwelvoeglike skeltaak gebruik het, toon haar onredelike houding, aldus die hof a quo.
[26] Myns insiens is die dispuut tussen die partye ten opsigte van ‘n ander rekening en hulle optredes as gevolg daarvan irrelevant met betrekking tot die appellante se reg op aandrang op taksasie. Haar onwelvoeglike stemboodskap kan natuurlik nie goedgepraat word nie, maar moet in ag geneem word dat dit geskied het as gevolg van provokasie deurdat die respondent deurgaans onregmatig geweier het om sy rekening te laat takseer.
[27] Gestroop van emosie, was die posisie derhalwe as volg:
(i) Die appellante was geregtig om aan te dring op taksasie van die rekening.
(ii) Die respondent was regtens verplig om sy rekening te laat takseer en nie, soos hy deurgaans volgehou het, dat die plig op appellante gerus het nie.
(iii) Deur sy weiering om sy rekening te laat takseer, frustreer hy appellante se vooruitsig om, na taksasie, die rekening te betaal en sodoende besit van haar lasbrief vir eksekusie te verkry.
[28] Dit is in bogenoemde omstandighede wat die aansoek en die uitoefening van die hof se diskresie bereg moes word.
[29] Met betrekking tot die gevraagde regshulp en spesifiek die aanbod om ‘n bankwaarborg te lewer, bevind die verhoorhof dat dit eerstens onwenslik is waar partye ‘n slegte verhouding het en tweedens dat die voorwaardes vir uitbetaling van sodanige waarborg moeilik te verwoord is. Wat die eerste aspek betref, vind ek dit moeilik om te begryp. Sou ‘n waarborg deur ‘n onafhanklike bank nie juis buite die kader van persoonlike dispute staan nie? Wat die tweede aspek betref, sien ek nie wat die probleem met betrekking tot die voorwaardes vir betaling sou wees nie. Betaling sou bloot geskied indien en sodra ‘n behoorlik getakseerde rekening gelewer word. Die aard en omvang van sekuriteit is in elk geval iets wat, luidens die gevraagde smeekbedes, deur die Griffier bepaal moet word en nie iets waaroor die hof hom oor hoef te bekommer nie.
[30] Namens die respondent is betoog dat die rekening voortspruit uit en verband hou met litigasie in die Arbeidshof en dat die Griffier van hierdie hof derhalwe nie die aangewese persoon is om die sekuriteit te bepaal nie. In terme van die reëls van die Arbeidshof, spesifiek reël 24(3), word bepaal dat, by gebreke aan ‘n ooreenkoms of hofbevel oor die toepaslike tariewe, die tariewe van toepassing in die Hoë Hof toepassing sal vind vir doeleindes van die Arbeidshof.
[31] Hier is geen sprake van ‘n hofbevel of ooreenkoms met betrekking tot die toepaslike tariewe nie, sodat die Griffier van hierdie hof in net so goeie posisie is om die aard en omvang van sekuriteit te bepaal as die Griffier van die Arbeidshof.
[32] Tydens argument is namens beide partye aangevoer dat, indien die rekening takseer moet word, dit gedoen behoort te word deur die Prokureursorde. Ek is nie oortuig dat dit korrek is nie. In terme van reël 25(2) van die Arbeidshof kan die Griffier van daardie hof enige rekening takseer wat verband hou met verrigtinge in die betrokke hof en in terme van reël 26 geskied uitvoering van die bevele van die hof ooreenkomstig die prosedures in die Hoë Hof van Suid-Afrika, welke tariewe spesifiek in terme van reël 70 van die Eenvormige Hofreëls onder afdeling F voorsiening maak vir uitreiking van ‘n lasbrief vir eksekusie.
[33] Dit kom my voor dat die aangewese persoon om die taksasie te doen inderdaad die Griffier van die Arbeidshof sou wees. Daar is egter niks wat die partye verhoed om ooreen te kom dat die rekening deur die Prokureursorde takseer word nie, indien laasgenoemde bereid is om dit te doen.
[34] In die totaliteit van die voorgaande omstandighede is ek oortuig dat die verhoorhof nie sy diskresie regterlik uitgeoefen het nie en dat die omstandighede van die saak oorweldigend regverdiging verleen vir uitoefening van die diskresie in die guns van die appellante.
[35] Wat koste betref, is die aansoek genoodsaak primêr deur die respondent se onregmatige weiering om sy rekening te laat takseer. Daar is geen rede waarom respondent nie gelas sal word om die koste van die appèl en die koste van die aansoek te betaal nie. In die lig van die feit dat beide partye onnodig hardvogtig opgetree het en veral die appellante se onbetaamlike dreigemente teenoor die respondent, meen ek egter nie dat ‘n bestraffende kostebevel aangewese is nie.
[36] Ek meen derhalwe dat die volgende bevele verleen behoort te word:
1. Die appèl slaag en die bevel van die hof a quo word tersyde gestel
2. Die respondent word gelas om die lasbrief vir eksekusie, soos deur die Arbeidshof uitgereik, aan die applikante se prokureurs van rekord te lewer teen die verskaffing van sekuriteit tot tevredenheid van die Griffier van hierdie hof.
3. Indien respondent versuim om gevolg te gee aan die bevel in paragraaf 2 hierbo, word die Balju gemagtig om die lasbrief vir eksekusie uit besit van die respondent te verwyder en aan applikante se prokureurs van rekord te lewer.
4. Respondent word gelas om sy rekening voor te lê vir taksasie deur die Griffier van die Arbeidshof of sodanige ander bevoegde instansie as waarop die partye ooreenkom, binne 14 dae na verlening van hierdie bevel.
5. Respondent word gelas om die koste van die appèl sowel as die koste van die aansoek te betaal.
_______________
A.F. JORDAAN, R
Ek stem saam.
____________
C. VAN ZYL, R
Ek stem saam.
_________________
R.M. SEPATO, WnR
Namens appellante: Adv M.H. Wessels SC
In opdrag van:
Wessels & Smith BLOEMFONTEIN
Namens respondent: Adv D.M. Grewar
In opdrag van:
L & V Prokureurs
BLOEMFONTEIN
/spieterse