South Africa: Free State High Court, Bloemfontein Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2012 >> [2012] ZAFSHC 98

| Noteup | LawCite

Doro v S (A69/09) [2012] ZAFSHC 98 (21 May 2012)

Download original files

PDF format

RTF format


VRYSTAAT HOË HOF, BLOEMFONTEIN

REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA


Appélnommer : A69/09

In die appél tussen:-


JOSEPH LEBOGANG DORO ...................................................Appellant


en


DIE STAAT ...........................................................................Respondent

_____________________________________________________


CORAM: VAN ZYL, R et MATHEBULA, WND R


UITSPRAAK DEUR: VAN ZYL, R

_____________________________________________________


GELEWER OP: 21 MEI 2012

_____________________________________________________


[1] Appellant het in die Streekhof, Bloemfontein tereggestaan op ‘n aanklag van verkragting deurdat dit beweer is dat hy op of omtrent 16 Desember 2006 te Bloemfontein wederregtelik en gewelddadig en opsetlik vir Kenalemang Gladys Kotoyi, ‘n volwasse vrou (hierinlater na verwys as “die klaagster”), aangerand het en toe wederregtelik en geweldadig en teen haar wil met haar vleeslike gemeenskap gehad het en haar aldus verkrag het.


[2] Appellant het regsverteenwoordiging geniet in die hof a quo. Hy het onskuldig gepleit en verkies om geen pleitverduideliking te gee nie. Appellant is egter skuldig bevind soos aangekla en tot vyftien (15) jaar gevangenisstraf gevonnis.


[3] Appellant het aansoek gedoen om verlof om te appelleer teen beide sy skuldigbevinding en die opgelegde vonnis. Hierdie aansoek is van die hand gewys. Daarop het appellant ‘n petisie tot hierdie hof gerig waarin hy insgelyks aansoek gedoen het om verlof om te appelleer teen beide sy skuldigbevinding en die opgelegde vonnis, welke petisie toegestaan is.


[4] Ter aanvang moet vermeld word dat die oorkonde “moeilik” en “deurmekaar” lees met betrekking tot die klaagster se getuienis in hoof. Dit blyk voort te spruit uit ‘n kombinasie van die staatsaanklaer wat op relatiewe onbeholpe en nie-kronologiese wyse die klaagster se getuienis aangebied het, tesame met die klaagster se klaarblyklike relatiewe onvermoë om die vrae op duidelik en onomwonde wyse te beantwoord. Laasgenoemde moet glad nie verstaan word as dat ek van oordeel is dat die klaagster vrae enigsins ontwykend geantwoord het nie. Dit spruit, na my mening, bloot voort uit die feit dat in gedagte gehou moet word dat haar hoogste skoolkwalifikasie Graad 7 is en het die verhoorhof, wie die geleentheid gehad het om haar persoonlik in die getuiebank waar te neem, haar as volg beskryf op p. 133, reëls 15 – 20 van die uitspraak:


She appears to be a very frail person of a small build. Even the sister in the J88 had noted so. She is not so much of a highly assertive person, she is soft spoken….. She was at pain to give her testimony to the Court. But she displayed average intelligence. She could say what happened to her and how much she disliked it.”


As gevolg van voormelde, het dit my genoodsaak om die rekord meerdere kere deur te lees en te bestudeer, na aanleiding waarvan ek die tersaaklike bevindings en gevolgtrekkings in hierdie uitspraak maak.


[5] Die verhoorhof het na my mening op redelik volledige wyse die totaliteit van die getuienis in haar uitspraak opgesom. Ek is gevolglik nie voornemens om die getuienis van elke getuie te herhaal of hierin op te som nie. Wat sommige aspekte van die getuienis betref gaan ek dus slegs in breë trekke daarna verwys, terwyl ek dan op meer gedetaileerde wyse na die getuienis sal verwys wat na my mening voortspruitend uit die aanhoor van die appèl nadere toeligting verg.


[6] Ek handel vervolgens met die getuienis van die klaagster. Op 15 Desember 2006 is ‘n beskermingsbevel wat die klaagster teen appellant verkry het, op hom beteken. (Volledigheidshalwe kan vermeld word dat appellant dit ook aldus bevestig het.) Volgens die klaagster het hierdie beskermingsbevel onder andere bepaal dat appellant verbied is om na haar huis te gaan en dat hy ook verbied is om met haar geslagsgemeenskap sonder haar toestemming te hê. Volgens appellant se getuienis, het die beskermingsbevel hom nie verbied om na die klaagster se huis te gaan nie; dit het hom wel verbied om die klaagster aan te rand, om haar te dreig en geslagsgemeenskap met haar te hê sonder haar toestemming. Daardie aand het die vader van klaagster se oudste seun, wie nie appellant is nie, vir haar R200-00 gegee waarmee sy vir Kersfees klere vir die kind moes koop. Appellant het daarop aangedring dat sy R100-00 vir hom moes gee, wat sy gedoen het, omdat sy bang was vir hom. Daarmee het hy alkohol en dagga gekoop. Terwyl appellant nog die aand by haar huis gesit en drink het, het sy gaan slaap. Gedurende die nag het hy haar wakker gemaak. Hy het haar met ‘n mes gedreig en haar gevra met wie hy geslagsgemeenskap moet hê as hy nie veronderstel is om met haar gemeenskap te hê nie. Sy het hom bang aangekyk en het hy gesê dat hy met haar gemeenskap wou hê. Omdat hy haar met die mes gedreig het, het sy dit gegryp, waarop dit haar hand gesny het. Sy het haar teëgesit, maar terselfdertyd was sy ook bang vir die mes wat hy gehad het en het hy gemeenskap met haar sonder haar toestemming gehad. Sy het hom versoek om ‘n kondoom te gebruik, maar hy het geweier. Daarna het appellant opgestaan en weer na die ander vertrek gegaan waar hy verder gedrink het tot later die oggend. Sy het geslaap. Die oggend is appellant nie werk toe nie, maar het hy haar forseer om saam met hom na ‘n taverne te gaan. Daar het hy haar ook forseer om saam met hom alkohol te gebruik, deurdat hy gedreig het om haar dood te maak. Op ‘n stadium het sy onder die voorwendsel dat sy badkamer toe gaan, weggehardloop vanaf die taverne na ene Mnr Peete, synde ‘n lid van die CPF (“Community Police Forum”), aan wie sy gerapporteer het dat appellant gemeenskap met haar het sonder haar toestemming. Mnr Peete het haar geadviseer om na die polisie te gaan. Oppad daarheen het sy egter weer vir appellant raakgeloop. Hy het haar forseer om terug te gaan na die taverne en weer saam met hom bier te drink. Toe hulle die taverne verlaat het, het hy haar langs die pad geklap. Sy het na ‘n sekere huis gehardloop, waar die mense onbekend was aan haar, maar welke huis sy binnegegaan het terwyl sy gehuil het en om hulp gevra het. Appellant het ook die huis binnegegaan en aangedring dat sy saam met hom die huis moes verlaat. Die okkupeerders van die huis het hom egter verhoed om die klaagster saam met hom te neem, waarop appellant die huis verlaat het. Die bewoners van die huis het aan die klaagster geld gegee, welke sy gebruik het om ‘n taxi te neem na die polisiestasie. Toe sy by die polisiestasie opdaag, het sy appellant daar aangetref, tesame met hul baba. Sy het probeer om die baba te neem, maar die polisie het haar verbied deurdat hulle gesê het dat sy onder invloed van drank was. Kort daarna het die polisie die klaagster by haar huis gaan aflaai. Hulle het verder gery met appellant en die baba. Sy het daarna die baba se doeke en klere na die polisiestasie geneem en vir die polisie aangedui dat sy nie die nag sal kan slaap indien sy nie weet waar haar baba is nie. Die polisie het haar egter aangesê dat sy die polisiestasie moes verlaat, anders sou hulle haar toesluit. Sy het wel die polisiestasie verlaat en na haar oom se huis gegaan. Die volgende oggend is sy terug na die polisiestasie, waar sy ‘n klagte van verkragting teen appellant gelê het. Die polisie het haar daarop na ‘n dokter geneem, vanwaar hulle haar teruggeneem het na haar huis. Appellant is voortspruitend hieruit gearresteer.


[7] Bogemelde Mnr Peete is ook as staatsgetuie geroep en het hy bevestig dat die klaagster die tersaaklike aand by sy huis opgedaag het en hom meegedeel dat sy en haar mansvriend (“boyfriend”) in ‘n bakleiery betrokke is. Sy het gesê dat haar mansvriend haar misbruik en met haar gemeenskap het sonder haar toestemming. Hy het haar toe inderdaad aanbeveel om na die polisiestasie te gaan.


Die verpleegster wie die klaagster medies ondersoek het en ‘n J88 medieseverslag ten opsigte van die klaagster voltooi het, Me Seekoei, het ook getuig. Dit moet vermeld word dat sy oor veelvuldige kwalifikasies in verpleging beskik, wat insluit diplomas sowel as ‘n graad. Volgens haar getuienis en soos ook bevestig in die J88, het sy die klaagster op 17 Desember 2006 om 10h30 ondersoek. Me Seekoei het die volgende genotuleer op die J88:


She says she was sexually assaulted by the boyfriend on 2006.12.16 at plus minus 02h30. The man was threatening her with a knife. Left hand is having a 3cm scar.”


Onder dit is ook die volgende genotuleer:


A scar in the left hand is consistent with what she reported.”


Met betrekking tot die besering aan haar hand, het sy verduidelik dat dit ‘n sny was aan die binnekant van die klaagster se linkerhand.


Hoewel Me Seekoei geen beserings aan die geslagsdele van die klaagster gevind het nie, het sy die volgende gevolgtrekking op die J88 genotuleer:


Absence of genital injuries does not exclude forceful penetration.”


Laasgenoemde bevinding het sy in haar getuienis verduidelik tot dien effekte dat vanweë die feit dat die klaagster seksueel aktief was, dit hoogs uitsonderlik sal wees dat daar beserings of snye gevind sal word voortspruitend uit ‘n beweerde penetrasie soos in die onderhawige geval.


[8] Inspekteur Moahi was ook ‘n staatsgetuie. Hy is gestasioneer by die Uniform Tak te Kagisanong Polisiestasie. Volgens hom is die klaagster aan hom goed bekend, aangesien sy op gereelde basis die polisiestasie besoek het met klagtes dat sy misbruik word deur haar man. Hy was die stasiebevelvoerder die oggend van 17 Desember 2006 toe die klaagster opgedaag het om die onderhawige aanklag van verkragting teen appellant aanhangig te maak. Volgens sy waarneming was die klaagster ontsteld en het sy deurmekaar voorgekom. Hy het as bevelvoerder instruksies gegee dat die klaagster die geleentheid gegee moes word om te bedaar en tot verhaal te kom en dat vroue-inspekteur Jantjies dan haar verklaring moes afneem.


Uit sy kruisverhoor het dit geblyk dat hy nie die vorige aand, dit wil sê 16 Desember 2006, toe appellant met die baba en later ook die klaagster by die polisiestasie was, teenwoordig was nie.


[9] Volgens appellant se weergawe het hy en die klaagster ‘n verhouding gehad en het hulle saam gewoon. Hy het ontken dat hy haar op 16 Desember 2006 verkrag het. Volgens hom was hulle by die huis toe hy haar gevra het of hy na die taverne kon gaan. Sy het toegestem daartoe. Terwyl hy by die taverne was, het sy opgedaag en het daar ‘n woordewisseling tussen hulle plaasgevind, aangesien sy hom beskuldig het dat hy haar en die kinders by die huis laat terwyl hy by die taverne sit en drink. Voortspruitend hieruit het hy haar by die taverne gelaat, hul baba en die beskermingsbevel by die huis gaan haal en na die polisiestasie daarmee gegaan. Daar het hy die polisie meegedeel dat sy ‘n beskermingsbevel teen hom verkry het, maar dat sy nou die een is wat na hom in die taverne kom en op hom skree voor ander persone. Terwyl hy by die polisiestasie was, het die klaagster ook opgedaag. Volgens appellant het die klaagster begin huil toe sy hom sien. Die polisie het haar aangespreek en daarna gesê dat hy wat appellant is, die baba na sy suster moes neem en dat hy dan weer die baba die volgende dag kon gaan haal nadat hy en die klaagster die probleem tussen hulle uitsorteer het. Die baba was nie vir die klaagster gegee nie omdat sy nog meer as hy onder die invloed van alkohol verkeer het. Nadat hy saam met die polisie die baba by sy suster se huis gaan aflaai het, is hy terug na die klaagster se huis. Volgens appellant was alles toe rustig by die huis en was daar geen verdere woordewisselings tussen hulle nie. Toe daar aan appellant in sy getuienis in hoof gevra is of hy die sny aan die klaagster se hand opgemerk het, het hy dit bevestig, maar getuig dat sy haarself daardie aand terwyl sy kos gemaak het nadat hulle van die polisiestasie teruggekeer het, gesny het. Nadat die klaagster kosgemaak het, het hulle gaan slaap. Appellant het dan spesifiek getuig dat hulle nie daardie aand van 16 Desember 2006 geslagsgemeenskap gehad het nie.


[10] Mnr Reyneke, wie namens appellant verskyn het, het in sy betoogshoofde sekere weersprekings in die klaagster se getuienis uitgewys (waarmee ek aanstons sal handel), maar aangedui dat dit slegs sy instruksies is om te submiteer dat dit wesenlike weersprekings is. Ook by die aanvang van die argumentering van die appèl het Mnr Reyneke steeds aangedui dat hy nie met oortuiging kan submiteer dat die appèl ten opsigte van die skuldigbevinding behoort te slaag nie. Soos sy argumentering van die appèl ten opsigte van die skuldigbevinding egter voortgegaan het, het hy afgesluit met die submissie dat daar twyfel en ongemak by die hof behoort te bestaan ten opsigte van die skuldigbevinding en dat die appèl as gevolg daarvan moet slaag.


Mnr Mthethwa, namens die Staat, het in sy betoogshoofde die skuldigbevinding ondersteun en het gedurende sy argumentering van die appèl daarmee volhard, nieteenstaande sekere elemente van die staatsaak wat gedurende die argumentering van die appèl deur my en my kollega, Mathebula Wnd R, teenoor Mnr Mthethwa bevraagteken is nie.


[11] Die enigste weerspreking wat as sulks wat deur Mnr Reyneke uitgewys is ten opsigte van die klaagster se getuienis, is as volg in sy betoogshoofde verwoord:


When the Complainant started with her evidence in chief, she denied having an affair with, or living with Appellant. She indicated that she has a child with him, as he was used to sleep with her against her will.


She later changed this version and said that she asked him to use a condom ‘whenever’ he slept with her and that she would not have a problem to sleep with him, as long as he wears it. She also later conceded that she indeed had been in a love relationship with Appellant, also staying at his place.”


Hy het dan na sekere gedeeltes van die rekord verwys ter ondersteuning van hierdie submissie.


[12] Na herhaaldelike nalees van die oorkonde en met in agneming van die moeilike wyse waarop die klaagster se getuienis in hoof op rekord geplaas is, waarna ek reeds verwys het, meen ek dat haar getuienis in werklikheid nie ‘n weerspreking in hierdie verband daarstel nie. Dit blyk dat die vrae wat die staatsaanklaer aanvanklik aan die klaagster in haar getuienis in hoof gevra het met betrekking tot die vraag of sy in ‘n verhouding met appellant was, geslaan het op die tydperk ten tyde van die beweerde insident van verkragting. Dit is waarom sy dit in die negatief beantwoord het. Dit is nie ‘n geval waar die klaagster enigsins gepoog het om te ontken of weg te steek dat sy en appellant voorheen in ‘n verhouding betrokke was nie. Die verhoorhof het dan ook pertinent op ‘n stadium ten tyde van die klaagster se getuienis in hoof die staatsaanklaer onderbreek en die staatsaanklaer daarop gewys dat die klaagster nog nie pertinent getuig het of sy voorheen in ‘n verhouding met appellant was, aldan nie. Haar ontkenning dat sy en die appellant saam gewoon het, het ook geslaan op die tydperk wat die beweerde verkragting plaasgevind het. Dit was eers gedurende kruisverhoor toe die vrae duideliker gestel was deur appellant se regsverteenwoordiger tot dien effekte of sy ooit ‘n verhouding met appellant gehad het, dat sy onmiddellik bevestigend geantwoord het. Sy was ook deur appellant se regsverteenwoordiger gevra of sy ooit saam met appellant gewoon het, wat sy toe ook onmiddellik bevestig het. Waar die klaagster dan ook in haar getuienis in hoof getuig het dat appellant “used to sleep with me against my will” en sy ook getuig het dat sy appellant gevra het “to use a condom whenever he sleeps with me and then he refused”, blyk dit duidelik uit die totaliteit van haar getuienis dat hierdie antwoorde slaan op die tydperk nadat sy die verhouding tussen haar en appellant beëindig het of gepoog het te beëindig. Nadat sy vasgestel het dat sy HIV positief is, was sy steeds bereid om met appellant gemeenskap te hê, mits hy ‘n kondoom gebruik. Hy het egter geweier om van ‘n kondoom gebruik te maak. Dit heg tot gevolg gehad dat sy die verhouding met appellant beëindig het, maar het hy geweier en het hy voorts geweier om haar huis te verlaat. Dit blyk eers daarna te wees wat hy teen haar sin met haar gemeenskap gehad het sonder ‘n kondoom. Dit het ook eventueel daartoe aanleiding gegee dat sy die beskermingsbevel teen hom verkry het.


Ek het op geen stadium in haar getuienis, hetsy in haar getuienis in hoof of kruisverhoor, die indruk gekry dat sy gepoog het om vrae ontwykend te antwoord of in wese haarself weerspreek het nie.


[13] Na my mening is daar ook die volgende stawing vir die klaagster se weergawe:


    1. Hoewel dit moontlik geag kan word ‘n mate van self-stawing te wees, meen ek tog dit moet in ag geneem word dat die klaagster in haar verkryging van die beskermingsbevel klaarblyklik reeds haar bekla het dat appellant met haar gemeenskap sonder haar toestemming het, deurdat dit spesifiek, ook volgens appellant se eie weergawe, een van die bepalings van die beskermingsbevel was.


    1. Hoewel dit ook geag kan word ‘n mate van self-stawing te wees, is dit tog ook nodig om in die totaliteit van die getuienis in ag te neem dat daar nie enige weersprekings was tussen die klaagster se viva voce getuienis en haar verklaring waarmee sy ten tyde van kruisverhoor gekonfronteer is nie.


    1. Die feit dat die klaagster die aand van 16 Desember 2006, nadat die verkragting in die vroeë more-ure van 16 Desember 2006 plaasgevind het, weggehardloop het vanaf appellant en hulp gaan soek het by Mnr Peete, welke ook deur Mnr Peete bevestig is.


    1. Die mededelings wat die klaagster aan die verpleegster, Me Seekoei, gemaak het, stem ook ooreen met haar viva voce getuienis en haar skriftelike verklaring. Verdermeer het Me Seekoei klinies waargeneem dat daar ‘n sny op die klaagster se hand voorkom wat vereenselwigbaar is met die klaagster se weergawe dat sy met ‘n mes deur appellant gedreig was ten tyde van die verkragting, welke mes sy gegryp het en wat toe haar hand gesny het. Me Seekoei se bevinding dat daar geen genitale beserings was nie, doen nie afbreuk aan die klaagster se weergawe nie, deurdat Me Seekoei spesifiek getuig het dat dit nie die moontlikheid van penetrasie uitsluit nie.


[14] Dit is egter wel ook so, soos deur myself en my kollega ten tyde van die argumentering van die appèl teenoor die onderskeie regsverteenwoordigers geopper, dat daar aspekte van die klaagster se getuienis is wat op die oog af vreemd voorkom. In die verband kan die volgende genoem word:

14.1 Die klaagster het getuig dat appellant teen haar wil by haar huis saam met haar gewoon het, maar blyk dit dat nadat sy haar huis verkoop het, sy by hom gaan woon het en ten tyde van die verhoor steeds by sy huis woonagtig was.


    1. Dit val vreemd op dat appellant die klaagster kon verplig het om die aand by die taverne alkohol teen haar sin te gebruik.


[15] Wanneer bogemelde aspekte egter weer teen die agtergrond van die totaliteit van die klaagster se getuienis en weergawe gesien word, meen ek blyk die volgende:


    1. Dit blyk duidelik die klaagster se getuienis te wees dat appellant aggressief van geaardheid is en almal bang is om teen hom op te staan. Dit het reeds aanvanklik geblyk toe appellant die klaagster se man vanaf haar huis verjaag het en self daar begin woon het.


    1. Dat die klaagster oor ‘n relatiewe lang tydperk (in aggenome dat sy toe sy swanger geword het met haar en appellant se baba vasgestel het dat sy HIV positief is en daarna nie meer gemeenskap met appellant wou hê sonder ‘n kondoom nie, terwyl die gemelde baba toe intussen reeds gebore is en reeds vier maande oud was ten tyde van die plaasvind van die voorval), haar lot omtrent appellant se gedrag en misbruik van haar bekla het, word bevestig deur die getuienis van Inspekteur Moahi, wie getuig het dat sy op ‘n gereelde basis die polisiestasie besoek en haar bekla het dat sy misbruik word deur haar man, wie duidelik appellant moet wees. Selfs appellant het beaam dat sy gereeld polisie toe gegaan het as hulle baklei het.


    1. Die situasie was so onuithoudbaar dat klaagster dit nodig geag het om ‘n beskermingsbevel teen appellant te verkry.


15.4 Die feit dat die klaagster na bewering by die taverne alkohol sou drink teen haar sin, blyk dan ook nie meer so vergesog te wees, gegewe dat sy getuig het hoe bang sy vir appellant was nie.


15.5 Volgens haar weergawe het die klaagster haar huis verkoop om weg te kom vanaf appellant en het sy dan ook met ‘n gedeelte van die geld wat sy vir haar huis gekry het, stene gekoop waarmee sy vir haarself ‘n huis in Botshabelo wou bou. Appellant het haar, volgens haar weergawe, egter toe verplig om by sy huis in te trek. Laasgenoemde is weereens verduidelik gegewe die vrees wat sy vir appellant gehad het. Volledigheidshalwe moet vermeld word dat dit blyk dat die klaagster se verkoop van haar huis en haar intrek by appellant se huis daarna, plaasgevind het nadat appellant reeds gearresteer was op die onderhawige aanklag. Dit blyk uit haar getuienis dat sy haar huis verkoop het gedurende April 2007, terwyl appellant uit was op borgtog nadat hy reeds gedurende Desember 2006 gearresteer was. Die klaagster se getuienis dat dit op appellant se aandrang was dat sy by sy huis gaan woon het, word tot ‘n mate deur appellant se eie getuienis gestaaf, deurdat hy, volgens sy weergawe, nadat hy op borgtog vrygelaat is gedurende 7 Februarie 2007, deur klaagster genader was om weer by haar te gaan woon (wat uiteraard deur klaagster ontken word), maar, volgens sy eie weergawe, het hy toe aangedring dat hulle by sy huis moes gaan woon.


    1. Nadat appellant se borgtog herroep is gedurende Junie/Julie 2007, juis omdat klaagster weer by die hof haar lot bekla het dat appellant teen haar sin met haar gemeenskap het, het sy voortgegaan om in appellant se huis te woon. Dit val op sigwaarde weereens vreemd op. Aan die ander kant moet egter onthou word dat die klaagster se woning op daardie stadium reeds verkoop was en dit blyk dat haar huis wat sy te Botshabelo wou gebou het, nog nie realiseer het nie. Daar is gevolglik, gegewe dat appellant nou in hegtenis verkeer het en nie meer ‘n bedreiging vir die klaagster gewees het nie, eintlik geen rede waarom die klaagster dan nie kon voortgaan om saam met haar en appellant se kind in appellant se huis te woon nie.


[16] Uiteraard moet die klaagster se getuienis, of dan die Staat se saak in totaliteit, nie in isolasie beoordeel word nie. In die verband het Mnr Mthethwa dan ook spesifiek betoog dat wanneer appellant se getuienis evalueer word, blyk dit dat daar weersprekings daarin voorkom en ook dat appellant in meerdere opsigte getuienis aangebied het wat nooit aan staatsgetuies gestel was nie. By nadere oorweging van appellant se getuienis, blyk die volgende:


    1. Appellant het by een geleentheid gedurende sy kruisverhoor getuig dat klaagster hom nooit gevra het om ‘n kondoom te gebruik nie (Oorkonde p. 77, reëls 13 tot 15), terwyl hy op ‘n later stadium gedurende sy kruisverhoor teenstrydig daarmee getuig het dat die klaagster hom gevra het dat wanneer hulle ookal seksuele omgang het, hulle ‘n kondoom moet gebruik (Oorkonde p. 82, reëls 10 tot 12).


    1. Gedurende appellant se getuienis in hoof, is hy gevra waarom hy meen die klaagster teen hom ‘n beskermingsbevel verkry het. Hy het getuig dat hoewel daar nie enige probleme tussen hom en die klaagster was nie, is die klaagster ‘n persoon wat van baie mans hou en wanneer appellant haar daaromtrent aangespreek het, het sy nie geluister nie. Toe hy gedurende kruisverhoor gekonfronteer is met die vraag of hy hierdie weergawe aan sy prokureur vertel het aangesien dit nie aan die klaagster gestel was nie, het hy ‘n onwaarskynlike verduideliking verskaf tot dien effekte dat hy by geleenthede sy prokureur se aandag probeer trek het om aan haar instruksies te gee gedurende die verhoor, waarop sy prokureur aangedui het dat sy later by hom instruksies sou neem, maar dit dan nooit gedoen het nie.


    1. Toe appellant in sy getuienis in hoof gevra is waarom die klaagster ‘n vals klagte van verkragting teen hom sou gelê het, het hy as volg geantwoord op p. 75, reël 24 tot p. 76 reël 3 van die oorkonde:


Well when I spoke to her at home, she said that she is aware that I want to chase her out of my house while she sold her RDP house. Well she said that she will show me your honour, life what I will experience in life.”


Voormelde verduideliking van appellant kan egter nie opgaan nie, gegewe dat op die stadium wat die klaagster die aanklag van verkragting teen appellant aanhangig gemaak het, haar huis nog nie verkoop was nie en sy steeds in haar eie huis woonagtig was. Op appellant se eie weergawe was dit eers gedurende Februarie 2007, toe hy op borg vrygelaat was wat hy, nadat die klaagster versoek het dat hy weer by haar kom woon, aangedring het dat die klaagster by hom kon woon. Op die stadium wat die klaagster die aanklag aanhangig gemaak het, was haar huis nog nie verkoop nie en was sy beslis nog nie in appellant se huis woonagtig nie.


16.4 Appellant se getuienis in hoof dat die klaagster die snymerk aan haar hand opgedoen het terwyl sy die aand van 16 Desember 2006 vir hulle kos gemaak het nadat hulle van die polisiestasie af teruggekeer het, is ook weer deur hom gedurende kruisverhoor herhaal. Toe hy gedurende kruisverhoor gekonfronteer is met die feit dat hierdie weergawe van appellant nooit gedurende die aanbied van die staatsaak gestel was nie, het hy verduidelik dat hy dit nie aan sy prokureur gesê het nie aangesien hy nie geweet het dat die klaagster daaromtrent gaan getuig nie. Hierdie verduideliking gaan uiteraard nie op nie. Inteendeel, beide die klaagster en die verpleegster, Me Seekoei, het omtrent hierdie sny en die klaagster se weergawe daaromtrent getuig, maar was dit op geen stadium deur appellant se regsverteenwoordiger in dispuut geplaas nie en/of is sy weergawe wat hy gedurende sy getuienis aan die hof voorgehou het, nie aan enige van hierdie getuies gestel nie.


16.5 Omdat appellant gedurende kruisverhoor by meerdere geleenthede verregaande verduidelikings verskaf het met betrekking tot waarom hy sekere instruksies nie aan sy prokureur kon gee nie, het dit sy prokureur selfs genoodsaak om gedurende herverhoor haarself te probeer verontskuldig deur in herverhoor vrae aan hom te stel wat aanduidend is daarvan dat hy meer as genoeg geleentheid gehad het om aan haar behoorlike instruksies te gee en insoverre sy nie sekere stellings gemaak het nie, dit was omdat sodanige instruksies nie aan haar gegee was deur appellant nie.


[17] Addisioneel tot voormelde gebreke in appellant se getuienis, is die grootste gebrek in sy getuienis die feit dat hy geensins enige getuienis aangebied het omtrent sy doen en late gedurende die vroeë oggendure van 16 Desember 2006, synde die tydstip wat die klaagster beweer appellant haar verkrag het nie. Sy getuienis het uitsluitlik gehandel met die gebeure gedurende die dag van 16 Desember 2006, die aand van 16 Desember 2006 en die nag van 16/17 Desember 2006. Dit was ook ten opsigte van laasgenoemde nag wat hy spesifiek getuig het dat nadat hulle van die polisiestasie af teruggekeer het, daar geen verdere probleme tussen hulle was nie, die klaagster vir hulle kos gemaak het en hulle toe gaan slaap het, met sy spesifieke getuienis dat hulle nie daardie aand seksueel verkeer het nie. Die feit is egter dat dit nie die klaagster se saak is dat dit die aand van 16 Desember 2006 of die nag van 16/17 Desember 2006 is wat appellant haar verkrag het nie. Dit het tot gevolg dat die klaagster se bewering met betrekking appellant se verkragting van haar gedurende die vroeë oggendure van 16 Desember 2006, in wese onbetwis staan, behalwe appellant se enkele ontkenning by die aanvang van sy getuienis in hoof waartydens hy ontken het dat hy haar enigsins op 16 Desember 2006 verkrag het. Daarna het hy egter voortgegaan, soos reeds vermeld, om getuienis aan te bied rondom die gebeure van die dag en die aand van 16 Desember 2006, welke nie die relevante tydperk is vir doeleindes van die klaagster se weergawe nie.


[18] Ek neem deeglik in ag dat die klaagster ‘n enkelgetuie is ten opsigte waarvan daar dan ‘n geykte versigtigheidsreël bestaan met betrekking tot die evaluering van haar getuienis. Sien S v SAULS 1981 (3) SA 173 (A) op 179 G – 180 G. Hoewel daar nie meer ‘n algemene versigtigheidsreël met betrekking tot seksuele misdrywe bestaan nie (S v JACKSON 1998 (1) SASV 470 (SCA)), neem ek steeds in ag dat onder sekere omstandighede sodanige getuienis steeds met versigtigheid benader moet word.


[19] Die totaliteit van die getuienis moet oorweeg word. Sien S v M 2006 (1) SASV 135 (SCA) op 183 H – I. Wanneer dit gedoen word, in die lig van die evaluering van die getuienis soos hierbo uiteengesit, meen ek dat daar nie enige basis is op grond waarvan met die verhoorhof se geloofwaardigheidsbevinding ten gunste van die klaagster en teen appellant ingemeng kan word nie. Sien S v FRANCIS 1991 (2) SASV 198 (A) op 204 C – E. Gevolglik is ek van mening dat die verhoorhof nie fouteer het deur te bevind dat appellant se weergawe nie redelik moontlik waar is insoverre dit verskil met die van die klaagster nie en dat die Staat bo redelike twyfel die skuld van appellant bewys het.


AD VONNIS:


[20] Dit is gemeensaak dat die voorgeskrewe minimum vonnis in terme van Artikel 51 van die Strafregwysigingswet, Wet 105 van 1997, in die onderhawige geval tien (10) jaar gevangenisstraf is. Die verhoorhof het egter, soos reeds in die aanvang van hierdie uitspraak vermeld, vyftien (15) jaar gevangenisstraf opgelê. Dit is gedoen nadat sy tot die volgende gevolgtrekking gekom het:


I find that there are no substantial and compelling circumstances in this case that justify my departure from the prescribed sentence of ten years imprisonment. Instead I find that I will be justified to impose more than ten years’ imprisonment herein given all the circumstances I have set out for you. In the circumstances I sentence you to fifteen years imprisonment.”


[21] Mnr Reyneke het betoog dat die opgelegde vonnis skokkend swaar en onvanpas is. Hy het betoog dat die verhoorhof ‘n swaarder vonnis dan die voorgeskrewe minimum vonnis opgelê het sonder om werklik gefundeerde en substantiewe redes daarvoor te verskaf. Mnr Reyneke het voorts betoog dat gegewe die persoonlike omstandighede van appellant en die feit dat hy dertien maande verhoorafwagtend was, kumulatief beskou wesenlike en dwingende omstandighede daarstel wat die oplegging van ‘n mindere vonnis dan die voorgeskrewe tien (10) jaar gevangenisstraf regverdig en noodsaak. Hy het betoog dat gevangenisstraf van ongeveer agt (8) jaar ‘n gepaste vonnis behoort te wees.


[22] Mnr Mthethwa het aanvanklik in sy betoogshoofde die opgelegde vonnis ondersteun. Ten tyde van sy mondelinge betoog in die hof, het hy egter toegegee dat die opgelegde vonnis van vyftien (15) jaar gevangenisstraf skokkend swaar en onvanpas is en dat daarmee ingemeng behoort te word op appèl. Hy het egter terselfdertyd betoog dat die verhoorhof nie fouteer het deur te bevind dat daar nie wesenlike en dwingende omstandighede bestaan wat die oplegging van ‘n mindere vonnis dan die voorgeskrewe tien (10) jaar gevangenisstraf regverdig nie.


[23] ‘n Aspek wat nie deur enige van die regsverteenwoordigers geopper is nie, is die feit dat ten tyde van die aanhoor van die betoë met betrekking tot vonnisoplegging in die hof a quo, het die verhoorhof op geen stadium aangedui dat sy dit oorweeg om ‘n swaarder vonnis dan die voorgeskrewe minimum van tien (10) jaar gevangenisstraf op te lê nie. In S v MAAKE 2011 (1) SASV 263 (SCA) is daar, onder andere, as volg op 270 B tot 271 B beslis in omstandighede waar `n swaarder vonnis dan die voorgeskrewe minimum opgelê is:


[26] Importantly, on the record in the present case, there is no indication at all that the imposition of the maximum sentence provided for in s 51(3) was within the Magistrate’s contemplation.


[27] In any event, there is a further fatal problem in respect of the sentence of fifteen years’ imprisonment imposed by the Magistrate. In respect of minimum sentence provisions, our courts have insisted that, particularly, unrepresented accused being informed of all their implications. Although the appellant was represented, it is clear from the record that there is no indication at all that the magistrate considered imposing the maximum sentence. The appellant’s legal representative could consequently not have been invited to make submissions in this regard.


[28] The safeguards in relation to minimum sentences must a fortiori apply to the contemplated imposition of a maximum sentence…..


[29] In the present matter the requirement set out in the immediately preceding paragraphs were not met….. The consequence is that the maximum sentence imposed is liable to be set aside.”


[24] Vanweë laasgenoemde rede moet die opgelegde vonnis van vyftien (15) jaar gevangenisstraf derhalwe in ieder geval tersyde gestel word.


[25] Die enigste aspek wat derhalwe nog oorweeg moet word is die vraag of hier wesenlike en dwingende omstandighede is wat die oplegging van ‘n mindere vonnis dan die voorgeskrewe minimum regverdig. Wat die persoonlike omstandighede van appellant betref waarna Mnr Reyneke verwys het, was hy 29 jaar oud ten tyde van vonnisoplegging, ongetroud met een minderjarige kind. Appellant was werksaam ten tyde van sy arrestasie en het dertien maande as verhoorafwagtende in hegtenis verkeer.


[26] Na my mening kan voormelde faktore nie kumulatief wesenlike en dwingende omstandighede daarstel nie. In ieder geval moet in ag geneem word dat appellant kort na sy arrestasie op borgtog vrygelaat was en dat die feit dat sy borgtog herroep was en hy derhalwe voormelde tydperk in hegtenis as ‘n verhoorafwagtende verkeer het, klaarblyklik uitsluitlik te wyte was aan appellant se eie skuld deur sy optrede jeens die klaagster terwyl hy op borgtog was. Verdermeer is ek ook van mening dat die aard en erns van die onderhawige misdryf, sowel as die belange van die gemeenskap, sodanige verswarende faktore daarstel dat dit nie ‘n onreg jeens appellant sal wees indien die voorgeskrewe minimum vonnis opgelê word nie.


[27] Gevolglik word die volgende bevele gemaak:


    1. Appellant se appèl teen sy skuldigbevinding word van die hand gewys.


    1. Appellant se appèl teen sy opgelegde vonnis word gehandhaaf, die opgelegde vonnis word tersyde gestel en vervang met een van tien (10) jaar gevangenisstraf.


    1. Laasgenoemde vonnis moet geag word opgelê te gewees het op 26 Augustus 2008.



______________

C. VAN ZYL, R




Ek stem saam:




______________________

M.A MATHEBULA, WND R





Namens die Appellant: Mnr J.D. Reyneke

In opdrag van:

Regssentrum

BLOEMFONTEIN


Namens die Respondent: Adv S. Mthethwa

In opdrag van:

Direkteur van Openbare

Vervolging

BLOEMFONTEIN